Die Messias openbaar sy heerlike identiteit aan sy dissipels

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-03-04
Text: 
Johannes 1:52
Preek Inhoud: 

Preek: Johannes 1:52

In die komende maand hoop ek om ‘n paar keer uit die Johannesevangelie te preek. Aan die einde van hierdie maand vier ons Goeie Vrydag.

Dan herdenk ons dat Christus se werk op aarde tot ‘n dieptepunt gekom het, wat tegelykertyd ‘n hoogtepunt was, want dit het gelei tot sy opstanding in heerlikheid, wat ons presies oor ‘n maand op Paassondag gaan herdenk.

In hierdie maand wil ek graag aandag skenk aan ons Heiland se ampswerk op aarde.Ons begin vandag met ‘n teks heeltemal aan die begin van sy ampsperiode.

Tema: Die Messias openbaar sy heerlike identiteit aan sy dissipels

  • Hy berei hulle voor op wonderbaarlike dinge wat sou begin plaasvind
  • Hy ontlok by hulle ‘n gelowige antwoord
  • Hy berei hulle voor op wonderbaarlike dinge wat sou begin plaasvind

    In Johannes 1 lees ons oor die eerste dissipels wat Jesus geroep het.

    Dit het begin met Johannes die Doper se uitspraak dat Jesus die Lam van God is. Dit was die aanleiding dat twee van Johannes se dissipels voortaan vir Jesus begin volg het.

    Hulle vraag aan Jesus waar Hy tuis gegaan het, dui daarop dat Jesus rondom een van die Joodse feeste nou in die omgewing van Jerusalem was. Dit was ‘n tyd waarin baie tydelik verblyf gevind het by familie of vriende in die groter gebied van Jerusalem om die fees te kon bywoon. Jesus het die twee toe saamgeneem na sy verblyf. Dit was omtrent die tiende uur.

    Die evangelis gebruik hier die Joodse tydsberekening, wat die ure van die dag met sonsopkoms begin tel het (Sien ook Joh 4:6). Dus die tiende uur was ongeveer 4 uur in die middag. Die res van die dag het die twee by Jesus gebly.

    Een van die dissipels se naam was Andreas.

    Die ander een word nie geïdentifiseer nie – waarskynlik was dit Johannes, wat hierdie Evangelie geskryf het. Meerdere kere verwys Johannes in hierdie Evangelie slegs anoniem na homself, waarskynlik uit beskeidenheid. Die twee was steeds met Jesus in gesprek, en die onderwerp kan ons aanneem was sy Messiasskap, want toe Andreas na sy broer Petrus gaan, het hy vol oortuiging uitgeroep:

    Ons het die Messias gevind!

    Wat ‘n pragtige uitspraak! Die Messias, of in Grieks vertaal, die Christus.

    Die daaropvolgende dag roep Jesus toe vir Filippus, wat uit dieselfde stad as Andreas en Petrus was – Betsaida. Filippus gaan vertel toe aan Natanael.

    Weer lees ons so ‘n mooi getuienis: ons het Hom gevind van wie Moses in die wet en ook die profete geskrywe het!

    Wet en Profete – dit was die naam vir die Bybel in daardie tyd, die Ou Testament.

    Natanael staan in die Bybel ook bekend as Bartholomeüs. In Mattheüs, Markus en Lukas word hy genoem as een van die eerste ses dissipels van die Here (Matth 10:3; Mark 3:18; Luk 6:14). Natanael, wat beteken Godsgeskenk, was waarskynlik sy voornaam, en Bartholomeüs sy van. Bartholomeüs beteken seun van Tholomeüs. Natanael het egter nogal skepties geantwoord op die entoesiastiese opmerking van Filippus: Kan daar uit Nasaret iets goeds wees?

    Nou hoekom sou Natanael so ‘n vraag vra?

    Dit is bekend dat die Judeërs, sê maar die Jode wat in Jerusalem en omstreke gewoon het, dikwels neerhalend oor die noorde van die land gepraat het.

    Maar die vraag is of Natanael homself by hierdie gewoonte aansluit?

    Want, dit is interessant om te noem, Natanael was self afkomstig uit die noorde. Naamlik uit Kana, ‘n dorpie slegs enkele kilometers van Nasaret vandaan. Waarskynlik het hy iets anders bedoel met sy opmerking. Naamlik, daar staan mos nêrens in die wet en die profete, in die Skrif, iets oor Nasaret nie? Daar is geen profesie oor hierdie dorp nie. Geen profesie soos byvoorbeeld die van Miga hoofstuk 5, waar staan dat die Messias uit Betlehem sou kom. Nie ‘n plek dus om dop te hou vir hulle wat die vervulling van God se beloftes verwag nie.

    Maar, Filippus nooi hom toe uit om met sy eie oë te kom kyk. Vervolgens lees ons dat Jesus ‘n positiewe getuienis oor Natanael gee: ‘n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie. Jesus kon dit sê, want Hy sien tot in elke mens se hart.

    En Jesus gee, omdat Hy Natanael reeds van binne uit geken het, hierdie getuienis oor hom, verwysende na die pragtige woorde uit Psalm 32:

    Welgeluksalig is die mens in wie se gees geen bedrog is nie (vers 2).

    Natanael was verbaas en vra vir Jesus: waarvandaan ken U my? En toe, om duidelik te maak dat Jesus inderdaad alwetend is, voeg Hy die volgende opmerking daaraan toe: Natanael, ek het jou al gesien, nog voordat Filippus jou geroep het, toe jy onder die vyeboom was. Nou was Natanael eers verbaas!

    Hierdie Rabbi kan sien waar ander mense nie kan sien nie! En hy het verbaas gereageer, ook met ‘n pragtige belydenis: U is die Seun van God, U is die Koning van Israel! Hierdie woorde is nie net mooi woorde vol emosie nie.

    Met hierdie opmerking gee Natanael te kenne dat hy aanvaar dat Jesus die Messias is. ”Seun van God” en “Koning van Israel” is albei Outestamentiese titels wat by ‘n Messias, ‘n Gesalfde gehoort het. Natanael erken dat hierdie titels Jesus toebehoort. Christus antwoord daarop: Glo jy omdat Ek vir jou gesê het: Ek het jou onder die vyeboom gesien?  Jy sal groter dinge sien as dit.

    Hierdie was nog niks, vergeleke by wat gaan kom nie! En dan volg ons teks:

    Ek sê vir julle, van nou af sal julle die hemel geopend sien en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens.
    Hierdie is die eerste voorbeeld van dit wat die evangelis reeds in die inleiding op sy Evangelie geskryf het.Johannes 1:14: “die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou”!

    Ja die dissipels was bevoorreg om as eerstes oog in oog te kom met die Messias se heerlikheid. Hy kon sy heerlikheid nie verberg nie.

    Filippus was onkant gevang deur Jesus se opmerking, waaruit sy alwetenheid geblyk het. Maar, het die Messias toegevoeg, dit is nog maar die begin.

    Veel meer sal kom! Groter dinge staan op die Messias se agenda.

    Wonderlike dinge wat die mense met hulle eie oë gaan sien, noudat die Messias onder hulle gekom het. Natanael sal binnekort in sy eie geboortedorp, Kana, die Messias se heerlikheid te sien kry. Dit is waaroor ons in die volgende hoofstuk kan lees (Joh 2), die bruilof te Kana.

    ‘n Indrukwekkende uitspraak van Jesus, so aan die begin van sy ampsdiens op aarde. Dis die eerste keer wat Jesus oor Homself praat. Johannes die Doper het Hom al die Lam van God genoem. Nou begin Christus Homself openbaar.

    “Van nou af” – staan daar in ons teks, woorde wat daarop dui dat Jesus nou sy ampsdiens begin. Tussen hakies, as u toevallig die Nuwe Vertaling by u het, of dalk die Engelse NIV, sal u daarin nie die woorde “van nou af” vind nie.

    Daar is ‘n rede voor. Die Nuwe Vertaling gebruik naamlik ‘n klein seleksie ou Griekse manuskripte. Die katkisante sal miskien die name onthou.

    Die Codex Sinaïticus, Codex Vaticanus, en Codex Alexandrinus.

    Nou kom die woorde “van nou af” nie voor in die eerste twee van hierdie ou manuskripte nie, dus het die Nuwe Vertaling dit uitgelaat.

    Hierdie woorde kom egter wel voor in die Codex Alexandrinus, asook baie ander ou Griekse manuskripte van die Nuwe Testament.

    Die Ou Vertaling gebruik die sogenaamde Meerderheidsteks, wat deur die eeue deur die kerk oorgelewer is, en daarom vind ons daarin wel die woorde “van nou af”. Ek noem dit, sodat u bewus is daarvan dat by Bybelvertaling die vertalers dikwels keuses maak uit watter oorspronklike manuskripte hulle vertaal. Daardie keuses het ‘n invloed op die Bybel wat u voor u het.

    Bybelvertaling is ‘n baie verantwoordelike taak, waarby die kerk nou betrokke moet wees. Die woordjies “van nou af” hoort in die teks.

    Dit is ‘n uitdrukking wat Johannes meer as een keer gebruik.

    Dink byvoorbeeld aan hoofstuk 14:7, waar Jesus vir sy dissipels sê: “As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af  ken julle Hom en het julle Hom gesien.”

    Hierdie woordjies van nou af, hier in Johannes 14, sowel as in ons teks, dui op die spesiale tyd wat aangebreek het, die spesiale tyd noudat Christus as die Middelaar tussen God en mens na die aarde gekom het. Ja die volheid van die tyd het aangebreek! Van nou af gaan julle groot dinge beleef!

    Jesus se woorde in ons teks herinner ons verder spesifiek aan die geskiedenis van Jakob in die Ou Testament. Jakob se droom te Bethel, waarin hy gesien het hoe die engele met ‘n leer op en afklim van die hemel. Met hierdie visioen het God vir Jakob sy belofte bevestig, naamlik dat Hy sy Helper sou wees. Soos die aartsvader Jakob onder ‘n oop hemel mog lewe, so sal dit ook geld vir wat gaan volg. Die dissipels sal merk dat hulle, noudat die Messias by hulle is, werklik onder ‘n oop hemel lewe! Hulle sal merk dat hierdie Messias werklik die Middelaar is tussen God en mense.

    Veelbetekend noem Jesus Homself in ons teks die Seun van die mens.

    Op hierdie oomblik, toe die dissipels sy Goddelikheid, sy alwetendheid, begin agterkom het, beklemtoon Jesus tog juis sy menslikheid – Seun van die mens.

    Dit is nie toevallig nie. Dit dui op sy amp, sy Messiaanse amp, naamlik dat Hy gekom het om Middelaar te wees. Middelaar, Tussenpersoon, tussen God en die mense. Dit is die eerste keer wat Jesus Homself Seun van die mens noem.

    Hy verwys hiermee terug na die profesie uit Daniël 7:13.

    Ons lees in Daniël: “Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer, sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.”

    Hierdie uitdrukking – Seun van die mens – soos ons dit in Daniël vind, het ‘n aanduiding geword vir die komende Messias wat God sou stuur, waarop die volk moes wag, na Wie hulle moes uitsien. Dit was ‘n profesie oor die Messias, sy amp en middelaarstaak. Noudat Jesus gekom het, eien Hy hierdie titel vir Homself toe:

    Hy is die Seun van die mens, dit wil sê, die Messias, die Middelaar tussen God en sy volk, wat beloof was, wat sou kom.

    En soos die leer met engele wat op- en afklim die verbinding was tussen hemel en aarde vir Jakob, so is Christus self die verbinding tussen God en ‘n sondige mensheid. Hy oorbrug die kloof. Hy is die poort na die hemel.

    Hy is die weg tot die Vader. Hy is Immanuël – God met ons!

    Hy is Seun van die mens, maar tegelyk ook Seun van God.

    Dink aan die einde van die Johannesevangelie, waar Jesus veroordeel word vir die feit dat Hy werklik die Seun van God is (Joh 19:7).

    Ja dit het Jesus ook erken en nie verswyg nie, meerdere kere wys die evangelis ons daarop (Joh 3:18; 5:25; 9:35; 10:36; 11:4; 19:7; 20:31).

    Hierdie seun van Josef, uit die veragtelike Nasaret, Hy is Seun van die mens én Seun van God.Hy is albei. Daarom is Hy die perfekte Middelaar!

    Hy het direkte toegang tot die hemel. Hy is die kommunikasielyn tussen hemel en aarde. Sy gebede word deur die Vader by voorbaat verhoor (Joh 11:41-42).

    God se engele, ‘n ontelbare menigte, staan konstant gereed om sy bevele uit te voer. Jesus beskik oor bo-aardse kragte, wat Hom in staat stel om wonders te verrig en demone te verjaag. ‘n Paar dae later sou die dissipels ‘n eerste voorproefie daarvan smaak, op die bruilof te Kana.

    (Tema: Die Messias openbaar sy heerlike identiteit aan sy dissipels

  • Hy berei hulle voor op wonderbaarlike dinge wat sou begin plaasvind)
  • Hy ontlok by hulle ‘n gelowige antwoord

    Daar is nog een aspek uit die teks wat nie behandel is nie. Dit is die woorde waarmee ons teks begin. Ons teks begin gewigtig met die woorde: Voorwaar, voorwaar. In die Grieks staan daar: Amen, amen!

    Dit is die eerste keer in die Johannesevangelie wat ons hierdie dubbele Amen vind. En hierna sal Jesus dit nog 24 keer in die Johannesevangelie gebruik.

    ‘n Refrein wat elke keer terugkom. As mens na hierdie dubbele Amen kyk, en die ander kere wat dit voorkom, lei dit telkens ‘n belangrike uitspraak van Jesus in. ‘n Uitspraak waarvoor Jesus besondere aandag vra.

    ‘n Uitspraak waarop Jesus ook ‘n gelowige reaksie van sy hoorders verwag.

    ‘n Uitspraak wat inderdaad geloof vereis.

    Met hierdie dubbele Amen wil Jesus as’t ware ‘n reaksie uitlok by sy hoorders, ‘n gelowige beaming van wat Hy gesê het. Jesus beklemtoon dubbel voordat Hy die uitspraak doen: Dit wat Ek sê, is waar en seker, dubbel seker.

    En hiermee lok Hy sy hoorders se gelowige reaksie uit. Dat hulle hulle koppe knik en beaam, ja, dit is so, dit is waar wat U sê.

    Jesus se gebruik van die dubbele amen is uniek. Hierdie gebruik het sinoniem geword aan sy bediening. In die Bybelboek Openbaring word die woord Amen selfs as ‘n eienaam vir Hom gebruik.

    Openbaring 3:14: “Dit sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God”.

    Christus is die vervulling van al God se beloftes in eie Persoon. En Hy roep ons op om dit te erken. Hy wat die Amen in eie Persoon is, vra ons gelowige amen.

    Dat ons sal erken dat Hy alle beloftes vervul het.

    Die gebruik om God se betroubare Woord te beantwoord met ‘n gelowige “amen”, is ‘n gebruik wat ons reeds in die Ou Testament vind. In Deuteronomium 27 moes die volk telkens God se woorde via Moses beaam.

    By die profeet Jeremia sien ons ook dat hy “amen” sê op die openbaring van God (Jer 11:5; 28:6).

    In Esra en Nehemia hoor ons ook hoe die volk die Here se woorde beaam (Esra 8; Neh 5).

    En in die Nuwe Testament gaan hierdie gebruik verder, dat die gemeente die prediking van die Evangelie beaam (1 Kor 14:16).

    Christus, wat die Amen in eie Persoon is, die vervulling van al God se beloftes, het dit vir ons maklik gemaak om amen te sê. In Hom weet ons dat al God se beloftes waaragtig is.

    Christus het sy dissipels opgeroep om Hom te volg. Dit het ingehou dat hulle, nie net met woorde nie, maar ook met die daad, sy woorde beaam. Laat ons ook, nie net met die woord, maar ook met die daad, Christus se roepstem beaam, en Hom volg. Wat ‘n voorreg, om so ‘n Messias te hê! Die dissipels mog ooggetuies word van al die wonders wat Jesus tydens sy ampsdiens op aarde sou verrig. Hulle mog die geopende hemel ervaar. Tienduisende maal tienduisende engele wat gereed gestaan het vir die Heiland.

    Want laat dit duidelik wees, al die wondertekens wat Hy gedoen het, was te veel om op te skryf. Die generasie van daardie tyd is oorspoel met wondertekens. Johannes skryf aan die einde van sy Evangelie:

    “Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie … daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat.” (Joh 20:32 & 21:25)

    En Jesus sê self met die oog op mense soos ons, ons wat in later generasies lewe, noudat Jesus nie meer op aarde is nie maar weer opgevaar het na die hemel. Jesus sê bewus vir ons: “salig is die wat nie gesien het nie, en tog geglo het”. (Joh 20:29)

    So roep ek julle dan ook op vandag om te glo in hierdie Jesus, wat die Messias is. Glo in Hom, op grond van die profetiese woord, wat baie vas is! (1 Petr 1:19) Sê amen op sy Woord.

    Amen.

     

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Sb 8:1

Wet

Ps 32:1

Gebed

Skriflesing: Johannes 1:15-52

Ps 89:17,18

Teks: Johannes 1:52

Preek

Ps 106:20

Gebed

Kollekte

Sb 8:5

Seën