Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 12,31
Net soos laasweek, staan ons vanaand stil by een van ons Heiland se name.
Laas week het ons na sy naam Jesus gekyk. Vanaand kyk ons na Christus.
Hoekom word Hy Christus genoem? Die Kategismus verduidelik wat dit beteken. Dit beteken naamlik Gesalfde. Maar wat is die waarde vir ons om dit te weet? Wat beteken dit vir ons dat Hy Gesalfde genoem word?
Tema: Jesus is die Christus
1 Hy is gesalf deur God
2 Hy is dié Gesalfde van God
1 Hy is gesalf deur God
Christus is oorspronklik nie ‘n eienaam nie. Die eienaam, die roepnaam, van ons Heiland op aarde was Jesus. Jesus was sy naam, soos ons ook name het, Jan, of Anja, of Michelle, of Michael. Behalwe vir ‘n naam het ons ook ‘n van.
Maar destyds, in die Bybelse tyd, het die mense nie ‘n van gehad nie. Wat wel gebeur het, is dat mense die seun van of die dogter van iemand genoem is.
Byvoorbeeld Koos, die seun van Jan. Of Dawid, die seun van Isaï.
Maar Christus is nie Jesus se van nie. Christus, wat gesalfde beteken, is ‘n titel.
‘n Titel soos mense vandag ook titels het. Soos Dokter Jansen, of Professor Klaasen. So het mense verskillende titels, na gelang van hulle beroep.
Daar is notarisse, advokate, onderwysers, timmermanne, predikante, ensovoorts. Soms plaas ons die titel voor die naam, byvoorbeeld Dokter Johan.
Soms plaas ons die titel agter die voornaam, byvoorbeeld Johan, die dokter.
In die Bybel sien ons dit ook met Jesus. Soms staan daar Jesus die Gesalfde, oftewel Jesus die Christus. En soms staan daar: Gesalfde Jesus, oftewel Christus Jesus. Christus is dus die titel. Hiermee word sy werk, sy beroep, sy roeping aangedui. Gesalfde, oftewel Christus, oftewel die Hebreeuse woord daarvoor: Messias.Daarom word ons Heiland ook Jesus die Messias genoem, wat dieselfde is as Jesus die Christus.
‘n Messias was in die Ou Testament iemand wat gesalf is. Dit het naamlik soos volg gegaan, dat heerlike olie, heerlike parfuum kan mens dit ook noem, oor iemand se kop gegiet is. Dit was ‘n simboliese tradisie om aan te dui dat daardie persoon geroep word om ‘n bepaalde taak te gaan vervul. God het daardie persoon byvoorbeeld geroep om koning te word, of ‘n profeet, of ‘n priester. Hy het hom geroep deur hierdie simboliese handeling. Dink aan Samuël, toe hy na Betlehem gegaan het om Dawid daar te salf. Nadat al Isaï se seuns verbygekom het, het God die jongste een aangewys, waarna Samuel die oliehoring geneem en hom gesalf het. In daardie tyd het die mense nie hulle olie of parfuum in glasbotteltjies gebêre nie, maar in die horing van ‘n dier wat uitgehol is. Die horing van ‘n bees byvoorbeeld. Op die oopkant van die horing is ‘n deksel geplaas, of dit is met ‘n lap toegebind. In so ‘n horing is dikwels vloeistowwe bewaar, soos water, of lekkerruikolie. Daarmee het Samuel dus vir Dawid gesalf. Met hierdie simboliese handeling het hy visueel uitgebeeld, sigbaar vir sy broers en ouers en almal aanwesig, dat hierdie die toekomstige koning sal wees.
Hoekom is iemand juis met olie gesalf? Olie was ‘n baie belangrike produk in die Midde-Ooste in die Bybelse tyd. Olie, dan dink mens spesifiek aan olyfolie.
Olie is gebruik, nie net om jou maaltyd voor te berei nie, maar ook om lig te maak (dink aan olielampe en fakkels). Olie is ook gebruik om parfum te maak.
Parfuum wat lekker ruik. Maar ook parfuum vir medisinale doeleindes, om wonde te versorg.
Die land Israel het ‘n droë klimaat. Die land bestaan vir ‘n groot deel uit woestyn.‘n Droë en dor gebied. As gaste op besoek gekom het, en hulle het ‘n lang en vermoeiende reis deur die woestyn agter die rug gehad het, het die woestynsand hulle vel uitgedroog. Die eerste wat ‘n gasheer dan gedoen het, was om hulle voete te was – die mense het op sandale geloop.
En vervolgens het die gasheer die gaste voorsien van olie wat lekker ruik.
Daarmee kon hulle hul voete insmeer, en indien nodig hande, bene en arms, sodat die mense weer vars gevoel het. So het die olie ‘n verkwikkende werking gehad.
Hierdie verkwikkende werking van olie word in die Bybel oordragtelik gebruik as ‘n simbool vir die werking van die Heilige Gees. Dit is dan ook die rede hoekom iemand gesalf is. As iemand gesalf is, het hy dus simbolies die Heilige Gees ontvang. Salwing het beteken dat God iemand roep in ‘n bepaalde amp. Maar die roeping was nie net – by wyse van spreke – dat die persoon ‘n aanstellingsbrief ontvang het nie. Nee, God het iemand – soos die profeet Samuel – na hom toegestuur om hom te salf. Deur hierdie simboliese handeling het God te kenne gegee: Ek roep jou nie net nie. Maar Ek maak jou ook bekwaam. Ek gee jou ook die moontlikhede om hierdie roeping uit te voer. Ek gee my Gees aan jou – die olie staan simbool vir die Gees.
Hy sal jou inspireer. Hy sal jou voed, verkwik, bemagtig, opbeur.
Wie gesalf is, het dus ‘n spesiale opdrag van God gekry. En daar het dit nie by gebly nie. God het ook sy Gees gegee om in daardie persoon te woon. Om hom te help om sy opdrag, sy amp, goed uit te voer. So is Dawid dus deur Samuel gesalf om koning te word. En dan volg die veelseggende opmerking daarna: “en die Gees van die HERE het van die dag af en verder oor Dawid vaardig geword.” (1 Sam 16:13)
By die Here Jesus was dit ook so. Hy was ook ‘n Gesalfde. Hoewel Jesus nie met olie gesalf is nie. Ons lees dit nêrens in die Nuwe Testament nie.
Wel is Jesus met die Heilige Gees gesalf. Ons het dit gelees. Nadat Hy deur Johannes gedoop is, het die Heilige Gees op Hom neergedaal. Daar het ‘n stem uit die hemel gekom.
“U is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.” (Mark 1:11)
En dan volg die veelseggende opmerking:
“En dadelik het die Gees Hom uitgedryf in die woestyn.”
Ook by Jesus was dus baie duidelik merkbaar dat die Heilige Gees in Hom gekom het. Die Gees het Hom vervul om sy toekomstige amp te kan uitoefen.
Die Gees het Hom as’t ware in beslag geneem. Die evangelis Markus gebruik ‘n baie sterk woord: Die Gees het Hom uitgedryf in die woestyn in.
So sterk was die leiding van die Gees in sy lewe. Die Gees het die leiding gehad.
Dat Jesus self ook goed daarvan bewus was dat die Gees in Hom gewoon het, dat die Gees op sy lewe beslag gelê het, blyk uit sy eerste openbare optrede.
Die eerste keer toe Hy ‘n erediens gelei het in die sinagoge te Nasaret. Hy sê dan, en Hy gebruik hiervoor bekende woorde uit die profeet Jesaja:
“Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees” (Luk 4:18).
God het Jesus dus gesalf. Nie net met olie as simbool nie, maar nog veel konkreter met die Heilige Gees, wat in die vorm van ‘n duif op Hom neergedaal het. God het ook direk vir Jesus gesalf. Nie via ‘n ander persoon, soos God vir Dawid via Samuel gesalf het nie. God het Jesus persoonlik gesalf.
God se eie stem het uit die hemel geklink. Voortaan mog Jesus Homself Gesalfde noem, Christus, Messias.
Maar, gemeente, oor Jesus is daar nog meer te sê. Hy is nie net ‘n gesalfde, ‘n christus, ‘n messias nie. Hy is DIE Christus, DIE Messias, DIE Gesalfde.
(Tema: Jesus is die Christus
1 Hy is gesalf deur God)
2 Hy is dié Gesalfde van God
U weet net so goed soos ek dat daar slegs een Christus is. Ons Here Jesus Christus. Tog het ons in die eerste punt gesien dat die naam Christus eintlik beteken: gesalfde. En in die Ou Testament was daar baie mense wat gesalf is.
Dink aan al die konings, profete en priesters. Hoe het dit dan gebeur dat dit op ‘n stadium so ver gekom het dat daar deesdae slegs oor een Christus gesalfde gepraat word. Een Gesalfde, een Messias?
Wel, omdat Hy sy Middelaarswerk hier op aarde so goed, so perfek gedoen het, op so ‘n onnavolgbare wyse, het Hy alle ander gesalfde eens en vir altyd oortref. Wat hulle nooit kon regkry nie, kon Hy wel.
Na Hom was daar geen behoefte meer aan ‘n ander gesalfde, ‘n ander christus, ‘n ander messias nie. En so het dit gekom dat sy titel ook vir Hom ‘n eienaam geword het. As mens deesdae die titel noem, Christus, of Messias, dank dink almal direk aan slegs een Persoon: Jesus van Nasaret.
In die Ou Testament was daar baie messiasse, gesalfdes. Hulle het geweet dat, as iemand gesalf is, hy deur God aangestel is. En dat mens in daardie persoon, in sy amptelike posisie, God self ontmoet het. Die gesalfde profeet het byvoorbeeld God se Woord gebring. Elkeen moes na hom luister. Nie omdat hy as persoon so belangrik was nie. Maar vanweë sy amp, sy gesalf-wees. En dan was daar die koning. Die gesalfde koning het in God se naam geregeer.
Aan hom moes almal onderdanig wees. Weereens nie vanweë sy persoon nie, maar omrede sy amp, wat hy van God ontvang het. En dan was daar die priester. Ook die priester is met sy salwing deur God aangestel. Almal moes hom eerbiedig. Hy het die offers namens die volk voor God gebring.
Kortom, in ‘n geslafde het die volk dus vir God ontmoet. Al hierdie gesalfdes het hulle amp wel met gebreke uitgeoefen. Meestal was dit so, dat as dit aan die persoon gelê het, dat hy wat ampsdraer was, eintlik nie die mense se geloofwaardigheid verdien het nie. Slegs vanweë sy amp moes die mense hulle bly respekteer. Dink maar aan koning Dawid. Hy was ‘n gesalfde van God, maar as persoon was hy ‘n sondige mens, iemand wat ‘n ander se vrou afgevat het. En dink maar aan die priester Eli. Hy was ‘n gesalfde van God, maar as persoon ‘n sondige mens. Van die opvoeding van sy twee seuns, Hofni en Pinehas, het nie veel tereg gekom nie. En dink maar aan die profeet Moses.
Hy was ‘n gesalfde van God, maar as persoon ‘n sondige mens, geskei van sy vrou. Almal sondige mense wat hulle amp moes uitoefen. God het slegs krom stokke tot sy beskikking gehad.
En dit is nou juis wat uniek is aan Jesus. Hy was die eerste mens wie se amp en persoon naadloos op mekaar aangesluit het. Uit sy ampswerk, die laaste drie jaar van sy lewe op aarde, het oorduidelik geblyk dat God nog nooit so direk met die mense gepraat het nie. Hy was by uitstek die deur God Gestuurde, die deur God Gesalfde, DIE Christus. Wat nooit in die Ou Testament moontlik was nie, wat nie in die Ou Testament geoorloof was nie, dit kon wel by Jesus. Ek bedoel dit: in die Ou Testament mog niemand tegelykertyd koning en priester wees nie. Dit was iets wat wel gebeur het onder Israel se heidense buurvolke.
In Egipte byvoorbeeld, of in Assirië, of in Rome, waar die koning tegelyk ook die hoëpriester was. In daardie lande is die koning vergoddelik. Die mense moes die koning aanbid. Die koning was die persoon wat vir sy onderdane geoffer het. Met ander woorde, die koning was diegene wat die sondes van sy onderdane kon vergewe. En dit was iets wat God in die hemel verafsku het.
Dat ‘n koning, of ‘n keiser, soveel mag gehad het, soveel van homself gedink het. Dat ‘n koning homself eintlik gelykgestel het aan God in die hemel.
Dit mog in Israel dus onder geen omstandighede plaasvind nie. ‘n Enkele keer was daar ‘n koning in die Ou Testament wat dit gewaag het. Wat homself ingemeng het met die werk van die priesters. Dink aan koning Ussia, wat hiervoor gestraf is. Dink aan koning Saul, wat hierdeur direk sy guns by God verloor het. In Israel moes die funksies, die ampte van koning en priester, streng geskei wees.
Maar by Jesus kom hierin verandering. Hy, wat gebore is uit die geslag van Dawid, troonopvolger dus, Hy is ook deur God aangestel as hoëpriester.
Hy kon, omdat Hy self sonder sonde was, omdat Hy self God is, ander se sondes vergewe. Hy het dit gedoen, nie op die gebruiklike manier in die Ou Testament, deur offers by die tempel te bring nie. Maar Hy het Homself as offer gebring. Daardeur het Hy ‘n einde gemaak aan al die offers by die tempel.
Jesus is, soos die Kategismus sê, gesalf tot ons hoëpriester. Hy het met die enige offer van sy liggaam ons verlos. Jesus, wat ook gesalf is tot ons ewige Koning. En Jesus, wat gesalf is tot ons Profeet en Leraar. Hy is dus die Gesalfde by uitstek. By Hom word die drie ampte in een Persoon verenig.
En gemeente, dit is nie net mooi teorie, dogmatiek nie. Dit het duidelik geword uit sy lewe op aarde. Niemand wat toe geleef het, kon onder hierdie konklusie uitkom nie. In Jesus het hulle nie net ‘n profeet ontmoet nie, Hy het ook die werk van’n hoëpriester gedoen, want Hy het die sondes van die volk versoen, en Hy het ook die werk van ‘n koning gedoen. Wie die vier Evangelies lees, leer Jesus daarin ken as Profeet, Hoëpriester en Koning. En die verder boeke van die Nuwe Testament kom tereg tot daardie konklusie. Die boek Hebreërs is ‘n baie duidelike voorbeeld daarvan. In hierdie boek word noukeurig op ‘n rytjie geplaas wat die konsekwensies is van die werk van Jesus. Die skrywer van hierdie boek vergelyk wat Jesus gedoen het met wat die profete, priesters en konings van die Ou Testament gedoen het. En dan kom die skrywer tot die gevolgtrekking: Jesus het AL die werk van profete, priesters en konings voltooi. Vanaf Jesus het daar ‘n nuwe tyd aangebreek. Jesus het die drie ampte in Homself verenig. Hy is die Gesalfde by uitstek. Hy is DIE Christus.
Of, gewoon, ons noem Hom: Christus. Jesus Christus. Hierdie titel – Christus – het deel van sy eienaam geword. En, selfs sy volgelinge het spoedig daardie naam begin kry. Al spoedig, lees ons in Handelinge, is die gelowiges ook Christene genoem. En wat hou dit presies in, om ‘n Christen te wees? Dit is waarna ons DV volgende week gaan kyk. Wat dit presies is om ‘n Christen te wees. V/a 32 van Sondag 12: Waarom word jy ‘n Christen genoem?
Amen.
Votum
Seën
Ps 20:5,6
Apostoliese Geloofsbelydenis
Ps 20:7
Skriflesing: 1 Samuël 16:1-13 & Markus 1:9-13
Gebed
Kollekte
Ps 2:1-3
Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 12 v/a 31
Preek
Ps 133:1,2
Gebed
Ps 84:5,6
Seën