Preek: Rigters 21:25
Hierdie is ‘n inleidende preek op die boek Rigters. In die komende tyd hoop ek om ‘n serie preke uit die Bybelboek Rigters te hou. Ons begin vandag met ‘n teks wat beskou kan word as die refrein van die Rigterboek. Hierdie refrein lei ons na die hooftema, en die boodskap, van hierdie Bybelboek. Dit is soos ‘n diagnose, wat ‘n dokter maak van ‘n siek pasiënt. As ons na hierdie periode uit die geskiedenis van God se volk kyk, is dit wat die kern van al die probleme was.
Tema: Die helder boodskap uit die somber Rigtertyd
- Datering van die Rigterboek
- Struktuur van die Rigterboek
- Tema van die Rigterboek
- Doel van die Rigterboek
- Datering van die Rigterboek
As ons die boek Rigters gaan behandel, is dit goed om eers bietjie aandag te skenk aan die agtergrond van hierdie boek. Wanneer het die gebeurtenisse plaasgevind wat hierin beskrywe is? En ‘n tweede vraag, wanneer is die boek geskryf? Wat die eerste vraag betref, Rigters begin met die dood van Josua.
Josua wat die opvolger van Moses was. Moses het God se volk uit Egipte gelei tot aan die rand van die beloofde land. Josua het die volk die beloofde land ingelei. Dink aan die indrukwekkende val van Jerigo en alles wat daarna gevolg het. Maar wat het na die dood van Josua gebeur?
Hieraan skenk Rigters aandag. Die Rigterperiode was ongeveer 450 jaar lank.
Sien Handelinge 13:20, waar Paulus in sy preek in Antiochië sê: “daarna omtrent vierhonderd-en-vyftig jaar lank het Hy rigters gegee tot op Samuel, die profeet.” Dit was dus die Rigtertyd, om en by vier en ‘n half eeue.
Die tweede vraag is egter, wanneer is die boek Rigters geskryf. En met watter doel? Deur wie is hierdie boek geskryf?
Om by die laaste vraag te begin: ons ken nie die skrywer by naam nie. Wel kan ons uit die boek self probeer vsstel wanneer dit geskryf is. Sommige opmerkings in die boek dui daarop dat dit opgeskryf is redelik kort na die gebeurtenisse self. In Rigters 1:21 staan daar byvoorbeeld: “sodat die Jebusiete saam met die kinders van Benjamin in Jerusalem woon tot vandag toe.” Wanneer was hierdie “vandag”? Wanneer was daar dus nog heidense Jebusiete in Jerusalem? Hierdie vers werp dus in ‘n mate lig op wanneer die boek geskryf is. Want toe was daar dus nog heidene, Jebusiete, woonagtig in Jerusalem, die hoofstad van Israel.
En dan ons teks, die bekende refrein in die Rigterboek, gee vir ons ook inligting oor die datering. Die frase: In die dae was daar geen koning in Israel nie, elkeen het gedoen wat reg was in sy oë, kom vier keer in Rigters voor (17:7, 18:1; 19:1; 21:25). Dit is waarmee die boek ook afsluit. Hierdie refrein dui daarop dat die skrywer self in die tyd van die konings gelewe het. En hy verwys terug na die Rigtertyd as daardie periode toe die konings nog nie daar was nie. Dan is daar nog ‘n vers wat inligting kan gee oor die datering van hierdie boek, en dit is Rigters 18:30. Hier staan: “hy en sy seuns was priesters vir die stam van die Daniete tot op die dag van die ontvolking van die land.”
Daar is op gewys dat hierdie – die ontvolking van die land – op die ballingskap kan dui, wat ‘n laat datering van die boek tot gevolg sou hê. Maar dit kan ook op ‘n ander, eerdere ontvolking dui. Moontlik moet die uitdrukking ontvolking van die land ook anders vertaal word, afhangende van hoe die oorspronklike grondteks presies lees, naamlik dat hier eintlik staan: tot en met die in besitname van die ark. In daardie geval dui hierdie vers dus nie op die ballingskap nie, maar op die Filistyne wat in Eli se tyd die ark afgevat het.
Tot sover, gemeente, ‘n paar verse wat ons kan help met die datering van hierdie boek. Om nou tot ‘n konklusie te kom, kan ons die volgende sê.
‘n Akkurate datum vir wanneer hierdie boek geskryf is, kan ons nie werklik gee nie. As mens al die inligting egter op ‘n rytjie sit, lyk dit of dit in die vroeg-monargiese tyd was, dit wil sê, die tyd toe konings soos Dawid en Salomo geregeer het. Vanuit daardie tyd kyk die skrywer dus terug op die donker jare van die Rigtertyd. Tussen hakies, dit is ook die datering wat ons vir die boekie Rut gegee het, toe ons ‘n paar weke terug hierdie Bybelboek behandel het.
Moontlik dat Rigters en Rut dieselfde outeur gehad het. Ons ken nie meer sy naam nie. Wel het die groot Outeur van die Bybel, die Gees van ons Here Jesus Christus, dit so gelei dat beide boeke ‘n plek in sy Woord gekry het.
- Struktuur van die Rigterboek
In die tweede plek, gemeente, wat die struktuur van Rigters betref, net die volgende. Hierdie boek bestaan uit drie hoofdele. Deel 1 is van die begin tot hoofstuk 2:5, wat die feitlike mislukking van die inbesitneming van Kanaän beskryf. Deel twee is van hoostuk 2:5 tot en met hoofstuk 16. In hierdie deel word verskeie siklusse van Rigters beskryf. Ons ontmoet hier name soos Otniël, Ehud, Samgar, Barak, Gideon, Abimeleg, Jefta, Simson en wat hulle vir die volk beteken het, beide in positiewe en negatiewe sin. En dan sluit die boek af met ‘n derde deel, vanaf hoofstuk 17 tot die einde. In hierdie deel is daar aandag vir die Leviete, meer spesifiek: die wantoestande onder die Leviete.
- Tema van die Rigterboek
En dit bring ons by die tema van Rigters. Hierdie boek, wat dus in die vroeë koningstyd geskryf is, is eintlik ‘n apologie vir Israel se monargie. Dit beantwoord die vraag: hoekom het God se volk ‘n koning nodig? Rigters illustreer wat die gevolge was van die afwesigheid van ‘n Godvresende koning as leier van die volk. Na Josua se dood het die volk versplinter. Hulle het nie werklik meer ‘n sentrale leier gehad nie. Daarom het die inname van die land versand. Aan die begin was daar nog bietjie samewerking – die stamme Juda en Simeon wat mekaar byvoorbeeld gehelp het. Maar dit het al minder geword. Sterker nog, aan die einde van die boek Rigters sien ons hoe God se volk openlik teen mekaar oorlog voer. Die Rigters het sporadiese verligting gebring, na siklusse van afval, waartydens God se volk al hoe meer begin leef het soos die heidene om hulle heen.
En die Leviete het ook gefaal in die uitvoer van hulle Godgegewe opdrag. Daar was geen koning om die priesters en Leviete aan te spoor en te hou by Moses se wet, om sodoende kultiese en sosiale stabiliteit in Israel te bring nie. Hierdie is alles dinge wat die skrywer wel gesien het in sy eie tyd. Nadat Dawid byvoorbeeld op die troon gekom het, het hy die volk verenig, hy het die volk gelei in die oorlog en die heidense volke se mag in die beloofde land gebreek. Dawid het blywende vrede en sekuriteit gebring. Dawid het toegesien dat die priesters en die Leviete die Mosaïese wette in praktyk bring.
Vanuit hierdie tyd, inderdaad ‘n goue eeu vir God se volk, kyk die skrywer terug na die donker Rigtertyd. Mislukking en probleme vind ons op byna elke bladsy. Daar is chaos, en hoofstuk na hoofstuk kom die chaos terug en word steeds erger.
Die boek Rigters vorm ‘n antiklimaks op die boek Josua. Die boodskap van die boek Josua kan in een sin soos volg saamgevat word: alles het uitgekom. Dit is waarop Josua die volk se aandag gevestig het: “Geen woord van al die goeie woorde wat die HERE met die huis van Israel gespreek het, het onvervuld gebly nie; alles het uitgekom.” (Jos 21:45).
En net voor sy sterwe het Josua dit weer by die volk ingeprent: “kyk, ek gaan vandag die weg van die ganse aarde, maar julle moet erken met jul hele hart en met jul hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat die HERE julle God oor julle gespreek het, onvervuld gebly het nie; alles het vir julle uitgekom, nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie.” (Jos 23:14)
Josua het die volk agtergelaat op ‘n stadium dat hulle goed en wel in Kanaän woonagtig was. Hulle het die beloofde erfenis binnegegaan. Aan elke stam is sy erfdeel toegewys. So het Josua die volk agtergelaat. Wat nou moes gebeur, is dat elke stam, vertrouende op die HERE, sy erfenis in besit sou neem.Maar, die oomblik as ons by Rigters hoofstuk 1 aankom, tref ons direk ‘n ander atmosfeer. Hoe verder mens in hoofstuk 1 lees, hoe meer sak die stemming. Die skrywer van Rigters skryf dit toe aan die afwesigheid van ‘n sentrale leier, ‘n koning. En dan nie in die eerste plek ‘n koning om voorop te trek in die stryd teen die heidene nie. Maar primêr ‘n koning om die volk by God se verbond te bewaar. Want dit is wat volgens Moses se wet sy primêre taak was.
As Israel se konings sou waak by die eerbiediging van die verbond, dan sou God self die volk teen die vyande beskerm.
Maar hier het dit dus vinnig bergafwaarts gegaan, en dit sien ons reeds in Rigters 1 raak. Deur die Kanaäniete te spaar, het Israel alreeds ontrou gepleeg.
Israel het geredeneer dat dit in hulle voordeel sou wees, om die Kanaäniete te spaar. Hulle het die Kanaäniete laat belasting betaal – dit was finansieel meer in hulle voordeel as om hulle met die banvloek te tref. Dit het egter nie hierby gebly nie. Soos die tyd aangestap het, het hulle al hoe meer aan mekaar gewoond geraak. Kort voor lank het die Israeliete en Kanaäniete onderling begin trou. So het elkeen maar net gedoen wat goed was in sy oë. En die dieptepunt het toe ook nie uitgebly nie, naamlik dat die Israeliete hulle ook begin neerbuig het voor die gode van Kanaän. So het dit bergafwaarts gegaan.
Dit het met op die oog af onskuldige dinge begin. Maar die een het gelei tot die ander.
Tog het die HERE ook in die Rigtertyd vir Homself ‘n troue res bewaar. Dink aan Otniël en sy vrou, Gideon en sy pa, Simson en sy ouers, Naomi en haar skoondogter Rut, Boas en sy knegte, Samuël en sy ma. Al moet direk hierby genoem word, hierdie mense was nie blaamloos nie. Hulle het hulle eie swakhede gehad. Dikwels was hulle self ook al besmet met heidense gewoontes en denkbeelde. By die behandeling van die boek Rigters gaan ons dit te hore kry. Ek noem dit solank nou al. Moenie dink hierdie serie oor Rigters gaan ‘n klomp geloofshelde vir u presenteer nie. Heel moontlik gaan u aan die einde van die serie ontnugter wees. Waar u dalk nou redelik positief dink oor Rigters soos Gideon, Simson, Jefta ensovoorts, gaan u na hierdie serie ‘n heel ander beeld van hulle hê. Miskien het u dit al oorweeg om u kind te vernoem na ‘n Rigter, Gideon of Jefta, Debora of Jaël. Ek wonder of u na hierdie serie nog lus gaan wees om dit te doen. As ons hulle beter leer ken het. Is dit nie so, gemeente, hoe beter jy iemand ken, hoe meer ken jy ook sy swakhede nie? Hoe langer jy met iemand deurgebring het, des te meer ken jy ook sy beperkinge. So laat dit van die begin af duidelik wees: dis nie die bedoeling van hierdie boek nie. Die Rigters is nie die ligtende helde wat uitstaan in die donker rigtertyd nie. Ons gaan ons eerder verbaas oor die HERE God se genade, sy geduld. En hoe Hy dit tog reggekry het om met hierdie rigters, met hierdie krom stokke, ‘n regte hou te slaan.
- Doel van die Rigterboek
Dit bring ons by die doel van die Rigterboek, juis ook vir ons. Watter waarde het Rigters eintlik vir die kerk van die Nuwe Testament? En dan meer spesifiek: ook vir die kerk van die 21e eeu? Ook vir ons lewe, ons geloof, hier in ons spesifieke omstandighede?
Soos ek genoem het, Rigters is ‘n ernstige boek, in baie opsigte, ‘n somber boek. Maar het ons nie juis ook so ‘n tipe boek in die nuwe bedeling nodig nie?
Is ons, gemeente van Christus, verhewe bo waarskuwings en bestraffings? Die apostel Paulus het die gemeente van Korinthe herinner dat God se strawwe oor Israel plaasgevind het “as voorbeelde”. Hulle “is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.”(1 Kor 10:11) “Wil ons die ywer van die Here opwek? Is ons miskien sterker as Hy?” (1 Kor 10:22)
By nader insien, gemeente, is daar baie ooreenstemming tussen ons en die Israeliete uit die Rigtertyd. Hulle was, soos ek eerder genoem het, aanskouers dat alles uitgekom het. Alles wat God aan sy onderdrukte volk in Egipte belowe het, het waar geword. Hulle is wonderbaarlik uit Egipte bevry. Hulle is te midde van tekens en wonders deur die Skelfsee en deur die woestyn gelei.
Hulle het gesien hoe die eerste groot stad van die beloofde land, Jerigo, inmekaar getuimel het. Hulle het ervaar hoe hulle die beloofde land kon binnetrek, elke stam na sy toebedeelde grondgebied. Dit terwyl hulle hulleself soms soos sprinkane gevoel het, teenoor die reuse in Kanaän. Desnieteenstaande het die HERE vir hulle gestry. Hy het dit moontlik gemaak.
Maar, toe hulle op die toppunt van hulle roem was, toe die Kanaäniete vir hulle gebewe het, toe het hulle afvallig begin raak. Hulle het gemaksugtig geword. Hulle het nie meer voluit op die HERE vertrou nie. Hulle het wêreldgelykvormig geword. En so het die afval op kousevoete binnegesluip.
Nie van die een op die ander dag nie. Dit was dikwels ‘n onopvallende proses.
Maar die uiteinde was dat hulle, na die eeue van die Rigtertyd, teruggesak het tot op die vlak van die heidene. Hulle het byna heeltemal geassimileer. En elkeen het gedoen wat goed was in sy oë.
Nou gemeente, is hierdie verhaal nie in ’n groot mate ook die verhaal van die kerk in die Weste nie? Het Christus die kerk wat uit die Reformasie voortgekom het, nie buitengewoon voorspoedig gemaak nie? Het ons, Gereformeerdes, nie buitengewoon welvarend geword nie, in alle opsigte?
Ons het die room van die wêreld geword. Die HERE het ons geseën, geestelik en materieel. Nie een van die HERE se woorde het aan ons onvervuld gebly nie.
Maar, is dit nie ook by ons so, net soos destyds in Israel, dat ons hieraan gewoond geraak het nie? Dat ons nie meer besef aan wie ons dit te danke het nie? Dat ons nie meer in brand staan vir die diens aan die HERE nie? Dat ons nie meer die lus en motivasie het om anders te wees, anders as die wêreld om ons heen nie? Dat ons nie meer bereid is om opofferings te bring in die diens aan die HERE nie? Dat ons nie meer daarvan uitgaan dat die HERE vir ons sal stry nie? As ons maar net trou bly aan sy verbond, dan sal Hy die lewe in die verbond ook moontlik maak. Dan sal Hy geleenthede na die toekoms oopmaak.
Die Rigterboek skreeu om ‘n Godvresende koning. Ons weet, uit die heilsgeskiedenis, dat God trou was. Hy het ‘n koning gegee – Dawid, wat die volk weer verenig het, wat die afgodediens uitgeroei het. En die heilsgeskiedenis het voortgegaan, tot die hoogtepunt toe God sy eie Seun gestuur het. Hy, die Messias, is die Koning van sy volk, die kerk van die nuwe bedeling. Christus het sy Woord gegee, die kompas waarop sy kerk in die nuwe bedeling moet vaar. En die Rigterboek is ook onderdeel van hierdie Woord. So, as ons in die komende tyd ons gaan verdiep in Rigters, onthou, dit is Christus se Woord. Hierdie ernstige boek is ‘n skat wat Hy aan sy Nuwe Testamentiese kerk gee. Veral vir tye as sy kerk welvarend en suksesvol geword het. Maar as die gevaar van kleingeloof om die hoek kom loer. Die gevaar dat ons self planne maak, en nie meer vaar op die kompas van sy wyse Woord nie. As elkeen begin doen wat goed is in sy eie oë, en nie meer belang stel om saam in eenheid die Here te dien nie.
So laat die Rigterboek ons aanmoedig om weer op Hom te fokus, die Koning van die kerk. Op sy Woord. Op ‘n diensbare lewe in sy verbond. ‘n Lewe vol vertroue op Hom. As Christus se kerk hoef ons nie water by die wyn te voeg nie. Laat ons slegs daarop fokus om Hom te behaag. Dan sal Hy dit moontlik maak. Dan sal Hy vir ons ruimte gee. Dan sal Hy sy seën op ons lewe lê. Dit is die helder boodskap uit die somber Rigtertyd.
Amen.
Votum
Seën
Ps 81:1-3
Wet
Ps 81:10,11
Gebed
Skriflesing: Rigters 1
Ps 135:7,8
Teks: Rigters 21:25
Preek
Ps 81:12-18
Gebed
Kollekte
Ps 103:3,4
Seën