Preek: Filippense 4:1-9
Tema: Blydskap, vriendelikheid en eensgesindheid – dit is Christus se gemeente se DNA
In hierdie laaste hoofstuk herhaal Paulus weer die hooftema’s van sy brief.
Hy roep die Filippense op om vas te staan. Staan vas in die Here, geliefdes (4:1). Hy roep hulle op om eensgesind te wees. Spesifiek toegespits op twee susters: Vermaning aan Euodia en Sintiche om eensgesind te wees.
Hy roep hulle op om bly te wees. Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! (vers 4)
Blydskap in die Here – dit is eintlik die hooftema van die brief. Blydskap in Christus. Blydskap oor julle posisie, as burgers van sy koninkryk. Dit is iets anders as die blydskap van die wêreld. Die blydskap van die wêreld is bedrieglik, breekbaar, vlietend. Maar die blydskap in Christus hou stand.
Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word (vers 5).
Vriendelikheid is nie net ‘n aangebore karaktereienskap wat sommige mense het en ander nie het nie. Soos ons weet, sommige mense loop van nature oor van vriendelikheid, en ander staan eerder as nogal nors bekend. Maar vir ‘n gelowige geld dat vriendelikheid deel van sy DNA is, deel van sy nuwe mens, die nuwe karakter wat die Gees in hom of haar werk. Ja vriendelikheid is ‘n vrug van die Gees.
So mag ons, so moet ons dan ook bekend staan, elkeen van ons. In ons omgewing moet ons, as lidmate van Pretoria-Maranata, as lidmate van Christus se gemeente, bekend staan as vriendelike mense. Ja dit is moontlik.
Paulus skryf verder:
Wees oor niks besorg nie (vers 6). Lê alles in gebed aan die Here voor.
As mens oor niks besorg hoef te wees nie, dan het dit tog vriendelikheid tot gevolg, of nie?!
Kom ons keer vir ‘n oomblik terug na Paulus se vermaning aan die twee susters, Euodia en Sintiche. Uit wat hy skryf, is duidelik dat hulle Paulus in die verlede baie behulpsaam was. Hulle het saam met hom gestry vir die Evangelie. Ons kan hier dink aan die eerste keer toe Paulus in Filippi was. Dit was ‘n baie mooi tyd, maar ook baie gevaarlik. Paulus en Silas is byvoorbeeld voor die regters gebring. Hulle is daarna in die gevangenis toegesluit (Hand 16). Paulus het vurige teenstanders gehad in Filippi, sowel Jode as Romeine.
Maar daar was ook mense wat deur dik en dun by hom gestaan het.
Euodia en Sintiche was waarskynlik twee van hulle.
Hulle was gelowige vroue in Filippi, sterk van karakter, net soos Lydia. In die boek Handelinge, waar die begin van die kerk in Filippi beskryf word, word net Lydia by name genoem. Maar dit wil nie sê dat daar ook nog ander vroue in die gemeente was nie. Handelinge 16:13 vermeld byvoorbeeld dat Paulus met ‘n groep vroue in gesprek gegaan het, wat saam op hulle gebruiklike bidplek langs die rivier buitekant die stad was. Euodia en Sintiche was moontlik twee van hulle.
Maar ongelukkig het Euodia en Sintiche om een of ander rede stry gekry.
Daarom vermaan Paulus hulle om eensgesind te wees. Het Euodia en Sintiche ooit besef dat hulle name in die Bybel te staan sou kom? Wat sou hulle daarvan gedink het, dat hulle name ‘n plek in die Bybel gekry het, juis omdat hulle vriendelik vermaan is om eensgesind te wees? As Paulus sy brief aan ons gemeente sou skryf, Pretoria-Maranata, wat sou hy dan noem? Is daar in ons gemeente ook twee susters wat aangespoor moet word tot eenheid? Of is daar ander name wat Paulus sou noem? Wat opval is hoe mooi en fyngevoelig Paulus oor hulle skryf.Die oproep aan hulle adres mag ons almal maar ter harte neem. Hoe toegewyd ons onsself ook inspan vir die Evangelie, dit kan elkeen van ons oorkom dat ons stryery kry. Ons ou natuur is nog nie dood nie.
Dit het Paulus ook oorkom, toe hy stryery met Barnabas gekry het. Maar ‘n gelowige ontvang die krag om die konflikte waarin hy verseild geraak het, ook weer op te los. Blywende konflikte hoort nie by ‘n gelowige nie. Die Gees spoor ons almal aan, vanuit die rykdom wat ons in Christus ontvang het.
Paulus vermaan vir Sintiche en Euodia. Maar hy kombineer sy vermaning met ‘n herinnering. Hy herinner hulle aan die baie spesiale tyd, toe hy in Filippi was, en toe die gemeente tot stand gekom het. Hy verseker hulle: julle name is ook in die boek van die lewe. Dit is ‘n groot voorreg.
Dit is ‘n voorreg wat julle tog veral moet koester.
En dan noem Paulus in vers 3 die naam van nog ‘n persoon, aan wie hy vra om hierdie vroue behulpsaam te wees. Nou is die naam van hierdie persoon wegvertaal in ons vertaling. Ons lees net: En ek vra jou ook, opregte metgesel, wees hierdie vroue behulpsaam. Maar die Griekse woord wat met metgesel in ons Bybel vertaal is, was waarskynlik ‘n eienaam, wat mens onvertaald moet laat, net soos die name Euodia en Sintiche. Daar staan dan: En ek vra jou ook, opregte Sizigus. Ons weet nie presies wie hierdie persoon was nie, behalwe dat dit ‘n manspersoon was. En dat hy ‘n opregte en eerlike persoon was.
Hy moes dus vir Euodia en Sintiche behulpsaam wees. Daar staan nie waarmee nie, moontlik moes hy bemiddel om die vrede en eensgesindheid tussen hulle te herstel.
Verder noem Paulus die naam van Clemens. Ook oor hom is daar verder nie meer bekend nie. Daar is uitleggers wat beweer dat Clemens die tronkbewaarder van Filippi was, waaroor ons ook in Handelinge 16 lees.
Die tronkbewaarder wat saam met sy huisgesin gedoop is. Maar vir hierdie bewering is daar verder nie bewyse nie.
Enkele name, so aan die einde van Paulus se brief aan die Filippense.
Paulus skryf aan hulle en die hele gemeente met liefde. Hy het ‘n sagte plekkie vir die Filippense. Mag die vrede in Christus julle harte bewaar (vers 7).
Bedink alles wat eerbaar ens. is (vers 8).
In vers 8 vind ons ‘n hele ry deugde. Bedink alles wat eerbaar is, regverdig, rein, lieflik, loflik.Dit is alles deel van die DNA van iemand wat burger is van die hemelse koninkryk.
Verder, herhaal Paulus weer aan die einde van sy brief, is hy baie bly dat die Filippense weer aan sy belange gedink het (vers 10). Paulus gebruik hier ‘n paar boekhoukundige terme. Die Filippense was die enigste gemeente wat hom finansieel ondersteun het, sedert hy van Macedonië vertrek het (vers 15). Ook toe Paulus in Thessalonika was, het die Filippense vir hom iets gestuur, meer as een keer. Paulus waardeer veral die Filippense se gesindheid, dit gaan nie net oor die geld nie. Juis hulle gesindheid is ‘n lieflike geur, ‘n welgevallige offer. Hulle finansiële ondersteuning het nie net hom gehelp om sy werk voort te sit, om die Evangelie verder uit te dra nie. Hulle finansiële ondersteuning wys ook daarop dat hulle geloof gesond is, dat hulle geloof vrug dra. Hulle is mededeelsaam en is nie met hulle geld getroud nie.
En dit terwyl Filippi nie die rykste gemeente was wat Paulus geken het nie.
Inteendeel, ons kan uit 2 Korinthiërs 8:2 aflei dat hulle tye van armoede geken het. Tog het dit nie hulle vrygewigheid geblus nie.
Paulus wens die Filippense ten slotte die beste toe, dat God elke behoefte van hulle sal vervul, na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus. Die Here beskerm sy kerk, almal wat hulle plek van burgerskap in die hemele het.
Die Here is naby. Paulus bedoel ook: die wederkoms van die Here is naby.
Jesus sal weerkom. Hierdie besef gee die gelowiges ‘n gevoel van vrede, wat alle verstand te bowe gaan (vers 7).
Die brief sluit af met wedersydse groete en ‘n seën.
Geliefde gemeente, hiermee het ‘n einde gekom aan ‘n serie preke wat ek oor Filippense gehou het. Die Heilige Gees het gesorg dat hierdie brief ‘n plek in die Bybel kry. Ons mag assosieer met die gemeente in Filippi. Ons mag dit wat die Gees aan hulle geskryf het, ook ter harte neem vir ons, as gemeente, en persoonlik. Ons mag ook die belofte toeëien, wat Christus aan die gemeente in Filippi gegee het, naamlik: God sal die goeie werk in ons midde voortsit.
En net soos die Filippense, word ons ook opgeroep om te bly groei in Christus solank dit hede is, gerig op die heerlike vooruitsig in die toekoms.
Ons moet ook groei, ons moet meetbare vordering maak in liefde, fyngevoeligheid, kennis, reinheid, in die vrugte van geregtigheid.
En die Heilige Gees herinnner ook ons dat ons burgerskap in die hemel is.
Dit is die plek van ons burgerskap wat bepalend is. Laat dit jou primêre identiteit wees. Alles kan van jou afgevat word, maar dit nie.
Dis die kruis of niks.
Ons word daarom opgeroep om die gesindheid van Christus te dra.
Dit is die enigste gesindheid waardeur die kerk sal voortbestaan. Laat blydskap, vriendelikheid en eensgesindheid ook ons gemeente se DNA wees.
Amen.
Votum
Seën
Ps 26:5
Nagmaalsformulier (gekombineer met die 10 gebooie)
Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)
Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)
1e tafel: Skriflesing: Filippense 4:1-9; Sing: Ps 5:10
2e tafel: Skriflesing: Filippense 4:10-23; Sing: Ps 100:1
3e tafel: Lofverheffing; Sing: Ps 65:8
Dankgebed
Teks: Filippense 4:1-9
Preek
Ps 21:4
Gebed
Kollekte
Ps 97:7
Seën