Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 5
Nadat die Twin Towers in New York in 2001 as gevolg van die terroristiese aanval inmekaar gestort het, en die massale puinhoop wat agtergebly het opgeruim is, het hulle begin nadink oor hoe om die World Trade Centre te herbou. Argitekte kon hulle planne en ontwerp indien, waaruit dan een gekies sou word. Wat baie opvallend was, by al die ontwerpe, was dat behalwe vir die uiterlike elegansie van die gebou, ook baie aandag geskenk is aan veiligheid.
Na so ‘n verskriklike ramp is alle oë gevestig op die toekomstige veiligheid van die World Trade Centre, en daar is ruim begroot en fondse is geredelik beskikbaar gestel vir veiligheid en sekuriteit. Voortaan moet die nuwe geboue wat in Manhattan gebou word, aan die strengste veiligheidseise voldoen, en bestand wees teen watter terroristiese aanval ook. Mog dit ooit weer gebeur dat ‘n vliegtuig teen so ‘n groot gebou vasvlieg, moet die gebou regop bly en nie weer inmekaar tuimel nie.
Nou handel hierdie preek verder nie oor hierdie bouprojek in New York nie, maar oor ‘n ander herbouproses, naamlik die herstel van die mensheid wat in sonde geval het.
Ek verkondig u die Evangelie aan die hand van Sondag 5 met hierdie tema:
Tema: Die herstel van die mens moet aan die strengste eise voldoen.
- Hoe dit is om voor God tereg te staan
- Alle oppervlakkige skikkings wys God van die hand
- God bring self die herstel tot stand
- Hoe dit is om voor God tereg te staan
Sondag 5 van die Heidelbergse Kategismus wys eintlik vir ons drie geslote deure en een geopende deur. Dit het geen sin om op ‘n deur te bly klop, as dit tog op slot gaan bly nie. Want die HERE stel streng eise.
Soos die Kategismus dit verwoord:
Aan God se geregtigheid moet voldoen word.
Dit gaan oor die feit dat die mens teen God in opstand gekom het. Hy het in sonde geval, sien Genesis 3. Soos die Twin Towers het die mens inmekaar gestort. Niks het oorgebly, wat goed genoeg was om weer op te bou nie. Die hele puinhoop moes eers gesloop word, totdat daar een diep gat oorgebly het waar eens daardie torings gestaan het, sodat ‘n volledig nuwe fondament gelê kon word. So het die mens na die sondeval nie meer die beeld van God vertoon nie. Van God se onderkoning op aarde het hy geval tot die staat van opstandeling, terroris. Hy staan nou tereg voor die hoogste geregshof, voor God self. Die mens, wat nou straf in tyd en ewigheid verdien.
Nou gemeente, hoe dit voel as God ‘n regsaak teen jou voer, daarvan kan Job ons meer vertel. U weet in groot lyne hoe Job se lewe gelyk het. In Job hoofstuk 1 lees ons dat hy ‘n regverdige man was. Hy was vroom, opreg, Godvresend en het afgewyk van die kwaad (Job 1:1). Hy was ‘n man wat in alle opsigte deur God geseën is. Hy het kinders gehad, sewe seuns en drie dogters.
Hy het oorvloed aan besittings gehad. Boonop het Job in alles sy bes gedoen om naby die HERE te leef. Hy het tyd nog moeite gespaar om sy kinders te bewaar by die diens aan die HERE. Ons lees dat telkens na ‘n feesmaal, die kinders kon naamlik goed met mekaar oor die weg kom, en omstebeurt het hulle partytjies gehou, en ja as daar tien kinders is, en voeg nog pa en ma se verjaarsdae by, dan was daar elke maand in elk geval ‘n fees. So het hulle almal saam ‘n gelukkige lewe gelei. Maar ons lees dat Job tog, na afloop van elke fees, ‘n brandoffer gebring het. ‘n Bietjie oorbesorgde ouer wat alle moontlike sondes van die kinders wil versoen. En dan was dit ook nog nie eers feeste waar daar enigsins aanleiding voor was om dit sondig te noem nie.
Dit was nie sulke partytjies wat mens deesdae ook kry, waar die mense wat daarheen gaan, eintlik hulle saligheid op die spel sit nie. Glad nie. Maar tog het Job vir die sekerheid nog brandoffers gebring, want hy het gedink: Miskien het my kinders gesondig en dalk in hulle hart God vaarwel gesê. Miskien dink hulle, vanweë al ons voorspoed, dat hulle God nie meer nodig het nie. Gemeente, so was Job se lewe dus, trou en opreg in sy diens van die HERE.
Maar dan tref alle moontlike rampe hom, die een na die ander. Niks bly hom gespaar nie. As daar een voorbeeld is van hoe die kwaad ‘n goeie mens kan tref, dan was dit wel Job. Niemand so regverdig soos hy nie, niemand so onskuldig soos hy nie. Tog moes juis hy dit ontgeld.
Ons weet wat wat die gevolg was.
Hoe Job in diepe rou op ‘n ashoop gaan sit het. Alles is van hom afgevat, en selfs sy eie liggaam is aangetas. Dit het dae geduur voordat Job ‘n woord kon uitbring. Hy was letterlik met stilswye geslaan.Ons weet dat drie van sy vriende na hom toegegaan het. Na sewe dae en nagte se stilte het Elifas as eerste begin praat. Daarna Bildad. En die hoofstuk wat ons gelees het, hierin vind ons Job se eerste antwoord aan Bildad. In hierdie hoofstuk verwoord Job hoe dit is om voor God tereg te staan. Dit is indrukwekkend hoe die oneindige verskil tussen die regverdige God en ‘n sondige mens hier geskets word.
Ons lees van die streng eise wat die hemelse Regter stel. Eise waaraan geen mens kan voldoen nie. Job sê:
Hoe kan ‘n sterweling regverdig wees by God? (Job 9:1)
Ja dit is God se straf op die sonde van die mens: die feit dat hy ‘n sterweling geword het. Dink aan God se waarskuwing in die paradys:
“die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Gen 2:17)
Met hierdie eerste opmerking van Job is eintlik alles al gesê. Die feit dat jy as mens sterflik is, is al genoeg rede om veroordeel te word. Hoe sou die mens dit dan durf om teen God ‘n saak aan te span? So van: Here, dit het ek nie verdien nie. HERE, hierdie keer het die kwaad naamlik ‘n goeie mens getref.
Sulke opmerkings is nutteloos. Slegs al omdat die mens sterflik is.
Soos Job sê:
As ‘n mens sou begeer om met Hom te twis, nie een uit duisend sal hy Hom kan antwoord nie (vers 3).
Hoeveel minder sal ek Hom kan antwoord, sal ek my woorde kan kies teenoor Hom (vers14)?
Hom wat ek nie kan antwoord nie, al was ek regverdig: ek kan my regter net om genade smeek! (vers 14-15)
Gemeente, dit is die verhouding tussen ‘n mens en God in die hemel.Daar is ‘n oneindige verskil tussen Skepper en skepsel.En nog meer tussen Skepper en ‘n opstandige skepsel. Dit is gewoon die werklikheid.
Hierdie werklikheid, soos God se Woord dit in hierdie hoofstuk wys, word ook benadruk in Sondag 5. Die tweede deel van die Kategismus, oor die verlossing van die mens, begin met die egte werklikheid. Wie die werklikheid onder oë sien, verstaan dat God se streng eise nie uit die lug gegryp is nie.
- Alle oppervlakkige skikkings wys God van die hand
Daarom, gemeente, gaan ons in die tweede deel van die Kategismus ook nie goedkoop antwoorde vind nie. In die trant van: nou ja, ons ellende is baie erg, maar mens moet ook nie te somber wees nie. Want ons liewe Vader in die hemel sal wel ‘n plan maak. Nee gemeente, geen goedkoop antwoord nie.
Om by die beeld te bly wat die Kategismus gebruik, hier word eerlik handel gedryf. Geen skulde word onder die tafel ingeskuif nie. Sondag 5 wys vir ons drie geslote deure: jy kan nie self betaal nie, ‘n ander skepsel kan nie vir jou betaal nie, en selfs ‘n regverdige skepsel kan nie vir jou betaal nie.
Jou saak is dus hopeloos voor God se regterstoel.
Dit is wat Job ook besef het.
Laat dit goed tot jou deurdring wat Job hier sê. Ons sou sê: as daar iemand was wat die reg gehad het om iets te mog sê, dan was dit wel Job. Het het regtig niks gedoen nie. Hy kon nêrens voor geblameer word nie. Hy het selfs gereeld offers vir sy kinders gebring. Al hierdie rampe het oor hom gekom sonder dat dit sy eie skuld was. Ons weet dat satan baie bewus hier besig was om Job sover te kry dat hy sou struikel. Job kon absoluut niks hieraan doen nie.
As die kwaad goeie mense tref, is Job ‘n skoolvoorbeeld.
Maar tog ontmoet ons in hierdie hoofstuk nie iemand wat ‘n regsaak aanspan teen God nie. Inteendeel, nieteenstaande die feit dat hierdie rampe nie Job se skuld was nie, ontmoet ons hier ‘n Job wat besef dat hy niks kan inbring nie.
Dit is die werklikheid. Vers 20: Al was ek regverdig, my eie mond sou my veroordeel; al was ek onskuldig, Hy sou my as ‘n verkeerde reken.
En vers 22: dit maak tog geen verskil nie – skuldig of onskuldig – beide vernietig Hy.
Gemeente, wat Job hier sê, kan ons maar net beaam.Want dit is baie waar.
Skuldig of onskuldig – beide vernietig Hy. Was dit nie al deur alle eeue die geval nie? As daar oorlog is, of as daar natuurrampe plaasvind, dan is dit nie net die kriminele of terroriste wat getref word nie. Skuldiges en onskuldiges kom om. Kinders word slagoffers, net so goed as die soldate. Dit is die werklikheid. Die werklikheid dat elke mens sterflik is.
Die werklikheid dat elke mens skuldig voor God se troon staan.
Hierdie besef dryf tot wanhoop. Watter sin maak dit dan nog om ‘n goeie lewe te lei? Alle deure bly tog op slot. Teen God sal geen enkele proses slaag nie.
Want Hy is nie ‘n man soos ek, dat ek Hom sou kan antwoord, dat ons saam na die gereg sou kan gaan nie (vers 32).
Dit is die stemming van Job 9. Wanhoop. Niks het meer sin nie. Die eise wat God aan die mens stel, is so hoog, dat mens by voorbaat maar kan ophou.
Hierdie houding proe mens by Job. Niks maak meer sin nie. Laat God maar doen soos Hy wil. Maak vir my niks meer uit nie. Ek is vir niks meer lus nie.
Job kan net verbitterd kla.
Ja Job was regtig nie ‘n geloofsheld nie. Tog weet ons iets wat Job op daardie stadium nie besef het nie, naamlik dat God glad nie vir Job losgelaat het nie, en dat God ook nie vir satan vrye teuels gegee het nie. Selfs merk ons dat God al hierdie rampe wat satan oor Job gebring het, besig was om ten goede te keer.
Deur hierdie rampe het Hy Job gelei na die besef dat die mens inderdaad niks het om teen God in te bring nie. Dat ‘n mens nie met God ‘n regsaak kan aanspan nie. Dat alle mense, of hulle hulleself nou as skuldig beskou of onskuldig, dat hulle almal strafwaardig is. Dat natuurrampe alle mense tref, of dit nou in ons oë goeie of slegte mense is. Want die mensheid as geheel is sterflik. Dit is die straf op die sondeval. As ‘n mens sterf, maak nie saak hoe nie, as ‘n mens sterf, is dit presies waarvoor God gewaarsku het in die paradys.
Maar die mensheid wou nie luister nie.
Ja God staan in sy reg as Hy die strengste eise hanteer. Antwoord 12 van die Kategismus sê dit swart op wit: God wil dat daar aan sy geregtigheid voldoen word. Daarom moet ons of deur onsself of deur ‘n ander ten volle betaal.
Vervolgens word die verskillende moontlikhede, skikkingsvoorstelle, na vore gebring. Maar telkens sien ons dat God hulle van die hand wys. Kan ons self betaal? Op geen enkele manier nie. Ons maak die skuld juis elke dag groter.
Een van die hardnekkigste misvattings is dat ‘n mens tog op een of ander wyse vir God kan terugbetaal. En dus probeer baie mense hulle lewe lank om dit te doen. Maar dit help alles niks.
Ons regverdige God is net met die volmaakte tevrede.
Ook die tweede skikkingsvoorstel word van die hand gewys. Geen skepsel kan vir ons betaal nie. God wil nie ‘n ander skepsel vir ons skuld straf nie. Trouens, geen skepsel sal in elk geval die las van die ewige toorn van God teen die sonde kan dra nie. En ‘n regverdige mens loop ook nie op die aarde rond nie.
Selfs die hoëpriester kon in die Ou Testament nie vir die volk betaal nie.
Hy moes eers vir sy eie sondes versoening doen. Alle deure na ‘n skikking, na moontlike vryspraak, bly toe.Die aangeklaagde mens gee moed op.
Teen God kan mens niks inbring nie.
Soos Job gekla het (vers 19): wanneer dit aankom op die krag van die sterkste, dan is dit Hy.
En wanneer dit aankom op die reg – wie kan Hom ter verantwoording roep?
So is dit nou eenmaal. ‘n Skepsel kan niks inbring teen sy Skepper nie.
Laat staan ‘n opstandige skepsel.
- God bring self die herstel tot stand
Gemeente, die sfeer van Sondag 5 is taamlik somber. Herhaaldelik word goedbedoelde oplossings van die hand gewys. Tog is dit verbasend dat juis hierdie Sondag die begin is van die tweede deel van die Kategismus, wat oor ons verlossing handel. Dit klink nogal teenstrydig. Maar dit is nie so nie.
En dit verstaan mens eers as jy besef hoe eerlik God is.
As Hy begin met ons verlossing, openbaar Hy eers wat aan die hand is.
Hy steek niks weg nie. Hy stel die strengste eise vir die herstel van die mens.
Maar dan gee Hy ook alles. As Hy belowe om te help, doen Hy dit ook heeltemal, van begin tot end. Hy is nie bereid tot ‘n skikking waarby Hy sy geregtigheid moet opoffer nie.
Sy herskeppingsplan beoog ‘n volmaakte herstel. Maar dan gee Hy ook die middele om dit te verwerklik. Hy is nie tevrede met ‘n herskape mens wat nog op ‘n wankelrige fondament staan nie. ‘n Gebou met ‘n skewe fondament sal opnuut instort. God stel die strengste eise. Maar Hom sy ook die dank!
Want Hy bied ook die middele om daaraan te voldoen.
Daarom het hierdie Sondag nie ‘n somber boodskap nie.
In v/a 15 skyn daar nuwe hoop.
Daar waar mense geen moontlikhede meer sien nie, geen oop deur nie, daar sien God wel ‘n deur na die toekoms. Hy het dit vir ons oopgemaak, toe Hy sy eie geliefde Seun gestuur het. Ek is die deur vir die skape – het Jesus gesê.
As iemand deur My binnekom, sal Hy gered word (Joh 10:9).
Die goeie Herder lei sy skape en wys vir hulle:
Hierdie deur is toe, jy kan nie jouself red nie.
En hierdie deur is ook toe, ‘n ander skepsel kan jou ook nie red nie.
En hierdie deur ook, selfs ‘n regverdige skepsel sal jou nie kan red nie.
Moenie jou lewe lank op daardie deure klop nie.
Kom hier, Ek is die deur vir die skape.
Amen.
Votum
Seën
Ps 88:1,2,7
Gebed
Nagmaalsformulier (p.23)
Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)
1e Tafel: Skriflesing: Job 9, Sing: Ps 9:1,2
Lofverheffing & Gebed
Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 5
Preek
Ps 49:2,4,5,6
Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Ps 9:9,10
Kollekte
Ps 9:12,14
Seën