I
n die Rigterboek is hoofstuk 5 is ‘n ongewone hoofstuk. In teenstelling tot die res, is dit poësie. Om dit sagkens te stel, Rigters is nogal ‘n somber boek. Dink aan die refrein: In die dae was daar geen koning in Israel nie, elkeen het gedoen wat goed was in sy oë. Soos mens deur die boek lees, gaan dinge net erger. Rigters is ‘n versameling van deprimerende verhale. Rigters is ‘n boek wat mens jou kop laat skud, wat mens laat treur. Dit laat mens nie eintlik sing nie. Maar dan ineens staan daar wel ‘n lied in hoofstuk 5! Hoekom eintlik?
Tema: Die HERE laat ‘n loflied in Debora se hart gebore word.
1 Dit is ‘n danklied dat daar weer leiers opgestaan het
2 Dit is ‘n treurlied dat sommiges nie opgedaag het nie
3 Dit is ‘n loflied op Hom wat die oorwinning gegee het
1 Dit is ‘n danklied dat daar weer leiers opgestaan het
Die hoofstuk begin deur ‘n tydsaanduiding: op die dag het Debora en Bark ‘n lied gesing. Dit verwys terug na wat in die vorige hoofstuk beskryf is. Vir twintig jaar is Israel wreed verdruk. Israel was magteloos teenoor Sisera en sy geoefende leër met 900 ysterstrydwaens. Die vyand was onoorwinlik. Die situasie was presies die omgekeerde van wat God se opdrag aan sy volk was. Pleks daarvan dat Israel die Kanaäniete uit die beloofde land uitgeroei het, was die situasie nou so dat die heidene oor Israel baas gespeel het, ja selfs swaar verdruk het. Maar dan ineens, na twintig jaar, is daar skielik ‘n totaal onverwagse bevryding. En dit is hoekom hierdie lied gesing word.
In vers 1 staan dat Debora en Barak die lied gesing het. Die lied was gedeeltelik beurtsang, blyk uit vers 12, waar Debora en Barak mekaar toesing. Al het altwee gesing, uiteindelik kom die lied van Debora af (sien vers 3 en 7) en was dit sy wat dit gedig het. Sy was inderdaad ‘n vrou van vele talente.
Nou in die lied is daar enkele spesifieke dinge, wat veral die aanleiding was om te sing. Een van die belangrikste aanleidings was dit waarmee vers 2 begin: “Omdat aanvoerders aangevoer het ...” Aanvoerders kan ook met leiers vertaal word. Eenvoudig gestel: Omdat daar leiers was wat bereid was om die leiding te neem. Want dit was nou juis wat die kroniese gebrek was in die Rigtertyd. Niemand wou die leiding neem nie. Elkeen het net gegaan vir sy eie belange. Niemand wou opstaan en namens God se volk die leiding neem nie.
Dit is veral opvallend dat Debora dit sing. Die feit dat die mense in daardie dae na Debora, synde ‘n vrou, moes gaan vir regspraak (Rig. 4:5), was al ‘n teken aan die wand. Dit is duidelik dat weinig meer oorgebly het van die wette en bepalings wat God deur Moses aan sy volk gegee het. Hoe daar in elke dorp priesters moes wees, hoe hulle die volk moes onderrig. Hoe daar oudstes moes wees vir die regspraak. Al hierdie instellings was al uit God se volk weggeërodeer. Die situasie was later so desperaat, so chaoties, dat ‘n vrou soos Debora, iemand met ‘n sterk karakter, ‘n egte moeder in Israel (vers 7), moes opstaan en doen wat die manne veronderstel was om te doen. Juis daarom is dit opvallend dat Debora die lofsang sing. Sy is so bly dat uiteindelik ‘n man opstaan en die leiding neem. Nou gemeente, hoe Barak opgestaan het om die leiding te neem, het ons in die preek oor Rigters 4 al gehoor. Eintlik was Barak maar ‘n slappeling. Debora moes hom aan sy nekvel as’t ware na die slagveld trek. Maar hoe pateties die ook gegaan het, uiteindelik het Barak danksy die HERE se ingrype, tog die oorwinning behaal.
Deesdae word Debora soms gebruik as ‘n rolmodel vir vroulike ampsdraers. Die feit dat Debora reggespreek het, sou dan ‘n Bybelse bewys wees dat vroue ook vandag in die kerklike ampte mag dien. Hierdie redenasie mis egter die aanleiding hoekom Debora haar lied gesing het. Die hoofrede, dit waarmee die lied selfs begin. Naamlik dat daar uiteindelik weer aanvoerders opgestaan het! Na twintig jaar leierloosheid, waarin die mans slappelinge was, waarin niemand meer bereid was om in die amp te dien nie, en dit so erg geword het dat Debora self moes moes inspring, het daar uiteindelik ‘n ommekeer gekom. Prys die HERE! Debora was ‘n uitsondering op die reël. ‘n Uitsondering wat juis die reël bevestig het!
Daarom is dit nie eksegese nie, maar inlegkunde, as mense Debora sien as ‘n feminis. Debora het nie emansipasie bepleit nie, juis die omgekeerde. Sy was nie gekant teen die hoofskap van die man nie. Sy was so dankbaar toe daar weer aanvoerders opgestaan het. Dat hulle weer hulle plig verstaan het. Toe die slap mans weer begin doen het wat hulle veronderstel was om te doen. Prys die HERE dat iemand soos Barak sy eiebelang opsy gesit het, en in belang van God se volk die leiding geneem het. Dat hy besef het dat daar nie nou langer teruggediens kon word vir die stryd nie. Die situasie was desperaat verby vir God se volk. Die vyand onverslaanbaar magtig.
Prys die HERE dat die manskappe saam met hom opgeruk het. Prys die HERE veral vir Debora. In uitsonderlike tye het die HERE haar as ‘n uitsonderlike persoon aan sy volk gegee. God behou vir Homself die reg en vryheid om te doen soos dit Hom behaag.
Debora se loflied op die manne wat weer ruggraat gekry het, laat my terugdink aan my sendingswerk in Soshanguve. In die swart gemeenskappe in ons land is die man die groot afwesige, in die gesin, in die kerk. Hoe smag die vroue in ons land na mans wat leiding, wat verantwoordelikheid, durf te neem. Dit is iets waar ons in ons gemeente ook op moet let. Hoe staan dinge onder die jeug, byvoorbeeld op jeugvereniging. Is dit by julle ook net die meisies wat dinge doen, verantwoordelikheid neem? Laat ons vir ons seuns opvoed met die besef dat hulle geroep is om leiding en verantwoordelikheid te neem!
Gemeente, die feit dat God se volk leiers het, leiers wat op God vertrou, morele leiers wat volgens sy wil leef, dit is nie vanselfsprekend nie. Dit is ‘n groot geskenk. Die kerk het leiers nodig wat standpunt durf inneem. Hulle is kosbaar. Hulle is God se geskenk aan sy kerk. As daar leiers in jou kerk is wat karakter toon, dank God daarvoor. Leiers wat standpunt inneem, wat karakter toon, is nie dieselfde as leiers wat gewild is nie. Leiers wat standpunt inneem, is nie ‘people pleasers’ nie. Tog het die kerk juis sulke leiers nodig. Dank God vir hulle. En u as volk van God, moenie dat hulle alleen die stryd moet voer nie. Staan hulle by. Moenie hulle stukkend maak met kritiek nie. Staan langs hulle, ondersteun hulle. Want deur hulle hand wil God u lei.
(Tema: Die HERE laat ‘n loflied in Debora se hart gebore word.
1 Dit is ‘n danklied dat daar weer leiers opgestaan het)
2 Dit is ‘n treurlied dat sommiges nie opgedaag het nie
Nou is daar nog ‘n aspek waaraan Debora se lied aandag skenk, iets wat ons nie mag nalaat om te bestudeer nie. Want hierdie loflied het naamlik ook ‘n skadukant. Die oplettende leser sal dit al agtergekom het. Want toe Debora daardie stamme vermeld wat opgedaag het vir die stryd, het sy lank nie alle stamme van Israel genoem nie. Daaroor hoor ons in hierdie lied bittere teleurstelling. Dit sien ons veral in verse 13-17 en vers 23. Vers 13 neem ons terug na die oomblik toe die vrywilligers begin opdaag het om Barak by te staan in die aanval op die vyand.
In hoofstuk 4 is slegs melding gemaak van die stam Naftali (Barak se eie stam), en die buurstam Sebulon. Maar hier in die loflied kry ons nou die breër prentjie. Daar was vrywilligers uit Efraim, uit Benjamin, en uit Magir (dit was ‘n familie uit Manasse aan die oostekant van die Jordaan). Verder het Sebulon en Issaskar opgedaag. Nou moet u uself vir ‘n oomblik verplaas in Barak se skoene. Debora het hom sover gekry om vir die stryd gereed te maak. Om manskappe vanoor die hele land op te roep. Barak het besef dit was eintlik ‘n verlore stryd, dat hulle kanse om teen Sisera te wen weglaatbaar klein was. Dus, elke keer as daar weer ‘n stam opdaag by die berg Tabor, was dit vir Barak ‘n riem onder die hart. Maar die omgekeerde was ook waar. Soos die tyd verstryk het, het dit duidelik begin word dat sommige stamme nie opdaag nie. En dit is die skadukant in hierdie lied. Dit word nie verswyg nie. Hierdie mineurtone begin in vers 15. Die taal van eenheid en vasberadenheid begin plek maak vir twyfel. Dit klink dalk, op die oog af, nog positief. Vers 15b: “In die afdelings van Ruben was die voornemens van die hart groot.” Ja dit klink dapper. Maar die pyn sit in die woord “voornemens”. Want feit was dat dit by die stam van Ruben net by voornemens gebly het. Ja, groot voornemens. Maar ‘n voorneme is nog nie ‘n daad nie! Om ‘n lang verhaal kort te maak. Al het die stam van Ruben die mooiste voornemens gehad, feit is dat hulle nie by die berg Tabor opgedaag het nie. Hulle het bly sit en luister na die fluitspel by hulle troppe vee – merk Debora sinies op. ‘n Groot terugslag vir Barak, die feit dat ‘n hele stam nie opgedaag het nie!
En dan was daar Gilead. Sonder omhaal van woorde staan daar dat hulle rustig oorkant die Jordaan gebly het. Terwyl hulle broers die dood in die oë staar, kon dit hulle nie traak nie. Dieselfde met die stam Dan. Debora vra: waarom vertoef jy by die skepe? Skynbaar was Dan te besig om handel te dryf met die seevarende Fenisiërs. Hulle sente was vir hulle belangriker as hulle beginsels. Die stam Aser word ook gestriem in Debora se lied. Hulle het rustig bly sit in hulle gebied aan die seekus. Tipies die Rigtertyd, die neiging van elke stam om te doen wat goed was vir homself, en nie omgegee het vir die ander nie. Hulle was doof vir die hulpgeroep van hulle broers. Hierdie stamme se laksheid staan in skril kontras met die dapperheid en selfopoffering van Sebulon en Naftali, wat hulle lewens gering geag het tot die dood toe (vers 18). Drie, vier stamme wat net nie opgedaag het nie. ‘n Geweldige terugslag vir daardie manskappe wat wel gehoor gegee het aan Barak se oproep.
Die grootste verwyt in Debora se lied is egter aan die ades van die inwoners van Meros (vers 23). Waarom hulle vervloek word, word nie eksplisiet genoem nie. Wel staan die vervloeking direk na die beskrywing hoe Sisera se manskappe agtervolg is. Dit het moontlik daarmee te make. Moontlik dat die vyand vlak verby hulle stad gevlug het, terwyl hulle niks gedoen het nie. Opvallend is ook dat hierdie vervloeking in opdrag van die Engel van die HERE is. Somtyds is niksdoen die ergste sonde. In die konteks van Debora se lied is dit ook die grootste aanklag teen daardie stamme en stede. Dat hulle niks gedoen het nie. Dat sommiges nie eers opgedaag het toe die stryd op sy hewigste gewoed het nie. Meros het nie net hulle mede-broeders in die steek gelaat nie. Hulle het ook die verbond met hulle God verbreek.
Nou gemeente, ons het die Engel van die HERE al eerder in Rigters ontmoet, in hoofstuk 2. Daar het Hy die volk bestraf dat hulle nie geluister het nie, dat hulle die heidene nie verdryf het nie, maar verbonde met hulle gesluit het. Daardeur het hulle die verbond met die HERE verbreek. Die verbondsvloek tref nou vir Meros, in opdrag van die Engel van die HERE. Die HERE se verbondsgenade is gratis, maar nie goedkoop nie. Hierdie vloek oor Meros is vergelykbaar met Christus se vloek later oor Betsaida en Gorasin (Matt. 11:21; Luk. 10:13). God se wondertekens van uitredding het op hulle voorstoep plaasgevind, maar hulle het net nie belanggestel nie. Dit kan Christus, die Engel van die HERE, nie verdra nie!
Al met al was die oorwinning by die Kisonrivier ‘n groot uitredding vir Israel. Die vyand is verslaan. Maar in Israel was dinge ver van in orde ...
Dan is daar nog ‘n tweede skaduwee in Debora se lied. Dit is die laaste deel van die lied, voor die konklusie in die laaste vers. Hierdie deel is ‘n soort klaaglied op Sisera se ma. En op ‘n manier het mens medelyde met haar. Sy tree op soos elke ma sou doen in die omstandighede waarin sy haarself bevind het. Sy is ‘n ma in groot angs en pyn oor haar seun wat talm om huis toe te kom. Maar tog, as mens so lees wat daar staan, word duidelik dat daar tog iets fout was met haar. Haar woorde in vers 30 is as’t ware ‘n venster na haar hart. Sy hoop dat haar seun Sisera vinnig terugkeer van die slagveld met buit. En dan beskryf sy die buit: een slavin, twee slavinne vir elke man. Bont klere, veelkleurige klere, bont en veerlkleurige doeke vir my hals ... Hierdie vrou, Sisera se ma, is eintlik die omgekeerde van hoe Debora was. Sy smag net na die buit, wat op koms is vir haar en haar mense. ‘n Patetiese figuur, soos wat sy daar staan en tuur met haar prinsesse om haar heen.
Tevergeefs wag sy op haar seun. Want hy is inmiddels om die lewe gebring deur ‘n ander vrou.
Ja geseënd is Jaël. ‘n Tentpen het sy deur Sisera se slape gekap. Daar lê hy morsdood. Jaël is ‘n vrou vergelykbaar met Ragab van Jerigo. Met gevaar vir haar eie lewe het sy tog gekies om ‘n vriend van God se volk te word.
Dan die laaste vers gee vir ons ‘n konklusie op hierdie eintlik baie konfronterende lied. In hierdie wêreld is daar net twee soorte mense. Vriende van God, en vyande van God. Sy vriende roem in sy regverdige oordele. Sy vyande word getref deur sy regverdige oordele. Nie dat vriend van God ‘n geboortereg is nie. Daaroor is die lied ook duidelik. Nie almal in God se volk was God se vriende nie. En daar was ook hulle buite sy volk wat sy vriende geword het.
(Tema: Die HERE laat ‘n loflied in Debora se hart gebore word.
1 Dit is ‘n danklied dat daar weer leiers opgestaan het
2 Dit is ‘n treurlied dat sommiges nie opgedaag het nie)
3 Dit is ‘n loflied op Hom wat die oorwinning gegee het
God is die Stryder. Uiteindelik was dit nie die karaktervolle raakvat Debora, of Barak, wat die stryd gewen het nie. Uiteindelik het hulle die oorwinning aan die HERE te danke gehad. Hierdie lied is nie ‘n lofsang op Debora nie, maar op die HERE. Die HERE het voor hulle uitgetrek. Hy het sy skeppingskragte vir hulle laat veg. Wolke, wind, reën, riviere en moerasse. Daaroor sing Debora in vers 4. Dis die HERE wat uitgetrek het, toe die wolke begin saampak het oor die velde van Edom, toe die wolke hulle waters begin loslaat het. Hierdie loflied besing dieselfde God, en dieselfde werkwyse van Hom, as die God wat destyds die Skelfsee laat opdroog het. Exodus 15:3-6: “Die HERE is ‘n krygsman; HERE is sy naam ... Hy het Farao se strydwaens en sy leërmag in die see gewerp ... U regterhand, o HERE, verpletter die vyand.” Dit is die besef wat hierdie liedere deurtrek: dit is die HERE wat die oorwinning gegee het. Sonder die HERE kon die stryd nie gewen gewees het nie. Dit is die besef wat hierdie liedere vir ons wil leer. Daar is veldslae wat ons nie kan wen nie, al doen ons wat. Die vyand is te sterk vir ons. God moet vir ons die oorwinning gee. En God doen dit ook! Dit was die gewaarwording wat Debora en Barak spontaan laat sing het. Die HERE het voor hulle uitgegaan en vir hulle geveg.
En, sing die lied, die HERE doen dit op sy manier: Die aarde het gebewe.
Die hemel het gedrup. Uit die hemel het die sterre geveg. Ook die riviere het geveg. Die spruit Kison het die vyand weggespoel. Sisera se gespierde perde was nie teen hierdie watermassas opgewasse nie. In die vorige preek, oor Rigters 4, het ons hieraan aandag geskenk. Hoe ‘n wolkbreuk onverwags die slagveld in ‘n moeras laat verander het. Hoe die spruit Kison buite sy walle getree het. Hoe Sisera en sy ysterwaens in die penarie beland het. So het die HERE sy leërmagte gebruik. Sy skepping het vir Hom geveg. Net soos destyds by die Skelfsee, waar die skepping ook vir Hom geveg het, mag dit nou weer duidelik wees: Die HERE bly trou aan sy verbond. As hulle in nood tot Hom roep, is Hy vinnig om te red.
Hierdie lofsang is ‘n hoogtepunt in die Rigterboek. Dit is die HERE wat ‘n loflied in Debora se hart laat gebore word het. In een van die donkerste periodes van die Rigtertyd, het die troue Verbondsgod uitkoms gegee. Prys die HERE. In die donker Rigtertyd klink skielik ‘n lied op. ‘n Loflied, ‘n danklied na ‘n totaal onverwagte oorwinning. Hierdie lied herinner ons dat dinge nooit so erg kan word dat God nie vir ‘n oorwinning kan sorg nie. Hierdie lied prys God en gee hulle wat dit sing geloof en moed. Hierdie lied blik dankbaar terug op hulle wat gewillig was. Hierdie lied skenk ook aandag aan die onwillige Israeliete, as ‘n waarskuwende voorbeeld vir ons. Boweal besing hierdie lied die beslissende mag van die HERE. Dis ‘n lied vergelykbaar met hoe die voorgeslagte ook ‘n lied gesing het aan die oewer van die Skelfsee (Ex 15:1) En hoe die nageslag sou sing toe hulle, net so onverwags, gered is uit die ballingskap in Babel (Jes 26:1; Ps 126). ‘n Lied wat eendag ook sal klink in die hemel, uit die mond van hulle wat verlos is (Openb 5:9-10). ‘n Lied ter ere van die grootste Uitredder aller tye. Hy het met sy kosbare bloed sy vriende gered uit elke stam en volk en taal en nasie. En vir Christus se kerk om te sing is die logiese, die enigste gepaste reaksie op sulke uitreddings. Sing, dit is wat mense doen, as God uitred.
Om te sing is onlosmaalik deel van ons diens aan God. Deur die eeue was God se volk ‘n singende volk, altans daardie res van sy volk wat trou aan Hom gebly het. Deur die eeue is die Psalms gesing, en nuwe liedere, oor God se onverwagte uitreddings. Deesdae het ons nie ‘n berymde weergawe van Debora se lied wat ons in die kerk sing nie. Dit sal goed wees as hierdie Bybelse lied weer ‘n plek in die kerk se sangbundel kry. Hierdie lied fokus op wat God gedoen het.
Dit bring eer en prys aan Hom. Hy is die God wat die oorlog vir sy volk gevoer het. Hy is die God van die verbond. In hierdie lied word God ook gedank dat Hy leiers vir sy volk verwek het. Ook gee hierdie lied uiting aan die emosies van God se volk, van lofprysing tot diepe teleurstelling en woede oor hulle wat van God se pad afgedwaal het. Ons het sulke liedere in die kerk nodig. Dit is Christus se gawe aan sy kerk.
Amen
Votum
Seën
Ps 20:1,2
Wet
Ps 20:3,6,7,8
Gebed
Skriflesing: Rigters 5
Ps 147:4,6,7
Teks: Rigters 5
Preek
Ps 126:1-3
Gebed
Kollekte
Sb 34:1,2
Seën