Preek oor
Psalm 84:6
Bellville, 22
November 2015
Liturgie:
Votum en
seëngroet
Ps 84:1,2
Lesing van God
se wet
Ps 25:2,5
Gebed
L. Psalm 84
Ps 84:6
Verkondiging
oor Psalm 84:6
Ps 84:3,4
Gebed
Kollekte
Ps 1:1,4
Seën
Gebruik u ‘n
GPS, brs en srs?
Dis baie
maklik, so ‘n gids in jou motor wat presies die pad weet, wat waarsku vir
ompaaie, vir spoedbe-perkings. ‘n GPS help ‘n mens om voorspoedig jou
bestemming te bereik.
Self gebruik
ek nie so ‘n ding nie. Ek is seker maar te eiewys daarvoor. Ek wil self die pad
soek en vind. En wat as daar ‘n padverlegging is wat jou GPS nie van weet nie?
Maar ek
gebruik wel daardie GPS wat Psalm 84 van praat. Vir my reis na God se
Koninkryk. Omdat ek op hier-die pad my bestemming nooit sal bereik sonder dit
nie. Ek kan nie daar-sonder nie. En ek hoop u kan dit ook nie.
Praat Psalm 84
van ‘n GPS?! Ja, op ‘n manier. In die teks wat ek vir vanoggend gekies het. In
vs 6 staan daar dat ons mense kan gelukwens in
wie se hart die gebaande weë is. Dis ‘n effens vreemde uitdrukking. Nuwere
vertalings omskryf dit maar bietjie met eie woorde. Soos die NAB, wat praat van
mense wat graag na u tempel gaan. Of
die Nuwe Direkte Vertaling wat sê:
mense in wie se gedagte die pelgrimstogte
leef. Die Engelse Standard Version vertaal wel weer baie mooi: mense “...in whose heart are the highways to Zion”.
Want in die oorspronklike Hebreeuse teks staan daar tog regtig dat mense die gebaande weë in hul hart kan hê.
Mens sou daarom
vandag kon sê: ons hart is die GPS wat bepaal watter koers ons in ons lewe
kies. Ons hart kan ons saamneem na aardse goed: baie geld en mag; na ‘n baie groot
moderne huis en ‘n duur motor. Na die pret in
die tente van die goddeloses waar Psalm 84 ook van praat.
Maar gelowiges
se hart is op God ingestel. In hul hart is die weë geprogrammeer wat hulle na
God toe lei en in God se Koninkryk laat uit kom. The highway to Zion. Hulle
hart is die GPS wat hulle na die nuwe Jerusalem bring.
Herken u dit
by uself? Het u, het jy ook daardie GPS? En
laat jy jou daardeur lei? Luister u ook na die stem van u hart?
xxxxxxxxxxxxxx
Die mense wat
as eerstes Psalm 84 gesing het, het dus al so ‘n soort GPS gehad: ‘n hart wat
die pad na die HERE se stad en die HERE se huis gewys het: Jerusalem.
Waarskynlik
hoor ons hier ‘n priester sing wat daarna verlang om in die HERE se huis die
offerdiens te mag verrig. U weet dalk: daar was soveel priesters dat hulle maar
af en toe in die tempel kon diensdoen. U weet mos van Johannes die Doper se Pa,
die priester Sagarias, wat ook ‘n keer deur die lot aangewys was om in die
heiligdom te mag ingaan en daar die reukoffer te bring. Daarna het hy weer huis
toe gegaan.
Terloops: as
in hierdie Psalm in vs 10 gebid word of die HERE na sy “gesalfde” wil omsien, bedoel die digter waarskynlik ook homself.
Verskeie verklaarders meen dat die sanger die koning bedoel. Die NAB vertaal dit daarom ook so. Die Nuwe Direkte
Vertaling noem dit in ‘n voetnota. En Totius het so berym: “O God, ons heil en teëweer, sien tog op u
gesalfde neer, skenk hulp en heil aan Sions koning”. Maar dis baie meer aanneemlik
dat die digter aan homself, ‘n gesalfde priester, gedink het.
Hierdie
priester reis nie met teësin Jerusalem toe nie. Hy soek nie na verskonings om
by die huis te kan bly omdat hy nie lus het om weer sy werk te moet gaan doen
nie. Die liefste wou hy altyd in die Godstad, in die HERE se huis wees en daar
die HERE dien. Al sou hy maar net in die voorhof, op die buiteplein moet bly.
Net by die drumpel van die huis van sy God staan. Ja, hy is jaloers op die voëltjies
wat hul nessies teen die dakrant van die HERE se huis gemaak het. Daar hul
kleintjies kry. Hulle is altyd naby die HERE se altare, hy moet net-nou terug
huis toe. Kyk vs 5: Hoe gelukkig is die
wat woon in die HERE se huis. Hulle kan Hom daar gedurig prys.
Want Hy het
geweet (kyk ook gou saam met my in vs 3)dat God “die lewende God” is. De HERE is geen fantasie van goedgelowige
mensies nie. Hy is realiteit. Soos sy naam sê: JAHWE, Ek is daar! Hy is ook nie
van ons afhanklik nie, ons hoef Hom nie aan die lewe probeer hou nie. Hy het
lewe in Homself. Ons is van Hóm afhanklik, want ons het geen lewe in onsself
nie. En die lewe wat Hy ons gegee het, het ons verspeel, en verspeel ons nog
aanhoudend, deur ons eiewysheid en selfgesentreerd-heid, ons liefdeloosheid na
Hom toe. Ons verdien die dood vir altyd.
Maar in die
HERE se tempel het God diere laat doodmaak in die mens se plek, om aan die mens
die lewe te kan teruggee. As ‘n padwyser
na ‘n Priester wat eendag Homself sou offer en laat doodmaak, om so die lewe vir
ons terug te verdien. Hy sou die weg baan om weer vir ewig met die lewende God
te kan saamleef.
Nou ja,
hierdie gebaande weg na die lewe, die highway na eendag ‘n ewige tuiste by God,
was in die hart van die priestersanger van Psalm 84. Daarop was sy GPS
ingestel.
Hoe ‘s dit by
u, brs en srs? Soek u ook die lewe by die HERE? Trek u hart/jou hart ook so na
Hom?
xxxxxxxxxxxxx
Ja, ons GPS moet
nog steeds daarop ingestel wees. Want in wese het ons nog steeds dieselfde
reisdoel as ons broers en susters vroeër. Ek weet, ons gaan nie meer na die
stad in die land Israël om daar ‘n tempel van klip en hout te soek nie. Want
die groot Priester het inmiddels gekom en sy versoenende offer gebring. Hy het
vir ons die weg gebaan om by die lewende God te kan terugkom.
En van dat die
Heilige Gees uitgestort is, het God orals kom woon waar mense glo in die offer
van sy Seun, Jesus Christus. Ons as gemeente word in die Bybel nou die HERE se
tempel genoem. Van lewende klippe. Ja, elkeen van ons het ‘n tempel vir God
geword. Ons is almal priester en priesteresse.
Nogtans bly
ons reisigers, pelgrims, met dieselfde reisdoel soos in Psalm 84, brs en srs.
Want die tempel vroeër was vir ons broers en susters toe ook nie die eindbestemming
nie. Dit was eintlik maar net die tussenstasie waar hulle nuwe petrol, kos en
drinkgoed ens. kom haal het, om uiteindelik by ‘n beter, hemelse Jerusalem uit
te kom. Hebreërs 11 beskryf dit baie mooi: hulle was inderwaarheid op reis na
die stad met fondamente waarvan God die argitek en bouer is.
Na daardie
stad is ons steeds op pad. Daarom kan die apostel Paulus aan die een kant skryf
dat ons self ‘n tempel van God geword het, maar aan die ander kant tog ook dat
ons, solank as wat ons nog in hierdie aardse liggaam woon, nog nie by die HERE
woon nie. Ons woon nog by Hom uit, sê die Ou Vertaling. Eers eendag,
na hierdie lewe, sal ons by Hom mag inwoon.
Al het ons al
baie verder gekom as die eerste sangers van Psalm 84, het ons die
eindbestemming dus nog altyd nie bereik nie. Ons hoef die pad soontoe nie meer te baan nie, dit het Christus klaar
gedoen. Maar ons sal daardie pad wel moet aanhou stap. Omdat ook ons hart soos
‘n GPS ons langs daardie gebaande weë
uiteindelik in na die nuwe Jerusalem wil bring.
xxxxxxxxxxxx
En ons sal
mooi na die aanwysings van hierdie GPS moet
bly luister. Want die pad soontoe is wel ‘n gebaande pad, ja, ‘n highway. Nogtans
kan ‘n mens sommer die koers kwytraak. Aangesien daar baie sypaaie is met die
verleiding om daardie pad, wat aantrekliker lyk, te kies. Daar is mense, selfs
voorgangers in die kerk, wat jou ander paaie aanbeveel. Daar is daardie “tente van die goddeloses” wat Psalm 84
van praat. En daar die goddeloses is glad nie onaangename mense om wie jy die
liefste maar ‘n groot draai loop nie. Hulle kan juis baie innemende en
beskaafde mense wees, intelligent en belangstellend. En hul partytjies is
lekker!
Maar hulle is
wel mense wat sonder God leef: Goddeloos. Wat daarom in hul lewe ‘n ander
koers aanhou as jy. En wat jou sommer kan verlei om op hulle paaie saam te
gaan. Voor jy jouself kom kry het jy dan jou GPS afgesit. Of anders
geprogrammeer.
En dis des te
aantrekliker wanneer die higway na Sion nie in alle opsigte ‘n maklike pad
blyk te wees nie. Soos ook die priester en sy medereisigers op pad Jerusalem
toe agtergekom het. Onthou u nog, vs 7? Hulle moes ook deur droë laagtes trek. Dis effens onseker
hoe om hierdie vers presies te moet vertaal- daar is ook wel met ‘Tranendal’ vertaal; of: “Dal van moerbeibome”, maar vanweë die
vervolg van hierdie vers is dit in elk geval wel duidelik dat daar min water in
daardie dal was. En as ‘n mens dan met ‘n hele klompie medereisigers daar
verby kom, en met diere wat moet drink, terwyl die son brand en daar min
skaduwee is..... En as jy juis daar deur rowers oorval word..... Jy’s geneig om
tou op te gooi.
Dan benodig ‘n
mens selfs meer as net ‘n GPS wat reg ingestel is en jou aanmoedig om gewoon
aan te gaan: jy ‘s op die regte weg! Dan is daar ook krag nodig om aan te gaan, ten spyte van die probleme op die pad.
Maar waar kry
‘n mens dit?
Wel, dit staan
in die eerste gedeelte van ons teksvers, vs 6. ‘n Mens het dit nie van jouself
nie. Ons moet dit by die HERE kry. Ons krag om aan te gaan, om vol te hou, om
beproewings te oorwin, moet van Hom af kom.
Maar as ons
dit ook by Hom soek en van Hom verwag, sal Hy die goeie regtigwaar nie onthou
aan die wat in opregtheid wandel nie. Moet maar kyk in vs 12. Dan is die HERE
God ‘n son en ‘n skild. ‘n Son wat lig gee as die donker oor jou toesak, en
warmte as die koue jou laat bewe. En ‘n skild wat die rowers en ander gevare wat
jou bedreig weghou.
Die priester
van Psalm 84 en die mense saam met hom het dit ervaar. Hulle het die krag
ontvang om nie in moedverloor se vlakte te gaan sit nie. Hulle het nie eerder ompaaie
gekies met die risiko dat hulle sou verdwaal nie. Nee, daardie droë vallei het
vir hulle soos ‘n oase geword. Hulle het die krag ontvang om self putte te
grawe en bronne aan te boor om tog drinkwater te kry. Ek kyk wat het gebeur: toe sak die voorjaarsreën ook nog oor
hulle uit, as ‘n seëning van hul goeie God. Skielik was daar meer as genoeg
water. En van krag tot krag het hulle verder getrek. Totdat hulle hul
bestemming bereik het en in Sion voor God verskyn het.
Ek is seker
daar is hier vanoggend ook heelparty broers en susters wat dit ook uit eie
ondervinding weet dat die HERE ongekende krag kan gee op oomblikke dat jy nie
meer weet hoe om vorentoe nie. En die wat nog nie eintlik ondervinding daarvan
het, sal dit eendag agterkom. As jy maar koers hou volgens die gebaande weë in
jou hart; as jy maar aanhou luister na die stem van jou gelowige hart en dus
jou sterkte by God soek, sal daar altyd ‘n pad vorentoe wees.
xxxxxxxxxxxx
Daarom is mense
wat hulle krag by die HERE soek en op Hom vertrou, mense in wie se hart die
gebaande weë is, gelukkig sê Psalm 84: “Jy
‘s gelukkig! Jy ‘s benydens-waardig”.
Ja, want die
wat sy hart op die deur Christus gebaande weë ingestel het, bevind hom nie in
‘n doodloopstraat soos talle ande mense nie, maar kan ewig ver vorentoe. Jy ‘s
op pad na die lewe.
En daar is mos
nog ‘n ekstra rede ook waarom ons benydenswaardig is? Want dit is mos nie ons
eie prestasie dat ons oor die regte GPS beskik nie? En dat ons geleer het om
nie op ons eie vernuf en sterkte staat te maak nie, maar alles van die HERE te
verwag? Dit is die werk van God se eie heilige Gees in ons lewe. En dit is
weer die gevolg van God se verkiesing van ons. Hý het hierdie GPS in ons hart
ingebou. En Hy korrigeer, of reset dit desnoods elke keer weer geduldig as ons
nie die regte knoppies ge druk het nie. Dit is alles genade, die woord wat in vs 12 van Psalm 84 ook gebruik word.
Ervaar u u
lewensreis nog wel so, my broer en suster? Met nog eweveel oortuiging en
vreugde as die dag wat ú belydenis gedoen het? Of het dit algaande al hoe
vanselfsprekender geword? As die laaste die geval is, luister u, of jy, dan altemit
te min nog na die stem van u deur die heilige Gees geprogrammeerde hart? Het
daar allerhande afleidende stemme vir in plek gekom?
Maar is u, is
jy dan nog wel op die regte pad, in die regte rigting?
xxxxxxxxxxxxx
Psalm 84 is ‘n
aansporing om op die regte pad aan te gaan, gemeente. Want niemand van ons het klaar
gearriveer en sy bestemming bereik nie. Die Heilige Gees plaas ons nie in ‘n
taxi wat ons, sonder dat ons self nog iets hoef te doen, na sy hemelse
Jerusalem toe ry nie. Dan sou ons mos nie ‘n GPS nodig gehad het nie. Nee, die
heilige Gees het ons sélf op pad gestuur, op die deur Christus gebaande higway,
en vra van ons om nou in geloof die GPS wat Hy in ons hart geplaas het te volg.
En om deur beproewings en verleidings heen vol te hou, na die stem van ons
hart te bly luister. Ons krag by die HERE te aanhou soek.
God het gelukkig
op die pad na sy hemelse stad ook orals rusplekke, hele rusdae, ingerig waar
ons ons GPS kan laat kontroleer en so ver nodig laat reset,waar ons nuwe krag
ontvang vir die pad vorentoe... Ek bedoel natuurlik ons eredienste met die prediking,
‘n Nagmaal soos volgende week weer. Dis ook die plekke waar ons mekaar as
reisigers ontmoet, mekaar help om koers te hou, mekaar onderskraag waar dit
moeilik is.
Dis die plekke
waar ons saam bid, soos ook die sangers van Psalm 84: “HERE, God van die hemelse leërmagte, hoor na ons gebed, luister tog. O
God, ons skild, sien om na uw gesalfdes, na ons wat vandag u priester en
priesteresse is”.
En as u, as jy,
die regte GPS gekry het, en dit op ‘n gereëlde basis ook deur die Heilige Gees
laat nasien, sal al daardie belangrike rusplekke óók daarin geprogrammeer staan.
Dan hou jy ook koers na ons weeklikse rusdae en eredienste. En jy verlang van
die een Sondag alweer na die ander. Om van krag tot krag te kan voortgaan. Dan
is jy bly dat ons elke Sondag selfs 2x bymekaar kan kom om van die HERE krag te
ontvang vir die pad vorentoe. Want ‘n dag in die HERE se voorhowe is beter as
duisend op enige ander plek. Jy het dit nodig om eendag vir altyd voor God te
kan verskyn in die hemelse Sion.
xxxxxxxxxxx
Ons teksvers
van vanoggend vra van ons almal ‘n hartondersoek, brs en srs. Is ons almal se
harte reg gepro-grammeer?
En as dit so
is, hoe dink u brs en srs: wens ons onsself en mekaar dan wel genoeg geluk as
mense wie se sterkte in God lê en in wie se hart die gebaande weë is? Moet ons
nie nog baie meer dankbaar en verwonderd wees oor die GPS
wat ons ontvang het nie? En nie te eiewys wees om dit te gebruik nie? Amen.
(kyk in preek)