Die troue Verbondsgod is in beheer van die kwaad

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2019-03-17
Text: 
Rigters 9:56-57
Preek Inhoud: 

Die geskiedenis van Abimeleg is een van die duidelikste voorbeelde in die Skrif hoe kinders verder gaan in die sonde van hulle ouers.
Een van die duidelikste voorbeelde hoe oortreding van die tweede gebod, soos by Gideon die geval was, uiteindelik lei tot oortreding van die eerste gebod, deur sy seun Abimeleg.
Net soos die HERE reeds in die tweede gebod gewaarsku het, dat Hy die misdaad van die vaders aan die kinders besoek (Ex 20:5).
Dit is ‘n geskiedenis van ontrou.
Nouliks was Gideon dood, of die volk het die HERE weer ingeruil vir die Baäls.
Sy verbond het hulle ingeruil vir ‘n verbond met Baäl.
In Rigters 9 lees ons oor Baäl-Berit.
Berit is die Hebreeuse woord vir verbond.
Hoe ironies is dit nie.
Hulle het Baäl as hulle verbondsgod verkies.
Hulle het die goeie dinge vergeet wat die HERE, Jahwe, aan hulle gedoen het toe Gideon nog jonk was.
Gideon se nalatenskap het ontaard in ‘n nagmerrie.

Tema: Die troue Verbondsgod is in beheer van die kwaad
- Die geskiedenis van Abimeleg wat voortgaan op sy pa se pad van afval
- Die lesse uit die geskiedenis van Abimeleg wat die Heilige Gees ons leer
- Die geskiedenis van Abimeleg wat voortgaan op sy pa se pad van afval

Soos ons in verlede week se preek gesien het, Gideon was ‘n voorbeeld van ‘n leier wat goed begin maar sleg geëindig het.
Hy het in sy lewe toegelaat dat wraak, vergelding, hardkoppigheid, eiewysheid die botoon begin voer.
As gevolg daarvan het hy die Here se verbondsvolk beskadig en verdeel.
As gevolg daarvan het hy hulle selfs op die pad van eiewillige godsdiens gelei.
Al het Gideon nie weer vir Baäl begin dien nie, die manier waarop hy God gedien het, het ‘n heidense element gehad.
Sy lewenstyl het toenemend heidense invloede getoon.
Al wou hy homself nie as koning laat kroon nie, het hy wel die gewoontes van die heidense konings oorgeneem.
Hy het hom onder andere aan poligamie skuldig gemaak, soos blyk uit die feit dat hy 70 seuns gehad het, en moontlik (al word dit nie vermeld nie), net soveel dogters.
Die HERE het in sy wet, Deuteronomium 17:17, sy volk se leiers ernstig gewaarsku teen die heidense gewoonte om baie vroue te hê.
Gideon het sy eie kop gevolg.
Hy het ook byvroue gehad, soos in die geval van sy seun Abimeleg se ma, wat waarskynlik ‘n heidin was.
Sy het nie in Ofra gewoon nie, maar in Sigem.
Dis daar wat Abimeleg dan ook die meeste tuis gevoel het.
In die oorwegend heidense stad Sigem.
Dit is daar waar Abimeleg gaan ondersteuning soek het vir sy plan om heerser te word.
In Sigem was daar naamlik wrywing tussen die Israelietiese deel van die stad en die heidense deel.
Die heidense meerderheid van die stad het hy uitgespeel teen die Israeliete.
Hyself was ‘n halfbloed, half Jood, half heiden.
En die heidense Sigem, wat veral Hewiete was, was al te gewillig om na hom te luister.
Sigem was steeds ‘n stad waar die heidene die botoon gevoer het.
Nêrens lees ons dat Israel hierdie stad in Josua of Rigters se tyd verower het nie.
Abimeleg maak gebruik van hierdie situasie om nou die las, die belastingplig, van Gideon se sewentig seuns van hulle skouers af te skud.
Die inwoners van Sigem voorsien Abimeleg van ‘n kapitaaltjie om sy doelstelling te bereik.
Geld wat hulle haal uit hulle heidense tempel, van Baäl-Berit.
Vroeër het tempels wel meer gedien as ‘n bank waar geld bewaar is.
Hoe ironies - treurige toestande in die Rigtertyd.
Abimeleg wat Gideon se seun is, wat destyds Baäl se altaar afgebreek het, hy loots nou ‘n veldtog met geld gewy aan Baäl om Gideon se nageslag se oorheersing te beëindig.
Met die geld huur Abimeleg ‘n komp deugniete.
Saam terk hule teen Ofra op en kry dit reg om sy 70 broers op een klip af te slag.
Maar een ontsnap, die jongste – in mense-oë die geringste, Jotam.

Nou is die weg oop vir Abimeleg om homself as heerser uit te roep.
Dit gebeur, ironies genoeg, op nagenoeg dieselfde plek, net buite Sigem, as waar destyds Josua met die volk die verbond met die HERE vernuwe het.
Ons lees daaroor in die laaste hoofstuk van Josua.
Josua het ‘n groot klip geneem en dit daar opgerig, en gesê:
“Kyk, hierdie klip sal 'n getuie teen ons wees, want hy het al die woorde van die HERE gehoor wat Hy met ons gespreek het; en hy sal 'n getuie teen julle wees, sodat julle jul God nie verloën nie.”
As stille getuie het die klip daar gestaan, nou om te aanskou hoe met Abimeleg se inhuldiging die heidendom weer die oorhand oor die volk kry.
Maar dis een ding om koning te wees, dis ‘n ander ding om in wysheid te regeer.

Ons lees vervolgens van Jotam, Gideon se jongste seun, se aksies.
Uit sy mond hoor ons die verbondsvloek wat oor God se afvallige volk afgekondig word.
Hy skreeu dit uit vanaf ‘n krans op die berg Gerisim, waar niemand hom kon bereik nie.
Jotam vertel ‘n fabel oor die bome wat probeer om ‘n heerser oor hulle te vind.
Die olyfboom is nie bereid om sy olie op te offer nie.
Die vyeboom is nie bereid om sy soet vrugte daarvoor op te offer nie.
Die wingerdstok is nie bereid om sy druiwe waaruit wyn gemaak word, daarvoor op te offer nie.
Daardeur het die steekdoring sy kans skoongesien.
Sommige vertalings vertaal dit met distel.
In elk geval, dit is ‘n struik wat amper nie ‘n boom genoem kan word nie.
Dit het sulke klein blaartjies dat dit amper geen skaduwee maak waaronder ander kan sit nie.
En dit is so droog dat dit kleinste vuurtjie dit onmiddelik in brand sal steek, met die gevaar dat die hele bos daarna afbrand.
Al met al, die mins geskikte boom om koning te wees.

Met hierdie fabel het Jotam natuurlik Abimeleg op die oog.
Hy was baie gewillig om koning te wees, maar hy sou ‘n gevaar vir sy omgewing word.
Die verloop van sy lewensgeskiedenis het inderdaad uitgewys dat dit presies op hom van toepassing was.
Al het sy naam dalk gesinspeel daarop dat hy van koninklike afkoms was, hy was nie ‘n koning se voet werd nie.
En dit het al baie gou geblyk, al na drie jaar.
Die vuur het inderdaad gekom uit die steekdoring, uit die distel, om hulle te verwoes, eers Sigem, en daarna ook vir Abimeleg self.
Die res van die hoofstuk laat dit vir ons sien.

Abimeleg was naamlik nie ‘n rigter soos die ander nie.
By die ander rigters word deurgaans aan die einde van hulle lewe vermeld dat die land soveel jaar rus gehad het.
By Abimeleg staan daar aan die begin dat hy slegs drie jaar aan bewind was, waarna ellende op ellende gevolg het.
Hy was nie ‘n rigter nie.
Hy was ‘n heidense despoot, nog hardkoppiger as sy pa.
Geen wonder die mense van Sigem was gou moeg vir hom nie.
Abimeleg se optrede skep ‘n voedingsbodem vir nog so ‘n soortgelyke oppurtunis om na die mag te gryp.
‘n Man met die naam van Gaäl het in Sigem aangekom.
In sy optrede sien mens hoe tribalisme hoogty vier.
Hy beroem homself daarop dat hy ‘n afstammeling van Hemor is, die stigter van die stad (vers 28).
Waar Abimeleg aan die mag gekom het deur te hamer op die feit dat sy ma ‘n gebore heidin van Sigem is, diskrediteer Gaäl nou vir Abimeleg deur te wys op die feit dat sy pa, Gideon, ‘n Jood is.
En dus is Abimeleg ook ‘n vreemdeling wat Sigem oorheers.
Daarenteen is hy, Gaäl, ‘n volbloed Sigemiet.
Die bevolking se ontevredenheid met Abimeleg se oorheersing laat hulle graag na Gaäl luister.
Ook die feit dat Gaäl met sy planne vorendag kom tydens die jaarlikse wynfees.
Hy presenteer homself nou as hulle bevryder (vers 27-28), en die beskonke manne het al te graag na hom geluister.
En so is die vuurtjie aan die brand gesteek.

Abimeleg, wat sy residensie nie in Sigem self gehad het nie, word daarvan op die hoogte gestel deur sy militêre stadsbestuurder, Sebul.
En net soos sy pa Gideon nie daarvoor teruggeskrik het om dood en verderf te saai in ‘n stad van sy eie mense nie, so maak Abimeleg nou ook.
Hy gebruik selfs die militêre strategie van sy pa om sy manskappe in vier aparte groepe op te deel.
Die gesprek wat by die stadspoort plaasgevind het tussen Sebul en Gaäl, word deur die Rigterskrywer weergegee.
Sebul probeer nog ‘n wanindruk by Gaäl skep, tot die regte oomblik gekom het.
Daarna vertel hy vir hom die waarheid en lok hom uit om te gaan veg teen Abimeleg se manne.
Gaäl doen dit en kom te laat agter dat hy in ‘n hinderlaag gelok is.
Sodoende word sy opstand in die kiem gesmoor.
Baie van sy manskappe sneuwel.
Sebul, Abimeleg se stadsbestuur, is weer in beheer oor Sigem en skop Gaäl en sy broers die stad uit.

Sebul het waarskynlik gehoop dat die rus nou weer in Sigem sou terugkeer.
Die dorp kon weer verder gaan met hulle dagtaak om die oes in te samel.
Maar hy het die wraaklus van sy heer Abimeleg onderskat.
Manne soos Abimeleg is naamlik sulke tipes wat nie met hulle oorwinning tevrede is nie.
Hulle sal nie rus nie totdat hulle almal ‘n les geleer het wat gewaag het om teen hulle op te staan nie.
By Abimeleg se pa, Gideon, het ons soortgelyke gedrag gesien in sy vendetta teen die stede Sukkot en Pnuel.
In Abimeleg se geval herhaal die geskiedenis homself, net nog erger.
Abimeleg trek ten stryde teen Sigem.
In feite is dit nie ‘n geveg nie, maar ‘n afslagting van ongewapende burgers.
Dit is ‘n soort paranoia wat Abimeleg sover moes gebring het.
Inderdaad ‘n bose gees, waarvan ons in vers 23 lees, en waarop ons later weer sal terugkom.
Abimeleg bring nie net die burgers om die lewe nie, maar verwoes die hele stad.
Simbolies bestrooi hy dit met sout (vers 45).
En nog steeds kom Abimeleg nie tot rus nie.
Want die laaste oorgeblewenes het hulle toevlug geneem in die kelder van die tempel van Baäl-Berit.
Hierdie tempel was verbonde met die Sigemstoring.
Daarmee word bedoel die versterkte fort wat in die middel van die stad op die hoogste punt gebou is, die veiligste plek waarin die bewoners hulleself kon terugtrek as hulle stad aangeval word.
Maar, soos ons gelees het, Abimeleg het die hele fort – tempel, toring en al – met takke aan die brand gesteek, waardeur nog omtrent duisend manne en vroue gesterf het.

Inderdaad, letterlik het Jotam se woorde uitgekom.
Die steekdoring, die distel het alles aan die brand gesteek.
Abimeleg se magswellus het geen end gehad nie.
Hy was dronk van wraaklus.
Want noudat Sigem met die grond gelykgemaak is, was hy nog steeds nie klaar nie.
‘n Paar kilometer noordoos van Sigem was daar ‘n dorpie met die naam Tebes.
Ons het nog nie eerder van hierdie dorpie gehoor nie, maar moontlik het hulle ook met Gaäl se opstand gesimpatiseer.
Daar was geen rasionele verklaring vir Abimeleg om teen hulle ten stryde te trek nie, maar soos ek genoem het was Abimeleg paranoïes.
En tipies vir paranoïede leiers is dat hulle nie weet wanneer om te stop nie.
Hulle ontembaarheid beteken meestal ook hulle eie ondergang.
En so het dit ook met Abimeleg gebeur.
Teen Tebes gebruik hy dieselfde taktiek, naamlik om die toring waarin al die bewoners gevlug het, aan die brand te steek.
Maar in sy ywer let hy nie op ‘n vrou wat van bo af ‘n meulsteen afgooi nie.
Dit tref sy kop waardeur sy skedel kraak, ja verbrysel word.
So word die kwaad deur die kwaad verslind.
Op een klip het Abimeleg sy broers afgeslag.
Een klip lei nou ook tot sy dood.
Nog een keer wys Abimeleg hoe heidens hy al in sy denke was.
Hy moes en sou ‘n heldedood sterf.
Daar mog nie agteraf oor hom gepraat word dat ‘n vrou hom om die lewe gebring het nie.
Maar die tragieste was dat Abimeleg glad nie ‘n heiden was nie.
Al het hy ‘n heidense ma gehad, hy was ‘n seun van Gideon, ‘n verbondskind, ‘n besnede kind.
Maar hier sien mens hoe sy pa se sonde teen die tweede gebod by sy seun verder gegaan het, ja gelei het tot sonde teen die eerste gebod.
Toe het gevolg die vervulling van die vloek, waarmee God op Horeb reeds na die eerste twee gebooie gedreig het.

(Tema: Die troue Verbondsgod is in beheer van die kwaad
- Die geskiedenis van Abimeleg wat voortgaan op sy pa se pad van afval)

- Die lesse uit die geskiedenis van Abimeleg wat die Heilige Gees ons leer
Hierdie ontnugterende geskiedenis waarin daar geen wenners was nie, staan nie vir niks in die Bybel nie.
Daarmee wil die Heilige Gees tog ‘n paar belangrike dinge vir ons leer.
Kom ons probeer dit te verwoord.
In die eerste plek, God is nie verplig om genade vir sondaars te bewys nie.
Hy is heeltemal eerlik as hy hulle straf soos hulle verdien.
Ons ken God se karakter uit die res van die Skrif, soos daar in Esegiël 33:11 staan:
“Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie ...”
So dikwels word God se oordele getemper deur sy genade.
Sy oordele is so dikwels bedoel om sy volk te herstel, nie om hulle te vernietig nie.
Maar die geskiedenis van Abimeleg herinner ons dat God in sy reg staan as hulle wel vernietig word.
In die Skrif is daar ‘n paar voorbeelde hiervan wat soos bakens in die tyd staan.
Dink aan die sondvloed.
Dink aan die verwoesting van Sodom en Gomorra.
En ook hier in Abimeleg se geval het God vir ‘n lang ruk sy hande teruggetrek, met die gevolg dat die kwaad kon voortwoeker tot dit homself uitgeroei het.
Straf uit vergelding is en bly dus ‘n realiteit.
Ons vergeet dit al te maklik, tot ons eie gevaar.

Tweedens, wat ons egter ook leer uit hierdie geskiedenis is dat God ook soewerein is oor die kwaad.
Soos ek genoem het, die kwaad roei homself uiteindelik uit.
Die kwaad, as dit nie getemper word nie, raak buite beheer.
Maar tog bly God, op ‘n soewereine wyse, in beheer oor die kwaad.
Dood, siektes, geweld, pyn, dit alles tref ons nie per toeval nie.
Op ‘n dieper vlak is dit oordele van God wat Hy doseer.
Waarmee Hy sy kinders kan wakker skud, as dinge nie reg is met hulle nie.
Waarmee Hy hulle betyds herinner dat daar ‘n groter oordeel op koms is.

Galasiërs 6:7 leer vir ons: “wat die mens saai, dit sal hy ook maai”.
Maar gelukkig bly die Here in beheer hiervan.
Dikwels keer Hy die kwalike gevolge van wat mense saai.
Maar soms laat Hy toe dat die kwaad sy gang gaan.
Of soos ons in Rigters 9:23 gelees het, God het ‘n bose gees gestuur.
God is nie die oorsaak van hierdie bose gees nie.
Maar God het wel daarvoor gesorg dat hierdie bose gees sy goeie doel dien, naamlik om misdadige mense te straf vir die misdade wat hulle gepleeg het.
God het toegelaat dat die kwaad op Abimeleg se hoof terugkeer, en op die mense van Sigem s’n.
God kan die kwaad inspan om kwaaddoeners te straf.
Die troue Verbondsgod staan nie magteloos teenoor die kwaad nie, Hy is in beheer van die kwaad.
Dikwels tree Hy tussenbeide om sondaars te beskerm teen die ergste gevolge van hulle oortredinge.
Maar in Abimeleg se geval het hy toegelaat dat die kwaad baie ver voortwoeker.
Daarmee het Hy egter ook ‘n doel gehad.
Abimeleg, Gideon se basterseun, was soos ‘n kankergewas binne sy volk.
Sy heidense regeerstyl het soos ‘n tumor begin groei.
Dit het die potensiaal gehad om sy volk te vernietig.
Maar God het toegelaat dat hierdie tumor so kwaadaardig begin optree het, dat dit binne enkele jare homself heeltemal uitgeroei het.
Daardeur het God die ruimte geskep dat die gewone alledaagse lewe weer kon aangaan.
Soos ons in vers 55 gelees het:
“En toe die manne van Israel sien dat Abiméleg dood was, het hulle elkeen na sy woonplek gegaan.”
Almal was moeg en suf vir oorlog en geweld.
Hulle het ‘n dure les geleer.
Hulle het hier op aarde ‘n voorproefie gekry van hoe vernietigend die kwaad is.
Inderaad, ‘n voorproefie van die magte van die kwaad, die magte van die hel.
Hierin lê ‘n waarskuwing van die HERE vir sy volk.
‘n Waarskuwing dat daar ‘n toekomstige finale oordeel sal wees.
Dit word nou nog uitgestel.
God is nou nog genadig.
Soos ons in Handelinge 17:30-31 lees:
“God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy 'n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur 'n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.”
Ja hierdie Man is Christus.
En deur Hom sal God die hele wêreld oordeel in geregtigheid.
Maar groot is God se genade, omdat Hy ‘n onstnappingskans bied vir almal wat na hierdie Man toe vlug.

Die geskiedenis van Abimeleg in die boek Rigters is nie aangename leesstof nie.
Maar dit is ook opgeskrywe vir ons beswil.
En in hierdie prekeserie oor Rigters mag ek dit daarom nie oorslaan nie.
Dit waarsku ons om God nie te versoek deur die kwaad in ons lewe te laat voortwoeker nie.
Dit laat ons die dringendheid besef dat ons bly voorbede doen vir hulle wat tans nog voortgaan om die kwaad in hulle lewe toe te laat.
Maar dit maak ons ook diep dankbaar vir God se genade, vir die ontsnappingskans wat Hy ook vir ons in Christus Jesus gebied het.
Skuil by Hom, dan is jy veilig teen die komende oordeel!

Amen.

Liturgie: 

Votum (sing Ps 121:1)
Seën
Ps 135:1,9,10
Wet
Ps 38:15-17
Gebed
Skriflesing: Rigters 8:33-9:57
Ps 34:6,7
Teks: Rigters 9:56-57
Preek
Ps 38:1,2,3,8
Gebed
Kollekte
Ps 1:2-4
Seën