PRETORIA-MARANATA, 12 Februarie 2017 AD,
17:30
Votum
Seën
Ps 122:1,2
Gebed
Skriflesing:
Hebreërs 4:1-13
Ps
95:1,4,5,6
Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 38
Preek
Ps 92:1,2,3
Huweliksbevestiging:
Egbert Kampman & Fija Maria Eefting (Fijma)
Lees
formulier
Bruidspaar
beantwoord vrae
Gebed
(bruidspaar kniel)
Ps 134:4
Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Ps 128:2,3,4
Seën
Preek: Sondag 38
Die 4e gebod
is ‘n positiewe gebod. Die HERE is goed vir die mens en sy skepping. Hy beveel
hulle om elke sewende dag te rus. Die Here dink aan ons liggaamlike en
geestelike gesondheid. Hy het dit wetlik vasgelê, sodat almal hulle daaraan
moet hou. Sodat nie net die ryk en sterk mense daarvan kan geniet nie, maar ook
die dienskneg en diensmaagd, ook die vreemdeling, selfs die diere. Hulle wat
deur hulle geld of mag nie rus vir hulle self kan afdwing nie, hulle word
wetlik in beskerming geneem.
Sondag 38,
in sy behandeling van die 4de gebod, beklemtoon ook die positiewe kant van die
vierde gebod. Die vierde gebod roep ons op om die openbare erediens, die
Woordbediening, in stand te hou. Dit roep ons op om die skole in stand te hou. Hier
word spesifiek bedoel die skole wat dienaars van die Woord oplei. Dit roep ons
op om op die rusdag die kerkdienste trou te besoek. Dit roep ons op om te
streef na die ewige rus, die ewige sabbat, deur my te bekeer van slegte werke,
en die werking van die Gees van Christus in my toe te laat. Dis alles positiewe
dinge wat die HERE ons gebied.
Tema: Die Sondagsrus as simbool van die ewige
rus
Ek begin met
‘n voorbeeld. Daar is ‘n jong egpaar in ons midde vandag.
‘n Mens se
huweliksdag is een van die mooiste, die mees spesiale dag in jou lewe, indien
nie die spesiaalste nie. Daar word maande lank voorberei om van die huweliksdag
‘n sukses te maak. Maande vantevore word die gaste al uitgenooi, en word hulle
herinner om daardie dag te reserveer.
‘n
Uitnodigingskaartjie word gegee aan al die gaste, die vriende en familie.
En almal
maak seker dat hulle daardie dag daar kan wees.
Maar sê nou
maar dit gebeur op die oggend van die huweliksdag, by die bruid se huis, terwyl
almal druk besig is om aan te trek, hare te doen, ensovoorts ensovoorts, dat
die bruid se pa onverwags ‘n telefoonoproep kry. Dis iemand wat van sy werk bel.
Die bruid se pa het sy eie besigheid.
Die
besigheid het die afgelope jare baie gegroei en is hoogs suksesvol. Die pa se
aandag word amper voltyds opgeëis om alles te bestuur, en hy het nie veel tyd
vir sy gesin of ander dinge oor nie. En dan gebeur dit op die einste oggend van
die dag waarop sy dogter trou, dat hulle van die werk af bel met ‘n boodskap. Daar
het ‘n groep mense uit China aangekom, hulle wil ‘n groot kontrak met sy
besigheid sluit. Hulle sou later eers gekom het, maar nou daag hulle onverwags
juis op daardie dag op. En die versoek is of die pa nie gou wil inkom werk toe
nie, net om sy handtekening te plaas. Toe ma die storie hoor, kon mens haar
sien wit word. Maar pa het mooigepraat en kort daarna was hy oppad na sy werk. Die
tyd het aangestap, en vyf minute voor die erediens begin, daag hy by die kerk
op. Volgens hom mooi op tyd om sy dogter die kerk in te neem. Maar, gemeente, u
kan wel raai dat daar nie net ‘n effense onenigheid was na die troudag tussen
die ma en pa nie.
Dat die pa
dit gedurf het om op so ‘n feesdag, die troudag van sy eie dogter, nog aan sy
werk te dink.
Gemeente,
die boodskap van hierdie voorbeeld is redelik eenvoudig. Op ‘n feesdag moet jy
bereid wees om van die werk te vergeet. Jy moet dit wil, jy moet dit ook kan. Hoekom?
Omdat God dit van jou vra!
En dit is,
gemeente, in ‘n neutedop, die boodskap van die 4e gebod. Verplig rus, elke
sewende dag. Hoekom? Omdat jou Skepper dit so verordineer het, ter wille van
jou liggaamlike gesondheid, ter wille van jou geestelike gesondheid.
In Levitikus
23:3 staan: “Ses dae lank kan werk gedoen word, maar op die sewende dag is dit
‘n dag van volkome rus, ‘n heilige vierdag; geen werk mag julle doen nie – dit
is ‘n sabbat van die HERE in al julle woonplekke.”
Ons het ook
Hebreërs 4 gelees.
Die oproep
wat uit hierdie gedeelte tot ons kom, is:Laat ons nie agter bly nie.Die skrywer
stel dit nog sterker:Laat ons nie eers die indruk wek dat ons agter bly nie.Daar
is die moontlikheid om in te gaan in
die rus.
Moet dit nie
misloop nie!
Hierdie is
‘n sinspeeling op die woestynreis, wat die volk Israel moes aflê om in die
beloofde land te kan kom.Maar toe hulle vlak voor die grens gestaan het, het
geblyk dat 10 van die 12 verspieders geen kans gesien het om die beloofde land
binne te trek nie (Numeri 13). Hoewel die grootste deel van die volk die
beloofde land, oftewel die rus, kon binnetrek, wou hulle nie omdat hulle geen
geloof gehad het nie.
Slegs twee
verspieders, Josua en Kaleb, het wel geloof in God gehad, dat God in staat was
om hulle daar ‘n plek te gee in die beloofde land. Die skrywer van Hebreërs
roep ons op om ook sterk te staan in die geloof.
Want ook aan
ons het God die beloofde land, oftewel die nuwe hemel en aarde belowe. Laat ons
nie kleingelowig wees en te min van God verwag, asof Hy nie in staat sou wees
om hierdie aarde te herskep nie. Laat ons standvastig op God bly vertrou. Laat
ons nie agter bly nie. Hiermee word bedoel: dat jy laks raak in jou vertroue op
God, in die dien van Hom.
Dat jou
geestelike kondisie agteruit gaan omdat jy nie weekliks daaraan aandag bestee
nie. Want in daardie geval is daar die risiko dat jy die beloofde land misloop,
net soos die Israeliete in die woestyn, wat hulle vertroue op God kwytgeraak
het. Hulle het die rus nie binnegegaan nie.
Die skrywer
van Hebreërs wys ook op Psalm 95.
Solank daar
nog sprake is van ‘n hede, solank is daar die moontlikheid tot inkeer. “Ag, as
julle vandag maar na sy stem wou luister!” (Psalm 95:7)
Gee gehoor
aan hierdie oproep van Psalm 95. “Kom, laat ons jubel tot eer van die HERE”. Want
Hy is ons God, en ons is die volk van sy weide en die skape van sy hand. Hierdie
oproep is indringend. Laat ons erns daarmee maak om die rus binne te gaan. Laat
niemand agter bly, met die risiko dat hy die rus gaan mis nie.
Nou verstaan
u waarskynlik wel dat hierdie oproep baie breër is as net om op die Sondag te
rus. Hierdie oproep het met ons hele lewe te make.
Tereg sê die
Kategismus dan ook na aanleiding van hierdie Bybelteks:
Ek moet elke
dag van my lewe van my bose werke rus, en die Here deur sy Gees in my laat
werk. So begin ek die ewige sabbat reeds in hierdie lewe.
Die
Kategismus wys ons daarop dat die vierde gebod nie net oor een dag in die week
gaan nie, maar oor al sewe dae. Dat die een rusdag per week ‘n effek behoort te
hê op die ander ses dae, wat in die lig kom te staan van die ewige rus in
Christus wat op die Sondag verkondig word.
Die sabbat
is nie toevallig simbool vir die rus van die nuwe hemel en aarde wat op koms is
nie. Die twee hoort bymekaar, kan nie uitmekaar getrek word nie. Soms redeneer
mense: as ek maar Christus dien, dit wil sê die ewige sabbat in my lewe laat
begin, dan is die letterlik rus op Sondag eintlik sekondêr. Dan is in die Nuwe
Testamentiese tyd dit nie meer verplig om op sabbat letterlik te rus nie. So ‘n
redenering kom handig uit in ons tyd van ‘n 24-uurs ekonomie – 24-7 soos dit genoem
word.
Maar laat
ons eerlik wees, dit is onskriftuurlik. Letterlik rus op Sondag staan simbool vir
die ewige rus wat op koms is. Maar as jy die simbool uithol, het dit ook ‘n
invloed op hoe iemand die ewige rus in die res van die week laat geld. As
iemand nie eers tyd het, of wil maak, om op Sondag te rus nie, wat eintlik ‘n
baie aangename bevel is, hoe gaan hy gemotiveerd wees om in die res van die
week sy lewe aan Christus te wy?
Daarom, as
ons die vierde gebod lees, kom daarin duidelik die opdrag tot ons om op die dag
van die HERE te rus. En dit geld onverkort ook in die Nuwe Testament. Die
opstandingsdag, die Sondag is ‘n kollektiewe rusdag.
Nou wonder u
dalk: Hoe moet ons as Christene hierdie gebod uitwerk in ‘n samelewing wat nie
kollektief Christelik is nie? Wat moet mens doen as jy amper gedwing word om op
Sondag te werk? Wat dit betref, sal dit van tyd tot tyd van ‘n Christen ‘n
opoffering vra. Die apostels kan hierin as voorbeeld dien.
Ons lees dat
hulle hulle nie geskaam het om vir Christus te ly nie, beseffende hoeveel Christus vir hulle gely
het. As gelowiges moet ons daarop voorbereid wees dat ons in die samelewing,
ter wille van Christus se naam, soms smaadheid sal moet ly. Dit gaan saam met
Christen wees, opreg Christen wees. Mens
kan baie ander voorbeelde noem. Jy kan uitgelag word, as jy iemand daarop aanspreek
dat hy God se naam ydel gebruik. Of as jy jou maaltyd altyd met dankgebed
begin. En so is daar nog baie voorbeelde. Mense is soms bekommerd oor die
finansiële skade wat hulle gaan ly, as hulle die Sondag as rusdag handhaaf. Maar
laat ons ook die ander kant besef. As jy as Christen ‘n harde en betroubare
werker is, desnoods ses dae per week, maar nie op Sondag nie, dan sal die HERE
dit ook met sy seën bekroon. Want eenvoudig, die wêreld, en ook ons land, het
behoefte aan mense wat eerlik en lojaal hulle werk doen. Hulle sal altyd
gewaardeer word. Maar laat ons dus nie skrik as ons op ‘n dag agterkom dat ons
smaadheid sal moet ly ter wille van Christus se naam nie.
Ter wille
van sy gebooie. Dit hoort by ‘n Christenlewe, ‘n opregte Christenlewe. Laat ons daarom nie saamgaan in die tendens
om op Sondag steeds meer te werk, of ander steeds meer vir jou te laat werk
nie.
Ons bly
staan by ons beginsels, in gehoorsaamheid aan God se Woord.
Laat ons nie
berus in ‘n verkeerde situasie nie, al is dit hoe wydverspreid.
Dit is iets
waaroor ons in die komende week spesiaal kan nadink, ook ter voorbereiding op
die nagmaal van volgende week. Of jy as Christen regtig bereid is om konsekwent
te lewe. Laat ons trou bly, ook as dit soms moeilik is. Die Sondag is ‘n groot geskenk
van God. Hierdie dag het alles te make met die ewige rus wat Christus in jou
lewe bring.Laat dit ‘n feesdag bly.
En
geliefdes, juis as ons bereid is om te veg vir hierdie dag, sal ons dit nog
meer as ‘n feesdag ervaar. Op die troudag van jou dogter gaan jy nie ook nog
werk toe nie. Geen sprake van nie. Op die dag van die HERE ook nie.
Want daar is
iets wat gevier moet word.
Feesvier is
ook iets wat mens moet leer, onthou dit net. Die Sondagsheiliging het onder
invloed van die sogenaamde Gereformeerde sedes soms daartoe gelei dat dit nie
meer as ‘n feesdag beleef is nie.
Dan was die
fokus net op alles wat nie mag nie. Dit mag nie, en dat mag nie.
Tot mense
hulle afgevra het, wat mag dan nog wel? Dit is nie die bedoeling nie. Dit het
Christus baie duidelik gemaak, toe Hy vir die Fariseërs gesê het: die sabbat is
vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie.
Christus wil
hê dat sy bruid feesvier. Want Hy het opgestaan! Hy het sy amptelike werk op
aarde ook begin met feesvier – die bruilof te Kana!
Laat ons nie
vergeet wat dit is om fees te vier, om bly te wees nie.
Laat ons nie
vergeet om tot rus te kom nie.
Tot rus in
Christus, na liggaam en siel.
Amen.
(kyk in preek)