Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 7 v/a 20-21
In die wêreld bestaan daar 101 verskillende soorte gelowe. Elke mens glo wel in iets. Die vraag wat vanaand op ons afkom, is:
Wat is nou die ware geloof?
En hoe weet ons dat ons geloof wel die ware geloof is?Of is ons geloof maar net nog een van die vele opsies waaruit mense deesdae, in die internetsamelewing, kan kies? Dit is nie moeilik vir enige individu om dit waarvan hy vas en seker oortuig is, op internet te plaas nie, met die hoop dat hy meerdere navolgers en simpatisante kry vir sy mening. Dit word eenvoudig gemaak deur die media, facebook, of twitter, of weblogs, noem maar op.
Almal kan kies en keur, elekties hulle eie geloofspakket saamstel uit die breë aanbod wat daar is.
Is in ‘n tyd soos hierdie is so ‘n soliede antwoord wat ons in Sondag 7 vind, nog wel aktueel? Is Sondag 7, en argumentsonthalwe, die hele Heidelbergse Kategismus, nie eintlik oud en verouderd nie?
Die ware geloof?
Is dit nog ‘n relevante onderwerp vir vandag se tyd? Gemeente, kom ons luister tog na die prediking van die blye boodskap aan die hand van Sondag 7.
Ek verkondig u God se Woord met hierdie tema:
Die ware geloof
1 Wat dit wel is en wat dit nie is nie
2 Dat dit onmisbaar is
1 Wat dit wel is en wat dit nie is nie
Die opstellers van die Kategismus skryf in Sondag 7 nie net oor ‘n geloof nie, maar oor die ware geloof. Dit staan nie toevallig so sterk nie. Dit is nie so dat daar ‘n bietjie meriete in elke soort geloof is nie. Om op een of ander manier gelowig te wees, is nie genoeg nie. Daar is, eerlik beskou, geen mens op aarde wat nie glo nie. Dit verskil lê daarin wat mense glo, waarin hulle glo. Neem byvoorbeeld ‘n ateïs. Dit is iemand wat glo dat God nie bestaan nie. Hy glo dus in ‘n saak, al is dit ‘n negatiewe saak. Hy glo dat daar geen God is nie.
Dit is ‘n geloof wat hy nie kan bewys nie. Dit is bekend dat ateïste ook baie gebuk gaan onder geloofstwyfels. Is dit wel waar wat hulle glo? Sê nou maar dat daar tog ‘n God is? Sê nou maar dat daardie mense wat so vas in hulle God glo, tog reg is? So het ook ateïste te make met geloofstwyfel. Wie in iets glo, sal ook geloofstwyfels kry. Maar nie alle gelowe is waar nie. In hierdie preek gaan dit oor hierdie verskil. Wat is die ware geloof, en wat is verkeerde gelowe, of valse gelowe, of bygelowe. Alle mense glo in iets.
Vandag stel baie mense hulle vertroue byvoorbeeld op die wetenskap, of op die staat, of op kapitaal, of geld, en so kan nog baie voorbeelde genoem word.
Maar tussen al hierdie valse gelowe en bygelowe klink God se stem in die Bybel. Die Skrif wat die Kategismus naspreek, as dit vra:
Wat is nou die ware geloof?
En dan gee die opstellers van die Kategismus ‘n duidelike antwoord op hierdie vraag. Die ware geloof is ‘n vasstaande kennis en vaste vertroue.
Eerstens dus ‘n vasstaande kennis. Ek hou alles vir betroubaar wat God in sy Woord geopenbaar het. Dit gaan oor die betroubaarheid van die Evangelie.
Wat in die Bybel staan, is die waarheid. Dit is ‘n gelowige se rotsvaste oortuiging. Ek glo dat die Bybelskrywers nie lieg nie. Hulle lieg ook nie met die beste bedoelings nie. Ek glo dat hulle eerlik opgeskryf het dit wat gebeur het.
Soos die apostel Johannes eerlik as die waarheid en niks behalwe die waarheid opgeskryf het, dit wat Johannes die Doper oor Christus getuig het.
“Wie sy getuienis aangeneem het, het sy seël daarop gesit dat God waaragtig is. Want Hy wat God gestuur het, spreek die woorde van God” (Joh 3:33).
Ek glo dat die Bybelskrywers betroubare getuies is oor Christus se lewe, sy sterwe aan die kruis, sy opstanding, sy hemelvaart, die uitstorting van die Heilige Gees, ensovoorts. Ek glo dat die Heilige Gees die totstandkoming van die Bybel gelei het. Dat Hy daarop toegesien het dat dit wat in die Bybel staan, die waarheid is. Daarom glo ek: in die Bybel, van begin tot end, spreek God met my. Die hemelse dinge wat Christus daarin openbaar, is voluit die waarheid (Joh 3:12).
Geliefdes, om te glo in die betroubaarheid van die Bybel is nie ‘n opoffering van jou verstand nie. Jy gebruik juis jou verstand om die feite onder oë te sien.
Jy gebruik jou verstand om jou eie mening op een lyn te stel, te konformeer, aan die waarheid in die Bybel. Jy offer jou verstand, jou intellektuele vermoëns, nie op nie. Maar jy onderwerp jou verstand aan die waarheid.
In die Bybel vind ons byvoorbeeld vier Evangelies, wat almal dieselfde gebeurtenisse beskryf. ‘n Viervoudige bron wat ons na die feite van Christus se lewe toe lei. Van geeneen van hierdie evangeliste kan ons aantoon dat hulle besig was om leuens op te skryf nie. Daarom glo ons alles wat deur die evangeliste opgeskryf is. Op hulle gesag. En daar kom by, dat die Bybel ook baie eksplisiet sê: Die Bybelskrywers het alles nie net op eie gesag opgeskryf nie, hulle het dit gedoen, aangevuur, geïnspireer deur die Heilige Gees, dit wil sê deur God self. Daarom sê die Kategismus nie ‘n woord te veel as dit skryf: dit is ‘n vasstaande kennis. Alles wat God in sy Woord geopenbaar het, is betroubaar.
Nou het ons, gemeente, tot dusver aandag geskenk aan die verstandelike kant van die geloof. Geloof is ‘n vasstaande kennis. Maar daar is meer.
En dit is baie belangrik om dit te besef. Want as ‘n ongelowige vir jou sou vra: wat hou jou geloof in God in? Dan is dit belangrik dat ons nie net ‘n antwoord op die verstandelike vlak gee nie. Geloof is nie net dat mens gedagtes en oortuigings het oor die bestaan van God nie. Dit sou ‘n verskraling van die geloof wees, as mens dit daartoe beperk. Dit is goed om daarvan bewus wees, veral as jy oor jou geloof getuig. Geloof in God beteken naamlik nie net dat jy bloot in die bestaan van ‘n God glo nie. Die Kategismus skryf dat geloof inhou dat ek alles wat God in sy Woord geopenbaar het, as die waarheid aanvaar.
Dis nie net ‘n vae besef van ‘n Godheid nie. Dis ook alles wat die Bybel ons oor God bekend maak, hoe sy karakter is, sy geaardheid. En dis ook alles wat die Bybel bekend maak oor wie ons as mense is. Dis ook alles wat die Bybel ons openbaar oor hoe die ellende, siekte en dood in die wêreld gekom het.
Ensovoorts ensovoorts. Glo in die bestaan van God is dus maar een aspek van wat glo volgens die Bybel alles omvat.
En ook dan is nog nie alles gesê nie. Want geloof is behalwe kennis ook vertroue. Daarop vestig die Kategismus vervolgens ons aandag.
As mens sê: ek glo in God.
Dan beteken dit dus meer as dat ek net in sy bestaan glo. Dit beteken ook: ek vertrou Hom. Geloof is nie net ‘n verstandelike saak nie. Dis ook ‘n gevoelsaak.
Dat jy besef dat God jou liefhet. Dat jy reageer op sy liefde. Dat jy Hom ook liefhet, as antwoord op sy liefde. In Afrikaans sê ons soms: Ek glo in iemand.
Daarmee word dan bedoel: ek vertrou daardie persoon. Ek glo in God, beteken ook: ek vertrou Hom. Ek glo in sy beloftes. Ek vertrou sy beloftes.
Soos die Kategismus skryf: ek is volledig daarvan oortuig, dat nie net aan ander mense nie, maar dat daar ook aan my vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk word, enkel uit genade, alleen danksy Christus. Ek is hiervan oortuig. Die Heilige Gees help my om hierdie vertroue op God te kry. Die Heilige Gees werk hierdie oortuiging in my hart. Ek ervaar dit. Ek ervaar dat ek deel in God se beloftes. Gelowig ontvang ek elke dag wat Hy my gee. My lewe verander dus nou al as gevolg van die feit dat ek in God glo. Geloof is nie net ‘n polis vir die ewigheid nie. As mens ‘n polis uitneem, geniet mens eers van die vrugte oor baie jare, as die polis begin uitbetaal.
So is dit nie met die geloof nie. Elke dag ontvang ‘n gelowige dividente.
Jy lewe word verryk vanaf dag een, waarop jy begin glo het. ‘n Lewe uit die geloof word steeds mooier danksy God se beloftes wat daagliks waar word.
Gemeente, kom ek verduidelik dit met ‘n voorbeeld, sodat almal, ook die jongmense dit mooi verstaan. As jy ‘n pasiënt is wat aan asma ly, dan skryf die dokter vir jou ‘n asmapompie voor. Sodra dit nodig is, kan jy daarvan gebruik maak. So voorkom jy dat jy suurstofgebrek kry. ‘n Asmapasiënt vertrou sy pompie. Hy weet dat dit werk. As hy die pompie by hom het, gee dit ‘n gevoel van sekerheid. Maar, argumentsonthalwe, dit help nie net om die pompie by jou te hê en te weet dit werk nie. Dit oomblik as jy dit nodig het, moet jy dit ook daadwerklik gebruik. Net die wete gaan jou nie genees nie. Jy moet die pompie vat, dit voor jou mond hou, en spuit. Eers dan kom jy die effek agter.
Nou so is dit ook met die geloof.
Ware geloof beteken dat jy ook daadwerklik gebruik maak van die geskenke wat God jou bied. Verlede week was die tema van die Kategismuspreek:
God skenk sy eie Seun as Middelaar. Om te glo hou in dat jy daadwerklik gebruik moet maak van hierdie geskenk. Jy moet ook daadwerklik bid en vergewing van sondes vra, in die Naam van hierdie Middelaar wat God geskenk het. Want eers dan kry jy daadwerklik vergewing.
En verder, laasweek het ons gesien dat in die geskenk van hierdie Middelaar daar baie ander geskenke verpak is: Byvoorbeeld: lewensheiliging, wysheid, en volkome verlossing. As jy gebruik maak van hierdie geskenke, dan gaan jou lewe daadwerklik mooier word. As jy die instruksies opvolg wat Christus in sy Woord aan jou gee om te vorder op die pad van lewensheiliging, dan gaan jy inderdaad merk dat jou lewe verbeter!
Gemeente, ek vat die eerste punt saam:
Die ware geloof, wat dit wel is en wat dit nie is nie. Ons het na drie aspekte gekyk: Ware geloof is ‘n vasstaande kennis. Dit is ‘n vaste vertroue.
En dit is ook daadwerklik gebruik maak van wat God ons gee.
Verder het ons ook gesien wat die geloof nie is nie. Ongelowiges het gou die persepsie dat geloof net ‘n abstrakte oortuiging oor ‘n godheid is. Maar die ware geloof is nie net abstrakte kennis nie. Aan die ander kant is die ware geloof ook nie net ‘n warm gevoel, sonder enige intellektuele fondament nie.
Dit is gefundeer in die feit van die Evangelie. Deur alle eeue het mense hulle eie gelowe gehad. Daar is geen mens wat nie in iets glo nie.
Maar vir elke mens op aarde geld dat hy sy eie geloof moet opgee, afsweer, ja inruil vir die ware geloof, wat die Bybel aan ons openbaar. Dit geld vir mense sowel binne as buite die kerk. Laat ek een voorbeeld ten slotte noem hoe dit ook al lank gelede gegeld het. Eerstens vir buite die kerk.
Toe Paulus destyds in Athene rondgeloop het, het hy homself vererg vir die misplaaste vroomheid en geloof van die Grieke. Met hulle bygelowe in die afgode kon hulle nie die saligheid verkry nie. Hulle het dit self ook ‘n bietjie besef, vandaar daardie altaar vir ‘n onbekende god. Paulus het hierdie heidense Grieke opgeroep: Julle moet julle eie gelowe opgee, afsweer, en net die ware geloof omhels.
Maar ook binne die kerk klink hierdie oproep. Dink aan wat die apostel Jakobus skryf in sy brief. Hy noem die geloof van gemeentelede, wat liefdeloos handel teenoor armes, weduwees en wese, ‘n vergeefse godsdiens en ‘n dooie geloof (Jak 1:26-27; 2:17). Ja ook ons, kerkmense, moet ons eie geloofsoortuigings steeds weer toets aan die waarheid.
(Die ware geloof
1 Wat dit wel is en wat dit nie is nie)
2 Dat dit onmisbaar is
Gemeente, hoe is dit moontlik dat mense nee sê vir die Evangelie? Dit is ‘n ingewikkelde onderwerp. Ons het hierbo al gesien dat mense dikwels rondloop met ‘n verskraalde, of ‘n verdraaide persepsie van wat geloof is.
En op grond daarvan die besluit neem dat dit nie vir hulle nodig is nie.
Al die rykdom wat hulle daardeur aan hulle laat verbygaan, daarvan het hulle dikwels geen benul nie. Dit is daarom vir ons as gelowiges, as kerkmense, ‘n belangrike rede om juis te getuig van ons geloof. Evangelisasie hou dikwels in dat dit ons taak is om alle misverstande wat daar oor God, en oor die geloof, en oor gelowiges bestaan, uit die weg te ruim. In hierdie opsig moet ons egter ook nugter bly. Want toe ons Heiland self hier op aarde rondgeloop het, en self die Evangelie orals gepreek het, was daar ook al mense wat hulle rug op die Evangelie gedraai het. En ons kan maar aanneem dat ons Heiland die beste prediker en die beste evangelis van alle tye was. Maar Jesus het al self gewys op hierdie realiteit, sien Mattheüs 7:14:
“Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.”
‘n Ander keer het die Here Jesus opgemerk, baie verdrietig:
“Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos 'n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!” (Matth 23:37)
So ja, die ware geloof is onmisbaar, vir wie gered wil word. Maar ook die Here Jesus kon mense nie dwing om te glo nie. God neem die keuse en verantwoordelikheid van elke mens honderd persent ernstig op. En soos destyds die liefdevolle stem van Christus enersyds, en sy dringende oproep tot bekering andersyds in Jerusalem geklink het, so behoort ons stem vandag ook te klink. Liefdevol, maar ook indringend. As die Kategismus die vraag vra:
Word alle mense weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het?
Dan is die antwoord sonder omhaal van woorde: Nee, slegs hulle wat glo.
En glo beteken dus: ‘n vasstaande kennis hê en ‘n vaste vertroue.
Of soos antwoord 20 verwoord: dat jy ingelyf word in Christus.
Dat Christus se geskenke, weldade, ‘n integrale plek in jou lewe kry.
Hierdie ware geloof is onmisbaar.
Ten slotte nog dit, gemeente.
Vir sommige mense is dit moeilik om te glo. Hulle sê dan: dit moet aan jou gegee word. Per implikasie sê hulle dus: totdat dit sover is dat dit my gegee word, bly ek afwag. Maar, die Bybel leer ons die omgekeerde. Die Bybel roep ons op om die pad van geloof te begin stap. Om te leer glo. Hoe kan mens leer glo? Wel, as die Kategismus sê dat die geloof ‘n vasstaande kennis is van dit wat in die Evangelie staan, dan begin jy te leer om te glo deur die Evangelie te lees en bestudeer, en dan probeer jy soveel moontlik oor God te wete te kom.
Dan verslind jy die Woord van God, doen verwoed Bybelstudie, lees boeke oor die Bybel, voer diepgaande gesprekke oor God en die diens aan Hom.
Voorts, as die Kategismus skryf dat geloof ook ‘n vaste vertroue is, hoe doen mens dit? Dit hang nou saam met die eerste. Neem byvoorbeeld ‘n kind wat geen ouers het nie, en wat in ‘n nuwe huisgesin geplaas word. Hoe gaan die kind sy nuwe pa en ma leer vertrou? Mens kan verwag dat die kind die nuwe ouers eers fyn gaan dophou, om agter te kom of hulle wel vertroue werd is.
En as ‘n hele tyd verloop het en alles het goed gegaan, dan sal daar ‘n vertrouensband begin groei. So werk dit ook met jou hemelse Vader.
Jy kan Hom nie vertrou as jy Hom nie ken nie. As iemand dus moeite daarmee het om God te vertrou, laat hy alles doen om Hom beter te leer ken.
Siedaar die rede, die bestaansreg vir eredienste, twee keer per Sondag, en persoonlike en gesamentlike Bybelstudie, en katkisasie. Dit is alles daarop gemik om die vertrouensband met jou hemelse Vader sterker te maak.
En enigiemand is welkom. Ongelowiges, twyfelaars, skeptici, ateïste, wie ook al, enigiemand is welkom in die kerk. Kom sit onder die Woord.
Luister en leer meer oor die hemelse Vader.
En ook ons Bybelstudies en katkisasies is gulde geleenthede, nie net vir kerkmense nie, maar vir enigiemand wat meer wil leer oor God. Die oproep klink aan almal: welkom, kom en groei saam in vertoue op die hemelse Vader.
Christus se woorde aan Nikodemus geld vandag nog onverminderd:
Elkeen wat in Hom glo, sal nie verlore gaan nie, maar sal die ewige lewe hê (Joh 3:15-17).
Amen.
Votum
Seën
Ps 40:1
Gebed
Skriflesing: Johannes 3
Ps 30:1-2
Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 7 v/a 20-21
Preek
Psalm 30:3-7
Gebed
Geloofsbelydenis (Nicea)
Ps 30:8
Kollekte
Ps 116:6,7,9,10
Seën