Die waarde van die stamboom van die Here Jesus Christus

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-05-13
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 14
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 14

Die vorige Sondag het gehandel oor die Godheid van Christus. Hierdie Sondag fokus ons op sy menslike natuur. Dat dit waar is – Hy het regtig ‘n mens geword.Deur die eeue was daar al verskeie teorieë ontwikkel oor die menswording van Christus. In die vroeë kerk was daar al ‘n keur aan dwaallere op hierdie gebied. Soos byvoorbeeld Valentinus wat beweer het dat Jesus nie werklik kind van Maria was nie, maar net deur haar heengegaan het, soos water deur ‘n geut stroom. Die Manicheërs het beweer dat Jesus sy liggaam uit die hemel saamgebring het, iets wat die Wederdopers ook in die eeu van die Reformasie beweer het. Dan was daar Marcion, wat beweer het dat Jesus slegs ‘n skynliggaam gehad het.

Die Heidelbergse Kategismus vat egter die Bybelse openbaring korrek saam, as dit stel dat die Seun van God, wat self ware en ewige God is, ook honderd persent mens geword het. Hy het uit die vlees en bloed van die maagd Maria die menslike natuur aangeneem. As baba het Hy in haar maag gegroei. Hy was met ‘n naelstring aan haar verbonde. Die voedingstowwe uit haar bloed het Hom laat groei. Sy was nie net ‘n draagmoeder nie, maar sy egte biologiese ma.

Jesus se geboorte uit Maria was ‘n wonder. Die geboorte op sig was net soos enige ander geboorte. Maar die feit dat Maria van Hom in verwagting geraak het. Josef en geen ander man was daarby betrokke nie. Die engel het vir Maria gesê: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.” – Lukas 1:35.

En soos die evangelis Mattheüs dit beskryf: sy is swanger bevind uit die Heilige Gees (Matth 1:18).

En soos die engel aan Josef gesê het: “wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees” (Matth 1:20).

Na aanleiding van die Bybelgedeeltes wat ons gelees het, fokus ons vanaand spesifiek op die frase, dat Jesus, omdat Hy uit Maria gebore is, ‘n ware nakomeling van Dawid is. Wat word daarmee bedoel? En is dit wel so? Langs welke lyn is Hy ‘n ware nakomeling van Dawid? Die Skrif sê op meerdere plekke dat Hy van Dawid afstam. Byvoorbeeld Lukas 1:32: “die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee”.

En dink aan wat daar staan in Romeine 1:3: God se “Seun wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid”.

Die vraag wat ons egter vanaand besig hou, is: hoe stam Jesus van Dawid af?

Want as mens noukeurig na die twee geslagsregisters kyk wat ons gelees het, sien ons dat hulle nie dieselfde is nie. Hoekom nie? Hierdie vrae is vandag nog steeds onverminderd relevant.

Tema: Die waarde van die stamboom van die Here Jesus Christus

  • Hy is seun van Dawid en Abraham (volgens die evangelis Mattheüs)
  • Hy is seun van Adam (volgens die evangelis Lukas)

    Gemeente, as mens ‘n soektog op internet doen oor Jesus se afkoms, sal jy vind dat dit ‘n hoogs kontroversiële onderwerp is. Joodse rabbi’s skryf blogs oor hoe belaglik die Nuwe Testament is, omdat dit twee teenstrydige genealogieë van Jesus bevat. Die kerk sou dit sogenaamd opgelos het deur die een die stamboom van Josef te noem, en die ander een die stamboom van Maria. Nie net Jode en Moslims nie, ook liberale teoloë, net soos die dwaalleraars uit die vroeë kerk wat ek hierbo genoem het, kom met ‘n keur aan teorieë oor Jesus se geboorte en afstamming. Meestal kom dit daarop neer dat die geboorteverhale wat ons in Mattheüs en Lukas lees, in die wese van die saak maar net mites is. En dat hierdie twee geslagsregisters onhistories is. Al met al genoeg rede om in hierdie leerdiens dieper te kyk na Mattheüs en Lukas se geslagsregisters.

    Josef en Maria was al in ondertrou. Dit beteken, hulle was al voor die wet getroud. Die Joodse gewoonte was egter dat hulle eers na die huweliksfees bymekaar ingetrek het. In hierdie tussenperiode is die Here Jesus deur Maria verwag, deur toedoen van die Heilige Gees. Maria was dus al wettiglik Josef se vrou. Die profeet Jesaja het geprofeteer dat ‘n meisie, ‘n maagd, sal swanger word en ‘n seun baar (Jes 7:14). Hierdie kind is gebore in Josef se huis, in sy huwelik, Josef wat afstammeling van Dawid was.

    As mens na die stambome in Mattheüs 1 en Lukas 3 kyk, is dit duidelik dat daar ooglopende verskille is. ‘n Manier om dit op te los, is dat verklaarders die stamboom in Lukas 3 beskou het as Maria se stamboom. Maria sou dan ook van Dawid afstam. ‘n Teks soos Romeine 1:3 sou dit noodsaaklik maak om Lukas 3 as Maria se stamboom te beskou. In Romeine 1:3 staan daar: God se “Seun wat gebore is na die vlees na die geslag van Dawid”. Ons weet dat Jesus nie uit die vlees van Josef afstam nie. Slegs van Maria. Tog hoef ‘na die vlees’ in Romeine 1:3 nie uitsluitlik biologies opgevat te word nie. Die Griekse kan ook oordragtelik vertaal word. As mens is Jesus die erfgenaam van Josef, in wie se huis Hy opgegroei het. Hy kom so uit die geslag van Dawid.

    Nou die vraag: is dit moontlik dat Maria ook ‘n afstammeling van Dawid was?

    Dit is nie onmoontlik nie, maar daar is verder geen direkte historiese aanwysings daarvoor nie. Al wat ons uit die Nuwe Testament oor Maria se stamboom weet, is dat sy in elk geval van Levi afgestam het (Luk 1:5,36) – Elisabet was haar bloedverwant. Oor Elisabet lees ons dat sy afgestam het uit die dogters van Aäron. Dit weet ons dus seker, Maria het van Aäron en Levi afgestam. Of sy ook Dawid, uit die stam Juda, as voorvader gehad het, is nie seker nie. Dit is heel moontlik. Baie Jode uit daardie tyd, duisend jaar na Dawid, het naamlik op een of ander manier van hom afgestam. Dawid het baie vroue en kinders gehad, en geneties stam ‘n baie groot deel van die Joodse volk van hom af.

    Maar die voorstel om Lukas 3 as Maria se stamboom te sien, bly kunsmatig.

    Hierdie oplossing sou veroorsaak dat Lukas 3:23 op ‘n nogal kunsmatige manier gelees moet word, waar daar staan dat Jesus die seun van Josef is, die seun van Eli, ensovoorts. Dan sou vanaf Eli skielik Maria se stamboom oorgeneem word. Dit is daarom beter om eksegeties daarvan uit te gaan dat sowel Mattheüs as Lukas Josef se stamboom bied. Eerder in Lukas word naamlik al verwys na Josef as familie van Dawid (Luk 1:27; 2:4). Dink ook aan Sagaria wat profeteer oor die horing van heil wat opgerig is in Dawid se huis – Lukas 1:69.

    ‘n Opvallende verskil tussen die twee stambome is dat Mattheüs die lyn volg van die verlede na die hede. Vanaf Abraham tot Jesus. Lukas volg egter die lyn van die hede na die verlede. Van Jesus heeltemal terug tot by Adam.

    Mattheüs, wat sy Evangelie spesifiek vir die Jode geskryf het, volg die lyn van die koningsgeskiedenis. Hy toon aan dat, omdat Jesus gebore is in die huis van Josef, dat Hy troonopvolger van Dawid is. Die koningslyn is egter nie per definisie identies aan die biologiese lyn nie. Dis nie die mees direkte genealogiese lyn nie. Ons weet byvoorbeeld dat Jegonja (ook wel genoem Gonja of Jojagin) kinderloos gesterf het (Jer 22:30). Omdat Jegonja geen biologiese kinders gehad het nie, het daarmee die biologiese lyn van Dawid via Salomo uitgesterf. Sy erfgenaam was Sealtiël, die seun van Neri. Die het ook afgestam van Dawid, maar nie via Salomo nie, maar via Dawid se ander seun Natan. Sealtiël het egter ook kinderloos gesterf, en toe het Serubabel sy opvolger geword.

    As ons na die verskille kyk tussen die stambome in Mattheüs en Lukas, val dit op dat die verskille slegs is in die periodes tussen Dawid en Serubabel, en tussen Serubabel en Josef. Wat betref die periode tussen Abraham en Dawid is daar nie verskille nie. En wat betref die periode tussen Adam en Abraham, dit word slegs deur Lukas weergegee.

    Nou enigiemand wie enigsins op die hoogte is van genealogie, oftewel stamboomondersoek, sal weet dat dit dikwels gebeur dat ‘n mens op verskillende maniere van ‘n verre voorvader kan afstam. Dit is logies dat die lyn van Josef na Dawid via sy seun Salomo, en die ander lyn via sy seun Natan, verskillende name sal bevat. Maar feit bly dat albei lyne teruggaan op Dawid.

    Nou is dit geweldig belangrik om hierby te noem dat die verlede kompleks is.

    Net soos die hede, was die verlede ook kompleks. Wie fout wil soek in die verlede, sal dit maklik kan vind as hy oppervlakkig daarna kyk. Dit is wat deur die eeue gebeur het, en ook vandag, as mense na hierdie twee stambome kyk.

    Mense soos liberale teoloë, of Joodse rabbi’s op hulle weblogs, spring dan tot die konklusie dat die Evangelies een groot versinsel is.

    In reaksie daarop kan ons nie altyd alle vrae beantwoord nie. Ons beskik nie meer oor alle feite uit die verlede nie. Maar liberale teoloë en Joodse rabbi’s sal moet erken dat dinge minder eenvoudig is as wat hulle voorstel. Net soos mens ook oënskynlike verskille tussen Konings en Kronieke kan opspoor, twee boeke uit die Ou Testament wat dieselfde geskiedenis beskryf. ‘n Deeglikse bestudering wys egter meestal uit dat dinge gekompliseerder is.

    Wat betref hierdie twee stambome, moet ons ook eerlik erken dat alle, vir ons oënskynlike probleme, nie opgelos kan word nie. Daarvoor het ons net te min gegewens uit die verlede tot ons beskikking. Sommige dinge kan wel opgelos word. Die name Johanan (Luk 3:27) en Hananja verwys waarskynlik na dieselfde persoon. Resa (Luk 3:27) is waarskynlik nie ‘n eienaam nie, maar ‘n titel. So kan meer voorbeelde genoem word van dinge wat misverstande kan wek.

    As ons in Mattheüs 1 die refrein lees “die vader van”, kom dit vanaf die Griekse woord wat beteken: hy het verwek. Hierdie uitdrukking is nie uitsluitlik gebruik om na iemand se eie kinders te verwys nie, maar kon ook gebruik word om te verwys na iemand se klein- en agterkleinkinders, sy nageslag in die algemeen. En as daar in Lukas 3 telkens staan: “die seun van”, “die seun van”, “die seun van” – verwys dit ook nie net uitstuitlik na die verhouding pa – seun nie. In Grieks staan daar letterlik slegs: “van”.

    Byvoorbeeld: Josef, van Eli, van Mattat, van Levi, van Melgi, ensovoorts.

    Dit moet mens versigtig maak om oppervlakkige gevolgtrekkings te maak asof daar teenstrydighede is.

    Tog het ons nie genoeg historiese inligting om alle verskille op te los nie.

    Hoekom stam Josef byvoorbeeld in Lukas 3 van Eli af, terwyl in Mattheüs 1 staan dat Jakob vir Josef verwek het? In die verlede het eksegete hierdie oënskynlike verskil in name van Josef se pa probeer oplos deur te beweer dat dit oor ‘n swaershuwelik, ook wel genoem ‘n leviraatshuwelik, sou gaan.

    Eli en Jakob sou twee broers wees wat met dieselfde vrou getroud was.

    Daar is egter nie genoeg historiese inligting om dit te bevestig of te verwerp nie. In sommige gevalle moet ons dus net eerlik sê: ons het nie ‘n oplossing vir elke oënskynlike verskil nie.

     

    Maar dit gaan te ver om daaruit te konkludeer dat òf Mattheüs, òf Lukas histories onbetroubaar sou wees. Dat hulle die geslagsregisters self sou versin het. Lukas skryf self aan die begin van sy Evangelie dat hy alles noukeurig ondersoek het (Luk 1:3). En daar is nie rede om aan te neem dat hy by hierdie geslagsregister onsorgvuldig was nie. Beide geslagsregisters is histories. Maar dit hoef hulle nie identies te maak nie. Mattheüs volg naamlik die lyn van die koningsgeskiedenis, terwyl Lukas vanuit die hede die genealogiese lyn terugtrek tot by Adam.

    Dit is belangrik om elke stamboom ook uit te lê in die konteks waarin dit staan. Lukas se stamboom begin by Jesus, en gaan terug tot by Adam. Lukas het sy Evangelie vir Theofilus geskryf, wat ‘n heiden was, nie ‘n Jood nie. Sy bedoeling met die stamboom was om aan te toon dat Jesus ‘n gewone mens was, en net soos alle ander mense op aarde van Adam afstam. Jesus het gekom om die hele wêreld met God te versoen, nie net die Joodse volk nie. Die Evangelie, die Goeie Nuus oor Christus, is nie net vir die Jode bestem nie. Hy het as Heiland ook gekom vir die Grieke en alle ander volke! Die heil gaan uit na alle mense! As Middelaar is Hy ‘n mens, net soos alle ander mense op aarde, met Adam as stamvader. Jesus as Middelaar wil op nederige wyse gereken word tot die geslag van die mensheid. Hierdie boodskap onderstreep Lukas met die stamboom in hoofstuk 3.

    By Mattheüs staan die stamboom in ‘n ander konteks. Mattheüs begin nie by Adam nie, maar by Abraham, die stamvader van die Joodse volk. Mattheüs het sy Evangelie in eerste instansie vir die Jode geskryf. Mattheüs volg, vanaf Dawid, die koninklike lyn in sy stamboom. Daarom vind ons die naam Salomo in die stamboom, Salomo wat sy pa as koning opgevolg het. In Lukas se stamboom vind ons nie Salomo se naam nie. Lukas volg die genealogiese lyn vanuit die hede terug na die verlede, en kom via die onbekende lyn Neri en Natan by Dawid uit. Mattheüs volg egter die lyn van die dinastie. Daarmee benadruk hy dat Jesus die troonopvolger is, waaroor die Ou Testament profeteer, wat die HERE uit die huis van Dawid sou stuur. Maar dis nie al wat Mattheüs doen nie. As hy slegs wou aantoon dat Jesus van Dawid afstam, kon hy ook volstaan het om die lyn vanaf Serubabel na Jesus te trek. Want die koninklike lyn tussen Serubabel en Dawid was in elk geval by die volk bekend.

    Mattheüs doen egter meer. Hy deel die geskiedenis ook in tydvakke op. Abraham tot Dawid. Dawid tot die Babiloniese ballingskap. En die Babiloniese ballingskap tot Christus. Drie periodes van veertien geslagte (Matth 1:17).

    Die begrip geslagte of generasies gebruik Mattheüs in oordragtelike sin, as die gemiddelde tydperk wat ‘n generasie geduur het.

    In die geskiedskrywing uit daardie tyd is die tydsduur van ‘n generasie op ongeveer 40 jaar bereken. Die geskiedskrywer Flavius Josefus neem byvoorbeeld 42 jaar per generasie. Die Griekse geskiedskrywers uit daardie tyd het ook met 40 jaar gewerk. As mens ‘n berekening maak, sien mens dat Mattheüs ook gewerk het met ‘n getal van ruim 40 jaar. Mattheüs het in sy stamboom dus nie daarna gestreef om presies drie keer veertien name te noem nie. Ons weet dat hy minstens die name van vier konings uitgelaat het.

    Hierdeur onderstreep hy die gelykwaardigheid van die drie periodes: Abraham tot Dawid, Dawid tot die ballingskap, en die ballingskap tot Jesus.

    Na hierdie drie makro-periodes is die Messias gebore, in die volheid van die tyd. Hy is gebore as wettige opvolger in die huis van Dawid. En Hy is gebore as die Messias, wat God al reeds eeue gelede, ja drie makro-periodes gelede, aan Abraham beloof het: “in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.” (Gen 12:3)

    Wat verder opval in Mattheüs se geslagsregister, is dat hy spesiale aandag skenk aan enkele vroue uit Jesus se stamboom. Mattheüs sonder enkele vroue uit, wat hy eksplisiet vermeld in die geslagslyn: Tamar, Ragab, Rut, Batseba.

    Heidense vroue, Ragab en Rut. En ook kontroversiële vroue. Tamar herinner aan stamvader Juda se sonde. Batseba herinner aan die gruwelike sondes van koning Dawid. Die boodskap wat Mattheüs hiermee wil oordra is: Die Verlosser is nie gebore uit ‘n suiwer ras nie, allermins.

    Dus nogmaals, wees versigtig om oppervlakkige gevolgtrekkings te maak, as dinge op eerste gesig nie dieselfde lyk nie. Die wetenskap van die genealogie, stamboomondersoek, is ‘n komplekse saak. Agter elke naam skuil ‘n hele verhaal.

    Die stamboom van die Here Jesus Christus het vir ons veel waarde. Sowel die lyn wat die evangelie Mattheüs volg, vanaf Abraham tot op Christus, as die lyn wat Lukas volg, vanaf Jesus terug tot by Adam. Hy is die Messias, die lig vir die wêreld. Hy is die een wat aan Abraham beloof is, die wie alle geslagte van die aarde geseën sal word. Hy is die opvolger in die huis van Dawid, wie se koningskap ewig sal wees. Hy is ook kind van Adam, mens onder die mense.

    En juis daarom kan Hy die perfekte Middelaar vir ons mense wees. Wat met sy onskuld my sonde waarin ek ontvang en gebore is, voor God kan bedek. Dit het God behaag om hom deel van die wêreldgeskiedenis te maak. Net soos elkeen van ons, het Hy ‘n menslike stamboom gekry.Hy het in alles aan ons gelyk geword, behalwe die sonde. Wat ‘n voorreg om so ‘n Middelaar te hê!

    Amen.

     

 

Liturgie: 

Votum (Ps 121:1)

Seën

Ps 132:1-3

Gebed

Skriflesing: Mattheüs 1

Ps 132:4-7

Skriflesing: Lukas 3:23-38

Ps 132:8-11

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 14

Preek

Ps 89:2,8,14

Gebed

Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Sb 1:3,5,6

Seën