Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 9
Ek dink nie iemand van ons sal graag ‘n nag in een van die tronke hier in Suid-Afrika wil deurbring nie. Behalwe dat hulle oorvol is, is die kans dat mens aangerand of verkrag word binne die tronk nie kleiner as daarbuite nie.
Die tronke in die tyd van die Nuwe Testament was, dink ek, nie veel beter nie.
Ons het gelees dat Petrus en Johannes ‘n nag in die tronk moes deurbring.
Tog het hulle beter daaruit gekom, versterk en bemoedig. Hoe is dit moontlik?
Dit is waaroor Sondag 9 van die Heidelbergse Kategismus handel.
Dit gaan oor wat Sondag 9 bestempel as die feit dat God selfs die kwaad tot my beswil kan verander.
Tema: God die Almagtige Skepper is die groot Aanwesige
1 Hierdie belydenis sê nie net iets oor die verlede nie, maar ook oor die hede
2 Hierdie belydenis bied houvas in ‘n wêreld vol kwaad
1 Hierdie belydenis sê nie net iets oor die verlede nie, maar ook oor die hede
Ons het Jesaja 40 gelees. Hierdie hoofstuk is ‘n belangrike skarnierpunt in die profesieë van Jesaja. Tot en met hoofstuk 40 het hy telkemale gewaarsku dat die stad Jerusalem en die Jode ernstig moet rekening hou met ‘n ballingskap.
Dat hulle weggevoer sal word na ‘n vreemde gebied, as hulle nie daadwerklik tot inkeer kom nie. Hierdie waarskuwings het ‘n hoogtepunt bereik in Jesaja se woorde aan koning Hiskia. Die volk het op daardie stadium ‘n wonderbaarlike verlossing meegemaak, die beleëring van die Assiriërs is beëindig, en koning Hiskia het lewensverlenging van God ontvang. Verder het koning Hiskia sopas ‘n gesantskap uit Babel as bondgenote ontvang. Hierdie gebeurtenis het God daartoe gebring om die volk te waarsku deur die mond van Jesaja. Hierdie Babiloniërs, het die HERE hulle gewaarsku, wat julle nou as bondgenote ontvang het, dit is juis hulle wat julle ondergang sal beteken!
Koning Hiskia, jy het al die mooi skatte uit jou paleis aan hulle gewys, maar hoor nou die woord van die HERE: daar sal dae kom dat alles wat daar in jou paleis is, na Babel weggevoer sal word. Niks sal oorbly nie. Selfs jou seuns sal hulle saamneem. Dit was natuurlik ‘n direkte voorspelling van die ballingskap na Babel. En dan volg hoofstuk 40, wat ons gelees het.
Hierdie hoofstuk het ‘n heel ander toon. Geen bedreiging meer nie, maar nou: troos! So goed is God dus vir sy volk. Hulle is nog nie eers in ballingskap weggevoer nie, iets wat hulle welverdiende straf gaan wees, of die HERE gee alweer uitsig op herstel. Uiteraard op voorwaarde dat die volk hulle sou bekeer. En toe die volk Juda ruim honderd jaar later in ballingskap weggevoer is, soos aangekondig deur Jesaja, toe hulle na Babel gebring is, toe is hulle inderdaad gestroop van hulle rykdom, hulle waardigheid, alles wat vir hulle vertroud en bemind was. Maar toe het hulle dus ook reeds hierdie profesieë van Jesaja gehad. Mens kan jouself voorstel dat die Jode onder sulke verskriklike omstandighede die geloof in hulle God vaarwel sou sê. Die God wat hulle skynbaar nie uit die mag van Babel kon gered het nie. Die God wat skynbaar nie kon keer dat hulle nou as ballinge moes lewe nie. Maar dan blyk juis uit hierdie profesie van Jesaja God se onbeskryflike sorg vir sy volk. Daar in die Babelse ballingskap het hulle alreeds die woorde van die profeet Jesaja gehad. Profesieë wat meer as ‘n eeue gelede uitgespreek is. Maar wat juis nou in ballingskap van ongekende waarde was. God het reeds lankal die krisis voorsien waarin sy volk tereg sou kom. Nie net liggaamlik en finansieel nie, maar ook geestelik. Dat hulle in Babel sou worstel met geloofstwyfels. Dat hulle die sig op die almag van God sou begin verloor. Maar in daardie omstandighede mog die Joodse ballinge juis die woorde van Jesaja 40 indrink.
Troos, troos, my volk! Vertel Jerusalem dat haar lydenstyd verby is!
Let op, God is besig om ‘n pad aan te lê deur die woestyn. ‘n Snelweg wat direk vanuit Babel na die beloofde land lei. God is self besig om die terugkeer van sy volk voor te berei. Hy sal soos ‘n herder sy kudde wei. In sy arm die lammers dra. En as die volk hulleself skepties afvra: ja dit wil ek eers sien! Sien is glo!
Ons sit hierin Babel, ‘n wêreldmag. Ons God was miskien in die verlede magtig, Hy het die volk miskien lank gelede wonderbaarlik uit Egipte bevry. Maar dit is verlede tyd. Vir vandag sal ons eers moet sien.
Maar, die Here spreek hierdie skeptiese houding spesifiek aan, in die tweede deel van hoofstuk 40. Dat Ek God is, en almagtig, dat Ek Skepper is van hemel en aarde, is nie net ‘n uitspraak oor die verlede nie. Let maar op, my volk.
Hou My dop!
Wie het die waters met die holte van sy hand afgemeet? Wie het die afmetings van die hemel bepaal? Kyk, vir My is die volke soos ‘n druppeltjie aan ‘n emmer, ‘n stoffie op ‘n weegskaal. Het julle werklik gedink dat ek nie opgewasse teen Babel is nie? Weet julle dan nie meer wie julle God is nie?
Hy troon bo die aarde. In sy oë is die aardbewoners soos sprinkane. Die heersers van die aarde is vir Hom niksseggend. Met wie wil julle My vergelyk, sê die Heilige? Kyk maar omhoog na die sterre, en vra jouself: wie het hulle almal geskape? Waarom beweer jy, Jakob, my weg is vir die HERE verborge?
My reg gaan by my God verby? Weet julle dit dan nie meer nie? ‘n Ewige God is die HERE. Skepper van die eindes van die aarde. Hy word nie moeg of mat nie.
Sy verstand kan nie deurgrond word nie. Hy gee die vermoeide krag, en sterkte vir hulle wat magteloos is.
Gemeente, verstaan u die boodskap van die eerste punt van hierdie preek?
Hierdie belydenis sê nie net iets oor die verlede nie, maar ook oor die hede.
Die feit dat God Skepper is en almagtig, is nie net ‘n verhaal uit die verlede nie.
In die hede kan jy ook daardeur getroos word, en daarop bou. God is ook vandag die groot Aanwesige. Die Jode het hierdie boodskap by hulle gehad toe hulle ballinge in Babel was. Hulle kon daaraan vashou. Hulle God het alles onder kontrole. Dat hulle daar gesit het in Babel, as ballinge, was volledig volgens sy wil. Dit is Hy wat hulle na Babel gebring het. En op sy tyd sal Hy hulle ook weer terugbring na hulle eie land. Daaraan mog en moes hulle vashou, aan sy beloftes! Vertrou op sy almag.
Die grotes en magtiges van die aarde lei Hy soos waterstroompies. God het die beleid van die magtige koning Kores so gestuur dat die Jode mog terugkeer na hulle eie land. Wat ons in Sondag 9 bely, het hulle toe proefondervindelik ervaar. God is nie net Skepper, wat lank gelede iets groots gedoen, en Homself vervolgens teruggetrek het nie. Deur sy ewige raad en voorsienigheid is Hy elke dag by ons lewe betrokke. Hy is die groot Aanwesige. En wat die Jode toe nog nie meegemaak het nie, daarvan mag ons boonop getuig: dat die Almagtige sy eie Seun gestuur het.Dat u en ek, danksy Hom, Jesus Christus, God almagtig ons eie Vader mag noem. My God en my Vader.
Ons kom nou by die tweede punt van die preek. Daar wag nog iets, waaraan Sondag 9 aandag skenk. Dit word nog mooier!
(Tema: God die Almagtige Skepper is die groot Aanwesige
1 Hierdie belydenis sê nie net iets oor die verlede nie, maar ook oor die hede)
2 Hierdie belydenis bied houvas in ‘n wêreld vol kwaad
Hierdie tweede punt wil ek verduidelik aan die hand van Handelinge 4, wat ons ook gelees het. Waar in die eerste deel van Sondag 9 veral aandag geskenk word aan God se ewige raad en voorsienigheid, en dat dit ‘n teenwoordige krag in ons lewe is; gaan die tweede deel van Sondag 9 nog ‘n stappie verder, naamlik dat God se voorsienigheid so kragtig is, dat Hy self die kwaad kan ombuig ten goede. Dit is nie net ‘n teoretiese uitspraak nie.
Daar is ‘n menigte voorbeelde om dit te bewys. Ek wil graag met u een so ‘n voorbeeld behandel, naamlik uit Handelinge 4.
Wat ons daar gelees het, is ongeveer 700 jaar na Jesaja se profesie, waarna ons in die eerste punt gekyk het. 700 jaar. Dit is nie ‘n oorbodige opmerking nie.
Dit is goed om dit soms hardop te sê.
Want ons God is gister, vandag en in ewigheid dieselfde. Die God wat die Jode in Jesaja se profesie ontmoet het, is heeltemal dieselfde God oor wie ons in Handelinge lees. Dit is dieselfde troue God wat hier in Handelinge 4 ook aan die werk is. Dit is kort na die hemelvaart van Christus, kort na die uitstorting van die Heilige Gees. Ons ontmoet in hierdie hoofstuk vir Petrus en Johannes.
Soos ek reeds in die inleiding genoem het, hieride twee manne moes ‘n nag in die tronk deurbring. Tog het dit hulle nie geskaad nie, maar hulle het sterker daaruit gekom. Hulle is in hegtenis geneem omdat hulle op gesag van die Naam van Jesus gespreek het (vers 18). Die dag na hulle arrestasie is hulle voor die Joodse Raad gebring (verse 5-6). Dit was die leiding van die Joodse volk in daardie tyd. Ons het gelees wat die afloop was. Hulle is eintlik net gewaarsku, geroskam. Hulle is oorlaai met dreigemente, sien vers 21:
“En nadat hulle nog dreigemente bygevoeg het, aangesien hulle geen rede kon vind om hulle te straf nie, het hulle ter wille van die volk hulle losgelaat, want almal het God verheerlik oor wat gebeur het.”
Kort hiervoor het Petrus naamlik in Jesus se Naam ‘n verlamde man genees, iemand wat al meer as veertig jaar lank verlam was. Ons het gelees dat Petrus en Johannes direk na hulle vrylating die medegelowiges opgesoek het. Hulle het toe eenparig en innig die Here gedank.
Nou wil ek vir u vra, gemeente, om hierdie tweede deel van Sondag 9 deur die oë van Petrus en Johannes te lees. Kom ons probeer.
Daarom vertrou ek so op Hom, dat ek nie twfyel nie, of Hy sal my versorg met alles wat ek vir liggaam en siel nodig het.
Toe Petrus en Johannes as aangeklaagdes voor die regbank gestaan het, het hierdie besef hulle staande gehou. Dit was nie hulle eie prestasie nie, ons lees dat die Heilige Gees hulle vervul het. Wat gelowiges dikwels in gebed aan die Here vra: Here, gee dat as die dag van die waarheid kom, dat U die regte woorde in my mond sal lê, gee U my die vrymoedigheid.
Hierdie bede is verhoor vir Petrus en Johannes. Want die hele Joodse raad was hoogs verbaas oor hulle vrymoedigheid.
Vers 13: “toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken.”
Ons sien hier hoe die belydenis van Sondag 9 hande en voete kry. Daarom vertrou ek so op Hom, dat ek nie twyfel nie, dat Hy my sal versorg met alles wat ek vir liggaam en siel nodig het.
Nie net kos en klere nie, maar op daardie oomblik het die apostels veral vrymoedigheid nodig gehad. En dit het hulle toe van God in oorvloed ontvang.
Later sou Martin Luther ook dieselfde vrymoedigheid van Christus ontvang in die oomblik van die waarheid: Hier staan ek, ek kan nie anders nie. God help my!
Kom ons lees Sondag 9 nog verder deur die oë van Petrus en Johannes.
Daarom vertrou ek so op Hom, dat Hy ook die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander. Die kwaad is een van die grootste raaisels in die wêreld. Waar die kwaad vandaan kom, en hoe mense dit in hulle kop gehaal het om vir die kwaad te kies. Nou gee die Bybel ons ‘n duidelike antwoord op die vraag na die oorsprong van die kwaad. Dit lê by die duiwel, en by die sondeval van die mens. Die oorsprong van die kwaad lê dus by skepsels wat deur God geskape is. Want sowel die duiwel as die mens is deur God geskape. Tog wil hierdie duidelike antwoord wat die Skrif gee oor die oorsprong van die kwaad, nie sê dat alle vrae nou beantwoord is nie. Daar bly nog baie dinge oor wat ons met ons verstand nie kan verstaan nie. Neem byvoorbeeld die feit dat die oorsprong van die kwaad nie by God lê nie, maar dat God wel in staat is om die kwaad te voorkom. Dink aan al die kwaad wat die duiwel kon aanrig in Job se lewe, en dat hy selfs daarvoor by God toestemming gekry het. Ons kan hierdie dinge nie met ons verstand begryp nie, laat staan dat ons God ter verantwoording kan roep. Maar een ding kan ons wel doen, en dit gee ons gemoedsrus. Ons kan bely, soos Sondag 9 doen, dat die mag van die kwaad ook aan God onderworpe is. Ek dink hierdie belydenis van Sondag 9 maak die duiwel absoluut wanhopig: dat God elke kwaad selfs laat meewerk ten goede. So ‘n belydenis is die genadeslag vir die satan. Want hieruit spreek die besef dat satan aan God se leiband loop.
Met hierdie besef het Petrus en Johannes voor die Joodse Raad gestaan, die Joodse Raad wat op daardie oomblik die mag van die kwaad beliggaam het.
Hierdie magtige forum kon doen en sê en dreig wat hulle wou, maar ook hulle loop maar net aan Christus se leiband. En Hy is ons Here! Hoekom sal ons dan bang wees? Hierdie besef spreek ook uit hulle dankgebed, na hulle vrylating, saam met die gemeente:
“Here, U is die God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het” (vers 24)
En die konings van die aarde en die owerstes kan saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde (vers 26).
Maar dit het alles geen sin nie. Hoewel daar ‘n monsterverbond tot stand gekom het teen Petrus en Johannes en die gelowiges. Herodes, Pontius Pilatus – die heidene, en die Joodse Raad of Sanhedrin, mense wat normaalweg nie langs dieselfde vuur sit nie, hoewel hulle nou saamgekom het en ‘n monsterverbond gesluit het teen u Gesalfde Jesus, desnietemin sal hulle niks kan uitvoer nie. Want hulle loop maar net aan u leiband.
Sien vers 28: “om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.”
Gemeente, hoor u hier dieselfde belydenis as wat Jesaja destyds ook al uitgespreek het. Die magtige koning Kores is in God se hand. Herodes, Pilatus, die Sanhedrin, hulle is ook in God se hand. Ja so laat God die kwaad meewerk ten goede. Petrus en Johannes is in die tronk gesit, hulle moes tereg staan asof hulle kriminele was. Maar hierdie kwaad het God laat meewerk ten goede.
Die gemeente het hulle uit die tronk terug ontvang, as oorwinnaars.
Hulle het teruggekom met dubbel soveel vrymoedigheid.
Sien vers 23 en verder: toe hulle vrygelaat is, het hulle na hul eie mense gegaan en alles vertel wat die owerpriesters en die ouderlinge aan hulle gesê het. En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig die stem tot God verhef en gesê: Here, U is die God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het. Want inderdaad het hulle in hierdie stad teen u heilige Kind Jesus vergader, wat U gesalf het. Herodes, sowel as Pontius Pilatus met die heidene en die volke van Israel, om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind. Hoor u wat die apostels hier sê? Hulle sê presies wat ons in Sondag 9 bely. Selfs die kwaad, wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, verander Hy tot my beswil. Want Hy kan dit doen as ‘n almagtige God, en Hy wil dit doen as ‘n getroue Vader.
Geliefde gemeente, en nou sluit ek af deur u op te roep om ook so in die lewe te staan. Ons almagtige God en Vader, en Jesus Christus ons Here, Hy sien ons, en Hy voorsien ons in wat ons vir liggaam en siel nodig het. Selfs die kwaad, alle erge dinge, wat die duiwel of ander mense of jyself jou miskien aandoen, al daardie erge ding kan Hy in sy almag ‘n positiewe wending gee.
Handelinge 4 is ‘n pragtige voorbeeld hiervan. God Almagtig is Skepper van hemel en aarde. Hy is die groot Aanwesige. Hierdie belydenis is nie net iets van die verlede nie. Hierdie God, wat lank gelede aan die wieg van die wêreld gestaan het, is ook vandag nog aanwesig. In sy voorsienigheid dra Hy die heelal. Dit was die eerste punt van die preek. En vervolgens, hierdie belydenis bied ons ook ‘n houvas in ‘n wêreld vol kwaad.
Ons is nie uitgelewer aan die magte van die kwaad nie. God staan daarbo. Hy is die groot Aanwesige. Selfs die kwaad laat Hy meewerk ten goede. Kan jy dit bely? U het waarskynlik ook al kwaad in u lewe meegemaak.
Hoe ouer mens word, hoe groter die kans. Maar hou vas aan die belydenis van Sondag 9. Al kan ons die oorsaak en doel nie altyd deurgrond nie, laat ons bly vashou aan hierdie belydenis! En bid dat die Here ook ons sterker ander kant sal laat uitkom! Ja dat ook in jou lewe die kwaad tot jou beswil verander is.
Amen.
Votum
Seën
Ps 104:1,2,4,6
Gebed
Skriflesing: Jesaja 40
Ps 74:1,2,3
Skriflesing: Handelinge 4:1-31
Ps 74:7,8
Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 9
Preek
Ps 74:11,12
Gebed
Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Ps 104:17,18,20,21
Seën