Die Bewaarder van Israel waak oor sy kinders

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2016-10-23
Text: 
Ester 7 : 3-4
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 23 Oktober 2016 AD, 10:15

Votum: Ps
121:1

Seën

Ps 113:1,2

Wet

Ps 119:7,46

Skriflesing:
Ester 6 – 8:2

Gebed

Kollekte

Ps 75:1,2

Teks: Ester
7:3-4

Preek

Ps
75:3,4,5,6

Gebed

Ps 121:2-4

Seën

Preek: Ester 7:3-4

As ek vir
die bejaarde mense onder ons sou vra, of hulle, toe hulle jonk was, kon
voorspel het wat alles met hulle en met die wêreld om hulle heen sou gebeur
het, dan sal hulle natuurlik nee sê. Niemand van ons kan die toekoms voorspel
nie. En as ons terugkyk, dan is dit duidelik dat daar dikwels onverwagte dinge
in die wêreld gebeur. Klein dinge kan soms groot gevolge hê. Die loop van die
wêreldgeskiedenis is dikwels so verrassend.

Wie weet wat
ons nog alles in die 21e eeu te wagte staan?

Tema: Die Bewaarder van Israel waak oor sy
kinders

  • Hy skep onverwagte omstandighede

  • Hy maak Ester dapper

  • Hy wend sy volk se lot

  • Hy skep onverwagte omstandighede

    Klein
    oorsake het soms groot gevolge. Koning Ahasveros het ‘n slapelose nag gehad. Om
    te slaap lyk so gewoon. Maar ook ons slaap, of ons slapeloosheid, is in God se
    hande. Omdat die koning nie kon slaap nie, is daar uit die kronieke, waarin
    alle gebeurtenisse uit sy koninkryk opgeskrywe is, vir hom voorgelees. En dit
    wou dat dat daar juis daardie nag voorgelees word oor die goeie daad wat
    Mordegai vir die koning verrig het.

    En dat hy
    nooit daarvoor beloon is nie. Ahasveros se slapeloosheid daardie nag was die
    gevolg van die feit dat die HERE altyd wakker is, om in te gryp.

    Die HERE se
    naam word wel nie genoem nie, maar aan alle kante spreek die boek Ester van God
    se voorsienigheid. Hy het die hand van die kroniekvoorleser as’t ware na die
    regte bladsy laat blaai.

     

    Vroeg die
    volgende môre kom Haman by die paleis aan om vir die koning te sê dat hulle
    Mordegai moet ophang. Haman is baie bewus van sy mag.

    Hierdie keer
    kom hy nie eers met ‘n versoek na die koning nie. Hy kom net vir die koning
    inlig – sê. Hy het ook alreeds ‘n galg vir hom laat oprig.

    Haman is inderdaad
    baie bewus van sy invloed en mag. Hy dink, noudat hy die seëlring van die
    koning het, dat hy kan maak net wat hy wil.

    Ondertussen
    word die spanning opgevoer deur die skrywer. Die koning begin met ‘n ope vraag:
    wat moet gedoen word met die man aan wie die koning eer wil bewys? Haman meen
    toe, verblind deur sy hoogmoed, dat die koning hom op die oog het. Hy was dit
    mos wat die vorige dag uitgenooi is. Die enigste een om saam met die koning en
    die koningin ‘n maaltyd te geniet. En asof dit nog nie genoeg was nie. Hy is
    ook vandag uitgenooi om weer saam met die koning en koningin ‘n maaltyd te
    nuttig.

    Geen wonder
    hy dog die koning praat oor hom nie.

    En hy bedink
    dan die mees eervolle, vleiende plan moontlik.

  • laat hierdie man ‘n koninklike kleed aangetrek word;

  • laat hierdie man op die koninklike perd ry;

  • laat ‘n koninklike kroon vir hom opgesit word.

    Tussen
    hakies, die eksegese laat die moontlikheid ook oop dat dit nie die kroon van
    die koning was, wat op Haman se hoof geplaas moes word nie; maar dat hier
    verwys word na die perd van die koning, wat ook ‘n soort kroonagtige versiering
    op sy kop gehad het, waaraan dit dadelik sigbaar was dat dit die koning se perd
    was. En dan moet iemand nog voor hom uitroep: so word gedoen aan die man aan
    wie die koning eer wil bewys.

    En nie
    sommer net iemand nie, maar een van die koning se vorste, iemand soos Memugan,
    oor wie ons al eerder in Ester gelees het, een van die sewe vorste van Persië
    en Medië (Ester 1:14). In die Persiese ryk was dit naamlik die gewoonte dat die
    weldoeners van die koning in die adelstand verhef is.

    Verder is
    hulle beloon met goud en silver, ‘n landgoed of promosie.

    En dan volg
    die antiklimaks: Ester 6:10. Hier neem sake ‘n fatale wending vir Haman. Soos
    die spreekwoord sê: hoogmoed kom tot ‘n val.

    “Trotsheid
    kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val.” (Spreuke 16:18)

    Haman kry
    opdrag om die eerbewyse wat hy opgenoem het, nou aan Mordegai te betoon. Haman
    het naamlik niks geweet van wat daardie nag gebeur het nie. Hoe die koning nie
    kon slaap nie. Hoe ‘n onbekende stukkie uit die kroniek aan hom voorgelees is. En
    aan die ander kant, koning Ahasveros het ook nog nie geweet dat Haman vir
    Mordegai so gehaat het nie. Die koning het nog nie geweet dat Mordegai geweier
    het om te buig voor Haman nie. Wat ‘n sameloop van omstandighede!

     

    Na afloop
    van hierdie uiters vernederende opdrag vir Haman, lees ons dan dat Haman met
    bedekte hoof homself teruggehaas het na sy huis. Hy die Agagiet, die Jodehater,
    moes nou vir Mordegai die Jood die hoogste eer bewys. En dan volg iets
    opmerkliks. Hierdie keer praat sy vrou Seres en sy vriende hom nie moed in nie.
    Nee, hulle sien dit as ‘n voorteken. Dit is nou maar soos heidense mense, wat
    bygelowig is, redeneer. Al eerder in die boek het ons gesien dat Haman
    bygelowig is. Hy het die lot gewerp om die mees gunstige dag te vind waarop die
    Jode uitgeroei moes word (Ester 3:7).

    Hierdie
    sameloop van omstandighede was ook ‘n voorteken, het sy vrou geredeneer. As jy
    so begin val het voor Mordegai, wat ‘n Jood is, gaan jy heeltemal voor hom val.
    Fatalisties, dis soos die heidense denke is.

    Ja selfs die
    heidene het begin besef dat daar êrens ‘n hoër krag was wat Mordegai beskerm
    het, wat sy lot gewend het. Ja so het die HERE weer vir sy Naam opgekom, sy
    Naam wat sy eie volk gesmaad het. So het die HERE gesorg dat sy Naam weer
    gevrees sou word onder die heidene. Soos die profeet Esegiël, wat self ook as
    balling in Babel was, geprofeteer het oor die HERE: “So sal Ek My dan as groot
    en as heilig laat ken en Myself bekend maak voor die oë van baie nasies,; en
    hulle sal weet dat Ek die HERE is.” (Esegiël 38:23) En so het die eeue oue
    voorspelling, wat die HERE destyds deur die mond van Bileam gemaak het, nou
    begin waar word:

    “Toe hy
    Amalek sien, het hy sy spreuk aangehef en gesê: Amalek is die eersteling van
    die heidene, maar sy einde is ondergang.” (Numeri 23:20)

  • Hy maak Ester dapper

    Vervolgens lees
    ons hoe die koning se hofdienaars opdaag om Haman op te haal vir die tweede
    maaltyd wat Ester berei het. En inderdaad, soos ons laas week gesien het, nou
    het die omstandighede drasties verander. Al die onverwagte dinge wat tussen die
    eerste en tweede maaltyd plaasgevind het. Die HERE het oornag die lot van sy
    volk verander. In die eetsaal van die koninklike paleis van Susan was alles
    ondertussen in gereedheid gebring vir die tweede maaltyd. Goue tafel en
    rusbanke, goue eetgerei. Weer het die koningin twee hoë gaste uitgenooi. Maar
    Haman daag dan op vir die tweede maaltyd, nie meer as ‘n trotse man nie, maar
    gebreek.  En so het die HERE dit vir
    Ester maklik gemaak om haar geheim te onthul.

    Ons kan
    aanneem dat sy op die hoogte gebring is van die bisarre gebeure daardie dag. Dat
    haar oom, Mordegai, met koninklike klere aan, koninklike kroon en op ‘n
    koninklike perd deur die stad geëskorteer is, terwyl Haman voor hom uitgeloop
    het met die grootste lofbetuigings. Het sy al verstaan  wat aangaan, waarskynlik nie. Maar ongetwyfeld
    het dit haar moed gegee.

    Gemeente, ons
    het hier die hoogtepunt van die boek Ester bereik. Die klimaks, naamlik Ester
    se onthulling aan die koning, in ons teks. Die koning was in opgewekte
    stemming.  Hy herhaal weer sy joviale
    aanbod, dat Ester selfs die helfte van sy koninkryk mag vra.

    Ester het
    moed geskep uit dit wat daardie dag gebeur het. En selfs meer as dit. Want as
    Ester begin praat vanaf vers 3, hoor ons ‘n koningin wat nie net meer bang is
    nie, maar sy is kwaad, sy is verneder, sy is soos ‘n leeuin wie se kleintjies
    aangeval word. Sy onthul haar geheim, dat sy self ‘n Jodin was.

    Dis nie net
    ‘n afstandelike versoek om ‘n volk te spaar nie. Nee, dit het ook oor haarself
    gegaan. As ek genade in u oë gevind het, laat my lewe! En laat my volk lewe. As
    daar in vers 3 staan: “laat my lewe my geskenk word op my bede en my volk op my
    versoek”, pleit sy, behalwe vir haar eie lewe, ook vir die lewe van haar volk. Ester
    formuleer haar onthulling so dat sy ‘n wig begin dryf tussen die koning en
    Haman. Sy val nie hulle altwee aan nie, al het die koning net soveel skuld
    gehad aan die moordplan.

    Sy formuleer
    in die passiewe vorm, om die koning se betrokkenheid te minimaliseer. Ons is
    verkoop, ek en my volk, om verdelg, gedood en uitgeroei te word. Hierdie woorde
    herinner aan die dekreet wat Haman opgestel het en wat na alle uithoeke van die
    koninkryk gestuur is. En so lei sy die koning na die onvermydelike vraag: nou
    maar wie het dit gedoen?

    Wie is hy,
    en waar is hy? En toe kon Ester maar net met haar vinger na Haman wys. Dit is
    hierdie man, hierdie slegte Haman!

    Hoewel Haman
    as ‘n gebreekte man by die tweede maaltyd aangekom het, het hy dit nie vermoed
    nie. Hierdie mokerhou het hy nie ook nog verwag nie. Die familieband tussen die
    koningin en Mordegai was vir hom tot dan toe onbekend.

    Ja so het
    die HERE die lot van sy volk oornag verander. Soos waterstrome in die Suidland.
    Hy sorg dat Ester nou opstaan vir haar volk. Dat sy haar invloedryke posisie as
    koningin gebruik. Dat sy haar nie meer skaam nie.

    Dat sy
    sonder enige wyfeling uitkom vir die waarheid. Ons is verkoop.

    Ek en my
    volk. Om verdelg, gedood en uitgeroei te word. Was ons nog as slawe en slavinne
    verkoop, dan sou ek geswyg het, maar hierdie ramp sal onder die verliese van
    die koning sy weerga nie hê nie.

    Koningin
    Ester is ontstoke, en haar woede steek die koning ook aan.

    Wie is hy,
    waar is hy! skreeu die koning. Die koning het skoon in sy woede op daardie
    oomblik vergeet van die plan waartoe hy enkele dae gelede self toestemming
    verleen het.

    En dan loods
    Ester haar aanval, direk, sonder enige skroom. Dis hy koning, hierdie man,
    hierdie slegte Haman! Na die vernedering van daardie selfde oggend, was dit vir
    Haman die genadeslag. Hy het goed besef, soos die spreekwoord sê: “Die
    grimmigheid van die koning is soos boodskappers van die dood” (Spreuke 16:14).

    Meesterlik
    beskryf die outeur van die boek dan die verdere afloop van hierdie krisis. Die
    koning is so kwaad, hy loop weg, die tuin in. Alles begin nou tot hom
    deurdring. Hy begin besef in watter penarie hy homself laat bring het, deur sy
    hoogste minister Haman.

    En
    ondertussen val Haman knielende neer op die rusbank waarop Ester gesit het. Dit
    net nog tot verswaring van die onheil, wat die koning reeds oor hom besluit
    het. Wil jy die koningin ook nog geweld aandoen – die woord in die Hebreeuse
    teks kan hier as verkrag vertaal word. So het koning Ahasveros geïnsinueer toe
    hy uit die tuin in die paleis teruggekom het en Haman knielend aan Ester se
    voete vind. Ja die rolle is nou omgekeer. Almal buig nie nou meer voor Haman
    nie, maar Haman val knielend voor Ester, ‘n Jodin nota bene, se voete neer.

  • Hy wend sy volk se lot

    Hierdie keer
    het die korrupte heidense regstelsel gedraai in die voordeel van Ester en die
    Joodse volk. Dit in teenstelling tot wat daar in hoofstuk 3 gebeur het, toe
    Haman die volmag gekry het om die Jode uit te roei. Dit het toe sonder slag of
    stoot gebeur. Blitvinnig is die planne goedgekeur, Haman het die
    seëlring van die koning in sy besit gekry, briewe is gereedgemaak om na al die
    provinsies te stuur. Maar nou draai die koning se impulsiwiteit teen Haman. Nou
    is dit klaarpraat met hom.

    Ons lees dat
    hulle die gesig van Haman bedek het. Wat ons hieronder moet verstaan is dat
    iets soos ‘n lapsak oor sy kop getrek is. So is gemaak met mense wat tot die
    dood veroordeel is, en aan ‘n galg opgehang sou word.

    Die heidense
    regstelsel ken geen hofsake, advokate wat die beskuldigde moet verdedig of
    enigiets daarvan nie. Volgens die regverdige regstelsel wat die HERE vir sy
    volk gegee het, was daar ook ‘n bepaling dat ‘n persoon nie op dieselfde dag èn
    gevonnis èn gedood mag word nie.

    In die
    korrupte heidense regstelsel was die koning se woord wet. Hy het absolute
    alleenheerskappy gehad. En hierdie keer draai dit teen Haman.

    Koning
    Ahasveros se woede het eers bedaar, toe Haman opgehang is.

    Harbona, een
    van die hofdienaars, het die koning ingelig: Haman het reeds ‘n galf vir
    Mordegai opgerig. So het die koning, in sy impulsiwiteit, dadelik ‘n oplossing
    gevind. Hang Haman op aan sy eie galg!

    So is die
    rolle volledig omgekeer. Mordegai is voor die koning geroep.

    Ester het
    die koning uiteindelik vertel dat Mordegai haar oom is. En die koning gee sy
    seëlring, wat hy van Haman afgevat het, nou aan Mordegai.

    Die rolle
    inderdaad volledig omgekeer.

    So het die
    HERE die lot van sy volk in twee dae tyd volledig gewend.

    Soos waterstrome
    in die Suidland. Die mens wik, maar die Verbondsgod beskik. Klein oorsake het
    groot gevolge. Die bedoeling was dat Mordegai verhoog sou word aan ‘n galg van
    23 meter. Maar die Verbondsgod het beplan dat Mordegai op ‘n ander wyse verhoog
    sou word. En so is daarvoor gesorg dat Mordegai deur Haman verhoog is, maar nie
    aan ‘n galg nie.

    En Haman,
    die Agagiet, die Amalekiet, is met die banvloek getref. Daarvoor het God self
    gesorg.

    Deur die
    hele koninkryk het die Jode gesidder vir hierdie man se uitwissingsbevel. Nou
    is hierdie einste man sidderend en geblindoek na die galg gelei. “Wie ‘n kuil
    grawe, sal daarin val; en hy wat ‘n klip rol, dit sal na hom terugkom.”
    (Spreuke 26:27) Die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie (Ps 121:4). Dit
    het Haman vir eens en vir altyd geleer. Soos Moses al geprofeteer het: “Oorlog
    het die HERE teen Amalek van geslag tot geslag.” (Ex 17:16)

    Die HERE het
    ook vir Ester na hierdie punt toe gelei. Hierdie gebeure laat mens terugdink
    aan die lied van Debora: “So moet al u vyande, HERE, omkom! Maar die wat Hom
    liefhet, is soos die opgang van die son in sy krag” (Rigters 5:31)

    Het Ester en
    Mordegai die HERE liefgehad? Wel, die HERE het veral vir hulle liefgehad. En
    deur sy genade, deur sy leiding, het Hy die liefde vir Hom in hulle weer wakker
    gemaak. Self sou Ester nooit sover gekom het nie. Maar die HERE het haar in ‘n
    hoek gedryf. Haar volk is met uitwissing bedreig. En dit het vir haar duidelik
    geword dat sy daaraan nie sou ontsnap nie. Sy is tot die besef gebring: nou of
    nooit, al waag ek my lewe. En as Ester dan praat, as sy haar geheim aan die
    koning onthul, is dit asof die HERE haar die woorde in die mond lê. Net soos
    die HERE destyds ook met Bileam gedoen het. Ester spreek profetiese woorde. Ek
    dink dan veral aan haar laaste opmerking:

    “hierdie
    ramp sal onder die verliese van die koning sy weerga nie hê nie.”

    Want deur
    hierdie ramp sal ‘n respektabele volk in sy koninkryk uitgewis word. Deur
    hierdie ramp sal die koning ook sy eie vrou, die koningin, aan die dood moet
    afstaan. Ja die koning sal groot verliese ly. As ons dan ook nog in ag neem,
    dat die outeur van die boek Ester die gebeure so beskryf dat die leser besef
    dat hier eintlik die groot stryd tussen goed en kwaad op die spel is, die
    antitese, die stryd tussen die vroue en slangesaad, tussen God en satan, dan
    neem die verliese kosmiese proporsies aan.

    Ja hierdie
    gebeure is een skakel in die ketting van die heilsgeskiedenis wat na die koms
    van die Messias toe lei.

    Geliefde
    gemeente, hou hierdie besef vas ook vir u eie lewe. Die Bewaarder van Israel
    sluimer of slaap nie. Ons leer uit die Nuwe Testament dat hulle wat aan
    Christus behoort, sy kerk, die ware Israel is (Rom 11). Maar ook die Jode van
    vandag kan nog uit die boek Ester dit leer. God het hulle destyds verkies om ‘n
    lig vir alle volke te wees, juis deurdat hulle draer was van die belofte van
    die Messias. Ook vir Jode vandag is daar die uitnodiging en oproep, om terug te
    keer en weer lid te word van God se volk, van die ware Israel van die nuwe
    verbond. Ook in ons tyd spoed die wêreldgeskiedenis voort. Wie aan die begin
    van die nuwe eeu, die nuwe millenium, gehoop het dat ons ‘n tyd van groter
    wêreldvrede tegemoet gaan, is ondertussen, maar net 16 jaar later, al lelik
    teleurgestel.

    Maar ook in
    die 21e eeu is die Bewaarder van Israel wakker. Hy lei omstandighede, die
    ingewikkelde prosesse van die wêreldpolitiek, en van elke land se politiek. Hy
    staan bo dit alles. Hy lei dinge. Dinge wat vir ons klein en weinig belangrik
    voorkom, gebruik Hy om groot gevolge mee te bewerkstellig. En so wend Hy
    telkens weer die lot van sy kinders.

    Gemeente,
    hiermee wil ek afsluit, moenie dink dat jy groot of ryk of talryk of invloedryk
    moet wees, voordat jy iets kan beteken op aarde nie.

    Al voel ons
    as kerk klein en onaansienlik, wat saak maak is of ons die HERE aan ons kant
    het. Die Bewaarder van Israel.

    Klein
    oorsake het soms groot gevolge.

    Dien Hom
    trou in die hede, dan sal Hy vir die toekoms sorg.

     

    Amen.

     

     

     

     

     

     

     

Liturgie: 

(kyk in preek)