Christus sit ons aan die werk – met wil en dank

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2019-04-28
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 49
Preek Inhoud: 

Ons almal is hier op aarde met ‘n rede en ‘n doel.

Die Here het ‘n taak vir elkeen van ons.

Soos wat kinders opgroei, begin hulle agterkom hoe God hulle geskape het.

Met watter talente, met watter belangstellings.

Hulle begin ook agterkom in watter omstandighede die Here jou geplaas het.

En hoe Hy in daardie konkrete omstandighede, met sy geleenthede maar ook beperkings, vir jou ‘n roeping hier op aarde gee.

Die een kind is goed met wiskunde.

Die ander een kan mooi opstelle skryf, boeiende stories vertel.

Weer ‘n ander een voel hom in sy element as hy handearbeid verrig.

Nog ‘n ander hou baie van teken en ontwerp.

Niemand het God gelyk gemaak nie.

Ons het uiteenlopende belangstellings en talente.

 

Wat sou gebeur as almal later rekenmeester sou word, of as almal ingenieur sou word, of as almal onderwyser sou word?

Dan sou daar geen loodgieters, bouers of predikante wees nie.

 

Hoe mooi is dit nie deur Hom beplan, dat die taak wat jy van die Here kry, so dikwels iets is wat jy ook geniet.

Iemand wat sleg is met wiskunde hoef nie ‘n rekenmeester te word nie.

Die Here verwag nie van iemand wat hoogtevrees het, om hoë geboue te bou nie.

God skep ‘n ryke verskeidenheid, en saam mag ons diensbaar wees aan God se plan vir nou en later, ja selfs medearbeiders vir die koms van sy volmaakte koninkryk.

Want dit is ons roeping op aarde, watter beroep jy ook al uitoefen.

Ons mag gewillig en getrou ons werk doen, as ons nog jonk is op skool, en later in ons beroep, by die huis, in die familie en in die kerk.

Gewillig en getrou.

Jesus stel vir ons die engele as voorbeeld.

Hulle staan immers altyd klaar om te doen wat God sê.

Ons lewe hier op aarde naamlik nie vir onsself nie.

En ons werk nie met die primêre doel om ryk te word nie.

Die doel van ons lewe en werk is koninkryksdiens, tot eer van die Here.

Om sy wil op aarde te doen.

 

Soms, ja, is dit wat God ons opdra nie maklik nie.

Jongmense geniet dit nie elke dag om skool toe te gaan nie.

Volwassenes sien sommige dae daarteen op om werk toe te gaan.

Huisvroue het ook soms ‘n afdag.

Maar juis daarom het die Here aan ons hierdie bede gegee: laat u wil geskied.

Dan sê ons vanuit ons hart: Here, gebruik my maar vir dit wat U wil.

Nou en later.

Want U weet die beste wat goed is vir my, en wat ek behoort te doen.

 

Tema: Christus sit ons aan die werk – met wil en dank

Met die derde bede vra ons sy en ons Vader om te sorg dat ons:

1 Ons eie wil verloën

2 Sy wil gehoorsaam omarm

3 ‘n Voorbeeld neem aan die engele

 

1 Ons eie wil verloën

‘Dit is God se wil!’

Met hierdie uitspraak het baie mense deur die eeue hulle optrede probeer goedpraat.

‘God wil dit!’

Toe in die Middeleeue die mense opgeroep is om deel te neem aan die kruistogte, het uit die mond van die pous geklink: ‘God wil dit!’

Toe in die Tweede Wêreldoorlog Duitse soldate hulle buurlande binnegeval het, het hierdie kreet ook geklink: ‘God wil dit!’.

Ook vandag hoor mens hierdie kreet dikwels.

Daarmee probeer mense te regverdig wat hulle doen.

Hulle probeer om op ander mense indruk te maak.

En as ons eerlik met onsself is, sal ons moet erken, dat ons almal so gou geneig is om God voor ons eie karretjie te span.

Dit is God se wil dat gay mense ook mag trou.

God verstaan as ek my huwelik beeïndig en ‘n nuwe verhouding begin.

Dit is God se wil, ensovoorts ...

So annekseer mense God se wil vir hulle eie voorkeure.

Ons span God in om aan ons idees ‘n geloofwaardige fondament te verskaf.

En dit is, aan die einde van die dag, die sonde van hoogmoed en arrogansie, dat ons ons eie wil gelykstel aan die wil van God, om dit vervolgens aan ander op te dring.

 

Nog op ‘n ander manier kan God se wil deur mense ingespan word.

Naamlik om dinge te probeer verklaar wat ons nie kan begryp nie.

Byvoorbeeld as ‘n dosyn mense in ‘n taxi ongeluk sterf.

Of as ‘n vliegtuig neerstort.

As ‘n bomaanslag vele lewens eis.

In sulke gevalle kan mense soms fatalisties reageer: Dit was nou eenmaal God se wil, sonder dat mense hulle eie verantwoordelikheid neem.

Laat ons versigtig wees om die ellende op aarde aan God toe te skryf.

Natuurlik gaan niks buite God om nie.

Maar sonde, ellende en dood is nie God se skuld nie.

Die ellende op aarde het sy oorsprong in die mens se opstand teen God.

Ons is almal in sonde ontvang en gebore.

Sonde het ‘n persoonlike en ‘n kollektiewe kant.

By sommige rampe wat ons tref, kan dit duidelik teruggevoer word op ons persoonlike skuld.

Wie onversigtig met elektrisiteit werk, dra die gevolge as hy ‘n ernstige skok kry.

Maar daar is ook baie narigheid op aarde wat te make het met ons kollektiewe skuld.

Wie longkanker kry as gevolg van al die vuil lug hier in die stad, dra die gevolge van sy en sy medemens se besoedeling.

En dan is daar nog rampe waarby ons nie in staat is om ‘n verband tussen oorsaak en gevolg te sien nie.

Dink aan alle ellende wat ‘n aardbewing of oorstroming tot gevolg het.

Daar is baie ‘hoekom’-vrae waarop ons in hierdie lewe geen antwoord kry nie.

Ons kan nie net goedkoop sê: Dit was God se wil, met die insinuasie dat dit sy skuld is nie.

So maak ons van God se wil ‘n soort noodlot.

Wel bely ons: Niks gebeur buite God om nie.

Om op God te vertrou, beteken om hoe dan ook aan die besef vas te hou dat God ons lewe in die regte bane lei.

 

Laat ons versigtig wees om ons verklarings van gebeurtenisse gelyk te stel aan God se wil, aan sy raad.

Laat ons veral versigtig wees om aan ander mense te verduidelik of, nog erger, voor te skryf, wat God se bedoeling is met dinge wat in hulle lewe gebeur.

Natuurlik het God ‘n bedoeling met alles wat gebeur, maar ons sit nie op God se troon nie.

Ons kan baie keer oorsaak, gevolg en doel nie aan mekaar verbind nie.

In baie dinge moet ons berus, sonder dat ons dit kan verklaar.

Berusting is egter nie passief nie.

Die Here Jesus Christus leer ons juis met sy voorbeeld dat berusting aktief is, naamlik gehoorsaam die pad stap wat die Vader wys, gehoorsaam aan sy gebod.

Dat ons ons eie wil verloën, met die besef dat God se wil veel beter vir ons is!

Dit is ‘n vrug van die Heilige Gees se werk in ons, dat ons onsself kan oorgee aan God se goeie wil.

 

(Tema: Christus sit ons aan die werk – met wil en dank

Met die derde bede vra ons sy en ons Vader om te sorg dat ons:

1 Ons eie wil verloën)

 

2 Sy wil gehoorsaam omarm

Christus het self in Getsemane gebid: Vader, nie my wil nie, maar laat u wil geskied.

Dit was vir Hom nie passiewe berusting nie, maar aktiewe gehoorsaamheid.

Nadat Hy dit gebid het, het Hy opgestaan en gewillig sy kruis tegemoet gegaan.

Die derde bede stimuleer dus nie passiwiteit nie, maar juis gehoorsame optrede.

Laat u wil geskied!

Mens kan ook vertaal: Laat u wil gedoen word, op hierdie aarde, net soos in die hemel.

Dit kom dus aan op gehoorsaamheid.

So lees ons dit ook in Sondag 49:

“Gee dat ons en alle mense ons eie wil prysgee om aan u wil, wat alleen goed is, sonder enige teëpratery gehoorsaam te wees.”

In ons lewe kan ons onderskei tussen God se geopenbaarde wil en sy verborge wil.

Sy geopenbaarde wil vind ons in sy Woord.

Sy Woord gee die koers aan in ons lewe.

Daarin vind ons sy wil, klaar en duidelik.

By baie dinge hoef ons onsself dus nie af te vra wat God daarvan dink nie.

Ons hoef net ons Bybel te lees en dan kry ons duidelikheid.

Maar van God se verborge wil praat ons, as dit gaan oor dinge waaroor die Skrif nie eksplisiet is nie.

Dit gaan dan meestel oor individuele of persoonlike sake in my eie lewe.

Soos: Watter beroep moet ek kies?

Met wie sal ek trou?

Waar sal ek gaan woon?

Maar as ons begin by sy geopenbaarde wil, as ons dit ken en daaraan gehoorsaam is, dan mag ons vertrou dat die HERE ons ook na die regte keuses toe sal lei wat betref ons persoonlike omstandighede.

Die Heilige Gees, wat in ons woon en werk, gebruik juis die Skrif om lig te laat skyn op die persoonlike vrae wat ons het.

In die weg van Bybelstudie, gebed, gesprek met geloofsgenote, bly God se verborge wil vir ons persoonlike lewe nie verborge nie, maar kan ons ook duidelikheid daaroor kry.

 

En dan vra die Here gehoorsaamheid, sonder enige teëpratery.

Dit is vir niemand van ons vanselfsprekend nie.

Ons moet ons eie wil leer verloën, ondergeskik stel aan sy wil.

Ons eie wil is deel ons ou mens, wat ons moet doodmaak.

My eie ek moet gekruisig word.

Maar die nuwe mens, die nuwe ek, is ook daar, God sy dank!

Aangevuur deur die Gees wil ons graag God se wil doen, sy wil wat alleen goed is.

Die Heilige Gees leer ons dieselfde vraag vra wat Jesus gevra het:

Vader, wat wil U hê moet ek doen?

Laat u wil in my lewe geskied!

 

Van sommige dinge wat God vra, en waaraan ons gehoorsaam moet wees, kan ons die doel daarvan goed verstaan.

Maar daar is ook dinge wat ons nie altyd verstaan of deurgrond nie.

Dan kan gehoorsaamheid baie formeel voel.

Kinders verstaan nie altyd alles wat hulle ouers van hulle verwag nie.

Tieners gaan deur ‘n fase dat hulle al die reëls wat die ouers uitdink, onnodig en oordrewe vind.

Tog vra ouers nie net gehoorsaamheid ten opsigte van daardie dinge wat die kinders kan verstaan nie.

Ook dinge wat kinders nie verstaan nie, wat hulle dalk belaglik vind, ook daar bly die eis van gehoorsaamheid geld.

As ons God se wil nie altyd verstaan nie, tog bly Hy gehoorsaamheid daaraan vra.

Is dit ‘n kille gehoorsaamheid?

Nee.

As dit werklik vir jou ‘n realiteit is dat jy ‘n kind van God is, dan het jy ook die gehoorsaamheid van ‘n kind.

Hoewel ‘n klein kind lank nie alles verstaan nie, doen dit wel wat sy ouers vereis.

As daar ‘n vertrouensband is, ‘n liefdesband, dan kom dit vanself.

Ons lees oor die Here Jesus: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.” (Joh 4:34)

Die wil van sy Vader was sy lus en lewe.

In die uitvoer van die Vader se wil mag ons onself broers en susters van die Here Jesus noem.

Markus 3:35: “Want elkeen wat die wil van God doen, die is my broer en my suster en moeder.”

 

Laat u wil geskied, ook in my lewe!

Die omgekeerde van hierdie bede sou wees:

Laat my wil geskied, nie u s’n nie!

Wie so lewe, lyk nie soos die engele in die hemel nie, maar juis op dit wat daar in die hel gebeur.

In wese is die hel niks anders as die plek waar mense konsekwent volhou om vir God te sê:

Nie u wil nie, maar my wil moet geskied.

Ek gaan my eie weg.

‘n Mens wat dit hardkoppig volhou, kry uiteindelik, na duisend en een waarskuwings, die berig van God:

Nou goed dan, jou wil geskied.

Die hel is ten diepste dat jy oorgelaat word aan jou eie wil.

Die plek waar mense hulleself vasbyt in hulle eie beterweterigheid, in hulle opstand teen God se wil.

 

As ons die derde bede bid, is dit ‘n oproep dat ons trou en gewillig God dien.

En dan praat ons nie net oor een onderdeel van jou lewe nie.

Maar jou hele ganse lewe.

Die geloof is nie net ‘n aparte segment van jou lewe nie.

En dit geld ook vir die doen van die wil van God.

Ons ontvang ‘n taak en roeping, sê Sondag 49, in ons hele lewe om God se wil uit te leef.

Op Sondag, en van Maandag tot Saterdag.

Midde in die wêreld staan ons en ons doen God se wil.

In ons daaglikse arbeid dien ons God.

Dit onderskei ons van nie-Christene.

Miskien is hulle ook baie gemotiveerd om hulle daaglikse arbeid te doen.

Maar hulle doen dit met ander motiewe, motiewe wat uiteindelik nie sal standhou nie.

Want hulle aksies is nie gemotiveerd uit die diens aan die Here nie.

Hulle ken Hom nie persoonlik nie.

Hulle lewe wy hulle nie aan sy diens nie.

By ons is dit ‘n dimensie wat elke aspek van die lewe deurstraal.

Elke aspek van ons lewe en werk en ontspanning is diens aan God en jou naaste.

Ons werk nie om te leef nie, maar ons leef om dienswerk te verrig.

 

As ons ons daaglikse arbeid so sien, as dienswerk aan God, dan kan dit gebeur dat ons soms in ‘n konfliksituasie teregkom.

As jou baas of kollega byvoorbeeld iets van jou verwag wat in konflik is met God se wil.

Juis in sulke situasies bly ons opstaan vir die wil van die Here.

Laat u wil geskied, ook as dit vir my swaar is.

As ons lewe ‘n liefdevolle toewyding aan Hom is, dan staan dit vas, is dit vir ons reeds ‘n uitgemaakte saak, naamlik ons sal nie teen sy wil ingaan nie.

Want daarop kan geen seën rus nie.

Ek doen my werk, ek lewe my lewe met die besef dat iemand vanuit die hemel na my kyk.

In die derde bede is hemel en aarde naby aan mekaar.

Nou is daar nog ‘n groot teenstelling tussen hemel en aarde.

In die hemel word die wil van God volmaak uitgevoer.

Nie op aarde nie.

Daarom is dit hier op aarde so dikwels ‘n puinhoop.

Jesus roep in hierdie bede die aarde op om soos die hemel te word.

Dat ons hier op aarde sy wil gehoorsaam omarm.

 

(Tema: Christus sit ons aan die werk – met wil en dank

Met die derde bede vra ons sy en ons Vader om te sorg dat ons:

1 Ons eie wil verloën

2 Sy wil gehoorsaam omarm)

 

3 ‘n Voorbeeld neem aan die engele

Ons is soms geneig om te dink die aarde is baie groter as die hemel.

Ons dink aan die hemel net as die blyplek van God.

Maar laat ons God se grootheid nie uit die oog verloor nie.

As die geskape werklikheid, nie net die aarde nie, maar ook die ruimte met alle sterre en planete, al so groot is, hoe groot moet die hemel dan nie wees nie!

Hier op aarde, waar die sondeval plaasgevind het, vorm ons maar ‘n klein minderheid, vergeleke by die hemelse oormag.

Dan dink ons nie net aan God en sy grootheid nie, maar ook aan die engele.

Geskape wesens in die hemelse geweste.

Deur die onmetelike groot hemel heen word hulle deur God uitgestuur.

Hulle word uitgestuur om ook hier op aarde hulle dienswerk te vervul.

Hulle is, in teenstelling tot mense, deur en deur gewillig en gehoorsaam.

Hulle gaan nooit hulle eie gang nie.

Hulle weier nooit om te doen wat Hy sê nie.

Hulle is nooit aan Hom ontrou nie.

En omdat hulle sy wil volmaak uitvoer, is dit ook altyd volkome tot sy eer.

 

Die werklikheid van die engele, nie net in die hemel nie, maar ook om ons heen, is iets wat baie duidelik tot ons kom vanuit die Skrif.

Tallose kere lees ons oor hulle.

Hoe die engele ingeskakel word om ons te beskerm.

Ek dink aan wat ons in Lukas 16:22 lees, oor toe die arme Lasarus gesterf het:

“En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.”

Ek dink aan hoe die engele met ons meelewe:

“So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.” (Luk 15:10)

Ek dink aan hoe hulle daarvoor sorg dat geeneen van ons – God se kinders – verlore sal gaan nie:
“En dan sal Hy sy engele uitstuur, en Hy sal sy uitverkorenes uit die vier windstreke versamel, van die einde van die aarde af tot by die einde van die hemel.” (Mark 13:27)

Ek dink aan hoe die engele met ekstra sorg omsien na die klein kinders:

“Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is.” (Matt 18:10)

 

Ook lees ons in die Skrif hoe ons ‘n voorbeeld kan neem aan die gewilligheid van die engele.

“Loof die HERE, sy engele, kragtige helde, wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord” (Ps 103:20).

Want dit is soos dit is.

God word geëer, as sy wil gedoen word.

Laat u wil geskied, in die hemel net so ook op die aarde.

Met hierdie bede bind ons die stryd aan teen die sonde, teen die bose magte.

Ons trek onsself op aan die gewilligheid en volmaakte toewyding van die engele.

Ons streef daarna om dit net so te doen.

By die huis, op skool, op kantoor, op die werkplek, op die land, in die fabriek, in ons sosiale samesyn, in huwelik en gesin, in ons slaapkamer en op  straat, op die sportveld en in ons vrye tyd, in die kerk, ja orals!

Met hierdie bede sit Christus ons, die wat Hy verlos het, aan die werk hier op aarde.

Dankbare dienswerk!

Ons doen God se wil net soos die engele, nie teen wil en dank nie, maar van harte, met wil en dank!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 119:2

Gebed

Skriflesing: Markus 3:31-35 & Markus 14:32-42

Ps 86:6

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 49

Preek

Ps 40:3,4

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Sb 28:2

Kollekte

Ps 103:1,10,11

Seën