Wat het julle nou gedoen?

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-09-02
Text: 
Rigters 2:1 en 2
Preek Inhoud: 

Preek: Rigters 2:1-2

Ons kyk vandag na ‘n periode uit die ou verbondsvolk, Israel, se geskiedenis, soos die noukeurig deur die Rigterskrywer opgeteken is. Ons kyk na hierdie geskiedenis, nie omdat ons almal geskiedkundiges is nie. Ook nie omdat ons ‘n spesiale belangstelling in die Joodse volk het nie. Maar ons bestee hieraan aandag omdat die Heilige Gees dit in die Bybel laat opneem het, vir ons om daaruit te leer. Wie God is, dieselfde God wat met ons verbond gesluit het. En hoe Hy in hierdie verbond met sy kinders werk. Soos Paulus dit noem: Hierdie “is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.”(1 Kor 10:11)

Tema: Wat het julle nou gedoen?

1 Die inbesitname van die land versand

2 Die verbondsbedreiging word waar

1 Die inbesitname van die land versand

In die vorige preek oor Rigters het ons na die eerste deel van hoofstuk 1 gekyk. Rigters 1 het begin met die beskrywing van die militêre welslae van Juda, in samewerking met Simeon. Maar teen die einde van die hoofstuk kom daar al hoe meer opmerkings wat daarop dui dat nie alles in orde was nie. Juda was naamlik nie in staat om die Kanaäniete uit die kusvlakte te verdryf nie. Dit was nie wat mens verwag het nie. Want as die HERE met Juda was, soos daar eksplisiet staan, hoekom was die feit dat die Kanaäniete ysterwaens gehad het, vir hulle so ‘n probleem? Vandag vervolg ons deur na die ander stamme te kyk. Die skrywer van Rigters skenk vervolgens aandag aan die Benjaminiete. Hulle het die Jebusiete nie uit Jerusalem verdryf nie. Die kon saam met die Benjaminiete daar bly woon tot vandag toe, skryf die outeur van Rigters, wat waarskynlik in die koningstyd geleef het.

Dan verskuif die skrywer se aandag na die huis van Josef, Efraïm en Manasse.

Hulle het, net soos Juda en Simeon, saam opgetrek. Samewerking wat positief aangedui kan word. Hulle doel was naamlik om Bethel in te neem. Dit was ‘n strategiese stad ongeveer vyftien kilometer noord van Jerusalem. Die HERE was met hulle, en hulle was suksesvol. Maar die beskrywing wat dan volg, laat mens tog weer met gemengde gevoelens agter. Inderdaad, die oorwinning oor Bethel was ‘n groot sukses. Deur hierdie stad in te neem, het die hele noordelike berglandskap vir Israel oopgelê om in te neem, tot by die vlakte van Jisreël. Die manier hoe Bethel ingeneem is, getuig ook van militêre vakmanskap. Spioene is uitgestuur om die verdedigingslinies te ondersoek.

‘n Persoon wat uit die stad uitgekom het, is benader en daar is ‘n ooreenkoms met hom gesluit. Danksy sy inligting kon hulle ongemerk die stad inkom en die stad se verdediging is op die agtervoet gevang. Hulle het die stad toe verslaan, maar hierdie man en sy familie gespaar.

Hierdie episode laat mens terugdink aan wat daar met Jerigo gebeur het.

Ook toe was daar spioene, en ook toe was daar iemand uit die stad self – Ragab – wat hulle gehelp het. Tog is daar ‘n opmerklike verskil. Want, in teenstelling tot Ragab sluit hierdie man nie by die Israeliete aan nie, en hy bely ook nie die Naam van Israel se God nie. Ragab het, soos ons weet uit Mattheüs 1, selfs een van die voormoeders van die Messias geword (Matt 1:5).

Oor Ragab lees ons in Josua 6:25: “Maar Josua het Ragab, die hoer, laat lewe en haar familie en almal wat aan haar behoort het; sodat sy onder Israel gewoon het tot vandag toe, omdat sy die boodskappers weggesteek het wat Josua gestuur het om Jérigo te verken.” En in Hebreërs 11 lees ons: “Deur die geloof het Ragab, die hoer, nie saam met die ongehoorsames omgekom nie, omdat sy die spioene in vrede ontvang het.” 

Maar hierdie man van Lus was ‘n ander storie. Hy sluit nie aan by die volk nie.

Hy bely nie dat die God van hierdie volk almagtig is nie. Hy bekeer homself nie tot sy diens nie. Nee, hy trek weg na die land van die Hetiete – dis Sirië – en daar bou hy ‘n nuwe stad wat hy Lus noem, ter ere van sy ou stad. Hy het ‘n Kanaäniet, ‘n heiden, in hart en niere gebly.

Wat hier vertel word, het konsekwensies. Dis nie net ‘n man en sy familie wat oorleef nie, maar die heidense Kanaänitiese kultuur wat voortgesit kan word in die nuwe stad Lus. Lus is nie soseer verslaan nie, maar eerder verplaas. Die eindresultaat is dat daar nou twee stede is, een Israelities, en een Kanaänities.

Eintlik dus nie ‘n oorwinning op die heidendom nie. En dit is wat die Rigterskrywer hier op subtiele wyse laat deurskemer. En die leser bly met vrae agter. Die feit dat hierdie man en sy hele geslag laat gaan is - is dit in ooreenstemming met die opdrag tot die banvloek?

Die skrywer gaan verder deur die oorwinnings van ‘n paar van die noordelike stamme te beskryf. Die Israeliete het uiteindelik die oorhand gekry in bepaalde gebiede. Tog is die Kanaäniete nie verdrywe nie, en hulle het verkies om in die land te bly woon. Wel is van hulle deur die huis van Josef (Efraïm en Manasse) dienspligtig gemaak. Vers 28: toe Israel sterk word, het hulle die Kanaäniete dienspligtig gemaak, maar nie heeltemal verdrywe nie. Uiteindelik het die Amoriete (‘n ander naam vir die Kanaäniete) selfs die Israeliete begin blokkeer om af te kom in die kusvlaktes is, en hulle is teruggedruk in die bergagtige dele in. Destyds, toe Josua met die volk die beloofde land ingetrek het, het die heidenvolke gebewe. Maar nou, weens die slap optrede van stamme soos Manasse, het die heidenvolke steeds brutaler geword, en steeds meer gewaag teenoor Israel.

Weer eens vra mens jouself af: wat het verkeerd gegaan, want in vers 22 het ons mos gelees dat die HERE met hulle was? Maar die refrein wat mens hier vind, gee eintlik die antwoord: Israel het die Kanaäniete nie verdrywe nie.

Nie Manasse nie (vers 27), ook nie Efraïm nie (vers 29), ook nie Sebulon nie (vers 30), ook nie Aser nie (vers 31), en ook nie Naftali nie (vers 33). Die Kanaäniete het gewoon bly woon waar hulle was. Dis maar ‘n herhaling van wat by Juda alreeds genoem is: Juda kon die Kanaäniete nie uit die kusvlakte verdrywe nie, omdat hulle ysterwaens gehad het (vers 19). Die Kanaäniete se militêre toerusting was superieur. Veral in die kusvlakte, dis vlak gebied, het hulle ‘n voordeel gehad met hulle waens.

En die beskrywing laat sien dat Israel tot steeds minder in staat was. Aanvanklik kon Israel die heidene verdryf. Later nie meer nie, die heidene het tussen hulle bly woon. Maar hulle is darem nog wel dienspligtig gemaak. Daar bly dit helaas nie by nie. Want daarna lees ons by die stam Aser die omgekeerde. Dis nie die Kanaäniete wat tussen Aser bly woon het nie. Nee, Aser het tussen die Kanaäniete gaan woon (vers 32)! En dieselfde geld vir Naftali (vers 33). Ook hulle moes maar onder die Kanaäniete woon. En dan vervolgens nog erger. In Dan se geval (vers 34) was dit so dat hulle nie eers die oorhand kon kry om die Amoriete dienspligtig te maak nie. Ook kon Dan nie eers onder hulle bly woon nie. Nee, die Amoriete het vir die Daniete eenvoudigweg die berge ingedruk, sodat hulle in die vrugbare laagte kon bly.

Israel het hoe langer hoe swakker geword. Die inbesitname van die beloofde land het hoe langer hoe meer versand.

Mens sou jouself kon afvra: was die Israeliete nie dalk gewoon realisties nie? Die feit dat hulle die vlakte grotendeels vir die Kanaäniete gelos het. Het hulle nie maar net besef dat dit te veel lewensverlies tot gevolg sou hê om daar teen hulle te gaan veg nie? Tog bly die vraag in ons agterkop: maar as God met hulle was (sien vers 22), hoekom het die ysterwaens dan so ‘n verskil gemaak? Was dit regtig nodig om konsessies te maak? Die hoofstuk eindig met ‘n grensaanduiding tussen die Amoriete en Israel, ‘n pynlike grensaanduiding.

Want dit bevestig net dat die inbesitname tot stilstand gekom het. Dit het misluk. Dit het versand. Israel het nie toegang tot die kus gehad nie. Israel het nie die groot verkeersweë deur die land beheer nie. Die stamme se gebiede was nie aaneengesluit nie. Hulle het soort van versplinter gewoon, wat veroorsaak het dat hulle ook nie as ‘n eenheid kon opereer nie. Hulle was verswak, in ‘n defensiewe posisie.

En dit bring ons dan by wat mens kan beskryf as ‘n soort oordeelsdag. Ons lees daaroor in hoofstuk 2:1-5.

(Tema: Wat het julle nou gedoen?

1 Die inbesitname van die land versand)

2 Die verbondsbedreiging word waar

Die Engel van die HERE het opgetrek van Gilgal na Bogim.  Wie was hierdie Engel van die HERE? Dis die eerste keer wat ons Hom in Rigters ontmoet, maar dit sal nie die laaste keer wees nie. In hoofstuk 5, in Debora se lied, hoor ons weer van Hom (vers 23). Dan weer in hoofstuk 6, waar Hy aan Gideon verskyn (vers 11 e.v.). En dan weer in hoofstuk 13, waar Hy aan Simson se ma verskyn (vers 3e.v.).

Hier in hoofstuk 2 hoor ons Hom praat asof Hy God self is: “Ek het julle uit Egipte laat optrek”. “Ek sal my verbond met julle in ewigheid nie verbreek nie”. En in reaksie op sy woorde lees ons dat Israel offers aan die HERE gebring het (vers 5). Dis duidelik, Hy is die Boodskapper van die HERE, soos niemand anders nie. Met die feit dat Hy opgegaan het vanaf Gilgal – dis naby Jerigo – maak die skrywer vir ons duidelik dat Hy dieselfde Persoon is as wat aan Josua verskyn het. Daar het Hy met Josua gepraat: “Ek is die leërowerste van die HERE - Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilig.” (Jos 5:13-15)

Hierdie Persoon was Goddelik, en daar waar Hy gestaan het, het die grond heilig geword, net soos toe die HERE – Jahweh – destyds aan Moses verskyn het. Om hierdie Persoon te ontmoet, was soos om God self te ontmoet. En Hy, wat aan die begin van die intog in die beloofde land aan Josua verskyn het, verskyn nou weer. Soos ‘n gedugte krygsman het Hy weer verskyn. Maar hierdie keer om te evalueer hoe dinge verloop het. En die evaluasie is nie positief nie. Die volk het begin huil. Hulle het die plek Bogim genoem – wat beteken: gehuil. Die einste plek waar die HERE aan Jakob belowe het om aan hom die land te gee (Gen 28:10-19), word nou ‘n plek van geween. Wat het eintlik skeef geloop? Die sleutelwoord in die Engel van die HERE se woorde is die woord verbond. Die Grootkoning, wat ‘n verbond met sy vasal gesluit het, roep sy onderdaan hier ter verantwoording. Hy begin deur na die voorgeskiedenis te verwys. Sy eie trou aan die verbond. “Ek sal my verbond met julle in ewigheid nie verbreek nie; maar julle mag geen verbond met die inwoners van hierdie land maak nie.” (vers 1-2)

Dan kom die ondervraging, of aanklag. As begunstigdes van God se verbond, is daar van hulle verwag om trou te bly aan die HERE, en sy gebooie uit te leef.

Om nie ‘n verbond met die mense van Kanaän te sluit nie, maar om hulle altare af te breek (vgl. Deut 7:1-5). Hulle altare moet julle omgooi!

Hulle kon nie in twee verbonde op dieselfde oomblik wees nie - een met God en een met die bevolking van die land, en per implikasie, ook met hulle gode nie. Dit is per definisie ontrou aan die HERE.

En hierdie beskuldiging plaas die Engel voor die volk. Die HERE het belowe dat Hy nooit sy verbond met hulle sou breek nie, en hulle het dieselfde belowe. Maar hulle het hulle belofte nie nagekom nie. Deur met die Kanaäniete ‘n verbond te sluit, het hulle die verbond met God verbreek.

En dit is, in die kern van die saak, wat verkeerd geloop het. Met die inwoners van hierdie land mog hulle geen verbond gesluit het nie. Hoewel die HERE met die Israeliete was (vers 22) en sy verbond gehou het, het Israel, pleks van voort te gaan vol vertrouende dat God die oorwinning sou gee, begin om afsprake met die Kanaäniete te maak. Toe het dit bergafwaarts gegaan. Die analise van die Engel van die HERE is nie dat dit die ysterwaens, die beter wapens van die Kanaäniete was, wat hulle laat misluk het nie, maar hulle ontrou aan die HERE. En nou, as gevolg van hulle ontrou, het hulle ook die reg op volledige inbesitname van wat God hulle beloof het, verloor. Dus, wat begin het met die sluit van ‘n bondgenootskap met een individu uit Kanaän by Lus – Bethel – het uiteindelik gely tot hierdie geween, hierdie trane van spyt, ook weer by Bethel – maar nou Bogim.

Om net nog ‘n keer terug te kom op daardie bondgenootskap met die man wat hulle die geheime ingang na die stad Lus gewys het. In vers 24 staan daar dat hulle beloof het om aan hom ‘n “guns” te bewys. Nou die Hebreeuse woord wat hier met guns vertaal is, word op ander plekke in die Ou Testament met goedertierenheid vertaal (vgl. Deut 7:9). Dit is ‘n tipiese verbondsterm. Hulle het lojaliteit aan hom beloof. ‘n Lojaliteit wat hulle nie kon beloof het, as hulle op dieselfde stadium lojaliteit – verbondstrou – aan die HERE verskuldig was nie. Hierdie lojaliteit het afbreuk gedoen aan hulle lojaliteit teenoor die HERE.

En dit is presies die inhoud van die Engel se beoordeling. Hieroor het Hy die volk vermaan by Bethel. Hoe kon julle dit gedoen het? Dis waar die roer omgegooi is! Nou was die verbond met daardie een man in Lus maar een voorbeeld. Daarna is nog vele bondgenootskappe met die heidene aangegaan.

En dit, so maak die Engel nou duidelik, het reperkussies op die verbond wat die volk met die HERE het. Want nou gaan die HERE die Kanaäniete nie langer voor hulle uit verdrywe nie. Hier hoor ons die verbondsbedreiding. Nou gaan hulle vir julle soos dorings wees. En hulle gode ‘n valstrik vir julle. Die skrywer van Rigters wys vir ons ‘n hellende vlak. Hulle verbond met daardie een Kanaäniet van Lus, het uitgeloop om die akkomodasie van die hele Kanaänitiese manier van lewe. Inkluis hulle godsdiens. En dit is wat die Rigtertyd so donker gemaak het.

Die situasie waarin Israel beland het, het nie oornag gekom nie. Dit was die gevolg van ‘n stadige proses, wat met ‘n klein kompromis begin het. Om iets te doen wat nie heeltemal strook met ons trou aan die HERE nie, daarvoor kan baie maklik ‘n billike verklaring gegee word. Maar dit bly verkeerd. Die waarheid word gerelativeer. Toleransie word bepleit. Maar toleransie kan nie deur die bank ‘n deug genoem word nie. Dit hang maar af van wat getolereer word. Om die kwaad te tolereer, is om ontrou aan die HERE te wees. As ons dit tog tolereer, verloor ons ons krag, ons morele oortuigingskrag. Ons verloor ons vitaliteit, ja ons verloor die oorwinning. Die skuif van trou na kompromis is aanvanklik byna nie waarneembaar nie. Wie hierdie gedeelte van Rigters lees, kry gemengde gevoelens. Is dit nou goed wat hier staan, of is dit sleg?

Die outeur van Rigters roep bewus gemengde gevoelens op. Hy gaan subtiel te werk. En dit is juis wat die outeur van Rigters met sy baie subtiele beskrywing van sake wil uitwys. Aanvanklik was dit redelik maklik om die gevaarligte nog te ignoreer. En ja, die wêreld bied aan ons ‘n oneindige verskeidenheid aan moontlikhede tot kompromis an toleransie. Israel het hoe langer hoe meer gewoond geraak aan die Kanaäniete en hulle aansteeklike heidense kultuur.Die druk het stadig maar seker toegeneem om te assimileer.

Maar die Engel herinner die volk dan aan die verbondsbedreiging. Die situasie waarin hulle nou verseild geraak het, was al voorspel gewees. Hierdie bereiging van die Engel van die HERE was dit soos ‘n harde donderslag. Tog was dit reeds voorspel, toe die verbond gesluit is. Hierdie bedreiging is nie omdat die HERE nou self ook ontrou geword het nie. Destyds by Horeb het Hy nadruklik opdrag gegee om die Kanaäniete uit te roei, en nie die kans te gee om in die land te bly woon nie. Want, het die HERE toe al gewaarsku, dit sou maak dat sy volk húlle gode sou begin dien. En dan sou hulle hulleself in die beloofde land in ‘n posisie in manoevreer wat hulle magteloos sou maak, soos in die strik van ‘n voëlvanger. Die HERE het al daarvoor gewaarsku, Exodus 23:33: “Hulle mag in jou land nie woon nie, dat hulle jou nie verlei om teen My te sondig nie. Want jy sal hulle gode dien, ja, dit sal vir jou ‘n strik wees.”

Die Rigtertyd laat sien dat hierdie bedreiging uitgekom het. Die Engel maak hulle oë nou daarvoor oop. En gelukkig, op hierdie stadium was daar nog nie sprake van verharding nie. Die volk het gehuil. Daar was nog die erkenning van die waarheid. En die HERE was geduldig. Die maat was nog nie vol nie. Die HERE het hulle nog kanse gegee. Van ballingskap was daar nog nie sprake nie. Vir God is ‘n duisend jaar soos een dag. Die gedeelte sluit af met die mededeling dat Israel gehuil het en offers aan die HERE gebring het. Dis mooi, maar offers is nie genoeg nie. Want offers kan nie gehoorsaamheid vervang nie. Gehoorsaamheid is beter as brandoffers (1 Sam 15:22), sou die laaste rigter Samuel tereg opmerk. Dis beter om trou te bly, as om agteraf te huil.

So het die HERE geduld gehad met sy volk. Hy het sy Engel gestuur om hulle wakker te skud. Wat het julle nou gedoen? Hierdie Engel, weet ons, is ons Here Jesus Christus. Reeds aktief in die Ou Testament, as Middelaar vir die volk. Hy skud die volk wakker: wat het julle nou gedoen? Laat ons na Hom luister. Laat ons ons nie verhard, maar skuld erken. Want ons bring probleme oor onsself, net soos die Israeliete destyds, deur wat ons doen of deur wat ons nalaat om te doen. Wat ons doen of nalaat om te doen het konsekwensies. As ons nie leef soos ons as verbondskinders veronderstel is nie, het dit konsekwensies. As die diens aan die HERE verslap, sal die konsekwensies sigbaar word, of by onsself, of by ons nageslag. Ons sien ons kinders of kleinkinders verslap. Hulle kies dalk ‘n kerk waar jy maar ‘n slap Christen kan wees. Ons sien hoe hulle al hoe meer ongeïnteresseerd raak om die Here te dien. Ons sien hulle steeds meer die verkeerde prioriteite in die lewe ontwikkel. Maar pleks van verantwoordelikheid aanvaar, is ons so maklik geneig om ons teenslae toe te skryf aan ander mense of ander faktore, of nog erger: aan God self. Laat ons nie net vinger wys na die jeug nie. Laat ons eerder erken dat ons self versand het. By onsself begin. En herleef, opleef, in ons erediens, in ons toewyding. Ook as jy ouer geword het, moet jy nog jou skuld en tekortkominge bely. Ken jou kinders, jou kleinkinders jou so? Of ken hulle jou as iemand wat net altyd reg is? Geen mens is net altyd reg nie. Laat ons onsself bewaar vir die tydsgees om ons heen, die gees van die wêreld, wat net gaan oor ek, my en myself. Daar is nog genadetyd! As jul vandag sy roepstem hoor, verhard jul nie, maar neig jul oor, merk op die roep van sy ontferming. (Psalm 95)

Amen.

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 95:1-3

Wet

Ps 119:9,11

Gebed

Skriflesing: Rigters 1:21-2:5

Ps 68:4,5

Teks: Rigters 2:1-2

Preek

Ps 106:15-17

Gebed

Kollekte

Ps 95:4-6

Seën