Dra die gesindheid van Christus Jesus

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-01-21
Text: 
Filippense 2 : 5
Preek Inhoud: 

Preek: Filippense 2:5

Verlede week het ons, na aanleiding van Filippense 1, die versekering gekry dat God, wat ‘n goeie werk in ons midde begin het, dit ook sal voortsit in die nuwe jaar. Ons mag en moet bly groei in die hede, want ons het ‘n heerlike vooruitsig in die toekoms. Daar is behoefte aan die toewyding van almal.

God sal sy werk voltooi tot op die dag van Christus. Die dag van sy wederkoms – Maranata!

In ‘n gemeente soos ons is, is dit onontbeerlik dat alle lidmate toegewyd hulleself beskikbaar stel. Daar is veel om te doen. En soos ons ook verlede week gehoor het, word ons opgeroep om te bly groei in liefde,  fyngevoeligheid, kennis, reinheid, in die vrugte van geregtigheid. Al met al, en dit is waaroor die teks en die preek vandag handel, dat ons bly groei in die gesindheid van Christus Jesus. Die gesindheid van Christus is ‘n spesiale soort toewyding. Nie alle vorme van toewyding is konstruktief vir die kerk nie. Net hierdie spesiale soort. Dit is waaroor ons teks handel. Laat die gesindheid in julle wees, wat ook in Christus Jesus was.

Tema: Dra die gesindheid van Christus Jesus.

  • Hoe sy gesindheid was
  • Hoe die kerk bestaan deur sy gesindheid
  • Hoe sy gesindheid was

    Die Bybelgedeelte wat ons gelees het, bevat ‘n hele klomp komplimente, gelukwensings, bemoedigings. Paulus skryf ‘n brief aan ‘n groep mense wat ‘n besonderde posisie beklee. Hulle is naamlik ligtende sterre in die wêreld, te midde van ‘n ontaarde en verkeerde geslag. God het ‘n goeie werk onder hulle begin. Hy het ‘n kerk in  Filippi geplant.

    Elke Sondag het ‘n groep mense daar bymekaar gekom. Mense van uiteenlopende aard, ‘n gemengde geselskap, mense wat nie familie van mekaar was, en ook nie vriende voordat hulle die Evangelie ontvang het nie.

    Hulle is deur Christus geroep, en op die pad na die ewige lewe geplaas. Wat vir Filippi gegeld het, geld ook vir ons gemeente. Ons is mense van uiteenlopende aard. Deur die week beoefen ons uiteenlopende beroepe. Ons lewe lyk ook verskillend. Daar is groot gesinne onder ons, daar is alleenstaandes, daar is bejaardes, weduwees, ensovoorts. ‘n Baie uiteenlopende groep. Tog kom ons op Sondag bymekaar, en te midde van alle verskille vorm ons ‘n eenheid rondom die Evangelie.

    Filippi was die eerste stad in Europa waar Paulus die Evangelie gebring het.

    Hierdie stad het gelê langs een van die bekendste snelweë uit die oudheid, die sogenaamde Via Egnatia. Hierdie pad het die verbinding gevorm tussen die groot stad Bisantium in die ooste en Rome in die weste. Filippi het ook bekend gestaan vanweë ‘n groot groep afgetrede Romeinse soldate wat hier gewoon het. Verder wys opgrawings in hierdie stad uit dat daar allerlei ander soorte mense gewoon het, afkomstig nie net uit die omliggende Macedonië nie, maar ook uit die ooste. Onder hulle was daar ook ‘n groep Jode.

    Daar was ‘n sinagoge in hierdie stad. Soos ons weet, het Paulus deurgaans op sy sendingsreise die sinagoges opgesoek om eerste daar die Goeie Nuus oor die Messias te bring. In Filippi het Paulus egter ook ‘n groep vroue op ‘n bidplek langs die rivier ontmoet (Hand 16:13) -Godvresende mense wat daar op sabbat bymekaar gekom het. Lydia, die purperverkoopster, was een van hulle. So het die Here vir Paulus gelei na die mense wat Hy tot die ewige lewe uitverkies het. Hulle het saam ‘n kerkgemeenskap in Filippi begin vorm. En hierdie jong gemeente wat in Filippi ontstaan het, was van uiteenlopende samestelling. Die meerderheid was, sover ons kan vasstel, van heidense oorsprong. Aan hulle is deur Paulus en ander die genade van Christus verkondig. Hulle het ook die rykdom ontvang om opgeneem te word in God se verbond. Hulle het ‘n nuwe lewe gekry, bevry van sonde en skuld.

    As gemeente was hulle ‘n nuwe samelewing, waar liefde, blydskap, onderlinge geduld en eensgesindheid geheers het.

    Hiermee begin Paulus sy brief. Hy begin met die dankbare konstatering dat Christus se Gees onder hulle werk. Dit is sigbaar. Hy gee hulle ‘n kompliment.

    Ek dank my God elke maal as ek aan julle dink. En dan, vanaf hierdie positiewe begin, kom Paulus vervolgens tot die oproep van ons teks, in hoofstuk 2.

    ‘n Oproep wat hulle nie kon mis nie.

    Hulle was nou al ‘n klompie jare saam as gemeente, en hulle het die oproep nodig gehad, sodat hulle nie sou terugsak in ou wêreldse patrone nie, of in ‘n manier van omgaan met mekaar waarin die gesindheid van Christus nie meer sigbaar was nie. Paulus roep die Filippense op: laat steeds die gesindheid in julle wees, wat ook in Christus Jesus was.

    Nou kan mens die vraag vra: Is die gesindheid van Christus nie te hoog gegrepe nie? Christus het al ons sondes en skuld gedra. Hy was die Lam wat ter slagting gelei is, en Hy het sy mond nie eers oopgemaak nie. Hy het nie gekla, Hy het nie teëgestribbel nie. Soms hoor ek gemeentelede praat:

    Ek het so my bes gedoen. Ek het soveel tyd bestee. Dit alles uit toewyding vir die kerk. Maar die dank en waardering wat mens daarvoor terugkry, niks nie!

    Mens kry selfs onbegrip. En dan word mense gedesillusioneerd.

    So is daar in ons gemeente, en dit geld dink ek vir elke gemeente, van tyd tot tyd mense wat nie meer kans sien nie, wat genoeg van alles gehad het.

    En inderdaad, menslik gesproke is dit heel voorstelbaar. Veral as dit gaan oor vrywilligerswerk. En dit is wat werk vir die kerk is.

    In die kerk word die meeste werk gedoen sonder dat mense daarvoor betaal word, of soms onderbetaal. Die minste wat mens dan verwag is darem ‘n bietjie waardering en begrip. En ook dit is dikwels afwesig. Mense ervaar soms selfs onbegrip. Sonder die fyngevoeligheid waaroor Paulus skryf, daarsonder kan ure se inspanning met ‘n enkele opmerking ongedaan gemaak word. Dit is die realiteit. Sommige mense breek as hulle op so ‘n realiteit stuit.

    Maar juis in hierdie realiteit, juis ter voorkoming hiervan, roep ons teks ons op: Laat die gesindheid in julle wees wat ook in Christus Jesus was.

    Dan moet ons terugdink aan hoe die Here Jesus se lewe op aarde was.

    Hoeveel pyn en minagting, hoeveel kritiek en onbegrip, hoeveel afwysing Hy op aarde meegemaak het. Hy het uit Homself die las van al ons sondes, al ons skuld, al ons siektes en gebreke, dit alles op sy skouers geneem. Ons redeneer soms as mense: Iemand mag my een keer sleg behandel, twee keer, miskien selfs drie keer. Maar dan is dit verby. Dan sit ek geen stap meer in sy rigting nie. Dan praat ek nooit meer met hom nie. Dan kan hy vergeet om weer by my aan te klop.

    Gemeente, hierdie gesindheid is dus nie die gesindheid van Christus nie. Hoe dikwels mag ons by die Here Jesus terugkom? 70 keer 7 keer gee Hy ‘n nuwe kans. Terwyl daar geen enkele skuld aan sy kant is nie, alle blaam tref ons.

    Tog is Hy elke keer weer bereid. Dit is sy gesindheid.

    In die verse na ons teks word dit uitgewerk, hierdie gesindheid wat in Hom was. Hy was naamlik in die gestalte van God. Dit wil sê: Hy het majesteit beklee, heerlikheid, Goddelike ontsagwekkendheid. Hy het uit die hemel gekom. Hy is self God! Hy het daardie posisie gehad, skryf Paulus, moenie dink dit was aanmatigend dat Hy Homself aan God gelykgestel het nie! Tog het Hy daardie hoë posisie vrywillig ingeruil. Vers 6 sê: Hy het dit geen roof geag.

    Niemand het Hom daarvan beroof nie, Hy het dit vrywillig neergelê. Nee Hy het vrywillig daartoe oorgegaan. Hy het Homself beskikbaar gestel. Hy het Homself ontledig, dit wil sê, al daardie majesteit en heerlikheid agtergelaat.

    Hy het die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem. Die hemelse paleise het Hy agter Hom gelaat. Hy het Homself begeef in die krotbuurte van hierdie aarde.

    Die koning in vodde. En dit was nog nie die ergste nie. Die ingrypendste was dat Hy aan die mense gelyk geword het. Hy, God almagtig, het besluit om ‘n sterflike mens te word, in ‘n liggaam wat deur die sondeval aangetas is.

    En ook dit was nog nie die ergste nie. Hy het, lees ons, Homself verneder.

    Hy het toegelaat dat almal oor Hom loop en op Hom trap. Hy het gehoorsaam geword tot die dood, ja tot die dood aan die kruis. ‘n Vloekdood.

    So was die lewensloop van Christus Jesus. En so was die gesindheid wat Hy op aarde openbaar het. ‘n Lewe van diensbaarheid en vernedering.

     

    En wat was die resultaat daarvan? Het die mense hulle sin gekry? Vers 9 rig ons aandag op wat God die Vader daarvan gedink het. Ons lees daar dat hierdie ingesteldheid, hierdie lewensgesindheid die goedkeuring van die Vader weggedra het. Hierdie gesindheid het vrugte afgewerp. Juis vanweë hierdie gesindheid het die Vader Hom daarna uitermate verhoog en Hom die naam bo alle name gegee. Sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig van hulle wat in die hemel is en op die aarde en onder die aarde, en elke tong sal bely dat Jesus Christus die Here is.

    (Tema: Dra die gesindheid van Christus Jesus.

  • Hoe was sy gesindheid)
  • Hoe die kerk bestaan deur sy gesindheid

    Ons kom terug by die teks. Laat die gesindheid wat in Christus Jesus was, ook in julle wees! Hoekom?

    Want dit is die enigste oorlewingskans vir die kerk. Slegs ‘n kerk met hierdie gesindheid sal aanhou bestaan. Het oorlewingskanse. En nogmaals die vraag: is dit nie te hoog gegrepe nie? Want ons is nie  Christus nie, ieder en elk van ons is sondig. Maar, onthou net. Ons het wel die Gees van Christus ontvang.

    Die Gees leer ons die gesindheid van Christus.

    Die gesindheid van Christus word in hoofstuk 2 met ‘n paar kernwoorde uitgewerk.

    Liefde.

    Ontferming.

    Tederheid.

    Barmhartigheid.

    Eensgesindheid.

    Geen selfsug of eerbejag, ydele eer.

    Ootmoedig.

    Dat die een die ander uitnemender, hoër ag as homself.

    Dat elkeen nie net op sy eiebelang let nie, maar ook op die van die ander.

    Al hierdie dinge is nie maklik nie, vir niemand van ons nie.

    By alles wat daar gebeur vra ons onsself van nature eerste af: hoe sal dit my affekteer? Maar die gesindheid van Christus draai die saak om. Waardeur ons eerste dink aan wat in die belang van die ander is. Wat vir die ander haalbaar is. Waar ek hulp kan bied. Hierdie gesindheid is die mees wesenlike aspek wat die kerk van die wêreld onderskei. Die kerk is ‘n groep waar eiebelang nie die botoon voer nie. In so ‘n groep is dit aangenaam om te wees. Maar nogmaals: is dit nie te hoog gegrepe nie? Gemeente, u het die gawe van die Gees ontvang.

    Bedroef die Heilige Gees nie. Deur sy krag is dit haalbaar, ook hier in hierdie gemeente.

    Paulus begin positief, as hy sy brief aan die Filippense skryf. Want wat eerste opval is die resultaat wat die Heilige Gees alreeds in Filippi behaal het. Hy roep hulle op om hierop verder te bou. Hy waarsku dat hulle, noudat hulle al so mooi gevorder het, nie tog weer terugval in ou wêreldse patrone en omgangsvorme nie. Paulus skryf in vers 12:

    Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing, want dit is God wat in julle werk – om te wil, sowel as om te werk na sy welbehae.

    Doen alles sonder murmurering en teëspraak, sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag, onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld.

    Hou die Woord van die lewe vas. Hou aan met die wedloop.

    Bly ‘n lewe lei waardig aan die Evangelie.

    En let wel:

    Aan julle is die genade verleen, nie net om in Christus te glo nie, maar ook om vir Hom te ly (Fil 1:29).

    Gemeente, laat ons hierdie laaste nie vergeet nie. Nie net in Christus glo nie, maar ook vir Hom ly. Want, wie met die gesindheid van Christus lewe, sal lyde ervaar. Daarvoor hoef mens nie te woon in ‘n Islamitiese land, of waar Christene vervolg word nie. Die gesindheid van Christus hou in dat jy lyde sal meemaak, selfs in die kerk. So het Christus die ergste lyde meegemaak op aarde, juis toe Hy geleef het in die midde van God se eie verbondsvolk.

    Wie onreg ly, wie onfatsoenlik behandel word, wie voel dat hy geïgnoreer word, noem maar op. Laat ons in sulke gevalle nie negatief word en lelik begin doen nie, maar laat ons besef dat ons nou ook bietjie deel kry aan Christus se lyde. Laat ons net soos Christus in die regte gesindheid volhard.

    Petrus skryf in sy brief aan die gelowiges:

    “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel. 
    As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik. Want niemand van julle moet ly as moordenaar of dief of kwaaddoener of as een wat hom met die sake van 'n ander bemoei nie. 
    Maar wanneer iemand as 'n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig. Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?  En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn? So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade. (1 Petr 4:12-19)

    Geliefdes, in ons gemeente is daar hierdie jaar behoefte aan toewyding.

    Ons kan niemand se toewyding mis nie. Nie die jeug s’n nie, ook nie die bejaardes s’n nie, en almal daartussen. Ons sal almal saam skouer aan die wiel moet sit, skouer aan skouer. ‘n Spesiale soort toewyding is nodig. Nie gedrewenheid nie, nie ekstremisme nie, nie jaag na my eie wense en voorkeure nie. Ook nie halfslagtigheid nie.

    As jy werk vir die kerk doen, in ‘n kommissie, op die kerkraad, in watter hoedanigheid ook, doen dit net so goed as wat jy jou daaglikse werk doen, met ewe veel toewyding, sonder uitstel. Wys jou liefde vir Christus en sy kerk.

    Laat sy gesindheid in jou lewe die botoon voer. ‘n Gemeente met Christus se gesindheid, is ‘n gemeente wat standhou. Die gemeente is nie die ander lidmate nie. Die gemeente is jy!

    Elkeen begin by homself. Stap vandag by die kerk uit, opnuut gemotiveerd om sy gesindheid te dra. Laat dit sigbaar wees, as jy nounou op die kerkplein staan. Laat dit sigbaar wees, as jy môre na jou werk of skool toe gaan. Laat dit sigbaar wees, wanneer en waar jy ook al is. Christus se gesindheid het sy lewe op aarde nie maklik gemaak nie. Maar die Vader het Hom uitermate verhoog.

    Wie Christus se Naam dra, wie lewe met sy gesindheid, mag dieselfde roete volg, dit is God se belofte. Christus het sy kerk voorgeleef.

    Christus roep nou sy kerk: dra my gesindheid in hierdie wêreld.

    Bewaar jouself rein, wy jouself toe as my bruid. Sien uit na my koms.

    Onthou: na lyde kom heerlikheid!

    Amen.

     

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 101:1,2,4

Wet

Ps 1:4

Gebed

Skriflesing: Filippense 1:1-11 & 1:27-2:18

Ps 22:10

Teks: Filippense 2:5

Preek

Ps 22:11,12

Gebed

Kollekte

Ps 66:4,7

Seën