In sy wysheid het Christus genademiddele ingestel om sondaars te red

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2017-10-29
Text: 
Dordtse Leerreels 3/4 par 15-17
Preek Inhoud: 

Preek: Dordtse Leerreëls 3/4 par 15-17

U, julle, sit vanaand weer hier in die kerk, soos gewoonlik, om na die Woord te luister. Vanaand gaan ons, aan die hand van hierdie deel van die Dordtse Leerreëls, bietjie dieper kyk. Hoekom sit ons eintlik hier in die kerk? Wat is die doel om vir ‘n half uur nou stil en aandagtig na ‘n preek te luister? Nie alle kerke verwag van hulle gemeentelede om na ‘n preek te luister nie, laat staan ‘n lang preek. Waar kom dit vandaan, hierdie gewoonte, hierdie tradisie, dat die hoofelement in ‘n erediens is dat ons ‘n behoorlike stuk uit die Bybel lees, en dat die dominee dan daaroor preek? Tema: In sy wysheid het Christus genademiddele ingestel om sondaars te red - Sy redding gebeur nie met geweld nie - Sy redding maak gebruik van genademiddele - Sy redding gebeur nie met geweld nie ‘n Goue draad deur hoofstuk 3&4 van die Dordtse Leerreëls is God se soewereiniteit. Wedergeboorte en redding is eksklusief God se werk. Ons is volledig van God afhanklik. Voorts beklemtoon paragraaf 15, waarna ons nou kyk, dat God aan niemand sy genade verskuldig is nie. Die mens het niks om aan God terug te gee nie. Ja, die mens het die neiging om homself te beroem op dit wat hy meen hy het, terwyl hy eintlik niks het nie. Die mens wat genade ontvang, is aan God alleen ewige dankbaarheid verskuldig. Elke mens, ek en jy ingesluit, behoort die houding te hê, dat God eerder die hele wêreld sy genade kan aanbied, maar nie aan my nie. As ek eerlik is met myself, ek wat myself beter ken as enige ander mens, ek vind geen enkele rede in myself wat my sal laat kwalifiseer vir God se genade nie. Soos Paulus skryf in 1 Korinthiërs 4:7: “wat het jy wat jy nie ontvang het nie?” Genade maak die ontvanger daarvan altyd nederig. Die Remonstrante het beweer dat God slegs sondaars probeer oortuig. Hulle het die Calviniste beskuldig dat volgens hulle God geweld gebruik. Daarenteen het die Remonstrante gesê: God gebruik geen sterk metodes nie. God nooi sondaars uit, Hy gee slegs ‘n vriendelike herinnering aan die genade van Christus. Gemeente, in die vorige preek het ons aandag geskenk aan die feit dat God se genade onweerstaanbaar is. Maar, daarmee bedoel die Dordtse Leerreëls nie dat God geweld gebruik nie. Dit is ‘n vertekende weergawe wat die Remonstrante van die Calviniste gegee het. Inderdaad, God gebruik nie geweld nie. Onweerstaanbare genade beteken nie dat die sondaar gedwing word teen sy eie wil in nie. Dit aan die een kant. Maar aan die ander kant is dit ook nie waar dat God maar net oorreed en aanbeveel en uitnooi nie. Dit gaan dieper. Onwaarstaanbare genade beteken dat die sondaar se wil eers herskep word. Want deur die sondeval het die mens wel mens gebly, maar sy eienskappe waarmee Hy geskape is om God reg te ken en om te kies om Hom vrywillig te dien, hierdie eienskappe misbruik die mens nou om sy eie gode uit te dink en te dien. Sy wil misbruik hy om vir die satan se advies te kies, en teen God in opstand te kom. So kies die mens vir sy eie ondergang. Hy is, soos Efesiërs 2 dit verwoord, dood in sy oortredinge en sondes. Met hierdie ‘dood’ bedoel die Bybel nie net dood in passiewe sin nie. Die mens het boonop God se vyand geword. Die Dordtse Leerreëls sê die mens is nie soos stokke en blokke nie. God behandel die sondige mens ook nie asof hy net passief dood is nie. Hy kan daarom verantwoordelik gehou word. Hy is nog steeds verantwoordelik vir hoe hy is en wat hy doen. Maar die wonder is nou, deur God se onweerstaanbare genade, dat die mens gered word, en hierdie redding is soos ‘n herskepping. Wat stukkend gegaan het deur die sondeval, word nou hervorm deur die genade. Die onweerstaanbare genade herstel die mens in sy posisie voor God, wat hy in die paradys gehad het. Hierdie proses word nie gekenmerk deur geweld, soos die Remonstrante dit getipeer het nie. Maar, soos die Dordtse Leerreëls so mooi skryf: die genade maak die wil geestelik lewend, genees, verbeter en buig dit tegelykertyd lieflik en kragtig. Nie gewelddadig nie dus. Maar wat sondaars wel beleef is dat dit kragtig is, en tegelyk lieflik. Mens sou hierdie kon vergelyk met die opvoeding van kinders, al moet ek direk noem dat hierdie vergelyking maar net ten dele is. As kinders nog klein is, kan ouers hulle by die hand vat en orals bring waar die ouers hulle wil hê. Maar as kinders groot begin raak, werk dit nie meer so nie. Dan is ‘n ander aanpak nodig – pa wat ernstige woorde met ‘n kind praat, ma wat ‘n arm om die kind slaan en ‘n paar trane stort. By ouer kinders werk dit beter as ‘n vuis op die tafel geslaan word. Wat is dit dan mooi as ouers op ‘n stadium begin agterkom dat hulle kind nie meer so opstandig is nie. Dat die kind self die regte keuses maak. Dat kinders uit hulleself kerk toe wil kom, Bybel wil lees, uit hulleself meer versigtig is met die vriende wat hulle kies. Dan sien ouers dat God die opvoeding seën. God se seën ook gebruik gemaak van die wyse benadering van die ouers. Hierdie is net ‘n voorbeeld, maar dit is ‘n bietjie soos God in die hart van elke sondaar werk. Hy gebruik nie geweld nie. Geweld sou hoogstens tot uiterlike gehoorsaamheid lei. Ware bekering is nie die produk van geweld nie. Nie dat God nooit geweld kan gebruik nie. By Saulus se bekering was dit ‘n belangrike komponent. Maar ook vir Saulus het gegeld: niemand word teen sy wil gered nie. Saulus se ware bekering was toe Hy werklik leer insien het wie Christus is. Is jou godsdiens vrywillig? In Psalm 110:3 sing ons: u volk sal baie gewillig wees. Hierdie is ‘n belofte wat die Vader aan die Seun maak. Die Vader gee vir sy Seun nie net ‘n koninkryk nie, maar ook gewillige onderdane. (Tema: In sy wysheid het Christus genademiddele ingestel om sondaars te red - Sy redding gebeur nie met geweld nie) - Sy redding maak gebruik van genademiddele Ons het die preek begin deur te wys op die goue draad deur hierdie deel van die Dordtse Leerreëls, naamlik God se soewereiniteit. Ons is in alles van Hom afhanklik. Maar beteken dit, dat ek eenvoudig moet wag tot dit die Here behaag om sy goeie werk in my te begin? Die Remonstrante het vir Calviniste beskuldig: As julle glo dat God alles doen, dan bly daar niks anders oor as om maar net te sit en wag nie. Paragraaf 17 verduidelik dat dit ‘n vertekening is van die waarheid. God wys juis aan ons die pad wat ons ook self moet gaan, naamlik om die middele te gebruik. Vir daardie rede vergader Christus naamlik sy kerk. God se bonatuurlike werking van die wedergeboorte sluit nie die gebruik van middele uit nie. Spesifiek daardie middele wat God in sy wysheid daarvoor bestem het. Ons kan hier aan die kenmerke van Christus se kerk dink. Naamlik die verkondiging van die Evangelie, die sakramente en die tug. God het die middele bestem– soos die DL dit so mooi noem – as ‘n saad van die wedergeboorte en as voedsel vir die siel. Onderdeel van die middel van die Evangelie is hulle – die ampsdraers – wat die Evangelie moet bedien. Ook hulle is nie stokke en blokke nie, hulle word opgeroep om dit gewillig en gehoorsaam te doen. Hulle word ingespan, tog hang dit nie van hulle af nie. Dit hang nie van hulle gawes en welsprekendheid af nie. Maar God gebruik wel hulle bediening van die Evangelie. Dit kan wees dat jy vir jare in die kerk sit, en die preke gaan oor jou heen, sonder dat dit jou tref. Jy gaan kerk toe, jy lees dalk ook Bybel by die huis, jy sê jou gebed op, maar jou hart is nie daarin nie. Jy sing in die kerk Psalm 122: Ek was verheug toe die geluid weerklink het ... Kom laat ons optrek om na die HEER se huis te gaan ... Maar werklik verheug, nee dit is jy nie. Is dit soos jou godsdiens is? Formeel veral? Gewoonte veral? Vra dan vir die Here: O Here, wil u tog ook in my u reddende genade bring! O Here, neem asseblief my opstandige houding weg! O Here, help my om baas te wees oor my sondige begeertes! O Here, neem die skaduwee van bekommernisse oor aardse behoeftes in my lewe weg! O Here, help my dat ek willig in u weë gaan! Dat dit vir my ‘n vreugde is! Paragraaf 17 vergelyk God se voorsienigheid in die natuur met dit wat God doen as Hy sy genade uitdeel. Beide gebeur middellik. Wat die natuur betref, en dit sluit ons eie liggame in, het God dit so geskape dat ons liggame nie vanself in lewe bly nie. Ons moet asemhaal, ons moet eet en drink. As ons hierdie middele gebruik, en dit op die regte wyse, die regte balans, die regte dieet, dan sal dit goed gaan met ons liggame. Dieselfde geld vir die geestelike lewe. Net soos by die liggaam, is dit God wat die geestelike lewe tot stand bring. Hy skep die wedergeboorte deur sy onweerstaanbare genade. Vervolgens voed Hy die geloof deur die daaglikse gebruik van sy Woord. Sy Woord is voedsel vir die siel. Sonder sy Woord sal die geloof verlep. In die verlede was daar heelwat diskussie oor die vraag hoe die Heilige Gees werk. Werk die Gees middellik – dws deur middele, of onmiddelik – dws sonder middele. Daar was Gereformeerdes, byvoorbeeld Abraham Kuyper en sy volgelinge, wat geglo het dat die Gees sonder middele die geloof tot stand bring. Die geloof word wel gevoed deur middele, maar dit word sonder middele tot stand gebring. Hierdie opvatting het gelei tot die sogenaamde veronderstelde wedergeboorte. Dit vind ons egter nie in die Dordtse Leerreëls terug nie, wat per slot van rekening maar net die Skrif naspreek. Die Heilige Gees werk met middele. Hy gebruik die middele wat Christus skenk aan sy kerk, om die wedergeboorte tot stand te bring. Ja die middel van die Woord bring sondaars tot geloof, èn dit voed en onderhou die geloof. Beide dus! Terselfdertyd het die Gereformeerde teologie ook nie beweer dat God nooit sonder hierdie middele sou kon werk nie. Soos die Dordtse Leereëls self verwys na jong kinders wat byvoorbeeld as babatjies te sterwe kom en nooit die Woord kon gehoor het nie (hoofstuk 1, par 17). Of ons kan ook dink as verstandelik baie gestremde mense, wat nie in staat is om die mees basiese boodskap van God se Woord in te neem nie. Maar die reël is dat die Heilige Gees die middele gebruik wat Christus gegee het. ‘n Mooi voorbeeld is hoe die Heilige Gees vir Lydia se hart geopen het. Dit het gebeur tydens Paulus se prediking van die Evangelie (Handelinge 16:14). Lydia is nie ‘n uitsonderlike voorbeeld nie, dit is die reël. Naamlik dat die Heilige Gees slegs werk waar God se Woord verkondig word. Kyk maar in heidenlande waar die Evangelie nie of nog nie gebring is nie. Ons vind daar geen voorbeelde van mense wat sommer, sonder die middel van die Evangelieverkondiging, tot geloof in Christus gekom het nie. Dit is in die kerk, in Sion soos ons in 1 Petrus gelees het, waar die kosbare hoeksteen gevind word. Dit is in die kerk waar mense Christus ontmoet. Christus het hierdie middele gekies, en ons is verplig om trou daarvan gebruik te maak. Ons moet ywerig die genademiddele opsoek waar en wanneer die Woord ook al gepreek word, of dit op Sondag is, of dat dit by ‘n ander geleentheid is waar sy Woord bestudeer word. Ons moet daar wees. Sommige mense redeneer: ja maar God kan my ook buite die kerk en los van die prediking van die Woord bekeer. Dit is waar ja, die Here kan dit doen. Maar die punt is nie hier wat God kan doen nie, maar wat jy moet doen. God is nie gebonde aan die middele nie, maar ons wel! Vir sover dit ons aangaan, is daar vir ons geen redding buite die troue gebruik van die middele om nie. Laat ons die Here nie versoek nie. Natuurlik kan die Here jou vang as jy van ‘n gebou afspring. Maar dit beteken nie jy mag nou maar van ‘n gebou afspring nie. Die Dordtse Leerreëls skryf dat ons met heilige vermanings uit die Woord bearbei moet word. Vermanings is hier ‘n breë begrip. Dit verwys na waarskuwings, aanmoedigings, uitnodigings, onderrig – dit alles vind plaas tydens die Woordbediening. Dit is hierdeur wat dit God behaag om sondaars te red. Dit is hoe Christus sy vyande op die knieë dwing. Tydens die Woordbediening skiet Christus sy pyle. Het Christus se pyle jou al getref? As jy deur sy pyle getref wil word, sorg dat jy onder die Woordbediening sit. Gaan na die slagveld van vrye en onweerstaanbare genade! Moenie jou plek in die kerk leeg laat nie. En ons moet ook heilbegerig kom, dit wil sê ons moet getref wil word deur Christus se pyle. Voor ons kerk toe gaan, of die oomblik as ons plaasneem in die kerkbank, moet ons vir die Here bid: O Here, gee dat ek vandag getref mag word. Gee dat ek nie vir niks in die kerkbank sit nie maar spreek tot my hart! Bid dan ook vir die prediker, dat die Here hom mag help in die voorbereiding van sy boodskap en in die uitdra daarvan. Dat Hy die salwing van die Gees mag ontvang. Dat Hy ‘n skerp swaard in die Gees se hand mag wees. Dat Hy nie na die mense se behoeftes preek nie. Dit is ‘n groot verleiding. Die kerk kan so maklik soos ‘n besigheid raak, waar elke kliënt se wense aangespreek moet word. Bid dat God se diensknegte dit nooit sal doen nie. Ja die bediening van die Woord is ‘n baie ernstige saak. Dit moet die prediker besef. Dit moet die luisteraars ook besef. Dit moet ook blyk uit hoe jy in die kerk sit, hoe jy sing, hoe jy saambid, hoe jy luister. En ook moet dit blyk uit hoe jy huis toe gaan. Oordink jy dit wat jy gehoor het? Kom jy daarop terug later in die week? As jy die middele nie ywerig gebruik nie, moenie verbaas wees as jy nie baie seëninge ontvang nie. As jou geloof oppervlakkig bly, en dalk heeltemal verdwyn by jou kinders en kindskinders. Dan sal eendag op die oordeelsdag die genademiddele wat hulle wel ontvang het, maar nie ter harte geneem het nie, teen hulle getuig. Dan word die hoeksteen ‘n steen des aanstoots (1 Petr 2:7). Christus gee genademiddele om die geloof te voed. Die geloof moet gevoed word. Die apostel Petrus skryf dat ons soos pasgebore babas sterk moet verlang na die onvervalste melk van die geloof (1 Petr 2:2). Dit is nie toevallig dat daar so baie vermanings in die Bybel is om ywerig die Here en sy diens te soek. Dus, hoewel God alle werk doen vir ons redding, is ons steeds verantwoordelik om die genademiddele te gebruik. Christus skenk die genademiddele, en hoe meer toegewyd ons hulle gebruik, hoe meer seën kan ons verwag. Dus, aan die een kant beklemtoon die Dordtse Leerreëls die soewereiniteit van God in verkiesing, wedergebore en redding. Aan die ander kant laat die Dordtse Leerreëls nie na om ons te wys op ons verantwoordelikheid om die genademiddele te gebruik nie. Dit is eintlik ‘n pragtige aansporing.Om die Here te soek, om sy Woord te lees, om kerk toe te gaan, sal nooit tevergeefs wees nie. Dit sal nooit tydmors wees nie. Daar is mense wat praat in die trant van: as jy uitverkies is, dan maak dit nie saak wat jy doen nie, alles sal uiteindelik uitwerk soos dit bedoel was. Dit is nie ‘n Bybelse opmerking nie! Die HERE belowe slegs aan hulle wat Hom ernstig soek en nederig van die genademiddele gebruik maak, sy seën. Dalk voel jy nie elke dag dat die HERE jou seën nie. Moenie in reaksie die genademiddele aan die kant skuif nie, maar gaan voort. Die duiwel weet dat elke sondaar wat op sy knieë gaan, wat aanhou klop, vroeër of later verhoor sal word. Soos daar so mooi in Spreuke 8:34 staan: Geseënd is die mens wat na my luister, wat dag vir dag waak by my deur, wat waghou by die syposte van my poorte. Dis ‘n beeld van ‘n arme sondaar wat wag tot die paleisdeur vir hom oopgemaak word. Hoofstuk ¾ sluit af deur te beklemtoon dat die effektiewe bediening van die genademiddele, sodat dit vrug oplewer, nie die meriete is van die predikers nie. As die bediening van die genademiddele vrug oplewer, geloof, geloofsverdieping, toewyding, standvastigheid, dan kom alle dank en eer en heerlikheid aan die HERE toe. Geliefde broers en susters, ook hierdie preek was een van Christus se genademiddele. Vat dit saam, oordink dit, herkou dit. Laat dit jou siel voed. As jy bang is jy gaan al die dinge wat vanaand gesê is vergeet, besoek die kerk se webtuiste. Laai die preek weer af, werk daarmee. Nie omdat hierdie preek volmaak was nie, maar tog maak Christus gebruik van aardse diensknegte om sy ewige redding na mense te bring. En weet, Hy belowe ryke seën op jou lewe, as jy ywerig die genademiddele gebruik. Amen.

 

Liturgie: 

Votum (Ps 121:1)
Seën
Ps 122:1
Gebed
Skriflesing: Handelinge 16:9-15; 1 Petrus 2:1-10
Sb 43:4
Teks: Dordtse Leerreëls 3/4 , par 15-17
Preek
Ps 22:4,9
Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Ps 110:3,4
Kollekte
Sb 43:5,6
Seën