Christus is die brood van die lewe in eintlike sin

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2016-09-25
Text: 
Johannes 6 : 22-59
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 25 September 2016 AD,
10:15 (Biddag vir gewas en arbeid)

Votum: Ps
121:1

Seën

Ps 121:2-4

Wet

Ps 119:8

Gebed

Skriflesing:
Johannes 6:1-21

Ps
104:1,8,9,10

Teks:
Johannes 6:22-59

Preek

Sb 17:1-6

Gebed

Kollekte

Ps
104:17,18,20,21

Preek: Johannes 6:22-59

Dit is
vandag Biddag vir gewas en arbeid. Ons smeek God vandag nederig of Hy ons lewe
wil seën. Of sy seën wil rus op die landerye, as die groeiseisoen nader. Biddag
vir gewas en arbeid word tradisioneel in die lente gehou.

Natuurlik
sou mens ook ‘n ander tydstip kon kies, byvoorbeeld die 1e Januarie. Tog is
hierdie ou gewoonte nie so verkeerd nie. Want hoewel die maatskappy hoe langer
hoe meer geoutomatiseerd raak, en hoewel die ekonomie al hoe minder van die landbou
afhanklik raak, tog is ons nog steeds in die mees basiese dinge, waar so weinig
oor nagedink word, nog steeds vir 100% van God afhanklik. Reën en son, groei en
droogte. Die vooruitgang van ons besighede. Dat die beurs goeie syfers toon. Dat
daar geen siektes of plae is. Siektes of plae, nie net wat die gewasse op die
land betref nie, nie net wat die vee betref nie, maar dink ook aan siektes en
plae onder die mense. Malaria, vigs, tuberkulose, griep, wat so baie van
Suid-Afrika se werknemers lamlê, so baie amptenare, so baie verpleegsters, so
baie onderysers, noem maar op. Ons het self die toekoms nie in ons hande nie,
ook nie die toekoms van die seisoen wat op koms is nie.

En daarom is
Biddag nog steeds op sy plek. Om God te bid vir dinge wat nie vanselfsprekend
is nie. En dit is alle dinge.

Van brood,
rys, aartappels, macaroni, groente, klere, vervoer, onderdak, lenings by die
bank, liggaamlike en psigiese gesondheid om elke dag op te kan staan, ja tot
geestelike veerkrag om in hierdie lewe perspektief te behou, ja tot die
broodnodige daaglikse geloof in die vergewing van sondes, oorwinning op die
sonde en die duiwel, die hoop op die saligheid, die koms van God se koninkryk. Biddag
vir gewas en arbeid. Biddag vir jou daaglikse bestaan. Vir alles wat ons nodig
het.

Alles, soos
ons Here Jesus Christus vir ons daarop sig gegee het, ook in die Skrifgedeelte
wat ons gelees het.

Tema: Christus is die brood van die lewe in
eintlike sin

Wie geen
brood het, kan nie lewe nie. Brood, of pap, of rys, of watter stapelvoedsel ook
al. Ons het die geskiedenis gelees van die spysiging van die vyfduisend. Jesus
was in staat om ‘n skare van minimaal vyfduisend van brood te voorsien. ‘n
Restourant wat vir so baie mense in een keer ‘n maaltyd moet opdis, sal maande
se voorbereiding nodig hê.

Christus het
op een dag daarvoor gesorg, en alles het ordelik verloop.

Wat die
mense se verwondering veral gewek het, was dat Hy gesorg het dat daar genoeg
was. Hoe Hy dit gedoen het, kon niemand verklaar nie – behalwe vir die feit dat
Hy die maaltyd met gebed begin het. Dis al wat Hy gedoen het. Almal was
buitengewoon verbaas.

En almal het
waarskynlik dadelik teruggedink aan wat God in die verlede gedoen het. Dit het
wel gelyk asof Jesus daardie beroemde wonder uit die woestyn herhaal het. Naamlik:
manna uit die hemel!

Hierdie
wonder het deur alle geslagte die Joodse volk bly verbaas.

Dat God
soiets vir sy volk in die woestyn gedoen het!

Uit die
Bybel is egter ook duidelik dat die voorouers van die Jode, hulle wat aanwesig
was in die woestyn, nie die mees standvastige gelowiges was nie.

Hulle was
nogal kleingelowig. Die manna was daarom ‘n teken van God, sodat hulle onder
die indruk sou kom van sy almag. Sodat hulle op Hom alleen kon leer vertrou. Maar
die woestyngeskiedenis het geleer dat dit nie maklik was om net op God alleen
te vertrou nie.

Ons teks vir
vandag begin op die volgende dag, die dag na die wonderbare spysiging. Daar het
ondertussen een nag verbygegaan.

Die skare
het Jesus die vorige aand nie per skip na die oorkant sien vertrek nie. Die
dissipels wel. Tog kon die skare vir die Messias nêrens aan hierdie kant van
die meer vind nie. Dus het baie van hulle ook maar met ‘n skip na die oorkant
gevaar, om te gaan kyk of Jesus nie tog daar was nie.

Hulle was
naamlik nie getuie van wat die afgelope nag gebeur het nie.

Dat Jesus
nog ‘n wonder verrig het, ‘n wonder om die geloof van sy dissipels in Hom te
versterk. Naamlik dat Hy oor die water na hulle toe aangeloop gekom het. Toe
die skare dus vir Jesus wel aan die oorkant van die meer vind, was hulle tereg
verbaas. Want, dit het hulle geweet, nadat die laaste skip vertrek het, waarop
die dissipels gesit het, sou daar daardie nag nie nog skepe na die oorkant
vertrek het nie. Gedurende die nag het die bootverkeer op die meer stilgelê. Dus
tereg dat hulle verbaas was, en hulle het vir Jesus gevra hoe Hy hier gekom
het. Want hulle het Hom in die sinagoge van Kapernaüm teruggevind.

 

Jesus het
hulle vraag nie direk beantwoord nie, maar het die vraag wel gebruik as ‘n
aanleiding om verder te gaan met sy onderrig.

Sy prediking
na aanleiding van die wonder van die vorige dag, dat Hy almal gevoed het. Christus
wou naamlik hulle motiewe aan die lig bring. Hy het hulle baie direk
aangespreek: Julle soek nie vir My omdat julle tekens gesien het nie, maar
omdat julle van die brode, geëet en versadig geword het (vers 26). Julle soek
My omdat julle iets by My kan kry.

En
inderdaad, julle kan iets by My kry,
dit het julle gister ervaar.

Maar, en dan
gaan Christus voort met sy onderrig aan hulle, julle moenie te gou tevrede wees
nie! Julle moenie net na My toe kom om aardse voedsel te kry nie. Want Ek het
nog veel meer! Die gewone voedsel wat Ek julle gee, is maar net ‘n voorproefie
van dit waaroor dit werklik gaan.

Want,
gemeente, Christus is die Brood van die lewe in eintlike sin.

Eers het
Jesus gewone brood gegee – die dag vantevore toe almal genoeg kon eet. Niemand
kan met ‘n hongerige maag na die Evangelie luister nie.

Dit is nog
steeds ‘n beginsel, ook in die sendingswerk vandag.

Naas die
verkondiging van die Evangelie is daar ook barmhartigheidswerk, leniging van
die nood, of dit nou hongersnood is, of siekte, wat ook al.

Maar, en dit
is die keersyde, op hierdie vlak mag jy nie vashaak nie.

Want dan is
jy eers onbarmhartig.

Christus wou
in sy gesprek naamlik uitkom by die Brood van die lewe.

En daarom
gaan Hy verder. Julle moet nie net by My gewone brood en vis kom haal nie. Ek
het vir julle voedsel, wat bly tot in die ewige lewe.

Die skare
het toe aan Jesus gevra, omdat hulle nou goed besef het dat Jesus ‘n Rabbi was,
iemand wat God se Woord gepreek het: wat moet ons doen, om die werke van God te
volbring (vers 28)? Hiermee word bedoel: Wat is die werke wat ons moet doen,
wat God van ons verlang? In sy antwoord hierop roep Jesus die skare dan in die
eerste plek op tot geloof.

Dit is die
werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het (vers 29).

Maar hierdie
oproep tot geloof het skare maar baie teleurstellend beantwoord. Dit blyk dat
hulle dit nie wil aanvaar, dat Hy van God kom, en dat Hy namens God spreek nie.
Watter teken doen U – roep hulle – sodat ons kan sien en in U glo? Watter
wonderwerk doen U? Bewys vir ons, dat U ‘n profeet van God is! Ons vaders het
manna in die woestyn geëet, soos geskrywe is: Brood uit die hemel het Hy aan
hulle gegee om te eet.

Gemeente,
die feit dat hulle dit durf sê het, nog maar net een dag na die wonderbare
spysiging, dit moes vir Christus baie pynlik gewees het.

Nog nie eers
‘n dag later nie. Wou hulle dan glad nie glo nie? Wat was hier aan die hand? Gemeente
dit, naamlik, ‘n baie algemeen menslike probleem: eers sien, en dan glo. Sien
ons niks, dan wil ons ook nie glo nie.

Watter teken
doen U, sodat ons kan sien en in U glo?

Dus, hulle
wou weer, ook op hierdie nuwe dag, ‘n wonderteken sien.

Hulle was op
soek na meer. Gister het geblyk dat hulle iets by Jesus kon kry – oorvloed aan
brood en vis. En daarom het hulle Jesus aan die manna uit die woestyn herinner.
Want, die manna in die woestyn het mos elke dag weer teruggekom. Dus, Rabbi,
dit is ook wat ons van U verwag. Net soos in die woestyn: elke dag. Hulle eis:
Ons soek vandag ook weer brood!

Gemeente,
dit is bewonderenswaardig hoe geduldig en vol ontferming Jesus die skare
hanteer het. Elke normale mens sou al lankal kwaad geraak het. Tog gryp Jesus
die geleentheid aan om te getuig, te getuig van die lewende brood. Te getuig van Hom deur wie Hy gestuur is.

Voorwaar,
voorwaar, Ek sê vir julle, nie Moses het u die brood uit die hemel gegee nie,
maar my Vader gee u die ware brood uit die hemel. Jesus lewer hier kritiek op
die Joodse tradisie, wat van hulle voorvader Moses ‘n afgod gemaak het. Jesus
sit Moses weer op sy plek, hier op aarde, as dienskneg van God. Slegs die HERE
troon in die hemel, en Hy het aan sy
volk die manna gegee. En Jesus gaan nog verder.     

Watter sin
het dit as Ek julle dieselfde manna sou gee, elke dag?

Julle vaders
het, ongehoorsaam soos hulle was, die manna in die woestyn geëet, maar hulle
het almal gesterf in die woestyn. Julle het meer as manna nodig! En dan sê
Jesus, heel bewus in die teenwoordige tyd:

My Vader gee julle die ware brood uit die hemel. En
dit is die brood van God, wat uit die hemel neerdaal, en aan die wêreld die
lewe gee.

Maar
gemeente, nog steeds was Jesus en die skare nie op dieselfde golflengte nie. Hulle
het nog steeds gemeen dat Jesus besig was om te praat oor die wonder van
gister. Nog steeds het hulle gedink dat Jesus daaroor praat. En hulle het gesê:
Here, gee altyd vir ons hierdie brood (vers 34).

Nog steeds
vra hulle vir ‘n herhaling van gister se wonder.

En dan raak
Jesus nog duideliker. Nee, geliefdes, Ek
is die brood van die lewe. As jy in My glo, sal jy nooit weer honger kry nie. Glo
julle dit?

Maar Ek sê:
julle glo nie, al het julle My gesien! Jesus speel hier in op hulle
verwagtingspatroon. Eers sien, en dan glo.

Nou dan, sê
Christus, julle sien My tog, hoekom glo julle dan nie in My nie?

Julle sien
mos die werk, die wonderwerke wat die Vader deur My doen.

Ek het uit
die hemel neergedaal, Ek kom van die Vader, net soos die manna destyds van die
Vader neergedaal het. Ek het van die Vader gekom, om te red wat verlore is. Vir
elkeen wat Hy aan My toevertrou het, sal Ek stry, sodat hy nie verlore gaan
nie, maar opgewek word op die jongste dag.

Want dit is
die wil van my Vader, dat elkeen, wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige
lewe mag hê (vers 40).

Met hierdie
woorde was die skare egter nie onverdeeld tevrede nie.

Johannes
vermeld dat die Jode begin het om te murmureer.

Met die Jode
bedoel hy hier nie alle Jode nie, maar spesifiek die Joodse leiers, die
Fariseërs en Skrifgeleerdes byvoorbeeld.

Hulle was
van mening dat hierdie Man nogal oneerbiedig praat. Sê Hy oor Homself dat Hy
uit die hemel neergedaal het? Maar is dit nie Jesus, die seun van Josef nie? Ons
ken mos sy pa en ma?

Hoe durf Hy
dan te sê dat Hy uit die hemel neergedaal het? Die Joodse leiers was van mening
dat hierdie Man veels te gewaagde uitsprake gehad het.

Hulle eis
van Hom ‘n legitimasiebewys. Ja ook hulle, die Joodse leiers, het, net soos die
skare, van Hom ‘n wonderteken geëis.  Ons
Heiland het hierop ingegaan. In die diskussie proe mens die intense geestelike
stryd.

Die antitese
tussen goed en kwaad, gehoorsaamheid en verharding, kom hier aan die lig. Jesus
stuur die gesprek bewus na die kern van die saak.

Die kern van
die saak was die vraag: wie hoort nou eintlik by die Vader in die hemel? Wie
doen die wil van God?

En dan toon
Christus aan dat daar geen enkele verskil is tussen wat Hy sê en die Woord van
die hemelse Vader nie.

Die Vader en
Hy sit honderd persent op dieselfde golflengte. Hy is naamlik deur die Vader
self afgevaardig. Daarom moet die Joodse leiers dit goed onder oë sien: Wie God
se Gesalfde verwerp, verwerp God self!

Of andersom:
wie sê dat Hy God se wil doen, sal outomaties by Christus uitkom. En Jesus
verwys dan na die profeet Jesaja, na sy bekende uitspraak: En hulle sal almal
deur God geleer wees (vers 45).

Dus, as
iemand dit van die Vader geleer het, dan sal hy na My toe kom.

Want Ek is
deur die Vader gestuur. Niemand het die Vader al gesien nie.

Slegs Hy wat
van God af kom, het die Vader gesien. Daarom is Ek die brood van die lewe. Julle
vaders het in die woestyn manna geëet, en tog het hulle gesterwe. Maar wie My
ontvang, as die lewende brood, sal in ewigheid lewe. Die brood wat Ek sal gee,
is my vlees, vir die lewe van die wêreld.

Gemeente,
hierdie laaste is ‘n uitspraak wat ons goed kan verstaan.

Sy vlees vir
die wêreld.

Ons dink dan
direk aan sy liggaam aan die kruis, waar Hy sy lewe vir ons geoffer het. Maar
vir die skare was dit toe nog nie duidelik nie. Hulle het daarom onderling met
mekaar gestry: Hoe kan Hy ons sy vlees gee om te eet? (vers 52) Wat beteken
dit? Wat bedoel Hy?

Hy wat my
vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe ...

Hierdie
uitsprake van Jesus het die mense vreemd laat opkyk.

Wat sou Hy tog
daarmee bedoel?

Dit klink
wel asof Hy Homself identifiseer met die offerlam by die tempel.

Die lam wat
met pasga geslag is. Wat sou Hy daarmee bedoel?

Sou Hy
miskien die skuld wou uitdelg, die skuld wat deur dierebloed nie weggeneem kan
word nie?

Gemeente,
die Heiland het die skare bewus nuuskierig gemaak.

Daar voor
hulle oë het die teken van God gestaan in lewende lywe.

Die skare
mog Hom sien, en dan glo.

Later sou
Jesus vir Thomas sê: salig is hulle wat My nie gesien het nie, en tog glo!

Maar wat
blyk toe: was die skare tevrede met hierdie teken? Nee, nie onverdeeld nie. Veral
die Joodse leiers het hulle vererg vir hierdie teken.

Dit was
duidelik dat Jesus Homself nie op sleeptou laat neem het nie.

Op hulle
bestelling sou Hy nie nog ‘n keer dieselfde wonder van gister herhaal nie. Want
vir iemand wat nie wil glo nie, sal daar nooit genoeg tekens gedoen kan word
nie. Daardie wonder van gister was slegs bedoel as ‘n voorproefie om by die
egte boodskap uit te kom. Dat Hy die brood van die lewe in eintlike sin is! Dat
dit uiteindelik nie gaan oor tydelike brood nie, maar oor Homself. Buite Jesus,
wat daar sprekend namens God voor hulle gestaan het, het die Jode nie nog ‘n
teken gekry nie. Hy was die teken!

Vir hulle
het slegs hierdie teken oorgebly: Die Woord van God, dit is Christus. En geen
teken is duideliker nie. Maar hierdie teken vra wel geloof.

Geloof in
die Messias, wat God se Woord kom bring het.

Hy was, soos
die evangelis in hoofstuk 1 geskryf het, die Woord van God in eie persoon.

 

Dit is ook
die tema vir vandag, biddag vir gewas en arbeid.

Christus is
die brood van die lewe in eintlike sin, in eie persoon.

Dit het
begin by gewone brood.

Christus het
daarvoor gesorg dat daar meer as genoeg gewone brood was.

En in sy
voetspore mag ons as Christene dieselfde doen.

Byvoorbeeld
op die sendingsveld, en na minder bevoorregtes.

Hulpverlening,
in die mees konkrete sin van die woord.

Die verskaf
van voedsel, van hulpmiddels om te kan lewe. Maar daarby bly dit nie. Want
hoeveel kos en geld jy ook het, jy sterf wel vroeër of later.

Super ryk
mense kan dalk vir hulleself voedsel versamel om vir 500 jaar lank te oorleef. Maar
dit wil nog nie sê dat hulle 500 jaar oud sal word nie.

Dit is
Christus wat ons die brood van die lewe in eintlike sin bied.

Wie in Hom
glo, ontvang daardie eintlike brood, om ewig en gelukkig in sy koninkryk te kan
lewe.

Die
Messiaanse toekoms wat ons te wagte staan.

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)