PRETORIA-MARANATA, 5 Februarie
2017 AD, 17:30
Votum
Seën
Ps 48:1,2
Gebed
Skriflesing: Sefanja 3
Ps 48:3
Teks: Sefanja 3:12
Preek
Ps 49:1,5,7
Gebed
Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Ps 87:3-5
Seën
Preek: Sefanja 3:12
In laasweek se preek,
oor Sefanja 2, het een woordjie veral die aandag getrek. Dit was die woordjie miskien. In hoofstuk 2:3 was daar ‘n oproep om die HERE te soek,
voor dit te laat is.
Om geregtigheid en
ootmoedigheid te soek, want, en dan kom die woordjie: miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die
HERE. Hierdie woordjie miskien was
die enigste hoopgewende woordjie in hoofstuk 2. Wie tot bekering kom, vir hom
sal God miskien ontsnapping bied, om
te ontkom aan die oordeel. ‘n Straaltjie lig aan die einde van die tonnel.
In die vorige preek het
ons gesien dat die woordjie miskien
hoop bied aan ‘n bepaalde groep mense. Hierdie groep was nie die volk Israel,
of Juda of Jerusalem in sy geheel nie. Dit was ook nie die volke wat rondom
Juda gewoon het, ten ooste, noorde, suide en weste nie. Daardie groep word
egter aangedui met die term: ‘n res, ‘n oorblyfsel. ‘n Res uit God se afvallige
volk, en ‘n res uit alle volke op aarde. ‘n Res, hulle wat hulleself voor God
verootmoedig het.
Dit is, gemeente, wat
ons geleer het uit Sefanja 1 en 2. En die teks wat vandag aan die orde is, gaan
hiermee verder. “Ek sal tussen jou laat oorbly ‘n ellendige en geringe volk wat
by die Naam van die HERE skuiling soek.”
Tema: Wie is die volk wat skuil by die HERE?
1 Die aard van hierdie volk
2 Die samestelling van hierdie volk
1 Die aard van hierdie volk
Wat is die aard van
hierdie volk? Dit is ‘n ellendige volk. Dit klink nie baie goed nie. Mens hoor
soiets nie graag oor jou eie volk nie. Sê maar die Engelse, of die Hollanders,
sou oor die Afrikaners sê: Ag, dis maar
‘n ellendige volkie. Mens hoor soiets nie graag nie, en jy stem in elk geval
ook nie daarmee saam nie. ‘n Ellendige volk, dan sou mens eerder dink aan ‘n
volk wat in ‘n burgeroorlog gewikkel is, soos Sudan of dalk Sirië.
Maar gemeente, dit is
dus belangrik om duidelikheid te kry oor wat met hierdie woordjie ellendig bedoel word. Mens kan iemand
ellendig noem om verskillende redes. As iemand die heeltyd siek is, is sy
toestand ellendig. As iemand baie skulde het, is sy toestand ook ellendig. ‘n
Boemelaar het ook ‘n ellendige bestaan. Ellendelinge, kan mens hulle noem.
Maar wanneer die
woordjie ellendig hier in ons teks
voorkom, moet ons in die eerste plek kyk na die konteks van Sefanja se
profesie.
As u vir ‘n oomblik
terugdink aan hoofstuk 2, daar het Sefanja die oordeel aangekondig oor die
groot stad Ninevé. Dit was die wêreldstad
van daardie tyd, soos New York byvoorbeeld vandag is. In 2:15 lees ons dat
hierdie stad baie arrogant was. Hulle het oor hulleself gesê: “Dit is ek, en
niemand anders nie!” Wie soiets oor homself sê, is baie ver heen. Is baie
hoogmoedig.
En hoogmoed kom tot ‘n
val. So geprofeteer, so het dit ook gebeur. Die verwaande stad Ninevé het ten
val gekom. Dit het ‘n ruïne geword.
‘n Woonplek vir uile en
kraaie.
Teenoor hierdie
verwaande houding van Ninevé plaas Sefanja egter die woordjie ellendig. Ellendig is die
teenoorgestelde van hoogmoedig.
Ellendig is dus nie
soseer iemand wat ‘n boemelaar is, of iemand wat brandarm of sieklik is nie,
maar iemand wat ellendig is, is iemand wat nie hoogmoedig is nie, maar juis
nederig. Nederig – dit is sinoniem vir ‘n ander woord wat Sefanja ook baie
noem, nl. ootmoedig. Dit gaan daaroor
hoe jou houding is teenoor die HERE God en teenoor jou medemense. En dit is dus die aard van die volk wat God
sal red: Hulle is ellendig, dit wil sê ootmoedig of nederig. Hulle verhef nie hulleself met opmerkings
soos: ons is dit en niemand anders nie.
Hulle is ‘n volk wat,
miskien is hulle ryk, miskien arm, miskien is hulle weerloos, dit maak nie saak
nie, maar dit is mense wat ‘n nederige, ‘n ootmoedige houding het. Na God toe,
en na hulle medemense toe. Mense wat besef hulle is self ellendig. Ons kan dit
ook verstaan in die sin hoe die Kategismus die woord gebruik. Ellendig, dis is
oppad na die ewige dood, as God nie genadig tussenbeide gekom het nie. ‘n Volk,
wat met so ‘n besef in die lewe staan. Hulle is sterk en magtig, nie in hulleself
nie, maar in God.
Mens kan dink aan iemand
soos Daniël, ‘n jong man, wat eintlik nietig was in die magtige Babiloniese ryk
waar hy as ‘n slaaf tereggekom het. Maar tog was hy deur God se krag tot baie
in staat. Juis in sy nederige houding teenoor God het Daniël se krag geskuil.
In verband met hierdie
woordjie ellendig wil ek ook nog op ‘n
ander vers wys, ook weer as ‘n teenoorgestelde.
Hoofstuk 3:1, waar ons
lees: “Wee die opstandige en die besoedelde, die verdrukkende stad.” Hierdie
‘wee’ spreek Sefanja uit oor die stad Jerusalem. Drie woorde, drie aanklagte,
aldrie vorm hulle ‘n kontras met die woordjie ellendig in ons teks. Opstandig, besoedeld, verdrukkend – drie
teenoorgesteldes van ellendig. Jerusalem word eerstens opstandig genoem, ‘n
stad wat nie wil luister nie. En dit was helaas die geval. Meer as een keer het
die Jerusalemmers hulle stad tot die bitter einde verdedig, van mening dat God
aan hulle kant was, terwyl God al lankal deur sy profete laat weet het dat Hy
die stad verlaat het, dat dit Hyself was wat die oordeel oor Jerusalem gebring
het, dat dit Hy was wat die vyand gestuur het.
Hierdie stad was dus
opstandig, nie ellendig in die sin van ootmoedig of nederig voor God nie.
Tweedens word nog ‘n
aanklag genoem. Jerusalem was ook ‘n besoedelde stad. In watter sin besoedeld? Dit
het ons in die eerste preek oor Sefanja gesien. Jerusalem was besoedeld met
afgodsdienaars. Mense wat op hulle dakke vir die sterre gekniel het. Mense wat
Molog aanbid het. Mense wat hulle kinders selfs vir die afgode geoffer het. Was
hierdie stad maar ellendig, in die sin van ootmoedig, nederig voor God. Maar nee, dit was vuil en besoedeld
deur die afgode.
Die derde aanklag wat
ons in hoofstuk 3:1 lees, is: verdrukkend. Wee die verdrukkende stad. Jerusalem
was ‘n hoofstad wat nie diensbaar was nie, maar wat die land uitgesuig het. Verse
3 en 4 is baie duidelik in hierdie opsig. Die vorste in die stad is brullende
leeus. Die regters is aandwolwe.
Hulle los niks oor tot
die môre nie. Ons ken deesdae nie meer leeus of wolwe wat in die strate swerf
nie. Sulke diere is deesdae toegesluit in dieretuine of wildtuine. Maar in die
dae van Sefanja was hierdie diere ‘n verskrikking vir elke skaapherder.
So is Jerusalem, met sy
aansienlike mense wat daar woon, die vorste en regters, ‘n stad wat verdruk,
pleks van dien. ‘n Stad – opstandig, besoedeld en verdrukkend. In geen enkel
opsig ellendig, in die sin wat ons teks bedoel, naamlik ootmoedig en nederig
voor God nie.
Tot sover het ons na
twee stede gekyk. Ninevé, na aanleiding van hoofstuk 2:15. En Jerusalem, na
aanleiding van hoofstuk 3:1.
Hierdie stede staan in
kontras met die aard van die volk wat God sal spaar:
Naamlik ‘n ellendige
volk, waarmee bedoel word: nederig en ootmoedig.
Hierdie volk wat God sal
red, is naamlik die oorblyfsel, die res wat ondanks alles voor God kniel. Dis
hulle vir wie God sal red. In Jesaja 49:13 word dieselfde woord gebruik, die
woordjie ellendig
“Jubel, o hemele, en
juig, aarde; en berge breek uit in gejubel! Want die HERE het sy volk getroos
en ontferm Hom oor sy ellendiges.”
In die eerste punt van
die preek vra ons die vraag wat die aard is van die volk wat by God skuil. Hulle
is ellendig. Ons het gesien wat dit beteken.
Maar ons teks gebruik
nog ‘n woord om die aard van hierdie volk te beskryf: hulle is gering. Die Hebreeuse woord hier kan
vertaal word as: gering, of hulpeloos, of kragteloos, of niksseggend, of
verwerplik. Nou ook hierdie woord moet ons lees in die konteks van Sefanja se
profesie.
Inderdaad is dit so dat
daardie groep mense wat voor die HERE kniel, inderdaad sal hulle verwerplik
wees in die oë van ‘n stad soos Ninevé.
Ninevé sal minagtend op
hulle neerkyk. Dieselfde geld vir die stad Jerusalem. Gemeet aan hulle
standaarde, is die volk wat by die HERE skuil eintlik niksseggend, kragteloos
en hulpeloos. En gemeente, is dit nie vandag nog net so nie? Hulle wat die HERE
dien word geringgeskat, niksseggend vir die wêreld. Om maar ‘n praktiese
voorbeeld te noem: Vir die oë van die wêreld moet jy in die nuutste motor ry,
om saam te tel. Maar as iemand wat die HERE dien, het jy geleer om jou geld
beter te spandeer. Die wêreld meet jou aan wat voor oë is. In die wêreld se oë
lyk jy dalk veragtelik. Maar in God se oë is jy kosbaar. Gelowiges moet soms ly
onder die publieke opinie.
Gelowiges se lewensstyl
word soms verkleineer, asof hulle ouderwets is.
So ‘n houding het in
Sefanja se dae selfs die profete en priesters gehad teenoor hulle wat trou
gebly het aan die HERE en sy Woord. Sulke mense is afgeskryf as ‘n groepie met
wie mens geen rekening hoef te hou nie.
Maar gelukkig oordeel
God regverdig. Hy tree juis in die brès vir die ellendiges. Hulle wat in die oë
van ander gering en niksseggend is. God weet beter. Hy weet dat hulle wat trou
bly aan sy gebooie, dat hulle juis ‘n seën vir hierdie aarde is. Dat hulle juis
die toekoms vir die aarde is. Soos Jesus gesê het in Mattheüs 5:5: “Salig is
die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.” Juis hulle, wat in ander se
oë ouderwets en verwerplik is, juis hulle is God se medearbeiders. Juis hulle
lewer ‘n bydrae aan die koms van die nuwe aarde. God weet beter, Hy sien die
hart aan. Hy tree in die brès vir hulle wat ellendig en gering is. Dit is die
mense na sy hart.
Ellendig, dit wil sê,
ootmoedig, nederig, afhanklik van God. Dit is die soort mense wat God by sy
volk inlyf. Dit is die aard van die volk, wat vir God welbehaaglik is.
(Tema: Wie is die volk
wat skuil by die HERE?
1 Die aard van hierdie
volk)
2 Die samestelling van hierdie volk
Ons is besig om die
vraag te beantwoord wat in die tema gevra word:
Wie is die volk wat
skuil by die HERE? Die woorde van ons tema kom uit die teks. In ons teks staan
egter nog iets: Hulle skuil by die Naam
van die HERE. Nou is daar inhoudelik nie werklik verskil tussen: ek skuil by die HERE, of: ek skuil by die Naam van die HERE nie. Die
laaste is wel meer eksplisiet. As daar staan: die Naam van die HERE, dan word
bewus herinner aan wat die HERE al alles in die verlede gedoen het. Die HERE het
naamlik Naam gemaak. Sy Naam staan vir die wonderbaarlike dinge wat Hy al
gedoen het. Aan ‘n naam kleef altyd assosiasies. Positiewe of negatiewe
assosiasies. As ek bv. die naam ‘Zuma’ noem dan het ons dadelik negatiewe
assosiasies by hierdie naam. As ek die naam ‘Madonsela’ noem, dan het ons meer positiewe
assosiasies by daardie naam.
Die Naam van die HERE
het die volk herinner aan dit wat Hy vir hulle gedoen het. ‘n Israeliet wat in
Sefanja se dae God se naam op die lippe geneem het, het ook gedink aan die
verlede. Dat Hy Israel uit Egipte verlos het. Dat Hy hulle ‘n blyplek in Kanaän
geskenk het. Dat Hy aan hulle koning Dawid geskenk het, ensovoorts. En as ons
vandag die Naam van die HERE noem, dan dink ons aan die grootste wonder wat Hy
ooit gedoen het. Dat Hy sy eie Seun in ons plek geoffer het. En so is dit dus
baie toepaslik om te sê: Ek skuil by
die Naam van die HERE. Ek skuil dus by daardie Persoon wat sulke wonderbaarlike
dinge in die verlede gedoen het. By Hom voel ek volkome veilig.
En wie die mense is wat
so by God skuil, dis waarna ons nou in die tweede punt kyk. Wie is hulle? Wat
is die samestelling van die volk wat by die HERE skuil? In die teks word hulle
as ‘n volk aangedui. Tog kan mens hulle nie sondermeer gelykstel aan die volk
Israel nie. Dit het ons in die vorige preke gesien. Telkens word verwys na ‘n
res, ‘n oorblyfsel. In hoofstuk 2:7 staan dat die oorblyself van die huis van
Juda die Filistyne se grondgebied sal ontvang. Die oorblyfsel van die huis van
Juda.
Gemeente, hierdie
sinsnede gee ons sig op die samestelling van God se volk.
God het destyds begin om
Abraham uit te kies, om uit sy nageslag ‘n volk te bou. Tog was dit nooit ‘n
outomatisme, dat alle Jode per definisie gered sou word nie. Reeds in Genesis
was dit duidelik: Abraham en sy nageslag sal slegs uit die geloof geregverdig
word. In die dae van Sefanja is ons al vele eeue na Abraham. En ook Abraham se
nageslag, so het geblyk, was nie beter as die ander volke nie. Daarom sê
Sefanja eksplisiet: God se volk is nie saamgestel uit alle Jode nie. Dit is ‘n
oorblyfsel, hulle wat glo, hulle wat ellendig en gering is. Hulle wat nederig
en ootmoedig voor God lewe. En vervolgens vestig Sefanja ook ons aandag daarop
dat dit oor meer as net Jode gaan. God se genade skitter in die feit dat ‘n
oorblyfsel uit die Jode gered word. Maar God se genade skitter nog meer in die
feit dat ook ‘n oorblyfsel uit die ander volke gered sal word. Sien hoofstuk
3:9.
Daar sê die HERE:
“dan sal Ek aan die
volke rein lippe toebring, sodat hulle almal die Naam van die HERE sal aanroep
en Hom met ‘n eenparige skouer sal dien.”
God se aanbidders sal
selfs kom van oorkant die riviere van Kus vandaan.
Hierdie is ‘n pragtige
profesie oor ons kontinent. Van anderkant die Nylrivier sal God se aanbidders
ook kom. Hier word verwys na Afrika, die onmeetlike kontinent wat hom uitstrek
ten weste en suide van die Nyl
En so, gemeente, kry ons
sig op die samestelling van God se volk.
Hierdie term, God se volk, kry eintlik ‘n nuwe
betekenis hier in Sefanja.
Dit is nie net Jode nie,
nee, God se volk is die ellendiges en geringes uit alle volke. Ja hierdie is inderdaad ‘n Pinksterprofesie. Redding
vir alle volke.
Soos Jesus vir sy
dissipels die opdrag gegee het:
“Gaan dan heen, maak
dissipels van al die nasies” (Gen 28:19).
God se volk het wel sy
oorsprong in die Joodse volk, wat Hy uitverkies het om draer van die Messias te
wees. Maar God se volk is nou soveel breër in omvang. Dink aan hoe Paulus
geskryf het oor die Joodse volk as ‘n olyfboom. Op ‘n stadium is daar takke van
die stam van die olyfboom afgekap. Dit was die Jode wat die Messias verwerp
het. Maar op die stam van die olyfboom is baie nuwe takke ingeënt. Dit is alle
mense uit die heidenvolke wat in Jesus glo.
Wie is dit volk wat by
die HERE skuil? Dit is hulle wat ellendig en gering is.
U weet, na hierdie
preek, wat hierdie twee woorde beteken. Dít is die aard van hulle wat aan God
se volk behoort. En die samestelling van hierdie volk is kleurryk. Uit alle
volke en tale, blank, bruin, geel, swart, blond, donker, kort, lank, oud, jonk,
alles mense wat dit gemeenskaplik het: Deur die werking van die Heilige Gees
lei hulle ‘n ootmoedige en nederige lewe.
En hulle staan sterk,
omdat hulle skuil by die Naam van die HERE.
Ten slotte moet ons nog
na een woord uit ons teks kyk. Die woordjie oorbly.
Sefanja praat steeds oor
die oorblyfsel van Israel. ‘n Res. Nou kan hierdie woord mens dalk somber maak.
In die trant van: Dit is slegs enkeles, baie min, wat salig sal word. Net ‘n
oorblyfsel, net ‘n res. Dit grootste gros van alle mense sal onherroeplik
verlore gaan. Maar gemeente, kom ons lees goed wat God vir ons in die Bybel sê.
Sefanja profeteer steeds oor ‘n oorblyfsel. Maar dit wil nie sê dit sal maar
min wees nie. Neem byvoorbeeld hoofstuk 3:9. Daar sê die HERE:
“dan sal Ek aan die
volke rein lippe toebring, sodat hulle almal die Naam van die HERE sal
aanroep.”
En as ons die Nuwe
Testament oopmaak, dan word ons hierin bevestig.
Duisende, miljoene mense
sal God salig maak. Mense uit alle volke sal in Christus redding vind. Inderdaad,
dit sal nie alle mense wees wat hier op aarde gebore word nie. Daar is ook
mense, en dit sal ook baie wees, wat onherroeplik verlore sal gaan, uit die
heidenvolke, maar ook uit die Joodse volk, ook uit die afvallige kerk, dit is
‘n pynlike werklikheid. Daarop wys Sefanja ons juis indringend. Laat ons nie
lewe asof sonde en onreg, asof ongeloof nooit ongestraf sal bly nie. Dit is nou
of nooit.
Leef ootmoedig voor die
HERE.
Hou sy gebooie. Skuil
veral by Hom, by sy Seun wat Hy gestuur het.
Wat die dood oorwin het.
Wat nou regeer.
Wat weer sal terugkom,
om die lewendes en dooies te oordeel.
Maar weet verseker, Hy
sal nooit sonder onderdane wees nie.
En hulle almal wat by
Hom skuil, die res, dit is ‘n menigte wat niemand kan tel nie.
Amen.
(kyk in preek)