God skenk sy eie Seun as Middelaar

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-02-25
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 6
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 6

Sommige mense, volgens my, nie net kinders nie, het ’n verlanglysie as hulle amper verjaar. Daarop skryf hulle dinge wat hulle graag present sou wou kry.

Nou is dit wel so, dat as grootmense dit doen, hulle wel ’n bietjie rekening hou met wat in ander mense se vermoë is om te kan gee. Jy sal nie sommer die duurste dinge op jou verlanglysie skryf nie. Omdat jy weet dat ander mense dit tog nie sal kan bekostig nie. Maar kom ons wees eerlik, iemand wat ongeneeslik siek is, sou die liefste op sy verlanglysie wil skryf: dat iemand my gesondheid kan skenk. Hoe dit sou moet gebeur, weet hy nie, maar hy sou wens dat iemand dit tog vir hom kon doen. Dieselfde kan ons ook sê oor die mensheid se ellende.

Hoe graag sou ons nie wou hê dat alles weer regkom nie. Dat die sonde en die dood, en alle onheil en narigheid, dat alle oorlog, misdaad en geweld,  vergoed weggeban word. Hoe dit sou moet gebeur, weet ons nie. En soms vra ons onsself in wanhoop af: sal dit ooit nog goed kom?

Aan die hand van Sondag 6 mag ek u vanaand ’n antwoord op hierdie vraag verkondig.

Tema: God skenk sy eie Seun as Middelaar

1       Die vereistes waaraan die Middelaar moet voldoen

2       Die manier waarop ons God se Seun as Middelaar leer ken

3        Die geskenke waarmee hierdie Middelaar ons oorlaai

1 Die vereistes waaraan God se Seun as Middelaar moet voldoen

Ons begin met die vereiste dat die Middelaar God moet wees. Op allerlei maniere het dit tydens Jesus se lewe op aarde duidelik geword dat Hy werklik God is. Allereers dat Hy so intiem oor die verhouding tussen Hom en sy hemelse Vader gepraat het. Dit was vir die mense ongekend. Jesus het gereeld die uitdrukking gebruik: Ek is. Hiermee herinner Jesus ons aan die Verbondsnaam van sy Vader in die Ou Testament: Jahwe.

Ek is wat ek is.

Dit beteken: Ek is betroubaar. Ek is altyd dieselfde.

Dieselfde terminologie gebruik Jesus vir Homself.

Niemand het Homself ooit so direk met die Vader in die hemel vereenselwig nie. Wie My gesien het, het die Vader gesien. Selfs dit het Jesus durf sê, sien Johannes 14. Hy en die Vader lyk op mekaar. Hiermee doel Jesus nie op sy aardse menslike voorkoms nie, maar op sy wese, sy karakter. Hy is self God.

Dus, tydens sy lewe op aarde, was die boodskap vir ieder en elk duidelik, naamlik dat Jesus Homself as God beskou het. Wanneer Jesus ’n verlamde man sy sondes vergewe, reageer sy teenstanders baie heftig op hierdie opmerking.

Want wie kan sondes vergewe behalwe God alleen?

As Christus nie God was nie, dan sou hierdie opmerking aanmatigend, ja baie sondig wees. Sonde teen die derde gebod. Jy mag nie die Naam van die HERE ydellik gebruik nie. Jy mag sy Naam nie onvanpas gebruik nie.

Maar as Christus wel God is, dan is hierdie opmerking van Hom voor die hand liggend. So het Jesus dan ook opgetree: asof dit die mees voor die hand liggende saak was dat Hy sondes kon vergewe. En dit was ook so.

Want Hy is God!

Wie dit nie wou erken nie, het hulle al spoedig verskriklik vir Hom begin vererg. Dink byvoorbeeld aan sy dorpsgenote uit Nasaret. Nadat Hy ’n erediens in die sinagoge van Nasaret gelei het, wou hulle Hom by ’n krans van die berg afgooi. Hoekom?

Omdat Hy ’n profesie uit die Ou Testament op Homself toegepas het! – sien Lukas 4.

Weereens: in heel sy optrede het Jesus Goddelike gesag uitgestraal.

Nog nooit het ’n mens so durf praat nie. Daar kom by dat Hy met sy woorde selfs kontrole oor die natuur gehad het. Met een woord kon Hy ’n storm op die see laat bedaar. Sy dissipels het stomverbaas gereageer:

Wie is Hy dat selfs die winde en die see aan Hom gehoorsaam is? (Markus 4)

En as Thomas, tenslotte, na sy baie twyfels, oog in oog staan met die opgestane Heiland, kan hy nie anders as om hardop uit te roep nie:

My Here EN MY GOD!

Ja inderdaad, Jesus is die ewige, die eniggebore Seun van God. Dit was ook vir hierdie rede, die einste rede dat Hy Homself as God beskou het, dat Hy deur die hoëpriester ter dood veroordeel is. Dat Hy Homself die Seun van God genoem het. Dit was natuurlik Godslastering, as dit nie waar sou wees nie.

Maar dit was waar! Hy is tot die dood veroordeel op grond van sy identiteit, wat Hy nie verloën het nie. Hy is naamlik God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, een in wese met die Vader. Juis om hierdie rede was ons Here Jesus dan ook in staat om die oordeel te dra.Uit die krag van sy godheid kon Hy die las van God se toorn aan sy menslike natuur dra, om vir ons die geregtigheid en die lewe te verwerf.

Die tweede vereiste was dat die Middelaar ook mens moes wees. Ja en die Here Jesus was honderd persent ook mens. Die Woord het vlees geword.

Met ‘vlees’ moet mens hier nie dink aan die sondige natuur  nie, maar aan die menslike natuur soos wat dit is: broos, swak en kwetsbaar. God se Seun is as ‘n baba gebore. Hy het die menslike natuur aangeneem, wat totaal verswak was, broos geword het, kwesbaar en sterflik geword het, as gevolg van die sonde.Hy het heeltemal in ons vel gekruip. Hy was gewoon mens. Hy het ook vermoeidheid geken, honger, dors.

Hy het die menslike bestaan van binneuit geken, met al sy vrae, moeites, sorge en verdriet. Hy kon meevoel met ons swakhede. Hy het ervaar wat dit is om aan verleidings blootgestel te word. Niks menslik was Hom vreemd nie.

Opvallend is hoe die evangelis Johannes, wat in sy Evangelie so nadruk lê op die menslikheid van die Here Jesus, hoe hy sy Evangelie tog begin deur te beklemtoon dat Jesus eg God is: In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God! (Joh 1:1) Hy was God, maar tegelyk mens.

Hy kon moeg word. Het honger gehad. Kon kwaad word. Kon huil.

Hy was heeltemal mens. Dit was vanuit hierdie gebroke menslike bestaan wat Hy met die herbou, die herskepping van die mens begin het. Aan alle versoekings is Hy blootgestel, maar self het Hy nie gesondig nie. Self het Hy telkens die regte keuse gemaak. Self het Hy elke dag, elke uur, die band met sy hemelse Vader suiwer gehou. So het Hy as mens, uit krag van sy God, die verbond met ons hemelse Vader herstel. So het Hy dus voldoen aan die eise wat God aan ’n Middelaar gestel het.

(Tema: God skenk sy eie Seun as Middelaar

1         Die vereistes waaraan God se Seun as Middelaar moet voldoen)

2       Die manier waarop ons God se Seun as Middelaar leer ken

Gemeente, as ’n ouderling of diaken by u op besoek kom, en hy roep u op om reg te lewe, dat jy trou moet bly in jou huwelik, dat jy niemand mag haat nie,

dat jy jou humeur in toom moet hou, dat jy nie mag skinder nie, dat jy ander moet behandel soos jy self behandel wil word, dat jou ja ja moet wees, nie net in die kerk nie, maar ook op jou werk, dat jy eerlik jou geld moet verdien,

dat jy bereid moet wees om jou geld te deel met ander, dat jy rojaal moet gee dan gemeente,

as ’n ouderling of diaken hom so met u privaatlewe bemoei, dan doen hy dit nie uit homself nie, maar omdat sy Opdraggewer dit van hom vereis.

En as jy vir hom sou vra: bewys bietjie vir my dat God dit van jou vra, dan sal die ouderling of diaken natuurlik sy Bybel vat. Dit is as’t ware sy opdragbrief.

Daarin staan wie die ampsdraer stuur, naamlik die Here Jesus, die Middelaar.

Daarin staan dat ons ‘n ampsdraer moet ontvang en na hom luister, asof die Here Jesus met ons praat. Nou hieroor gaan die tweede punt van die preek.

Hoe weet ons al hierdie dinge so seker?

Hierdie heerlike nuus in die Bybel, dat Christus ons Middelaar is, hoe kan ons so seker daarvan wees? Dit is omdat ons dit nie van mense gehoor nie.

Mense kan ons om die bos lei. Maar hierdie heerlike nuus ontvang ons van God self, wat betroubaar is. Die Heilige Gees het alles wat ons vir ons saligheid moet weet, noukeurig laat opskryf. Hierdie projek, die totstandkoming van die Bybel, het eeue geduur.

Die Heilige Gees het daarvoor verskillende mense in diens geneem. Bekende profete soos Moses en Jesaja, maar ook minder bekende profete soos Nahum en Sefanja. Konings soos Dawid en Salomo, ook priesters. En in die Nuwe Testament apostels. Selfs mense wie se naam ons nie meer ken nie.

In die totstandkoming van die Bybel het die Heilige Gees daarvoor gesorg dat God se openbaring aan die mensheid noukeurig op skrif gestel is.

Antwoord 19 van die Kategismus gee ’n kort samevatting van hierdie proses van God se openbaring, die openbaringsgeskiedenis. Dit het alles reeds in die paradys begin. Daar, kort na die opstand van die mens, het die eerste belofte geklink. Die moederbelofte.

God het vir die slang, die duiwel, gesê:

Die saad van die vrou sal jou kop vermorsel.

Dit was die eerste belofte oor wat daar eeue later sou gebeur op Golgota.

Waar die Satan inderdaad oorwin is deur God se Seun, ons Middelaar en Heiland.

Hierdie verlossingsprojek het God vervolgens laat verkondig deur die aartsvaders. Dan dink ons aan mense soos Adam, Henog, Noag, Abraham, Isak en Jakob. Hulle mog al lewe in die verwagting dat God die dood sal verslaan.

Hulle mog al profeteer oor die koms van die Middelaar.

Verder noem die Kategismus die profete.

Ook hulle mog al die Evangelie van die toekomstige Middelaar verkondig.

Die Gees van Christus het al in hulle gewerk. Hulle het oor Hom geprofeteer, hoewel hulle Hom nog nie persoonlik geken het nie. Daarom is dit waar dat die hele Ou Testament in feite al oor Christus gaan. Op die dag van sy opstanding het die Here Christus dit self ook verduidelik aan die Emmaüsgangers. Hy het by Moses begin en by al die profete en verduidelik, uitgelê, hoe al die Skrif op Hom betrekking het (Lukas 24:27).

Ook het God die Evangelie tevore laat afbeeld deur die offers en ander skaduagtige gebruike wat Hy in sy wet voorgeskryf het. Alles wat ons in die Ou Testament lees oor altare, offers, bloed, priesters, dit alles was ’n simboliese voorafbeelding van wat Christus sou bring. Versoening, nie met dierebloed nie, maar met sy eie bloed. Elke lam wat geslag is, het na Christus vooruit gewys. Kyk, die Lam van God, wat die sonde van die wêreld wegneem! (Joh 1:29) Die optrede van die hoëpriester was ook ’n simboliese voorafbeelding, voorafskaduwing, van Christus wat op koms was. Die versoendeksel met bloedvlekke daarop was ’n skaduwee, ’n simboliese voorafbeelding, van Christus se liggaam aan die kruis, bevlek met bloed.

Die besnydenis was ’n voorafbeelding van Christus se dood.

By die besnydenis het daar bloed gevloei, maar net ’n beperkte hoeveelheid.

Dit was ’n herinnering aan wat nog moet kom: Christus het AL sy bloed gegee, heel sy lewe. Al hierdie gebruike: offers, geslagte lammetjies, versoendeksel, altare, besnydenis, noem maar op – met al hierdie dinge, noem die Kategismus, het God die Evangelie alreeds laat uitbeeld.

Dit was voorafskaduwings.

Dit wil sê: asof die skaduwee van die Middelaar, Christus, wat op koms was, alreeds geval het op die mense van die Ou Testament. Hulle het Hom nog nie geken nie, maar hulle het geweet dat Hy in aantog was, omdat sy skaduwee al sigbaar was. Toe Hy uiteindelik verskyn, kon hulle Hom sien van aangesig tot aangesig, in al sy heerlikheid. En toe was dit nie meer nodig om na die skaduwee te kyk nie, toe kon hulle na die Persoon kyk. Dit is, in kort, die verskil tussen die Ou en Nuwe Testament. In beide is Christus aanwesig.

Maar in die Nuwe Testament is alles veel duideliker, en heerliker.

Ons sien die Middelaar daar persoonlik, ons ken sy Naam, ons weet wat Hy vir ons gedoen het.

Dit wil egter nie sê dat ons die Ou Testament nou maar in die asblik kan gooi nie. Net soos op ’n goeie skildery die portret net soveel helderder word as die skaduwees ook ingeskilder word, so leer ons Christus veel en veel beter ken, juis teen die agtergrond van die Ou Testament. In sowel die Ou as Nuwe Testament leer jy wie die Middelaar vir jou is.

Jesus Christus, die Geskenk uit die hemel.

(Tema: God skenk sy eie Seun as Middelaar

  1. Die vereistes waaraan die Middelaar moet voldoen
  2. Die manier waarop ons God se Seun as Middelaar leer ken)

    3 Die geskenke waarmee hierdie Middelaar ons oorlaai

    Sondag 6 noem vier sleutelbegrippe om hierdie Geskenk te beskryf:

    Eerstens, Hy is aan ons geskenk tot wysheid. Geloof in Jesus maak jou wys tot die saligheid. Dit beteken: jy weet nou van ’n lewe na die dood. Jy weet van ’n herskepping. Jy weet hoe al die probleme in hierdie wêreld opgelos kan en gaan word. Is dit nie die toppunt van wysheid nie? Inderdaad!

    Ja, dis die hoogste wysheid, wat ons ontvang as geskenk in Christus.

    Tweedens is Hy aan ons geskenk tot regverdigheid.

    Christus het ons geregverdig deur sy offer aan die kruis. Ons regsposisie voor God is nou dat ons vrygespreek is, nie meer ’n aangeklaagde nie.

    Derdens is Hy aan ons geskenk tot heiliging.

    Ons ontvang sy Gees wat ons van binne uit verander, heilig, toewy.

    Afgesonder van ’n sondige lewe, en volledig toewy aan God.

    En vierdens, Hy is aan ons geskenk tot volkome verlossing.

    Onsterflikheid. Ewige lewe.

    Dit ontvang u alles saam in die geskenk van die Middelaar, wat God jou skenk.

    Ervaar jy in jou eie lewe sy wysheid? Ervaar jy die geluk en oplugting wat die geskenk van regverdigheid jou bring? Ervaar jy die geskenk van heiliging?

    Is jy bereid om jou lewe aan Hom alleen te wy? Sien jy uit na die geskenk van volkome verlossing? Dit staan nou al op jou naam.

    Jy sal dit mag beleef in die toekoms.

    Dit is maar ’n paar geskenke waarmee die Middelaar ons oorlaai.

    Dit is alles danksy Hom, wat die groot Geskenk uit die hemel is: Jesus Christus, Ons Middelaar en Verlosser!

    Halleluja!

    Amen.

     

     

     

 

Liturgie: 

Votum: Ps 121:1

Seën

Ps 40.3

Gebed

Skriflesing: Johannes 1:1-18

Ps 2:1,3,4

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 6

Preek

Ps 2:5,6

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ps 89:8

Kollekte

Ps 89:6,7

Seën