Jesus Christus, die waaragtige lig wat elke mens verlig

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-12-09
Text: 
Johannes 1 : 9-13
Preek Inhoud: 

Preek: Johannes 1:9-13

Die waaragtige lig. So word die Here Jesus Christus in ons teks genoem. Elders in die Bybel word Hy ook die son van geregtigheid genoem. Dit is van Sondag, Opstandingsdag, die dag van Here, en ons mag opnuut op Hom fokus. Hy wat lig in die graf gebring het. Hy wat lig in ons donkers lewens gebring het. Kerstyd, hierdie tyd van die jaar, is veral ‘n liggiefees. Orals brand liggies. Maar dit gaan oor die grootste Lig van alle tye, en op Hom mag ons vandag, en ook die res van hierdie feesmaand, fokus. So mag ek u vandag die Evangelie bring van:

Tema: Jesus Christus, die waaragtige lig wat elke mens verlig

1 Waaragtige lig vs kunslig

2 Verwerping van die lig

3 Aanneming van die lig

1 Waaragtige lig vs kunslig

In die Johannesevangelie word die geboorte van die Messias op ‘n ander manier beskryf as in Mattheüs en Lukas. Mattheüs en Lukas het konkreet die gebeurtenisse rond sy geboorte beskryf. Die aankondiging deur die engel. Die wyse manne, oftewel magiërs uit die Ooste. Die herders. Die vlug na Egipte, ensovoorts. Johannes noem al hierdie gebeurtenisse nie by name nie. Johannes gee in sy eerste hoofstuk ‘n soort teologiese samevatting, in digterlike vorm. Dit is ‘n soort lied oor die diepe betekenis van die geboorte en koms van Jesus Christus na die wêreld. En net soos Mattheüs, begin Johannes nie by die geboorte nie, maar veel eerder. Mattheüs het eeue voor die geboorte begin, by Abraham. Johannes nog verder terug. Johannes begin sy Evangelie by die skepping van hemel en aarde. “In die begin was die Woord” – vers 1. Hierdeur vestig die evangelis ons aandag op die feit dat die Messias se oorsprong nie in die jaar nul lê nie. Sy begin is nie by die ontvangenis en geboorte uit Maria nie. Ons Messias en Saligmaker ken naamlik nie ‘n begin van dae nie soos ‘n mens nie! “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.” Op digterlike wyse identifiseer Johannes die Here Jesus met die Woord. Hy is die personifikasie van God se Woord, wat tot die mensheid spreek. Dit sien ons baie duidelik in vers 14: “die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon”. Op wie sou dit anders kon dui as op ons Here Jesus Christus? So bou die evangelis spanning op. Wie is hierdie Woord? Die ontknoping vind plaas in vers 17-18: “die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, die het Hom verklaar.” In vers 17 word Hy dus by name genoem, vir die eerste keer. Die Woord is Christus!

Ons kyk vandag veral na die eerste deel van hierdie pragtige begin van die Johannesevangelie. Hierdie digterlike, teologiese verwoording van die Kersevangelie.

Vers 1-3, om te begin, is as ’t ware die inleiding op die inleiding van die Johannesevangelie. Soos ek genoem het, vermeld Johannes nie werklik details van die geboorte nie. Waar Mattheüs en Lukas aandag skenk aan gebeurtenisse soos die aankondiging van sy geboorte deur die engel, die ontvangenis van die Heilige Gees, die feit dat Jesus biologies nie ‘n kind van Josef of enige man was nie, die feit dat Josef en Maria verloof was, maar nog nie saamgewoon het nie. Al hierdie details kom nie by Johannes voor nie. Maar wat ons wel vind, is dieselfde boodskap, in alle krag en duidelikheid, naamlik:

Ons Heiland is God se Seun. En al het Hy mens geword, Hy was al God van ewigheid af. Voordat Abraham daar was, is Ek, soos Jesus self later sou sê! Ja, in die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was self God! Alle dinge het deur die Woord ontstaan. By die skepping van alle dinge was die Here Jesus Christus dus direk betrokke. Sonder Hom het geen ding ontstaan, wat bestaan nie. ‘n Kragtiger begin as hierdie kon Johannes nie vir sy evangelie geskryf het nie. Besef goed, is sy boodskap aan die lesers, besef goed oor wie jy in hierdie evangelie gaan lees. Dit gaan oor niemand minder nie as God self!

En dan, vanaf vers 4, beskryf Johannes die diepste inhoud van die Kersevangelie. Die woordjie wat in verse 4-9 sentraal staan, is die woord LIG.

Soos Jesus self later sou sê: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” (Joh 8:12) “Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.”

Daar is lig én lig in die wêreld. Mens het egte lig, sonlig, mens het ook kunsmatige lig. Hoe goed kunslig ook mag wees, mens kan deesdae allerhande soort lampe in die winkels koop – gloeilampe, buislampe, LED-lampe – maar tog kan kunslampe nooit die sonlig ewenaar nie. Sonlig is onmisbaar vir ons liggaamlike en psigiese welsyn. Dit is daarom nie verwonderlik dat sonlig in die Bybel as metafoor vir die Evangelie gebruik word. Ja vir Jesus Christus self. Ek is die lig van die wêreld! Die son van geregtigheid. Sy lig straal oor ons lewens.

Ons gaan die Kersseisoen weer in. Die winkels hang vol liggies, maar dis alles kunsverligting. Niemand kan net by kunsverligting lewe nie. As die son van geregtigheid nie in jou lewe skyn nie, gaan jy die ewige dood tegemoet. Ons samelewing dien die afgod Mammon. Die feesmaand gaan nie meer oor die son van geregtigheid nie, maar oor ‘n kunsmatige gevoel by kunsmatige lig wat mense saam probeer opwek. Ons lewe midde in hierdie samelewing.

Maar laat ons nie, by al hierdie kommersiële kunsverligting, die sig op die ware LIG verloor, wat gekom het om hierdie wêreld te verlig nie. Waar die son van geregtigheid, die waaragtige lig self ontbreek, is alle kunsliggies des te ironieser. Laat ons fees vier, maar op gepaste wyse. Die herders uit die streke van Betlehem mog na ‘n pragtige kooruitvoering luister, deur ‘n menigte engele. Laat ons so ook ekstra sing, en bly wees. Want die Lig het gekom om te skyn in die duisternis!

Ons hoef nie, gemeente, omdat die wêreld dit so oordryf met hulle kunsverligting, uit reaksie nou niks te doen nie. Ons mag feesvier! Laat ons nie soos die Fariseërs wees, wat Jesus en sy dissipels kwalik geneem het oor die feit dat hulle nie gevas het nie. Die Heiland is gebore, die bruidegom van die kerk! Wie sal dan nie bly wees en sy vreugde wys en feesvier nie!?

So hou ons die oë gerig op die waaragtige lig van die wêreld. Daardie lig moet sentraal staan, en moet ons lewens vul. Daardie lig maak ons ook vol medelyde, na elkeen toe wat hierdie ware lig nog nie raaksien nie.

2 Verwerping van die lig

Want dit is wel ‘n verdrietige werklikheid. Daarop wys die evangelis Johannes ons eksplisiet. Vroeër was dit nie anders as vandag nie. Die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie. Wat word met hierdie vers bedoel? Die woord “oorweldig” is in die oorspronklike Griekse teks vir meerderlei uitleg vatbaar. Moontlik dat Johannes bewus hier ‘n dubbelsinnige woord gekies het. Aan die een kant sê hy: Die lig was so helder, so oorweldigend, dat die duisternis daarvoor gewyk het. Die duisternis het op die vlug geslaan! Dit was nie net ‘n kunsmatige lig wat skyn, ‘n lamp wat slegs ‘n eilandjie van lig maak terwyl die res van die nag in donker gehul bly nie. Hierdie lig is soos die son, wat die duisternis geheel en al verdrywe. Selfs die skadukolle word lig. Dit is die een betekenis van vers 5.

Maar daar is nog ‘n dimensie. Dan vertaal mens soos volg: Die lig skyn in die duisternis, maar die duisternis het dit nie begryp nie. In die sin van: die duisternis het die lig nie aanvaar nie. Hierdie betekenis stem ooreen met wat daar in ons teks staan, verse 9 en 10: “Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld. Hy was in die wêreld, en die wêreld het Hom nie geken nie.” Hier word bedoel: die sondige wêreld het Hom nie erken, aanvaar, nie. Die duisternis, die donker wêreld, wou duister bly. Wou nie verlig word nie. Soos ‘n dief wat die nag liewer het as die dag.

In die Johannesevangelie word die woord wêreld dikwels spesifiek gebruik om die sondige, opstandige Joodse volk aan te dui. Die leefwêreld waarin ons Heiland op aarde sou rondbeweeg. Dit was die Joodse gemeenskap, wat uiteindelik die Messias verwerp het. Dink aan Kapernaüm en Nasaret, wat op die oordeelsdag dit swaarder te verduur sal kry as Tirus en Sidon. Die wêreld hier dus as afvallige verbondsvolk. Dit was in die eerste plek hierdie afvallige verbondsvolk, waaroor Johannes skryf, dat God hierdie wêreld so liefgehad het, dat Hy sy eniggebore Seun na hulle gestuur het. Helaas was daar baie uit hierdie volk wat nie in Hom wou glo nie. Wat die gordyne van hulle lewe liewerste toe gehou het. Uiteraard het God ook nog ander volke op die oog gehad, as ons die bekende vers, Johannes 3:16, lees: “Want so lief het God die wêreld gehad - ” Maar vir God het dit by die Jode begin. Hulle was eerste aan die beurt om die hemelse lig te sien. Maar, hier dus direk aan die begin van die Evangelie, hoor ons hoe dit later sou gaan – die antiklimaks van die Evangelie – as sy eie verbondsvolk hulle Messias sou kruisig. Die Johannesevangelie staan vol met gesprekke, debatte tussen Jesus en sy eie volk, en die leiers van sy volk, die Skrifgeleerdes, die Fariseërs. Vers 10 in ons teks berei ons solank hierop voor: Hy was in die wêreld, maar die wêreld het Hom nie geken nie. ‘n Beter vertaling sou wees: die wêreld het Hom nie aanvaar nie. Hier, aan die begin van die evangelie, hoor ons al die wanklanke van dit wat ruim 30 jaar later sou gebeur.Toe die hele volk, die wêreld!, uitgeskreeu het: Kruisig Hom, kruisig Hom! Kersfees en Golgota kan nie geskei word nie. Daaroor is ons teks baie duidelik. Daarom bely ons in die Kategismus: Christus het heel die tyd van sy lewe op aarde gely.“Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.”

Is dit nie ‘n bietjie van ‘n baie negatiewe begin vir so ‘n pragtige Evangelie nie?

Die son van geregtigheid wat opkom oor die wêreld. Moes Johannes nie eerder ‘halleluja’ roep nie? Is Johannes nie te pessimisties nie? Dat hy direk aan die begin ook konsentreer op die skadukante? Met ‘n uitspraak soos: die wêreld het Hom nie geken nie. Sy eie mense het Hom nie aangeneem nie. Nee gemeente, ek dink nie Johannes was ‘n pessimis nie. Ons het ook ‘n gedeelte uit Lukas gelees, oor Simeon en Anna. Ook daar het ons dieselfde nugterheid gevind. Die ou Simeon het gesing, ook oor die waaragtige lig:

“Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord, omdat my oë u heil gesien het, wat U berei het voor die oë van al die volke, ‘n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel.”

Maar dieselfde Simeon het ook vir Maria gesê: “Kyk, hierdie Kind is bestemd tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel en tot ‘n teken wat weerspreek sal word – ja, ‘n swaard sal deur jou eie siel gaan – sodat die gedagtes uit baie harte openbaar kan word.” Hierdie selfde nugterheid vind mens net so in die ander evangelies, Mattheüs en Markus. Ek dink dat dit ‘n bewys is van die betroubaarheid van die evangelie. Ons lees nie ‘n soetsappige suksesstorie nie.

Alle evangeliste was deurdronge van die feit: Oor hierdie pragtige geboorte van ons Heiland het reeds die skaduwee van Golgota gehang. Die Seun van God het in die wêreld gekom om ‘n kneg te wees, om te ly. Die afvallige wêreld sou alles in hulle vermoë doen om hierdie lig uit te doof.

3 Aanneming van die lig

Nou is daar nog twee verse uit ons teks wat nog nie aandag gekry het nie. Waar ons lees: “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.” (vers 12-13) Hier hoor ons dieselfde boodskap as in Johannes 3:16:

God het die sondige, afvallige wêreld so lief gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, SODAT ELKEEN WAT IN HOM GLO, NIE VERLORE MAG GAAN NIE, MAAR DIE EWIGE LEWE KAN Hê! So kom die waaragtige lig ook in ons lewe in! Natuurlik is dit so, as die son met sy kragtige strale in jou lewenshuis inskyn, dan sien jy dadelik hoe baie stof daar is. So vlek die son van geregtigheid alle sondes in jou lewe oop. Dit veroorsaak ‘n volledige bekering, omkering van jou lewe. Maar hoe pynlik ook, wat ‘n voorreg om dit mee te maak! Sy heil, wat Hy al eeue voorberei het. Dat Hy jou opsoek en sy waaragtige lig oor jou lewe laat skyn. So mag jy jou kind van God noem. Jy wat nie uit bloed, nie uit die vlees, maar uit God gebore is. Met hierdie woorde in vers 13, sinspeel die evangelis al op die gesprek wat Jesus met Nikodemus sou hê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.” (Joh 3:5-6) Broer, suster, is jy al gebore uit water en Gees?

Die waaragtige lig, wat gekom het vanaf die hemelse troon, het gekom in die wêreld. Dit skyn met krag. Jesus Christus, wat elke mens verlig. Maak oop die gordyne van jou lewe. Glo in Hom, vertrou op sy Naam! Neem die waaragtige lig aan in jou lewe. Mens kan niks aanneem wat jou nie gegee is nie. Dit is jou gegee. Soos dit vir die wêreld toe gegee is. Soos Petrus vir die Jode van sy dae gesê het: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes” (Hand 2:28) So kom die Heilige Gees in jou lewe binne. Dit is Christus, wat met sy sonstrale, sy waaragtige lig, jou lewe vernuwe.

Amen.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 138:1,2

Wet

Ps 119:54,55

Gebed

Skriflesing: Johannes 1:1-18

Ps 21:4,5

Skriflesing: Lukas 2:21-40

Sb 3:1,2

Teks: Johannes 1:9-13

Preek

Ps 27:1,3,4

Formulier Bevestiging Diaken

Ps 134:4

Gebed

Kollekte

Ps 36:1,3

Seën