Christus oortuig opnuut sy dissipels dat Hy leef!

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-04-08
Text: 
Johannes 21:1-14
Preek Inhoud: 

Preek: Johannes 21:1-14

Ons teks handel oor die derde keer wat Jesus aan sy dissipels verskyn het, tussen opstanding en hemelvaart. Dit was op ‘n vroeë lentemôre, aan die oewer van die see van Galilea. ‘n Oggend wat die dissipels nooit weer sou vergeet nie. Die apostel Johannes, wat dit opgeskryf het, het dit nog helder in sy geheue geprent gehad op hoë ouderdom. Hy was ooggetuie van die wonderbare visvangs.

Hy was ooggetuie van die opgestane Christus, wat daar aan die oewer van die meer hulle opgesoek het. Hy was oorgetuie, van dit wat Hy daar vir hulle te sê gehad het. Aangevuur deur die Heilige Gees, het hy dit opgeskryf. Ons het dit voor ons, as ‘n betroubare verslag.

Ek verkondig u die Evangelie vanoggend met die volgende tema:

Tema: Christus oortuig opnuut sy dissipels dat Hy leef!

Voor sy kruisiging en opstanding was die Here Jesus die heeltyd by sy dissipels. Die hele dag lank, hulle het saam opgestaan en saam gaan slaap. Hy was liggaamlik die hele tyd aanwesig, behalwe vir die kere wat Hy graag alleen wou wees, en byvoorbeeld Homself afgesonder het op ‘n berg om te bid.

Nou, na die opstanding, is dit ‘n ander situasie.

Die derde keer verskyn Hy nou aan sy dissipels, maar dis nie meer dat Hy die hele tyd by hulle bly nie. Hy bly nie meer op dieselfde adres as sy dissipels nie.

Met sy verheerlikte liggaam verskyn Hy byvoorbeeld skielik in hulle midde, terwyl die deure gesluit was. Hoe presies die veertig dae tussen opstanding en hemelvaart was vir die Here Jesus, kan ons nie met sekerheid sê nie. Ons het slegs die ooggetuie verslae van daardie kere wat Hy verskyn het. Ons teks is een so ‘n voorbeeld.

Johannes noem dit die derde verskyning aan sy dissipels. Uit die ander Evangelies en uit 1 Korinthiërs weet ons dat Jesus behalwe hierdie drie keer, ook nog aan van die dissipels apart verskyn het. Dit was geeneen van die evangeliste se bedoeling om ‘n volledige lys van Jesus se verskynings op te stel nie. As ons alle verskynings, soos beskryf deur die verskillende evangeliste en ook in 1 Korinthiërs, op ‘n ry sit, is dit duidelik dat Jesus nie net enkele kere nie, maar verskeie kere verskyn het.

Hierdie derde verskyning aan ‘n klomp dissipels bymekaar, soos Johannes dit hier beskryf, het gebeur by die see van Tiberias. Dit is ‘n ander naam vir die see van Galilea, die groot varswatermeer in die noorde van Israel. In oppervlakte is dit ongeveer die helfte van die Gariepdam. Tiberias was een van die dorpies wat aan die rand van hierdie meer geleë was. Hier was ‘n aantal van die dissipels bymekaar: Simon Petrus, Thomas oftewel Didimus, Natanael, en die seuns van Sebedeüs – Jakobus en Johannes, en nog twee ander dissipels wat nie by name genoem word nie – vermoedelik Andreas en Filippus. Sewe in totaal. Hulle het op voorstel van Petrus gaan visvang. Petrus was ‘n visserman van beroep en het ook sy eie boot gehad (Luk 5:3). Ook Andreas, Jakobus en Johannes was beroepsvissers. Soos gebruiklik het hulle met ‘n skuit gedurende die nag die meer opgegaan. Dit was die beste tyd om vis te vang, het die beroepsvissers geweet. Maar die hele nag het hulle niks gevang nie.

Besef u dat dit ook ‘n wonder was? Die feit dat daardie nag geen enkele vissie in die net ingeswem het nie? Die Here het dit in sy voorsienigheid bewus so bestuur. Hy het die visse opdrag gegee om elders in die meer te gaan swem.

Hy, wat Heer is oor water, wind en weer, en ook oor alle diere. Hy wat elke vis by die naam ken. Hy wat selfs geweet het ‘n spesifieke vis in die meer, die eerste wat Petrus sou vang, het ‘n muntstuk in sy bek gehad (Matth 17:24-27)!

So het Hy dit gelei dat die dissipels hierdie nag niks gevang het nie. ‘n Vergeefse nag? Nee, juis hierdeur het Hy hulle ontvanklik gemaak vir die wonder van die volgende oggend. As hulle in die vroeë oggendure landwaarts sou keer met ‘n net half vol visse, sou hulle tien teen een nie lus gewees het om die net weer aan die regterkant van die skuit uit te gooi nie. Maar nou, met ‘n leë net, was hulle desperaat, en het maar al te graag die advies opgevolg.

Is dit nie hoe almal van ons as mense is nie?

As die Here nie tye van droogte, of tye van siekte, of tye van swaarkry in ons lewe gee nie, sou ons dan nog gretig gewees het om tot Hom te bid? Het die knellende droogte wat die Wes-Kaap tans beleef, nie veroorsaak dat meer mense hulle weer in gebed tot God gewend het om reën nie? En as daar dan weer oorvloedige reën kom, dan besef ons van vooraf aan wie ons dit te danke het, en dan is ons dubbel dankbaar daarvoor.

So beproef die Here ons, tot ons eie beswil.

Met dagbreek het Jesus op die strand gestaan, hoewel die dissipels nog nie besef het dat dit Hy was nie. Op sy vraag of hulle vir Hom iets het om te eet, het hulle ontkennend geantwoord. Hierdie vraag klink dalk vreemd, in die lig van die feit dat Jesus by ‘n houtskoolvuurtjie gestaan het waarop Hy reeds besig was om vis te braai (vers 9). Jesus se vraag moet ons dan ook anders opvat. Dit was ‘n algemene uitdrukking, ‘n vraag of hulle al iets gevang het.

Daar is eksegete wat ‘n dieper betekenis agter hierdie vraag van Jesus sien.

Terugdenkende aan die wonderlike visvangs wat al eerder plaasgevind het, en Jesus se opdrag aan die dissipels om vissers van mense te word (Luk 5:1-11).

Jesus se vraag sou dan half verwytend wees, naamlik dat hulle – nadat Hy hulle geroep het om vissers van mense te wees – nog niks daaromtrent begin doen het nie, maar dat hulle gewoon weer hulle ou beroep opgeneem het.

‘n Klompie van hulle was naamlik, voordat hulle deur Jesus as dissipels geroep is, vissermanne van beroep. In die teks soos Johannes dit hier opgeskryf het, is daar egter nie eksplisiete elemente wat hierdie dieper simboliese uitleg verpligtend maak nie. Jesus gee toe vir hulle die opdrag om die net aan die regterkant van die skuit uit te gooi. Tot op hierdie oomblik het die dissipels nog nie vermoed dat dit die Here Jesus was nie. Hulle het vermoed dit was iemand aan die oewer wat die boot vroeg in die oggend sien nader kom het, en maar net na hulle geroep het of hulle iets gevang het, sodat hy kon vis koop.

Dit was die daaglikse roetine daar aan die oewer van die meer. Bote wat weer by die oewer aankom, en mense wat opdaag om vis te kom koop.  Maar nee, hierdie man wou nie vis koop nie. Hy roep terug en gee hulle instruksies.

Gooi die net uit aan die regterkant van die skuit!  Dan sou hulle vis vind.

Jesus gebruik ‘n ongebruiklike woord hier. Hulle sou nie die visse vang nie, maar vind. Moontlik lê hierin ‘n dubbele bodem van betekenis. Vind dui nie net op die visse nie, maar dat hulle ook Hom sou vind, vir Hom sou herken, in hierdie opdrag wat Hy aan hulle gee. Want kort voor lank was daar ‘n menigte visse in die net, en dit het te swaar geword om te trek. Weereens ‘n wonderwerk, net soos by die eerdere wonderlike visvangs.

Eers toe besef Johannes dat dit die Here was wat hulle daardie raad gegee het.

Aan hierdie opdrag het hy Hom herken. ‘n Week of wat gelede het Jesus sy dissipels beveel om na Galilea te gaan (Matth 28:7). Daar sou hulle Hom sien.

Hulle het dit gedoen (Matth 28:16), en nou het hulle Hom gevind!

Johannes sê dit vir Simon Petrus, wat toe impulsief in die water spring om land toe te gaan. Hy het sy bo-kleed aangetrek, hy het met ‘n kaal bolyf op die skip gewerk. Die res van die dissipels het met die skuitjie gekom. Hulle was naby die strand, nie meer as honderd meter verwyderd nie.

Petrus het die net op die land getrek, en daar was 153 groot visse in, hoewel die net wonder bo wonder nie geskeur het nie. Die getal 153 het al vir baie eksegetiese spekulasie gesorg. Allerlei simboliese betekenisse is hieraan gekoppel. ‘n Kerkvader het genoem dat daar volgens hom 153 verskillende visspesies is. Die getal is dus profeties dat die apostels, as vissers van mense, bekeerlinge sal vang uit alle volke, tale en nasies. Ander uitleggers het begin speel met die getalswaarde van woorde. Veral in die Joodse tradisie was dit in om simboliese betekenisse te vind in woorde se getalswaarde. Aan elke letter van die alfabet is ‘n getal toegeken, en so is die getalswaarde van ‘n woord bereken.

Maar gemeente, die teks soos Johannes dit opgeskryf het, gee egter nie eksplisiet aanleiding om by hierdie getal wat genoem word, aan ‘n dieper simboliese betekenis te dink nie. Dit is moontlik. Maar die eksplisiete noem van die hoeveelheid kan ook gewoon gewees het dat dit dui op ‘n vissersrekord. 153 groot visse in een net. Johannes het hierdie detail as ‘n getroue ooggetuie opgeskryf.

Jesus nooi hulle toe uit om te kom eet. Die dissipels het gesien toe hulle by Jesus aankom, dat daar alreeds ‘n houtskoolvuur op met vis daarop is, en dat daar brood is. Johannes noem dat niemand gewaag het om te vra: wie is U? nie, hulle wis dat dit die Here was. Jesus het toe die brood en vis aan hulle uitgedeel.

In die gedeelte wat dan volg op ons teks, na afloop van hierdie ontbyt, kan ons lees hoe Jesus spesifiek met Petrus gepraat het. Drie keer het Hy hom indringend gevra om sy skape te wei. So het Hy Petrus opnuut en amptelik in diens geneem as apostel. Die wonderbare visvangs was ‘n inleiding op hierdie belangrike gesprek. Weereens het Christus sy majesteit getoon, sy heerlikheid.

Hy is betroubaar. Met hierdie wonder het Hy hulle bemoedig. Soos Hy ‘n oorvloedige vangs vir hulle gegee het, so sal Hy dit ook in die toekoms doen.

Want vanaf nou het Hy hulle aangestel as vissers van mense. En hulle mog op Hom staat maak. Soos Hy die wonderbare vangs moontlik gemaak het, so sal Hy ook ‘n oorvloedige vangs in die toekoms waarborg. As hulle gehoorsaam doen wat Hy sê, as hulle uitgaan om sy getuies te wees, in Jerusalem, Judea, Samaria en tot aan die uiterste van die aarde, sal Hy vir die vangs sorg.

Gemeente, die wonderbare visvangs gaan nog steeds voort. Nie net op die sendingsveld nie, maar ook in ons midde. Elke keer as ‘n baba gedoop word, en sy ouers beloof plegtig dat hulle hom sal opvoed en laat opvoed in die leer van die Skrif. As Henri opgroei, en sy pappa en mamma lees vir hom uit die Kinderbybel, en later uit die Bybel, dan sal Hy ook sy Heiland en Saligmaker leer ken. As sy ouers en grootouers getuig hoe lief hulle self die Heiland het, en hoe goed dit is om in diens van hom te lewe, en dat hulle op Hom vertrou in voor- en teëspoed, dan sal Henri volg in hulle voetspore,  deur te veg teen die ou sondige aard wat ook in hom is, en deur vernuwe te word deur die krag van die Heilige Gees, wat in elkeen werk wat daagliks die Bybel oopmaak.

In ons teks het Christus sy dissipels opnuut oortuig dat Hy leef. Julle taak as ouers is ook om julle kind, as hy opgroei, te oortuig dat Christus die dood oorwin het. Dat Hy leef. Dat elkeen wat in Hom glo, ook tot in ewigheid sal leef! Dat die dood nie die laaste woord op aarde het nie. Dat daar ‘n toekoms is vir elkeen wat sy lewe op Hom bou. Henri is ook gedoop in die Naam van die Heilige Gees. En soos ons gesing het: Dit is Hy wat die krag verleen om trou te wandel in sy weë, en sy wet te onderhou. So sal Henri ook die land van seën beërf, Waar God Drie-enig, Vader, Seun en Gees, sy God is, en waar hy ook deel van sy volk mag wees. 

Amen.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 95:1

Wet

Ps 32:3

Gebed

Doopsformulier

Bediening doop aan Henri Egbert Kampman

Sb 14:1,2

Gebed

Skriflesing: Johannes 21

Ps 148:2,3,5

Teks: Johannes 21:1-14

Preek

Ps 95:2-4

Gebed

Kollekte

Ps 69:13,14

Seën