PRETORIA-MARANATA, 20 Julie 2014 AD, 10:15
Liturgie:
Voorsang: Ps
100:1-4
Votum
Seën
Ps 34:1,2
Gebed
Skriflesing: Kolossense
3:1-4 en 3:18-4:6
Romeine
13:1-7
Ps 25:6,10
Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 39
Preek
Ps 2:1,2,3,4
Gebed
Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Slotlied: Ps 2:5,6
Seën
Preek: Heidelbergse Kategismus
Sondag 39
Mag ‘n mens
grappies maak oor president Jacob Zuma?
Mag ’n mens
weier om e-tol te betaal?
Mag ’n mens
’n spietkop omkoop?
Mag ’n mens
bid dat die regering tot ’n val kom?
Mag ’n mens
wens dat aborsieklinieke afbrand?
Al hierdie
vrae het te make met die onderwerp van hierdie erediens: die vyfde gebod.
Eer jou
vader en moeder en almal wat gesag dra oor jou.
Ek waarborg
nie dat ek op al hierdie vrae ’n antwoord gaan gee nie.
Maar ons
gaan wel kyk na die onderwys van die Skrif aangaande die vyfde gebod.
Hoekom
verwag Christus nog steeds van ons dat ons die vyfde gebod nakom?
Tema: Christus, wat in die hemel op die troon sit, gee ons die vyfde gebod
1 Wat Christus van onderdane verwag
2 Wat Christus van gesagsdraers verwag
3 Hoekom Christus die vyfde gebod handhaaf in ’n sondige wêreld
1 Wat Christus van onderdane verwag
Allereers
kry ons in die vyfde gebod te make met die gesin.
Aan die een
kant die ouers, aan die ander kant die kinders.
Die
Kategismus fokus ook op die gesin.
Dit mees
basiese bousteen van die kerk, van die samelewing, en van ’n land.
Hoe lyk
gesonde gesagsverhoudings in ’n gesin?
Dat ek aan my vader en moeder alle eer, liefde en trou bewys.
Dat ek my
aan hulle goeie leer en straf met gepaste gehoorsaamheid moet onderwerp.
Al hierdie
woorde is duidelik, en ’n laerskoolkind in graad 1 weet wat dit beteken om
gehoorsaam te wees.
Selfs ’n
kind van twee jaar weet wat dit is om te luister na sy of haar ouers, of bewus
nie te luister nie.
Hierdie
woorde van die Kategismus het dus geen uitleg nodig nie.
Wat wel
nodig is, is dat ons hierdie woorde in die regte konteks plaas.
Nie vir niks
nie het ons die eerste verse van Kolossense 3 gelees:
“As julle
dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan
die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is...”
Ons bely in
Sondag 17 van die Kategismus dat die opstanding van Christus nie net ’n
waarborg is van ons opstanding op die jongste dag nie, maar dat ons ook nou al
opgewek word tot ’n nuwe lewe.
Dit beteken
dat ons, hoewel ons nou nog sterflik en sondig is, tog al anders lewe.
Die Heilige
Gees gebruik vir hierdie nuwe soort lewe juis ook die vyfde gebod.
En soos
gesê, ons kyk eerstens na wat Christus van onderdane verwag.
Jy kan jou
ouers naamlik op verskillende manier gehoorsaam.
Jy kan na
hulle luister, omdat dit nou eenmaal moet, of omdat jy anders nie sakgeld kry
nie, of omdat hulle dalk anders jou selfoon afvat...
Dan luister
jy net na hulle omdat dit jou lot is.
Maar jy kan
hulle ook eer, liefde en trou bewys.
Jongmense,
dink bietjie na oor hierdie woorde.
Tipeer dit
die manier hoe jy na jou ouers
luister?
EER, LIEFDE, EN TROU?
Om so na jou ouers te luister, sal net werk
as jy besef dat hulle ’n geskenk van God aan jou is.
As jy
Christus agter jou ouers sien, en dat dit sy
wil is om jou deur hulle op te
voed, nie op te voeter – dis die uitsondering – soos Jesus sê, watter ouer sal
vir sy kind ’n klip gee, as hy vir brood vra?
Maar as jy
dus dit besef, dat Christus deur hulle jou opvoed, dan sal dit daartoe lei dat
jy hulle eer, liefhet en vertrou.
Natuurlik
moet die ouers die vertroue ook waarmaak.
Dit wil
egter nie sê dat ouers foutloos moet wees nie.
Die beste
ouers maak foute.
Maar weet jy
wat so mooi is: as sowel jy as jou ouers die Here dien, dan bly die foute
beperk.
Dan is die
gevolge van die foute ook binne perke.
As ouers ’n
fout begaan, en hulle erken dit, dan kan die vrede herstel word, dan word die
deurwerking van die fout geblokkeer.
En dieselfde
geld natuurlik vir as jy as kind verkeerd gemaak het.
Kinders,
veral tieners, kan soms baie ongenuanseerd wees.
Hulle besef
nie altyd hoe onwys en pynlik dinge is wat hulle sê nie.
Hulle besef
nie wat hulle hulle ouers aandoen nie.
Maar as ’n
kind vergewing vra, dan is die vrede weer herstel.
So mag en
kan ons as Christene in harmonie lewe, in die gesin waarin God ons geplaas het.
Die feit dat
Hy ons in ’n gesin geplaas het, is alreeds ’n ongelooflike seën.
Die feit dat
jy ouers het.
Die feit dat
jy nie ’n straatkind is nie.
Om die
harmonie te bewaar is natuurlik ’n kwessie van val en opstaan.
Dit gaan nie
vanself nie, daar moet moeite gedoen word, ook deur jou as kind.
Maar mens
mag lewe met die besef dat dit goed sal bly gaan, solank mens doen wat in
Kolossense 3:1 staan:
“soek die
dinge wat daarbo is”
Oftewel: vra
elk keer wat Christus se wil is.
Want as jy
Christus agter jou ouers sien staan, dan kan dit nie anders of dat jy respek
vir hulle sal hê nie.
En dit
bedoel Paulus in Kolossense 3:20:
“Kinders,
julle moet jul ouers in alles gehoorsaam wees, want dit is die Here
welbehaaglik.
2 Wat Christus van gesagsdraers verwag
’n Pragtige
taak gee God aan ouers.
Maar niemand
sal ontken dat dit ’n moeilike taak is nie.
Want,
geliefde ouers, julle kinders is heilig.
Daarmee
bedoel ek nie dat hulle sondeloos is nie.
Maar dat die
kinders aan die Here behoort.
Christenouers
mag hulle kinders nie opvoed soos ongelowige ouers dit doen nie.
Nie dat
ongelowige ouers nie ook dag en nag sal waak by die siekbed van hulle kind nie,
en nie dat hulle nie ook baie geld oorhet vir hulle kinders nie,
maar die
opvoeding van gelowige ouers staan in ’n baie groter perspektief.
Jy kry die
taak om jou kind op te voed as burger van God se koninkryk.
Jy kry die
taak om jou kind die weg te wys, nie net na ’n geslaagde maatskaplike lewe nie,
maar in die eerste plek na die ewige lewe.
Christenouers
praat daarom met hulle kinders oor die groot dade van die HERE.
Oor al God
se wonders.
Christenouers
bid ook baie vir hulle kinders, selfs nog voordat hulle gebore is, en ook nog
lank nadat hulle die huis verlaat het.
Moenie die
gebed van christenouers onderskat nie.
Soos ’n
spreekwoord sê:
Baie mans
het op hulle voete gebly, omdat hulle ma’s vir hulle op die knieë gegaan het.
Dit is
miskien wel die belangrikste wat ouers vir hulle kind kan doen: bid.
’n Gelowige
opvoeding begin by gebed.
En dit
bedoel ek na twee kante toe.
In die
eerste plek bid jy vir jou kind.
Dat God vir jou kind sal sorg.
Dat Hy jou
kind sal bewaar, en lewenslank op die regte weë sal lei.
In die
tweede plek, en dit is minstens so belangrik, bid jy vir jouself.
As ouers lê
jy voor God rekenskap af van jou opvoedingstaak.
En dit is
uniek, gemeente.
Die feit dat
’n ouers iemand bo hulle het om rekenskap aan af te lê.
Kinders is
nie jou besit nie.
Hulle is en
bly behoort aan hulle Skepper.
As ouers kry
jy die taak om hulle op te voed.
En daarvoor
moet jy rekenskap aflê.
Dit is nie
iets wat bedreigend is nie, maar juis mooi.
Want elke
ouer sal saamstem:
opvoed is
nie iets wat jy uit ’n boekie kan leer nie.
Mense met ek
weet nie hoeveel universiteitsgrade het, selfs in opvoedkunde, sal ook sukkel
om hulle kinders op te voed.
Soms nog
meer selfs.
Maar as christenouer
kan jy daagliks na God toe gaan, en as’t ware by Hom raad vra.
Dinge wat jy
fout gedoen het, daarvoor kan jy by Hom vergewig vra.
Met die
voordeel dat dit jou daarna nie meer hoef te pla nie.
Onsekerheid
kan jy aan Hom voorlê.
En sy Woord
dien as rigsnoer, hoe om verder te gaan.
So pleeg ’n
christenouer steeds oorleg.
Jy hoef nie
die gevoel te hê dat alles net op jou skouers rus nie.
Mens hoor
soms jong paartjies aarselend praat oor kinders kry.
Maar sodra
hulle ’n kind ontvang het, sal hulle sê:
mens kan
maar bitter moeilik vooraf inskat hoe dit sal wees.
Die beste is
om gewoon op God te vertrou.
As Hy vir
jou ’n kind gee, dan gee Hy jou ook krag vir die opvoeding.
Hieruit
spreek die besef dat ’n christenouer nie alles op sy eie skouers hoef te dra
nie.
Daagliks
ontvang jy krag van bo vir hierdie mooi maar verantwoordelike taak.
En hierin
speel daaglikse gebed dus ’n belangrike rol.
3 Hoekom Christus die vyfde gebod handhaaf in ’n sondige wêreld
Tot dusver
het ons na die gesin gekyk.
Maar die Kategismus
sê: almal wat oor my gesag ontvang het.
Daarom het
ons ’n gedeelte uit Romeine 13 gelees.
Daar gaan
dit spesifiek oor die owerheid.
Uit hierdie
hoofstuk is ’n bekende beginsel afgelei, wat ons houding teenoor die owerheid
probeer definieer, nl:
Geen
rewolusie nie, maar reformasie.
Dit het
alles met die vyfde gebod te make.
Die belang
van die vyfde gebod in ’n sondige wêreld.
In ’n wêreld
waar gesagsdraers dikwels totaal onbetroubaar is, en optree asof hulle nie ’n
saak het met Christus wat op die troon sit nie.
Romeine 13
leer ons, kort gestel, dat wie met rewolusie begin, aan die einde van die dag
nog slegter daaraan toe is.
’n Bekende
voorbeeld uit die verlede was die Franse rewolusie aan die einde van die 18e
eeu.
Die
onderdane van die Franse koningshuis het ’n moeilike tyd gehad.
Die gewone
mense is uitgebuit.
Hulle het in
armoede geleef.
Maar die
wrange van die rewolusie is dat na afloop die burgers nog slegter daaraan toe
was.
Daar was
burgeroorlog, derduisende mense het om die lewe gekom.
En die
skrikbewind van Napoleon was nog tien keer erger as dit waaraan hulle gewoond
was.
Dieselfde
hartseer verhaal kan mens ook vertel oor die Russiese rewolusie aan die begin
van die 20e eeu.
Die Bybel
waarsku ons uitdruklik teen rewolusie.
Dit geld nie
net op die terrein van die politiek nie, maar vir alle gesangsterreine.
Ook bv. in
die kerk, by die werk, op die pad ens.
Orals kry
ons te make met gesagsdraers wat nie deug nie.
Tog kan dit
nooit ’n rede wees om hulle gesag langs ons neer te lê nie.
Nie dat
onderdane monddood gemaak word nie.
Kritiek mag
en moet uitgespreek word.
Onderdane
kan ook saam groepeer, om so owerhede onder druk te plaas, om hulle op ’n goeie
manier in die regte rigting in te stuur.
Onderdane
kan ook appeleer op laer owerhede, of ander owerhede, om hulle posisie en
invloed te gebruik om onreg stop te sit.
As mens hoor
hoe ons eie owerheid soms, eintlik moet ek sê, dikwels, aanjaag, dan verloor
mens vertroue in die owerheid.
Dit gaan nie
net oor insidente nie.
Ek gaan nie
nou al die voorbede lys nie.
Skakel môre
maar weer die radio aan, of maak die koerant oop.
Kan mens nog
bid vir die welsyn van die president?
En van al
die hordes ministers?
Of moet mens
eerder bid dat die kabinet tot ’n val kom, sodat hulle vervang kan word met beter
ampsdraers?
Hoe bring
mens die Kategismus se uitspraak in praktyk:
Dat ek my
aan hulle goeie leer en straf met gepaste gehoorsaamheid moet onderwerp en ook
met hulle swakheid en gebreke geduld moet hê, aangesien God ons deur hulle hand
regeer?
En as ons
dink aan die Skriflesing uit Romeine 13:
“Laat elke
mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag
behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel”. (vers 1)
En: “Betaal
dan aan almal wat aan hulle verskuldig is: belating aan die wat belasting, tol
aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom.” (vers 7)
Paulus het
hierdie verse geskryf aan die Christene wat in Rome gewoon het.
Dit was
mense wat in die skaduwee van die paleis van die keiser gewoon het.
As daar
mense was wat op die hoogte was van die wanbeleid van die keiser, dan was dit
die inwoners van Rome.
Maar tog
ontvang hulle hierdie oproep.
En Paulus sê
dit nie op eie houtjie nie, hy doen dit in navolging van die Here Jesus, wat in
Mattheüs 22:21 gesê het:
“Betaal dan
aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.”
Die Romeinse
keiserryk het nie ondergedoen vir die huidige drieparty alliansie in
Suid-Afrika nie.
Tog het
Paulus nie ’n vrybrief vir rewolusie gegee nie.
Nie dat
hulle net ja en amen moes knik nie.
Die
Christene het ’n boodskap, ’n baie kritiese boodskap vir die owerheid.
Die vroeë
Christene het bly bid vir die keiser.
Hulle het
bly werk aan en aandring op reformasie.
God het
hierdie houding van die Christene in die Romeinse Ryk geseën.
Deur kwaad
met goed te vergeld, het die Christene daardie groot ryk vir Christus gewen.
Ek dink aan
’n treffende uitspraak van die kerkvader Tertullianus uit daardie tyd:
‘Ons bid ook
vir die keisers, vir hulle ministers en hulle wat gesag het, dat hulle bewind
kan deurgaan, dat die staat vrede mag hê... As u dink dat Christene nie
belangstel in die welsyn van die keiser nie, lees dan die Bybel.’
So skryf
Tertullianus in ’n ope brief aan die keiser.
Kwaad met
goed vergeld, so is die Romeinse Ryk vir Christus gewen.
Op dieselfde
wyse mag ons ook verder gaan hier in Suid-Afrika.
Respek vir
die owerheid.
Dit is iets
wat ons moet bly behou, ook as die owerheid teleurstel.
Met die
nodige respek oor hulle bly praat.
En hulle ook
van die middele voorsien, wat hulle nodig het om te regeer.
En uiteraard
het ons die taak om wat verkeerd is aan te kaart.
Ons moet
nagaan of ons belastinggeld reg aangewend word.
Daarvoor kan
ons groepeer, in verenigings, of laer of ander owerhede aktiveer om die
owerheid op sy tone te hou.
Maar steeds
wel met die grondhouding van respek.
Selfs as
Christene bepaalde owerheidsbesluite langs hulle neer moet lê, omdat hulle teen
God se gebooie indruis, dan behou ons respek vir die owerheid.
Laat ons die
kwade met die goeie oorwin.
As die
owerheid byvoorbeeld aborsie toestaan, met die gevolg dat meer as
honderdduisend ongebore babas vermoor word elke jaar, dan mag ons nie stilbly
nie.
Ons het die
taak om te protesteer.
Terselfdertyd
bestee ons ekstra tyd en geld aan kinders wat weggegooi is.
Om jou
kragte te gee aan wat goed is, is die beste middel teen die kwaad.
En
ondertussen is ons dankbaar dat ons met ons lewe kan aangaan, en dat ons vandag
hier rustig in die kerk kan sit.
Dit skenk
Christus, wat vanaf die hemelse troon regeer, vir ons.
Christus
staan ook bo ons owerheid.
Dit gee ons
aan die een kant respek, omdat hulle ’n instrument van Christus is.
Dit gee ons
aan die ander kant oor relativeringsvermoë en perspektief, omdat ons weet dat
hierdie owerheid, vroeër of later, rekenskap teenoor God sal moet aflê.
In hierdie
preek is nie alle vrae beantwoord nie.
Maar ons het
probeer om vanuit God se Woord rigting te wys.
Juis in ’n
sondige, onbetroubare en korrupte wêreld handhaaf Christus die vyfde gebod.
Misbruik van
gesag is nog nie ’n wettige rede tot afskaffing van gesag nie.
Dit is die
leuse van die rewolusie.
Misbruik van
gesag onderstreep net meer die noodsaak van hervorming van die gesag.
Hierin het
ons ’n taak ontvang.
En die
kragtigste middel om hierdie taak uit te voer, is die gebed.
Dalk besef
ons dit nou weer meer as in die verlede, noudat ons voel dat ons hande dikwels
afgekap is.
Christus
regeer vanaf sy hemelse troon.
Sy
regterhand is in beheer.
Op ons gebed
kan Hy dinge lei.
Hy sal ampsdraers,
konings, presidente en ministers aanstel en verwyder soos dit Hom uitkom.
Amen.
(kyk in preek)