God almagtig laat Satan toe om sy skuif te maak – Haman se vernietigingsplan word aanvaar

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
(onbekend)
Date: 
2016-10-02
Text: 
Ester 3
Preek Inhoud: 

TORIA-MARANATA,
2 Oktober 2016 AD, 10:15

Votum

Seën

Ps 147:1,2

Wet

Ps 119:57,58

Gebed

Skriflesing: Ester 3

Ps 10:1-5

Teks: Ester 3

Preek

Ps 10:6-10

Gebed

Kollekte

Ps 147: 5-7

Seën

Preek: Ester
3

Tema: God
almagtig laat Satan toe om sy skuif te maak – Haman se vernietigingsplan word
aanvaar

In hoofstuk 3 het ons gelees dat Satan sy
skuif maak.

Hy het ‘n geraffineerde komplot uitgewerk om
van God se volk ontslae te raak. Maar let op, hoofstuk 3 begin met die woorde:
na hierdie dinge ...

In hoofstukke 1 en 2 het daar al heelwat
dinge gebeur.

God het al heelwat skuiwe gemaak, voordat
Satan nou sy eerste skuif begin maak. En dit is dat Haman se loopbaan aan die
hof ineens geweldig vooruitgaan. Hy word hoër gestel as al die ander vorste. Dit
was, na die koning, die hoogste posisie. Net soos die posisie wat Daniël gehad
het in die dae van Darius, Ahasveros se voorganger. Almal moes dus vir Haman
buig.

Maar, Mordegai het geweier. Was dit uit
geloofsoortuiging dat Mordegai geweier het om vir ‘n mens te buig? Nee, dit was
waarskynlik meer uit hardkoppigheid en trots, uit jaloesie.

Om vir ‘n gesagsdraer te buig, is nie iets
wat sonde is teen God se wet nie.

Later sal ons lees dat ook Ester voor koning
Ahasveros gebuig en neergeval het (Ester 8:3). Dit was normale Oosterse
hofprotokol. Dus, geloofsoortuiging was dit nie. Soos ons in die eerdere preke
in hierdie serie gesien het, was Mordegai hoog op in die regeringskringe, en
was hy ook iemand wat geprobeer het om bo uit te kom. Dat Haman hom nou
verbygesteek het, wou hy nie aanvaar nie. En moenie hierby vergeet, die eeue
oue haat wat daar tussen die Jode en die Amalekiete bestaan het nie.

Mordegai se weiering is aan Haman meegedeel,
en uiteraard was Haman met woede vervul.

 

Hier begin nou nog ‘n element boontoe kom. Aan
Haman is naamlik ook meegedeel dat Mordegai ‘n Jood was. En in vers 1 is reeds
genoem dat Haman ‘n Agagiet was. Die oplettende leser sal dadelik onraad
bespeur.

Agag was die koning van die Amalekiete. Elkeen
wat bietjie meer geweet het oor die verhouding tussen die Jode en die Amalekiete
in die verlede, sal weet hier broei iets. Die Amalekiete het destyds God se
volk, wat weerloos deur die woestyn gereis het na die uittog uit Egipte, in die
rug aangeval.

In Deuteronomium 25 sê Moses vir die volk: “Dink aan wat Amalek op die pad by julle uittog uit Egipte aan jou gedoen
het, hoe hy jou op die pad teëgekom het en by jou die agterhoede, al die
swakkes agter jou, verslaan het terwyl jy moeg en mat was, en hy God nie
gevrees het nie.” (Deut 25:17-18) Die HERE het daarom die banvloek oor Amalek
uitgespreek.

Exodus
17:14 ”Toe sê die HERE vir Moses: Skrywe dit as 'n aandenking in 'n boek, en
prent dit Josua in, dat Ek die gedagtenis van Amalek onder die hemel heeltemal
sal uitdelg.”

In
Deuteronomium 25 het Moses die volk weer hieraan herinner: “As dan die HERE jou
God vir jou rus gee van al jou vyande rondom, in die land wat die HERE jou God
jou as erfenis sal gee om dit in besit te neem, dan moet jy die gedagtenis van
Amalek onder die hemel uitdelg; vergeet dit nie.”

Sterk
woorde!

Soos
ons egter weet, het Israel dit later nie gedoen nie. Selfs koning Saul het dit
nie gedoen nie. Samuel het hom nog herinner aan God se opdrag uit die verlede: 1
Samuël 15:3 “Gaan nou en verslaan Amalek, en julle moet met die banvloek tref
alles wat hy het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe
bring man sowel as vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel.” Maar
pleks van die Amalekiete met die banvloek te tref, het Saul homself verryk met
die buit, nadat hy ’n veldslag teen hulle gewen het. Dit was die dag wat die
HERE toe vir Saul as koning afgeskryf het. “Het die HERE behae in brandoffers
en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om
gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van
ramme. Want wederstrewigheid is 'n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid
is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy
jou as koning verwerp.” (1 Sam 15:22-23)  En so het die stryd tussen
Amalek, en meer spesifiek, Agag, en Israel, voortgeduur. Agag was waarskynlik
nie ‘n eienaam nie, maar die titel wat alle konings van die Amalekiete gedra
het. Net soos in Egipte alle konings se titel die Farao was.

Haman
het dus afgestam van die koninklike geslag van die Amalekiete.

Net
die feit dat Haman ’n Agagiet was, was vir Mordegai genoeg rede om hom te haat.
En net die feit dat Mordegai ’n Jood was, was vir Haman genoeg rede om hom te
probeer uitskakel.

 

Maar,
soos ons in vers 6 lees, die mag het kop toe gegaan by Haman.

In
sy hoë posisie het hy dit te gering geag om Mordegai alleen uit te skakel.

Hy
het planne begin beraam om die hele volk van Mordegai, al die Jode wat in
Ahasveros se ryk was, te verdelg. Nou op daardie stadium kan mens gemaklik sê
dat die allergrootste meerderheid van God se volk hulle in Ahasveros se ryk van
127 provinsies bevind het. Die meerderheid Jode het nog in Babel en omstreke
gewoon, waarheen hulle in ballingskap weggevoer is. En ’n klein persentasie
daarvan het teruggekeer na Jerusalem, nadat Ahasveros se voorganger, Kores,
daartoe toestemming verleen het. Maar soos ons weet, Jerusalem en omstreke was
ook deel van Ahasveros se ryk. Behalwe vir Ahasveros se ryk, was daar verder
nog enkele oorblyfsels uit God se volk op ander plekke. Byvoorbeeld oorblyfsels
uit die ballingskap van die noordelike ryk van Israel, wat al veel eerder deur
die Assiriërs weggevoer is, en wat verstrooi is oor verskillende lande.

Sommiges
van hulle het opgeëindig in die Griekse ryk, Ahasveros se groot teenstander. Maar
buiten sulkes, sou Haman se plan die Joodse volk heeltemal en onherstelbaar
uitskakel. En vir Satan, wat soos ons weet agter hierdie plan van Haman gesit
het, vir Satan was daardie, onder die Grieke verstrooide Israeliete uit die
noordelike ryk, nie so interessant nie. Hulle was vir ‘n groot deel afvallige
en sinkretistiese Jode. Wat vir Satan saakgemaak het, was om die Joodse volk in
die hart te tref. Om veral daardie Jode uit te skakel wat nog erns gemaak het
met die diens aan die HERE. Vir Satan was dit veral daarom te doen om die ware,
die suiwere, daardie deel van God se volk wat trou gebly het aan die verbond,
wat teruggekeer het na Jerusalem, wat die mure van die stad weer gebou het, wat
die tempel herbou het, wat die tempeldiens weer herstel het, vir Satan was dit
daarom te doen om veral hulle te verdelg.

En
dus het hy gesorg dat daardie gedagte in Haman se kop posvat. Dit sou nie
genoeg wees om net vir Mordegai ‘n lessie te leer nie. Nee, die volk van
Mordegai, in die hele koninkryk van
Ahasveros, moes verdelg word.

As
dit sou kon gebeur, dan het Satan sy sin gekry. Satan het al verskeie pogings aangewend
om die opbouwerk in Jerusalem lam te lê.

Die stadhouer Tattenai het byvoorbeeld koning
Darius versoek het om die herbou van die tempel in Jerusalem te verbied. Gelukkig
het God dit toe so gelei dat Darius die besware van Tattenai van die hand gewys
het.

Hy het die edik van Kores (Esra 1:1) weer
bevestig, en selfs bevel gegee om die tempelbou finansieel te steun uit die
ryksbelastings.  Die
Satan was dus sonder sukses, hy kon die herbou van die tempel nie verhinder
nie.

Die
tempel is herbou, en dit tempeldiens is weer hervat.

Maar
met hierdie moordplan van Haman het daar nou ‘n uitgesoekte geleentheid gekom,
om in een keer God se volk en nogmaals sy tempel van die aarde af te verdelg,
hierdie keer hooplik vergoed.

 

In
vers 7 lees ons vervolgens dat hulle die lot gewerp het. Pur was die Persiese
woord vir die lot. Hierdie was ‘n heidense gewoonte.

As
daar besluit moes word wanneer iets sou gebeur, is die lot gewerp, om sodoende
die geskikte dag te vind. En so is al die dae van die jaar aan hierdie heidense
gewoonte onderwerp, om die mees geskikte dag te vind.

In
vers 8-9 vind ons uit en uit negatiewe propaganda van Haman teen die Jode. En
soos dit werk met sulke propaganda of haatspraak, daar is altyd ‘n kern van
waarheid in. So ook hier. Dit was ‘n feit dat die Jode se wette anders was as
die van enige ander volk. Die Joodse volk was naamlik buitengewoon geseënd met
die wette van Moses. Dit was nie Moses se wette nie, maar hy het hulle direk
van God ontvang. Geen ander volk het so ‘n regverdige wetboek en regstelsel
gehad nie. “watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en
verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?” –
Deuteronomium 4:8.

En
hierdie wetboek, die Torah, het inderdaad daarvoor gesorg dat die Jode se
lewenswyse – as dit goed was – totaal anders was as die van die ander volke. Dit
is die kern van waarheid. Maar Haman se haatspraak gaan verder. Hy insinueer
dat hierdie volk hulle nie aan koning Ahasveros se wette sou hou nie.  Kyk, Mordegai het dalk die koning se wet
oortree omdat hy nie vir Haman wou buig nie. Maar dit wil nie sê alle Jode was
so hardkoppig soos Mordegai nie. En dit wil nie sê dat alle ander wette van die
koning eweneens oortree is nie. Ook insinueer Haman dat die afgesonderde
posisie – afgesonderd nie soseer geografies nie, maar wel in lewenstyl – hy insinueer
dat dit ‘n gevaar is vir Ahasveros se ryk. Dat hierdie volk staatsgevaarlik sou
wees, waardeur, soos daar in vers 8 staan, “dit die koning nie pas om hulle te
laat begaan nie.” Haman doen homself hier voor as ‘n wyse raadgewer van die
koning. Maar hy is uiters slinks.

Hy
noem nie die naam van hierdie volk nie. As hy dit sou gedoen het, sou die
koning waarskynlik twee keer gedink het. Hy noem ook nie die feit dat hy,
Haman, besig is om ‘n persoonlike vendetta uit te veg nie. En dan, as laaste
troefkaart, bied Haman die koning ook ‘n groot bedrag geld aan – vers 9 –
tienduisend talente silwer. Hierdie was ‘n fabelagtige groot bedrag, as mens
besef dat een talent ongeveer 43kg silwer was. Tienduisend hiervan dus. Omkoopgeld,
waarvoor koning Ahasveros op daardie stadium baie vatbaar was, aangesien hy
kort gelede ‘n groot maar mislukte veldtog teen die Grieke onderneem het, wat
die skatkis amper leeg gelaat het.

En
so is God se volk vir omkoopgeld verkoop (Ester 7:4).

En
dan lees ons in ver 10 dat die koning sy seëlring aan Haman oorhandig.

Soos
ons Ahasveros inmiddels ken, is hy wispelturig van karakter, hy is impulsief. Hy
word maklik meegesleur deur geleentheidsraad.

En
so kry Haman, die seun van Hammedata, die Agagiet, die teëstander van die Jode,
ineens die koning se seëlring in sy hand. Hy was waarskynlik self ook oorbluf. Hy
het nie verwag dat dit so maklik sou gaan nie. Die koning het nie eers na die
naam van die volk gevra nie. Die koning het nie eers sy raadgewers ontbied,
soos hy in hoofstuk 1 wel gedoen het nie. Doen met daardie volk wat goed is in
jou oë (vers 11). Satan het geniepsug gelag.

Nou
is daar niks wat Haman meer kan keer nie, het hy gemeen.

Haman
het briewe geskrywe en gestuur, in naam van koning Ahasveros, en verseël met sy
seëlring waaroor hy nou beheer gehad het. Die briewe is gestuur na al 127
provinsies met instruksies om die Jode te verdelg: seun en grysaard,
kindertjies en vroue, op een dag. En om al die provinsies aan te moedig om
hierdie gruwelike daad uit te voer, mog hulle alle besittinge van die Jode na
die tyd vir hulleself toeëien. Waarskynlik was die Jode ook in daardie dae nie
arm nie.

Luther
het die Satan ‘n keer die aap van God genoem. Die Satan is heeltyd besig om God
na te aap. Eintlik sien mens dit ook hier. Destyds het God bevel gegee om die
Amalekiete met die banvloek te tref. Nou sorg Satan dat daar ‘n bevel uitgaan
om die Jode met die banvloek te tref. Dit lyk of die rolle nou omgedraai is. Dit
lyk of nie die kop van die slang, maar die kop van die vrou nou vermorsel gaan
word (Gen 3:15). Tog is Satan se banvloek minder radikaal, want, lees ons in
vers 13, die mense mog wel die buit plunder. En so is hierdie vernietigende wet
in Susan uitgevaardig, en die hardlopers het gesorg dat dit spoedig in elke
provinsie sou aankom.

Die
hoofstuk sluit af met ‘n ironiese opmerking. Terwyl die stad Susan in
verwarring was – reken maar dat daar baie Jode in Susan was – het die koning en
Haman sit en drink. Weer val die klem hier op ‘n koning wat lief is vir die
wyn. In hoofstuk 1 was die wyn ook al in die man en die wysheid in die kan. Hier
in hoofstuk 3 is dit weer die geval.

Dit
terwyl sy koninkryk in verwarring is.

Soos
in die ander hoofstukke van Ester, word God se Naam ook nie in hoofstuk 3
genoem nie. Dit lyk of Haman en koning Ahasveros kan maak en breek net wat
hulle wil. Haman se Sataniese plan is, waarskynlik tot sy eie verbasing, sonder
slag of stoot aangeneem. Alles dui oënskynlik op God se afwesigheid. En om te
bedink dat hierdie plan veel en veel verder gegaan het as die ballingskap. Hierdie
was nie net bedoel om die Jode in  ballingskap
weg te voer, te deporteer na ‘n verre land nie. Hierdie plan was bedoel om alle
Jode finaal te vernietig. Geen wonder dat die stad Susan in rep en roer was. Elke
Jood wat hiervan gehoor het, het sy hart vasgehou.

Het
gedink aan die woorde van Psalm 10: Waarom, o HERE, staan U so ver weg en hou U
verborge in tye van benoudheid?

In
sy trotsheid vervolg die goddelose die ellendige. Die goddelose juig oor die
begeerte van sy siel; hy verag die HERE.

Die
goddelose, met sy neus in die hoogte, sê: Hy ondersoek nie: daar is geen God
nie – dit is al sy gedagtes! Sy mond is vol van vloek en van bedrog en
verdrukking. Sy oë loer op die ongelukkige.

Hy
sê in sy hart: God vergeet dit; Hy verberg sy aangesig, vir ewig sien Hy dit
nie.

Elke
Jood sou gekerm het: Staan op, HERE! of God, hef u hand op! (Ps 10:12) Verbreek
die arm van die goddelose en slegte; besoek sy goddeloosheid totdat u Niks vind
nie! (Ps 10:15) Ja, in die vervolg van die boek Ester gaan ons sien dat hierdie
nood so groot was, dat dit selfs Mordegai weer tot God laat roep het. Die
geskiedenis wat in Ester beskryf word, klink asof God verborge is. Asof Hy nie
in Babel bestaan nie.

Selfs
sy verbondskinders – Mordegai en Ester – het name gehad wat aan die afgode eer
bewys het. Tog, soos wat die geskiedenis vorder, hoofstuk na hoofstuk, word die
HERE se aanwesigheid, ja selfs sy almag, ook in die stad Babel, al hoe
duideliker.

In die vorige hoofstuk het Mordegai vir Ester
verbied om te vertel dat sy ‘n Jodin was. Dit teken hulle nie as beginselvaste
gelowiges nie.

Maar nou sien ons hoe die HERE hulle al hoe
meer in ‘n hoek dryf, dat Hy die omstandighede so lei dat hulle wel geforseer sal
wees om daarvoor uit te kom. So doen die HERE dit vandag ook nog met sy
kinders.

As hulle nie die moed het om vir hulle geloof
uit te kom nie, dan lei Hy ons in beproewings, om te sien of ons die versoeking
sal weerstaan, en daarbo sal uitrys, of dat ons finaal ingee. Ons lees in
Jakobus 1: “Ag dit louter
vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val” (Jak 1:2). “Salig
is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy
die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom
liefhet.” (Jak 1:12)

Ja God het vir Mordegai ook liefgehad, en Hy het
hom met beproewinge besoek.God sy dank vir sy genade dat Mordegai en Ester deur hierdie groot
beproewing wat op hulle pad geplaas is, nie beswyk het nie, maar uiteindelik
opgestaan het en daarvoor uitgekom het dat hulle Jode was.

God sy dank dat Hy – en dit sal ons in die
hoofstukke wat volg sien – dat Hy sy volk gespaar het, toe hulle bestaan hier
op die randjie van die afgrond gewankel het. Soos ons in Spreuke 19:21 kan
lees: “Baie planne is in ‘n man se hart, maar die raad van die HERE, dié sal
bestaan.” Of, Spreuke 16:33, veral in die lig van die Pur, die lot: “In die
skoot word die lot gewerp, maar elke beslissing daarvan kom van die HERE.”

Die
HERE se raad was om hierdie volkie te red, nie omdat hulle dit verdien het nie.
Maar omdat Hy sy groot belofte aan Abraham onthou het, dat deur hulle alle
geslagte van die aarde geseën sou word (Gen 12:3).

Sy
belofte aangaande die Messias. Soos reeds genoem, dit lyk asof God afwesig is
in hierdie hoofstuk. Asof Haman, Ahasveros, ja die Satan hier kan maak net wat
hulle wil. Maar moenie vergeet, voordat Satan hier in hoofstuk 3 sy skuif sou
maak, was God alreeds aktief.

Dit
het ons in die eerste twee hoofstukke gelees.

Daar
was alreeds vir ongeveer vyf jaar ‘n Joodse koningin aan bewind.

En
was dit nie vir ‘n Jood, wat ‘n sameswering teen koning Ahasveros oopgevlek het
nie, was Ahasveros teen hierdie tyd al dood gewees.

God
almagtig is nie onkant gevang nie.

Dis
soos met ‘n skaakspel.

Soms
gee God vir Satan die ruimte om sy skuif te maak, net om sy almag en oorwinning
daarna nog groter te laat skitter.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)