Ons Here Jesus Christus, die volmaakte Geskenk, hou ons staande

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2019-05-05
Text: 
Jakobus 1:12-18
Preek Inhoud: 

Ons teks handel oor versoekings.

Met die Onse Vader het die Here Jesus ons leer bid:

Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.

Ja versoekings is ‘n slegte ding.

Hoe kan Jakobus dan in ons teks skryf: Ag dit louter vreugde, as julle in versoekings val?

Wat Jakobus hiermee bedoel, hoop ons in hierdie preek te sien.

En, wat is God se rol in versoekings?

 

Tema: Ons Here Jesus Christus, die volmaakte Geskenk, hou ons staande te midde van versoekings

1 Geen versoeking kom van bo

2 Die volmaakte Geskenk kom van bo

 

1 Geen versoeking kom van bo

Jakobus, die persoon wat hierdie brief geskryf het, was ‘n broer van Jesus.

Sy ma was dus Maria en sy pa Josef.

Jakobus het eers tot bekering gekom na die opstanding van sy broer uit die dood.

Voor die tyd kon hulle as broers hulle oudste broer Jesus nie so goed verdra nie.

In Johannes 7:5 staan daar: “Want ook sy broers het nie in Hom geglo nie.”

Maar inmiddels het Jakobus wel tot bekering gekom.

Volgens die boek Handelinge het hy ‘n leiersposisie in die kerk in Jerusalem gehad.

Opvallend in hierdie brief is dat hy nie spog met die feit dat hy ‘n broer van Jesus is nie.

Aan die begin van die brief stel hy homself voor as:

“Jakobus, ‘n dienskneg van God en die Here Jesus Christus” (Jak 1:1).

Uit dit wat hy in die brief geskryf het, blyk dat dit inderdaad die waarheid is.

Neem byvoorbeeld vers 12 in ons teks:

Dit begin met: “Salig is die man ...”

Hierdie woorde herinner aan die Here Jesus se woorde.

Jakobus put direk uit Christus se Bergrede.

“Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid ...

Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil.” (Matt 5:10-11)

Uit hierdie hele brief blyk dat Jakbous vir sy groet Broer, wat ook sy Redder is!, op die voet volg.

Dikwels woordeliks.

 

Aan wie skryf Jakobus hierdie brief?

Daar staan in vers 1: “aan die twaalf stamme wat in die verstrooiing is”.

Twaalf stamme dui op die volledige volk van God.

Maar dit sou onmoontlik die Jode kon gewees het.

Daardie Jode wat besig was om Jakobus en die kerk in Jerusalem te vervolg.

Hy skryf aan mense in die verstrooiing.

Dit was na alle waarskynlikheid Christene, meer spesifiek Jode-Christene.

Hulle was Jode, maar het tot geloof in Jesus gekom.

Dink aan die drieduisend mense wat op Pinksterdag in Jerusalem tot bekering gekom het.

Daarna het nog baie gevolg.

Al hierdie Joodse Christene moes nie lank daarna nie uit Jerusalem vlug.

Dit was net na die steniging van Stefanus.

Toe het daar ‘n groot vervolging onder die Christene in Jerusalem en Judea uitgebreek.

Soos ons weet het Saulus, oftewel Paulus, nog ‘n tyd lank daaraan deelgeneem.

Baie van hierdie Joodse Christene moes Jerusalem toe noodgedwonge verlaat.

Hulle het gevlug en is verstrooi oor Judea, Samaria en selfs tot in Fenisië, Cyprus en Sirië.

Dit is aan hulle wat Jakobus sy brief skryf.

Jakobus het self nog in Jerusalem gewoon.

En as hy dan skryf: aan die twaalf stamme, is dit ‘n veelseggende opmerking.

Hy pretendeer daarmee dat hierdie mense die wettige voortsetting van God se ou verbondsvolk is!

 

Dit is hierdie mense wat Jakobus in sy brief bemoedig.

Hy doen dit met woorde wat hy ontleen uit die prediking van Christus.

Jakobus het dikwels sy Broer gehoor preek.

Alles wat ons in hierdie brief lees, gaan direk op Jesus terug.

In hierdie brief skenk Jakobus veral aandag aan twee onderwerpe.

Eerstens versoekings, en hoe mens daarmee moet omgaan.

En tweedens dat ons nie net hoorders nie, maar ook daders van die Woord moet wees.

 

In hierdie preek vandag fokus ons op die eerste onderwerp: versoekings.

“Salig is die man wat versoeking verdra”.

Of soos die apostel Petrus dieselfde waarheid onder woorde bring:

“Maar as julle ook moet ly ter wille van die geregtigheid, salig is julle.” (1 Petr 3:14)

Ons moet hier nie net dink aan geloofsvervolging in die bekende sin van die woord nie.

Dit gaan primêr daaroor hoe ’n regverdige bewus anders lewe.

En die opoffering wat daarmee gepaard gaan.

Die mense aan wie Jakobus sy brief skryf, wat gelowiges, bekeerde Jode.

Maar dit wil nie sê dat hulle sondeloos was nie.

Dit wil nie sê hulle ou natuur, hulle ou mens, het hulle nie meer lastig geval nie.

Twee versoekings kom by herhaling terug in Jakobus se brief.

Die gevaar van rykdom.

En tweedens die sonde van die tong.

Ook vir hierdie Joodse  Christene het dus gegeld:

Om as gelowiges bewus anders te lewe, het offers gevra.

Hulle volkgsgenote het hulle rug op hulle gedraai.

Hulle is doodgeswyg.

Hulle is geboikot in die sakelewe.

Hulle mog nie meer in hulle familie se huise inkom nie.

Hulle is nie meer as ritueel rein beskou nie.

Dit is hulle kwalik geneem dat hulle met heidene gemeng het.

Wat kon hulle doen?

Dit is goed voorstelbaar dat daar in die vroeë kerk sogenaamde Judaïste was.

Mense wat geleer het dat jy as gelowige nog steeds jou aan die Joodse voorskrifte moes hou.

Dit het naamlik die verhouding met hulle Joodse familie waar genormaliseer.

Dit het finansiële voordeel opgelewer en jou welvaartsvlak gewaarborg.

Maar dit het wel ten koste gegaan van die geloofsgemeenskap met die heidense gelowiges!

In die proses is die nie-Joodse Christene aan die kant geskuif.

Kerklede het hulle werk, hulle klandisie by die Jode behou, solank hulle afstand gehou het van die heiden-medegelowiges.

Solank hulle Christus se Naam maar nie deur die week by die werk te hardop genoem het nie.

In hierdie opsig skryf Jakobus nou:

Jy mag nooit sê: “Ek word deur God versoek nie.”

God het hierdie omstandighede op my pad geplaas, ek moet nou hiermee ‘deal’, ek moet ‘n plan maak wat so min moontlik skade veroorsaak.

 

Nee, skryf Jakobus, moenie ooit vir God die skuld gee nie!

Elke keer as iemand versoek word, kom dit voort uit die suigkrag en verlokking van die eie sondige begeerte.

Moenie die omstandighede die skuld gee nie.

Wie dit doen, blameer die Here, want Hy skep in sy voorsienigheid die omstandighede.

Moenie sê: Die ander persoon het my kwaad aangedoen, het my onregmatig behandel, en nou mag ek terugslaan nie.

Moenie sê: Die persoon voor my in die supermark het sy geld laat val, nou kan ek dit maar optel en vir myself vat nie.

Die feit dat die geld daar lê en jy dit sien, is nie ‘n sonde nie.

Maar wat doen jy nou vervolgens?

Laat jy jouself verlei deur deur die situasie?

Of bly jy as Christen staande?

Tel jy die geld op en hardloop agter die persoon aan om dit vir hom terug te gee?

Of steek jy dit in jou eie sak?

Jakobus skryf: “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.” (vers 13)

 

Maar dan die vraag: Gaan dit buite God om?

As jy in so ‘n situasie tereg kom, is dit dan eintlik so dat God niks daarmee te make het nie, dat Hy niks daaraan kan doen nie?

Nee, so werk dit nie.

Niks gebeur buite God se wil om nie.

God regeer hierdie wêreld.

Hy is in beheer van alle dinge wat daar gebeur.

Maar, skryf Jakobus, jy mag nie die gang van sake verdraai nie.

Jy mag nie, as die mens vir iets skuldig is, die skuld op God laai nie.

Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie.

Dis is ‘n al te maklike redenasie, in die trant van:

Ek kan nie help God het dit op my pad gebring nie.

Jy sê dan in feite: God het my eintlik gedwing om te sondig.

Maar niks is minder waar.

Jakobus verduidelik dit in verse 15-18 op ‘n baie mooi manier.

Hy vergelyk dit wat mense doen met wat God doen.

Hy doen dit met beeldspraak.

Hy gebruik die beeld van geboorte skenk.

Hy skryf: As iemand versoek word, kom dit voort uit die suigkrag van sy eie sondige begeerte.

En as hierdie begeerte bevrug is, dit wil sê, sodra jy toegegee het aan hierdie begeerte, dan baar dit die sonde.

Die sonde is dus die kind, die logiese gevolg, van die bevrugte begeerte.

En, voeg Jakobus toe, as die sonde opgegroei het, baar die sonde op sy beurt die dood.

Iemand wat dus elke keer weer toegee aan sy sondige begeerte, bespoedig sy eie dood.

En daarom Jakobus se hartekreet:

“Moenie dwaal nie, my geliefde broeders.” (vers 16)

 

(Tema: Ons Here Jesus Christus, die volmaakte Geskenk, hou ons staande te midde van versoekings

1 Geen versoeking kom van bo)

 

 

2 Die volmaakte Geskenk kom van bo

Hierna beskryf Jakobus wat God doen.

Elke geskenk, elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte.

Oor watter geskenk gaan dit hier veral?

Dit gaan hier veral oor God se Woord.

En soos ons weet: die Woord is Christus.

Die geskenk is dus Christus, wat uit die hemel neergedaal het.

Hy, die Woord wat van bo af kom, bevrug mense, waardeur hulle nuwe mense word.

Hierdie Woord is in staat om ons siele te red (vers 21).

Waardeur hulle nie meer vir die dood kies nie, maar vir die lewe.

Waardeur hulle daardie keuses maak wat na die lewe lei.

Dit is dus God se werk in mense.

Sy Woord veroorsaak nuwe lewe in mense.

En daardie werk daal van bo af neer, vanaf die Vader van die ligte.

 

Gemeente, Jakobus onderskei hierdie twee dinge baie duidelik.

Dis nie die sonde wat van bo af neerdaal nie.

Die sonde kom hierdie van die aarde af.

Die sonde is die kind van die bevrugte begeerte, die versoeking waaraan toegegee word.

Uit onsself is ons begeerte vuil.

Die mens uit homself is ‘n fontein waaruit vuil water borrel.

Maar gelukkig is dit nie al wat oor ons gesê kan word nie!

Jakobus skryf ook oor ‘n ander geboorte, die wedergeboorte:

“Volgens sy wil het Hy ons voortgebring deur die woord van die waarheid.” (vers 18)

Hierin blyk sy bodemlose liefde.

Hy het die Evangelie, die Woord van bo af, ook na ons gebring.

Hierdeur word ons harte verander.

Danksy hierdie Woord van die waarheid het ons tot geloof en bekering gekom.

God het, om die beeld te gebruik wat Jakobus gebruik, ons met die Evangelie bevrug.

Daaruit is nuwe mense gebore.

Deur die Evangelie is ons wedergebore, van bo af gebore.

Dit maak nou in ons dat ons vir die goeie kies, as ‘n versoeking ons pad kruis.

Al flits die gedagte dalk nog deur ons kop: Tel op die geld en steek dit in jou sak, ‘n gedagte bevrug deur ons sondige ou mens, tog doen ons dit nie.

Maar ons tel die geld op, en gee dit weer aan die persoon terug wat dit laat val het.

Die begeerte, bevrug vanuit God se Woord, beheers ons lewe, naamlik dat ons ons naaste liefhet soos onsself.

Dat ons, selfs as hulle ons sleg behandel, nie terugslaan nie.

 

Ons span ons ledemate in tot diens aan God en ons naaste, nie in diens van ons selfbelang nie.

Ons ou mens het nog die neiging om met wellus na ‘n vrou te kyk om haar te begeer (Matt 5:28), maar ons nuwe mens neem ter harte wat Christus ons geleer het:

“As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.” (Matt 5:29)

 

“Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.” (vers 12)

So begin ons teks.

Jakobus begin met die positiewe.

So mag ons deur die lewe gaan.

In alles wat ons pad kruis, sien ons ‘n uitdaging om God en ons naaste te dien.

Van harte sy gebooie na te kom, bewus dankbaar Christus te volg.

En dan bedoel ek nie dat ons altyd optimisties moet bly nie.

Optimisme gaan nie hierdie land red nie, en ook nie ons eie lewe nie.

Optimisme is ‘n karatertrek wat ook negatiewe kante het.

Maar met geloofsoë kyk ons na die werklikheid.

Ons is verloste, reeds geredde, ja salige mense, in Christus!

Hierdie wêreld behoort aan God.

Die satan probeer nog hard om dit stukkend te maak.

Maar Christus is besig om dit te herskep, en ons mag daarby betrokke wees!

Soos daar so mooi in Openbaring 14:4 staan:

“... dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan; dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam.”

Dit is u ook, jy, en ek.

Eerstelinge!

Gewy aan God, gekoop deur die Lam.

Die woord eerstelinge vind ons ook in ons teks.

Jakobus skryf in vers 18: “sodat ons as eerstelinge van sy skepsele kan wees.”

By hierdie woord – eerstelinge – dink mens aan die oes.

Nadat ‘n land vir die winter kaal gelê het, kom daar in die lente ‘n jong groen skynsel.

Dit is die belofte van die nuwe oes.

Daardie jong nuwe groen is ‘n belofte vir die toekoms, dit maak mense bly.

So kyk God ook na ons, geliefde gemeente van Christus.

Op ‘n dorre aarde wat vervalle is in sonde, waar die dood nou nog die laaste woord het, daar kom nuwe jong vars groen te voorskyn.

‘n Nuwe geboorte.

Jesus, die Saaier, het sy werk gedoen.

En die resultaat word sigbaar.

Jakobus skryf aan die Joodse Christene:

Julle is die eerstelinge.

Julle is wedergebore, van bo af gebore.

Die ware lewe vind in julle sy voortgang.

Nie in die ou Joodse volk wat die Messias verwerp het nie.

En let wel, skryf hy: by die Vader van die ligte is daar geen verandering of skaduwee van omkering nie (vers 17).

Jakobus skryf dit om hulle te troos.

As God met julle ‘n begin gemaak het, sal Hy sy werk ook voltooi.

Julle is nou nog jong klein plantjies.

Baie versoekings, baie moeilike omstandighede kom op julle af.

Maar Hy sal julle staande hou.

Moenie ooit aan God die skuld gee nie.

Soos die apostel Johannes ook skryf:

“God is lig, en geen duisternis is in Hom nie. As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.” (1 Joh 1:5,6)

Moenie ooit sê: Ek kan nie help dat ek val nie.

Want dan verloën jy jou wedergeboorte.

Dan verloën jy wat Christus alles vir jou gedoen het.

 

As ons in die Onse Vader bid: En lei ons nie in versoeking nie, wil dit nie sê dat agter hierdie bede die opvatting skuil dat God wel mense versoek nie.

God het met die kwaad niks te make nie.

Ons kom daagliks te staan voor situasies waarin ons moet kies:

Laat ons toe dat ons versoek word, of bid ons God vir krag, sodat ons die potensiële versoeking kan ombuig.

Ons bid: Lei ons lewenspad asseblief so dat ons staande bly teen die versoeking.

In hierdie kader skryf Jakobus in vers 2: “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.”

Dit is wel baie oordrewe, soos Jakobus dit hier skryf: Ag dit louter vreugde ... wanneer julle in versoeking val.

Jakobus gebruik hier dieselfde taal as sy groot Broer, Jesus.

Net soos in die Bergrede, waar Christus ook baie oordrewe sê dat dit beter is om jou regteroog uit te ruk.

Daarmee wil Hy die bedoeling van die saak duidelik maak.

Dat ons onder die indruk kom van die erns.

Dat ons nadink oor die vraag: Hoe bly ek staande te midde van versoekings?

So maak Christus se Woord ons sterk, dit bewapen ons teen daardie situasies, as versoekinge ons pad kruis.

En as ons deur sy genade, danksy die bewapening van sy Woord, die versoeking die hoof gebied het, kan ons dankbaar agterom kyk en bely: ja inderdaad, wat ‘n vreugde om vir Christus te behoort.

Hy hou my staande teen versoekings!

Hy bring lydsaamheid in my lewe tot stand.

Hy leer my geduld.

My lewe vorder rigting die volmaaktheid.

Juis te midde van versoekings kom ek agter hoe kragtig sy werk in my is!

Wat ‘n voorreg om dit te mag ervaar!

Wat ‘n louter vreugde om as ‘n versoeking my pad kruis, om sterker uit die stryd te voorskyn te kom!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum (Ps 121:1)

Seën

Ps 67:1

Wet

Ps 119:4,7

Gebed

Skriflesing: Jakobus 1

Sb 28:4

Teks: Jakobus 1:12-18

Preek

Ps 94:10-12

Gebed

Kollekte

Sb 17:1,5,6

Seën