Die Skrif openbaar aan ons God Drieënig, sodat ons die Vader, Seun en Heilige Gees mag ken, vertrou en aanbid

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2015-03-15
Text: 
Nederlandse Geloofsbel 8 en 9
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
15 Maart 2015 AD, 17:30

Voorsang: Psalm 150:1-3

Votum

Seën

Sb 50:1

Gebed

Skriflesing: Genesis 1:26-31;
Genesis 3:22-24; Mattheüs 3:13-17; 1 Johannes 5:1-13

Ps 34:4

Teks: Nederlandse
Geloofsbelydenis artikels 8-9

Preek

Tussensang: Sb 50:2,4,5,6,7

Preek (vervolg)

Sb 24:5,6,7

Gebed

Geloofsbelydenis: Athanasius

Ps 61:2

Kollekte

Ps 61:4,6

Seën

Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis art. 8-9

Dit gaan vandag oor ‘n onderwerp
wat ons nie kan verstaan nie.

God se Drieëenheid.

Die feit dat ons dit nie verstaan
nie, is egter nog nie ‘n rede om daaraan te twyfel nie.

Daar is so baie dinge in die lewe
wat ons nie verstaan nie.

Ek onthou my oupa het ‘n keer vir
my vertel dat niemand eintlik weet wat elektrisiteit presies is nie.

Tog weet ons dat dit bestaan, en
ons gebruik dit ook om ons lewe makliker te maak.

Net so, die feit dat ons die Drieëenheid
van God nie verstaan nie, verhinder nie dat ons daarin kan glo, en die
drieënige God se seën in ons lewe te ervaar nie.

Hoewel ons dit nie verstaan nie,
het ons wel betroubare kennis daarvan.

Dit is waaroor artikels 2-7 van
die NGB gehandel het.

Die feit dat die Bybel betroubare
kennis van Godsweë gee.

Die Bybel is betroubaar.

En noudat dit vasstaan, begin die
NGB seker met die belangrikste, naamlik: wie is God? Wat sê Hy oor Homself in
die Bybel?

Tema: Die
Skrif openbaar aan ons God Drieënig, sodat ons die Vader, Seun en Heilige Gees
mag ken, vertrou en aanbid

-         
Al in die Ou Testament, maar
veral in die Nuwe Testament

-         
Ketterye in verlede en hede

-         
Enkele sleuteltekste uit die Nuwe
Testament

-         
Al in die Ou Testament, maar
veral in die Nuwe Testament

Die NGB vat saam: Hy is ‘n enige
God, een enige Wese.

In wie drie Persone is: die
Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Van ewigheid af is Hy ‘n eenheid.
Maar ook van ewigheid af is Hy onderskeie in drie Persone. Hulle was nooit
sonder mekaar nie.

Elkeen het sy eie
selfstandigheid; eie eienskappe. Terselfdertyd is Hulle ‘n eenheid.

Nogtans is hierdie Persone, wat
so onderskeie is, nie onderling vermeng nie.

Byvoorbeeld: die Vader en die
Gees het nie mens geword nie, slegs die Seun.

Jy kan nie sê: God die Vader het
aan die kruis vir ons sondes gesterf nie.

Jy kan ook nie sê: die Heilige
Gees het na die hemel opgevaar nie.

Nee, die Heilige Gees is van die
hemel af uitgestort, deur die Seun nadat die Seun opgevaar het.

So praat die Bybel duidelik oor
een God, wat tog drie onderskeie Persone is, wat elkeen sy eie karakter en sy
eie aktiwiteite het.

Tog, sê die NGB, is daar nie ‘n
eerste of laaste nie.

Al drie is een in waarheid, mag,
goedheid en barmhartigheid.

Wel openbaar die Skrif ‘n
gesagsverhouding tussen die drie.

Die Seun is aan die Vader
onderworpe.

En die Gees gaan van die Vader en
die Seun uit.

Vader, Seun en Gees, dit is die
gesagsvolgorde wat uit die Skrif tot ons kom.

Maar verskil in gesag beteken nog
nie verskil in wese, of verskil in belangrikheid nie.

Een wat meer gesag het, is nie
belangriker as een wat minder gesag het nie.

Dit is nie in die hemel so nie.

En dit is ook nie op die aarde so
nie.

 

Die NGB gee ‘n vervolgens kort
beskrywing van aldrie:

Die Vader is die oorsaak,
oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge.

Die Seun is die Woord, die
Wysheid en die Beeld van die Vader.

Dink aan wat Jesus gesê het, toe
Hy op aarde was: wie My gesien het, het die Vader gesien.

Die Heilige Gees is die ewige
Krag en Mag wat van die Vader en die Seun uitgaan.

 

Art. 9 vervolg dan deur ‘n aantal
Skrifgedeeltes te noem wat getuig oor God as drie-enig.

Art. 9 is nie volledig nie, daar
is veel meer tekste in die Bybel wat getuig van God se Drieëenheid.

Die NGB begin met die Ou
Testament:

Genesis 1:26-27, waar die
meervoud gebruik word as die HERE sê: Laat Ons mense maak.

Nou is daar mense wat beweer dat
hierdie nie op die Drieëenheid kan slaan nie.

Want dit is ‘n sogenaamde
majesteitsmeervoud.

Majesteitsmeervoud beteken: soms
as belangrike persone praat, soos ‘n koning of koningin wat met majesteit
aangespreek word, dan is dit ‘n gewoonte dat so ‘n persoon in die meervoud
praat.

Dit is ‘n deftige manier van
praat, wat pas by belangrike persone.

Dit is ‘n gewoonte wat mens in
sommige tale vind.

Tog, wat mens teen hierdie
redenasie kan inbring, is dat dit tot op hede nog nie aangetoon is dat daar ‘n
sogenaamde majesteitsmeervoud in die ou Hebreeus bestaan het nie.

Hierdie redenasie is dus bloot ‘n
aanname.

Daar is ook nie ander voorbeelde
in die Bybel waar die HERE in ‘n sg. majesteitsmeervoud praat nie.

Hierdie hipotese kan mens dus
verwerp.

 

Dit is natuurlik nie so, aan die
ander kant, dat hierdie vers uit Genesis 1 vir ons die Drieëenheid van God ten
volle openbaar nie.

Die Vader, die Seun en die Heilige
Gees word hier nie genoem nie.

Dit vind ons elders in die Bybel.

Maar, in die lig van die res van
die Skrif, kan ons hierdie vers verstaan.

As die HERE sê, laat Ons mense maak, dan is God drieënig in
gesprek met mekaar.

Soos die NGB die verwoord: uit
hierdie verse in Genesis blyk dat daar meer as een Persoon in die Godheid is.

 

Feit is wel dat die drieënige
aard van God in die Ou Testament nog nie helder verwoord is nie.

Dit het God behaag om sy
drieënige aard nog nie so duidelik in die Ou Testament aan sy volk bekend te
maak nie.

Die gelowiges het Hom toe geken
as God, die HERE – Jahweh – die troue Verbondsgod, ook as hulle hemelse Vader.

En alhoewel ons in die Ou
Testament ook verwysings na die ander twee Persone van die Drieëenheid vind
– 

Jesus Christus, as die Engel van
die verbond, of die Engel van die HERE, of as Here, of as die Seun; en die Gees
van God, wat die lewe gee, en wat lewend maak wat gesterf het – 

tog vind ons nog nie daarin
eksplisiet die oproep om die Seun en die Gees te aanbid, saam met die Vader, as
God drieënig nie.

Ook vind ons nie dat die Ou
Testamentiese volk van God geseën is in die naam van God drieënig nie, maar in
die naam van die HERE, en dan word sy verbondsnaam gebruik – dink aan die
hoëpriesterlike seën in Numeri 6.

Daarom dat die NGB soos volg
verwoord: wat vir ons in die Ou Testament enigsins duister is, is in die Nuwe
Testament baie duidelik.

Skynbaar het dit God behaag, toe
Hy sy eie Seun na die aarde gestuur het, om deur Hom baie helderder, en baie
meer eksplisiet, en met baie meer detail, te openbaar wie en hoe Hy as God
presies is.

Danksy Christus se koms na die
aarde weet ons nou dat God bestaan uit drie Persone, ons weet ook die
onderskeie take en karaktereienskappe van elke persoon.

Hierin is die Nuwe Testamentiese
Godsopenbaring dus baie ryker as die van die Ou Testament.

Daarom kan die kerk in die Nuwe
Testament nou eksplisiet geseën word in die naam van God drieënig.

Dan dink ons aan die ryke woorde
uit 2 Kor 13:13, waarin Vader, Seun en Heilige Gees ons aktief seën.

In hierdie vers word ook verwys
na die spesifieke werksaamheid van elkeen van Hulle vir ons: “Die genade van die Here Jesus Christus, en
die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees, sy met
julle almal”.

 

(Tema: Die Skrif openbaar aan ons
God Drieënig, sodat ons die Vader, Seun en Heilige Gees mag ken, vertrou en aanbid

 

-         
Al in die Ou Testament, maar veral in die Nuwe Testament)

 

 

-         
Ketterye in verlede en hede

Deur die eeue was daar mense,
beginnende dikwels by teoloë, wat twyfel gesaai het oor die Drieëenheid van
God.

Aan die einde van art. 9 word ‘n
aantal name van ketters genoem.

Beginnende by die Jode, wat
Christus as Messias verwerp het.

Hom nie as die Seun van God, ja
God self, erken het nie.

Dieselfde geld vir die moslems
wat Jesus nie as God vereer nie, maar slegs as ‘n profeet.

En dan word die name van ‘n aantal
ketters uit Christelike geledere genoem:

Marcion het ‘n onderskeid gemaak
het tussen die Vader en die Seun asof hulle twee verskillende gode is, en so het
hy die Drieëenheid opgebreek.

Mani, en sy volgelinge die
Manicheërs, het die godheid van Christus en van die Gees verwerp, en geen
enkele agting vir die Bybel as God se openbaring gehad het nie.

Praxeas het die onderskeid in
take en karakter tussen die drie Persone van God ontken. Met die gevolg dat hy
geleer het dat toe Jesus na die aarde gekom het, dit ook God die Vader was wat
na die aarde gekom het, en dat God die Vader dus ook aan die kruis gehang het.

Sabellius het die Drieëenheid
ontken in die sin dat hy geleer het dat die drie net drie modaliteite is van
een God, en nie drie aparte Persone nie. Mens sou dit kon vergelyk met ‘n man
wat drie aspekte in sy lewe kan verenig: bv. ‘n pa by die huis, ‘n onderwyser
op skool, en ‘n ouderling in die kerk. Drie modaliteite of spesialimses van
dieselfde Persoon.

Dan Samosatenus, ook bekend as
Paulus van Samosata, het ongeveer dieselfde as Sabellius geleer. Byvoorbeeld
dat die Woord en die Gees net onpersoonlike kragte van God was.

Arius was ‘n ketter wat die
godheid van die Seun, van Jesus Christus, verloën het.

Die NGB noem hierdie name net as
voorbeelde van ketters, nie as ‘n volledige lys nie.

Dit is almal voorbeelde uit die
vroeë kerk.

As gevolg van al die stryd oor
die Drieëenheid van God in die vroeë kerk, het die Apostoliese
Geloofsbelydenis, die van Nicea en van Athanasius ontstaan, wat aldrie ‘n trinitariese
indeling het.

 

Mens kan natuurlik name van
ketters uit latere tye hieraan byvoeg.

In die 16e eeu was daar
byvoorbeeld ‘n persoon met die naam Servet, wat die Drieëenheid ontken het.

En ook in ons tyd is daar
ongelukkig baie ketters wat die Drieëenheid van God verloën.

Net soos in die verlede word dit
met mooi woorde en skynbaar edele bedoelings gedoen.

En omdat dit so slinks gedoen
word, kry hulle altyd ‘n klomp mense agter hulle aan.

En dan gaan dit nie net oor
leiers van obskure sektes nie, maar dikwels teoloë van bekende denominasies.

Byvoorbeeld in Nederland teoloë
wat lidmaat is van die Protestantse kerk, ‘n samevoeging van die ou Hervormde
kerk, die Gereformeerde kerke sinodaal, en die Lutherse kerk.

En hierin Suid-Afrika byvoorbeeld
teoloë wat lidmaat is van die NG kerk.

Mense wat byvoorbeeld die godheid
van Christus ontken.

Wat sy opstanding en hemelvaart
ontken, en die uitstorting van die Heilige Gees wat daarop gevolg het.

Gelukkig steek hierdie ketters
nie alle lidmate in daardie kerke waaraan hulle behoort, aan met hulle
onbybelse leringe nie.

Maar dit is wel onbegryplik dat
hulle in daardie denominasies, wat in die verlede ortodoks was, die ruimte
ontvang om hulle ketterye te leer en te publiseer.

Dit maak van hierdie kerke
sektes.

Hoe kan jy iemand in jou
kerkverband tolereer wat openlik die Drieëenheid verloën, of die godheid van
Christus?

Hoe kan jy dit voor God
verantwoord?

Laat ons eerder die voorbeeld
volg van die regsinnige vaders, soos die NGB dit verwoord, wat openlik hierdie ketterye
veroordeel het en ‘n vervloeking daaroor uitgespreek het.

Mense soos Marcion, Sabellius en
Arius is nie ‘n plek gedoog binne die kerk nie, maar hulle is tereg uit die
kerk verban.

‘n Gesonde kerk vandag het die
taak om dit ook te doen, anders verword ‘n kerk tot ‘n sekte, tot ‘n valse kerk.

 

(Tema: Die Skrif openbaar aan ons
God Drieënig, sodat ons die Vader, Seun en Heilige Gees mag ken, vertrou en
aanbid

 

-         
Al in die Ou Testament, maar veral in die Nuwe Testament

-         
Ketterye in verlede en hede)

 

 

-         
Enkele sleuteltekste uit die Nuwe
Testament

Kom ons keer terug na al die
pragtige dinge wat die Nuwe Testament ons oor God Drieënig openbaar.

Behalwe vir die seën in die naam
van God drieënig, wat ek reeds genoem het, is daar nog ander tekste.

Dink aan die bekende
sendingsbevel van Jesus, sy laaste woorde voor sy hemelvaart:

Gaan dan heen, maak dissipels van
al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die
Heilige Gees...

Tussen hakies, telkens vind ons
hierdie volgorde in die Nuwe Testament: Vader, Seun en Gees.

Dit dui op die gesagsverhouding.

Maar die feit dat hulle aldrie
saam genoem word, by die seën, en hier by die doopsbediening, dui daarop dat
aldrie gelykwaardig God is.

Wie kan seën, en wie kan die doopbelofte
waarborg, as daardie Persoon nie goddelike kragte het nie?

Tog is hulle ook nie drie Gode
nie, want daar staan: doop hulle in die Naam
– enkelvoud.

 

Verder is daar nog meer plekke in
die Nuwe Testament waar aldrie Persone van die Drieëenheid saam optree.

‘n Bekende voorbeeld is die doop
van Jesus in die Jordaan.

Die Vader het uit die hemel
geroep: Dit is my geliefde Seun.

En die Heilige Gees het in die
vorm van ‘n duif op Hom neergedaal.

Ook kan ons dink aan Jesus se
aankondiging van die koms van die Trooster, in Johannes 16, wat sou plaasvind nadat
Hy na die Vader gegaan het.

En dan die beskrywing van hierdie
gebeurtenis nadat dit plaasgevind het, die koms van die Trooster, die
uitstorting van die Heilige Gees in Handelinge 2, en Petrus se daaropvolgende
preek.

Ook daar sien ons Vader, Seun en
Heilige Gees saam aktief as God Drieënig.

Hierdie is voorbeelde hoe ons in
die Nuwe Testament Vader, Seun en Heilige Gees saam ontmoet, as Drieënige God
in die hemel, en aldrie aktief betrokke by ons as mense en ons saligheid.

 

Daar is nog ‘n vers waarna die
NGB verwys, wat ek nog nie aangeroer het in my preek nie.

Dit is 1 Joh 5:7-8, waar ons lees:
“Want daar is drie wat getuig in die hemel: Die Vader, die Woord en die Heilige
Gees, en hierdie drie is een, en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees
en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig”

Oor hierdie vers moet daar
bietjie meer gesê word.

Soos u moontlik weet, is die
Bybelboeke, nadat hulle deur die apostels geskryf is, deur die eeue oorgeskryf.

Dit was omdat daar vroeër nie
kopieermasjiene bestaan het nie.

Daar het baie vroeë manuskripte van
die Bybel bewaar gebly.

As mens hierdie ou manuskripte
met mekaar vergelyk, is dit opvallend hoe akkuraat die teks van die Bybel
oorgeskryf is.

Veral as mens dit vergelyk met
ander boeke uit dieselfde oudheid.

Die Bybel is ongelooflik akkuraat
en noukeurig oorgeskryf.

Tog het daar hier en daar klein
verskille ingekruip.

Nou is hierdie teks waarskynlik
die grootste verskil wat daar ingesluip het.

Want as jy al die verskillende ou
manuskripte met mekaar vergelyk, dan sien mens dat nie almal dieselfde teks het
hier in 1 Johannes 5 nie.

Nou gaan dit nie net daaroor dat
mens na die oudste manuskripte moet kyk wat ons het, en dat die oudste
noodwendig die beste sal wees nie.

Dit is ‘n hele wetenskap, die
tekskritiese wetenskap, wat dit ondersoek.

Sommige baie ou manuskripte is
minder akkuraat as ander.

En sommige jonger manuskripte
gaan terug op ou manuskripte wat baie akkuraat was, en dus is die jonger
manuskripte ook baie akkuraat.

Om ‘n lang verhaal kort te maak,
as ons nou oor 1 Joh 5:7-8 praat, is dit so dat ‘n groot aantal baie betroubare
en akkurate manuskripte nie die
verwysing na die Drieëenheid in hierdie teks bevat nie.

Heel waarskynlik is hierdie
woorde dus later toegevoeg, die woorde naamlik: “Want daar is drie wat getuig
in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees”.

Ons weet dat daar in die vroeë
kerk baie stryd was oor die leer van die Drieëenheid.

Moontlik dat ‘n kopieerder dit
bewus ingesit het om te kan dien as bewysteks.

Dit is ook moontlik, dalk meer
waarskynlik, dat iemand hierdie woord in die kantlyn van sy Bybel geskryf het
as ‘n opmerking, en dat ‘n latere kopieerder dit per ongeluk in die hoofteks
opgeneem het.

Hoe dit ook sy, wat betref
hierdie teks moet ons eerlik wees en sê dat dit nie as ‘n bewysteks van die Drieëenheid
kan funksioneer nie.

Toe die NGB deur Guido de Brès
geskryf het, was die tekskritiese wetenskap nog nie op die hoogte hiervan nie.

 

Dit beteken natuurlik nie dat die
leer van die Drieëenheid nou op los skroewe te staan kom nie.

Soos reeds aangedui, daar is ‘n
verskeidenheid aan tekste uit die Nuwe Testament wat God as Drieënige God duidelik aan ons openbaar.

Die doel van die openbaring is
dat ons Hulle, Vader, Seun en Heilige Gees, mag ken, en dat ons met Hulle ‘n
band mag opbou.

‘n Geloofsband, ‘n
vertrouensband.

Dat ons hulle aanbid en vereer as
ons God.

Jou Skepper.

Jou Verlosser.

Jou Heiligmaker.

 

Geliefde broer, suster, het jy ‘n
intieme band met God Drieënig?

Erken jy dat die Vader jou
geskape het?

Sien jy raak dat Hy elke dag vir
jou sorg?

Sien jy dat jou lewe volgens sy
plan verloop?

Vertrou jy Hom, of skop jy teen
sy wil en sy plan?

 

Besef jy wat die Seun alles vir
jou deurgemaak het?

Besef jy dat Jesus ook ter wille
van jou na die aarde gekom het?

Dat Hy om jou ontwil verneder is?

Dat Hy die marteldood aan die
kruis vir jou gesterf het?

Dat sy eie Vader Hom verlaat het,
om jou te red?

Vra jy elke dag in sy Naam
vergewing van jou sondes en gebreke?

Is jy lief vir jou Heiland?

Aanbid jy Hom as jou Here en jou
God?

Leef jy vir Hom, in alles wat jy
doen?

 

Voel jy dat die Heilige Gees in
jou woon?

Voel jy hoe Hy jou probeer
oortuig van sonde?

Voel jy die pyn as jou gewete jou
pla, as Hy jou gewete vorm en skaaf?

Besef jy dat jy ‘n tempel van Hom
is?

Voel jy hoe Hy jou lewe probeer
skoonmaak?

Is jy bly dat Hy in jou woon?

Werk jy saam met Hom, of probeer
jy sy werk blus?

 

In ‘n eerdere artikel van die NGB
staan daar dat God Homself, wie Hy is, aan ons geopenbaar het, soveel as wat ons
nodig het om Hom te kan loof en eer en aanbid, en soveel as wat ons moet weet
vir ons eie redding en saligheid.

Dit is wonderlik, dat ons God Drieënig
so mag leer ken uit die Bybel.

As die God wat bekommerd is, en
begaan, al drie Persone, oor my en jou redding.

En hoe al drie Hulle saam inspan
tot redding van verlore mense.

Wat ‘n voorreg om so ‘n God te
mag ken!

Hy vul ons lewe met ongekende
dankbaarheid, en blydskap en aanbidding.

Ek kan nie sy Wese verstaan nie.

Ek kan nie die dieptes en die
hoogtes, die lengte en breedte van sy Godheid peil nie.

Maar dit neem nie weg dat my lewe
ryklik deur Hom beïnvloed en geseën word nie!

En daarom aanbid ek Hom, wat ek
nie kan verklaar nie, maar wel kan vertrou en liefhê.

Halleluja, prys sy drieënige Naam!

Laat ons dit uitroep, elke dag
van ons lewe!

 

Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)