PRETORIA-MARANATA, 25 September 2016 AD,
17:30
Votum
Seën
Ps 50:1,2
Gebed
Skriflesing:
Esegiël 47:1-12
Ps 81:1
Skriflesing:
Johannes 7:37-44
Ps 81:11,12
Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 26
Preek
Sb 2:1,2
Gebed
Geloofsbelydenis
van Nicea
Sb 2:3
Kollekte
Ps 50:8,9,11
Seën
Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 26
Water is die
vloeistof waarmee mense hulleself was. Sonder water kan ’n mens nie skoon word
nie. Gereeld stort of bad, met ’n sekere reëlmaat jou liggaam met water reinig
is noodsaaklik. Niemand kan daarsonder nie.
Daarom is dit
’n uitstekende teken om die betekenis van die doop mee aan te dui.
Tema: Die
lewende water van die doop.
1) Christus se
bloed was voldoende
2) Christus
skenk sy Gees as lewende water
(hierdie twee
punte na aanleiding van die uitdrukking bloed en Gees van Christus wat
telkens in Sondag 26 ter sprake kom)
1) Christus se
bloed was voldoende
Dis nie sonder
rede dat die doop in die Nuwe Testament ingestel is nie.
Soos mens met
water gereinig word, so reinig Christus jou. Waarmee reinig Christus jou? Die
Kategismus sê: met sy bloed en Gees.
Want Christus
het sy bloed gedurende sy offer aan die kruis vir ons vergiet.
Dit wil sê: In ons plek het Hy die doodstraf gekry. Meer
nog: in ons plek het Hy die ewige gestraf gedra. In ons plek is Hy toe deur God
verlaat, daardie 3 ure aan die kruis toe dit so donker geword het – bewys van
God se afwesigheid. Mens sou jouself kon afvra:
Maar dit was
tog maar net 3 ure, toe Hy daar aan die kruis deur God verlaat is?
Dit was tog
nie ewig nie? Hoe werk dit dan?
Laat ons aan
die een kant besef dat tyd vir God iets anders is as vir ons.
Een dag kan
vir Hom duisend jaar wees, en duisend jaar een dag.
Aan die ander
kant bely ons in Sondag 6, dat Christus, wat ook God is, in staat was om ons
ewige straf te dra en te betaal, en dit in ‘n afsienbare tyd.
In ’n kwessie
van 3 ure aan die kruis. Dit kon Hy, omdat Hy nie slegs mens was nie, maar ook
God. Laat ons veral versigtig wees om nie te gou God binne ons denkpatrone, ons
wetmatighede, te probeer inpas nie.
God gaan ver
bo ons uit. Ook ver bo ons tydsbegrip uit.
Feit is wel,
en dit is die goeie nuus wat die Bybel meedeel, dat deur sy kruisstraf daar vir
ons vryheid van sonde gekom het, en ons ontsnap het aan die ewige dood.
Daar word hier
gesê dat ons gewas word deur die bloed van Christus.
Op eerste
gehoor klink dit snaaks. Wie was homself nou met bloed?
Soms hoor mens
nog dat mense in melk bad, maar nog nooit dat iemand in bloed gebad het nie. Dit
is dan ook simboliese taal.
As jy dit goed
wil begryp, moet mens die hele simboliek rondom bloed ken,
soos ons
daaroor in die OT lees. God het daar sy volk Israel geleer, dat Hy die sonde
nie deur die vingers sien nie. Juis omdat Hy barmhartig en regverdig is, wil Hy
nie dat misdade ongestraf kan plaasvind nie.
Wie ’n moord
pleeg, mag nie vryuit gaan nie. En om ’n moord te pleeg, om vir ’n oomblik by
hierdie voorbeeld te bly, is in God se oë al gou begaan.
Want God sien
die hart aan. God sien wie in sy hart sy naaste haat, en dit is vir Hom nie
minder erg as doodslag nie. Daar moet ’n regverdige oordeel gevel word, en dan
moet die wettige straf ook uitgevoer word.
Daar moet
bloed vloei. Tog het God, in sy genade, grasie verleen.
Nie omdat Hy
inkonsekwent is nie, maar omdat Hy genadig is.
Hy het
voorsiening getref dat die straf in die toekoms sal plaasvind,
en dat die
skuld wel deeglik betaal sal word, sodat mense vryspraak kan kry. Onvoorstelbaar
hoe goed God is.
Maar die HERE
wou dat ook die lewe van sy volk werklik hierdeur sou verander. Dit is nie net ’n mededeling nie – die Here
betaal wel vir jou, en jy kan verder aangaan met jou lewe en nie van Hom
vergeet nie ...
In die OT het
Hy sy volk onophoudelik herinner aan die werklike stand van sake. Dat mense
sondig en skuldig staan teenoor hulle Skepper, en dat hulle elke dag opnuut
versoening nodig gehad het. Dit is die rede hoekom die HERE die hele simboliek
rondom bloed ingestel het in die Ou Testament.
Die tempel, en
al die offers wat daar gebring is. ’n Simboliek wat baie groot indruk gemaak
het. Simboliese handelinge wat die mense elke keer weer diep laat nadink het,
elke keer as hulle dit gesien het.
Mens sal dit
jouself bietjie moet probeer indink, hoe dit gelyk het.
Die tabernakel
en die tempel, hoe hulle gelyk het.
Probeer
bietjie in u gedagtes ’n beeld te vorm, bv. van die tempel in Jerusalem, en hoe
alles vroeër daar gewerk het.
Daagliks het
etlike honderde mense, Israeliete, na die tempel gekom,
Priesters het
gereed gestaan om die mense te assisteer. Die mense het verskillende offerdiere
saamgebring: Klein diere soos duiwe, maar ook groot diere soos skape en beeste.
En hierdie diere is dan op die brandofferaltaar geslag. Die priester moes die
dier doodmaak, bv. ’n bees.
Daarna moes
die bloed eers uit die dier vloei. Probeer bietjie indink.
Hoeveel bloed
daar daagliks by die tempel gevloei het. Op feesdae was dit etlike duisende
liters. Per dag is dus ook etlike honderde diere geslag en het hulle bloed
gevloei.
Hulle het daar
by die tempel ’n hele stelsel van kanale gebou. Die bloed het vanaf die altaar
gevloei in ’n kanaal, wat die bloed
weggelei het vanaf die tempel, wat hoog op ’n berg gestaan het, die berg Sion,
in die rigting van die dal Kidron. Jerusalem en die tempel was op ’n berg
gebou, en die vallei daaronder was die Kidron vallei. So is al die bloed dus
met kanale weggelei in die rigting van die dal Kidron. Daagliks was daar dus –
letterlik – ’n bloedrivier, ’n stroom van bloed wat onophoudelik vanuit die
tempel weggevloei het.
Wie dit gesien
het, MOES wel onder die indruk kom. Moes homself ongetwyfeld afvra:
Hoekom is dit
alles nodig? Hoekom so baie diere afslag?
Hoekom so baie
bloed?
En presies dit
was God se bedoeling. Dat mense hulle DIT sou afvra.
Dat sy volk
sou besef, dat die skuld op een of ander manier betaal moes word. En, soos ons
kan lees in Psalm 50, dat dit uiteindelik sinloos is dat die bloed van al
hierdie duisende diere vloei, sinloos in die sin dat jy die skuld van mense tog
nie met dierebloed kan betaal nie.
Die
diereoffers was geen betaling nie, dit was simboliek. Daardeur wou God sy volk
net elke keer herinner: Besef dat jy UIT GENADE leef, Besef dat daar nog iemand moet kom, Wat wel
regtig sal betaal, met egte bloed.
Ek gebruik
soms op katkesasie die volgende voorbeeld om dit te verduidelik: ’n
Laerskoolseuntjie gaan na die fietswinkel, want hy wil ’n nuwe fiets hê. Maar
hy het nie geld nie, net ’n sak vol albasters. Maar met albasters kan mens nie
’n nuwe fiets koop nie. Sê nou maar die man by die fietswinkel kry medelye met
hom, en gee tog vir hom ’n fiets, dan sal daar later wel iemand – bv. sy pa –
moet kom om die fiets met egte geld te betaal.
En so het God
se volk vryspraak van hulle skuld gekry. Vergewing van hulle oortredinge. Hulle
het vryheid gekry, Hulle het ’n pragtige land van God gekry om in te woon. Hulle
het alles gekry, maar hulle kon nie daarvoor betaal nie. God het medelye met
hulle gehad. Maar daar moes nog iemand kom om te betaal. En die offerkultus by
die tempel het hierdie besef by die mense wakker gehou.
Tot sover iets
oor die simboliek rondom die bloed in die OT. Toe Jesus die doodstraf kry aan
die kruis, toe het Hy dus met sy lewe vir ons sondes betaal, ook vir die sondes
van alle gelowiges in die OT, wat vir eeue lank hulle diere na die tempel
gebring het. Die Kategismus beskryf die doodstraf van Jesus in woorde wat
herinner aan die simboliek uit die OT: Daar word gepraat oor die BLOED van
Christus. Sy doodstraf aan die kruis word ’n OFFER genoem. Sy bloed het, toe Hy
aan die kruis gehang het – GEVLOEI.
Hierdie woorde
herinner mens aan die OT.
Aan hoe die
bloedstroom van afgeslagte diere onafgebroke gevloei het vanaf die tempel. Daarmee
vergeleke was die bloed van Christus maar min.
Ek weet nie
presies hoeveel bloed ’n gemiddelde persoon het nie,
miskien so 5
tot 10 liter bloed, as ek goed onthou uit biologie.
Dit was niks
vergeleke met al die kiloliters dierebloed wat by die tempel gevloei het nie. Tog
was die bloed van Christus VOLDOENDE.
Want hier het
bloed gevloei, nie van ’n dier nie. Hier is die lewe geneem van ’n mens. En nie
slegs van ’n mens nie. Van ’n mens wat ook God was.
Wat in staat
was om te betaal vir die skuld van die wêreld.
(Tema: Die
lewende water van die doop.
1) Christus se
bloed was voldoende)
2) Christus
skenk sy Gees as lewende water
Die
bloedstroom wat vanaf die tempel gestroom het in die OT – daarna het ons in die
eerste punt gekyk, en die simboliek agter al hierdie bloed.
Maar ons het
vanaand uit Esegiël ook gelees van ’n ANDER stroom wat uit die tempel gekom
het. Esegiël het ’n visioen gesien, maar nie hierdie keer dat daar ’n stroom
met bloed vanuit die tempel die vlakte in gestroom het nie, maar water! LEWENDE
water, daarmee word bedoel:
Vars water, wat
stroom, wat skoon en suiwer is. Nie stilstaande water wat troebel is nie. Maar
vars water.
’n Pragtige
visioen, oor hoe daar vanuit die tempel lewe ontstaan! Ons het gelees hoe almal
pragtige bome langs die rivier gegroei het. Ons het gelees hoe hierdie river,
deur die vlakte tot in die see gestroom het. Ons het gelees dat die stroom so
kragtig was, hierdie rivier van helder vars water, dat dit die see verander
het. Die sout seewater het vars geword. En dan praat ons nie net van ’n gewone
see nie, maar van die buitengewoon sout Dooie See!
Wie al ooit by
die Dooie See was, weet dat die water van hierdie see buitengewoon sout is. So
sout dat jy daarin kan dryf sonder om te sink.
Lewe in die
waters van die Dooie See is daarom so goed as afwesig, geen visse oorleef in
die Dooie See nie. Maar in die visioen sien Esegiël hoe die water van hierdie
see vars word, en dat daar ’n menigte visse ingekom het.
Daar is
natuurlik in Palestina ook varswatermere, dink maar aan die meer van Galilea, waarin
’n magdom vis was in die Bybelse tyd.
In hierdie
visioen sien Esegiël dus hoe daar VANUIT DIE TEMPEL nuwe lewe ontstaan. Die
lewewekkende water wat uit die tempel stroom doen wonders in die woestynland,
en in die Dooie See.
Nou wonder u
miskien: Wat is die betekenis van
hierdie visioen?
Is hierdie
visioen ooit vervul? Hierdie visioen het inderdaad in vervulling gekom. Esegiël
het dit self nie meer meegemaak nie, maar in Christus het die visioen werklik
tot vervulling gekom. Deur die sterwe van Christus het hierdie onafgebroke
stinkende rivier van bloed uit die tempel opgedroog.
Toe Hy gesterf
het, toe sy bloed gevloei het, was dit die laaste. Toe is daar betaal. Toe het
die tempel sy tyd gehad. Die voorhangsel het geskeur, omdat God nou nie meer in
afsondering van sy volk hoef te gewoon het nie.
Die offers kon
gestaak word. Ongelukkig het die Jode bietjie agter die feite aangeloop. Hulle
het gewoon aangegaan.
Maar toe hulle
– na 40 jare – nog nie opgehou het met hul geoffer nie,
hoewel die
evangelie in die hele stad ondertussen bekend was, hoewel die Heilige Gees in Jerusalem
uitgestort was, toe het God self ’n einde daaraan gemaak. Hy het die Romeine
gestuur, in 70 nC, wat die tempel verwoes het.
Sedertien het
die bloedstroom opgehou. Finaal.
Hierdie
visioen het dus in vervulling gekom in Jesus Christus. Vanuit Hom ontspring
daar ’n bron van lewende water. Ons het dit gelees in Johannes 7.
Baie
demonstratief het ons Heiland by die tempel gaan staan, Dit was toe die
hoogtepunt van die Loofhuttefees in Jerusalem, En Hy het uitgeroep:
AS IEMAND DORS
IS, LAAT HY NA MY KOM EN DRINK!
Wie na My kom
om te drink, sal self ook ’n bron van lewende water word!
Met hierdie
woorde het Jesus almal daarop gewys dat die visioen van Esegiël in Hom vervul
is.
En dan voeg
die evangelis Johannes – heel verhelderend – nog daaraan toe:
‘Dit het Jesus
gesê van die Gees, wat hulle, wat tot geloof in Hom gekom het, sou ontvang’. Want
die Gees was toe nog nie uitgestort nie.
Wanneer het
hierdie visioen van Esegiël dus eg werklikheid geword?
Op
Pinksterdag, toe Jesus vanuit die hemel sy Gees uitgestort het.
Die lewende
water, die vars water, wat Esegiël uit die tempel sien kom het,
hierdie water
is ’n beeld van die Heilige Gees. Vars water, wat oorvloedig stroom, en orals
waar dit kom, verwek dit lewe in die woestyn.
So is die
Heilige Gees oorvloedig uitgestort, en orals waar die Gees kom, verwek Hy nuwe
lewe!
Kom ons keer
weer terug na vraag en antwoord 70 van die Kategismus.
Daar staan dat
ons met die bloed en die Gees van Christus gewas word.
Ons weet
ondertussen wat dit beteken om met die bloed van Christus gewas te word. Ons
het uitgebreid stilgestaan by die simboliek rondom bloed in die OT. Dat, net
soos water die vuiligheid van jou liggaam afwas,
die bloed, die
sterwe van Jesus, die vuil van sonde en skuld verwyder uit jou lewe. Dit weet
ons. Maar daar staan nog meer.
Daar staan ook
dat ons met die Gees van Christus
gewas word.
En eintlik het
ons ook al gekyk wat dit beteken. Ons het naamlik gesien dat die lewende water
uit die visioen van Esegiël ’n beeld is
vir die Gees.
Orals waar die
Gees kom, net soos die geval is met suiwer vars water, daar ontstaan nuwe lewe.
Selfs die sout Dooie See word vars. So kry elkeen, wat die Gees ontvang, ’n
nuwe lewe! En dit is die geweldige van die doop. Die doop in die naam van die
Here Jesus.
Dit is ’n
doop, nie net met water nie, maar ook met die Gees.
Soos bekend,
het Johannes, voordat Jesus gekom het, ook gedoop. Nie vir niks word hy
Johannes die Doper genoem nie. En hoe het Johannes dit ook alweer gesê? Ek doop
julle wel met water, maar na my kom daar iemand, wat nie net met water sal doop
nie, maar met die Heilige Gees ...!
Wat word
presies hiermee bedoel? Mens kan dit die beste soos volg verduidelik: Gedoop
word met water, dit wil sê, dat die water die vuiligheid van jou afwas. Teken
dus dat jou sondes vergewe is. En dit is waar die doop van Johannes opgehou
het. Meer kon hy die mens nie gee nie.
Soos ons almal
weet, as jy jou een keer gewas het, bly jy nie skoon nie.
Dit is maar ’n
tydelike oplossing. Elke dag moet jy weer gewas word.
En dit is die
meerwaarde van die Messias en sy doop.
Hy en sy
volgelinge doop nie net met water nie, maar ook met die Gees.
Wie die Gees
ontvang, word nie net vir een keer gereinig nie. As die Heilige Gees in jou
lewe kom, dan word jy van binne uit gereinig. Dan is dit, soos Jesus met die
volgende beeld verduidelik: ’n lewende bron, wat uit jou binneste ontspring. ’n
Dammetjie met stilstaande water word op ’n stadium troebel, as daar nie nuwe
water inkom nie. Maar ’n lewende bron hou homself skoon en suiwer. Verstaan u
die geweldige betekenis van die doop?
Jesus het nie
vir niks beveel in Mattheüs 28:
Doop die mense in die naam van die Vader,
en die Seun, en die HEILIGE GEES.
Gedoop in die
naam van die Vader wil sê dat jy ’n kind van Hom mag wees.
Gedoop in die
naam van die Seun beteken dat Hy sy bloed ook beskikbaar stel om jou skuld te
betaal. En gedoop in die naam van die Heilige Gees wil sê dat Hy in jou kom
woon, sodat jy self ’n lewende bron word, d.w.s. ’n bron wat homself skoon hou.
Nie stilstaande water wat na ’n rukkie troebel raak nie. Maar daar borrel
steeds nuwe water uit, wat jou vars en gesond hou. Doopwater is dus vars water,
lewende water. ’n Mens word net een keer gedoop. Maar dit is soos ’n fontein,
waaruit aanhoudend nuwe skoon vars water borrel. Want met die doop ontvang jy
die Heilige Gees.
Gedoop in die
Naam van die Heilige Gees. Gedoop met die Heilige Gees.
En met die
Heilige Gees in jou lewe – sorg HY daarvoor dat jy rein bly, heilig, toegewyd.
Hy dryf jou
elke dag na Christus toe, sodat jy elke dag gewas word, as jy in die naam van
Jesus Christus vergewing van sondes vra, dag na dag.
As jy dit doen
met ’n beroep op sy offer, met verwysing na sy bloed wat aan die kruis gevloei
het. So bly jy skoon, en hoop die sonde nie meer en meer soos vuiligheid in jou
lewe op nie. Jy word ook al hoe skoner, namate die Heilige Gees jou lewe al hoe
meer toewy om God te dien.
So word jou
bestaan toegewy aan sy koninkryk.
Amen.
(kyk in preek)