Christus het my siel losgekoop van die mag van die doderyk en sal my opneem in heerlikheid

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-05-27
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 16
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 16

Die dood en die graf is realiteite hier op aarde. Afgelope week was daar gemeentelede wat ‘n geliefde moes begrawe. En die kans is goed dat ons as gemeente in die loop van hierdie jaar nog ‘n keer met die dood en graf gekonfronteer gaan word. Die kernboodskap van die Skrif het alles met dood en graf te make. Vanaf die begin van die Bybel lees ons al daaroor. Die eerste keer wat ons in die Bybel oor die dood lees, is as die HERE God vir Adam waarsku: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, Gen 2:17 maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe. (Gen 2:16-17)
Dit was net ‘n waarskuwing.  Dit was net teorie.

Maar na die sondeval het die vinniger realiteit geword as wat Adam en Eva waarskynlik verwag het. Hulle was die eerste ouers op aarde wat ‘n kind moes afstaan aan die dood. Vanaf toe het dit realiteit geword. En al het Adam en Eva eeue oud geword, die gene was toe nog sterk, tog het die dood ook vir hulle kom haal. En sedertdien elke mens op aarde. God het in sy goedheid hulle wel troos en uitsig gegee. Met die moederbelofte (Gen 3:15) is in die vooruitsig gestel dat daar ‘n dag gaan kom, êrens in die toekoms, waarop die duiwel, die sonde en die dood oorwin sou word. Na die moederbelofte het God al hoe meer beloftes gegee in die Ou Testament. Ook in die Psalm wat ons gelees het, Psalm 49. En in die tyd deur God bepaal het Hy die beloftes vervul. Hy het sy eie Seun gestuur. Hy was die Messias, die Christus, wat die duiwel, die sonde en die dood oorwin het. God is regverdig, en sy geregtigheid het geëis dat die Messias self die straf op die sonde moes dra. Onderdeel daarvan was dat Hy ook moes sterf en begrawe word.

Dit is deel van die kern van die Evangelie. Daarom bely ons dit in die Apostoliese Geloofsbelydenis. Hy is gekruisig, het gesterf en is begrawe, en het neergedaal na die hel.

Vandag mag ek u weer hierdie onderdeel van die Evangelie bring. Dit is vir ons ‘n troos in lewe en sterwe, dat ook Christus gesterf het, dat ook Hy begrawe is.

En dat Hy in my plek neergedaal het na die hel.

Tema: Christus het my siel losgekoop van die mag van die doderyk en sal my opneem in heerlikheid

  • Die troos wat die Koragiete gebring het
  • Die troos wat Christus se dienaars vandag bring
  • Die troos wat die Koragiete gebring het

    Psalm 49 is geskryf deur die kinders van Korag. Wie was Korag? En wie was sy kinders? Korag was ‘n tydgenoot van Moses. Ons lees oor hom in Numeri 26.

    Hy was een van die drie, saam met Datan en Abiram, wat teen Moses en Aäron in opstand gekom het. Korag het geargumenteer dat nie net die priesters mog offer nie. Korag het afgestam van Levi, maar die HERE het die offerdiens nie aan hom en sy nageslag toevertrou nie, maar aan Aäron en sy nageslag. Korag het teen hierdie beslissing in opstand gekom. Die hele volk is heilig, het hy gesê. Dus enigiemand moes toegelaat word om voor die HERE te offer.Elke lid van die volk moes dieselfde regte hê as die priesters. Ons ken die geskiedenis.

    Die HERE het hierdie opstand gestraf. Die aarde het sy mond oopgemaak – staan daar in Numeri 26:10 – en Korag, Datan en Abiram is verslind. Voorts het vuur van die HERE het 250 man gedood wat hulle gesteun het. Maar, lees ons in Numeri 26:11, Korag se kinders het bly lewe.

    Korag se kinders was onderdeel van die Leviete wat by die tabernakel en later by die tempel diens gedoen het. En wat, soos die ander Leviete, die taak gehad het om die volk te onderrig. So was Samuël byvoorbeeld ook ‘n afstammeling van Korag (1 Kron 6).

    Meer nog, ons lees in die Bybel dat Dawid vir die seuns van Korag aangestel het as poortwagters en musikante. In Psalm 84 vind ons ‘n verwysing na hulle taak as poort- of drumpelwagters. Psalm 84 is ook geskryf deur die kinders van Korag. Bo aan baie Psalms vind ons hulle naam terug. Met musiek het hulle die tempeldiens begelei. Met musiek het hulle die volk onderrig.

    Hulle was sewe dae per week aan diens (1 Kron 9:25). Dag en nag. Dink byvoorbeeld aan die woorde van Psalm 134: “Kom, loof die HERE, o alle knegte van die HERE wat snags in die huis van die HERE staan!”

    Psalm 49 is ook ‘n pragtige voorbeeld hoe die Koragiete die volk onderrig het.

    Dit is nie net ‘n lied met mooi woorde nie. Dit word genoem ‘n leerdig, ‘n wysheidslied (vers 1-5). So het die Koragiete ‘n baie belangrike boodskap na die volk gebring. So belangrik selfs, dat die hele mensdom daarvan moet kennis neem (vers 2). Almal word opgeroep om te luister, almal, hoog en laag, belangrik en onbelangrik, ryk en arm.

    In die ou bedeling het die HERE die Leviete gebruik om die volk te onderrig in sy wet. Die Koragiete was onderdeel van hulle, hulle was ook Leviete. Die HERE het hulle sang gebruik om die volk se harte gereed te maak om hulle God by die tempel te ontmoet. En met die inhoud van hulle liedere het hulle gesing oor die bediening van die versoening. Hulle het die volk onderrig, vermaan en vertroos met hulle liedere. Die lewenswysheid van God se wet het in hulle liedere geresoneer. Ook die wysheid van God oor lewe en dood.

    Soos Psalm 49.

    Psalm 49 is ‘n lied wat ons laat nadink. Vers 13, en ook vers 21 aan die einde: die mens wat in aansien is en geen verstand het nie, is soos die diere wat vergaan. Hierdie woorde herinner aan die Prediker: “die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: hulle het een en dieselfde lot; soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle almal het dieselfde asem, en ‘n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie; want alles is tevergeefs.

    Alles gaan na een plek toe; alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug” (Pred 3:20-21)

    Met die dood wat elke mens in die gesig staar, wys die Psalmis hoe min rede daar is om jaloers te wees op die voorspoed van die goddelose. Moenie jouself laat meesleep deur die ‘glitter and glamour’ van hierdie wêreld nie. Ook al is God se voorsienigheid nie sigbaar nie, moet ons geduldig wees. Op sy eie tydstip sal God die onreëlmatighede van die huidige sisteem regstel.  

    Onthou, geen mens, hoe welvarend ook, kan die onsterflikheid van sy siel koop nie. Nie vir homself nie, en ook nie vir sy geliefdes nie. Daar is hulle wat droom, en wat lewe asof hulle vir ‘n ewigheid hier op aarde sal wees. Maar feit bly: die dood is die universele lot vir die mensheid, vir die wyses en die dwases, vir die armes en die rykes.

    ‘n Onverskuifbare grens is vasgestel vir elke mens se lewe. En hoe dikwels gebeur dit nie dat al die rykdom wat bymekaargeskraap is, dan val in die hande van iemand wat niks daarvoor gedoen het nie. Dat al sy rykdom val in die hande van een wat nie eers sy erfgenaam is nie, maar ‘n vreemde.

    Verder is daar ander wat sterf sonder dat hulle ‘n nageslag agterlaat.Hulle naam sterf ook uit.Maar ook hulle wat ‘n ryke nageslag agterlaat. Ook hulle wat huise en landerye agterlaat, waaraan hulle naam verbonde is vir generasies om te volg, ook hulle naam sal op den duur in vergetelheid raak.

    Aan die einde is die mense soos die diere wat vergaan (vers 13). Soos dit voor oë is, wie sien die verskil? Die dood is soos ‘n herder wat al sy skapies bymekaarmaak in sy stal (vers 15). Soos skape is hulle oppad na die doderyk.

    Hoe lank iemand sy huidige lewe kan rek, hoe gelukkig sommiges ook is met ‘n liggaam wat tot in die gryse ouderdom nog gesond bly, niemand kan die huidige lewe rek tot in die ewigheid nie. Wie op homself, sy welvaart en verdienste, sy eie wysheid en filosofieë, sy gesondheid vertrou, hou uiteindelik niks oor nie.

    So het die Koragiete ‘n baie belangrike boodskap. So belangrik dat die hele mensdom daarvan moet kennis neem. Almal, hoog en laag, ryk en arm. Hoe graag jy ook wil, jy kan nie ‘n broer loskoop nie. Van die dood kan jy jouself nie loskoop nie. Met geld kan mens by God niks bereik nie.

    Tog klink die Evangelie deur in hierdie Psalm, gemeente. Net soos die Evangelie in Prediker ook deurklink. Nadat die Prediker gemediteer het oor wat voor oë is, dat mense en diere se asem dieselfde is, gaan hy wel verder, deur op die volgende te wys: “Wie bespeur dat die asem van die mensekinders opgaan boontoe, en dat die asem van die veediere neerdaal ondertoe in die aarde?” (Pred 3:21)

    Wie net fokus op wat voor oë is, wie net fokus op wat empiries waarneembaar is, het geen hoop op lewe na die dood nie. Hy sal geen verskil bespeur tussen mens en dier nie. Maar Psalm 49, die Koragiete, vestig wel ons aandag daarop.

    Enersyds is daar die refrein – die empiriese waarneming – die mens is soos die diere wat vergaan. Wie nie verder dink en nie bereid is om te luister na woorde wat van anderkant die menslike horison kom nie, is inderdaad soos die diere wat vergaan. Andersyds, wie hom deur God laat voorlig, bemerk inderdaad dat daar ‘n verskil is tussen die sterwe van mense en diere.

    In skerp kontras met alle wêreldse wysheid, stel Psalm 49 die krag van God.

    Wie die sterwe van God se kinders aanskou, weet van beter.

    So bely die digter van hierdie psalm, heel persoonlik in vers 16.Hy hou dit eerstens aan homself voor as troos, en ook aan God se volk: God sal my siel loskoop van die mag van die doderyk. In vers 16 staan daar letterlik: God sal my siel loskoop uit die hand van sjeool. Sjeool was die Hebreeuse woord vir die doderyk, of hel.  Beeldend word die doderyk voorgestel asof dit ‘n hand het wat uit die graf opkom om die lewendes te gryp en onder die grond in te trek.

    Die mag van die doderyk, die hand van sjeool, dis ‘n hand waaraan niemand gaan ontkom nie. Vroeër of later gaan hy jou gryp en saamtrek. Geen geld, hoe groot bedrag ook, sal jou of jou geliefdes daarvan kan loskoop, daarvoor kan vrywaar nie.

    Maar die Koragiete mag aan die volk, ja aan die hele wêreld, die ryker boodskap bring van God. Hulle sing dit by die tempel, die plek waar die bediening van die versoening vir sy kinders werklikheid geword het.

    By God is daar wel hoop! God sal my siel loskoop van die mag van die doderyk!

    (Tema: Christus het my siel losgekoop van die mag van die doderyk en sal my opneem in heerlikheid

  • Die troos wat die Koragiete gebring het)
  • Die troos wat Christus se dienaars vandag bringEn gemeente, vandag mag Christus se dienaars dieselfde boodskap, ja selfs nog ryker, bring! Christus se dienaars vandaag is nie meer die Leviete en die Koragtiete nie, maar sy bedienaars van die Woord, wat die lieflike boodskap van die Evangelie van vrede verkondig. Hulle volg in die voetspore van die Koragiete, met die bediening van die versoening. Die woordjie loskoop, wat ons vers 16 lees, speel ‘n belangrike rol in die res van die Ou Testament, en veral in die Nuwe Testament.Soos die apostel Petrus skryf:

    “julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van 'n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Petr 1:18-19).

    Losgekoop!

    Die Koragiete sing verder: Hy sal my opneem! In nog ‘n Psalm, Psalm 73:24, vind ons hierdie selfde uitdrukking: my opneem.

    “U sal my lei deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem.”

    Dit is wat ook in Psalm 49 bedoel word. Die opneem is die teenoorgestelde van die doderyk. Teenoor die doderyk staan die opneem in die hemelse heerlikheid! Hoewel die wêreld besig is om weg te sak in duisternis, wag daar ‘n môre vir God se kinders. Die gedaante van hierdie wêreld gaan verby (1 Kor 7:31). Maar die verlossing van my siel is vir God kosbaar. Daar is ‘n hoër lewe, waarop die huidige lewe slegs ‘n voorbereiding was. Bevryding van die dood, is ‘n voorreg wat God se kinders sal smaak. Hulle verwag ‘n beter lewe. Hulle siele rus in die skoot van God, tot die dag van die wederopstanding van die liggaam.

    Wat die Koragiete profeties aan die volk voorgehou het, is in die Nuwe Testament vervul. God sal my siel loskoop van die mag van die doderyk!

    God het sy eie Seun gestuur. Hy het Homself tot in die dood verneder. Ja God, wat mag het oor die doderyk, het toegelaat dat die hand van sjeool, Hom ook gryp. Hy het neergedaal in die hel. Hy het die onuitspreeklikste angs, smarte en verskrikking deurstaan. Vrywillig het Hy dit alles gedoen om my, skryf die Kategismus, van die helse angs en pyn te verlos. In my swaarste aanvegtinge mag ek verseker wees. Dit is ‘n volkome troos. My Here Jesus Christus het my siel losgekoop. Hy sal my opneem in heerlikheid!

    So het Christus ook Psalm 49 vervul. Dieselfde boodskap klink in Ou en Nuwe Testament. Maar in die Nuwe net soveel ryker.

    Die geheim van God se verlossingsplan is nou bekend. Hy het dit so bestem dat sy eie Seun Homself in die dood moes verneder. En eerbiedig spreek ons die Skrif na, saam met die Heidelbergse Kategismus: Inderdaad, weens die geregtigheid en waarheid van God kon nie anders vir die sondes betaal word nie. Die dood van sy eie Seun was noodsaaklik. Ons bely dit skuldbewus.

    Ons bely dit ook met die diepste dankbaarheid.

    Christus se sterwe gee vir ons hoop. Ons sterwe is nou nie meer ‘n betaling van die sonde nie. Ons sterwe is nou slegs ‘n afsterwe van die sonde. Ons sterwe is ‘n deurgang tot die ewige lewe. In die Ou Testament het God se kinders ook al met hierdie troos geleef: U sal my opneem. U sal my opneem in heerlikheid! Die versoening wat God bied, is voldoende. God se kinders toe was slegs op die hoogte van die versoening by die tempel. Die offerdiens.

    Hulle het vertrou dat God die bloed van die diere wat geoffer is, aanvaar het as versoening. Diere-offers wat met ‘n opregte hart aan Hom geoffer is. Tog het hulle ook besef dat dit nie die finale betaling kon wees nie. God sou sy Gesalfde, sy Messias, nog stuur. Hoe en wat en presies wanneer, dit was nog onduidelik. Maar dit sou kom. Vandag ken ons die naam van die Messias. Hy het gekom. Hy het self gesterf. God het my siel losgekoop. Hy het die mag van die doderyk vergoed verbreek. Sy Seun, my Heiland, het dood en hel ondergaan. Daarom kan ek getroos lewe. As die dag kom, dat die hand van sjeool, die hand van die doderyk, my beetpak, dan trek hy my liggaam in die graf in, maar my siel kan hy nie meer bykom nie. My siel word direk opgeneem in heerlikheid. En soos Christus se liggaam uit die graf opgestaan het, so sal my liggaam ook. Die hand van die doderyk sal dan, op die jongste dag, vergoed verbreek word.

    Baie eeue gelede het die gelowiges hulleself getroos aan die lied van die Koragiete. Vandag het ons nog ‘n ryker troos. As ons hierdie psalm gaan sing, weet ons dat dit in Christus vervul is!

    Ja in Christus is elke belofte van God ja en amen!

    Amen.

     

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 73:5,6,7

Gebed

Skriflesing: Psalm 49

Ps 49:1,2,3

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 16

Preek

Ps 49:4,5,6

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 73:10-12

Seën