Die HERE sorg vir ‘n Losser

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-06-17
Text: 
Rut 3
Preek Inhoud: 

Preek: Rut 3

Rut en Naomi het in die Rigtertyd gelewe. Dit was ‘n donker en onseker tyd.

Baie Israeliete het nie volgens God se wet gelewe nie. Hulle het die afgod Baäl gedien en sy wette gevolg. Die boekie Rut is ‘n voorbeeld uit die praktyk dat God se wet die beste is. Naomi en Rut het in Boas ‘n ryk man ontmoet wat hom aan God se wet gehou het. Die feit dat hy op sy lande altyd iets vir die armes oorgelaat het - dit was presies die bedoeling van God se wet. Hierdie boekie laat sien dat ook nog ‘n ander wet van God in praktyk gebring is. Ook hierdie wet het ‘n genesende uitwerking op die samelewing gehad. Ek bedoel die wet op die lossing. Dit is waarna ons vanoggend mag kyk.

Tema: Die HERE sorg vir ‘n Losser

Sewe weke lank het Rut are opgetel op die landerye van Boas. Dit was van die begin van die garsoes tot die einde van die koringoes, van April tot einde Mei.

Voorlopig was daar voldoende kos in weduwee Naomi se huis. Maar die vraag het tog by haar opgekom: waarvan sal ons, twee weduwees, moet lewe na die oestyd? ‘n Vrou was in daardie tyd nog baie meer as vandag aangewese op ‘n huwelik, vir haar lewensonderhoud. In hierdie hoofstuk het ons gelees oor ‘n mooi droom van Naomi, ‘n plan wat sy beraam het. Dit is dalk goed om hierby op te merk. Hoewel hierdie Bybelboek se naam Rut is, is Naomi eintlik die hoofkarakter in hierdie boek. Die skrywer bestee veral aandag aan haar karakterontwikkeling. Hoe sy as ‘n jong ma met haar man besluit het om te emigreer. Hoe sy teruggekom het as ‘n bitter weduwee, Mara. Hoe die HERE haar lewe gelei het deur vele teenslae heen. Hoe die HERE haar al nader aan Hom gebring het. Ook in hoofstuk 3 is Naomi dus eintlik die hoofpersoon. En wat in hierdie hoofstuk opval, is dat daar ‘n wending kom by Naomi. Sy wat as bitter weduwee teruggekeer het, sy neem weer inisiatief, sy beraam ‘n plan.

Sy sien kanse. Hoe het dit sover gekom?

Wel, tussen die lyne sien ons God se voorsienigheid. Hy het dit gelei dat Rut met ‘n man in aanraking gekom het, wat die HERE se wet bemin. Daarbewens was hy ook nog verlangs familie. Dis nie dat Naomi self die HERE se wet geken en bemin het, en dat die eerste ding toe sy terug in Bethlehem was wat sy gedoen het, om met die lossers kontak op te neem nie.  Nee, deur die HERE se voorsienigheid het dit gebeur dat Rut ‘toevallig’ op ‘n losser se landerye tereg gekom het. So het die HERE haar met die neus op die feite gedruk, naamlik dat in sy volk weduwees ‘n goeie lewe mag lei. So het Naomi weer begin nadink oor die lossingswette van Moses. En so het sy ineens bietjie lig begin sien aan die einde van haar bitter tonnel. Sy het geredeneer: As hierdie Boas ‘n eerbare man is, miskien is hy wel te vinde vir die lossingswet.

Dan dink ons aan die wet met betrekking tot ‘n swaershuwelik, soos ons gelees het uit Deuteronomium 25.

“As broers bymekaar woon en een van hulle sterwe sonder dat hy ‘n seun het, dan mag die vrou van die oorledene nie daarbuite ‘n vreemde man s’n word nie; haar swaer moet by haar ingaan en haar as sy vrou neem en die swaershuwelik met haar sluit; en die eersgeborene wat sy baar, moet staan op naam van sy oorlede broer, dat sy naam nie uit Israel uitgedelg word nie.” (vers 5-6)

Naomi het begin hoop. As Rut weer ‘n man kry, sal sy ook sekuriteit hê. Daar sal dan altyd kos wees. En nie net dit nie, dan sou selfs die naam van haar man Elimeleg, en van haar seun Maglon, nie uitsterf nie.

So het God dit gelei dat die bitter weduwee weer met inisiatiewe voor die dag gekom het. Volgens haar plan kon Rut Boas die beste op die dorsvloer ontmoet. Dit was ‘n oop plek, meestal op ‘n heuwel buite die stad, waar die koring gedors is. Dit is meestal teen die aand gedoen, as die wind van die see se kant af opgesteek het. So is die kaf met die opgooi van die koring weggeblaas. Daar, op die dorsvloer, was die kans die kleinste dat ander hulle twee saam sou sien. Natuurlik was die plan nie heeltemal sonder risiko nie.

Rut het goed besef wat haar skoonma aan haar voorgestel het. Deur hierdie simboliese handeling moes sy aan Boas ‘n huweliksaansoek doen. Sy moes daar op die dorsvloer, waar Boas lê en slaap, sy kombers optel en by sy voete gaan lê. Nou die kombers optel was in Israel ‘n algemene uitdrukking vir huweliksgemeenskap. Rut moes egter simbolies net die puntjie van die kombers by sy voete optel. En dan moes sy nie langs hom gaan lê, asof sy sy vrou was nie, maar aan sy voetenent, soos ‘n dienares wat iets kom bedel.

Toe Boas midde in die nag wakker skrik, daar het Rut aan sy voetenent gelê.

God sy dank het hy hierdie simboliese handeling direk verstaan. Rut het hom ‘n huweliksaansoek gedoen.

Hierdie geskiedenis in Rut 3 klink vir ons dalk vreemd. Watter normale en deugsame vrou gaan op ‘n warm somernag na die dorsvloer, om daar aan die voetenent van ‘n slapende man te gaan lê? En watter vrou vra sommer uit die bloute ‘n man ten huwelik? Wat het Naomi eintlik in haar kop gehaal? Maar, gemeente, by nader ondersoek blyk dat hierdie gebeurtenisse glad nie so ongewoon was nie. Natuurlik was daar aan Naomi se plan risiko’s verbonde.

Tog was dit nie uit die bloute nie. Dit sien mens uit die feit dat toe Boas wakker word, hy direk begryp het wat aan die hand was. Rut het nie sommer ‘n willekeurige man besoek nie. Hy was een van die lossers van haar skoonfamilie. Die feit dat Rut die huweliksaansoek gedoen het, was ook nie in daardie tyd ongebruiklik by ‘n swaershuwelik nie. Daar is van die vrou self verwag om die saak aan die orde te stel. Die weduwee moes self op soek gaan na die losser.

En volgens Moses se wet was Boas in geval van nood een van die aangewese familielede om te ‘los’, dit wil sê: om vir hulle regte op te kom. Dit het nie net oor Rut gegaan nie. In hoofstuk 4 lees ons dat Naomi ook nog ‘n stuk grond besit het wat eiendom was van haar man Elimeleg. Maar, sy het niemand gehad om dit te bewerk nie. Naomi wou hierdie stuk grond verkoop, want sy het die geld nodig gehad. Maar, en daarom kom sy met hierdie plan, die wet van Moses het vir haar ‘n gunstige oplossing gebied. Sy hoef die grond nie net aan enigiemand te verkoop, met die risiko dat daar aan haar ‘n belaglik lae bedrag voor betaal word nie. Nee, die wet het die losser verplig om die stuk grond oor te neem. Konkreet: hy moes die stuk grond van Elimeleg koop, om sodoende daarvoor te sorg dat die weduwee genoeg het om te kan bestaan.

Hy moes ook sorg dat die stuk grond in die familie bly. Hierdie bepalings uit Moses se wet was dus vir Naomi baie gunstig.

Maar, wat Moses se wet ook bepaal het, was dat mens ‘n losser nie kon dwing nie. Daar was naamlik meerdere lossers. En hulle moes onderling uitsoek wat daar sou gaan gebeur. Dus, prakties, as Rut by Boas kom, daardie nag op die dorsvloer, wys sy hom deels op ‘n verpligting, maar deels vra sy ook ‘n guns van hom. Boas was ‘n losser, maar tog was hy nie verplig nie. Gelukkig het Boas direk gesnap waaroor dit gaan. Dat sy probeer het om ‘n swaershuwelik te reël. En dit was inderdaad ‘n groot guns wat sy van hom gevra het. Want, Boas was nie ‘n direkte familielid nie. Streng gesproke het die wet hom slegs verplig om die stuk grond oor te neem. Hy was nie Maglon se broer nie.

Die swaershuwelik sou gegeld het vir ‘n swaer van Rut, iemand soos Giljon, maar die was ook al oorlede. Daarom was hierdie plan van Naomi tog ‘n spannende avontuur. Rut het Boas iets gevra wat hy nie volgens die letter van die wet verplig was om te doen nie. Naamlik of hy bereid was om nie net die familiebesit, maar ook die familienaam te los. Naomi se plan skuif twee verskillende bepalings uit Moses se wet inmekaar. Die wet op die lossings van die land, en die wet op die swaershuwelik. Sy het dit gedoen met die vertroue dat Boas, wat tot dusver so gul was, miskien daarvoor te vinde was. Aan die een kant ‘n logiese stap, aan die ander kant ‘n spannende avontuur. Vandaar dat Naomi Rut ook aanbeveel het om haarself so aantreklik moontlik te maak (vers 3).

Nou hang daarom rondom hierdie geskiedenis ‘n romantiese geur. ‘n Spannende liefdesavontuur. Tog moet ons eerlik wees. Die boek Rut gee nêrens aanleiding om te dink dat daar van verliefdheid sprake was nie.

Rut het nie na die dorsvloer gegaan, gedrewe deur ‘n gevoel van verliefdheid nie. Sy het in die eerste plek opgekom vir haar skoonma, wie sy plannetjie dit in die eerste plek was. En tweedens het sy ook aan haar eie toekoms gedink, en aan die voortbestaan van die naam van haar oorlede man. En hiervoor het sy van God se wet gebruik gemaak. Sy het nie sommer enige man gesoek nie, maar een van die HERE volgens sy wet aangewys het. So het Rut opgekom vir haar skoonfamilie. Het sy nie vir Naomi gesê nie: waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertroef, sal ek vertoef ... waar u sterwe, sal ek sterwe en daar begrawe word? (Rut 1:16-17) Hierin het sy haar geluk gevind, in die versorging van die familie waartoe sy behoort het.

Gemeente, wat dit betref kan moderne vroue, vir wie selfontplooiing dikwels die hoogste prioriteit is, baie by Rut leer. Haar selfontplooiing het gelê in die versorging van ander. Sy het haar lewe gebruik om die naam van ‘n ander in stand te hou. Rut het die moed gehad om vir so ‘n bo-persoonlike belang haar eie opsy te sit.

God sy dank het Rut daardie nag die regte losser ontmoet. Hy was inderdaad nie die naaste losser nie, maar wel iemand wat God se wet eerbiedig het. Boas het vir Rut daardie nag waardig behandel, nie soos ‘n ou dronk man nie, maar soos dit ‘n losser betaam het. Hierin het hy God self weerspieel, die groot Losser van sy volk. Boas het haar motief raakgesien. Hy sê vir haar: Jy het jou laaste liefde beter gemaak as die eerste, omdat jy nie agter jongmanne, arm of ryk, aan geloop het nie (vers 10). Boas het goed begryp dat sy iets opgeoffer het. Ter wille van haar familieverpligtinge het sy eerste na ‘n ouer man gekom, en nie gaan aandag soek by die jongmanne nie. Boas was soveel ouer as Rut dat hy haar as my dogter aangespreek het. Die optrede het hom beïndruk, soseer dat hy haar verseker het: Alles wat jy sê, sal ek vir jou doen, want die hele stadspoort van my volk weet dat jy ‘n deugsame vrou is (vers 11).

Tog het Boas die bepalings van die wet nie opsy geskuif nie. Die saak moes eers nog met ‘n ander losser uitgepraat word, die een wat nader verwant was.

Ook hierdie bewys dat dit nie net ‘n wilde liefdesavontuur was nie. Eerbied vir God se wet het voorop gestaan.

Geliefde gemeente, in ons vuil en egoïstiese kultuur kan ons baie uit hierdie hoofstuk leer. In die eerste plek dat jy jou eie belange, jou eie persoonlike geluk en ontplooing, nie najaag ten koste van hoër ideale nie. ‘n Hoër ideaal kan wees dat jy jou eie lewe wy aan die versorging van ‘n ander. Dat jou lewensdoel nie net is om jou eie ster te laat rys nie, maar ook diensbaar te wees aan ander. In die tweede plek kan ons ook uit hierdie hoofstuk leer dat romantiese liefde nie bo alle reg en wet verhef kan word nie. Dit is die indoktrinasie van die Hollywood filmwêreld wat steeds op ons afkom. As die verliefdheid jou in sy mag kry, dat jy maar moet toegee. En as die verliefdheid verdamp, dat ‘n verhouding dan maar verbreek moet word. Boas en Rut kan ons wat dit betref iets leer. Rut het haar skoonma se raad gehoorsaam gevolg.

Sy het na die dorsvloer gegaan. Die HERE het langs hierdie weg nuwe lig gegee, aan die einde van Naomi se bitter tonnel. Hy het Boas en Rut bymekaar gebring, nie net om Elimeleg se huis te bewaar nie. Maar ook om die huis van Dawid te bou, waaruit later die groot Losser van sy volk, die Verlosser, ons Here Jesus Christus, gebore is. Ons kan instem met wat die vroue destyds oor Naomi gesê het: “Geloofd sy die HERE wat aan jou vandag ‘n losser nie laat ontbreek het nie! En mag sy naam in Israel geroem word!” (Rut 4:14)

Dit was ‘n pragtige uitspraak in die donker Rigtertyd. ‘n Illustrasie dat God se wet, wat Hy deur Moses gegee het, inderdaad vir sy volk geluk kon bring in die beloofde land. Die HERE het sy wet aan sy volk gegee, nadat Hy hulle verlos het. Dink aan die aanhef van die wet. Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis uitgelei het. Hy het dit eers vir sy volk moontlik gemaak. Hy vra nie wat Hy nie eers gegee het nie. In dankbaarheid mog sy volk in die beloofde land lewe. En God se genadige wette se bedoeling was om hulle gelukkig te maak in die land. En toe die volk in sonde en ongehoorsaamheid hierdie goeie en genesende wette aan die kant geskuif het, het Hy hulle nog steeds nie in die steek gelaat nie. Ja die HERE het self gesorg vir ‘n losser. Nie net Boas nie, maar ook Dawid, ook Jesus Christus. Dit mag ons vandag aan die nagmaal vier. God het self ‘n Losser voorsien. Ons Losser se naam is beroemd, nie net in Israel nie, maar wêreldwyd. Hy is die Bruidegom, wat sy bruid met sy kosbare bloed betaal het. Hy het ons duur gekoop.

Amen.

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 19:1,2

Wet

Ps 19:6

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

1e tafel: Deuteronomium 25:5-10; Ps 31:1,3

2e tafel: Rut 3; Ps 31:5

3e tafel: Lofverheffing, Ps 31:14,15

Dankgebed

Teks: Rut 3

Preek

Ps 19:4,5

Gebed

Kollekte

Ps 31:16,17

Seën