Jesus Christus, die heerlike versekering

Minister: 
Ander
Church: 
Maranata
Date: 
2015-04-19
Text: 
Kolossense 1 : 27b-28
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
19 April 2015 AD, 10:15

Voorsang: Sb 9:1,4,5,6

Votum

Seën

Ps 111:1,2

Wet

Ps 111:4,5

Gebed

Skriflesing: Kolossense 1:1-2:3

Ps 146:6,7

Teks: Kolossense 1:27b-28

Preek

Ps 147:2,3,4

Gebed

Kollekte

Ps 65:3,4

Seën

Preek: Kolossense
1:27b-28

Ons as mense het die gewoonte om
onsself te verseker.

Dit is veral nodig vir mens se
oudag, as jy nie meer kan werk nie, en nie meer geld verdien nie.

Daar bestaan verskeie soorte
lewensversekerings, risikodekkings.

Aandeleportefeuilles waarmee mens
geld spaar, geld belê vir jou oudag.

Geld wat jy dan gaan nodig hê.

‘n Oudag sonder finansiële sorge
is in ons land nie ‘n vanselfsprekendheid nie.

Verder, as mens ouer word, word
die kans op siektes ook groter.

Daarom moet mens ‘n goeie mediese
versekering hê.

Behalwe vir dit moet mens bewus
gesond probeer lewe.

Genoeg liggaamsbeweging,
ongesonde dinge vermy.

So verseker jy dat jou liggaam
met aftrede nog redelik in orde is.

 

Tog weet elkeen van ons dat al
hierdie versekeringe ‘n onsekere element het.

As die ekonomie byvoorbeeld in
die toekoms platval, of as die politiek aanjaag.

As daar dalk ‘n oorlog uitbreek
wat al ons besittings met die grond gelyk maak.

Of as ‘n ernstige ongeluk ons
tref.

As daar plotseling ‘n ongeneeslike
siekte in ons liggaam gekonstateer word.

 

En selfs as hierdie dinge nie
gebeur nie, kan jy nog jouself afvra:

Waarvoor leef ‘n mens eintlik?

Die gemiddelde mens werk vir ‘n
paar dekades, verdien geld, gee dit uit,

En aan die einde van sy lewe
begin ouderdom, siekte en pyn die oorhand te kry, totdat uiteindelik die dood
daarop volg.

Waarvoor leef mens eintlik?

 

 

Tema: Jesus
Christus, die heerlike versekering

1                  
Hy word aangebied aan elke mens

2                  
Hy word verkondig om elke mens te
volmaak

 

1       Hy word aangebied aan elke mens

Ons teks begin
met die woorde: dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid.

Die nuwe direkte vertaling in
Afrikaans vertaal: die hoop op die heerlikheid.

Dit is nie ‘n vae hoop nie.

Met hoop word hier bedoel:
versekering.

‘n Onderpand, ‘n verskering.

Daarom het ek ook vir daardie
woord in die tema gekies: Jesus Christus, die heerlike versekering.

 

Voordat ons gaan kyk wat hierdie
tema vir ons beteken, kom ons kyk eers aan wie hierdie woorde die eerste gerig
was.

Hierdie brief is geskryf aan die
Kolossense.

Die mense wat in Kolosse gewoon
het, ‘n stad in die binneland van Klein-Asië, die hedendaagse Turkye.

Paulus het hierdie gebied, en
waarskynlik ook hierdie stad, besoek tydens sy 2e en 3e sendingsreis.

Die kerk te Kolosse is egter nie
deur Paulus gestig nie, maar deur Epafras.

Epafras was ‘n medewerker van
Paulus.

En die oomblik wanneer Paulus
hierdie brief geskryf het, was net nadat Epafras hom in die gevangenis besoek
het.

Paulus het naamlik in die tronk
gesit.

Soos ons uit die boek Handelinge
weet, het Paulus meer as een keer in die tronk gesit.

Waar hy presies op hierdie
oomblik gevange was, is nie heeltemal seker nie.

Dit was of toe hy in die tronk
was in Caesarea, of in Rome.

Dit was êrens in die jare 59-62
na Christus.

Epafras, wat goed bekend was met
die situasie in die gemeente van Kolosse, het Paulus op die hoogte gebring van
een en ander.

En danksy die nuusberigte van
Epafras was Paulus in staat om hierdie spesifieke brief te skryf.

Hierdie brief gaan veral in op
die dwaalleer wat begin veld wen het in die gemeente van Kolosse.

Paulus noem dit ‘n valse
evangelie, ‘n halwe evangelie.

Bepaalde heidense en Joodse
gewoontes is vermeng met die diens aan Christus.

In Kolosse het ook baie Jode
gewoon.

En die Christene, wat vir ‘n
groot deel van oorsprong Jode was, was dus nog op allerlei manier aan die Jode
en die Joodse lewenswyse verbonde.

Deur familiebande, deur huwelike,
deur sakeverhoudings, en noem maar op.

Daarom dat dit baie van hierdie
Christene eintlik gepas het om spreekwoordelik bietjie water by die wyn te
doen.

Om nie al te radikaal Christen te
wees, maar om goeie vriende met die Jode te bly.

En daar was mense in die gemeente
wat dit gepropageer het met ‘n nuwe leer.

‘n Nuwe leer wat dit moontlik
gemaak het om net halfslagtig Christen te wees.

 

Nou was dit natuurlik glad nie
verkeerd van die gemeentelede dat hulle goeie verhoudings met hulle Joodse
familie, bure of kollegas wou handhaaf nie.

Paulus was self ‘n Jood, en dit
is presies wat hy ook wou.

Wat vir Paulus egter onopgeefbaar
was, is dat Christus die Messias is, en dat elke mens Hom so behoort te bely.

As die nuwe leer hierdie element
afgeswak het, dan was daar ‘n groot probleem.

Wat hierdie saak betref kan jy
nie halfpad Christen wees nie, wie jy ook al is, Jood, of Griek, of wie ook al.

Paulus wys in hierdie brief op
die kosmiese betekenis van Christus.

Om Christus te dien, om in Hom te
glo, het konsekwensies vir jou hele lewe.

In hierdie brief staan Christus
sentraal.

Christus, en nie verskillende
religieuse voorskrifte nie.

Religieuse gebruike vorm nie die
versekering vir die toekoms nie, maar die Persoon Christus alleen.

Die hele lewe draai om Jesus
Christus.

Paulus spreek dus, in
teenstelling tot sommige dwaalleraars in Kolosse, oor die volkome verlossingswerk van Christus.

Sy verlossing hoef nie aangevul
te word met religieuse tradisies, hetsy Grieks of Joods.

Christus moet aanbid word, met
die hele lewe. Dis al.

Want Hy regeer.

Hy het alles in orde gemaak.

Hy is ‘n omvattende versekering.

Dit is die misterie, die
verborgenheid (die woord wat in ons teks hiervoor gebruik word), die geheim van
die evangelie.

 

Misterie of verborgenheid –
hierdie woord was nogal in die mode – destyds in Kolosse.

Die dwaalleraars het beweer dat
hulle die mense kon inwy in die misterie.

Die geheime kode, die stappe hoe
om met God vrede te kry.

Hoe om met ‘n trap, of ‘n leër,
van allerlei religieuse praktyke, op te klim tot God.

Hierdie soort misteries, verborge
kultusse, mens kan dit vandag ‘n bietjie vergelyk met die New Age beweging, of
met Oosterse kultusse soos yoga, of byvoorbeeld die kultus van die
vrymesselaars.

Misteries waar jy ingewy kan
word, en waarin jy stadig kan opklim, deur bepaalde voorskrifte uit te voer.

Misteries, dit was baie in die
mode in Kolosse.

En wat maak Paulus nou?

Paulus dryf eintlik ‘n bietjie
die spot met hierdie misteries.

Hoekom?

Hy skryf naamlik oor die
misterie, die geheimenis van Christus.

En let wel, die evangelie is ‘n
geheimenis wat aan elke mens onthul word!

Dit is natuurlik teenstrydig.

‘n Misterie wat aan elke mens
onthul word, is mos nie meer ‘n misterie nie!

 

Ja inderdaad, aan elke mens
bekend gemaak.

Dit was eintlik ‘n teleurstelling
vir die Kolossense.

As elke mens dit mag hoor, dan
kan die ingewydes hulle nie meer onderskei nie.

Dan kan hulle nie meer pronk, in
die sin van: ons weet iets wat julle nie weet nie...

Dan – as almal alles mag weet –
dan word die dwaalleraars, daardie mense wat beheer gehad het oor die
misteriekultus – dan word hulle in hulle eer aangetas.

En moontlik dat hulle dit ook in
hulle sakke gevoel het.

Ek bedoel: finansieel.

Want so het dit ook gewerk: daar
het ‘n pryskaartjie daaraan gehang om ingewy te word in ‘n misterie.

 

Maar, dit is die wonderlike, die
Evangelie van Christus is openbaar, en
dit is gratis.

Hierdie geheimenis wil God bekend
maak, nie net aan die Jode nie, maar selfs aan die heidene!

Vir Paulus as ‘n Jood, as ‘n
eks-Fariseër, om dit te skryf, is nogal iets!

Selfs vir die heidene is hierdie
blye boodskap bedoel.

Vir elke mens.

Tot drie keer toe staan daar in
ons teks: elke mens.

Paulus benadruk dit geweldig
sterk.

Die misterie van die Evangelie
mag geopenbaar word aan elke mens!

Jesus Christus is die heerlike
versekering vir elke mens.

Dit is in skril kontras met die
opvattings van baie Kolossense.

Volgens hulle het jy stapsgewys
meer versekering ontvang, soos wat jy dieper ingewy is in een van die
misteriekultusse.

Ten minste, dit was die
bedoeling, dis waarop jy gehoop het.

Want aan die begin van so ‘n
misteriekultus het jy natuurlik nog nie insae ontvang in wat alles eers later
sou volg nie.

En hierdie kultusse was
eksklusief, dit was nie so dat elke persoon dieselfde versekeringe daaruit
ontvang het nie.

 

Maar hierteenoor staan dus die
Evangelie.

Die goeie boodskap oor Jesus
Christus.

Dit is ‘n heerlike versekering
vir elke mens.

En vanaf die begin weet jy al
presies wat jy aan Hom het.

Daar’s nie klein lettertjies in
die Evangelie, soos in ‘n versekeringskontrak, wat mens eintlik sou moet lees
maar wat amper niemand doen nie.

Klein lettertjies waarin allerlei
uitsonderings verwoord word, vir wanneer die versekering nie sal uitbetaal nie.

Die Evangelie van Christus is ‘n heerlike versekering.

Jy weet presies wat jy ontvang.

 

Soos in die inleiding genoem, ons
as mense verseker ons vir die toekoms.

Om jouself te kan verseker, het
jy geld nodig.

Wie geen geld het, het nie
toegang tot die versekeringswêreld nie.

Maar met die Evangelie is dit dus
anders.

Wat ‘n heerlike versekering bied
die Evangelie!

Jesus Christus, die vaste hoop,
die versekering vir die toekoms.

En Hy word dus aangebied aan elke mens.

Dit is die boodskap van die
eerste punt van die preek.

En dit geld vandag nog net so
veel.

Wie daar ook al die kerk
binnekom, wie ook al die erediens kom besoek, aan elke persoon word hierdie
heerlike versekering aangebied.

Nie net as jy al jare lid van die
kerk is nie.

Ook vir die nuwelinge, 100%
dieselfde versekering.

Jesus Christus, die heerlike
versekering.

 

(Tema: Jesus Christus, die
heerlike versekering

1       
Hy word aangebied aan elke mens)

 

 

2       Hy word verkondig om elke mens te volmaak

Die Evangelie is dus nie ‘n
geheime kultus nie.

Die Bybel is die boek wat die
meeste verkoop word in die wêreld.

God, wat die outeursregte het,
laat enigiemand toe om dit te druk of te kopieer.

En die kerk is ook nie ‘n geheime
of geslote organisasie nie.

Alle eredienste is publiek.

Niemand word belet om ‘n erediens
by te woon nie.

 

Dit wil egter nie sê, dat alles
outomaties gebeur nie.

Jesus Christus maak elke mens
volmaak.

Maar dit gebeur nie ongemerk, of
outomaties nie.

En dis is waarna ons in die
tweede punt gaan kyk.

Dit wat daar verder in ons teks
staan:

Paulus sê: terwyl ons elke mens
vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig.

En sodoende, langs hierdie weg
van vermaan en onderrig, maak Christus ‘n mens volmaak.

 

Daar is baie kultusse en
godsdienste in hierdie wêreld.

Wat is eintlik die verskil tussen
die Christelike geloof en al die ander godsdienste?

Om dit kort, maar nie minder
duidelik, te sê: die geloof in Christus is die enigste godsdiens wat saligheid,
volmaaktheid, bring buite die mens
om.

En die woorde in ons teks: terwyl ons elke mens vermaan, het
hiermee te make.

Dit klink dalk vreemd.

Paulus skryf oor iets geweldigs:
Christus, die hoop op die heerlikheid, Christus die heerlike versekering, en direk
daarna skryf hy dat mense vermaan moet word.

Dit gaan daaroor dat die boodskap
van redding van buite af kom.

Dit is nie so dat die mens homself opwerk na die volmaaktheid, deur
watter weg of godsdiens ook al nie.

In Kolosse het die mense
hulleself toegewy aan verskillende kultusse, om hulleself so op te werk na God
toe.

Vandag gebeur dit ook nog, daar
bestaan ek weet nie hoeveel kultusse en organisasies, waarin mense hulle heil
probeer vind.

Daar is so baie religies op die
mark, van Islam tot Boeddhisme.

Selfs die wetenskap en
tegnologiese vooruitgang het ‘n godsdiens geword waarin mense hulle toekomstige
sekuriteit soek.

Miskien, dink sommiges, dat die
mensdom langs die weg van die wetenskap tot volmaaktheid kan kom.

En ondertussen verseker ons onsself
so goed moontlik, van kop tot tone, om ‘n so volmaak moontlike lewe te kan lei.

Maar by dit alles moet die mens
dit self opbring, die mens moet self opklim na die volmaaktheid toe.

 

In kontras hiermee staan die
Evangelie, waar die redding van buite af kom.

Volmaaktheid is daar slegs deur
Jesus Christus.

Daarom is ‘n onmisbare element
van die Evangelie juis ook vermaning, of teregwysing.

Elke mens se lewensrigting moet
volledig omgebuig word.

‘n Totale ommekeer, bekering, is
nodig.

Dit is nodig vir elke mens, ook
vir daardie mens wat in die kerk gebore word.

Dit is ‘n groot voorreg as
hierdie vermaning al van kindsbeen af mag begin.

Dat ‘n mens van kleins af leer om
sy sondige natuur te bestry.

En om Christus aan te gryp as die
enige weg tot volmaaktheid.

In Efesiërs 6:4 sê Paulus:
vaders, voed julle kinders op in die tug en vermaning van die Here.

Dit beteken nie dat ‘n pa sy
kinders nie liefhet nie as hy hulle tugtig, inteendeel.

Teregwysing is ‘n saak van liefde
vir jou kind.

Dit is die teenoorgestelde van –
wat Paulus ook skryf – om jou kind te verbitter.

Dit is ‘n groot voorreg, as ‘n
kind leer om sy sonde af te sterf van jongs af aan.

Deur sy opvoeding, tuis en op
skool waar die Bybel sentraal staan.

Teregwysing.

Wie nie sy ellende ken nie, kan
ook nie die verlossing vind nie.

Die Evangelie help ons om ons
ellende te onderken.

Teregwysing, korreksie,
vermaning.

Daarvoor is die katkisasie ook
bedoel.

Onderrig en teregwysing.

Onderrig ontvang in wat die nuwe
lewe in Christus inhou.

In ons teks staan: in alle
wysheid onderrig.

Alle wysheid, of die hele
wysheid, naamlik wat dit is wat die lewe met Christus inhou.

In Christus vind elke mens
naamlik die ware wysheid.

Baie belangrik, nie net ‘n
deeltjie van die wysheid nie, maar die hele wysheid.

In Psalm 111 sing ons daaroor:
die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid.

Wie dit beoefen, wie hiervolgens
leef, het ‘n goeie verstand.

 

Die hele wysheid vir elke mens.

Die nuwe lewe, die volmaakte
lewe.

In Christus het dit binne
handbereik gekom vir elke mens.

Ook vir jou.

Christus wil elke mens volmaak
maak.

Die Evangelie is ook vir jou
bedoel.

Gee daarom gehoor aan sy oproep.

Elke mens wil mos graag gelukkig
wees.

Elke mens wil mos graag die
toekoms verseker.

Maar wat elke mens wil, dit kan
niemand uit homself nie.

En sommige mense vat ‘n leeftyd
om dit te leer besef, en ander besef dit dan nog nie eers nie.

Die volmaaktheid bereik geen mens
op eie kragte nie.

Die is die groot tragiek van die
mensheid.

Die kragte van die kwaad, van die
sonde, van die dood, laat elke persoon uiteindelik die onderspit delf.

En dan is dit ook net aan God se
geduld te danke dat sondige ongelowige mense tog kortsondig iets van die lewe
kan geniet.

Dat hulle die dag pluk.

Dit gebeur in die genadetyd wat
God skenk.

God gee genadetyd sodat elkeeen
die Evangelie van Christus kan aangryp.

Christus die heerlike versekering
vir die toekoms.

Christus, die enige weg na die
volmaaktheid.

 

As gelowige, wat aan Christus
behoort, het jy die moontlikheid om te groei na die volmaaktheid.

Dit is uniek in die wêreld.

Niemand anders, geen ander
godsdiens bied hierdie moontlikheid nie.

Maar hierdie heerlike verskering
bied Christus wel: hy maak elkeen volmaak.

Broer, suster, Hy wil jou ook
red, jou ook volmaak maak.

Jy mag deurgroei na die volmaaktheid.

Moenie halfpad bly vassteek nie.

 

Wat moet mens eintlik verstaan
onder die begrip volmaaktheid?

Wat is ‘n volmaakte mens?

Die woord wat Paulus hier gebruik
is in die Griekse wêreld ook gebruik om die perfekte mens aan te dui.

Daardie tyd het ‘n ideaalbeeld
gehad, hoe ‘n perfekte mens sou moes lyk, liggaamlik, maar ook sy karakter.

So het ons tyd ook sy ideaalbeeld
– hoe ‘n mens verkieslik behoort te lyk.

Die volmaaktheid in Christus
oortref egter al hierdie ideaalbeelde.

Want Christus verwyder die sonde
uit ‘n mens.

Christus verwyder haat uit ‘n
mens.

So maak Christus ons volmaak.

Want die sonde bring bederf, die
sonde veroorsaak aftakeling en dood.

Christus maak ons volmaak, in
morele sin.

Hy maak ons volmaak ook in ons
verhoudinge.

Deur Hom kom daar harmonie.

Harmonie in die verhouding tot
God, jou Skepper.

Harmonie in die verhouding met
jou medemens.

Harmonie in die verhouding met
jouself.

Soos Jesus dit in die Bergrede
onder woorde gebring het, Mattheüs 5:28:

“Wees julle dan volmaak soos
julle Vader in die hemele volmaak is.”

In Christus hervind elke mens
weer sy menslikheid.

Om so te wees soos God die mens
geskape het, en bedoel het.

In Christus word ons wedergebore,
word ons nuwe mense.

In Christus kan ons deurgroei na
die volmaaktheid.

Geliefdes, die leerskool van
Christus gaan verder.

Die leerskool van Christus kan
soms moeilik wees.

Hou vol, daar is geen ander
moontlikheid nie.

Alle verskeringe, alle kultussen
en religies van hierdie wêreld bied geen blywende hoop nie.

Slegs in Christus is daar sekerheid.

Blywende, heerlike sekerheid.

Hy is die heerlike verskering.

Daarom word Hy verkondig, met die
doel om elke mens volmaak te maak.

Sorg daarom dat jy die
geleenthede wat daar is, waar Hy verkondig word, nie misloop nie.

Want so sorg jy dat ook jy groei
na volmaaktheid toe.

Jy hoef nie self jou volmaaktheid
te bewerkstellig nie.

Waar Christus verkondig word,
daar kry jy deel aan die proses.

Deur onderrig en vermaan, vanuit
die liefde van Christus, raak jou lewe al hoe meer volmaak.

Daardie heerlike versekering mag
ek jou gee.

Jesus Christus, Hy is die
heerlike versekering.

 

Amen.

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)