PRETORIA-MARANATA, 2 Maart 2014 AD, 17:30
Voorsang: Ps
41:1,2
Liturgie:
Votum
Seën
Ps 115:7,8
Gebed
Skriflesing:
Handelinge 16:11-34
Ps 78:1,2
Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 27
Preek
Sb 15:1-3
Gebed
Geloofsbelydenis
(sing)
Kollekte
Sb 15:4-7
Seën
Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 27
Ek het
hierdie preek bietjie anders vorm gegee as gewoonlik.
Dit het
veral te make met die onderwerp wat ons in v/a 74 lees: moet die jong kinders
ook gedoop word?
Soos ons
weet is daar nogal meningsverskil tussen Christene op hierdie punt.
Sommige
gelowiges voel nogal sterk daaroor: dit is heeltemal verkeerd om babatjies te
doop.
Jy kan hulle
hoogstens opdra.
Terwyl ons,
soos hier in Sondag 27, bely dat nie net volwassenes, maar ook jong kinders
gedoop kan word.
Diegene
onder ons was al ooit in ’n gesprek – meestal is dit ’n diskussie – hieroor
betrokke was, of dalk is, weet hoe lastig dit kan wees.
Die gevoel
wat jy kry dat jy mekaar op een of ander manier nie bereik nie.
Nou wil ek
hierdie preek so verwoord, om dit makliker te maak vir mense wat oortuig is dat
die kinderdoop verkeerd is, dat hulle op ’n manier begin insien waarom
gereformeerdes dit wel as belangrik beskou.
U of jy
wonder dalk glad nie daaroor nie.
Wel, in
daardie geval kan hierdie preek jou dalk help om na ander uit te reik.
En of
hierdie boodskap iemand wat die kinderdoop verwerp, sal oortuig, of dalk ten
minste begrip sal bybring, weet ek nie.
Mens kan
iemand nooit dwing om iets te glo nie.
Ons kan maar
net so goed moontlik probeer verwoord hoe ons ervaar dat die HERE in sy Woord
tot ons spreek.
As mens nou
aan die doop aandag skenk, is dit belangrik om in die eerste plek te praat oor
hoé jy die Bybel lees.
Daar is
verskillende manier hoe mense die Bybel lees.
Roomse en
Protestantse mense lees die Bybel byvoorbeeld verskillend.
Roomse mense
vat byvoorbeeld die volgende sinne uit die Bybel letterlik op: “dit is my
liggaam” en “dit is my bloed”.
Volgens
hulle gebeur daar ’n wonder, naamlik dat wyn in bloed verander.
Hulle besef
nie dat hierdie sin eintlik ’n metafoor, vergelyking is nie.
Net soos
Jesus byvoorbeeld ook in die Bybel gesê het:
Ek is die
ware wynstok.
Of: Ek is
die lewende water.
Of: Ek is
die Lam van God.
Hierdie
uitsprake moet mens nie letterlik opvat nie, maar bewus wees van die
beeldspraak.
Nou wat het
dit met die doop te make?
Wel, as mens
regtig wil verstaan wat die Bybel oor die doop leer, is daar meer sake wat aan
die orde moet kom as slegs ’n diskussie of die doop van kinders korrek is of
nie.
Mens moet
ook aandag skenk aan jou hele manier van Bybellees.
Kan mense
die Bybel op verskillende maniere lees?
Ja, dit is
inderdaad, helaas, die geval.
Hoewel die
Bybel duidelik is, kry mense, kry kerke en bewegings dit tog reg om hulle eie
menings in die Bybel in te lees, met alle gevolge van dien.
Wie die
Bybel lees, met die doel om meer inligting oor die doop te vind, kan dit op
verskillende manier doen.
Jy kan
byvoorbeeld ’n soekaksie doen na alle plekke waar die woordjie ‘doop’ voorkom.
Dit bring
mens al ’n hele ent.
Hoewel,
tussen hakies, nie orals waar die woord ‘doop’ in die Bybel voorkom, gaan dit
daadwerklik oor die sakrament van die doop nie.
Dink
byvoorbeeld aan Markus 10:38.
Daar sê
Jesus vir sy dissipels:
“Maar Jesus
sê vir hulle: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat
Ek drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word?”
Hier word
die woordjie ‘doop’ op ’n ander manier gebruik.
Jesus praat
hier oor sy lydensweg, en dat die dissipels veels te optimisties oor hulleself
is, as hulle dink dat hulle Jesus in sy lydensweg kan volg.
Dus sê
Jesus: moenie dink julle is in staat om met hierdie doop gedoop te word nie.
Die woordjie
vir doop in die oorspronklike Griekse taal het hier dus ’n ander betekenis.
Jesus
bedoel: Ek gaan gedoop word, oftewel: Ek gaan ondergedompel word in die
verskriklikste lyding, en moenie dink julle kan My daarin volg nie.
In ons taal
ken ons ook wel hierdie gebruik, dat ons die woordjie ‘doop’ vir iets anders
gebruik:
dink aan die
uitdrukking: ‘n vuurdoop.
Maar goed,
as jy al die kere in die Bybel waar die woordjie ‘doop’ voorkom, opgesoek het,
het jy al ’n hele ent gevorder.
Jy kan al
die voorbeelde in die Bybel opsoek waar mense gedoop word, en waar gepraat word
oor die doop.
En wat dan
interessant is, is dat jy nêrens ’n plek in die Bybel sal vind waar eksplisiet
staan dat ’n kind gedoop word nie.
Alle eksplisiete voorbeelde waar mense in die
Bybel gedoop word, gaan oor volwassenes.
Maar implisiet vind mens dit wel.
Ek bedoel
dat die doop van kinders geïmpliseer word.
Neem
byvoorbeeld Handelinge 2:39.
In vers 38
roep die apostel Petrus die mense op om hulle te laat doop.
En dan sê hy
direk daarna in vers 39:
“Want die
belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die
Here onse God na Hom sal roep.”
Of, neem die
volgende teks: Handelinge 16:27-34.
“En die tronkbewaarder het wakker geword; en toe
hy sien dat die deure van die gevangenis oop was, het hy 'n swaard getrek en
wou homself om die lewe bring, in die mening dat die gevangenes ontvlug
het. Maar Paulus het met 'n groot stem geroep en gesê: Moenie jouself
kwaad aandoen nie, want ons is almal hier. En toe hy lig gevra het, spring
hy na binne en val bewende voor Paulus en Silas neer. En hy het hulle na
buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? Toe sê
hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou
huisgesin. En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan
almal wat in sy huis was. En in dieselfde uur van die nag het hy hulle
geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy
mense. Toe bring hy hulle in sy huis en sit hulle 'n maaltyd voor; en hy
het hom verheug met sy hele huisgesin dat hy tot geloof in God gekom het.“
Hier word
vertel oor die tronkbewaarder van Filippi, en hoe die Evangelie by hom gekom
het.
Paulus het
by hom in die tronk gesit.
In die nag
het al die deure skielik deur ’n aardbewing oopgegaan.
Toe die
tronkbewaarder dit sien, wou hy selfmoord pleeg.
Maar Paulus
het geroep dat hulle almal nog daar was.
En dan volg
die woorde van Paulus in vers 31: “Glo in die Here
Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”
By hierdie opmerking moet mens dink aan sy vrou,
sy kinders, selfs sy slawe.
En dan lees ons verder:
“En in dieselfde uur van die nag het hy hulle
geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense.
Toe bring hy hulle in sy huis en sit hulle 'n maaltyd voor; en hy het hom
verheug met sy hele huisgesin dat hy tot geloof in God gekom het.”
Om te herhaal, nêrens in die Bybel lees ons dus eksplisiet dat kinders gedoop word nie.
Maar implisiet
lê dit voor die hand, en dit sou ’n rare redenering wees om, as die hele
konteks dit impliseer, tog die konklusie te trek dat nie gebeur het nie.
Nou moet ons egter na ’n volgende punt kyk.
En dit is die vraag: waaraan moet ons as
Christene ons hou?
Moet ons slegs dié dinge doen wat eksplisiet in
die Bybel staan?
Of meer, of miskien minder...?
Ek vra hierdie vraag om die volgende rede.
Aan die een kant dink baptiste (ek bedoel mense
wat die kinderdoop verwerp) dat gereformeerdes die spoor byster is, omdat hulle
die kinderdoop handhaaf.
Aan die ander kant dink gereformeerdes dieselfde
oor baptiste.
Sou dit so kon wees dat gereformeerdes die spoor
byster geraak het in die loop van die eeue?
Dit is naamlik wat baptiste oor die
gereformeerdes sê.
Almal stem saam dat daar ’n Reformasie moes kom
uit die Roomse kerk, dat die gereformeerdes tereg gewys het op die Roomse
dwalings.
Maar, volgens die baptiste het die
gereformeerdes halfpad vasgehaak.
Hulle moes nie net breek met die Roomse leer van
die doop – dat dit towerwater sou wees – nie. Hulle moes ook opgehou het om
kinders te doop.
Want dit staan volgens hulle nêrens in die Bybel
nie.
Volgens baptiste is gereformeerdes dus nog
steeds die spoor byster, omdat hulle halfpad die Reformasie vasgehaak het.
Ons hou ons nou met die vraag besig: wie is nou
eintlik die spoor byster?
Miskien was jy al met ’n baptis in gesprek oor
die kinderdoop.
Die kans is groot dat daardie gesprek op ’n
dooie punt geëindig het.
Dat die gesprek gestaak moes word met ’n
onbevredigende gevoel.
Want, die gereformeerde persoon voel dat die
baptis hom nie verstaan nie, as hy praat oor die doop, as hy praat oor die feit
dat die doop ’n teken is van God se verbond wat Hy met sy kinders sluit.
En die baptis dink op sy beurt weer dat die
gereformeerde persoon nie wil luister nie.
Dat hy teen beter wete in bly vashou aan die
leer van SY kerk oor die doop van kinders.
En dit terwyl die Bybel volgens hom niks daaroor
sê nie.
Daarom is dit goed om te besef, dat die gesprek
eintlik ’n bietjie dieper gevoer moet word.
Ek het hierbo al gepraat oor die manier waarop
mens die Bybel lees.
Dit is naamlik nie so nie, dat jy simpelweg kan
sê:
As iets in
die Bybel staan, moet jy dit doen.
En as iets
nie in die Bybel staan nie, mag jy dit nie doen nie.
As mens so
redeneer, sal jy voor ’n aantal onaangename verrassings te staan kom.
Laat ek ’n
voorbeeld noem.
’n Voorbeeld
van iets wat glad nie in die Bybel staan nie, maar wat christene
(gereformeerdes én baptiste) tog gewoon doen.
Daar staan
naamlik nêrens in die Bybel met soveel woorde dat ’n vrou nagmaal mag vier nie.
Ons vind in
die Bybel ook geen enkele voorbeeld van ’n vrou wat nagmaal gevier het nie.
As jy nou
die redenering volg, dat jy slegs mag doen wat met soveel woorde in die Bybel
staan, dan het jy hier ’n probleem.
In sowel
gereformeerde as baptiste kerke vier bekeerde vroue ook nagmaal.
Dus, as jy
so redeneer, loop jy vas.
Die
konklusie lê dan ook voor die hand dat mens eerder soos volg moet redeneer:
Wat daar in
die Bybel staan, moet ons goed bestudeer.
Ons moet
eerlik alle uitsprake in die Bybel oorweeg, ook in die konteks waarin hulle
staan, en vervolgens moet ons hulle op ’n verantwoorde wyse toepas vir ons
persoonlike lewe, vir die kerk, en vir die samelewing.
Om dit op ’n
verantwoorde wyse toe te pas, daarmee bedoel ek dat jy goed op die hoogte moet
wees van die historiese en kulturele konteks van die Bybelse tyd, sodat jy die
bedoeling van ’n uitspraak kan verstaan soos dit bedoel was.
As ons dit
byvoorbeeld op die nagmaal toepas. Die kern waaroor dit in die nagmaal gaan, is
dat alle gelowiges, in onderlinge eenheid, saam ’n maaltyd geniet, en so die
redding van hulle lewe deur die vlees en bloed van Christus herdenk.
Dit is die
kern.
As mens
vanuit hierdie kern verder dink, byvoorbeeld oor die vraag of vroue wel nagmaal
mag vier, dan is die antwoord op hierdie vraag eintlik nie moeilik nie.
Ten minste,
as jy die kernboodskap goed verstaan, naamlik wat die doel van die nagmaal is.
En dan is
dit eintlik voor die hand liggend dat ’n vrou ook aan die nagmaal mag deelneem.
Die
voorbeeld van die nagmaal het ek ter illustrasie genoem.
Dit is ’n
illustrasie van die vraag wat ons besig hou:
Op watter
manier moet jy die Bybel lees?
Ons het nou
al die antwoord bereik dat mens moet soek, vanuit die historiese konteks, na
die werklike bedoeling van Bybelse uitsprake.
Mens kan nie
net ‘n Bybelteks ‘copy en paste’ na ons lewe, sonder om die historiese konteks
waarin ’n uitspraak opgeskryf is, ernstig te neem nie.
Laat ek nog
’n ander voorbeeld ter verduideliking noem.
Nog ’n
voorbeeld wat handel oor die regte manier van Bybellees.
Paulus skryf
in 1 Korinthiërs 11 oor die kopbedekking, of hoofdoek, van vroue.
Hy wys die
vroue in die kerk van Korinte daarop, dat hulle met gepaste klere in die kerk
moet verskyn.
En dit hou
onder andere in, dat hulle iets op hulle kop moet hê.
Hier moet
ons nie direk aan ’n hoed dink nie, maar eerder aan ’n sluier, of ’n kopdoek.
Die
bedoeling was dat slegs haar eggenoot haar hare mog sien.
Dit was die
kulturele konteks van daardie tyd.
Vroue wat
sonder kopdoek geloop het, is direk geassosieer met prostitute.
Nou waarsku
Paulus in 1 Korinthiërs 11 die vroue in Korinte, dat hulle die vryheid wat
hulle in Christus gekry het, nie moet begin misbruik nie.
Want by
sommiges het die vryheid in Christus omgeslaan in losbandigheid.
En dit was
ook te sien aan hulle klere.
Hulle het in
die kerk begin kom sonder ’n kopbedekking.
In daardie
tyd, in daardie kultuur, was die eerste gedagte wat by ’n mens opgekom het, as
jy ’n vrou sien loop het sonder ’n kopbedekking:
dit is
waarskynlik ’n vrou van losse sedes.
En dit is
waarvoor Paulus waarsku:
Besef goed
watter boodskap jy met jou klere kommunikeer.
Dit is dus
die bedoeling van Paulus se uitspraak.
Nie dat
vroue tot in lengte van dae met ’n hoed, of beter gesê, ’n kopdoek, na die kerk
moet kom nie.
Maar dat
vroue, ook in die manier waarop hulle aantrek, die regte boodskap moet
kommunikeer.
En dit geld
vir alle tye.
Dit mag nie
so wees dat jy amper geen verskil sien tussen die klere van ’n christenvrou en
’n vrou van losse sedes nie.
In jou
manier van Bybellees moet jy dus goed let op die bedoeling van ’n uitspraak.
Ten aansien
van die doop geld dit net so veel.
As ons die
gedeeltes waar die Bybel oor die doop praat[1],
lees, en goed let op die bedoeling van daardie tekste, ook in hulle konteks, dan
is die doop nie die teken dat iemand tot bekering gekom het nie (al is doop en
bekering nou aan mekaar verbonde), maar die doop is ’n verseëling van God se
beloftes aan ’n gelowige:
Vergewing of
afwassing van sondes
Vernuwing
deur die Heilige Gees
Ewige lewe
Ens.
Dat God sy
seën, sy beloftes, aan iemand toesê.
En of dit
gebeur wanneer iemand al volwasse is, of dat iemand nog ’n baba is, in beide
gevalle verbind God sy beloftes aan daardie persoon.
Om daardie
rede is daar nie ’n verskil tussen die doop van ’n baba en die doop van ’n
volwassene nie.
As die doop
’n teken of bewys was van die feit dat iemand tot bekering gekom het, dan maak
dit sin dat ’n baba nie gedoop kan word nie.
Maar as die
doop ’n teken of bewys is dat God sy beloftes verbind aan ’n persoon, dan maak
dit wel sin.
En dit is
inderdaad die boodskap wat uit die Bybel na ons toekom:
God het vir
iemand gekies nog lank voordat die iemand vir God gekies en tot bekering gekom
het.
Die doop
beeld as sakrament, as ritueel, nie iets af wat die mens gedoen het nie, maar
dit beeld af wat God vir daardie mens gedoen het en wil doen.
Daarom is doop
altyd ’n passiewe werkwoord.
Jy WORD
gedoop.
Jy kan nooit
jouself doop nie.
God doen dit
met jou.
God doop
jou.
Wanneer die
doop as seremonie dus ’n verseëling is van God se beloftes, ’n beklemtoning dat
God dit werklik aan jou belowe, dan is dit wel belangrik om nie die volgende te
vergeet nie.
Want daaroor
praat die Bybel ook.
As iemand
wel gedoop is, maar nooit in die kerk kom nie, kan hy ook nie baat vind by God
se beloftes nie.
Hy leer nie
om God se beloftes in sy lewe te gebruik nie.
In daardie
geval, as hy nooit in die kerk kom nie, of in die geval van ’n kind wie se
ouers hom nooit kerk toe vat nie, beteken God se beloftes eintlik weinig.
Dis soos
wanneer iemand vir jou ’n motor present gee, maar jy het nie ’n lisensie nie.
Jy het nie
geleer om dit te gebruik nie.
Op dieselfde
manier kan jy vra:
Wat help God
se beloftes vir ‘n kind onbereikbaar is, omdat sy ouers hom nooit na die plek
vat waar die beloftes uitgedeel word nie?
En dit bring
ons by ’n belangrike voorwaarde by die doop.
As God sy
naam aan iemand se lewe verbind, al sy beloftes beskikbaar stel, dan moet daar
’n waarborg wees, dat sy beloftes ook daadwerklik benut gaan word.
Daarom moet
’n volwasse persoon wat gedoop word, eers belydenis van sy geloof aflê.
Hy belowe
dan dat hy altyd by die kerk sal bly, dat hy hom desnoods sal onderwerp aan die
Christelike vermaning en tug (soos die doopsformulier dit verwoord).
Want die
kerk is die plek waar jy God se beloftes ontvang.
Die kerk is
die gemeenskap wat ons bewaar by God se beloftes.
As iemand
gedoop word, gebeur dit dus nie vryblywend nie.
Iemand kan
hom nie laat doop, as hy nie die intensie het om kerklid te bly nie.
Net vir die
duidelikheid, dit beteken nie dat die doop nou tog ’n teken is van die persoon
se bekering nie.
Die doop bly
’n teken van God se beloftes, God se beloofde seëning van jou lewe.
Dieselfde
geld ook as ’n kind gedoop word.
Dan kan die
kind – as dit bv. nog ’n baba is – nie self die waarborg gee nie, maar wel sy
ouers, wanneer hulle tenminste gelowige ouers is.
Die gelowige
ouers, wat wetlik verantwoordelik is, gee hierdie waarborg, as hulle op die
doopvrae antwoord.
Hulle beloof
om die kind christelik op te voed, en te laat opvoed.
Hulle
aanvaar dit as hulle verantwoordelikheid om die kind so groot te maak,
sodat die
kind steeds toegang kan hê tot God se beloftes.
Dis
belangrik om net die volgende misverstand uit die weg ruim.
Dit is nie
so dat dat daar twee dope is, ’n volwasse en ’n kinderdoop nie.
Daar is
slegs een doop.
Of ’n baba
gedoop word of ’n volwassene, dit bly dieselfde doop.
Die feit dat
in een geval die ouers antwoord, en in die ander die persoon self, maak dit nog
nie verskillende dope nie.
Want waaroor
gaan die doop?
Dit gaan oor
die feit dat God Drieënig sy Naam aan ’n sondige mens verbind.
Die doop is
nie ’n teken van die mens nie.
Dis nie ’n teken
van sy bekering nie.
Die doop is
’n teken van ’n aksie van God.
HY verbind
sy Naam aan ’n mensekind.
Kom ons
staan nog vir ’n oomblik stil by die vraag:
Hoe werk
dit?
Hoe gee jy
vir ’n kind kind toegang tot God se beloftes?
Dit hou in
dat jy as ouer die kind saamvat kerk toe.
Dit hou in
dat jy jou kind by die huis leer bid.
Dat jy jou
kind leer om vergewing te vra vir sy sondes.
Want laat
ons wel wees, wie nie geleer het om vergewing te vra nie, kry nie vergewing
nie.
Die belofte
van vergewing kry slegs hy wat opreg en nederig daarvoor vra.
Ouers moet
’n kind ook leer om op God te vertrou, en nie op homself of wie ook al nie.
Jy moet jou
kind voorleef, hoe om elke dag gevoed te word en geestelike energie te kry uit
God se Woord.
Dit is die
manier, baie konkreet, hoe ’n kind, van jongs af, toegang kry tot God se
beloftes.
Langs die
weg van ’n christelike opvoeding, soos die Bybel ons leer.
Om tot ’n
gevolgtrekking te kom: as jy die bedoeling van dit wat die Bybel sê oor die
doop, goed verstaan, kom mens tot die konklusie dat kinders van gelowige ouers ook gedoop behoort te
word. Mens kom tot hierdie konklusie op dieselfde manier as wat mens tot die
konklusie kom dat die Bybel ’n vrou nie verbied om nagmaal te vier nie.
Net so
verbied die Bybel nie dat ’n kind gedoop mag word nie.
In
Kolossense 2 staan dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het.
In Christus
is ons met ’n besnydenis besny, die besnydenis van Christus, deurdat ons met
Hom begrawe is in die doop.
Pragtig word
hier verduidelik hoe die doop die besnydenis vervang het.
By die
besnydenis het bloed gevloei. Dit het vooruit gewys op die kruisdood van Jesus
Christus.
Na Christus
se kruisdood, nadat sy bloed gevloei het, is dit nou nie meer nodig dat daar
nog steeds bloed moet vloei nie.
Daarom het
Jesus die besnydenis laat ophou, en die doop ingestel.
Nie meer
bloed nie, maar skoon water is voortaan die simbool wat gebruik moet word.
In die Ou
Testament, toe die baba’s besny is, het dit gesimboliseer dat hulle ook mag
deel in God se beloftes.
In die Nuwe
Testament mag die kinders ook deel in God se beloftes.
In
gehoorsaamheid aan die bedoeling van die Bybel, kan mens daarom tot die
gevolgtrekking kom, dat God van gelowiges ouers verwag, as hulle hul taak besef
om hulle kinders christelik op te voed, om die kinders te laat doop.
So word
hulle – om Bybelse taal te gebruik – ook erfgename van die beloftes van God.
Net vir die
duidelikheid, die feit dat hulle gedoop word, is nie vir hierdie kinders ‘a
ticket to heaven’ nie.
As hulle
later by die groot word God se beloftes nie gebruik nie, hulle bevoorregte
posisie as verbondskinders nie op waarde skat nie, dan sal hulle nie gered word
nie.
Dan sal
hulle selfs – sê die Bybel – nog swaarder geoordeel word as die ongelowiges.
Ten slotte
kan ons sê:
Gemeente,
jonk en oud, julle is baie ryk.
Ryk met die
kinderdoop.
Ryk aan al
God se beloftes.
Maar die
verantwoordelikheid om julle skouers is daarom ook groot.
As julle,
kinders, as julle, jong mense, deur die doop onderskei word van die kinders van
die ongelowiges,
maar jy leef
tog in elke dag se lewe soos ’n ongelowige – deur te rook en te drink, te veel
te drink, deur losbandig te lewe of te geniet van hulle wat hoer en rumoer op
televisie, in die bioskoop of internet, as jy bv. in jou daaglikse lewe weinig
te bid, en weinig Bybelstudie te doen, dan moet jy daarop reken dat daar ’n
verskriklike maar ook allerverskriklikste oordeel vir jou wag.
Omdat jy
gedoop was en beter kon geweet het.
Jy sal
swaarder geoordeel word as die ongelowiges.
Maar as jy
jou posisie as gedoopte kerklid uitbuit, en opgroei tot ’n verantwoordelike,
ordentlike, bedagsame en veral opregte persoon, dan kan jy verwag dat die HERE
jou en jou toekoms, en jou gesin mog Hy dit aan jou skenk, baie ryklik gaan
seën.
Amen.
[1] bv. Matt 18:18-20; Mark 16:15-16; Hand
2:37-39; Hand 10:47; Hand 22:16; Rom 6:3-4; 1 Kor 6:11; 1 Kor 12:13; Gal
3:26-29; Ef 5:25-27; Kol 2:9-15; Titus 3:4-7; 1 Petr 3:18-22.
(kyk in preek)