Christus leer ons om te vra na God se wil

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2014-11-09
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 49
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 9 November 2014 AD, 17:30

Voorsang: Ps
130:1-4 (1e ber.)

Votum

Seën

Ps 20:6,7

Geloofsbelydenis
(Apostoliese)

Ps 19:7

Skriflesing:
Markus 8:27-38 & Markus 14:32-42

Gebed

Kollekte

Ps 97:1,2,3

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 49

Preek

Ps 86:6

Gebed

Ps 97:4,7

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus
Sondag 49

By elke
lughawe is daar ‘n beheertoring.

Vanuit
hierdie toring het mens ’n goeie oorsig oor die lughawe.

Vanuit
hierdie toring word alle vliegtuie se bewegings bepaal.

Veral die
vliegtuie wat wil opstyg of wat inkom om te land, moet baie goed begelei word.

Daar word
boodskappe uitgestuur na aankomende en vertrekkende pilote.

Vir ’n
piloot is die wil van die beheertoring wet.

As hy die
opdrag kry om op ’n bepaalde hoogte te vlieg, of om op ’n bepaalde aanloopbaan
te land, dan voer hy die opdrag haas blindelings uit.

Selfs as hy
nog in die wolke vlieg en nog niks van ’n aanloopbaan kan sien nie.

Pilote wat
hulle eie wil volg, is gevaarlik, nie net vir hulle eie vliegtuig nie, maar ook
vir die res van die lugverkeer.

Dit sou tot
chaos kon lei.

As ’n piloot
byvoorbeeld geland het, kan hy nie net kortpad vat na die lughawe toe, soos ’n
taxi soms oor die sypaadjie kortpad vat nie.

Die opdragte
van die beheertoring moet hy stiptelik uitvoer.

Gemeente,
mens sou die hemel die beheertoring van die aarde kon noem.

Vanuit die
hemel vaardig God sy instruksies uit.

Sy wil is
wet.

En, as sy
wil ook in alle gevalle wet sou gewees het op aarde, as alle mense na sy
instruksies sou geluister het,

dan sou
alles op aarde ook glad en soepel verloop het.

Dan sou daar
nooit lewensverlies gewees het nie.

Ek verkondig
u God se Woord onder die volgende tema:

Tema: Christus leer ons om te vra na God se wil

1                  
Deur te bid
leer ons om ons eie wil te verloën

2                  
Deur te bid
leer ons om ons amp te vervul volgens God se wil

1      
Deur te bid
leer ons om ons eie wil te verloën

Die wil van
’n mens is waarskynlik die kragtigste eienskap wat hy het.

As iemand
iets wil of nie wil nie, dan sal hy homself daarvoor inspan.

Ook sy
verstand.

Die wil van
’n mens is baie sterker as sy verstand.

Mense wat
rook besef dit maar al te goed.

Dit is nie
genoeg om te weet dat rook ongesond
is.

Jy moet dit
ook wil.

Dit is nie
vir niks dat in die Bybel jou hart as
beeld vir die wil gebruik word.

Die hart is in die Bybel nie in die eerste
plek ’n beeld vir jou emosies, soos ons vandag gewoond is om te praat nie.

Die hart is
die sentrum van jou wil.

Elke mens
het sy eie wil, dis soos ons geskape is.

 

Jesus het
ook sy eie wil gehad, omdat Hy ’n mens net soos ons was.

En as mens
moes Hy ook leer om sy eie wil te verloën.

Nie dat
Jesus ’n sondige wil gehad het nie.

Maar Hy het
wel ’n aktiewe wil gehad.

’n Wil wat
lewendig was en elke dag beslissings moes neem.

Nou is dit
so dat God die Vader vir Jesus met ’n duidelike taak na die aarde gestuur het.

En dit is
baie duidelik, as ons die Evangelies lees, dat Jesus tydens sy hele lewe
geprobeer het om hierdie taak soos noukeurig moontlik uit te voer.

Dus nie net
om Hy dit moes doen nie, maar ook gewillig.

As ons die
Evangelies lees, kom mens agter dat dit vir Jesus ook ’n stryd was om sy eie
wil telkens ondergeskik te stel aan God die Vader se wil.

Jesus sê byvoorbeeld
’n keer, aan die begin van sy ampsperiode:

Ek soek nie
my wil nie, maar die wil van Hom, wat My gestuur het.

Of: my
voedsel is om te doen die wil van Hom, wat My gestuur het, en sy werk te
voltooi.

Hierdie is
pragtige uitsprake.

Mens sien
hoe Jesus dit in praktyk gebring het, tot aan die einde van sy lewe.

Jesus het
ook tydens sy aardse lewe besef hoe belangrik dit was dat sy wil gesond moes
bly.

Hy het die
versoeking ook gevoel hoe maklik dit is om iets net met jou verstand te sê,
terwyl jou wil in ’n ander rigting trek.

Ons Heiland
het sy hele lewe lank, elke dag, bewus sy wil ondergeskik gestel aan God se
wil.

Dit het elke
oggend begin met sy gebed tot die Vader.

Deur die
gebed, die kontak met God, het Hy sy wil in ooreenstemming met sy Vader se wil
gebring.

Wil dit sê
dat Jesus sy eie wil uitgeskakel het?

Verstand op
nul, wil op nul?

Nee, om jou
eie wil te verloën beteken nie om willoos
te word nie.

Om sy eie
wil te verloën beteken om dit om te buig, sodat dit in dieselfde rigting trek
as God se wil.

Vir Jesus
was dit nie nodig om sy eie wil om te buig nie, want Hy was nie sondig nie.

Sy wil het
al vanaf sy geboorte in ’n suiwer rigting gewys.

Maar Hy moes
wel, as mens, as die tweede Adam, elke dag waaksaam bly.

Waaksaam dat
sy wil steeds in die regte rigting wys, en nie van koers af getrek of gestamp
word deur die satan of die sondige wêreld nie.

 

Nou was God
se wil vir Jesus se lewe geensins maklik nie.

Dit was God
se wil dat sy Seun sou ly en sterf.

Dit was
selfs God se wil dat Hy dit volledig alleen moes doen, Godverlate.

Ons weet uit
die Skrif dat dit ook die Seun se wil was.

Hy het vrywillig na die aarde gekom.

Terselfdertyd
was dit nie outomaties nie.

Jesus is
steeds gekonfronteer met kragte wat op sy wil ingewerk het.

Selfs sy
dissipels het geprobeer om sy wil van koers te laat verander.

Hulle het
hulle eie verwagtings gehad.

Petrus het
glad nie saamgestem met die rigting waarin Jesus se wil Hom gelei het nie.

Petrus het
nie gedink in die rigting van lyding en kruisiging nie.

Hy wou dat
sy Meester koning sou word.

En dieselfde
het vir die ander dissipels gegeld.

Hulle het
hulle eie wil gehad met betrekking
tot Jesus se lewe.

En dit was
met die beste bedoelings.

Maar Jesus
se wil was anders.

Hy wou dat
dit gebeur wat God die Vader se wil was.

 

Vir Jesus
was dit ’n baie swaar oomblik om die Vader se wil met sy lewe aan die dissipels
bekend te maak.

Ons het oor
hierdie oomblik gelees – die eerste aankondiging van sy lyde.

Jesus, sien
ons, het die woordjie “moet” gebruik.

“Toe het Hy
hulle begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly...” (Mark 8:31) staan
daar.

Dit klink
amper asof Hy nog nie heeltemal vrede daarmee gemaak het nie.

Dit was nie
vir Hom maklik om hierdie boodskap mee te deel nie.

Om dit
reguit vir die dissipels te sê, bewus van die feit dat hulle totaal ander
verwagtingspatrone gehad het.

Tog het
Jesus dit gedoen, gehoorsaam aan God se wil.

 

Petrus se
reaksie was daarom ook dubbel teleurstellend.

Jesus het
gedog dat daar nou uiteindelik ’n oomblik aangebreek het dat Petrus dit sou
verstaan.

Petrus het
mos net daarvoor bely dat Jesus die Messias is.

Maar Petrus,
die rots, het gewankel.

Meer as ooit
tot op daardie oomblik het dit vir Jesus duidelik geword dat Hy uiteindelik
heeltemal alleen sal staan.

Selfs Petrus
het geen ondersteuning gebied nie.

Hy het
eerder ’n versoeking, ’n bedreiging vir Hom gevorm.

En daarom
moes Jesus roep: “Gaan weg agter My, Satan!”

 

Ons Heiland
het hier voor ’n keuse gestaan.

Of die wil
van mense, die wil van sy dissipels, òf die wil van God.

Hy het botsende
instruksies gekry.

Die mense
rondom hom wou een ding, maar die beheertoring se wil was anders.

En Jesus het
gekies vir die hemelse beheertoring.

Die
verbinding met, die versoeking deur die satan het Hy verbreek.

Ons Heiland
was gehoorsaam.

Hoewel Hy as
mens geweldig teen die toekoms opgesien het, het Hy tog vasgehou aan God se
wil.

God se wil
was uiteindelik die beste.

Al was dit
soos ’n donker wolk waardeur Hy heen moes vlieg, voordat die aanloopbaan in sig
sou kom.

Petrus het
gesê, vermy die donker wolk, dis nie nodig nie.

Maar God het
geweet wat agter die wolk was, en dat sy Seun in staat was om deur die donker
wolk te kom.

Die hemelse
beheertoring kon oor die wolk heenkyk, en sien wat daaragter was.

Daarop het
ons Heiland vertrou.

 

Jesus het
bewys dat dit beter is om konsekwent gehoorsaam te wees.

Dat dit jou die
verste bring.

Hoe moeilik
dit ook vir Hom was.

Dink maar
aan die nag in Getsemane.

Alleen deur
sy gebed kon Hy daar staande bly.

Kon Hy sy
wil suiwer en in die regte rigting hou.

Hoewel Hy
tog terselfdertyd vir sy Vader gesê het: Ek kan nie meer nie.

Ek sien so
hierteen op.

Neem hierdie
beker van My af weg.

Tog het Hy in
dieselfde gebed ook gesê: nie wat Ek wil nie, maar wat U wil.

En dit was
sy redding.

Langs
hierdie weg, hierdie moeilike weg van vernedering, wat eers deur die dal van
doodskaduwee gelei het, langs hierdie weg het die Vader Hom verhoog.

 

Deur sy
voorbeeld vra Christus om navolging.

Jesus het
dit ook aan sy dissipels geleer.

Hy het hulle
geleer om van hulle eie wil af te sien, hoe goed hulle bedoelings ook was.

Neem Petrus
byvoorbeeld.

In die
gedeelte wat ons gelees het, moes Jesus vir hom sê: gaan weg agter My, Satan!

Die beste
bedoelings, dis wat Petrus gehad het, maar tog was dit lewensgevaarlik.

En ook in
Getsemane ontmoet ons weer dieselfde Petrus.

Petrus wat
goeie bedoelings het, wat Jesus wil beskerm.

Wat met sy
swaard vir Jesus wil veg.

Maar, en dit
het Petrus nie besef nie, sy pogings het teen die wil van God ingedruis.

Teen God se
wil het hy gestry.

Hy het een
van die soldate se oor afgekap.

Hy het sy
Heiland verloën, tot drie keer toe.

En selfs na
die opstanding van Jesus, lees mens in die Johannesevangelie, het Petrus weer
sy eie wil gevolg.

Hy het weer
teruggekeer na sy ou beroep, om vis te vang op die meer van Galilea.

Jesus moes
hom persoonlik daar gaan opsoek.

Tot drie
keer toe moes Hy indringend aan hom vra:

Het jy My
lief?

 

Petrus se
stryd teen sy eie wil, dit is wat elke mens beleef.

Ek as mens
kan myself nie indink dat my eie wil so sleg is nie.

Ek kan dit
so moeilik insien.

Tog is Jesus
se boodskap duidelik:

Leer om jou
eie wil te kruisig.

Maar hoe
doen mens dit?

Dit begin
met gebed.

Die gebed is
’n kragtige wapen.

Jou wil is
sterk, maar gebed is nog sterker.

As jy bid,
dan raak jy ontvanklik vir God se wil.

Dit is die
werk van die Heilige Gees.

Deur die
gebed maak Hy jou hart sag.

Gemeente,
moenie te gering dink oor die krag van gebed nie.

Moet ook nie
terugdeins vir die effek van gebed nie.

As jy bid, is jy bewus besig met God se wil.

As jy bid,
stel jy in op die golflengte van God se wil.

As ons bid,
dan is ons bewus besig om ons eie wil in lyn te kry met God se wil.

 

God se wil
leer ons uit die Skrif ken.

Maar dit is
nie genoeg om net te weet wat God se wil is nie.

Deur gebed
word God se wil ook ingeplant in jou hart.

Deur gebed
probeer jy alles wat op jou lewenspad kom, te verbind met God se wil.

As jy jonk
is en jy soek ’n lewensmaat.

Wees daarmee
ook besig in jou gebed.

As jy jou
salaris bestee, betrek dit ook in jou gebed.

Hoekom gee
God dit vir my?

Probeer konkreet
duidelikheid te kry wat God se wil in alles is.

Mens kan nog
baie meer voorbeelde noem:

Jou werk,
jou gesin, jou vakansie, jou pensioen, ensovoorts.

 

As jy bid,
bring jy jou lewe op die golflengte van God se wil.

Net soos ’n
piloot wat verbinding soek met die beheertoring.

Dit beteken
nie dat die piloot op daardie oomblik sy eie wil uitskakel nie.

’n Christen
se lewe is nie soos ’n outomatiese piloot nie.

Nee, ons
bring ons eie wil in lyn met die wil van die beheertoring.

Dis nie so dat
ons geleef word deur God se wil nie.

God verwag
dat ons self leef.

’n Lewe
bewus in sy diens.

En ’n lewe
ingeskakel op sy wil, dit waarborg ook ’n veilige tuiskoms.

 

Jesus leer
ons om te vra na God se wil. Deur te bid leer ons om ons eie wil te verloën.

Dit was die
eerste punt.

Ons kom nou
by die tweede punt van die preek:

 

 

2      
Deur te bid
leer ons om ons amp te vervul volgens God se wil

Sondag 49
praat oor ’n amp en beroep.

“sodat
elkeen sy amp en beroep net so gewillig en getrou kan uitvoer soos die engele
in die hemel.”

Ook in
hierdie tweede punt wil ek begin met die voorbeeld van Jesus Christus.

Hy het ’n
baie spesifieke amp van God gekry: redding van die wêreld deur aan die kruis te
sterf.

En tydens sy
hele lewe moes Hy sy oë bly fokus op hierdie taak.

Daar was 101
ding wat Hom probeer aflei het.

Maar Hy moes
koers hou, deur die donker wolke heen.

Hy moes
koers hou in die rigting wat God aan Hom opgedra het.

Een van die
moeilikste dinge vir Jesus se taak was, dat Hy dit heeltemal alleen moes doen.

Alle mense
het Hom verlaat.

Alle mense,
tot sy drie mees geliefde vriende, het Hom verlaat.

Ook hulle
kon nie met God se wil vrede maak nie.

Jesus het
agtergebly as die enigste een wat gehoorsaam was.

Ons Heiland
het dikwels voor die versoeking te staan gekom om ’n makliker pad te kies.

Op die oog
af makliker.

Op kort
termyn miskien, so ver die menseoog kan sien.

Maar op lang
termyn lewensgevaarlik.

Lewensgevaarlik
vir Homself, en vir almal oor wie Hy verantwoordelikheid gekry het.

As ons na
Jesus kyk, God se Gesalfde, dws aangestel met ’n spesiale opdrag;

as ons sien
hoe Hy sy opdrag uitgevoer het;

as ons sien
hoe Hy daardeur roem verwerf het;

deur trou en
gewillig koers te hou in sy amp;

dan kan ons
baie daarvan leer.

Leer wat God
van ons verwag.

Ook as dit
inhou dat ons dalk op kort termyn nie alles deursien nie, as ons dalk swaarder
sal kry; as ons uit ons gemaksone gedruk word.

God se
bedoeling met ons lewe is om ons gelukkig te maak, en om ons ’n veilige
tuiskoms te gee.

 

As ek sê dat
ons baie van Christus se voorbeeld kan leer, beteken dit nie dat ons dieselfde
taak ontvang het as Christus nie.

Sy taak was
uniek, en Hy het dit voltooi.

Hy het die
vrede met God herstel.

Sy werk was
plaasvervangend.

Daar is geen
mens wat kan sê: my lewe is net so swaar as Jesus s’n nie.

’n Mens kan
geweldig veel ly, liggaamlik en psigies.

’n Mens kan
gemartel word.

’n Mens kan
vermoor word.

Maar dit is
nie dieselfde as wat Jesus ondergaan het nie.

Hy is
gekruisig vir die skuld van alle mense.

En
daaroorheen het God Hom ook nog verlaat.

Dit is vir
ons emosioneel nie moontlik om dit te deurgrond nie.

Dit hoef ook
nie, want sy lyde was plaasvervangend.

Ons het dus
nie dieselfde taak op aarde as Jesus nie.

Ons kan wel
van Hom leer dat gehoorsaamheid aan God se wil vrugte afwerp.

 

Maar, hoe
weet ek nou wat my taak, my amp en beroep is waarvoor God my op aarde geplaas
het?

Hoe weet ek
as God vir iets wil gebruik?

As ek
byvoorbeeld op skool is, en ek moet besluit wat my beroep word.

Ek kan dalk
’n belangstellingstoets doen, of ’n psigometriese toes.

Hierdie
soort toetse kan help om God se wil met jou lewe te bepaal.

Dit wys dalk
waarvoor ek geskik is.

Dalk ’n
onderwyser, of verpleegster, of rekenmeester.

Maar wat
verwag God eintlik van my?

Jy kan ook
met mense praat, familie, vriende, mense wat juis daardie beroep uitoefen.

Maar uiteindelik
moet jy alles dan in gebed aan die HERE voorlê.

Om alles wat
jy uitgevind het, en alles waaroor jy nadink, al jou gevoelens, voor God neer
te lê,

en vir Hom
te vra om vir jou ’n opregte hart te gee, sodat jy ’n keuse maak wat in lyn is
met sy wil.

Sodat
hierdie bede: laat u wil geskied, in die hemel net so ook op die aarde – ook op
jou van toepassing is, en spesifiek ook op jou beroepskeuse.

 

Beroepskeuse
is maar een voorbeeld.

Mens kan hierdie
bede – laat u wil geskied – toespits op elke besluit wat jy moet neem.

Want jou
hele lewe is ampsdiens.

En deur die
gebed probeer ons elke dag weer te fokus op God se wil.

Die sondige
wêreld wil ons iets anders wysmaak.

Die wêreld
om ons heen het ander riglyne en vereistes as dit kom by beroepskeuse, of keuse
van ’n huweliksmaat, gesinsbeplanning, geldbesteding, ensovoorts.

Maar ons mag
bely dat God se wil goed is.

God het al
eeue lank ervaring met mense.

Die
geskiedenis bewys dat sy wil beter is.

En dat dit
goed vir ons is.

God sien die
son skyn aan die ander kant van die donker wolk, ons nie.

 

Gee maar
liewerste jou eie wil prys.

God se wil
is goed, volg dit, sonder teëpratery.

Laat ons ons
amp gewillig uitvoer.

Ons het
Jesus as voorbeeld.

By Hom het
geblyk dat God se wil goed is.

As ons God
se wil doen, elkeen op ons eie klein plekkie,

dan sal Hy
ons ampsdiens ook diensbaar maak aan sy koninkryk.

Dan mag ons
sy mede-arbeiders word.

Mede-arbeiders,
dit kan ons slegs wees as ons eie wil gekonformeer is aan sy wil.

En dit doen
ons elke dag as ons bid:

Laat u wil
geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.

 

Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)