Die lofsang van Maria leer ons die diepe betekenis van Kersfees

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2016-12-25
Text: 
Lukas 1 : 46-55
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA & PRETORIA, 25 Desember
2016 AD, 9:30

Votum

Seën

Ps 47:1,2

Wet

Sb 1:3,4

Gebed

Skriflesing:
Lukas 1:1-4 & 26-45

Ps 47:3,4

Skriflesing:
1 Samuël 2:1-11

Ps
14:1,2,6,7

Teks: Lukas
1:46-55

Preek

Sb 1:1,2

Gebed

Kollekte

Sb 1:5,6

Seën

Preek: Lukas 1:46-55

Vandag
luister ons na die Kersevangelie soos dit opgeteken is deur die evangelis
Lukas. Lukas was waarskynlik ‘n dokter, dit weet ons uit Kolossense 4:14. Hy
het die Evangelie op skrif gestel vir ‘n vriend van hom met die naam Theofilus.
Nadat die nuus oor Jesus Christus hom ter ore gekom het, was hy self nuuskierig
na die betroubaarheid daarvan. Hy het toe op soek gegaan na ooggetuies. Ons
lees dit in die eerste verse van die Evangelie, waar Lukas skryf:

Ek het dit
ook goedgedink, “hooggeagte Theofilus, nadat ek van voor af alles noukeurig
ondersoek het, om dit in volgorde aan u te skrywe, sodat u met volle sekerheid
kan weet die dinge waaromtrent u onderrig is.” (Luk 1:3-4)

Wie was
Theofilus? Hy was miskien ‘n kollega dokter, miskien ‘n ander vooraanstaande
Romein. Lukas spreek hom aan as ‘hooggeagte’.

Nou uit
Lukas se verslag aan hom gaan ons vandag spesifiek na een paragraaf kyk, en dit
is die lofsang van Maria.

‘n Lied wat baie
van ons al as kindertjies geleer het, in die mooi Totius-beryming. “Ek wil die
hoogste Heer, met blye roemtaal eer”, ensovoorts.

Tema: Die lofsang van Maria leer ons die
diepe betekenis van Kersfees

  1. Die oorsprong van hierdie lied

  2. Die inhoud van hierdie lied

  1. Die oorsprong van hierdie lied

    Ek het besluit,
    hooggeagte Theofilus, om van voor af alles weer noukeurig te ondersoek. Dit
    skryf Lukas.

    Nou wat
    beteken dit vir die lofsang van Maria?

    In kort dit:
    Lukas het historiese ondersoek gedoen. Lukas het ook met die Here Jesus se ma,
    Maria, gepraat. Maria het nog gelewe en Lukas kon uitgebreid met haar praat
    daaroor. Hierdie loflied het hy ook van haar ontvang. Hoe moet ons dit ons
    voorstel?

    Het Maria
    vir hom ‘n papiertjie gegee, waarop sy ooit, lank gelede, hierdie gedig geskryf
    het? Gemeente, ‘n tyd terug was ek betrokke by die begrafnis van ‘n weduwee. Die
    familie het gevra of ek ‘n gedig wou voorlees, wat hulle ma ‘n keer opgeskryf
    het. Hulle het die gedig tussen al haar papiere gevind, nadat sy oorlede is. Nou
    kan mens jouself afvra: het Maria hierdie lied ook êrens opgeskrywe? En het sy
    nou, by wyse van spreke, ‘n vergeelde stukkie papier uit haar laai te voorskyn
    gehaal, toe Lukas met haar kom praat het? Wel, dit is nie onmoontlik nie.

    Hoewel in
    daardie tyd lank nie alle mense kon lees en skryf nie.

    In die
    Romeinse Ryk was daar na skatting 40% van die mense geletterd, en waarskynlik was
    dit nog minder. Maar daar was wel altyd die moontlikheid om iets te laat opskryf, deur, wat toe genoem is,
    ‘n skriba, ‘n vir ons bekende woord wat oorspronklik skrywer beteken.

    Maar die
    mees voor die hand liggende moontlikheid is nog nie genoem nie.

    Omdat daar
    in daardie tyd baie minder papier was as vandag, dinge soos papyrus en
    perkament was peperduur, het die mense hulle geheue veel meer gebruik. Deesdae
    gebruik ons ons geheue nie meer om dinge te onthou nie. Ons gebruik eerder ons
    geheue om te onthou waar ons iets kan terugvind, of dit in ‘n boek is, of op
    ons rekenaar, selfoon, in die wolk, of waar ook al. Maar vroeër was die mense baie
    meer aangewese op hulle geheue. Hierdie lied het in Maria se geheue gegrif
    gestaan.

    Net soos,
    vir die wat hierdie lofsang op laerskool geleer het, die versies in julle
    geheue gegrif staan, vir die res van jou lewe.

    Soos elders
    staan, Maria het al hierdie woorde in haar hart bewaar en oordink (Lukas 2:19).

    Dit bring
    ons by ‘n volgende vraag. Ons het vanoggend ook die loflied van Hanna uit 1
    Samuel gelees. Dalk het dit u opgeval hoeveel ooreenkomste daar is tussen
    hierdie twee lofliedere. Dit is nie toevallig nie.

    Die lofsang
    van Hanna was vir elke gelowige Jood ‘n bekende lied. Mens sou kon sê, by wyse
    van spreke, Maria het Hanna se loflied op laerskool of katkisasie as kind uit
    haar kop geleer.

    En wat
    opval, is nou dat Maria haar eie lied sing, haar eie lied in reaksie op wat die
    engel aan haar meegedeel het, en in afwagting op dit wat haar te wagte staan,
    dat Maria vir haar lied die struktuur en terme gebruik van hierdie bekende
    loflied van Hanna, wat in haar geheue gegrif gestaan het.

    Soos die
    taalgebruik van kerkmense deurspek kan wees met Bybelse uitdrukkings, wat hulle
    in hulle jeug uit hulle koppe geleer het, so sien mens dit ook by Maria. Sy
    gebruik die lied van Hanna.

    Haar
    gevoelens uiter sy deur die taal van die Bybel te gebruik.

    Let maar op.
    Hanna het gesing: “My hart jubel in die HERE”.

    Maria sing:
    “My siel maak die Here groot.”

    Hanna het
    gesing: “Niemand is heilig soos die HERE nie.”

    Maria sing:
    “heilig is sy Naam”.

    Hanna het
    gesing: “Spreek nie voortdurend alte hoog nie, laat vermetele taal nie uit
    julle mond uitgaan nie”.

    Maria sing:
    “Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy verstrooi.”

    Hanna het
    gesing: “Die wat versadig was, het hulle vir brood verhuur; maar die wat honger
    gehad het, rus ... Die HERE maak arm en maak ryk”.

    Maria sing:
    “Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes met leë hande weggestuur.”

    Hanna het
    gesing: “Hy verneder, ook verhoog Hy”.

    Maria sing:
    “Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog.”

    Nou dink u
    dalk: Is dit nie bietjie onwaarskynlik dat Maria hierdie hele lied uit haar kop
    geken het nie? Is dit nie bietjie onwaarskynlik dat sy iets soos 40 jaar later
    dit nog vir Lukas kon opsê nie? Maar geliefdes, moenie te gou te min dink oor
    Maria nie. Nie vir niks staan daar: sy het al hierdie dinge in haar hart bewaar
    nie. As daar so iets groots in jou lewe sou gebeur, is die kans groot dat jy
    ook elke detail sal onthou.

    En daar kom
    by, soos ek genoem het, dat mense hulle geheue vroeër veel meer gebruik het, en
    hulle geheue dus veel meer geoefend was, omdat daar veel minder papier was of
    wat ons deesdae noem ‘sekondêre geheue’.

    Deur die
    eeue heen is daar al heelwat gespekuleer oor hierdie loflied van Maria. Daar
    was al teoloë gewees wat dit as onmoontlik beskou het dat Maria hierdie lied
    self sou gedig het. Dat Maria, ‘n jong vrou, miskien nog nie eers 20 nie, en
    miskien kon sy nie eers lees en skryf nie, dat sy hierdie lied sou gedig het. Daarom,
    beweer hierdie teoloë, was dit waarskynlik Lukas, wat ‘n geleerde man was, wat
    hierdie lied agteraf aan Maria toegedig het, haar by wyse van spreke in die
    mond gelê het.

    Maar, vir so
    ‘n hipotese bestaan daar geen bewysmateriaal nie. Al wat ons weet, is wat Lukas
    hier in sy Evangelie skryf: Dat Maria hierdie lied gesing het, toe sy by
    Elisabet was. Miskien het Elisabet, wat al ‘n ou en wyse vrou was, haar gehelp
    om hierdie lied te maak, maar ook dit weet ons nie met sekerheid nie. Al wat
    ons seker weet, is dit wat Lukas skryf, naamlik dat hierdie lied van Maria af
    kom. En dus neem ons aan dat dit so is.

    Net soos
    Lukas die hele geskiedenis van Jesus se lewe op aarde noukeurig ondersoek het,
    en noukeuring vir sy vriend Theofilus opgeskryf het, net so het hy dit ook
    gedoen wat betref die loflied van Maria.

    (Tema: Die
    lofsang van Maria leer ons die diepe betekenis van Kersfees

  1. Die oorsprong van hierdie lied)

     

     

  2. Die inhoud van hierdie lied

    As ons
    hierdie lied nou van naderby bestudeer, spreek daar ‘n baie diep geloof uit. ‘n
    Geloof wat gebou is op die Bybel, wat toe die Ou Testament was. In woorde en
    terme wat direk aan die Ou Testament ontleen is, sing Maria oor haar geloof. Soos
    ons gesien het, maak sy gebruik van die lofsang van Hanna. As mens hierdie
    loflied vinnig deurlees, val die deurlopende tema veral op, wat mens soos volg
    kan omskryf: God is ongekend almagtig.

    Hy gaan nou
    reg en geregtigheid op aarde herstel.

    Hy gaan nou
    sy beloftes gestand doen.

    Ons moet
    onthou dat hierdie lied ‘n reaksie is op die boodskap van die engel. Wat die
    engel gesê het, het ons gelees:

    “kyk, jy sal
    swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en
    die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die
    troon van sy vader Dawid gee.” (Luk 1:31-32)

    As mens goed
    na hierdie woorde luister, dan is Maria se reaksie eintlik glad nie so vreemd
    nie. Naamlik dat Maria sing dat God geregtigheid op aarde gaan herstel. God wat
    magtiges van hulle trone gaan afruk en eenvoudiges verhoog. Dit is ‘n element
    wat ons vandag soms oor die hoof sien, as ons Kersfees vier. Die atmosfeer wat
    rondom Kersfees geskep word is meestal lief en aardig, sag en sonder om melding
    van oorlog en geweld te maak.

    Nou is dit
    op sig nie verkeerd nie.

    As mens die
    eerste verse uit Lukas 2 lees, kan mens jou so ‘n atmosfeer goed voorstel. Neem
    die bekende woorde, vers 6: “En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy
    moes baar; en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en
    Hom in die krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was
    nie.”

    Hierdie
    woorde roep ‘n intieme atmosfeer op. Maar tog is die Kersevangelie veel breër
    as net hierdie enkele verse. Want rondom hierdie vredige tafelreel van ‘n
    kindjie in ‘n krip, hang wel orals die bedreiging van oorlog.

    Dink maar
    wat na die geboorte sou gebeur. Die gesin moes halsoorkop na Egipte vlug. Waarna
    alle babas onder twee jaar in Bethlehem uitgemoor is.

    Maria se
    lofsang is dus heel toepaslik.

    Dis ‘n lied
    waaruit die besef van stryd en oorlog en spanning spreek.

    Deur die
    eeue is daar al op verskillende maniere gepoog om hierdie woorde van stryd en
    konflik in Maria se loflied te verklaar.

    ‘n Voor die
    hand liggende verklaring was natuurlik die stryd tussen die Jode en die
    Romeine. Judea was op daardie oomblik beleërde gebied, beset deur die Romeine. Baie
    Jode het vurig verlang na iemand soos Judas Makkabeüs, wat destyds die Grieke
    die land uitgejaag het.

    Baie Jode
    het gebid vir so ‘n Messias, om die Romeine die see in te jaag.

     

    ‘n Ander
    verklaring, wat veral in ons tyd nogal in die mode is, is dat dit hier veral
    gaan oor die stryd tussen ryk en arm. Die stryd tussen die wat het en die wat
    nie het nie. Kom ons noem dit ‘n Marxistiese verklaring.

    Maar
    gemeente, wil mens hierdie loflied van Maria reg verstaan, wil mens by die
    korrekte bedoeling daarvan uitkom, dan lê die sleutel vir die verstaan daarvan
    juis in sy oorsprong. Soos ons gesien het, die oorsprong van hierdie lied lê in
    die lofsang van Hanna. En dan lê dit voor die hand dat die boodskap van hierdie
    twee liedere ooreen moet stem. As ons na Hanna se lofsang kyk, vind ons daarin
    geen teenstelling tussen Jode en buitelanders nie. Ons vind daarin ook geen
    teenstelling tussen arm en ryk, in materiële sin nie. Hanna se lied het
    ontstaan uit die feit dat sy ‘n seun van God ontvang het. Terwyl almal gedink
    het sy is onvrugbaar.

    Terwyl
    Elkana se ander vrou, Penina, baie kinders gehad het. Terwyl Penina
    onophoudelik vir Hanna gepes het. In hierdie konteks sê Hanna dan dat die Here
    die geringe uit die stof ophef. Die geringe, of ook wel genoem die arme. Hanna
    sing dat die HERE die hele wêreld regeer.

    Penina het
    dit nie aan haarself te danke, dat sy vrugbaar is nie, dat sy soveel kinders
    het nie. Dit is ‘n gawe van God.

    “Die HERE
    maak dood en maak lewend” (1 Sam 2:6).

    Die HERE
    maak arm en maak ryk. Ook wat betref die kry van kinders.

    En so sal
    die HERE kom, op sy tyd, om die hoogmoediges te straf, die rykes, ook die wat
    ryk is aan kinders en die onvrugbares verag.

    Ja hier word
    dus nie bedoel die materieel rykes nie, maar hulle wat ryk is in hulleself, en
    nie ryk is in God nie.

    Hulle wat
    hulleself hoogmoedig verhef, wat in hulleself roem.

    Nou
    gemeente, presies dieselfde snaar tril in die loflied van Maria.

    “Hy het deur
    sy arm kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy
    verstrooi.” (Luk 1:51)

    Soos daar in
    Psalm 14 staan:

    Die dwaas sê
    in sy hart: daar is geen God nie.

    Dus kan ek
    maar my gang gaan.

    Hierdie tipe
    mense bedoel Maria as sy sing:

    Rykes het Hy
    met leë hande weggestuur.

    Mense wat in
    hulleself ryk is.

    En as mens
    nou baie konkreet word, en jou afvra watter mense dan bedoel word, dan is dit
    die beste om te kyk na die lewe van die Here Jesus self.

    Sy stryd was
    nie in die eerste plek teen die Romeine nie. Sy stryd was ook nie in die eerste
    plek teen die materieel rykes nie. Die materieel rykes, dit was in daardie dae
    veral die priesters en die Sadduseërs, en moenie die tollenaars vergeet nie,
    wat belasting vir die Romeine moes insamel en daardeur skatryk geword het nie. Mense
    soos Mattheüs en Sageüs.

    Wie die
    Evangelies lees, kom agter dat hulle nie Jesus se grootste vyande was nie,
    inteendeel. Jesus se grootste vyande was die Fariseërs.

    Hulle was
    dit wat die volk aangehits het om Christus te kruisig.

    Dis oor
    hierdie stryd wat sy moeder Maria sing, nou nog voor sy geboorte.

    Die stryd
    tussen goed en kwaad. Die stryd tussen hongeriges en rykes.

    Hongeriges
    na die Evangelie, die Woord, wat Christus sou kom bring.

    En rykes,
    hulle wat die Geneesheer nie nodig gehad het nie.

    Maria se
    loflied is ‘n oorwinningslied. Verbasing oor God se goedheid en almag. Dit is
    ook ‘n lied waaruit diepe dankbaarheid spreek.

    “My siel
    maak die Here groot, en my gees is verheug in God, my Saligmaker” (vers 46-47)

    Dat die
    grote God haar geskik geag het om die Verlosser na sy volk te bring.

    Dit is ‘n
    lied wat bewondering uitroep oor die Verbondsgod se betroubaarheid.

    Dat God sy
    belofte, wat Hy lank gelede aan Abraham gegee het, 2000 jaar gelede, nie
    vergeet het nie. Dat Hy dit nou sou waarmaak. Maria het nog lank nie alles
    geweet nie. Maar sy het wel besef dat die engel se boodskap iets onuitspreeklik
    groots om die lyf gehad het. Die ongewone swangerskap van die stokoue Elisabet het
    haar in hierdie vermoede versterk.

    Hierdie lied
    het vandag nog steeds vir ons ‘n boodskap. Veral die atmosfeer wat uit hierdie
    lied spreek. Dit leer ons om groot te dink oor ons Verlosser.

    Hierdie
    loflied gee ons sig op die kosmiese, die wêreldwye aksieradius van God se plan,
    toe Hy sy Seun na die wêreld gestuur het. Dat sy koms wêreldskokkende
    konsekwensies sou hê.

    Vers 52:
    “Maghebber het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog.”

    Hierdie is
    die atmosfees van Kersfees.

    Ja Maria se
    loflied leer ons die diepe betekenis van Kersfees.

    Dat God
    besluit het om self na die aarde te kom.

    Dat Hy sy
    eie Seun gestuur het om die stryd aan te bind.

    God het aan
    sy barmhartigheid gedink. Hiermee word terugverwys na Abraham. God was
    barmhartig teenoor Abraham en sy nageslag.

    Hy het
    medelye met die volk Israel gehad, hoewel hulle dit in geen enkele opsig
    verdien het nie. Hierdie ou barmhartigheid van God kom nou weer na vore. Hy het
    ooit met daardie onaansienlike mens, Abraham, ‘n verbond gemaak. En nou, 2000
    jaar later, het Hy daardie belofte nog steeds nie vergeet nie. Daaroor sing
    Maria!

     

    Dit is die
    atmosfeer van Kersfees.

    God bly
    getrou, sy planne faal nie.

    Dit is nou
    al weer 2000 jaar later, en waarom sou ons nog steeds Kersfees vier? Hierop het
    Maria se loflied ‘n antwoord.

    Maria het
    ongeveer 2000 jaar na Abraham geleef.

    Na al
    daardie eeue het God sy belofte aan Abraham nie vergeet nie.

    Ons leef
    ongeveer 2000 jaar na Maria. God is en bly dieselfde.

    Ook vandag
    is Maria se loflied nog 100% aktueel.

    Laat ons ook
    vandag die diepe rykdom van hierdie lofsang besef.

    Laat die
    atmosfeer van hierdie lied die Kersfeesvieringe bepaal.

    Nie dinge
    soos ‘n Kersboom, kersgeskenke en versierings nie.

    Laat ons
    dieper gaan. Die lofsang van Maria leer ons die diepe betekenis van Kersfees. Verwonder
    jou oor God se betroubaarheid.

    Oor sy
    goedheid. Oor sy vaste belofte om die kwaad uit te roei.

    Om vrede op
    aarde te herstel.

    Verwonder
    jou oor hoe dit sigbaar geword het in die geboorte van sy Seun.

    Die tradisie
    bepaal dat ons op 25 Desember kersfees vier.

    Historiese
    ondersoek dui in die rigting dat dit eerder einde Oktober of begin November
    was. Dit sal mooi wees, as ons eendag duidelikheid kan hê oor die datum. Dit
    was in elk geval nie 25 Desember nie.

    Maar laat
    ons, wanneer ons dit ook vier, veral let op die diepe betekenis van Kersfees. God
    gedenk sy barmhartigheid, ook in ons tyd.

    God ruk
    maghebbers van hulle trone, ook in ons tyd.

    God
    verstrooi hoogmoediges, ook in ons tyd.

    God verhoog
    nederiges, ook in ons tyd.

    Ja sy
    barmhartigheid is van geslag tot geslag oor die wat Hom vrees.

    Sy
    barmhartigheid het daarvoor gesorg, dat toe Jesus weer terug na die hemel
    opgevaar het, Hy ons nie as wese agtergelaat het nie.

    Hy het die
    Trooster, die Heilige Gees, vir ons gestuur.

    Sy
    barmhartigheid sal daarvoor aanhou sorg, dat sy kinders bewaar en beskerm word,
    tot die dag waarop Hy sal terugkom.

    Amen.

     

Liturgie: 

(kyk in preek)