God openbaar sy Drie-enige identiteit met die oog op ons verlossing

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-03-18
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 8
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 8

Die kerkvader Augustinus, een van die grootste teoloë van die Christelike kerk, het ‘n keer gewandel op die strand by die see. Hy sien toe iemand wat met ‘n emmertjie besig is om water uit die see te skep, en daarna in ‘n gat op die strand te gooi. Augustinus het bietjie gelag en half spottend vir die persoon gevra: Is jy dalk kortsigtig? Dink jy dat jy die hele see sal kan leegskep?

Die persoon, wat besef het wie met hom praat, het Augustinus egter teruggeantwoord: ek wonder wie kortsigtig is, u of ek? Het u werklik gedink u sal in een boek die Drie-eenheid kan verklaar? Want Augustinus het ‘n boek oor die Drie-eenheid van God geskryf.

Gemeente, dit is vanuit hierdie instelling wat ons vanaand na God se Woord gaan luister. As ek vanaand preek, en as u vanaand luister, moet ons almal die besef hê dat ons besig is met iets wat bo ons verstand uitgaan. Met ons geskape verstand kan ons niks hiervan begryp nie, behalwe vir dit wat God self daaroor geopenbaar het. Dit moet ons houding wees. Soos die Dordtse Leerreëls skryf ten aansien van die uitverkiesing, so moet ons instelling wees ten aansien van die Drie-eenheid van God: Ons behoort ons te weerhou van alle uitsprake wat die voorgeskrewe perke van die ware strekking van die Heilige Skrif oorskry (DL Slotwoord / Besluit).

Die Dordtse Leerreëls herinner ons aan wat daar in Romeine 9:20 staan:

“Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord?” (DL 1,18)

God se grootheid en heerlikheid is verblindend vir die menslike oog. Ons sondige mense is nie in staat om Hom met ons eie oë te sien nie. Die glans van sy heerlikheid sal ons verteer.  Hoe goed is God dan nie, dat Hy wel die glans van sy heerlikheid oor ons laat straal, op so ‘n manier dat dit ons sondaars nie verdelg nie, maar juis beskerm en van ons ellende bevry.

Dit is ook die konteks waarbinne ons God as Drie-enig mag leer ken. God – Vader, Seun en Gees – wat saamwerk vir ons verlossing. In hierdie konteks openbaar God aan ons iets oor sy Drie-enige identiteit in die Bybel.

Die konteks is nie ‘n objektiverende filosoferende beskrywing oor wie en hoe God is nie.Maar die konteks is sy verlossingsplan. Vader, Seun en Gees bring saam ‘n verlossingsplan ten uitvoer, om ‘n nuwe toekoms te bied aan hierdie wêreld, wat in sonde geval het.

Tema: God openbaar sy Drie-enige identiteit met die oog op ons verlossing.

  • God Drie-enig kan ons nie krities beredeneer nie, maar gelowige bely
  • God Drie-enig werk saam vir ons redding
  • God Drie-enig kan ons nie krities beredeneer nie, maar gelowige bely

    Laasweek het ons reeds aandag geskenk aan v/a 24, hoe die 12 artikels ingedeel word. Uit die antwoord blyk dat die Apostoliese Geloofsbelydenis ‘n trinitariese indeling het. Dit is met ‘n rede so gedoen. Die Apostoliese Geloofsbelydenis het naamlik ontstaan by die doopvont. In die Vroeg-Christelike kerk het dit gebeur dat diegene wat by die kerk aangesluit het, wanneer hulle op die punt gestaan het om gedoop te word in die Naam van God Drie-enig, dat hulle hulle geloof bely het. Daar is eers gevra of hulle in God die Vader glo, waarna die persoon sy geloof bely het met die eerste deel van die Apostoliese Geloofsbelydenis. Dan is gevra: glo jy in God die Seun, waarna die persoon geantwoord het dit wat in artikels 2 t/m 7 staan. Ten slotte is daar gevra: glo jy in God die Heilige Gees, waarna die persoon geantwoord het ooreenkomstig artikels 8 t/m 12 van die Apostoliese Geloofsbelydenis.

    Daarna het die doop plaasgevind in die Naam van God Drie-enig.

    Die Apostoliese Geloofsbelydenis het sy ontstaan dus gehad by die doopplegtigheid in die vroeë kerk. Dit is eintlik ‘n pragtige illustrasie van ons tema. God openbaar sy Drie-enige identiteit met die oog op ons verlossing.

    Die Apostoliese Geloofsbelydenis is nie ‘n filosofies-teologiese uiteensetting van die Drie-eenheid nie. Hier word eerbiedig bely wie God Drie-enig vir ‘n sondaar, ‘n ellendige mens, is. Ons bely dat die Vader ons geskape het.

    Dat Hy sy eie Seun nie gespaar het nie, maar laat kruisig het ter wille van u en my. En dat sy Gees ons nie verlaat nie, maar ons by die verlossing bewaar.

    ‘n Pragtige teks waarin dit na vore kom in die Bybel, is Titus 3:4-6. Hierdie teks staan ook onderaan Sondag 8. Ons sien in hierdie teks hoe God Drie-enig in volledige onderlinge harmonie die plan in werking gestel het om ons te red.

    Ons sien hier hoe Hulle drie saam aan die werk is om sondaars te red.

    Hierdie teks begin met God die Vader.

    God die Vader word hier aangedui met ‘n naam wat meestal vir Jesus gebruik word, naamlik: Heiland. Ons vertaling het hier: Verlosser, maar dit kan net so goed met Heiland vertaal word. Dit hoef ons nie te verbaas nie.

    God ons Vader is net soos die Seun ons Heiland, ons Heelmeester of Redder.

    Ons lees: Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het, het Hy, nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees, wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus ons Verlosser.

    Vader, Gees en Seun, ‘n onafskeidelike span wat hulle saam volledig agter ons redding skaar. Daarvoor gaan Hulle. So mag ons Hulle ken. In hierdie konteks!

    Gemeente, ek hoop dat ons ten minste begryp, al kan ons dit nie begryp nie, maar net die besef het, hoe oneindig groot God is. Hy is naamlik ook nog oneindig veel groter was dit wat ons uit die Bybel oor Hom weet. Dit is vir ‘n skepsel, ‘n mens, net nie moontlik om alles oor God te sê nie.

    Ons ken ons Skepper, Verlosser en Vernuwer, vir sover Hy Homself in die Skrif openbaar. Dit is meer as voldoende vir ons. Ons weet uit die Skrif dat ons ‘n betroubare God het, wat ‘n ewige verbond met sy kinders gesluit het. Ons weet lank nie alles oor God se identiteit nie, maar in sy Skrif laat Hy wel toe dat ons tot in sy hart kyk. En dan sien ons, as sondige skepsels, ‘n hart vol van goedertierenheid en menseliefde, soos daar in Titus 3 staan.

    Ek het ‘n keer die verhaal gehoor van ‘n man wat ‘n hartaanval gekry het, terwyl hy in die vliegtuig gesit het, hoog in die lug. Dit sou die einde van sy lewe gewees het, as daar nie ‘toevallig’ ‘n dokter in die ry skuins voor hom gesit het nie. Die dokter het hom daar in die paadjie gereanimeer. Hy het sy redder geword.

    Maar, waaroor dit my gaan, eintlik weet mens, as jy op die randjie van die dood is, hang niks af van daardie man wat jou sopas gereanimeer het nie.

    Al wat jy weet is dat hy jou redding was. Dat hy die vaardigheid gehad het om in so ‘n noodsituasie presies die regte ding te doen. Veel meer weet jy nie van hom af nie. Jy ken nie sy naam nie, nie sy nasionaliteit nie, jy weet niks van sy verdere lewe af nie. Maar een ding weet jy wel: hy is vas van plan om jou lewendig uit die vliegtuig te kry, en hy blyk ook daartoe in staat te wees.

    Daaraan klamp jy jouself vas. Die betroubaarheid en bekwaamheid van hierdie vreemde man, wat vir jou goedgesind is. Nou is hierdie vergelyking maar ‘n swak vergelyking by wat God doen en wie Hy is.

    Wat ooreenstem is dat God, toe die nood aan die man was, ongevraagd op ons afgekom het en Homself gegee het om ons te red. En dat Hy volledig bekwaam is om dit te kan doen. Dit weet ons dus van Hom. Hy is en Hy kan die Heiland van die wêreld wees. Daaraan klamp ons onsself vas, want Hy blyk betroubaar te wees, goedertieren, met ‘n hart vol menseliefde. Ons is nie in staat om alles van Hom te weet nie. Ons balanseer op die randjie van die dood. Dis nie die regte tyd om te begin spekuleer en filosofeer oor die identiteit van ons Redder nie. Dit is op hierdie oomblik misplaas. Op hierdie oomblik hou ons net aan Hom vas, en verwonder ons oor sy betroubaarheid, bekwaamheid, en menseliefde.

    Gemeente, dit is die oomblik en omstandighede waarin ons ons tans bevind.

    In hierdie sterflike lewe het ons nie die tyd, en is ons in elk geval ook nie in staat, om oor God te filosofeer nie. Hou maar net aan Hom vas.

    Hou maar net vas aan dit wat Hy oor Homself geopenbaar het, want daarin lê jou redding. As die Here eendag terugkom, of as jy reeds oorlede is, dan kom die oomblik dat jou geloof sal oorgaan in aanskouing. Dan sal jy in staat wees, volledig gereinig deur die bloed van Christus, om God van aangesig tot aangesig te aanskou. Maar selfs dan sal jy nie God se Wese kan deurgrond nie.

    Want ons bly skepsels, en Hy is ons Formeerder.

    Dit bring ons by ‘n baie belangrike konklusie.

    As ons oor die Drie-eenheid van God praat, kan ons dit slegs bely.

    Met bely bedoel ek: naspreek wat God self in die Skrif daaroor sê.

    (Tema: God openbaar sy Drie-enige identiteit met die oog op ons verlossing.

  • God Drie-enig kan ons nie krities beredeneer nie, maar gelowige bely)
  • God Drie-enig werk saam vir ons redding

    Jy kan vervolgens nagaan, oordink, watter impak dit op jou lewe het. Dan is ons weer terug by die tema van die preek: God openbaar sy Drie-enige identiteit met die oog op ons verlossing. Die Drie-eenheid van God bely ons dus. Ons kan nie daaroor redeneer, diskussieer of spekuleer nie. As ons dit doen, doen ons dieselfde as iemand wat meer oor die son wil weet, en vervolgens ure lank na die son gaan staan en kyk. Wie met blote oë na die son kyk, verloor sy gesigsvermoë. Wie al redenerend, krities, met sy verstand die Drie-eenheid van God benader, verloor in die proses sy geloof. So werk dit nou eenmaal. Ons moet dus bewus wees van ons eie beperkings. Dan moet u weer terugdink aan die voorbeeld uit die inleiding. Jy kan probeer om die see met ‘n emmertjie leeg te skep, maar jy begin met ‘n onderneming wat, al leef jy honderd jaar lank, jy nie klaar sal kry nie. So kon die kerkvader Augustinus ‘n boek skryf. Mens sou duisend boeke of meer kon skryf. Maar om die Drie-eenheid van God te verklaar, dit sal jy jou lewe lank nie regkry nie. Gewoon omdat jy ‘n beperkte menslike verstand het. Die boodskap van vanaand is daarom: bely in vertroue wat God oor Homself openbaar.

    Jy hoef nie eers presies te weet hoe die son werk, voordat jy sy warm strale kan geniet nie. God het ongevraagd die verlore mensheid te hulp gesnel. Ons, wat oppad was na die hel, wat geen ander voorland gehad het as die verdoemenis nie. Maar God het ongevraagd ons kom help. Hy steek sy reddende hand uit. Neem sy hand, voor dit te laat is.

    En wil jy graag meer weet oor wie jou Heiland is, moenie met jou verstand, al beredenerend, op ‘n soektog gaan nie. Jy gaan vasloop. Dit bring mens nie tot geloof nie. Maar wil jy meer weet, neem jou Bybel. Dit is die Boek waarin God self Homself persoonlik aan ons bekendstel. Verdiep jou in sy Woord.

    Lees daar wat daar staan oor sy Drie-eenheid.

    En dan sal jy agterkom: telkens, as sy Drie-eenheid ter sprake kom, is dit in die konteks van God se verlossingsplan. God Drie-enig werk saam vir ons redding.

    Ek wil graag ‘n paar voorbeelde met u deel, om dit te illustreer.

    Tekste wat u almal onderaan Sondag 8 terugvind.

    Neem byvoorbeeld Efesiërs 2:18:

    “want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader”.

    Met “albei” bedoel Paulus hier die Jode en die heidene. God Drie-enig het die pad na die hemel weer opgemaak, vir Jode en heidene.

    Neem ook as voorbeeld Galasiërs 4:6:

    “En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!”

    Vader, Seun en Gees is hier in aksie ter wille van ons behoud!

    Pragtig, ontroerend!

    Dink ook aan die bekende seën, waarmee die erediens dikwels afgesluit word, 2 Korinthiërs 13:13:

    “Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal! Amen.”

    Dink ook aan die Pinksterpreek van Petrus, Handelinge 2:32-33.

    As ek hierdie teks voorlees, let dan op die drie Persone, en hoe Hulle saamwerk vir ons behoud:

    “Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is. Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dit uitgestort, wat julle nou sien en hoor.”

    Ek noem nog een teks waarin die samewerking tussen Vader, Seun en Gees pragtig na vore kom, en dit met die oog op die redding van sondige mense: Johannes 15:26, waar Jesus sê:

    “Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig.”

    Nogmaals: dit is pragtig, ontroerend, hoe God Drie-enig bekommerd is oor die welsyn van klein mense. Wat Hy vir ons oor het. Ons kan dit nie bevat nie.

    Ons kan maar net dankbaar stamel, hoe goed God vir ons is. Woorde wat Paulus uitgespreek het na aanleiding van God se verkiesing, is wat betref sy Drie-eenheid ook heeltemal toepaslik: Romeine 11:33 en verder:

    “o, Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid.”

    Wat is ons houding in hierdie preek? Het ons op ‘n verkeerde manier na God gekyk? Soos iemand wat reguit met sy oë na die son kyk, of nog erger, met ‘n verkyker of teleskoop? So iemand is dwaas, want dit sal die einde van sy gesigsvermoë beteken. As ons op so ‘n manier na God gekyk het, sou dit die einde van ons geloof beteken. Maar gemeente, ons mog dit vanaand anders doen. Net soos mens nie pal in die son in hoef te kyk, om bewus te wees dat die son skyn, en om van die behaaglike sonstrale te geniet nie.

    So mog ons ook onsself behaaglik opwarm in die sonstrale van die Drie-enige God. Ons is nie op ‘n nuuskierige manier op soek na ‘n verklaring vir die Drie-eenheid nie. Dit sal ons nooit regkry nie, en ons loop boonop die gevaar dat God se heerlikheid ons sal verteer. Maar die naspreek van dit wat God in sy Woord openbaar oor sy Drie-enige identiteit, en watter invloed dit op ‘n in sonde gevalle wêreld het, naamlik hoe God Homself inspan as Vader, Seun en Gees, ook vir jou redding – om daarna te luister, om daarvan deurdronge te wees, dit is verkwikkend, en heilsaam. Dit maak ons nog veel gelukkiger as die behaaglike sonstrale op ‘n koue wintersoggend.

    Gemeente, as u hierdie week weer die kragtige sonstrale op jou liggaam voel, dink dan aan God Drie-enig. Aan die warm sonstrale van sy aanwesigheid wat oor jou lewe skyn. Ervaar sy liefde vir ‘n sondaar.

    Dat Hy – Vader, Seun en Gees – jou nie alleen laat nie, maar jou lewenspad bestraal.

    Amen.

     

     

     

Liturgie: 

Votum: Psalm 121:1

Seën

Ps 139:1,2

Gebed

Skriflesing: Johannes 15:18-27 & Titus 3:1-11

Ps 29:2,4,5

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 8

Preek

Ps 145:4-7

Gebed

Geloofsbelydenis van Athanasius

Ps 145:8-10

Kollekte

Psalm 145:11,12

Seën