Die vormgewing van die erediens in die lig van die tweede gebod

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2019-01-13
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 35
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 35

Ook in 2019 sal daar DV weer elke Sondagoggend en –aand ‘n erediens gehou word. Elke erediens het sy vaste, bekende elemente: Bybellees, preek, gebed, sang, seën. Hierdie onderdele waaruit ‘n erediens bestaan, is nie toevallig nie.

Daar is ‘n goeie rede hoekom ‘n erediens so lyk.

In vandag se Kategismuspreek gaan ons stilstaan by die feit dat ‘n erediens en sy vaste onderdele alles te make het met die tweede gebod. Die inkleding van die erediens, is naamlik die positiewe kant van die tweede gebod. Dit is wat die HERE ons met hierdie gebod gebied.

Tema: Die vormgewing van die erediens in die lig van die tweede gebod

In preke oor die tweede gebod is daar meestal aandag vir wat God verbied in hierdie gebod. God kan en mag op geen enkele manier afgebeeld word nie. Dit beteken nie dat alle beelde uit den bose is nie. In antwoord 97 bely ons: Die skepsels mag wel afgebeeld word. Die beeldende kunste is vir Christene ‘n belangrike vakgebied, ook vir Gereformeerdes. Ons het soms die neiging om in reaksie op die beeldeverering van die Roomse Kerk die kunste aan die kant te skuif, veral in die kerk. Gereformeerde kerkgeboue lyk soms meer op fabrieksale as op kerke. Nie dat die kunste heeltemal afwesig is nie. Maar dit is dikwels tot die minimum gereduseer, wat betref die inkleding van ‘n kerkgebou. Ook die musikale inkleding van die erediens hoort by die kunssinnige talente wat ons van God ontvang het. Hierdie dinge moet ‘n weerspieëling wees van ons hoogste lof en aanbidding. Musiek in die erediens, die inkleding van die kerkgebou, ja selfs die manier hoe ons aantrek kerk toe, dit is nie dinge wat afgeskeep moet word. Dit mag nie die sluitpos van ons begroting wees nie, maar ‘n afspieëling wees van ons begeerte om God te ontmoet in die diens van Woordverkondiging, sang en gebed.

Die Kategismus is krities oor die Roomse beeldeverering. Beelde is stom, hulle kan nie praat nie. Beelde kan mense wel herinner aan Bybelverhale, maar hulle kan nie die Evangelie verkondig nie. Beelde kan nie oproep tot geloof en bekering nie. Daarom staan in Protestantse kerke die kansel sentraal. Die lewendmakende Woordverkondiging. Die geloof is naamlik uit die gehoor, om te luister na die een wat deur God gestuur is. Hoe lieflik is die voete van hulle wat die goeie Boodskap bring. Tereg hoef ons kerk dus nie soos ‘n Roomse kerk te lyk nie. Die kansel, die Woordverkondiging staan sentraal. Dit sal in die toekoms onveranderd bly, ook as ons kultuur al hoe minder ‘n lees en luisterkultuur, en al hoe meer ‘n kykkultuur word. Luister na die Evangelie, gehoor gee aan wat God sê, dit is en bly die voedingsbron van die geloof. So sal en moet die Woordverkondiging die sentrale plek inneem in die erediens, ook in die toekoms. Want slegs God se gepredikte Woord bring aan mense ‘n boodskap van ewige redding. ‘n Redding wat histories in Christus veranker is. Soos Paulus geskryf het, ons het dit gelees: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word” (Rom 10:9).

Tereg het die Kategismus dus kritiek gehad op die Roomse Kerk van daardie tyd. Dat gewone mense die erediens en prediking nie kon verstaan nie, omdat dit in Latyn gebeur het. Dat hulle aangewese was op die beelde in die kerk en dit wat afgebeeld was in die glas-en-lood vensters. Die Woordverkondiging het nie meer ‘n sentrale plek gehad nie. Maar, dit gee vir ons as Gereformeerdes nie ‘n rede om deur te slaan en alle estetiese en artistieke elemente uit ons eredienste en kerkgeboue te verwyder nie. Ons moenie prooi raak van ‘n kaal funksionalisme nie. Want ook dit is nie diensbaar aan die sentrale plek van die Woordverkondiging nie. Kerke wat nie eerbied uitstraal nie. Kerke wat so goedkoop moontlik gebou is. Mense wat met hulle kleredrag nie wys dat hulle na ‘n plek van eerbied gekom het nie. Die atmosfeer van ‘n kerkgebou moet so wees dat dit eerbied vir die Woordbediening bevorder. En dit geld ook vir die liturgie.

Ons het ook ‘n gedeelte uit Exodus 31 gelees. Hier stel God twee kunstenaars aan, twee ambagsmanne vir die bou van die tabernakel. Besaleël en Oholiab. Hierdie twee persone het van die Heilige Gees besondere talente ontvang. Ons lees byvoorbeeld oor Besaleël dat God hom vervul het met sy Gees, met wysheid, insig en kennis, om iets te kan ontwerp, en om die ontwerp ook vorm te gee met verskillende materiale. ‘n Spesiale talent. As mens dit so lees, herinner dit aan wat Paulus geskryf het in 1 Korinthiërs 12: Alle verskeidenheid in genadegawes is afkomstig van dieselfde Gees. Die Gees van God vervul mense met talente van uiteenlopende aard. So is Besaleël en Oholiab deur die Gees geseën met spesifieke talente. Hierdie talente het baie goed te pas gekom by die bou van die tabernakel. Om die erediens aan die HERE, die tabernakel, van hoogstaande kwaliteit te maak. Hulle het ‘n tabernakel gebou met ambagtelike presisie, en alles daarby: Die ark, versoendeksel, kunstige tafel, kandelaar uit suiwer goud gegiet, altare, wasvat, ampsklere, dink veral aan die skitterende klere van die hoëpriester. Ook die liturgie by die tabernakel was op ‘n hoë artistieke vlak. ‘n Weerspieëling van groot kunssinnigheid, wat betref musiek, sang en instrumente.

Nou wonder u miskien. Wat het dit alles met die tweede gebod te make? Ons het begin deur te verwys na die beeldeverering in die Roomse Kerk. Die kunsskatte van die Roomse kerk was en is dikwels van hoë artistieke kwaliteit. Wat dit betref vergelykbaar met wat ons in Exodus 31 gelees het oor die tabernakel, om nie eers te dink aan die prag van die tempel nie. Wat dit betref is daar ooreenstemming. Maar in ‘n ander opsig is daar ‘n groot verskil tussen Exodus 31 en die Roomse Kerk. Dan dink ek aan wat daar in vers 6 staan: “in die hart van elkeen wat kunsvaardig is, het Ek wysheid gegee, dat hulle alles wat Ek jou beveel het, kan maak”. Dus, wat moes Besaleël en Oholiab heel eerste doen? Hulle moes eers noukeurig uitvind wat God se plan was, wat sy opdrag was, wat Hy beveel het. Hulle moes werk ooreenkomstig die instruksies wat God deur Moses bekend gemaak het.

Dit is ‘n belangrike sin in vers 6: “dat hulle alles wat Ek jou beveel het, kan maak”. Die HERE sê dit vir Moses. En dan, van vers 7-11 herinner die HERE Moses weer aan sy presiese instruksies, soos dit uitgebreid in die voorafgaande Exodus 25 tot 30 staan. As mens deur hierdie hoofstukke lees, is daar een sin wat telkens herhaal, naamlik: “Die HERE het met Moses gespreek.”

Hopelik word die verband met die tweede gebod nou duidelik. En die Kategismus is reg as dit sê dat daar in hierdie opsig ‘n verskil is tussen die beeldeverering in die Roomse Kerk en wat ons lees in Exodus 31. Net soos daar ‘n verskil is tussen wat Besaleël en Oholiab vervaardig het, en wat later koning Jerobeam sou vervaardig. Besaleël en Oholiab het noukeurig volgens God se instruksies aan die werk gegaan, by die bou en inkleding van die tabernakel. Daarenteen het koning Jerobeam twee goue kalwers laat maak volgens sy eie planne. Ook dit was geweldige kunswerke. In 1 Konings 12 kan mens lees dat Jerobeam ook nuwe tempels en hoogtes laat bou het. Dit was alles argitektoniese meesterwerke. Jerobeam het ook nuwe priesters aangestel, uit alle stamme van die volk, nie net uit die stam Levi nie. Waarskynlik het hy vir hulle ook baie kunstige klere laat vervaardig. Maar waar hy die koers kwytgeraak het, is dat hy nie meer rekening gehou het met God se instruksies nie. Die HERE se eie Woord het hy nie meer ernstig geneem nie. Priesters mog volgens God se bevel slegs uit die stam van Levi kom. Dus, hoe mooi en kunssinnig alles ook was, dit is tog raar as mens dit alles skynbaar doen tot God se eer, maar ondertussen God se eie instruksies ignoreer.

Dit het ook gegeld vir die konings wat na Jerobeam gekom het. Dink aan Agab en Jerobeam die Tweede. Dit was konings wat geweldig indrukwekkende geboue opgerig het, baie kunssinnig. Maar tog het hierdie geweldige konings een krusiale punt gemis, wat Besaleël en Oholiab wel gehad het. Naamlik dat hulle nie na die stem, die instruksies van die HERE geluister het nie.

Dieselfde kritiek het die Reformatore op die Roomse Kerk gehad. Dink byvoorbeeld aan die St. Pieterskerk in Rome. ‘n Pragtige, ‘n indrukwekkende katedraal. Maar dit is wel gebou met geld wat onder andere deur die priester Tetzel ingesamel is, wat aflaatbriewe aan die mense verkoop het. Logies dus dat die Reformatore gekant was teen die bou van die St. Pieterskerk. Om te luister na die stem van die HERE, is beter as brand- en slagoffers, beter as die bou van tempels en katedrale.

Om terug te kom na ons eie tyd. Wat gebied die HERE ons met die tweede gebod? Hoe kan ons die HERE dien met al ons gawes en talente? Eerstens dus dat ons bereid moet wees om te luister na sy wil. Die HERE verbied dat afbeeldings van Hom gemaak word. Maar die HERE verbied nie dat ons Hom met al ons gawes en talente dien nie. Dit leer ons uit hierdie hoofstuk oor Besaleël en Oholiab. Ons diens aan die HERE mag nie minimalisties wees nie.

Dit geld vir die tyd wat ons vir die HERE se diens spandeer. Dit geld ook vir die toestand en kwaliteit van ons kerkgeboue, ook artistiek gesproke. Dit geld ook vir die liturgie. Laat ons in al hierdie aspekte die HERE rojaal dien volgens sy wil. Nie buite sy wil dinge doen nie. Maar ook nie meer bekrompe wees as sy wil nie.

God skenk talente aan mense om musiekinstrumente te bespeel. Daar is meer instrumente as net ‘n orrel. Orrels is baie geskik vir begeleiding van gemeentesang. Maar ons hoef nie minimalisties te wees nie. By geleentheid is dit pragtig as ander instrumente bykom. Die Psalms is vol van instrumente van allerlei aard.

God se wil met betrekking tot die inkleding van die erediens kan mens in twee punte kortliks saamvat: Eerstens, die Evangelieverkondiging moet sentraal staan.Tweendens, in die erediens ontmoet die hele gemeente haar God en Verlosser. Die hele gemeente moet dus aktief deelneem. Dit neem nie weg dat dit op verskillende maniere kan plaasvind nie. Met of sonder orrelbegeleiding.

Ook begeleiding van ander instrumente. Daar kan ook ‘n voorsanger wees, of ‘n groep voorsangers, ‘n sogenaamde kantory. Die sang kan ook omstebeurt plaasvind, sommige psalms is juis vir beurtsang gekomponeer. So is daar verskillende musikale talente en moontlikhede wat die Gees skenk, dit alles binne die basiese instruksies wat die HERE in sy Woord gee. Laat ons daarom nie uit reaksie minimalisties raak nie. In ons tyd is daar aan die een kant die gevaar, net soos in Jerobeam se tyd, dat kerke hulle eie koers kies, sonder om meer aandag te skenk aan die HERE se instruksies in sy Woord. Dan verdwyn op den duur ook die eerbied vir die HERE self uit die erediens. Maar in ons tyd is daar ook ‘n net so groot gevaar van tradisionalisme, die kramphouding dat niks mag verander nie.

Ons kyk in hierdie preek na wat die HERE ons in die tweede gebod gebied. Dat ons die HERE leer ken soos Hy geken wil wees. En dat ons Hom dien soos Hy gedien wil wees. Die inkleding van die erediens het alles hiermee te make.

Dat God se Woord sentral staan. Dat ons daarop mag reageer in die vorm van gebed en sang. Ons het geleer uit Exodus 31 dat die erediens ook ‘n weerspieëling moet wees van die talente wat die Gees ons skenk. Die kerkraad moet hoë eise stel aan die Woordbediening. Maar dieselfde geld vir die ander onderdele van die erediens. Ook in die gemeentesang verlang die HERE dat ons dit van harte en na die beste van ons vermoë doen. Sing u bewus saam?

Onthou u na die erediens, net soos u die preek onthou, ook dit wat u gesing het? Sing u ook van harte saam? Ons lewe in ‘n tyd waarin daar al hoe minder gesing word. Mense luister orals musiek, by die huis, in die motor, ensovoorts, maar daar word al hoe minder gesing. So kom die gemeentesang al hoe meer op ‘n eiland. Is die gemeentesang op Sondag die enigste keer per week wat jy sing? Of sing jy darem ook meer as dit? As ons goed in die kerk wil sing, dan moet ons tuis begin. Natuurlik het elkeen nie dieselfde talente nie. Die een wat nie so mooi sing nie, het ongetwyfeld ander talente van die Gees ontvang. Maar laat ons die oproep wat dikwels in die Skrif tot ons kom (soos in Kolossense 3) om baie te sing, ter harte neem.

Laat die ouers, en oupa’s en ouma’s, hierin die leiding neem. As julle dit doen, sal die kinders volg. As julle dit nie doen nie, sal die kinders die ook nie doen nie. Daar staan ook in die tweede gebod: Die ongehoorsaamheid van die vaders besoek die HERE aan die kinders, tot die derde en vierde geslag. Jou voorbeeld het ‘n groot invloed op die kinders. Singende ouers lei tot singende kinders.

Om af te sluit, in hierdie preek het ons gekyk na die vormgewing van ons kerk en erediens in die lig van die tweede gebod. Ons het gekyk na die positiewe kant van die tweede gebod, wat die HERE ons gebied. Hoewel die aandag uitgegaan het na dit wat ons op Sondag doen, bly die tweede gebod nie beperk tot hierdie dag nie. Die lof, dank en aanbidding wat ons op Sondag aan die HERE bring, is eintlik slegs ‘n afspieëling van heel ons lewe. Wie deur die week nie sing en bid nie, doen dit ook nie van harte in die kerk nie. Wie deur sy poorte ingaan met lof, met lofsang in sy tempelhof verskyn, laat hy dit ook doen as hy tuis is, of in die motor, of onder die stort, of in die tuin, of in die natuur, of waar ook al. Ja heel ons lewe mag ‘n loflied wees. Die Blye Boodskap oor wat Christus vir ons gedoen het, dit laat ons spontaan sing! Ja God se barmhartigheid in Christus bewys Hy aan duisende en duisende, wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou. ‘n Lewe naby Christus en sy Woord maak ons vrolik en dankbaar.

Amen.

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 45:1,4-6

Gebed

Skriflesing: Exodus 31:1-11

Ps 9:1,2,8,9,10

Skriflesing: Romeine 10:1-15

Ps 33:1,2

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 35

Preek

Ps 100:1-4

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Kollekte

P 87:2,4,5

Seën