Woord en daad behoort een te wees.
Dit mag nie geskei word nie.
En as dit wel gebeur, gebeur daar ongelukke.
Soos die broeder wat voorgee dat hy ‘n Christen is, Gereformeerd selfs, maar in ‘n dubbele verhouding leef.
Wat sy vrou jare lank bedrieg.
Woord en daad is een.
Dit kan nie geskei word nie.
Soos die suster wat aan die een kant haar kinders opvoed om nie rond te slaap en nie dood te slaan nie.
Maar aan die ander kant die televisie nie afsit as sulke dinge vertoon word nie.
Woord en daad is een.
Hulle kan nie geskei word nie.
Anders kom daar ongelukke.
Soos die persoon wat elke dag uit die Bybel lees, maar nie ‘n deel van sy inkomste met die armes deel nie.
Met hierdie laaste voorbeeld sit ons midde in die teks vir vandag.
Jakobus noem hierdie voorbeeld as ‘n antwoord op die vraag wat hy gevra het:
Wat baat dit, as iemand sê dat hy gelowig is, maar geen werke het nie?
Kan die geloof hom dan red?
Tema: Geloof in Jesus Christus lei tot goeie werke
- Oorsaak kom voor gevolg
- By geen gevolg moet ons terug na die oorsaak
- Oorsaak kom voor gevolg
Woord en daad, oftewel leer en lewe, behoort een te wees.
Hulle kan nie geskei word nie.
Dit geld ook in ons eie lewens.
Dit het ook gegeld vir die mense aan wie Jakobus sy brief geskryf het.
Jakobus skryf byvoorbeeld oor ‘n bekende Christelike beginsel: geen aansien van die persoon nie.
Dit is eie aan ‘n Christen dat hy sy medemens hoog ag.
In vers 2 skryf Jakobus:
“as daar in julle vergadering ‘n man inkom met goue ringe aan die vingers, met ‘n pragtige kleed aan, en daar kom ook ‘n arm man in met vuil klere aan” dan behoort beide gasvry ontvang te word.
Of dit die direkteur van ‘n groot besigheid is of ‘n tuinman.
As gelowiges fokus ons naamlik op dit wat saak maak in die lewe.
Soos daar so mooi in vers 5 staan:
“het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie?”
As gelowiges mag ons met God se oë na die mense om ons heen kyk.
Dit verwag God van ons, sy verbondskinders.
Dat ons hoorders en daders van die Woord sal wees.
In hoofstuk 1 het Jakobus die voorbeeld van ‘n spieël gebruik.
Dit het ook hiermee te make.
Dit het toe gegaan oor iemand wat homself in die spieël sien, en daarna wegloop en dadelik vergeet hoe hy lyk.
Wat bedoel Jakobus daarmee?
Dit naamlik: ‘n Gelowige het ‘n identiteit.
As Christen het jy ‘n gesig, ‘n uitstraling.
As jy as gelowige in die kerk sit, dan kyk jy by wyse van spreke in die spieël.
Nou waarsku Jakobus ons dat, as ons die kerk weer verlaat, dat ons nie dadelik vergeet hoe ons lyk nie.
As ons in die kerk die prediking van die Evangelie hoor, as ons die wet aanhoor, as ons hoor wat Jesus Christus vir ons gedoen het, wil God dat ons dit saamvat as ons die kerk verlaat, en dat dit ons lewe sal bepaal.
In hierdie verband skryf Jakobus in ons teks:
Daar is geloof en geloof.
As jou geloof nie met werke gepaard gaan nie, is dit, om sigself genome, dood.
Geloof moet vrug dra.
‘n Goeie boom dra gewoon goeie vrugte.
As jy ingeënt is op die stam Christus, dan is die logiese gevolg dat jy goeie vrugte sal dra.
Jy is verbonde met die stam, wat die takke voed met lewewekkende sappe.
Jy is verbonde met Christus.
Jy is ‘n Christen.
Jakobus noem ‘n konkrete voorbeeld van iemand wat geen kos en klere het nie.
Die apostel Johannes noem dieselfde in sy eerste brief, 1 Johannes 3:17-18: “Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom? My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.”
Opvallend hoe eenders Jakobus en Johannes skryf.
Dit is nie toevallig nie, beide spreek hulle Heiland na.
Jesus sê in Mattheüs 7:16-19: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. 'n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar 'n slegte boom dra slegte vrugte. 'n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en 'n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”
Ons word Christene genoem, want ons is geënt op die stam Christus, en dus behoort by ons woord en daad, leer en lewe, een te wees.
Nou kan jy jouself afvra:
Ja maar word ons dan nie slawe van die wet nie?
Ons weet baie goed wat God van ons verwag hoe ons moet lewe.
Gaan ons nou probeer om soveel moontlik goeie dinge te doen?
Sodat ons aanvaarbaar word in God se oë?
Geliefde gemeente, Jakobus skryf in hierdie verband oor die wet van die vryheid.
Of, soos ons gelees het, die koninklike wet.
Hy skryf dit nie toevallig nie.
Hiermee wil hy baie duidelik die verskil wys met die Joodse wet.
Die Tora, die tien gebooie, is ook die wet vir die Christene.
Maar by hulle funksioneer dit nie as ‘n dwangmaatreël, as ‘n juk nie.
Daar het in die kerkgeskiedenis al baie diskussies plaasgevind oor Jakobus se brief.
Want in hierdie brief lyk dit asof Jakobus presies die teenoorgestelde skryf as wat Paulus geleer het.
Marten Luther het juis tot bekering gekom toe hy Paulus se woorde begin verstaan het.
Soos Paulus in Romeine 3:28 geskryf het: “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”
Hoe durf Jakobus dan nou te beweer: “Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?” (Jak 2:24)
Dus, hoewel Jakobus skryf oor die wet van die vryheid, die koninklike wet, is dit tog nie eintlik so dat hy deur die agterdeur tog weer die slawerny aan die wet invoer nie?
Maak hy aan die einde van die dag die gelowiges nie tog maar weer slawe van die wet nie?
Maak hy ons saligheid nie weer ‘n poging van samewerking tussen Christus se verdienste en jou eie prestasie nie?
Gemeente, Jakobus skryf sy brief aan vernaamlik Joodse Christene.
Die Jode wat Christen geword het, moes ‘n baie groot denkskuif gemaak het.
Jare lank was hulle daaraan gewoond om die wet na te kom.
En die wet vir ‘n Jood was nie net die tien gebooie nie, maar ook al die reinigingswette, en die voedselwette, en die besnydenis, en moenie vergeet al die reëls en regulasies wat die Fariseërs rondom God se wet gebou het.
Vir ‘n Jood was dit alles een geheel.
Maar toe Jesus gekom het, het Hy ‘n onderskeid aangebring in daardie groot geheel aan wetgewing.
In die eerste plek het Hy al daardie reëls en regulasies van die Fariseërs gerelativeer.
Hy het byvoorbeeld gewoon are gepluk op sabbat, en saam met sy dissipels geniet om dit te eet terwyl hulle deur die velde gewandel het.
Volgens die Fariseërs was dit verbode om op die sabbat te doen.
Are pluk was dalk nie die ergste nie.
Maar om dit ook stukkend te vryf in jou hand – dit was in prinsipe om te dors op sabbat.
Die Fariseërs het die volk slawe van die wet gemaak.
Die mense het bang geword vir die wet.
Hulle lewe lank moes hulle oppas, dat hulle nie miskien êrens iets verkeerd doen nie.
Maar in teenstelling hiermee skryf Jakobus, net soos Jesus, oor die wet van die vryheid.
Wat dit betref is daar geen verskil tussen Jakobus en Jesus en Paulus nie.
In hierdie verband is dit belangrik om te besef dat Jakobus in ons teks nie skryf oor die oorsaak van ons regverdiging nie.
Die rede hoekom God ons liefhet, lê nie in onsself en ons verdienste nie.
Dit lê nie in die feit dat ons so hard probeer om die wet na te kom nie.
As dit so was, dan sou ons probeer om elke dag ‘n vroom gesig te trek, terwyl die werklikheid anders is.
Daarom heet dit: die wet van die vryheid.
‘n Misdadiger wat vrygelaat word, het baie maatskaplike begeleiding nodig om weer te kan funksioneer in die vrye wêreld.
So geld dit ook vir ons.
As ons nie begelei word nie, sal ons terugval in die ou patrone.
Hiervoor kry ons die wet van die vryheid.
Die wet is bedoel om ons by die duur verworwe vryheid te bewaar.
Dit wet bly dus belangrik.
Ook vir die Joodse Christene aan wie Jakobus sy brief skryf.
Net soos Jesus gedoen het, leer Jakobus aan hulle die nuwe betekenis van die wet.
Dit gaan nie oor uiterlike gebruike nie.
Dit gaan nie primêr oor gedrag nie.
Maar Christus verander met sy Heilige Gees die gesindheid van jou hart.
Jesus het nie gekom om die wet van Moses af te skaf nie.
Wel het Jesus gesorg dat die wet vir ons nie meer ‘n vyand is nie.
Al het die wet ‘n duidelike boodskap vir jou lewenstyl, dit kla ons nie meer aan nie.
Ja dit is so, elke keer as ek Sondag in die kerk die wet hoor, voel ek my skuldig.
Ek kyk in die spieël van die wet en besef hoe sondig ek is.
Jy, is jy ‘n Christen? En dan lewe jy so?
Maar danksy Christus kan ons nou, elke keer as ons die wet hoor, en elke keer as die skuldgevoel ons keel toeknyp, direk daarby dink: Nee, ek is nie meer skuldig nie, want Jesus het betaal!
Hy het my vrygespreek!
Sodra ek maar sy Naam noem, kry ek vergewing, en word die dodelike steek van die wet afgeweer.
Alleen deur die geloof, Sola Fide, dit is my behoud!
Maar gemeente, kom ons gaan nou weer terug na die teks vir vandag.
Is ek wel eerlik as ek dit wat Jakobus hier skryf, so uitlê?
Lees ons nie in ons teks tog nog meer nie?
Neem byvoorbeeld vers 17:
“Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.”
Woord en daad, leer en lewe is tog een?
Inderdaad, Jakobus is reg.
Wat dit betref is Jakobus verder as Paulus.
Nie dat hy van Paulus verskil nie.
Ook Jakobus bou slegs en alleen op die een fondament: Jesus Christus.
Maar, waar Paulus baie moeite doen om die leerstellige kant van die saak duidelik te maak, konsentreer Jakobus vernaamlik op die praktyk.
Leer en lewe.
As hy hierdie brief dan skryf, skryf hy aan mense waarmee ons goed vergelyk kan word.
Mense wat wel in Jesus Christus glo.
Mense wat hulleself gelowiges noem.
Maar mense by wie die geloof soms dreig om sy dinamiek te verloor.
Vir sulke mense skryf Jakobus, in opdrag van die Heilige Gees:
Ons saligheid bestaan nie net in ‘n koue teoretiese kennis oor God nie.
Om te glo beteken nie net dat jy iets weet oor Jesus en oor sy offer aan die kruis nie.
Maar om te glo bind jou aan Jesus.
Jy word verenig met sy liggaam.
Christus is die stam waarop jy groei.
En ‘n goeie stam, ‘n goeie boom, dra goeie vrugte.
Ek herhaal: Jakobus behandel hier dus nie die oorsaak van ons regverdiging nie.
Maar hoe ons ons Christen wees hande en voete gee in die lewe.
Hierdie volgorde mag jy nooit omdraai nie.
Jesus is die oorsaak.
Danksy Hom is jy regverdig!
En goeie werke, vrugte, is die gevolg.
Eers oorsaak, dan gevolg.
Jy kan die gevolg nooit tot oorsaak verklaar nie.
En dit doen Jakobus ook nie.
Ons is nie regverdig danksy die goeie vrugte nie.
Maar danksy Jesus Christus!
Hy is die stam, en daaruit kom die sappe wat goeie vrugte skep.
Maar, benadruk Jakobus, al mag jy gevolg nie tot oorsaak verhef nie, terselfdertyd mag jy oorsaak en gevolg ook nie van mekaar skei nie.
Hulle gaan hand in hand.
In Mattheüs 9 sê Jesus: “Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered.”
Dit in die eerste plek, die oorsaak.
Geloof red.
Geloof is die hande waarmee jy die geskenk, Christus se regverdiging, aanneem.
Daarna, na die oorsaak, kom die gevolg.
Soos Jesus ook sê: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” (Matt 7:21)
Die gevolg kan dus nie uitbly nie.
As die oorsaak daar is, kom die gevolg ook.
‘n Goeie boom dra goeie vrugte.
In Christus se prediking vind ons dus beide aspekte: oorsaak en gevolg.
(Tema: Geloof in Jesus Christus lei tot goeie werke
- Oorsaak kom voor gevolg)
- By geen gevolg moet ons terug na die Oorsaak
En gemeente, daarom is dit ook moontlik om vanaf die gevolg terug te redeneer na die oorsaak.
En dit is wat Jakobus doen.
Hy doen ‘n ‘reality check’.
As jy sê dat jy gelowig is, o Christen, maar daar is geen goeie vrugte in jou lewe nie, is jy dan wel ingeënt op die stam Christus?
Julle wat die mond vol van Christus het.
Julle wat heeltyd praat van Christus en hoe Hy die middelpunt van alles is.
Is julle eie lewe regtig wel geënt op Christus?
Is die vrugte wel sigbaar, wat uit daardie inenting voortkom?
Is dit sigbaar dat jy die armes behandel net soos die rykes?
Is dit sigbaar dat daar by jou geen aanneming van die persoon is nei?
Is dit sigbaar dat jy jou tong in bedwang hou?
Dat die inenting op Christus jou minder oor ander mense agter hulle rug om laat praat?
Is dit sigbaar in jou tyd en geldbesteding dat jy ingeënt is op Christus?
Is dit sigbaar in jou betrokkenheid by Christus se kerk, dat jy op Hom ingeënt is?
Is dit sigbaar in jou troue besoek van die eredienste?
Is dit sigbaar in jou betrokkenheid by die gemeente?
Is dit sigbaar in jou voorbede vir hulle wat die Evangelie bedien, en vir die ampsdraers en hulle werk?
Is dit sigbaar in jou toekomsverwagting, dat jy in vertroue leef, omdat Hy regeer?
As die vrugte amper sigbaar is, is jy dan wel onderdeel van die goeie boom?
As daar geen gevolg is nie, is die oorsaak dan wel daar?
Die gevolg – die goeie werke – gaan jy nie uit eie krag kan voortbring nie.
As daar geen gevolg – geen goeie werke is nie – moet jy dus terug na die oorsaak.
Dit help nie om net jou gedrag aan te pas nie.
Jy moet teruggaan na die oorsaak.
Ondersoek of die inenting op Christus wel stewig is.
Dit kan gebeur dat lidmate as baba op Christus ingeënt is met hulle doop, maar dat met verloop van jare die inenting losraak.
Dit kan gebeur ook as jy volwasse is, of selfs as jy bejaard is.
Die duiwel probeer hard om daardie inenting ongedaan te maak.
Maak seker jy is wel stewig op Hom gekoppel.
Hoe is jou verhouding met Hom?
Is Hy alles in jou lewe?
Is jy aan Hom verbonde?
Want die wat op Hom ingeënt is, by hulle kom daar vurgte.
Gemeente, as Jesus terugkom, gaan hy hierdie vraag aan die mense vra.
Waar was julle, toe Ek honger was, toe Ek dors was, toe Ek ‘n vreemdeling was, toe Ek siek was?
En dan sal die mense sê:
Here, ons het U nêrens gesien nie. Waar was U?
En, gemeente, U ken die antwoord van Jesus:
“Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie. En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe. ” (Matt 25:45-46)
‘n Goeie boom dra goeie vrugte.
Leer en lewe is een.
Vanaf vers 18 probeer Jakobus dit nog ekstra duidelik te maak.
Hy doen dit deur ‘n soort debat met iemand te voer.
Die persoon sou beweer dat hy sy geloof kan aantoon, sonder dat hy goeie werke doen.
En die persoon maak dan die volgende uitspraak: God is een (vers 19).
Wat beteken hierdie uitspraak?
Gemeente, hierdie uitspraak was ‘n geloofsbelydenis.
Die Jode het Deuteronomium 6:4 naamlik as ‘n geloofsbelydenis gebruik:
“Hoor, Israel, die HERE onse God is 'n enige HERE.”
Ook by die Joodse Christene het hierdie nog as ‘n geloofsbelydenis gefunksioneer: God is een.
Wat het Jakobus nou daaroor te sê?
Wel, as jy die geloofsbelydenis uit jou kop kan opsê, beteken dit nog nie outomaties dat jy gelowig in leer en lewe is nie.
Jakobus noem so ‘n mens dwaas (vers 20 – ons vertaling gebruik die woord “nietig”).
Want besef jy nie: Die duiwels ken ook die geloofsbelydenis!
Is die duiwels dan ook gelowig, net omdat hulle die geloofsbelydenis uit hulle kop ken?
Christen wees is meer as net verstandelike teoretiese kennis.
Leer en lewe is een.
‘n Goeie boom dra goeie vrugte
As ‘n Gereformeerde broeder met ‘n vroom gesig in die kerk sit, maar deur die week ‘n dubbel lewe lei,
dan is hy soos iemand wat in die spieël kyk, maar sodra hy wegloop, vergeet hy hoe hy lyk.
Sodra hy die kerk verlaat, is sy Christenskap ‘n hol omhulsel.
In watter opsig verskil so iemand van die duiwels?
Want die duiwels ken ook die Kategismus, en die geloofsbelydenis, maar hulle werke is nie daarvolgens nie.
Vervolgens gee Jakobus twee voorbeelde om sy punt te bewys, naamlik dat jy jou geloof toon uit jou werke.
Hy noem twee persone: Abraham en Ragab.
Uit hierdie twee voorbeelde leer ons hoe dit in die praktyk werk.
Waaraan merk jou naaste dat jy ‘n gelowige is?
As jy vir jou naaste sê dat jy kerk toe gaan, dat jy in die Bybel en in die drie formuliere van eenheid glo, gaan dit jou nie-kerklike naaste beïndruk?
Ek dink eerder dat jou naaste onder die indruk sal kom wanneer daar vrugte is.
Dit is wat respek afdwing.
Want in die goeie vrugte kry hulle te make met Jesus Christus.
Met die goeie boom, die Lewensboom.
Nie dat ons kennis, ons geloofsbelydenis, waardeloos is nie, inteendeel.
Maar uiteindelik gaan dit oor die vrugte.
Daaraan sien die mense dat jy aan Christus behoort.
Dat Christus jou getransformeer het.
En uit die vrugte kry ons ook self sekerheid dat ons op die goeie boomstam ingeënt is.
Dat ons deel is van die liggaam van Christus.
Jakobus noem twee voorbeelde, wat nogal van mekaar verskil.
Abraham was, langs Moses, die belangrikste persoon vir die Jode.
Sy geloofsvertroue het gespreek uit sy bereidheid om sy eie seun te offer.
Maar vir beide Abraham en die gewese prostituut Ragab het dieselfde gegeld.
God se werk in hulle lewens het hulle laat vrug dra.
As jy in God glo, dan behoort dit in jou lewe sigbaar te wees.
Geliefdes, as daar in ons gemeente iemand is waar dit baie moeilik is om in sy en haar lewe goeie vrugte te sien – en laat ons by onsself begin – baie moeilik om die werk van Christus terug te vind, dan moet ons mekaar daarop aanspreek.
Dit is wat Jakobus doen met sy geloofsgenote.
Ons mag die naam van Christus dra.
Laat ons dit ook waarmaak.
Jy hoef nie goeie werke te doen om by God aandag te soek nie.
God hou van ons, Hy het ons ingeënt op sy Seun Jesus Christus.
En Christus het sy Gees in ons lewe uitgestort.
Die Gees leer ons om die wet van die vryheid in ons lewens dankbaar uit te leef, toe te pas.
Die geloof is dood sonder werke, net soos die liggaam dood is sonder gees (vers 26).
Geloof in Jesus Christus lei tot goeie werke
Christus is die boom.
Jy dra vrugte as jy aan Hom verbind bly.
Oorsaak kom voor gevolg.
Maar by geen gevolg moet ons terug na die oorsaak.
Amen.
Votum
Seën
Ps 15:1-3
Wet
Ps 56:1,4
Gebed
Skriflesing: Jakobus 2
Ps 15:4,5
Teks: Jakobus 2:14-26
Preek
Ps 1:1-4
Gebed
Kollekte
Ps 131:1-3
Seën