Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.
Preek – Markus 13:1-2
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
Die sentrale boodskap van Paasfees is een van oorwinning: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan!” (Luk. 24:5-6) Dit het my weer opgeval dat, toe ons ‘n aantal maande gelede Paasfees gevier het, heelparty Christene aan hierdie boodskap uiting gegee het deur op Paassondag op hulle Facebook-blad ‘n prentjie van ‘n oop graf teen die agtergrond van ‘n opkomende son te plaas. Oorwinning! Maar wanneer ‘n mens jou pad deur die eeue vind en, meer konkreet, wanneer jy jou pad deur ons land se onlangse geskiedenis vind – deur die korrupte kantore van ons leiers, deur die stofstraatjies van toilet-lose plakkerskampe, deur die sale van HIV-hospiese, oor die plaaswerwe van vermoorde boere (en wat nóú nog hulle grond is), tussendeur die grafte van (ons begraafplase) Zandfontein- of Heatherdale begraafplase – wat sien ons dan van daardie oorwinning?
En so skielik soos wat die Facebook-prentjies van die oop graf verskyn het, so skielik verdwyn hulle ook weer. Net om plek te maak vir grusame foto’s van plaasaanvalle, siniese grappies oor korrupte politici, en skaars-verbloemde opmerkings oor anderskleuriges. Só maklik verloor die kerk perspektief – toekomsperspektief – waar sy in die modder van hierdie werklikheid staan. Asof iets onverwags ons oorkom! Ja, hartseer dinge oorkom ons, pynlike dinge, moeilike dinge. Maar niks vreemds nie, niks onverwags nie.
Die Here het al hierdie dinge naamlik vooraf alreeds aangekondig! In sy rede – sy profesie – in Markus 13 (die parallel hiervan kan u lees in Mattheus 24-25 en Lukas 21). Kom ons noem hierdie profetiese rede: padkaart #2 / toekomsplan #2. Hoekom #2? Want vóór hierdie tweede padkaart alreeds het die Here Jesus vir sy dissipels vertel wat in die nabye toekoms gaan gebeur. In Cesarea-Filippi het die Here vir sy dissipels padkaart #1 gegee (ons het daarvan gelees in Markus 8:27-33) – daarin het Hy sy eie lewensweg opgeteken, sy weg van lyding, oorlewering, kruisiging, sterwe, en opstanding. Dit was die eerste stuk toekomsplan. En nou op die Olyfberg, noudat die eerste padkaart ámper voltooi is (onthou, Markus 13 speel af op die Woensdag voor Goeie Vrydag), nou gee die Here vir sy dissipels ‘n tweede padkaart. En hierdie een gaan nie oor Jesus se eie lydensweg nie, maar oor die lydensweg van die kerk op aarde. Dus, padkaart #1 en padkaart #2, Jesus se lydensweg en die kerk se lydensweg – baie nou aan mekaar verbonde, die een lê in die verlengde van die ander. Want ’n dienskneg is nie groter as sy heer nie. Padkaart #2 is daarom ‘n noodsaaklike aanvulling op padkaart #1 – dit was noodsaaklik vir hardleerse dissipels, maar dit is ook noodsaaklik vir ons.
Tema: die Here Jesus se profesie bring ‘n radikale koerswysiging in die toekomsverwagting van hardleerse gelowiges!
Die aanleiding vir Jesus se profesie in Markus 13 (padkaart #2) is die opmerking van een van die dissipels in vers 1: “Meester, kyk watter klippe en watter geboue!” Hoekom sou hierdie dissipel (Mattheus en Lukas praat van meerdere dissipels wat dit sáám opgemerk het) so iets sê? Soms word hierdie opmerking verklaar in die lig van Jesus se somber profesie dat nie een klip op die ander gelaat sal word nie. Maar dit is natuurlik nie moontlik nie, vir die eenvoudige rede dat Jesus dit nog nie uitgespreek het nie (dit kom eers in vers 2). En tot op hierdie punt in sy bediening het Jesus nog geen woord gerep oor die verwoesting van die tempel nie (wel oor Jerusalem, maar nog niks oor die tempel nie). Dit is ook nie so dat een van die leerlinge sommer so uit die bloute, amper soos ‘n toeris, ‘n verwonderde uitroep sou doen nie: “Wow!” Nee, daarvoor het die dissipels te dikwels in die tempel gekom. En ook al sou dit so wees dat elke jaarlikse besoek aan die tempel opnuut verwondering opgeroep het, dan moet ons erken dat die dissipels hierdie jaar darem baie laat is met hulle verwondering: hierdie is naamlik al die derde dag na mekaar wat Jesus en sy dissipels die tempel besoek (sien Mk. 11:11 [dag 1, Maandag], 11:12&15&19 [dag 2, Dinsdag], 11:20&27&13:1 [dag 3, Woensdag]). Dit kan dus ook nie gewone (toeristiese, of selfs gelowige) verwondering wees nie. Nee, ons sal ‘n ander rede moet soek.
En die rede lê, dink ek, in die toekomsverwagting van die dissipels. Uit die voorafgaande hoofstukke blyk voortdurend dat die dissipels verwag dat Messias Jesus spoedig en glorieryk as Koning gekroon sal word. Onthou, dit is nog maar ‘n paar dae gelede dat hulle hosannas geroep, en klere en takke op die pad gestrooi het. En kort daarvoor het die seuns van Sebedeus sommer by voorbaat alreeds gevra of hulle die voorste plekke in Jesus se koninkryk mag inneem. En nie lank daarna nie was die dissipels weereens in ‘n heftige diskussie oor wie van hulle die belangrikste in die koninkryk is. Jesus se lydensaankondiging – wat Hy in padkaart #1 opgeteken en, vanweë hulle hardleersheid, daarna verskeie male moes herhaal – het vir ‘n groot deel by die dissipels verbygegaan. Koning Jesus was immers oppad!
Daarby kom ook nog dat hierdie toekomsverwagting van die dissipels in die dae voor Goeie Vrydag behoorlik op die spits gedryf word deur die vyandige gesindheid van die Joodse leiers. Jesus se verhouding met die Joodse leiers bereik ‘n laagtepunt. Sy koue ontvangs in die tempel ná sy intog in Jerusalem, sy hardhandige reiniging van die tempel, sy oordeel oor die ongeloof van die leiers in die gelykenis van die landbouers (Mk. 12:1-12) – dit het alles daartoe bygedra dat die leiers aktief gesoek het na geleenthede om Jesus uit die weg te ruim.
En dit is teen die agtergrond van hierdie toekomsverwagting en te midde van hierdie dreiging en spanning van die kant van die leiers, dat die dissipels Jesus bewus maak van die massiewe steenblokke en skitterende geboue van die tempel. Terwyl hulle, sonder dat hulle dit op daardie stadium besef het, die tempel vir die laaste keer verlaat en die vyandige blikke van die wetgeleerdes en priesters in hulle rûe voel, klou hulle vas aan die stene en die geboue van die tempel. Want in hulle belewing is dít die paleis waar die Christus binnekort sy intrek gaan neem. In hulle belewing is die tempel die simbool van Christus se koninklike heerskappy. Wat ook al met Jerusalem gaan gebeur, God se huis sal bly, en die Messias sal daar woon wanneer die ongelowige leiers uitgeroei sal word. “Wat ‘n paleis, Meester!”
In sy reaksie sluit Jesus aan by die aandag van die dissipels vir die tempel, maar die inhoud van sy reaksie staan lynreg teenoor hulle entoesiasme. Húlle soek houvas by God se tempelstene; maar Jesus sê: daar sal nie een klip op die ander gelaat word nie. Jesus se kort profesie in vers 2, waarvan u die konkrete uitwerking in verse 14-23 kan lees, verwys na die verwoesting van die tempel in Jerusalem deur die Romeinse leër-aanvoerder Titus in die jaar 70 na Christus. En dit is belangrik dat ons onsself sal probeer inleef in hierdie historiese gebeurtenis. Vir ons is die verwoesting van Jerusalem en die tempel dikwels niks meer as dít nie – ‘n historiese gebeurtenis. Want ja, die tempel was mos nie meer belangrik nie – immers, die voorhangsel het al geskeur op Goeie Vrydag; en het Jesus in sy gesprek met die Samaritaanse vrou in Johannes 4 nie aangedui dat die tyd van die tempel as sentrale aanbiddingsplek verby was nie?
Maar vir die dissipels is Jesus se woorde skokkend! Twee dinge daarin is vir hulle ondenkbaar. In die eerste plek dát die tempel verwoes sou word – immers, selfs die heidene het die tempel gerespekteer, en niemand het gedurf om ‘n vinger daarna uit te steek nie. En in die tweede plek dat daar nie een klip op die ander gelaat sou word nie – die tempel in Jerusalem was naamlik opgebou uit massiewe steenblokke (u kan dit gaan naslaan op die internet – kollosale stene). En wanneer ‘n vyandige leër ‘n tempel ingeneem het, verbrand het, dan het hulle normaalweg die ruïnes net so laat staan. Daar was niemand wat nog die moeite wou doen om daardie massiewe steenblokke van mekaar af te gooi nie. Ondenkbaar! En tog het dit gebeur. In die jaar 70 nC het die Romeine die tempel ingeneem, maar daarvoor moes hulle eers Jerusalem vier jaar lank beleër. Daardie klein agteraf plekke met ‘n paar konserwatiewe gelowiges – daarvoor moes die Romeine vier jaar lank werk. Hulle was woedend, hulle is verneder. Met die gevolg dat die bevel gekom het: daardie tempel sal nou ook heeltemal van die aarde verdwyn. Die Romeinse soldate het maandelank vloekend en tierend daardie opdrag uitgevoer. En so het die ondenkbare wonder gebeur – daar het nie een klip op die ander bly staan nie. Hulle lê vandag nog steeds by die klaagmuur in die stad Jerusalem, as ‘n teken.
En só moet óns, gemeente, die klaagmuur probeer verstaan. Ons moet hierdie profesie eintlik met dieselfde pyn lees as wat die dissipels op daardie oomblik ervaar het. Want Jesus profeteer die verwoesting van die tempel as iets pynliks, as ‘n straf – Hy praat in vers 14 oor die gruwel van die verwoesting (met verwysing na Daniël 9). Vir die dissipels was dit nie net pynlik nie, maar ook ondenkbaar: is Jesus dan ‘n Koning sonder ‘n paleis? Sal die Seun van die mens dakloos gelaat word op aarde? Dit kan mos nie wees nie! Maar op daardie oomblik wanneer die dissipels, in die vyandige klimaat van daardie dae, hulleself aan God se tempelstene en -geboue wil vasklou en vir Jesus die pragtige huis wys wat vir Hom – die Messias-Koning – bestem is, op daardie oomblik ontneem Hy sy dissipels met messiaanse gesag hierdie houvas. Hulle maak ‘n fout: vir Jesus se toekoms mag hulle nie aan die tempel en aan die tempelstene vasklou nie.
Ons sien dus, broers en susters, dat die dissipels se toekomsverwagting ‘n radikale koerswysiging moet ondergaan. Die dissipels fokus op die stene van die tempel, maar Jesus rig hulle aandag op die wolke van die hemel (vers 26). Wie Jesus Christus êrens wil sien woon, moenie na die tempel kyk nie, maar moet boontoe kyk. Vandaar sal Hy as Koning kom. Gemeente, selfs sonder ‘n tempel en selfs sonder pragtige tempelstene ly ons dikwels aan dieselfde skewe toekomsverwagting as die dissipels. Ons klou vas aan die grootse dinge, hier en nou – aan land en grond, aan taal en kultuur, aan kerk en kerklike tradisie; ons bou ons toekoms op aardse klippe, soms massiewe aardse klippe – ja, selfs kerklike rotsblokke. En ons gee gráág vir Jesus Christus ‘n plek om daarin te woon. En ons kan ons nie voorstel dat hierdie rotsblokke ooit afgebreek sal word nie. Maar die ondenkbare gebeur. Op soms traumatiese en pynlike maniere – dink maar net aan die afsterwe van ds. Howell en sy vrou – leer die Here Jesus ons dat die messiaanse toekoms nie vanuit die aardse tempel kom nie, maar vanuit die hemelse. Dit is waarop ons ons aandag moet rig. “Here, kyk hier!” “Nee”, sê Jesus dan, “kyk hier, kyk boontoe, kyk na die wolke van die hemel, en sien my kom met groot krag en heerlikheid!”
Later daardie aand, wanneer Jesus aan die gewoel van die skare ontkom het, en saam met sy dissipels op die helling van die Olyfberg sit – met ‘n pragtige panoramiese uitsig oor die tempel – dan kom vier leerlinge na Jesus toe. Die vier is die bekende drietal (Petrus, Jakobus en Johannes) plus een (Andreas). Slegs op een ander plek lees ons van hierdie vier saam: reg in die begin, waar hulle twee-twee as broers genoem word by hulle roeping as dissipels (Simon en Andreas; Jakobus en Johannes). Hierdie manne van die eerste uur kom doen nou as groep navraag oor die laaste uur van die tempel. Die feit dat hulle met vier kom, bewys die gewig van hulle navraag: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken wanneer al hierdie dinge volbring word?” (vers 4)
Dit is die geleentheid vir Jesus om sy kort profesie van daardie middag toe te lig, om vir sy dissipels padkaart #2 in groot besonderhede in te vul – en daarmee gee Hy vir hulle (en vir ons!) ‘n suiwer kyk op die toekoms. Ek wil drie aspekte van hierdie profesie vanoggend/vanmiddag uitlig, drie dinge wat ons kan help om ons eie toekomsverwagting suiwer te kry: swangerskap, blye tyding, waaksaamheid.
In die eerste plek wys Jesus dat die kort profesie oor die verwoesting van die tempel (vers 2) – daardie enkele woorde van vroeër die middag – dat dit die middelpunt is van ‘n profesie oor ‘n toekoms wat vól is met rampe en ellende. Die toekoms – in die eerste plek die direkte toekoms van die Joodse volk met die stad en die tempel, maar ook die hele toekoms tussen hemelvaart en wederkoms – word deur Jesus beskryf as ‘n swanger tyd. Hy sê immers in vers 8, dat al die oorloë en aardbewings en hongersnode en beroeringe wat oor die aarde sal kom, dat dit ‘n begin is van die smarte. ‘Smarte’ – hier staan letterlik die woord vir ‘geboortepyne’. Al hierdie rampe en ellende is die geboortepyne van iets wat stadig maar seker besig is om in die verborgene te groei, en wat eers aan die einde geopenbaar sal word. Dit groei in die verborgene, in stilte. En die resultaat is groots, maar jy moet deur die proses gaan.
En dit is ‘n les vir die dissipels, want hulle is eintlik veels te haastig. Hulle wil in een slag na die eindpunt gaan. Uit meerdere gedeeltes blyk dat die dissipels onder die indruk was dat hulle baie binnekort óf met Jesus gaan sterf (iets waartoe hulle volledig bereid was), óf saam met Hom gaan erf. Maar hulle is nie gereed vir die toekoms wat Jesus vir hulle bepaal het nie. Hoekom nie? Omdat hulle padkaart #1 nie ernstig gevat het nie. Want toe Jesus sy eie lyding en sterwe vir hulle aangekondig het, toe het hulle gesê: “Mag God dit verhoed!” En toe Jesus hulle verbied het om dit te sê, toe het hulle maar stil gebly, maar in hulle harte het hulle gedink: “Dit nooit nie!” En tog het die Here nie moeg geword om vir hulle te wys dat dít is hoe dit sou wees nie. Hy het padkaart #1 herhaal, en nog ‘n slag herhaal, tot driekeer toe. Maar hulle wou nie luister nie. En daarom was dit ook vir hulle so moeilik om padkaart #2 te aanvaar, toe Jesus vir hulle wou leer: “My lydensweg is nie ‘n uitsondering nie; ook júlle sal hierdie weg moet gaan: ‘n kneg is nie groter as sy meester nie; hulle het My vervolg, hulle sal ook julle vervolg; Ek sal my kruis opneem, ook julle moet julle kruis opneem.” Hulle kon dit nie bevat nie. En daarom, wanneer Jesus nou in Markus 13 gaan praat oor die toekoms van die kerk, gee Hy vir hulle ‘n uitgebreide padkaart, stap vir stap, gebeurtenis na gebeurtenis, om te wys – Ek is ernstig, dit is julle toekoms.
Die weg van die kerk is ‘n weg van swangerskap. Ja, die dissipels verwag die hemelryk, en Jesus ontken dít nie. Maar Hy moet vir hulle wys dat, voordat die hemelryk kom, eers dít gaan gebeur: oorloë, aardbewings, hongersnode, vervolging. Hier is nog geen sprake van trone regsit en saam met Jesus regeer, soos wat die seuns van Sebedeus gehoop het nie. Nee, eers vervolging – kyk maar na verse 9-13. Dit is ‘n swanger tyd – die groot en heerlike toekoms is besig om in die verborgene te groei. Maar soos met elke swangerskap moet daar eers sekere dinge gebeur; daarom sê Jesus ook in Markus 13:7: “hierdie dinge moet gebeur!” Dié dinge kom nie maar net oor ons nie; dit is nie maar ‘n koue noodlot nie. Nee, siekte en dood en oorlog en vervolging moet kom! Daar is ‘n goddelike wil en ‘n goddelike plan agter dit alles, hoe moeilik en hartseer en pynlik ook al. Al hierdie geboortepyne staan nie op hulle eie nie, hulle lei nie hulle eie lewe nie – hierdie dinge moet gebeur. Dink daaraan wanneer hierdie gemeente geboortepyne beleef; dink daaraan wanneer jy die geboortepyne in jou eie lewe voel, die heftige kontraksies van die naderende geboorte: dit is deel van die proses waardeur ons moet gaan, oppad na die groot toekoms.
Die tweede belangrike aspek van padkaart #2, lees ons in die Here Jesus se woorde in vers 10: “En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word.” God het sy doel met hierdie swanger tyd, met hierdie swangerskapsperiode: in ‘n wêreld vol slegte nuus moet God se goeie nuus klink. En dit moet eers verkondig word aan alle volke. Ondenkbaar, op daardie stadium waarin Jesus hierdie woorde uitspreek. Hulle sit daar met 12 manne bymekaar, en een van hulle is ook nog ‘n verraaier. En om dan te hoor dat die evangelie nie net Palestina sal bereik nie, maar alle volke. En in daardie grootse beweging staan ons. Ook vir ons is die swangerskaptyd evangelisasie-tyd, sending-tyd. Die tyd waarin ons lewe is ‘n tyd vir getuienis, vir blye verkondiging – soos wat enige pappa en mamma die koms van die geboorte van hulle kleinding met blydskap aankondig: “Ons het groot nuus, ons is in verwagting!” Met dieselfde blydskap behoort die gelowiges – ons! – in die omgewing waarin ons beweeg, te vertel van die groot nuus wat ons het. En ons doen met die belofte van die Koning self in vers 11: “wanneer hulle weglei om julle oor te lewer, moenie julle vooraf kwel oor wat julle sal spreek nie, en moenie daaroor dink nie; maar wat julle in dié uur gegee word, dit moet julle spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Heilige Gees. Die Gees is die groeikrag in hierdie swangerskap; Hy is ook die dryfkrag in ons vertelling daarvan. Moet daarom nie bang wees nie; moet dit ook nie oorlaat aan sendelinge of aan sekere lidmate nie. Nee, almal van ons: vertel die blye tyding! Ons verwag!
En dan die derde aspek van padkaart #2: waaksaamheid. Wanneer ‘n mens na die struktuur van Markus 13 kyk, dan sien jy dat dit ‘n soort ring-komposisie is, waarin waaksaamheid aan die begin beklemtoon word, in die middel, en dan ook weer aan die einde. Kyk maar na vers 9: “wees vir julleself op die hoede.” Vers 23: “Maar julle moet op jul hoede wees.” En dan ook weer aan die einde, vers 33 (“Pas op, waak en bid...”), vers 35 (“Waak dan...”), en vers 37 (“En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!”). Waaksaamheid – let op, gemeente, daar staan nie dat ons maar net moet wag nie. Om te wag is om af te wag, ons sal sien. Maar om te waak, is om op jou pos te wees. Om wakker te wees. Enersyds wakker om die gevare van die misleiers en valse profete te kan herken – kyk maar na verse 5 en 6, en vers 22. Andersyds wakker om die koms van ons Here te kan begroet – kyk maar na verse 35-37. Wakker, waaksaam – teen die gevare, teen die verleiding, teen die valse leer, teen dít wat as Christelik vir ons aangebied word, maar in feite Satanswerk is (en ons tyd en ons wêreld is vol daarvan!). Maar ook wakker, in verwagting – vir die koms van die Koning; kyk na die vyeboom, kyk na die tekens (verse 28-29); maak seker dat jy nie aan die slaap val nie, maar dat jou lampie brand.
Wat ‘n sorgsaamheid van ons Heiland, gemeente, om aan ons padkaart #2 te gee. Veronderstel dat hierdie padkaart in Markus 13 (en ook in Mattheus 24-25 en Lukas 21) glad nie in ons Bybels gestaan het nie. Dan sou nog steeds dieselfde dinge gebeur het: oorloë, aardbewings, vervolging, siekte, dood... Maar ons sou as kerk volledig verdwaald gewees het, gedisoriënteerd. Watter kant toe moet ons gaan? Watter kant toe moet ons kyk? Hierdie een sê: hierdie kant toe. Die ander: daardie kant toe. Ons sou radeloos gewees het: wat beteken dit alles?
Maar nou het die Here in sy sorg vir ons ‘n padkaart gegee waarvolgens ons onself kan oriënteer, waarvolgens ons die tyd waarin ons lewe beter kan evalueer. As gelowiges het ons ‘n soort basis-oriëntasie, danksy hierdie profesie en die eggo’s daarvan in die briewe van die apostels. En die boodskap is duidelik: kyk nie na die stene van die tempel nie, maar kyk na die wolke van die hemel. Verwag die koms van Jesus. Hy hou die regie van die tyd in sy hande; die tyd – en alles wat ons in hierdie tyd oorkom – sal nie te magtig vir ons word nie. Luister maar na vers 20: “As die Here dié dae nie verkort het nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes wat Hy uitverkies het, het Hy dié dae verkort.” Die regie van die tyd is in die hande van Jesus, die Seun van die mens, wat nou al met krag en heerlikheid bekleed is. Eendag sal openbaar word wat nou reeds ‘n werklikheid is – Hy het krag, Hy het heerlikheid. Maar tot op daardie dag dat dit vir ons geopenbaar word, is die opdrag duidelik: volg die padkaart, dra met volharding die dinge wat deel is van die swangerskap van die kerk (ook al is dit met trane in jou oë), vertel die blye tyding van dít waarna ons uitsien aan die einde van die swangerskap, en wees altyd waaksaam!
Amen
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 43:3 en 4
Nagmaal
- Kort formulier
- Terwyl tafel voorberei word, sing Apostoliese Geloofsbelydenis
- Voltooi formulier
- Ps. 65:2 en 3
Lees: Markus 8:27-33
Markus 13
Sing Ps. 48:5
Teks: Markus 13:1-2
Preek
Amenlied Ps. 74:3-5, 9 (op die melodie van Ps. 116)
Gebed
Slotsang Ps. 74:15 en 16
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.