Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 25
Op katkisasie is die aantal sakramente dikwels iets wat tot ‘n gesprek lei. Die jeug vra hulleself af hoekom daar net twee sakramente is. Teen die agtergrond van die feit dat die Roomse kerk sewe sakramente het, kom die vraag na vore wat ‘n sakrament eintlik is. Die ander vyf dinge wat die Roomse kerk sakramente noem, dit is mos nie almal verkeerd nie? Behalwe vir doop en nagmaal, laasgenoemde noem hulle mis of eugaristie, ken die Roomse kerk naamlik nog meer dinge as sakramente. Soos byvoorbeeld die vormsel, iets wat met ons openbare geloofsbelydenis vergelyk kan word. Dan het hulle die huwelik as ‘n sakrament. Ook die salwing van siekes, wat meestal op iemand se sterfbed gebeur. Die bieg, ook wel genoem die sakrament van die vergewing. En dan die priesterwyding. Sewe in totaal.
Al kan ons oor die spesifieke uitvoering van hierdie dinge verskil, is al hierdie dinge tog op sig Bybels. Ons ken byvoorbeeld ook die gebruik van openbare geloofsbelydenis. Ons ken ook die huwelik. Ons ken nie die gebruik om sterwendes te salf nie, maar ‘n mens sou kon betoog dat daar Bybeltekste is wat hierdie tradisie ondersteun. En al het ons nie die bieg in die vorm soos die Roomse kerk dit het nie, benadruk ons net soveel die noodsaak van skuldbelydenis. Die noodsaak van vergewing vra, asook die noodsaak van vergifnis skenk. En verder, al ken ons nie priesters nie en al mag by ons predikante trou, tog ken ons ook spesiale ampsdraers, wat ons bedienaars van die Woord noem, en wat vir lewenslank in hulle amp bevestig word.
Maar, vra die katkisante hulle dan af, hoekom noem ons al hierdie gebruike dan nie ook sakramente nie? Nou dit is waarop Sondag 25 vir ons ‘n antwoord gee. Voor alles is dit naamlik nodig om duidelikheid te kry oor die definisie.
Wat is ‘n sakrament eintlik? Die Kategismus noem hierby twee vereistes, twee kriteria. In die eerste plek: ‘n Sakrament is ‘n teken wat deur Christus self ingestel is. Die doop is deur Jesus self ingestel. Dink aan die sendingsopdrag: Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees (Matt 28:19). Dink aan die nagmaal, wat Jesus self ingestel het tydens sy laaste pasgamaaltyd met sy dissipels (vgl. bv. Matt 26:17-30). En in die tweede plek, die tweede vereiste vir ‘n sakrament: Christus het dit ingestel as ‘n teken om spesifiek op sy plaasvervangende offer, sy Middelaarswerk te wys. Vir iets om ‘n sakrament genoem te word, moet dit dus aan hierdie twee vereistes voldoen. Deur Christus self ingestel (1), en met die fokus op sy Middelaarswerk (2). En daarom kan ons iets soos byvoorbeeld die huwelik nie ‘n sakrament noem nie. Want al is dit inderdaad deur God self ingestel, is dit nie deur Hom ingestel met as primêre doel om op Christus se kruisoffer te wys nie. En dit geld ook vir ander dinge soos die spesiale ampte, of byvoorbeeld openbare geloofsbelydenis. Dit is alles goeie en Bybelse dinge, maar dit op sig is nie voldoende om aan die vereistes wat die definisie vir ‘n sakrament stel te voldoen nie. Naamlik: Deur Christus self ingestel, en ten tweede as teken en seël van sy Middelaarswerk.
Tema: In die sakramente skitter Christus se Middelaarswerk
Die feit dat die Roomse kerk tog wel sewe sakramente in die loop van die geskiedenis gekry het, dit het te make met hulle hele siening oor hoe ‘n mens salig word. Die sakramente word naamlik beskou as sogenaamde ‘voertuie van genade’. Hiermee word bedoel dat elke sakrament as ’t ware genade in ‘n mens ingiet. Om te kan salig word, moet ‘n mens blootstelling aan soveel moontlik sakramente gehad het. Daardeur word jou beker as ’t ware volgegiet, wat jou kans vergroot om in die hemel te kom. Die deelname aan ‘n sakrament, laat jou op ‘n byna meganiese wyse krediete opbou, wat nodig is om by die hemelpoort binnegelaat te word.
As Gereformeerdes het ons egter ‘n hele ander siening op die sakramente. Die Reformasie het teruggekeer na die Woord, waaruit ons nie kan aflei dat sakramente op sig saligmakend is nie. Die sakramente is bloot afbeeldings. Net soos die tempel in die Ou Testament, en die bring van offers by die tempel op sig die Israeliete ook nie salig kon maak nie. Die offerkultus was net ‘n sakrament, dit was net ‘n teken en seël vir iets anders. Eintlik is dit Christus se offerwerk, wat deur die sakramente uitgebeeld word, wat die tekens van die Ou Testament vervul. Die twee sakramente van die Nuwe Testament onderstreep dit, dat Christus die tekens van die Ou Testament vervul het. Die bloedige besnydenis is vervul. En ook die hele tempeldiens. Dit is aan die vervulling van die tempeldiens, wat die Hebreërbrief uitgebreide aandag skenk. Die Hebreërbrief gebruik in hoofstuk 9:24 die woord teëbeeld. In die Ou Testament was die tabernakel en tempel ‘n teëbeeld van God se hemelse paleis. God was bereid om op aarde tussen sy volk te woon, in die tempel.
Omdat dit God se woning op aarde was, en omdat dit sy hemelse woning afgebeeld het, het God self presies bepaal hoe die gebou moes lyk. Dink aan al die wette oor die materiale waarmee die tempel gebou moes word, en hoe dit ingerig moes word. Alles het ‘n simboliese betekenis gehad. Dink ook aan al die detail instruksies hoe die priesters in die tempel hulle diens moes verrig. Hoe die priesters moes lyk, watter klere hulle moes dra. Ensovoorts.
So was die aardse heiligdom ‘n teëbeeld van God se hemelse heiligdom. Wie na die tempel gekom het, het iets geproe van God se aanwesigheid, sy hemelse majesteit en heiligheid. ‘n Aardse gebou wat tog ‘n hemelse werklikheid afgebeeld het. En met al die offers wat gebring moes word, is God se absolute heiligheid en sondeloosheid beklemtoon. Naamlik dat die verbond tussen hemel en aarde slegs kon standhou danksy versoening, deur die bloed wat gevloei het. Maar tog het dit net ‘n teëbeeld gebly, ‘n afbeelding van die hemelse werklikheid, ‘n skaduwee. En so ook die reiniging wat dit tot stand gebring het. Dit was slegs ‘n seremoniële reiniging. Dit was nie ‘n werklike reiniging nie. Die dierebloed was slegs ‘n seremoniële versoening. Dit was nie ‘n werklike versoening nie.
Maar in die volheid van die tyd, met Christus se koms, is hierdie teëbeeld, hierdie skaduagtige tempeldiens, vervul. Die Hebreërbrief maak duidelik dat Christus nie soos al die ander hoëpriesters was nie. Hy was self sondeloos, dit was nie nodig dat Hy eers vir sy eie sondes moes offer nie. En die versoening wat Hy gebring het, was blywend. God het die voorhangsel laat skeur van bo tot onder. Hy het self in die Ou Testament gelas dat daar ‘n swaar tempelgordyn moes wees, tussen die heilige en die allerheiligste. Hierdie voorhangsel was noodsaaklik, gesien die immense verskil tussen die hemelse reinheid en die aardse sondigheid. Maar danksy Christus se kruisdood het die tempelgordyn oorbodig geraak.
Verder skenk die Hebreërbrief ook aandag aan waarheen Christus gegaan het.
As ewige hoëpriester het Christus met sy versoeningsbloed nie in die aardse tempel ingegaan nie. Die allerheiligste daar was maar net ‘n teken, ‘n afbeelding, ‘n skaduwee, ‘n teëbeeld, van die hemelse. Al mog net die hoëpriester slegs een keer paar jaar daar binnegaan, feit het gebly dat die tempel en dus ook die allerheiligste maar net ‘n gebou was wat met mensehande gemaak is. Christus het sy bloed, sy versoening nie daar gebring nie. Maar Christus het met sy hemelvaart in die hemelse tabernakel binnegegaan! Hy het daar in die hemelse troonsaal self voor die aangesig van God verskyn (vers 24). Hy het sy eie bloed daar voor God gebring! En God het sy offer aanvaar. Sy versoening was nie net van seremoniële gehalte nie, maar van egte gehalte. Werklik, eg en waar. Ons moet onthou dat Christus se versoening nie op Golgota opgehou het nie.
Aan die kruis het Hy wel klaar gely. Maar net soos die hoëpriester op die Groot Versoendag nie net die offerdier moes slag nie, maar ook met die bloed voor God se ark in die allerheiligste, moes verskyn, dit wil sê simbolies voor God se troon, so ook Christus. Daarom het Christus juis na die hemel opgevaar, en soos Openbaring 5:6 skryf, het Hy as Lam die troon bestyg. Met sy hemelvaart het Hy, as Lam wat geslag is, sy eie bloed voor God se troon gebring. God het toe sy offer aanvaar. Die Lam het oorwin! En voortaan staan Hy nie net soos die hoëpriesters voor God se aangesig om diens te doen nie, nee Hy sit aan sy regterhand, Hy regeer!
Die Hebreërbrief werk die ongekende implikasies van hierdie Middelaarswerk uit. Die Hebreërbrief wys die ou verbondsvolk daarop: Deur Christus se werk is die aardse tempel nie meer nodig nie! Daardie eeue oue offerkultus kan nou maar beëindig word. Wat ‘n ingrypende boodskap was dit nie vir die Jode nie!
Maar ongelukkig het baie Jode deur die eeue van die Ou Testament die teëbeeld begin aanbid. Hulle het die tempel self begin verafgod. Hulle het saligheid van die offerkultus self begin verwag. Hulle het hierdie afbeeldings, hierdie sakramente, op ‘n voetstuk geplaas en daarvan hulle heil begin verwag. Hulle het nie meer besef dat hierdie dinge eintlik net bedoel was om hulle aandag en vertroue op die lewende God te rig nie. Dat hulle hulp nie van die tempel in Jerusalem moes kom nie, maar van Hom op die hemelse troon, Hy wat hemel en aarde gemaak het, en wat nie woon in tempels deur mensehande gebou nie. Dus, toe God sy eie Seun na die aarde as Middelaar gestuur het, en Hy vir blywende versoening gesorg het, toe kon die Jode nie van die tempelkultus afstand doen nie. Hulle was te geheg daaraan. Hulle het daarvan self heil verwag. Die bring van offers, en die verrig van die besnydenis, wat as sakramente bedoel was, het hulle as goeie werke op sig begin beskou. Die handhawing daarvan op sig sou vir hulle redding bring. En so het die lewende God en sy eie Seun wat Hy as Middelaar gestuur het, agter die sakramente verdwyn.
Uit die Hebreërbrief kan ons opmaak dat daar ook tot Christus bekeerde Jode was wat weer begin twyfel het. Wat weer begin terugverlang het na die tempeldiens. Die Joodse offerkultus het ‘n groot aantrekkingskrag bly uitoefen, veral op hulle wie verslap het. Sommige Christene het begin swig onder druk en vervolging. En hulle het die sig op Christus begin verloor. Hulle het hulle onderlinge byeenkomste begin versuim. Die ritualisme van die Joodse tempelkultus het gelok. Maar die Hebreërbrief maak aan hierdie Joodse bekeerlinge duidelik: Moenie so onder die indruk wees van die Joodse tempeldiens nie. Dit is reeds in Christus vervul. Dit is nie meer blywend nie.
Moenie op die tempelgebou bly fokus nie, dit was net die teëbeeld. Maar verhef julle harte omhoog, fokus op Christus, wat in die hemelse allerheiligste ingegaan het. Wat nou van daaruit regeer! Want van daaruit is Hy nou besig om die koninkryk van die hemel op aarde te vestig. ‘n Koninkryk wat veel groter is as julle Joodse belange. ‘n Koninkryk wat sal strek tot die uiterste van die aarde (Hand 1:6-8).
Dus weer eens, die Jode het die sakramente van die Ou Testament, die skaduwees, die teëbeeld, op ‘n voetstuk geplaas en daarvan redding verwag.
En dit is eintlik dieselfde wat met die Roomse kerk gebeur het. Die nakoming van die sakramente op sig bring redding, en die lewende band met Christus verdwyn sodoende op die agtergrond. Dit terwyl die sakramente net tekens behoort te wees, ‘n teëbeeld bly, dinge wat met mensehande gedoen word, net soos die tempel tog maar net met mensehande gemaak is. Die doop word slegs deur ‘n mensehand bedien. Die brood en wyn is maar net uitwendige tekens, wat met mensehande bedien word. Hulle het slegs waarde as diegene wat dit gebruik, hulle hart omhoog verhef, en die seën nie van die sakrament as sulks nie, maar van Christus verwag.
Ons kan die Here dank dat met die Reformasie die nadruk weer op die unieke offer van Christus herstel is. Die Heidelbergse Kategismus plaas die skynwerper op Christus alleen. Van Hom moet ons alles verwag. En die Woordverkondiging en sakramente is maar net die middels om by Hom uit te kom! Die Heilige Gees gebruik Woord en sakramente om ons by Jesus te bring.
Ons geloofslewe bestaan nie uit kerk toe gaan en nagmaal gebruik nie. Sommige mense het so ‘n ingesteldheid. Solank jy ten minste elke keer as dit nagmaal is, in die kerk kom, solank jy dit nie mis nie. Dan is dinge nog reg. Jou lewe begin dan fokus op die tekens self, asof hulle towermiddels is om jou in die hemel te kry. Terwyl die lewende band met Christus op die agtergrond verdwyn.
Sondag 25 stel met baie klem: Dit is die uitsluitlike doel van die sakramente om ons by Christus te bring, om ons op te wek tot ‘n lewende geloofsband met Hom. Want ons volle saligheid rus nie op die gebruik van die sakramente nie, maar op die enige offer van Christus aan die kruis.
Gemeente, dit is tipies vir volkskerklikheid om die sakramente op ‘n voetstuk te plaas. En ook onder ons Afrikaners is volkskerklikheid ‘n groot gevaar. Mense is en bly kerklid, al sal hulle nie elke week kerk toe gaan nie. Tog ag hulle dit belangrik dat hulle kinders gedoop word. Hulle ag dit ook belangrik dat hulle elke twee of drie maande in die kerk kom as dit nagmaal is. Dan puil die kerkgeboue uit, terwyl op gewone Sondae daar net ‘n handjie vol mense in die kerk sit. Mense wil die sakramente nie mis nie. Maar ondertussen is daar nie ‘n lewende en intieme geloofsband met Christus nie. Ondertussen is hulle geloofskennis maar skraal, omdat hulle die weeklikse verkondiging van die Woord mis. Ondertussen is hulle lewe vatbaar vir allerhande wêreldse invloede, om daar geen Bybelse onderskeidingsvermoë meer is nie. “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp ... omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.” (Hosea 4:6)
Hierdie verbondsbedreiging wat Hosea die volk voorgehou het, is vandag vir ons nog net so aktueel. As daar nie ‘n lewende geloofsband met Christus is nie, dan help doop en nagmaal jou niks nie.
Die Kategismuspreek van vandag het ons die geleentheid gegee om weer die juiste sig op die sakramente te kry. Meer nog, Sondag 25 het ons weer voor Christus geplaas. Sy Middelaarswerk skitter in die sakramente. Doop en nagmaal hoort nie op ‘n voetstuk nie. Doop en nagmaal is middele om steeds meer met Christus verenig te word. Die sakramente maak ons nie salig nie.
Dis Christus alleen. Hom ontmoet jy elke Sondag, ook daardie Sondae as die nagmaalstafel nie voor in die kerk staan nie.
Amen.
Votum
Seën
Ps 50:1,2,4
Gebed
Skriflesing: Hebreërs 9
Ps 50:8-11
Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 25
Preek
Sb 9:2,3,5,6
Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Sb 8:1,2
Gebed
Kollekte
Ps 138:1,2,4
Seën