PRETORIA-MARANATA,
19 Oktober 2014 AD, 17:30 (nagmaal)
Voorsang:
Ps 128:1-4
Votum
Seën
S: Ps
142:1,6
Gebed
Nagmaalsformulier
Ps
31:1 (tafel in gereedheid)
Viering
nagmaal. Aan tafel: Skriflesing: Mattheüs 6:1-18 & Lukas 18:9-17; Sb 28:1
Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 46
Preek
Ps
123:1
Gebed
Geloofsbelydenis
(Nicea)
Ps
31:3
Kollekte
Slotlied:
Ps 33:1,11
Seën
Preek:
Heidelbergse Kategismus Sondag 46
Hoekom leer Christus ons juis bid: Onse
Vader, wat in die hemele is?
Hoekom begin Hy die gebed wat Hy vir ons geleer het, juis met hierdie
woorde?
Dit is waarna ons in hierdie preek gaan kyk.
Ek verkondig u God se Woord onder hierdie tema:
Tema: Uit
die begin van die volmaakte gebed spreek vertroue en ontsag
1 Vertroue
2 Ontsag
1 Vertroue
Christus wil onmiddelik aan die begin van ons gebed in ons die kinderlike
vrees en vertroue op God wek.
Alle gebede begin nie op dieselfde manier nie.
Sommige mense begin hulle gebede op ’n heel ander manier.
Daar is verskillende gewoontes oor hoe mens ’n gebed begin.
Ek wil vandag vir u ’n voorbeeld vertel van hoe dit ook in die Bybelse tyd
gebeur het.
En daarvoor neem ek u na die land Italië, na die Romeine wat in dieselfde
tyd as Jesus geleef het.
In die Bybel word oor hulle gepraat as heidene.
Ons kyk vir ’n oomblik na die manier hoe hulle ’n gebed uitgespreek het, as
hulle ’n offer gebring het.
Die persoon wat die offer gebring het, mog self nie gebid het nie.
’n Priester wat daarvoor opgelei was, het die gebed uitgespreek.
Jy moes naamlik presies die korrekte aanspreekvorme in jou gebed gebruik.
’n God het verskillende name gehad, en die priester mog nie een vergeet
nie, anders was die offer dalk nie effektief nie.
Die betrokke god kon hom dalk vererg oor die feit dat jy een van sy name
vergeet het, en daarom jou versoek nie inwillig nie.
Dikwels het die priester daarom nog aan die einde van die gebed vir die
veiligheid bygevoeg: of watter naam u ook al graag sou wou hoor...
Wat ook moes gebeur, was dat die priester alle moontlike blyplekke van die
god moes opnoem.
Sê nou maar die betrokke Romeinse god het op ’n bepaalde berg in Italië
gewoon, dan moes die priester die naam van daardie berg noem.
Sê nou maar die betrokke god het meerdere blyplekke gehad, byvoorbeeld ’n
somerverblyf en ’n winterverblyf, dat kon die priester vir die sekerheid
liewerste altwee plekke noem.
Of sê nou maar die god was dikwels op besoek by ’n godin êrens in
Griekeland, dan moes die priester ook die naam noem van die plek waar die godin
gewoon het.
En so kon dit gebeur dat die priester vir ’n kwartier of langer besig was
om alle name van die god op te noem, en ook alle moontlike blyplekke.
En dan, daarna, as die priester die versoek van die persoon wat die offer
kom bring het, onder woorde bring, moes die versoek ook op die korrekte wyse
geformuleer word.
Natuurlik so duidelik moontlik, sodat daar geen misverstande kon ontstaan
nie.
Sê nou maar die persoon wou dat daar reën op sy plaas sou val, dan moes die
priester nie net die naam van die plaas en die eienaar van die plaas noem nie,
want daar kon miskien meer plase wees met dieselfde naam, en dit sou per
ongeluk kon gebeur dat die god die reën na die verkeerde plaas stuur.
Dus moes die priester nie net die naam noem nie, maar ook ’n uitgebreide
beskrywing gee van waar die plaas geleë is, hoe dit lyk, ensovoorts.
Eintlik ’n gebed wat ’n mens kan moeg maak.
Want vir die sekerheid moes die priester die versoek ook ’n paar keer
herhaal, vir die geval dat die betrokke god vir ’n oomblik nie geluister het nie.
Sê nou maar die god het juis op daardie oomblik aan die slaap geraak.
Dink maar aan hoe Elia destyds die Baälpriesters gespot het by die berg
Karmel:
Miskien moet julle ’n bietjie harder roep, want dit sou kon wees dat julle
god Baäl aan die slaap geraak het!
Roep harder, want hy is dalk in gepeins, of hy het hom seker afgesonder.
Hy het hom seker afgesonder – hierdie uitdrukking het in daardie tyd
beteken – hy is dalk toilet toe.
Of hy is seker op reis; miskien slaap hy en moet wakker word. (1 Konings 18:27).
En inderdaad, die priesters het met al hierdie moontlikhede rekening gehou.
Inderdaad, hulle god sou dalk aan die slaap kon geraak het.
En hulle het harder geroep en het selfs volgens hulle gebruik met swaarde
en spiese hulleself stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het. (1
Konings 18:28)
Gemeente, as mens dit so hoor, verstaan mens wat Jesus bedoel het toe Hy in
Mattheüs 6(:7-8) gesê het: “En as julle bid, gebruik nie ’n ydele herhaling van
woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde
verhoor sal word. moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat
julle nodig het voordat julle Hom vra.”
Wat ’n verskil!
By die een god moet jy as mens allerlei voorsorgsmaatreëls tref.
Allerlei rituele moes rondom die gebed uitgevoer word.
Agter al hierdie rituele skuil die diepgewortelde angs of dit wel sal slaag
om kommunikasie te bewerkstellig met die gode.
Agter hierdie rituele proe mens ook die besef dat dit nie maklik is nie om
kontak met die gode te maak nie.
Nie maklik nie, maar tog noodsaaklik, aangesien menslike geluk wel
afhanklik is van die samewerking van die gode.
Wat ’n verskil!
Hierdie was eintlik baie berekende gebede.
’n Houding van vroomheid, nederigheid, het nie die botoon gevoer nie.
Hierdie gebede het eerder gepas in ’n omgewing van handel dryf.
’n Offer is gebring, ’n geskenk is so aan die god aangebied.
En in ruil daarvoor is daar ’n guns verlang, wat in die gebed uitgespreek
is.
En dit is eindeloos herhaal, sodat daar nie ’n kans was dat die god dit kon
misverstaan nie.
Hulle moes dit gewoon verstaan het.
Maar dan sê Jesus:
Moet nie soos die heidene word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het
voordat julle Hom vra!
Ons hemelse Vader is alwetend, Hy is alomteenwoordig, Hy slaap nog sluimer
nie, Hy sien alles, hoor alles, en weet alles, nog voordat ons die gedagte
uitgespreek het!
Nog ’n verskil met die heidense gebruike is dat dit nie net ’n priester is
wat in staat is om te bid en met die god kontak te maak nie.
Nee, die dissipels het vir Jesus gevra:
Here, leer ons om te bid.
En Jesus het dit gedoen.
Elke gelowige mag direk tot God bid.
En wat so mooi is, hoe moes die dissipels bid?
Hulle moes die gebed begin met die woorde:
Onse Vader.
Hierdie aanhef is baie opvallend, vir twee redes.
In die eerste plek: dat jy God Vader mag noem.
Hy is nie ’n verre onbekende God nie.
Hy is jou Vader.
Hy staan naby jou, Hy sorg elke dag vir jou.
En in die tweede plek:
Die feit dat hierdie aanhef in die gebed wat Jesus ons geleer het, so kort is.
Ons begin ons gebed nie met ’n elle lange lys van alle moontlike name
waarmee God aangeroep kan word nie.
Jesus sê: noem Hom Vader.
Jy hoef nie te probeer indruk maak nie.
Al wat jy hoef te sê is: Vader.
Meer nie.
Dan weet God dit al: sy kind wil met Hom praat.
Want, sê Jesus, selfs nog voordat jy bid, weet jou Vader al wat jy nodig
het.
Die Kategismus verwoord hierdie gedagte baie mooi:
Christus wil by die begin van ons gebed in ons die kinderlike vrees en
vertroue op God wek.
Kinderlike vertroue.
Dit is iets wat die heidene nie teenoor hulle gode gehad het nie.
Hulle was, eerlik gesê, bang vir hulle gode.
Hulle godsdiens was gedrewe deur angs, deur die besef van wedersydse
afhanklikheid.
‘God’ het ons offers nodig, anders oorleef hy nie.
En ons het sy seën nodig, in die vorm van genoeg reën en son, vrugbaarheid,
beskerming ensovoorts.
Geen kinderlike vertroue nie, maar ’n berekende godsdienstige spel, gedryf
deur angs.
Angs en die wil om te oorleef.
Maar Jesus leer ons: vertrou op God, soos ’n kind op sy vader.
God het immers deur Christus ons Vader geword en Hy sal niks weier nie wat
ons in geloof van Hom vra.
(Tema: Uit die begin van die volmaakte gebed spreek vertroue en ontsag
1 Vertroue)
2 Ontsag
Die aanhef van die Onse Vader wat Jesus ons leer, wil ons behalwe vir
vertroue, ook ontsag bybring.
Die woordjie ontsag word
verduidelik in v/a 121.
Dit gaan nou spesifiek oor die enkele toevoeging: wat in die hemele is.
In teenstelling tot die gebede van die heidene, word nie alle moontlike
verblyfplekke van ‘n god genoem, waar hy moontlik sou kon wees nie.
By die huis, of op sy vakansie-adres, of by die godin waarmee hy bevriend
is...
Daar word hier slegs een plek genoem:
Onse Vader, wat in die hemele is.
Miskien weet u al, maar die feit dat hier ’n meervoud gebruik word – hemele – hou verband met die wêreldbeeld
van daardie tyd, die tyd van die Bybel.
Die woord vir hemel het naamlik onderskeid gemaak tussen drie plekke:
Die eerste hemel was waar die wolke is.
Die tweede hemel is die plek van son, maan en sterre.
En die derde hemel is die woonplek van God.
Paulus skryf op ’n bepaalde oomblik, dat hy ’n visioen gehad het, en dat hy
deurgedring het tot in die derde hemel.
Hy skryf in 2 Korinthiërs 12 oor homself:
“Ek weet van ’n man in Christus, veertien jaar gelede – of dit in die
liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit – dat
so iemand weggeruk is tot in die derde hemel.” (v2)
In elk geval, al wat Jesus met hierdie aanhef bedoel, as Hy sê – wat in die hemele is – dis nie ook ’n
verwysing na alle moontlike blyplekke van die god nie, dit is hoegenaamd nie
die bedoeling van hierdie woorde nie.
Ons voeg hierdie woorde – wat in die
hemele is – glad nie aan ons gebed toe om dit daarmee as’t ware in die
regte rigting te stuur nie, soos wat mens op ’n brief die regte adres moet
skryf, anders kom die brief nie aan nie.
Dit is heeltemal nie die bedoeling van hierdie woorde – wat in die hemele is – nie.
Hoekom hierdie woorde in die gebed staan, het ’n ander rede.
Dit het naamlik te make met die woordjie ontsag.
Antwoord 121 van die Kategismus sê tereg:
Hiermee leer Christus ons dat ons van die hemelse majesteit van God nie
aards sal dink nie, en van sy almag alles wat nodig is vir liggaam en siel, sal
verwag.
Ontsag!
Dit is waaroor dit gaan.
Dit is nie so dat ons as mense nie ’n idee het waar God presies is nie,
soos die geval was by die heidene met hulle gode.
Ons weet dat God selfs alomteenwoordig is.
Wie tot Hom bid, selfs al noem iemand nie die woorde – wat in die hemele is – sal tog deur God gehoor word.
Ontsag, dit is dus waaroor dit gaan.
Dat ons van die hemelse majesteit van God nie aards mag dink nie.
Dit is ’n baie belangrike opmerking.
Ons het in hierdie preek tot dusver aandag geskenk aan die teenstelling
tussen ’n Christelike en ’n heidense gebed.
Die groot verskil.
Hoe tragies dit is as mens sien hoe heidene in angs lewe, hoe hulle die
behoefte voel om te bid, maar nie weet hoe nie.
En hoe geweldig dit is dat ons in vertroue
tot God kan nader.
Maar, gemeente, daar is nog ’n teenstelling in die gedeelte wat ons uit die
Bybel gelees het, en dit het dan veral te make met die woordjie ontsag.
Om ontsag vir God te hê.
Ek dink dan veral aan Mattheüs 6:5-6.
Jesus sê daar:
“En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; want hulle
hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid,
om deur die mense gesien te word. Voorwaar Ek sê vir julle dat hulle hul loon
weg het. Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid
jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien,
sal jou in die openbaar vergelde.”
In hierdie hoofstuk word daar ook nog twee ander voorbeelde genoem,
voorbeelde van ’n verkeerde houding.
Jesus sê in vers 2 byvoorbeeld:
“Wanneer jy dan liefdadigheid bewys, moenie ’n trompet voor jou blaas soos
die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen, dat hulle deur die mense
geëer kan word nie. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg. Maar jy,
as jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen
nie”
En die derde voorbeeld van ’n verkeerde houding gaan oor vas.
Jesus sê:
“wanneer julle vas, moenie lang gesigte trek soos die geveinsdes nie; want
hulle mismaak hul gesigte, sodat dit deur die mense gesien kan word dat hulle
vas. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg. Maar jy, as jy vas, salf
jou hoof en was jou gesig, sodat jy nie die mense laat sien dat jy vas nie,
maar jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene
sien, sal jou in die openbaar vergelde.” (Matth. 6:16-18)
’n Verkeerde houding.
Jesus gebruik telkens die benaming: geveinsdes, of huigelaars.
Mens kan ook sê: skynheiliges.
Baie intiem praat hulle met God in hulle gebed.
Dink aan die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar.
Altwee het opgegaan na die tempel.
Die Fariseër het GESTAAN, dit word spesifiek genoem: hy het gewoon bly
staan.
En hy het by
homself gebid:
O God, ek dank U, dat ek nie so is soos die ander mense nie;
die rowers, onregverdiges, die egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar
nie.
Ek vas twee keer per week, ek gee tiendes van al my inkomste...
Maar die tollenaar wou nie eens sy oë na die hemel ophef nie.
Hy het op sy bors geslaan – dit was ’n teken van berou en verdriet – en
gesê:
O God, wees my, sondaar, genadig.
Skynheiliges.
Jesus kon hulle nie vat nie.
Mense wat altyd die voorste sitplekke moes inneem.
Mense wat hulle godsdienstigheid uitgestal het.
Jesus het oor hulle gesê:
Die een wat homself verhoog, sal verneder word.
En die Kategismus verwoord dit soos volg:
Christus leer ons om van die hemelse majesteit van God nie aards te dink
nie.
Gemeente, kom ons pas dit ook op onsself toe.
’n Belangrike kenmerk van die Gereformeerde teologie, van van hoe ons Christene
is, is die feit dat ons besef dat ons verbondskinders is.
Ons lewe met die besef dat ons Vader altyd bereikbaar is.
As verbondskind kan ons vertroulik met Hom omgaan.
Maar, daar is ook ’n risiko.
’n Risiko, omdat ek en jy ’n sondige mens bly tot ons sterfdag.
Die risiko dat ons gemeensaam raak.
Dat ons brutaal raak.
Dat ons nie meer ontsag ken nie.
Dat jy nie meer besef dat jy te make het met die hemelse majesteit van God
nie.
En so kan dit, as jy jouself nie in toom hou nie, so kan dit sommer gebeur
dat jy bid, soos wat jy daaglikse gewoond is, maar dat jy begin bid met ’n
oneerbiedige houding.
Jy was dalk nounet nog kwaad vir iemand, en nou moet daar voor die maaltyd
gebid word, en met ’n bose toon bid jy jou gebed.
Of dit kan gebeur dat jy haastig is, almal om die tafel is nog nie stil
nie, maar jy begin solank te bid.
Of dit kan gebuer dat jy saans al in die bed lê en nog ’n gebed bid, maar
jy is al so moeg dat jy halfpad aan die slaap raak.
Of dit kan gebeur dat jy, as jy bid op Bybelstudie of katkisasie, dat jy
halfpad jou gebed begin lag oor iets.
Of nog erger, as jy in die kerk is, of op Bybelstudie, of by die huis, as
daar gebid word, maar dat jou gedagtes op ’n ander plek is, en jy nie daaraan
dink dat jy nou besig is om met God te praat nie.
Gemeente, dan is hierdie vir ons ’n baie noodsaaklike les, wat ons hier in
v/a 121 vind.
Laat ons nie gemeensaam, aards, die hemelse majesteit van God benader nie.
Hoe erg sal dit nie wees nie as ook vir ons geld wat Jesus gesê het:
Hulle het hulle loon weg.
Dit wil sê: hulle het klaar hulle loon ontvang.
Soos die Fariseërs wat bewonder is deur die sondaars, voor wie se oë hulle staan en bid het.
Daardie bewondering was hulle loon, maar meer nie.
Na hierdie lewe staan hulle geen beloning meer te wagte nie, behalwe vir
die buitenste duisternis.
Laat ons dus besef tot wie ons bid.
Juis as verbondskind.
Ook al is jy al 70 jaar of ouer.
Elkeen van ons bly maar ’n nietige skepsel.
God is almagtig.
Danksy Christus se genade mag ons Hom aanroep.
In Jesus se naam mag ons selfs alles wat ons vir liggaam en siel nodig het,
van Hom verwag.
Maar ook al lewe ons al ons hele lewe in die verbond met Hom, bly dit nog
steeds geld:
Jy is op de aarde en God is in die hemel.
So, om af te sluit, sorg hierdie kort aanhef van die gebed wat Jesus ons
geleer het – onse Vader wat in die hemele
is – vir sowel ontsag as vertroue.
(kyk in preek)