Die Engel van die HERE ontferm Hom oor sy volk

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2019-02-10
Text: 
Rigters 6:34a
Preek Inhoud: 

Die geskiedenis van Gideon is ‘n gewilde Bybelverhaal om vir klein kinders te vertel.  Nou beskryf nie alle Kinderbybels hierdie geskiedenis presies soos dit hier in Rigters staan nie.  Dikwels word sommige dele uitgelaat, of ander aksente gelê.  Julle het vanoggend julle doopbelofte afgelê om julle kinders op te voed in die diens van die HERE.  Mag hierdie preek vir julle help, en ook ander ouers, hoe om hierdie taak waar te maak.

 

Tema: Die Engel van die HERE ontferm Hom oor sy volk

  • Hy stuur ‘n boeteprofeet
  • Hy vul die kleingelowige Gideon met sy Gees
  • Hy skenk ‘n ongewone oorwinning

 

  • Hy stuur ‘n boeteprofeet

Die geskiedenis van Gideon begin met die bekende refrein van Rigters, dat die Israeliete gedoen wat verkeerd was in die oë van de HERE.  Daardeur het ‘n donker skaduwee weer oor die land geval.  Hulle is sewe jaar oorgegee in hand van Midianiete.  Die Midianiete het alles verwoes wat Israel gesaai het.  Die Midianiete was soos sprinkane in menigte, hulle kamele ontelbaar.  Jaar in jaar uit het hulle die land gestroop.  Die graanoes, die skape, beeste en donkies, alles het hulle saamgevat.  Israel het deur hulle baie arm geword.

 

Dan lees ons ‘n sleutelopmerking: hulle het die HERE (weer) aangeroep.  En in antwoord stuur die HERE ‘n profeet na sy volk.  Doel van die profeet se boodskap was om hulle te herinner aan die verlede.  Aan God se beloftes.  Dat Hy trou was.  Maar dat hulle ontrou was.  Die doel van die profeet was dus om die volk skuldbewus te maak.  Dat hulle berou sou toon, hulle ellende sou raaksien.  Op sig is dit ook genade, dat die HERE ‘n profeet na sy volk stuur om dit te doen.  Ja selfs die kennis van ons ellende is genade!  Die profeet het nie ‘n dankbare werk gehad om te doen nie, maar wel bitter noodsaaklik.  Dit is ‘n element wat ouers hulle kinders ook moet bybring: as ouers hulle kinders straf, as ouers met hulle kinders raas, is dit juis omdat hulle lief is vir hulle.  Net soos die HERE lief was vir sy volk, en daarom met hulle geraas het.

 

  • Hy vul die kleingelowige Gideon met sy Gees

Vervolgens verskuif die aandag na Gideon.  Gideon was besig om koring uit te slaan.  Maar let op waar hy dit gedoen het: in die parskuip.  Die parskuip was die plek waar druiwe getrap is, dit was nie vir koring bedoel nie.  Koring het op ‘n dorsvloer gehoort, wat meestal hoog geleë was om soveel moontlik wind te vang om die kaf weg te waai.  Maar Gideon kon nie buite in die oopte die koring uitslaan nie.  Dit sou die aandag van die vyand trek, wat reggelê het om alles te plunder wat hulle kon vind.

 

Ons lees vervolgens hoe daar by die parskuip die Engel van die HERE aan Gideon verskyn.  Opvallend dat Hy afwisselend Engel genoem word, en ander kere die HERE self!  HERE, Jahweh!  Dis Hy wat aan Gideon verskyn met dieselfde Verbondsnaam waarmee Hy destyds aan Moses by die brandende braambos verskyn het.  Toe Hy sy Naam noem, was dit duidelik dat dit vir Gideon geen onbekende was nie.  Maar Gideon was nie bly nie, hy het eerder mismoedig gereageer: waar is Jahweh se wonders waar ons vaders ons van vertel het ...?  Vir Gideon was die HERE deel van ‘n sprokie uit die verlede, maar nie relevant in die hede nie.  In die hede was daar die gevaar van die Midianiete.  In die hede was daar Baäl, die god van Kanaän, wat sy familie begin dien het.

 

Die HERE het egter vir Gideon ‘n duidelike opdrag: Hy stuur hom om Israel uit die hand van die Midianiete te verlos.  Maar Gideon is vol besware: Sy geslag is die swakste in Manasse.  Hyself die geringste in sy familie.  Maar die HERE beloof sy aanwesigheid.  Gideon is nog steeds kleingelowig.  Hy vra ‘n teken.  Ons lees hoe Gideon ‘n maaltyd gereedmaak.  Maar die Engel van die HERE neem dit nie in ontvangs as ‘n maaltyd nie.  Nee, Hy steek dit aan die brand soos ‘n offer.   So wys Hy Gideon wat die regte optrede teenoor Hom behoort te wees.  Gideon skrik toe baie groot, want ineens besef hy dit is die HERE self!  Maar die HERE stel hom gerus: Vrees nie, jy sal nie sterwe nie.  Hierdie was dus die teken aan Gideon.  Gideon het gekry waarvoor hy gevra het.  ‘n Duideliker teken kon hy nie kry nie.

 

Vervolgens, nou Gideon besef wie voor hom staan, gee die Engel die opdrag aan Gideon om die altaar van Baäl te gaan afbreek, en die heilige boomstam af te kap.  Baie Bybelvertalings vertaal nie heilige boomstam nie, maar los die oorspronklike woord onvertaald, naamlik: Asjera.  Dit was ‘n godin, die vroulike eweknie van Baäl, die vrugbaarheidsgod.  Die heilige boomstam was dus eintlik ‘n hout paal of ‘n hout beeld van die godin Astarte.  Altaar en afgodsbeeld, beide moes Gideon gaan afbreek.

 

Hierdie opdrag is veelseggend.  Die HERE maak aan Gideon duidelik dat die kern van Israel se probleem nie die lastige Midianiete is nie.  Die kern van hulle ellende is hulle afgodediens!  En die HERE sal hulle nie van die Midianiete bevry, solank as hulle iets van Baäl verwag nie!

 

Hierdie was ‘n swaar opdrag vir Gideon.  Ons lees dat die Baäldiens volledig onderdeel was van elke dag se bestaan in sy dorp Ofra.  En nog erger, sy eie pa, Joas, het daarin ‘n leidende rol gespeel!

 

Die HERE toets vir Gideon, Hy toets sy vertroue.  Hy toets of Gideon sy familie bo gehoorsaamheid aan Hom plaas.  So herkenbaar, vir gelowiges tot en met vandag.  So dikwels gebeur dit dat die familie wegdwaal by die diens van die HERE.  En jy word voor die dilemma geplaas: Vir wie kies jy? Vir watter lewensstyl kies jy?  Eintlik behoort dit geen dilemma te wees nie.  Maar so is ons, sondige kleingelowige mense, so dikwels.

 

Gideon moes standpunt inneem, en hy moes dit dadelik doen.  Daar was nie ruimte vir uitstel nie.  Dit was ‘n risikovolle ding wat hy moes doen.  Dit kon hom sy erfenis kos, skande en selfs die dood.  Maar daarteenoor was daar die HERE se versekering, vers 23: “Vrres nie! Jy sal nie sterwe nie.”

 

Ons het gelees hoe Gideon dit toe wel gedoen het, saam met tien van sy dienaars.  Die altaar afgebreek, en die heilige boomstam omgekap.  Maar omdat hy bang was vir sy familie, het hy dit in die nag gedoen.  Die volgende oggend was Baäl se altaar weg en het daar ‘n altaar vir die HERE in die plek gestaan.  Nieteenstaande het vinnig bekend geword dat dit hy was wat dit gedoen het.  Die dorp se bevolking dwing toe vir Gideon se pa, Joas, om sy seun uit te lewer.  Gideon se lewe was op die weegskaal.  Sy pa moes kies: vir sy vooraanstaande posisie in die dorp, in die diens aan Baäl, of sy seun.  ‘n Moeilike keuse, want daardie altaar het aan homself behoort, hy was self ‘n Baälaanbidder.  Maar, gelukkig, om sy seun op te offer was net een offer te groot.  En sy antwoord het die spyker op die kop geslaan: As Baäl ‘n god is, laat hy vir homself veg.

 

Hierdie episode word vertel, omdat dit ‘n draaipunt was.  Die volk, wat weggedwaal het van die HERE af en op Baäl begin vertrou het, se oë gaan nou oop.  Baäl is eintlik niks nie!  Dit was ‘n skarnierpunt.  En deur God se voorsienige leiding het dinge die regte kant opgedraai.  Want ineens is Gideon nie meer die skuldige nie.  Totaal onverwags word hy nou as die held beskou!  Hulle noem hom Jerubbaäl, die een wat teen Baäl durf te veg!  So lei die troue Verbondsgod omstandighede, dat Baäl sy houtgreep op die dorpsgemeenskap verloor.

 

Direk hierna volg dan die beskrywing van hoe die Midianite, met die Amalekiete en kinders van die Ooste in bondgenootskap, vir oorlog gereedmaak in die laagte van Jisreël.  Die kinders van die ooste was die bewoners van die woestyne veral aan die oostelike grense van Israel.  Amalek was die ou bekende vyand van Israel, wat tydens die woestynreis hulle van agter aangeval het.  Hulle almal het nou in koalisie saamgetrek.  Die gebied wat in geding was, was die groot vlakte in Noord-Israel, vanaf ongeveer die see van Galilea in die ooste, tot by die berg Karmel aan die kus van die Middellandse See.  Hierdie vlakte is die vrugbaarste landbougebied in Palestina.  Destyds met Barak se oorwinning het die weer beskikbaar geword vir Israel.  Maar nou was dit weer betwiste gebied.

 

En alles wat tot dusver gebeur het, het God so gelei dat daar nou ‘n rigter kon opstaan om die volk in hierdie kritiese oomblik te lei.  Ons lees hoe die Gees van die HERE Gideon vervul het, vers 34, ons teks.  Daar staan dat hy as’t ware met die Gees van die HERE aangetrek is.  Hy is nie aangetrek met die letterlike wapenrusting van ‘n generaal nie, maar dit was die Gees wat hom sterk gemaak het.  Die Gees van die HERE het besit van hom oorgeneem, hom ‘n ander mens gemaak, het hom dapper gemaak.  Gideon, die jongste uit die gesin, en ook nog uit ‘n geringe familie.  Die Gees het hom op die ramshoring laat blaas.  Gideon, vervul van die Gees, staan dus hier op as ‘n leier van die volk.  Hy het boodskappers na die verskillende stamme laat uitstuur, om hulle op te roep vir die stryd.

 

Gideon se vertroue op God groei, maar nog steeds is hy ook kleingelowig.  Hy het al ‘n teken van God gekry, toe die Engel van die HERE die offervuur aangesteek het.  Maar hy soek nou weer ‘n teken.  Hy sak weer terug in onsekerheid.  Die volle werklikheid het ingeskop, skielik besef hy waarvoor hy te staan gaan kom.  En dit oormeerster, oorweldig hom totaal.  In sy vertwyfeling vra hy nog ‘n teken.  Opvallend is hoe die HERE met hom geduld het.  En die HERE gee waarvoor hy vra.  Hy ontvang weer sy teken.

 

Die episode met die wolvlies word uitvoerig beskryf.  Nou moet ons ook hierdie episode in die konteks van daardie tyd verstaan.  Want die kern van wat aangegaan het hier, was die stryd tussen die HERE en die afgod Baäl.  Dit was God se stryd vir die hart van sy volk.

Ook in Gideon sy eie hart was daar nog twyfel.  Soos u weet, Baäl was die vrugbaarheidsgod, die god wat vir reën gesorg het.  En ook vir die dou.  In die droë warm somermaande is die swaar dou wat in die nagte in Israel val, onmisbaar.  Die heidene het die dou ook as ‘n geskenk van Baäl beskou.  In Gideon se hart was daar ‘n tweestryd.  En hy wou duidelikheid hê.  Hierdie God wat nou met hom praat, die God van sy voorgeslag, is Hy werklik in staat om reën en dou te gee?  Op klein skaal sien ons hier presies dieselfde tweestryd as jare later by die berg Karmel, toe Elia vir die volk gewys het wie die reën skenk.  Tot twee keer toe vra Gideon ‘n teken.  En tot twee keer toe gee God vir hom die teken wat hy soek.  Daarna was daar vir Gideon geen onduidelikheid meer nie.  Dit is hierdie God wat die dou gee, nie Baäl nie!  God het hom nie veroordeel nie, maar was geduldig met hom.  Sekerlik is dit troosvol vir ons ook, want hoeveel keer twyfel ons nie?  En so het die HERE vir Gideon oor die streep getrek.

 

Hierdie wonderteken met die dou vind mens meestal wel in Kinderbybels terug.  Maar wat dikwels nagelaat word, is om te vertel dat hierdie eintlik ‘n wedywering tussen die HERE en die afgod Baäl was.  Dit is dan ook ‘n element wat ouers wel vir hulle kinders moet vertel, wanneer julle voorlees oor Gideon.  Hierdie is juis ‘n pragtige geleentheid om met julle kinders verder te praat oor waar die reën en die dou eintlik vandaan kom.  Hoe die HERE vir ons sorg.  Hoe Hy in beheer is van alle weerpatrone.

 

  • Hy skenk ‘n ongewone oorwinning

Hoofstuk 7 begin met hoe hy en al sy manskappe hulle klaargemaak het.  Gideon het vroeg in die môre opgestaan, staan daar in vers 1.  Dis al ‘n goeie teken op sig.  Mense wat gepla word deur angs en onsekerheid, bly in die bed lê.  Hulle kan nie die dag en dit wat die dag gaan bring, in die gesig staar nie.  Maar nie Gideon nie.  Inmiddels staan hy onder die volk bekend as Jerubbaäl, terugverwysende na die feit dat hy Baäl se altaar afgebreek het.  Stryder teen Baäl.  Die feit dat Gideon die moed gehad het om dit te doen, dit het die volk ook moed gegee.  So is sy dappere gehoorsaamheid beloon.  ‘n Groot hoeveelheid manskappe het aan die oproep gehoor gegee.  Gideon kon gaan laer opslaan en gereed maak vir die veldslag teen die Midianiete.

 

Maar dan volg daar ‘n totaal onverwagse opmerking van die HERE.  Die manskappe daar by jou is te veel, Gideon.  Te veel na my sin!  ‘n Vreemde opmerking van die HERE.

Hoewel, noudat ons bietjie vertroud begin raak met die Rigterboek, is dit ook nie so vreemd nie.  Dit pas in die patroon van Rigters.  Elke keer tot dusver het die HERE naamlik ‘n oorwinning gegee op ‘n onverwagte wyse.  Ehud met sy sluipmoordpoging.  Samgar met sy primitiewe osdrywerstok.  Barak met net ‘n paar stamme wat opgedaag het vir die stryd, maar die HERE wat met sy leërmagte van natuurkragte die oorwinning gegee het.  Dus ja, in die konteks van die Rigterboek begin die leser nou al besef:  Die HERE doen dinge op ‘n ander manier.  So dus nou ook by Gideon.

 

Vir ‘n aanvoerder wat op die puntjie staan om ‘n groot veldslag te veg, moes Gideon ‘n totaal irrasionele ding doen.  Pleks van die manskappe moed inpraat, veral die wat nog bietjie bang was, sê die HERE dat hy die banges moes huis toe stuur.  Normaalweg werk dit in weermagte so dat die banges, hulle wat deserteer, net daar en dan doodgeskiet word.  Om te voorkom dat die hele leër nie handdoek wil ingooi nie.  Maar nee, die HERE se oorlogswette is anders (Deut 20:8), en sy bevel was vir geen misverstand vatbaar nie.  Stuur die banges huis toe.  Die effek was ook nie kleinskalig nie.  Dit was nie nodig om dit twee keer te sê nie.  Twee en twintig duisend, dit is meer as die helfte!, twee derdes, het huis toe gegaan.  Elke generaal se moed sou in sy skoene gesak het.  Net tienduisend het oorgebly.

 

Die volgende opmerking van die HERE het Gideon nog meer stomgeslaan.  Tien duisend was nog steeds te veel.  Dan gee die HERE opdrag dat hulle almal moes gaan waterdrink.  En uit die manier hoe hulle water drink, moes Gideon dan ‘n seleksie maak.  Nou is daar nie heeltemal eenstemmigheid onder verklaarders hoe hierdie seleksie presies gewerk het nie.  Wat wel duidelik is, is dat daar onderskeid gemaak is tussen hulle wat soos ‘n hond die water opgelek het, en hulle wat op hulle knieë gaan sit het.  Slegs die laastes, wat soos honde gelek het, is gekies.  Maar waarom juis hulle gekies is, daaroor is daar nie eenstemmigheid nie.  Was hulle manier die manier wat die beste by ‘n soldaat gepas het?  Of dalk juis die omgekeerde?  Wou die HERE hierdeur wys dat nie hulle as dapper en ervare soldate nie, maar Hy, die oorwinning sou gee?  Kortom, die motivering hoekom juis hulle moes agterbly, is nie heeltemal duidelik nie.

 

Maar die gevolg was wel dat daar net driehonderd oorgebly het.  Dit alles was ‘n sware proef vir Gideon se vertroue.  Vertroue op hierdie God, wat in die verlede wonders gedoen het, wat in die verlede groot veldslae met ‘n klein minderheid kon wen.  Sou Hy dit ook nog in die hede kon doen?

Sou Hy met so weinig voetsoldate die Midianiete op hulle duisende kamele kon verslaan?  Die geskiedenis vervolg dan deur vir ons te vertel watter taktiek die HERE in gedagte gehad het.  Ons lees hoe die bygelowige Midianiete in die leërkamp waarde aan ‘n droom geheg het.  En hoe die HERE daarvoor gesorg het dat Gideon dit ter ore kom.  En dit, die feit dat die Midianiete ook bang was vir die stryd, en spesifiek vir hom, Gideon, Jerubbaäl, stryder teen Baäl, dit het hom moed gegee!  Skynbaar het Gideon se daad om Baäl se altaar en heilige boomstam af te kap soos ‘n vuurtjie deur die land versprei.  Skynbaar het dit nie net die Israëliete nie, maar ook die Midianiete se wenkbroue laat lig.  ‘n Man wat dit met hulle god Baäl doen, en niks kom hom oor nie ...Gideon kon sy ore nie glo nie.  Dit was nie hy nie, dit was God se werk in hom.  Al wat hy kon doen was om te kniel en God te aanbid (vers 15).

 

Vervolgens vertel die Rigterskrywer hoe die driehonderd met ramshorings en leë kruike en fakkels in die donkerte van die nag ‘n groot lawaai gemaak het.  Die helse lawaai het die Midianiete in hulle bygelowige voorgevoelens bevestig, en hulle het laat spaander.  Hulle het selfs teen mekaar losgebrand.  En ook dit was nie toevallig nie.  Soos ons in vers 22 lees: dit was die HERE wat dit veroorsaak het.  Weer was al wat die Israeliete eintlik hoef te gedoen het, om die vyand wat alreeds besig was om te vlug, agterna te jaag.  Die HERE het die oorwinning gegee, en hulle moes dit net afrond, die ‘finishing touches’.

 

Dit is dus, net soos by al die rigters wat ons tot dusver behandel het, die kern van die boodskap.  Al het Gideon uitgegroei tot ‘n groot leier, is dit die HERE wat die oorwinning gegee het.  Gideon was ook ‘n mens, wat in sonde ontvang en gebore is.  Hy was afkomstig uit ‘n gesin waar die afgod Baäl alreeds vereer is.  Daar was niks uit homself wat hom meriete gegee het nie.  Die HERE moes telkemale geduld met hom hê, weens sy kleingelowigheid.  Twee, tot drie keer toe het hy ‘n bonatuurlike teken van God gevra.  Sy vertroue op God het maar stadig in plek gekom.  Maar gaandeweg het vertroue die plek van die wantroue en angs ingeneem.  Die HERE het hom laat uitgroei tot ‘n leier.  Maar aan die einde van die dag was dit nie Gideon se militêre skranderheid of selfs sy geloofsvertroue wat Israel gered het nie.  Dit was God se toewyding aan sy verbond, aan sy belofte, dat Hy met sy volk sou wees.

 

Gideon se persoon en leierskap getruig van die feit dat God uitgehou het met ‘n afvallige en kleingelowige volk, waarvan Gideon ook deel was.  Sy pa was selfs ‘n leier in die Baäldiens.  Deur God se Gees is Gideon in staat gestel om te begin floreer as rigter, as leier van die volk.

Later in die Skrif, in Hebreërs 11, ontmoet ons weer vir Gideon.  Gideon se lewe getuig ook van die geloof waartoe die Rigterskrywer ons aanspoor: “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” (Hebr. 11:1)  In hierdie geloof mag ons ook staan.  Dat ons leer om ‘n vaste vertroue te hê op Hom wat ons nie met ons mense-oog kan sien nie.

 

So was dit ook by Gideon.  Uit swakheid is hy opgehef en sterk gemaak.  Soos Paulus skryf in 2 Korinthiërs 4:7: ons dra ‘n kosbare skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.  Gideon en sy manne het erdekruike stukkend geslaan.  Maar dit was nie die geraas van die erdekruike wat die oorwinning gegee het nie.  Dit was die kosbare skat, naamlik gehoorsame vertroue op die HERE se instruksies.  En dit was die HERE wat die oorwinning gegee het, deur al die omstandighede wat Hy op mekaar te laat inspeel het.  As ouers hierdie geskiedenis vir hulle kinders vertel, is dit belangrik dat hulle daarom klem lê.  Die oorwinning was nie danksy Gideon se dapperheid of slimmigheid nie.  Gideon het op die HERE vertrou, en Hy het die oorwinning gegee.  Die skat is dat ‘n leier besef dat hy self swak is, maar dat desondanks dit geen verhindering vir God is om deur hom te werk nie.  Ja deur Christus is ons tot alles in staat.  Gideon was dit ook.  Want die Engel van die HERE was Christus, die ware Leier en Rigter.  Ook in hierdie donker fase van die heilsgeskiedenis het Hy sy kinders gelei.  Die Baäldiens het die onderspit gedelf, en die HERE se Naam is weer grootgemaak!  Dit het die Engel van die HERE gedoen, met die oog op sy koms na die aarde, eeue later, as Middelaar.  So het Hy gesorg dat vir alle heidenvolke, ja ook vir ons, die ware lig sou opgaan.

 

Amen

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 84:3

Wet

Sb 26:11

Gebed

Skriflesing: Rigters 6:1 – 7:22

Sb 34:2

Teks: Rigters 6:34a

Preek

Ps 29:2,4,5

Gebed

Kollekte

Ps 65:2,6

Seën