Geliefde gemeente van Jesus Christus
ʼn Bekende Amerikaanse psigiater, wyle Karl Menninger, het die volgende gesê: “Ek kan hierdie psigiatriese saal met 70% beddens verminder as ek my pasiënte van 4 woorde kan oortuig. ‘Jou sondes is vergewe.’ ” 70%! Die angs, depressie, die swakheid, die gebrokenheid – dit is baie maal as gevolg van die gees van selfveroordeling. Die gees van onder af.
Jou sondes is vergewe – in Christus. Dit is hierdie vier woorde waaroor Paulus wroeg in hierdie brief: Die gemeente van Galasië het die een unieke oplossing vir die mensdom se grootste probleem weggegee, om voor die almagtige en Heilige God te staan as gebroke sondaars. Sonde, hierdie kerk is daarvan deurdring, dit is aanwesig in die hele mensdom. Sien u waarom hierdie vier woorde – Jou sondes is vergewe – vryheid is.
Vergewe: totaal en al, vry in Christus, ongeag alles wat jy voorheen gedoen het, en ten spyte van alles wat jy later sal doen – bloot deur geloof in Jesus Christus. Dit is die kern, niks behalwe Christus. Enige iets meer as dit sal van ons ‘n slaaf maak van die vrees vir sonde, skaamte en skuld. Dit is die stryd in vandag se teks. Is Christus alles – vryheid; of is Hy amper alles – slaaf van die sonde. Is dit vir almal, vir alle nasies, vir ons - vryheid, of is dit net vir ‘n sekere kultuur – slaaf van die sonde.
Daar is slegs een, een oplossing vir elkeen van ons hier. Jesus Christus. Toe Hy op Golgota gekruisig is, het Hy elkeen se plek ingeneem wat in hom sal glo. En sy geregtigheid, sy sondelose lewe is ons sʼn , sodat ek, met respek, kan sê: “Die wat in Christus glo het net soveel reg om hemel toe te gaan as Jesus Christus self.” Is dit nie ongelooflik nie.
Die apostel gaan na Jerusalem om hierdie vryheid te verdedig – ʼn evangelie wat hy reeds vir ʼn lang tyd verkondig het. Veertien jaar, om presies te wees. Ek weet nie wat jy 14 jaar gelede gedoen het nie. Baie van ons se lewens het die laaste 14 jaar verander – in elke aspek van ons lewes, ook moontlik is ons denke. Dit is omdat ons ‘n aantal verskillende dinge gedoen het – maar Paulus het vir 14 jaar dieselfde evangelie verkondig. As ʼn mens daaraan dink dat Paulus die evangelie vir 14 jaar verkondig het, dan sou ʼn mens veronderstel dat dit wat hy verkondig het, redelik helder uiteengesit was. Sodra ʼn mens dieselfde ding vir 14 jaar doen, is dit redelik gevestig. En Paulus het hierdie ondervinding nodig gehad to hy na Jerusalem gegaan het, omdat vryheid op die spel was. Ek verkondig aan julle die Woord van God onder die volgende tema:
Wanneer die vryheid in Christus op die spel is:
- Staan saam in die waarheid
- Werk saam in die waarheid
- Dien saam in die waarheid
Staan saam in die waarheid
Die valse predikers het gesê dat Paulus se boodskap nie van Jerusalem gekom het nie en dat hy minder outoriteit het as die ander predikers daar. In die eerste hoofstuk het Paulus die punt gemaak dat sy boodskap van Jesus Christus self kom. (Gal 1:12) “Want ek het dit ook nie van ‘n mens ontvang of geleer nie, maar deur ‘n openbaring van Jesus Christus.” Nou maak hy die stelling dat, alhoewel die boodskap van Jesus gekom het, dit dieselfde boodskap is as wat Jesus aan die dissipels in Jerusalem gegee het, dit verskil nie.
Ons weet ook dat hierdie boek waarskynlik vroeg in Paulus se bediening geskryf is. Hy was bekend as ʼn sendeling, maar waarskynlik nie ʼn leier nie. Toe hulle na Jerusalem gegaan het, was Barnabas steeds die leier van die groep. Dit is nie Barnabas en Titus wat saam met Paulus gegaan het nie. Nee, kom ons lees weer wat vers 1 sê: “veertien jaar later, ek het weer na Jerusalem opgegaan met Barnabas, en Titus ook saamgeneem.” Hy het dus saam met Barnabas gegaan, en Titus ook saamgeneem. Barnabas was dus die leier hier. Drie vriende – verenig in een Here – saam vegtend vir die een evangelie. Hierdie drie kon nie meer verskillend gewees het nie: ʼn Fariseër, ʼn Jood van Ciprus en ʼn Christen uit die heidendom. Drie vriende wat op pad is na Jerusalem en wat moet saamstaan in die waarheid.
Paulus het saam met Barnabas gegaan en Titus saamgeneem – ʼn heiden wat nie besny was nie neem hy saam na die hart van Jerusalem. In daardie dae sou sommige gedink het, dit is belaglik Paulus. Wat besiel jou om ʼn onbesnede heiden na ʼn Joodse land, na Jerusalem te neem? Hy gaan uitstaan soos ʼn seer duim. Dit sal wees soos ʼn All Black-ondersteuner by ʼn Springbok-wedstryd in Pretoria. Hy sal dadelik opval, veral as hy langs jou sit en sy span luidkeels aanmoedig. Paulus het geweet dit gaan gevaarlik wees, maar hy doen dit in elk geval. Maar waarom? Die man wat hy saamneem was ʼn getuienis van die evangelie wat Paulus verkondiging het die laaste 14 jaar. Hy was ‘n lewendige getuie van die evangelie wat Paulus in Jerusalem gaan verdedig.
Hy wou ʼn punt bewys – In die kerk van Jesus Christus, is almal wat in hom glo, welkom. Dit sluit in die kerk van Jerusalem. Almal is welkom. Daar is nie twee verskillende spanne nie. Nie ʼn Joodse span en ʼn heidense span nie. Daar is een kerk – die kerk van Jesus Christus. En daardie kerk het geen inisiasie-rituele voordat jy lid daarvan mag word nie. Daar was nie proewe waar die swakste spelers uitgelaat is nie. Jy kan vry by die voorste poort ingaan, maak nie saak wie jy is nie, maak nie saak wat jou agtergrond is, maak nie saak wat jou etnisiteit is nie. Jy mag ingaan deur die poort Jesus Christus.
Dus hierdie drie vriende gaan na Jerusalem, soos ons lees in vers 2: “ek het opgegaan op grond van ‘n openbaring en hulle die evangelie voorgelê wat ek onder die heidene verkondig;” Dit is nie Paulus wat ʼn groot ding hiervan wil maak nie, dit is God wat dit belangrik ag. Dit was ʼn opdrag van God, ‘n openbaring. God het vir hom gesê, jy moet na Jerusalem gaan om oor die evangelie te praat, hulle moet hoor wat jy vir die laaste 14 jaar gedoen het.
Paulus het geweet dat hy direk na die leiers moes gaan – hy geweet as die leiers van die kerk verenig is, sal die res van die kerk volg. As die leiers van die kerk saamstaan in Christus, dan sal die kerk volg, ongeag hoe verskillend hulle is.
Ek dink ons kan almal uit ondervinding sê dat, wanneer die leierskap verdeeld is, is die kerk verdeeld. Dus gaan Paulus na hulle afsonderlik om seker te maak dat hulle dieselfde oor die saak dink. In vers 2b lees ons: “afsonderlik aan die wat in aansien was, dat ek nie miskien tevergeefs sou loop of geloop het nie.” Dit moes privaat en op ʼn sensitiewe manier gedoen word. Hierdie was ‘n groot saak.
Dit is vir ons vandag moeilik om te besef hoe groot en belangrike saak dit was. Besef u dat die mense se hele identiteit op die spel was. Om die enigste ware God te aanbid, het hand aan hand gegaan met die Mosaïese wette van ʼn duisend jaar oud! Dit het ingehou dat jy besny moes word. ‘n Duisend jaar van tradisie. Geen wonder dat Paulus in privaatheid met hulle gepraat het. ‘n Kultuur en ‘n tradisie gaan gewoonlik saam, en hier nog meer aangesien dit uit die Here se wet kom.
Daar is sekere dinge wat net deel van jou identiteit is. En vir hierdie Jode sou dit gevoel het of daardie einste identiteit van die kerk op die spel was! Sou dit Joods bly of Christelik word? Waar was hul lojaliteit – by Christus of by Moses?
Paulus het verstaan hoe belangrik dit was en hoe belangrik dit vir die leiers was om saam te staan vir die waarheid van die evangelie. Hy doen dit sensitief, maar ferm. Hy was bang dat hulle nie saam met hom sou staan vir die evangelie nie. Dit is die vrees van enige predikant is dat een valse leer die jare-lange verkondiging van Christus sal ondermyn. Dit was ook Paulus se vrees. ʼn Mens kan dit aanvoel in die woorde: “dat ek nie tevergeefs sou loop of geloop het nie”. Hy het geweet dat hy nou al sy kaarte op die tafel moes sit.
En dan kan ʼn mens kan byna sy opgewondenheid hoor in die volgende vers. Dit is een van die moeilikste verse om te vertaal in hierdie gedeelte. Paulus is nou so opgewonde. Vers 3: “Maar selfs is Titus, wat by my was, nie gedwing om besny te word nie, alhoewel hy ʼn Griek is;” Dit is soos Raai wat!! Dit was nie nodig vir Titus om besny te word nie.
Dit was nie asof die Jode nie probeer het nie. Vers 4 verduidelik, “dit vanweë die in gesmokkelde valse broeders wat ingesluip het om ons vryheid te bespied wat ons in Christus Jesus het, sodat hulle ons in diensbaarheid kon bring;” Nietemin was die hoofsaak dat Titus nie besny was nie.
Waarom is Paulus so opgewonde hier. Waarom is dit so belangrik vir hom? Waarom het hy nie net vrede gemaak en hom laat besny nie? Hy het mos Timoteus laat besny.
Dit is omdat hierdie mense, menslike kriteria gebruik het oor hoe om ʼn Christen te wees. Dit is soos in ons kultuur wanneer gesê word dat ʼn mens maer moet wees om mooi te wees. Jy moet universiteit toe gaan om in die wêreld gehoor te word. Jy moet sus of so doen om ʼn Christen te wees. Sien jy hoe hierdie dinge van ons slawe maak. Ons word slawe van ʼn sekere liggaamsbeeld (slankheid), ons aanbid hoër onderwys (om gehoor te word of om geld te hê). Skoonheid is nie beperk tot dié wat maer is nie, om gehoor te word is nie beperk tot ʼn universiteitsgraad nie, om ʼn Christen te wees is NIE beperk tot enige menslike norm of kriteria of kultuur nie. Die Westerse kultuur het net so min ʼn monopolie oor Christenskap as wat die Jode gehad het. Wanneer ons in die Hemel kom mag die meerderheid waarskynlik nie-blank en nie-Jood wees.
Hoekom sou dit so wees? Omdat die leiers in Jerusalem 2000 jaar gelede saamgestaan het vir die waarheid, soos ons in vers 5 lees: “aan wie ons selfs nie ʼn oomblik in onderworpenheid toegegee het nie, sodat die waarheid van die evangelie by julle bestendig sou bly.” Paulus het geweet dat die goeie nuus van Jesus Christus se dood en opstanding nie verbeter kon word nie. Dit is ʼn gevaar in elke generasie: om aan sekere aspekte van Christenskap ‘n meer verhewe plek te gee: selfs ‘n goeie aspek, soos ʼn kenmerkende leer of styl van aanbidding, of ʼn politieke of sosiale doel, of soos om iets te doen of nie te doen wat die wêreld doen nie.
Maar vir die evangelie om evangelie te wees, moet dit op sy eie staan. Die evangelie is Christus plus niks. Ons hoop is gebou op niks minder nie as Jesus se bloed en geregtigheid. Ons hoop is ook op niks meer gebou as op Jesus se bloed en geregtigheid nie. Daar is geen byvoegings nie. Geen alternatief vir Jesus nie. Gelukkig het die leiers van die vroeë kerk dit besef en het hulle nie vir ʼn oomblik ingegee nie. Hulle het saamgestaan in waarheid en mekaar as broeders in Jesus Christus herken. Wat ons by die tweede punt bring....
Werk saam in die Waarheid
Paulus sê in vers 6: “Maar van die wat in aansien was – wat hulle vroeër was, maak by my geen verskil nie; God neem die persoon van die mense nie aan nie – hulle wat in aansien was, het my niks meer opgelê nie.” Hierdie leiers in Jerusalem, die apostels van wie die valse leraars gesê het dat hulle die regte leiers van die Christendom is, het niks aan Paulus se boodskap bygevoeg nie. Sy evangelie was die boodskap van genade – en genade plaas almal op gelyke speelveld. Voor die kruis is ons almal gelyk. Ek gee nie om of jy die koning in ʼn kasteel of die hawelose onder die brug in Stormvoël weg is nie – in die kerk van Jesus Christus is ons almal gelyk. Populariteit en rykdom beteken niks voor God nie. In werklikheid: “wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.” Die boodskap van die evangelie is die groot gelykmaker: dit verneder die trotses en arrogantes en verhoog die nederiges. En dit was hierdie evangelie waaraan die dissipels in Jerusalem niks toegevoeg het nie, maar eerder met hom ʼn vennootskap aangegaan het in die bediening van die evangelie.
U sien: Paulus se doel was om ‘n nuwe mensdom onder een vaandel te verenig: die vaandel van Jesus Christus. Mag dit dan wees ook hoe ons geken mag word – as volgers van Jesus Christus en hom alleen. Dit beteken NIE om homogeen (almal dieselfde) te wees nie, dit beteken eenheid in verskeidenheid. Dit beteken dat Jood en heiden in dieselfde gebou sit. Daar was in daardie tyd nie meer twee teenoorgestelde groepe mense nie. Dit het ’n wonderwerk gevat om hulle saam te bring en die wonderwerk was Jesus Christus. Dit beteken om jou broer en suster, in die oë te kyk en te sê: “ons stem miskien nie met alles saam nie, maar ek is lief vir jou, omdat ons een is in Christus.” In Christus het ons almal dieselfde Vader, ons is almal verwant aan mekaar. Ek kan dus sê dat almal in in hierdie kerk wat in Jesus Christus glo, is my broers en my susters, my moeders en my vaders, my seuns en my dogters. Dit geld nie net binne ons kerk nie, maar is ook waar vir ons verhouding met almal wat in Jesus Christus glo. Die laaste ding wat Paulus wou hê, was ʼn miljoen verskillende kerke en federasies met hulle eie kenmerke. Hy wou een algemene kerk hê - ʼn gemeenskap van Jode en heidene. Dit maak nie saak wat jou afkoms is nie. Almal is een in Christus as jy in hom glo en in hom alleen! Dit maak nie saak of jy Nederlander, Suid-Afrikaner, Amerikaner of Asiër is nie: julle is een in Christus.
U sien, om verskille te hê is op sigself nie verkeerd nie. Die besnydenis op sigself is nie reg of verkeerd nie – hy het Timoteus immers besny – maar hierdie dinge is nie langer tekens van verlossing nie. Dít is vryheid. Om nog steeds jou eie pragtige tradisies en gewoontes te hê, maar om terselfdertyd te besef dat dit jou nie beter as ander maak nie. Die vryheid waarvan Paulus praat is nie een of ander innerlike spirituele ding nie – dit is vryheid wat toelaat dat die kerk kan saamkom in Christus, dat geen enkele tradisie die hoogste gesag in die kerk het nie. En dit is presies wat die kerk in vers 7 bely – twee kulture – een volk – een boodskap.
Vers 7: “Maar, inteendeel, toe hulle sien dat aan my die evangelie vir die onbesnedenes toevertrou is, net soos aan Petrus dié vir die besnedenes...” Dieselfde evangelie wat aan verskillende mense gepredik word. Dit is pragtig. Hulle was een in die waarheid. Hoekom? Want dieselfde God was werksaam in beide – die God van waarheid. En Hy het dieselfde koninkryk-boodskap vir alle mense wat vandag steeds wil luister.
So is die apostels verenig, maar elkeen het ʼn spesifieke taak gehad. Die punt is dat die kerk slegs ‘n diversiteit kan toelaat wanneer daar eenheid in die boodskap is.
En noudat hulle saamstem, kan elkeen sy eie pad gaan. Vers 8 sê: “want Hy wat Petrus bekragtig het met die oog op die apostelskap vir die besnedenes, het my ook bekragtig met die oog op die heidene.”
In vers 7 sien ons dat “hulle sien dat aan my die evangelie vir die onbesnedenes toevertrou is” en aan die begin van vers 9: ”hulle merk die genade wat aan my gegee is.” Hoe het hulle daardie genade opgemerk? – omdat dit aan hulle self gewys is in Christus. ʼn Mens kan nie iets opmerk as jy dit nie eers self gesien het nie. Dit is goed om die genade aan die werk te sien in ander, hulle wat genade in ander mense opmerk, moet ook nie bang wees om dit vir hulle te vertel nie. Mense wat vol van die genade is, is mense wat stadig is om te kritiseer en stadig om kwaad te word. Ons mag dankbaar wees dat daar so baie van hulle hier in die kerk is. God se genade open ons oë vir die genade in ander. Open julle oë en verheug julle in God se genade vir jou naaste net soos wat die apostels in Jerusalem gedoen het.
En omdat hulle die genade opgemerk het, het hulle dit verseël met die regterhand van gemeenskap. Vers 9: “...en toe hulle merk die genade wat aan my gegee is, het Jakobus en Céfas en Johannes, wat as pilare geag is, aan my en Barnabas die regterhand van gemeenskap gegee.”
Daar is ‘n legende van Churchill, die eerste minister van Engeland gedurende die Tweede Wêreldoorlog, wat vir ’n lang ry mense almal se hand moes skud, en hy het baie verveeld geraak. Hy besluit toe om vir die mense wat sy hand geskud, te sê: “Ek is ʼn Duitse spioen,” net om te kyk wat die reaksie is wat hy sou kry. Hy het dit met ʼn baie vriendelike stem gesê, so asof hy maar net “gesê het Hallo, ek is ’n Duitse spioen”, en die meeste mense het geantwoord: “Dit is gaaf. Is dit nie ʼn mooi aand nie?” Hulle het dit nie eers gehoor nie! Net een man het toe in Churchill se oor gefluister: “Geen wonder dat die Duitsers verloor nie.”
Hoe gereeld skud ons nie net hand en dit beteken nie rêrig veel nie?
Maar dit was nie so in die eerste kerk nie. Wanneer hulle “die regterhand van gemeenskap” gegee het, het hulle ʼn vennootskap gevorm. Hulle het ooreengekom om ʼn gesamentlike taak te deel. Hulle het hand geskud daarop! Daardie handskud het betekenis gehad. In hierdie geval was dit die taak om die evangelie te verkondig. En hulle het ooreengekom om dit nie net saam te verkondig nie, maar hulle het ook ooreengekom om saam te staan. En deur dit te doen, het hulle besluit om saam te dien. Dit bring ons kortliks by die laaste punt.
Om saam te dien
Een van die pragtige eienskappe van Christenskap is die feit van omgee. Christene gee om, gee om vir ander. Ons gee om vir ʼn ander se welstand, vir die ewige sowel as vir die huidige. Diensbare liefde is die hartklop van ons geloof – omdat dit die hartklop van God is – dit is die rede waarom Christus se hart aan die kruis ophou klop het. Terwyl die wêreld veg vir mag, vir geld, invloed en aansien, gaan die kerk van Jesus Christus rustig voort om te dien en lief te hê – nie op soek na erkenning nie – maar omdat hulle in Christus besef dat nie een van ons beter as die ander een is nie.
Dit is geen wonder nie dat die laaste vers van ons teks lees: “alleen moes ons aan die armes dink, wat ek my juis ook beywer het om te doen.” U sien, die evangelie van genade is besonders prakties – die evangelie van genade gee om vir dié wat niks het nie. Dit terwyl die valse leraars hulle bekommer het oor populariteit en die prestige van die apostels in Jerusalem. Paulus en die res van die kerk hef – aan die einde van ons teksgedeelte – die armes op. ʼn Deel van die hartklop van ons gemeente is ook om te sorg vir die armes, eers in ons eie gemeente, maar ook in die gemeenskap. Ons gee om, omdat Christus vir ons omgegee het.
Daar is sommige mense wat nog leef in die waan van ʼn valse godsdiens waar wêreldse status en aansien iets beteken en jou waardig maak. Hulle sê dat, afhangende van wie jy is en na watter kerk jy gaan, bepaal of jy waardig is. Maar hulle het nie die vaagste benul van wat dit beteken dat Christus gesterf het vir die goddelose nie. Lees deur maar die Bybel en jy sal baie vinnig agterkom vir wie God omgee. Hy gee om vir gebroke, nederige, sondige mense. Hy gee om vir die weduwee en die wese. Hy gee om vir die armes. Hy gee om vir ons.
God se kriteria vir waarde is nie soos ons sʼn nie. Hy gee geen aandag aan hoe ver jy en ek op die sosiale leer geklim het nie. In ʼn gemeenskap van genade sal jy iets wonderliks vind, jy sal vind dat die wat as die grootstes geag word, diegene is wat die kleinstes dien. Die armes in die tyd van Paulus is as ‘kultureel waardeloos’ gesien. Daardie mense het niks aan die samelewing bygedra nie. Ons betaal die belasting – nie die armes nie. Die houding was - hulle het hulle self daar laat beland - laat hulle hulself maar weer daaruit kry. Maar die kerk van Jesus Christus van daardie tyd het besef - dat as God so sou gedink het, sou daar nie ʼn kerk gewees het nie.
Net ʼn paar jaar gelede (2012) het Princeton, Peter Brown se omvattende studie van rykdom en armoede in die antieke samelewing gepubliseer. Hy het opgemerk dat daar ʼn radikale verskuiwing in die samelewing se siening van die armes in die 4de en 5de eeu was as gevolg van die invloed van die Christendom. Brown het geskryf: “Die armes is baie keer gesien as verteenwoordigend van die uiterste van die menslike toestand, mense wat huiwer op die rand van vernietiging en verdoem is tot die uithoeke van die samelewing.” Die armes is gesien as ANDER, as DAARDIE MENSE.
Toe het die goeie nuus van Jesus Christus oor die Romeinse ryk gespoel en ʼn dramatiese verandering gebring. Brown skryf: “Die armes was nie bloot ANDER nie – skepsels wat op die rand van die samelewing gehuiwer het, wagtend om deur die rykes gered te word nie. Hulle was ook BROEDERS. Hulle het die reg gehad om ‘uit te roep’ vir geregtigheid in die gesig van die verdrukkers, saam met al die ander lede van ‘God se volk’.”
U sien, wanneer ons waarlik glo dat God ALMAL wat op Sy Seun vertrou, aanvaar, dan maak ons geen onderskeid tussen ryk en arm, blou- en witboordjie, ons mense en hulle mense, Kleurling, Blanke en Swarte nie. Daar is geen ANDER in die kerk van Jesus Christus nie. Ons is eerder almal BROEDERS en susters in God se familie, wat oor tye en plekke heen strek.
Ten slotte as samevatting. Ons kan vanoggend hier weggaan nommer 1 met die wete – Kerk van Christus, ons is verenig. Kyk om u heen. Hierdie is jou familie, verskillende agtergronde, verskillende opinies, verskillende toekoms visies. Dit is ‘OK’. Selfs goed, so lank as wat ons aan die einde van die dag na die Skrif kan teruggaan en weet dat ons verenig is in die boodskap van hierdie Boek. In Christus alleen. Dieselfde boodskap vir elke stam, taal en nasie onder die hemel. Onthou daardie dag tweeduisend jaar gelede toe Paulus hierdie stryd gewen het sodat ons vandag hier kan wees. Elke mens, of hy nou in China, Amerika, Europa of Afrika woon, het dieselfde probleem en het dieselfde oplossing nodig. As Christenskap aan die Joodse kultuur gebonde was, sou die boodskap gebind wees. Dit is soos om Christenskap vas te maak aan Afrikaanse kultuur of ’n Nederlandse kultuur of ’n Amerikaanse kultuur. Dit is die eerste om saam te neem..
Die twee punt om saam te neem. As jy hierdie week binnegaan, dan is dit my bede dat jy die genade van God in die mense rondom jou sal raaksien. In jou familie, in jou medewerkers, in jou gemeente en bo-alles in jouself. En as jy daardie genade in jouself besef, wanneer jy sien wat God vir jou gedoen het in Christus, dan gaan jy ander mense totaal anders sien. Onthou die armes, onthou die verstotenes en daar is baie hier om ons. Want dit was jy, dit was ek, voordat God ons geneem het en ons verander het van die binnekant af. Daarom was hierdie vraag wat daardie dag in Jerusalem beantwoord is, van die uiterste belang. Sou Christus deur mense vasgevang wees, of sou die evangelie tot in die uithoeke van die wêreld ontplof? Die feit dat ek en jy hier sit as kinders van God, is die antwoord op daardie vraag. Hou daarom Christus nie net vir jouself nie.
Amen.
Lees: Galasiërs 2
Teks: Galasiërs 2 : 1 – 10
Sing: Psalm 100 : 1, 2
Psalm 103 : 5, 6, 9
Psalm 102 : 8, 9, 10
Skrifberyming 33
Psalm 96 : 1, 2, 7, 8