Preek: Johannes 16:23
Die tradisie om ‘n Biddag en ‘n Dankdag vir gewas en arbeid te hou, is in Suid-Afrika onbekend. Ek is nie bewus van ‘n ander kerkverband wat dit ook vier nie. By die Dopperkerke is dit onbekend. Eweneens by die NG Kerk. In die 19de eeu is die Gereformeerde kerke sterk beïnvloed deur die modernisme van daardie tyd. Die orde van die Vrymesselaars het onder andere baie invloed op die kerke gehad. Baie Gereformeerde predikante was lid van die Vrymesselaarsgilde. In die denkwêreld van die Vrymesselaars is baie nadruk gelê op die feit dat daar natuurwette is wat die weer op aarde bepaal. As daar in die land ‘n periode van droogte is, of dalk ‘n periode van oorstromings, maak dit nie sin om tot God te bid om dit te verander nie.
God was ooit die argitek van die natuurwette. Dis die natuurwette wat voortaan alles bepaal. Dit help nie om nou nog vir God te bid vir reën nie.
Ons moet maar net aanvaar dat daar natuurwette is. Dit is verstaanbaar dat in so ‘n denkklimaat daar geen behoefte was aan iets soos ‘n Biddag en Dankdag.
Nou het die Dopperkerke in 1859 van die NG Kerk met sy modernisme afgesplits. Of die Dopperkerke aan die begin wel Biddag en Dankdag gevier het, is my nie bekend nie. Wel is dit duidelik dat dit tans vir hulle onbekend is.
Om Bid- en Dankdag te vier is dus ‘n tradisie waarin ons redelik uniek is hier in Suid-Afrika. As mens na die res van die wêreld kyk, is dit egter glad nie uniek nie. Die bekendste voorbeeld wat genoem kan word is miskien Amerika, waar Thanksgiving Day een van die belangrikste openbare vakansiedae is.
By die maak van die preek hierdie week, het ek die volgende gelees wat ‘n Suid-Afrikaner op internet geskryf het: “Little over a week ago I was in the United States on one of their most important public holidays and it opened my eyes wide to the fact that here in South Africa we really are doing things wrong.”
Hy verwys hier na Thanksgiving Day.
So met hierdie tradisie om Bid- en Dankdag te vier, het ons inderdaad iets wat uniek is, en wat die moeite werd is vir ons land om kennis van te neem!
Inderdaad iets wat navolgenswaardig is vir alle gelowiges in ons land om ook te onderhou.
Tema: Christus se Naam waarborg dat die Vader se hand oopgaan
- Sy Naam is die pleitgrond vir die nuwe bedeling
- Sy Naam maak die Vader se hand oop
- Sy Naam is die pleitgrond vir die nuwe bedeling
Hierdie hoofstuk is deel van Christus se onderwys aan sy dissipels tydens die laaste paasmaaltyd. Hy berei hulle voor op die toekoms. Omdat hulle Hom volg, wil nie sê dat hulle ‘n gemaklike lewe gaan hê nie. Inteendeel, Christus se Woord bring spanning, verdeeldheid. Hulle sal uit die sinagoges geban word.
Lees maar die boek Handelinge, om agter te kom hoe dit herhaaldelik gebeur het! Jesus berei hulle voor: daar gaan ‘n tyd kom dat mense dink hulle bewys ‘n diens aan God, as hulle julle om die lewe bring. Dink aan hoe Jakobus, Johannes se broer, om die lewe gebring is met die swaard (Hand 12).
Hierdie dinge sal mense doen, omdat hulle die Vader nie ken nie, en ook nie vir Jesus nie. Met verkeerde persepsies gaan mense dit doen (Hand 3:17).
Die dissipels sal later terugdink aan hierdie woorde van Jesus.
Vervolgens praat Jesus oor sy aanstaande hemelvaart. ‘n Rede tot droefheid vir die dissipels. Maar, as Hy weggaan, sal die Trooster kom. Jesus sal Hom stuur. Hy sal kom met ‘n spesifieke taak. Naamlik om die wêreld te oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel. As die Trooster kom, sal Hy die dissipels in die hele waarheid lei, en al die onderrig wat Hy hulle gegee het, weer herhaal sodat dit hulle kan binne dring.
Die dissipels het toe met mekaar begin praat oor wat Jesus met ‘n klein tydjie bedoel. ‘n Klein tydjie nog, en hulle sal Hom nie meer sien nie. En dan weer ‘n klein tydjie, en hulle sal Hom weer sien. En wat bedoel Hy as Hy sê dat Hy na die Vader gaan? So het die dissipels gediskussieer, omdat hulle Jesus se woorde nog nie kon plaas nie.
Verstaan ons wel wat Jesus hier bedoel het? Ons moet onthou dat Jesus hier in profetiese taal spreek. Woorde wat baie swaar weeg, wat ‘n diep betekenis het. Dit lei ons af uit die dubbele amen waarmee Hy die uitspraak vergesel: voorwaar, voorwaar! Die eerste klein tydjie wat hulle Hom nie sal sien nie, dui op die tyd wat nou vlak voor die deur staan. As Hy as Middelaar die dood sal ingaan. Maar die dood sal Hom nie lank kan vashou nie. Op die derde dag sal Hy opstaan! Dan sal hulle Hom weer sien, maar net vir ‘n klein tydjie. Want sy uiteindelike doel is om terug te gaan na die Vader. Maar as Hy na sy en hulle Vader teruggegaan het, verduidelik Jesus aan sy dissipels, sal Hy weerkom.
Dus binnekort, verduidelik Jesus, sal Hy uit die wêreld vertrek na sy Vader, waar Hy vandaan gekom het. Hulle staan nou op die drumpel van ‘n nuwe bedeling, ‘n nuwe tydperk. Hierdie laaste beslissende periode vergelyk Jesus, net soos die profete, met geboortepyne. Profeties praat Christus hier oor die toekoms. Sewe keer in hierdie gesprek met sy dissipels gebruik Hy die profetiese term: ‘n klein tydjie. Die klein tydjie is soos wanneer ‘n vrou haar kind in die wêreld bring. Die bevalling is swaar. Die ma gaan deur hewige pyne as haar tyd gekom het. Maar as die kind eenmaal gebore is, dink sy nie meer daaraan terug nie. Trane van pyn verander in vreugdetrane. Vergete is die swaar bevalling.
En dolgelukkig is sy oor die nuwe lewe wat sy voortgebring het. So mag ons ook uitsien dat na ‘n begrensde, kort periode van barensweë, ‘n toekoms van vrede en blydskap wag. ‘n Toekoms wat nie net tydelik sal wees nie, maar ewig. As daardie dag aangebreek het, sal alles in een keer duidelik wees. Dit sal alle verwagtinge oortref. In daardie dag – vers 23 – is ‘n profetiese uitdrukking. Dit herinner ons aan sy profetiese rede, soos ons dit in Mattheüs 24 en 25 vind. Net soos in sy profetiese rede, lê die heilsfeite wat Hy hier aankondig, in mekaar se verlengde, en word dit soms met dieselfde woorde omskryf. Opstanding, hemelvaart, Pinkster, wederkoms.
Dis soos as jy op ‘n hoë plek staan en jy het ‘n ver uitsig. Die afstand tussen berge ver op die horison, lyk dalk nie so groot nie. Terwyl die afstand van dit wat naby is, groter lyk. Dit is soos perspektief werk. So volg die jongste dag op die heilsfeite van opstanding, hemelvaart en Pinkster.
As daardie dag – ja die jongste dag – aangebreek het, sal alle vrae waarmee ons in hierdie bedeling worstel, beantwoord wees. Die dissipels sal in die tydjie daarvoor swaarkry, dit sal wees soos die geboortepyne van ‘n nuwe kind. So sal die nuwe wêreld, die herskape wêreld, met hewige geboortepyne gepaardgaan. Die dissipels sal daar midde-in wees. Hulle sal die pyne nie vryspring nie. Maar hulle mag weet – Christus kom terug. Nog ‘n kort tydjie.
Of soos Christus later in die boek Openbaring geopenbaar het: nog ‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd. ‘n Uitdrukking ontleen aan die profeet Daniël. ‘n Afgebakende tyd, niks langer as nodig nie. Dan sal Hy terugkom!
Dus, samevattend gemeente, tydens hierdie laaste maaltyd berei Jesus hulle voor op die toekoms. Hulle kon dit daardie aand nog nie heeltemaal plaas nie.
Maar binnekort sal hulle oë oopgaan, en dan sal Christus se woorde van hierdie aand hulle weer te binne skiet. Daarvoor sou die Gees, die Trooster sorg. En dan sal hierdie woorde vir hulle tot groot troos wees. Kort en kernagtig het Jesus die toekoms vir hulle op ‘n rytjie geplaas. Ek het van die Vader uitgegaan. Ek het na hierdie wêreld gekom. Maar ek gaan weer die wêreld verlaat. Ek gaan terug na die Vader. Maar nie vir altyd nie.
Ek kom terug!
In die tweede helfte van vers 23 berei Christus sy dissipels voor op die nuwe bedeling wat op die punt staan om te begin. Dat hierdie ‘n belangrike uitspraak is, blyk uit die dubbele amen. Voorwaar, voorwaar – hierdie uitspraak het ‘n diep betekenis. ‘n Uitspraak wat die dissipels goed moet onthou, en moet herkou. Naamlik: voortaan in die nuwe bedeling sal hulle direk die Vader kan vra. Met gebruikmaking van sy Naam. Jesus profeteer hier oor die situasie wat sal intree sodra Hy sy Middelaarswerk voltooi het. Sodra Hy dit gedoen het waarvoor Hy in hierdie wêreld gekom het.
As Hy aan die kruis genoegdoening, betaling gebring het, as Hy uit die graf opgestaan het, breek daar ‘n nuwe era aan! Omdat Hy as Middelaar die verbond weer herstel het. Die toegang tot die Vader is weer oop. Direk mag hulle voortaan na die Vader gaan. En sy Naam is die pleitgrond. In sy Naam sal die Vader luister! In sy Naam sal die Vader gee wat hulle vra. Profeties garandeer Hy dit aan hulle. Want die Vader het julle lief, daarvoor het Ek gesorg. Dit gaan hier nie net oor die noem van die Naam van Christus in gebed nie. Die verhoring het as pleitgrond, alles wat Christus gedoen het. Alles waar sy Naam voor staan. Christus se dubbele amen – voorwaar, voorwaar! – garandeer dit profeties.
(Christus se Naam waarborg dat die Vader se hand oopgaan
- Sy Naam is die pleitgrond vir die nuwe bedeling)
- Sy Naam maak die Vader se hand oop
Christus fokus hier op die bedeling wat voor die deur staan – die bedeling tussen hemelvaart en wederkoms. Dit is die bedeling waarin ons ook leef.
Dit is wel ‘n periode met barensweë. Soos ‘n vrou in barensnood, skreeu ons van tyd tot tyd vanweë die pyn, of vanweë die gemis van geliefdes. Maar vir hierdie moeilike tyd is ons teks ‘n riem onder die hart. Weet dit seker, sê Christus, voorwaar, voorwaar!, alles wat julle in hierdie tyd van barensweë die Vader vra in my Naam, sal Hy julle gee. Dit sluit aan by Jesus se woorde in die Bergrede: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.” (Matth. 7:7)
Hierdie woorde is ‘n groot bemoediging. Hierdie woorde maak die teks ook geskik om te gebruik op ‘n dag soos vandag – Dankdag vir Gewas en Arbeid.
Want met hierdie woorde het Jesus juis ons tyd in die oog, die bedeling waarin ons nou lewe. Hy sê dit vir die dissipels, wat later as apostels uitgestuur sal word. Maar nie net vir hulle nie, Hy het ook almal in die oog wat deur hulle getuienis tot geloof sou kom. Alle gelowiges wat in die nuwe bedeling op aarde sal lewe. In hierdie tyd van barensnood. Hou vas aan die belofte van Christus.
Sy Naam sal waarborg dat ons alles ontvang wat ons nodig het, om deur hierdie tyd te kom, tot die dag van weersiens!
In Christus se Naam, gemeente, dit hou ook in dat dit volgens sy wil is.
Christus se Naam is nie soos ‘n kredietkaart, waarmee jy alles kan betaal wat jy graag wil hê nie. As jy selfsugtig jou verlanglysie in jou gebed opnoem, en dan in Christus se Naam ‘demand’ dat jy dit soek, dan is dit nie ‘n waarborg dat die Vader dit sal gee nie. Die Vader het sy Seun juis na die aarde gestuur om aan ons sy wil bekend te maak. So mag ons bid vir alles wat Jesus ons geleer het om voor te bid. En wees dan verseker dat die Vader dit sal verhoor!
Die Vader het nie die afgelope jaar van elkeen van ons ‘n miljoenêr gemaak nie. Dis nie wat Christus ons geleer het om voor te bid nie. Die Vader het nie die afgelope jaar vir elkeen van ons ‘n blakende gesondheid gegee nie. Dis nie wat Christus voorspel het in hierdie tyd van barensweë ons voorland gaan wees nie. Die Vader het nie die afgelope jaar die dood uit ons gemeentes weggehou nie. Daar het lidmate gesterf. Maar die Vader het wel gegee dat niemand van ons honger gely het nie. Die Vader het wel gegee dat hulle wat gesterf het, nie ongetroos hoef te gesterf het nie. Hulle het gesterf met die vooruitsig op die ewige lewe. En ons mog hulle begrawe met die troosvolle wete dat hulle terstond, onmiddelik in heerlikheid opgeneem is. Dat in hulle sterwe Christus hulle nie losgelaat het nie. Ja, niks op aarde, geen engele of magte, geen lewe of dood, ja niks kan ons van Christus en sy liefde skei nie.
So mag ons op hierdie Dankdag DANKIE sê vir die afgelope jaar met al sy lief en leed, vreugde en verdriet. Ja, in die afgelope jaar was daar ook geboortepyne. Maar soos ‘n ma weet, dit is pyne wat die moeite werd is om te deurstaan!
En, geliefdes, as ons terugkyk in die geskiedenis – twintig eeue geskiedenis van die kerk – sien ons dat Christus sy belofte gehou het. Al was dit met veel barensweë, het Christus sy kerk altyd in stand gehou. Hoeveel geplaag, geterg, getreiter en verdruk. Steeds het Hy, vanuit die hemel, sy bruid beskerm. En vanaand, as ons terugkyk na die afgelope jaar, moet ons ook met dankbaarheid konstateer dat Christus ons – sy twee gemeentes soos ons hier vanaand bymekaar is, bewaar het. Niemand van die ruim sewenhonderd lidmate, wat ons as gemeentes saam is, het die afgelope jaar een dag honger gely nie. Nie elkeen van ons het die hele jaar deur elke dag werk gehad nie.
Maar Christus het gesorg dat sy gemeente as ‘n hegte liggaam funksioneer.
Die diakens het liefdevolle hulp verskaf, waar daar nood was. Hulle het toegesien dat niemand in die gemeentes ongetroos moes lewe onder die druk van armoede, of siekte, of eensaamheid, of ouderdom nie. Christus het ons soseer geseën dat ons as gemeentes die afgelope jaar weer eens in staat was om ook te kon uitdeel. Ook vanaand is ons in staat om uit te deel, gesien al die kos hier voor in die kerk. Die afgelope jaar het ons gereeld gebuk gegaan onder twyfels en vrae. Ek dink baie van ons het somberder geword oor die land se politieke toestand. Tog het Christus gesorg dat sy gemeentes 52 Sondae in vrede erediens kon hou. Christus het ook ons gebede verhoor, toe enkele maande gelede ‘n korrupte president die trekpas gekry het. Ons bekommernisse oor die land se toekoms is miskien nog nie agter die rug nie.
Maar ons mag vashou aan die belofte in ons teks: Voorwaar, voorwaar – alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee.
Sy Naam maak die Vader se hand oop!
Daarom roep Christus julle op, vanaand, op hierdie Dankdag vir gewas en arbeid. Moenie besorg wees nie. Moenie in die put gaan sit oor die toekoms van jou kinders nie. Moenie net na die donker kant van die lewe kyk nie.
Kyk vanaand agterom, en sien hoe die Vader gesorg het, die afgelope jaar, die afgelope seisoen. Dit is gepas om die Vader vanaand hiervoor te dank.
Christus se Naam is ons pleitgrond. Christus het toegesien dat die Vader aan sy bruid alles gegee het wat sy nodig gehad het.
Ons gaan na die preek die pragtige woorde uit Psalm 37 sing. Hierdie psalm kon wel in ons tyd en in ons land geskryf gewees het, so aktueel is dit.
37:15 Ek was aanskouer van veel kwaad,
maar nooit dat God sy volk verlaat,
dat hul geslag, hoeseer geplaag,
ooit aan die bedelbrood moes knaag.
37:16 Veeleer skenk hy genadebrood
aan wie al wankel in hul nood.
Sy nageslag strooi om hul heen,
en op hul spoor ontspruit 'n seen.
37:17 Verlaat die pad wat God verlaat.
Die HEER bemin die regte daad.
En in 'n erfdeel, wonderskoon,
daar sal jy voor die HERE woon.
37:10 'n Weinig 's vir die vrome meer
as skatte waar die bose op teer:
God breek die arms waar hul op leun,
maar vromes sal Hy ondersteun
37:13 Die bose leen - en het te min,
Gods volk deel uit en - daar's gewin;
want sy geseendes sal hier bloei;
wie Hy vervloek, word uitgeroei.
37:18 Die HEER sal vir sy gunsgenoot
'n skut wees selfs tot in die dood.
Die sondaar hou voor Hom nie stand;
regverdiges beërf die land.
Vanaand, as ons terugkyk, kan ons opnuut konstateer, dit wat Christus in ons teks beloof het, het uitgekom. Wat Hy beloof het, kom Hy na, ook in ons lewens, ook in ons gemeentes.
Sy naam gee toegang tot die hart van die Vader. Sal God ‘n versoek afwys, as ons dit in die naam van sy eie geliefde Seun vra? Hierdie gegarandeerde gebedsverhoring gee ons moed. Ons kan met vertroue die toekoms inkyk.
Hou vas aan Christus en sy Woord. Leef volgens sy wil. Bly by sy kerk.
Dan sal die toekoms reg wees.
Christus het die gesprek met sy dissipels opbeurend afgesluit: Hou moed, Ek het die wêreld oorwin. Julle is aan die kant van Hom wat oorwin het. Al sal julle in die wêreld verdrukking ervaar, tog kan julle met goeie moed die Evangelie uitdra in hierdie wêreld. Later sou Johannes in sy eerste brief uiting gee aan hierdie vertroue, toe hy geskryf het: Wie is dit, wat die wêreld oorwin, wie anders as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is (1 Joh 5:4-5).
Hierdie geloof gee kragte, soveel selfs om die wêreld te oorwin. Glo jy dit ook?
Glo jy ook dat jy, deur te glo in Hom, deur Hom te dien, die wêreld sal oorwin?
Glo jy dat jy, deur Hom te volg, ‘n antwoord het vir al die wêreld se probleme?
Besef jy dat hierdie Dankdag vir gewas en arbeid ‘n boodskap het vir Suid-Afrika? Dat die feit dat ons nou hier bymekaar is, ‘n appèl is op alle gelowiges in hierdie land: leef meer bewus, kyk meer omhoog, dank meer.
Laat ons ‘n lig wees in hierdie wêreld, ‘n soutende sout, ‘n verfrissende geur in ‘n stinkende ten ondergang gedoemde samelewing. Hou moed. In Hom is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het (Rom 8:35-37).
In ‘n wêreld vol barensnood mag ons sy vrede ervaar. Sy shaloom word werklikheid in sy gemeente.
Die afgelope seisoen, danksy Christus se Naam, het dat die Vader se hand weer vir ons oopgegaan.
Amen.
Votum
Seën
Ps 16:3
Gebed
Skriflesing: Johannes 16
Ps 16:4,5
Teks: Johannes 16:23
Preek
Ps 37:2,10,13,15-18
Gebed
Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Sb 17:1,2,4,6
Seën