Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 21 v/a 55
Ons sit vanaand weer hier bymekaar as gemeente. Vir die gaste wat hier vanaand is, is dit miskien ‘n nuwe belewenis. Vir die meeste van ons is dit baie gewoon, iets wat ons jaar in jaar uit meemaak. Bekende gesigte, en al bestaan daar nie gereserveerde plekke in hierdie gebou nie, tog kies die meeste van ons steeds min of meer dieselfde plek om te gaan sit.
Om kerk toe te kom is vir die meeste van ons so gewoon soos elke oggend se ontbyt, of die koppie koffie wat ons elke dag drink op dieselfde stoel tuis, uit dieselfde beker. Kerk toe kom is deel van ons bestaan.
As ons vanaand nou gaan kyk na v/a 55 van die Heidelbergse Kategismus, gaan dit oor hierdie vir ons so bekende kerk. Hierdie antwoord omskryf hierdie vir ons so bekende kerk egter in die pragtigste woorde. Dit klink amper digterlik. Nou is die vraag of jy oor iets wat al so gewoon vir jou is, nog poëties kan raak. Raak jy soms poëties oor jou daaglikse koppie koffie? Kan jy nog sing oor hierdie gemeente wat vir jou so gewoon geword het?
Wel, dit is nou juis die doel van v/a 55. Want as ons weer besef wat hierdie gemeente eintlik is, en dat dit eintlik baie besonder en uniek is dat ons elke Sondag weer hier bymekaar kom, oggend en aand, en dat nie net ‘n klein handjie vol mense hier bymekaar kom nie, ja dan is daar genoeg rede om poëties te raak! Net soos Psalm 133 poëties sing oor die voorreg wat dit is as broeders saamwoon.
So laat ons vanaand weer met nuwe oë na hierdie groep mense kyk, wat die Kategismus, in navoling van die Skrif, die liggaam van Christus noem. Laat ons vanaand weer onder die indruk raak van hoe uniek dit is. Laat ons vanaand weer die kerkgebou verlaat met ‘n dankbare hart, dat ons deel van hierdie groep mense is, en onsself voorneem om met liefde en deernis te praat oor elke mede-broer en suster in hierdie gemeente.
Tema: Hoe goed en lieflik is dit as broers ook saamwoon!
- Sion is ‘n geskenk van bo
- Christus se liggaam is ‘n geskenk van bo
- Sion is ‘n geskenk van bo
Psalm 133 gebruik twee beelde, twee metafore, om hierdie unieke situasie te skilder. Wanneer daar eenheid ontstaan omdat mense saam vir God dien, en daardeur broers en susters word, nie net biologies nie, maar ook geestelik.
Die eerste beeld verwys na die kosbare olie op die hoof van Aäron. Waarom hierdie beeld? Aäron is met heilige olie gesalf, die dag toe hy as hoëpriester gewy is. Sien Exodus 30. Hierdie salf is gemaak van die fynste en kosbaarste speserye: fyn mirre, geurige kaneel, kalmoes, kassie, olyfolie. ‘n Salfmenger moes hiervan ‘n salfmengsel maak. Met hierdie heilige salfolie is die tabernakel gesalf, asook die ark, die tafel vir die toonbrode, die tempelgereedskap, die kandelaar, die reukaltaar, die brandofferaltaar, die waskom. Dit alles is met die salfolie geheilig, dit wil sê spesiaal toegewy vir die tempeldiens. En so ook is Aäron en sy seuns met hierdie selfde salfolie gesalf.
Soos die HERE voorgeskryf het in Exodus 30: Dit moet vir My ‘n heilige salfolie wees in julle geslagte.” So is die priesters, geslag na geslag, hiermee gesalf en vir hulle diens in die tempel gereedgemaak. Hierdie salfolie mog vir geen ander doel gebruik word nie.
Oor die eerste plegtige salwing van Aäron lees ons in Levitikus 8. Aäron se lang baard het selfs daarvan vogtig geraak. Volgens Levitikus 21 mog die priesters nie die rand van hulle baard wegskeer nie (vers 5). Dit was waarskynlik ‘n heidense gewoonte met bygelowige simboliek in daardie tyd.
Daaruit het die tradisie ontstaan dat die hoëpriester ‘n lang baard gehad het.
En by sy salwing was alles deurtrek van ‘n heerlike geur. Die kosbare salfolie, wat oor sy hoof gegiet is, het in sy baard afgedrup. Dit het afgedrup op sy liggaam, op sy klere. So is sy heiligheid, die toegewydheid aan sy amp, sintuiglik afgebeeld. Dis hoe die HERE hom daarvoor gereed gemaak het. As die volk na die tabernakel gekom het om te offer, kon hulle hierdie kosbare reuk orals ruik. Dit het hulle herinner dat alles hier deurdrenk was van die HERE se teenwoordigheid, sy seën.
Net so, skryf Dawid in hierdie bedevaartslied, versprei die eenheid tussen die stamme van Israel ‘n lieflike geur. Hierdie eenheid is daar omdat hulle saam toegewy is aan die diens van die HERE.
In hierdie psalm uit Dawid ‘n diepe gevoel van dankbaarheid, dat dit sover kon gekom het. Want vir eeue was God se volk verdeeld. Elke stam het maar net sy eie gang gegaan – dink veral aan die Rigtertyd.Vir eeue is die volk verswak deur onderlinge rusies en bakleiery.En toe Dawid aan bewind gekom het, was daar nog steeds diepe verdeeldheid.‘n Groot deel van die volk het hom as ‘n vyand beskou.Tog is dinge so gelei dat daar eenheid gekom het. En na soveel eeue kon dit uiteindelik werklikheid word, wat die HERE op die oog gehad het in sy wet, wat Hy aan Moses gegee het. Dawid het homself aktief ingespan om die tempeldiens in Jerusalem te vestig. Dat die stamme saamkom in Jerusalem, die plek wat Hy gekies het om sy Naam daar te vestig. Dawid is goed bewus dat hierdie eenheid tussen die stamme ‘n gawe van bo is. Die beeld van die salfolie wys dit uit. Soos die olie van bo af gegiet is op die hoof van die hoëpriester, so daal die lieflike eenheid van bo af neer.
En dan, die tweede beeld wat Dawid in die psalm gebruik, is die dou van Herman, wat neerdaal op die berge van Sion. Waarom gebruik hy hierdie beeld? Hierdie beeld is ontleen aan die natuur. Beelde uit die natuur spreek baie direk tot mense, omdat ons dit van dag tot dag meemaak. As daar, na maande van droogte, weer reëndruppels val, dan ruik mens dit letterlik. Dit is sigbare seën. Net so gebruik Dawid ‘n pragtige beeld uit die natuur. Die dou van Hermon wat neerdaal op die berge van Sion. Nou is dit so dat so ‘n beeld uit die natuur die kragtigste tot jou spreek, as jy die natuur van daardie streek self ken. Dus om hierdie beeld van Dawid te kan aanvoel, moet ons ons verplaas in die klimaat van Israel. In Israel is klimaat, is dou baie belangrik, die vogtige lug wat snags vanaf die Middellandse See inwaai en as dou op die land val. Kom ons begin by die berg Hermon. So hoog, dat daar op sy top in die winter altyd sneeu lê. Die wintermaande is die nat maande in Israel, net soos in die Kaap. Hermon is geleë in die noorde van Israel, dit is ‘n vrugbare gebied met relatief hoë reënval. En omdat die berg Hermon so hoog is, vang dit baie vog op wat vanaf die Middellandse See landinwaarts waai. En juis in die warm en droë somermaande is hierdie dou van groot waarde. Die dou van Hermon was ‘n beeld van oorvloed. Nêrens in Israel het dit so swaar gedou as aan die voet van Hermon nie. Hierdie landstreek is buitengewoon vrugbaar danksy die dou wat Hermon veroorsaak.
Nou kom ons by die berge van Sion.
Sion was die berg waarop Jerusalem gebou is, met daaromheen nog verskeie ander berge. Sion is egter baie meer na die suide van Israel geleë. En hoe meer suid mens gaan, hoe droër en dorrer dit word. Die land eindig in die Negev woestyn, waar dit amper nooit reën nie. Nou in die omgewing van Jerusalem, op Sion, het dit ook gedou, maar selde soveel as wat dit op Hermon gedou het.
As Sion egter ‘n keer dou so dik soos die dou van Hermon gekry het, was dit ‘n beeld van oordadige seën. En dit is die metafoor wat Dawid hier gebruik. As die berge van Sion ‘n nag sulke dou gekry het, dou so dik soos die dou van Hermon, was dit ‘n groot seën. Dit het die dorre natuur weer laat groen word.
Dit het weer krag gegee vir plant en dier, om die genadelose son te kon trotseer.
Dou was ‘n bekende metafoor, ‘n simbool van die HERE se seën oor sy volk.
Behalwe in hierdie Psalm, vind ons dit ook in byvoorbeeld Hosea 14, waar die HERE vir sy volk sê:
“Ek sal vir Israel wees soos die dou, hy sal bloei soos ‘n lelie en sy wortels uitslaan soos die Libanon. Sy lote sal uitsprei, en sy prag wees soos die van ‘n olyfboom en sy geur soos die Libanon.”
Dit alles danksy die dou wat van bo af neerdaal.
En om nou by die betekenis van hierdie beeld te kom: As al die stamme van Israel saamkom na Jerusalem, en daar in eenheid voor God se aangesig verskyn, voor sy ark, op die groot feesdae, en dit in onderlinge harmonie. Dit is wat Dawid in hierdie bedevaartslied vergelyk met die dik dou van Hermon.
En net soos die dou, daal die broederliefde, die eenheid en harmonie, van bo af neer. Van die HERE af. Hierdie seën wat van bo af neerdaal, dit ontvang die volk daar waar die HERE sy naam op aarde gevestig het. Die plek waar die HERE sy volk ontmoet het, in Jerusalem, by sy tempel. Hier gebied die HERE die seën. Hier daal sy seën van bo af neer. En dit is ‘n ongekende ryk seën.
Hier kry God se volk nuwe kragte. Hiernatoe is hulle opgeroep om te kom, vir die groot feeste. Hiervandaan kon hulle weer teruggaan huistoe, oorlaai met seën. Die slot van die psalm lig die sluier hoe dit moontlik is: Daar, in Sion, gebied die HERE die seën, die lewe tot in ewigheid. Sion is die lewensbron vir God se volk. Vanuit hier vloei die seën, die seën wat lei tot eenheid en harmonie tussen broers. Ja die seën wat lei tot die ewige lewe.
Hierdie twee beelde – die salfolie en die dou – dui beide dus op iets wat baie kosbaar is. Die dou in Israel is kosbaarder as goud. Daarsonder sou die volk nie kon oorleef nie. En die salfolie was net so kosbaar. Dit was ‘n simbool dat die HERE onder sy volk gewoon het. Opvallend is dat beide dou en salfolie van bo af neerdaal. Dit is ‘n motief in die Psalm wat herhaal word. Alle goeie dinge daal van bo af neer: Die salfolie wat afloop oor die hoëpriester. Die dou wat neerdaal op die berge. En so die seën van die HERE wat neerdaal van bo.
Sion is ‘n begeerlike plek. Hier word seën uitgedeel. Ja selfs die lewe tot in ewigheid. So sluit die psalm af. En hier is sy volste rykdom vervul toe Christus uit die dood opgestaan het, in Sion. In Hom het die belofte van die ewige lewe heeltemal werklikheid geword! En die opgestane Christus het in die nuwe bedeling Sion oneindig uitgebrei. Sion is nie meer net daar waar die tempel is nie. Sion is nou orals waar twee of drie saam in die Naam van die opgestaande Here bymekaar kom. En so mag ons gemeente ook Sion genoem word.
Spesifiek ‘n plek waar Christus se seën van bo af neerdaal.
(Tema: Hoe goed en lieflik is dit as broers ook saamwoon!
- Sion is ‘n geskenk van bo)
- Christus se liggaam is ‘n geskenk van bo
Die Nuwe Testament noem ons lede van die liggaam van die Here Christus (1 Kor 12). V/a 55 het hierdie terminologie oorgeneem: ons is lede van die Here Christus. In die kerklike spraakgebruik het ons hierdie beeldspraak van ‘n liggaam ook oorgeneem: Jy word naamlik ‘n lid van die gemeente genoem.
Wie die doop ontvang het, hoort by hierdie een liggaam. Ons is deur een Gees gedoop tot een liggaam. Die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, het deel aan sy skatte en gawes. Hieruit blyk God se liefde vir ons, dat Hy bereid is om dit alles met ons te deel. Soos ons lees in Romeine 8:32: “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?”Nou die skatte en gawes van Christus is te veel om in hierdie preek op te noem. Laat ek my beperk by ‘n paar wat absoluut van onskatbare waarde is:
- Vergewing van sondes
- Die Heilige Gees
- Die ewige lewe
- Die opstanding van die liggaam
- Die Kerk
Hierdie is almal gawes wat van so ‘n groot waarde is, dat dit nie in geld uitgedruk kan word nie.
En gesien die feit dat ons so oorlaai is deur Christus met gawes, skryf v/a 55, is elkeen van ons nou ook verplig om sy gawes gewillig en met vreugde te deel. “die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie.” (1 Kor 12:21) Die doel: dat my gawes ook aangewend word tot nut en saligheid van die ander lede. Die sleutelwoord hierby is die woord liefde. Soos die Vader, en soos Jesus ons liefgehad het, so het ons ook al die lede van die liggaam lief. Die liefde soek nie sy eie belang nie. (1 Kor 13:5) “Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n. Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.” (Filippense 2:4-5) Ja hoe goed en lieflik is hierdie situasie, wat in die gemeente van Christus die reël is.
Ons leef in ‘n harde samelewing. Elkeen moet hard werk om sy bestaan te waarborg. Wie nie werk het nie, kom so maklik in ‘n negatiewe spiraal. Mense in ons omgewing redeneer dikwels: die regering gaan nie vir ons sorg nie, die regering probeer eerder dit wat ons het, van ons af te vat. As ek nie vir myself sorg nie, wie dan wel? Die omstandighede in ons land kan mense baie hard maak. Aan die een kant te verstane. Maar wat ‘n voorreg is dit om te weet dat ons deel is van ‘n gemeenskap van heiliges. Hier is mense wat ook na ander se belange omsien. Hoe goed en hoe lieflik is dit nie!
En dit is moontlik, omdat hier die seën van bo neerdaal, en ons in staat stel om so met mekaar te lewe. Hier ontvang ons die wysheid van bo, wat ons leer om vredeliewend te wees, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins, soos Jakobus skryf in hoofstuk 3:17.
Buite, waar die wysheid van bo nie is nie, is daar afguns en selfsug, wanorde en allerhande gemene dade (Jak 3:16).
V/a 55 van die Heidelbergse Kategismus begin met die rykdom wat ons ontvang – dit ten eerste.
En dan volg die ten tweede, wat ‘n opdrag, ‘n verpligting is. Die HERE laat sy seën van bo af neerdaal. En vervolgens verwag Hy van ons dat ons van al sy skatte en gawes gebruik sal maak. Hy vra nie wat Hy nie eers gegee het nie.
Maar as Hy gegee het, verplig Hy ons in sy verbond dan ook. Dat ons met vreugde en gewillig dit wat ons ontvang het, gebruik om ook die ander te dien.
Ons is nie passiewe robotte nie, Christus, die Hoof van sy kerk, verwag van ons aktiewe diens. Soos ons in Efesiërs 4:3 lees: Laat ons “ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede.” Of in 2 Korinthiërs 13:11: “hou vrede, en die God van liefde en vrede sal met julle wees.”
Daarom roep Christus u op om erns te maak met hierdie karaktereienskappe, wat ons uit Jakobus gelees het: Wees vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid, onpartydig, ongeveins. Dit is hierdie karaktereienskappe wat die eenheid van die gemeente bevorder. Asseblief, gemeente, jonk en oud, oefen julle hierin.
Calvyn skryf by hierdie psalm: Laat ons selfs ons arms uitstrek na hulle wat van ons verskil, met die begeerte om hulle te verwelkom as hulle terugkom na die eenheid van die geloof. By die skryf hiervan het Calvyn veral die papiste, die Roomses, op die oog gehad. Laat ons haastig wees om te vergewe. Beseffende hoeveel Christus ons op ‘n daaglikse basis vergewe.Christus maak dit moontlik.Sy skatte en gawes is soos die salfolie van ouds wat oor ons uitgegiet word. So versprei sy kerk ‘n aangename geur, ‘n hemelse geur. Sy skatte en gawes is soos die dou wat op die land neerdaal. Daarsonder sal ons lewe droog wees, en sal broederlike harmonie ver te soeke wees.
Maar so is dit onder ons nie. Hier, in sy gemeente, is die lieflike geur van Christus orals aanwesig. Wie hier binnekom, merk dit. Soos destyds as mense na die tabernakel gekom het om te offer, hulle die kosbare reuk van die salfolie orals kon ruik. Dit het hulle herinner dat alles hier deurdrenk was van die HERE se teenwoordigheid, sy seën. So werk Christus eenheid en harmonie in sy liggaam. ‘n Lieflike geur. Wie hier binnekom, ervaar: Hier deel Christus sy seën uit. Hier proe mens al die lewe tot in ewigheid! En dit is nie vanselfsprekend nie. Wees suinig hierop. Hoe goed en lieflik is dit as broers ook saamwoon! Koester dit. Sion is ‘n gawe van God. In Nuwe Testamentiese terme: die gemeenskap van die heiliges is ‘n geskenk van Christus, ‘n geskenk van bo. Dit is ‘n seën van God.
Amen.
Votum
Seën
Ps 134:1,2
Gebed
Skriflesing: Efesiërs 4:1-16
Jakobus 3:13-18
Psalm 133
Sb 25:4
Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 21 v/a 55
Preek
Ps 133:1,2
Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Sb 27:3-5
Kollekte
Ps 134:3,4
Seën