PRETORIA-MARANATA & PRETORIA, 18 April 2014 AD, 9:30
(Goeie Vrydag)
Voorsang: Sb
7:3,4,5
Votum
Seën
Ps 42:1,5
Skriflesing:
Johannes 19:1-27
Ps 22:1,2
Teks:
Johannes 19:16-22
Preek
Ps 22:7,8
Geloofsbelydenis
(NGB 21)
Sb 27:2,3
Gebed
Kollekte
Sb 6:1,2,4,6
Seën
Preek: Johannes 19:16-22
Wanneer twee
lande in ’n staat van oorlog is, byvoorbeeld Rusland en die Ukraïene op die
oomblik, dan sou mens kon sê, heers daar nie net ’n oorlog in daardie gebied
nie, maar ook in die media.
Beide kante probeer
die simpatie van die internasionale gemeenskap te kry.
Wat werklik
gebeur op grondvlak is baie moeilik om agter te kom.
As mense
doodgeskiet word, of ’n bom ontplof, was die pro-Russiese faksie
verantwoordelik, of was dit ’n inside job van die Ukraïense nasionaliste?
Hierdie gang
van sake is eintlik altyd gebruiklik.
So was dit
al deur die eeue heen.
Dinge gebeur
en mense moet die gebeurtenisse interpreteer op ’n manier wat vir hulle sin
maak.
As ons
vandag, op Goeie Vrydag, kyk na die gebeure wat destyds plaasgevind het, kom
mens dit ook agter.
Ook toe het
daar ’n propaganda oorlog gewoed , en moet die vraag beantwoord word: wat is
eintlik die korrekte interpretasie van dit wat op Goeie Vrydag gebeur het?
Want vanaf
die allereerste uur is daar oor hierdie gebeurtenis teenstrydige berigte die
wêreld ingestuur.
Om maar iets
te noem.
Die een
nuusagentskap, geborg deur die Sanhedrin, maak melding van die roemlose dood
van ’n man wat homself uitgegee het as die koning van die Jode.
Hy het die
kruisdood gesterf.
Hy is deur
’n ryk persoon wat met hom gesimpatiseer het, begrawe in ’n nuwe graf.
Die graf is
deur soldate bewaak.
Maar kort
daarna is die graf oorval, die soldate het toevallig aan die slaap geraak,
en
aanhangers van hierdie man het toe die lyk geroof.
Vervolgens
het die verhaal ontstaan dat hy opgestaan het uit die dood.
Mens moet
net ook hierby vermeld dat die verhaal van hierdie nuusagentskap, om
strategiese redes, sommige dinge nie noem nie, byvoorbeeld dat daar drie ure
duisternis was oordag,
wat begin
het toe hierdie man aan die kruis gehang het.
Dit maak ook
nie melding van verskeie mense wat toe uit hulle grafte opgestaan het nie.
Dit meld ook
nie van die tempelgordyn wat in twee geskeur het nie.
Mens kan nou
eenmaal nie alles noem nie, mens moet maar selekteer, dis mos ’n joernalis se
werk.
Vanoggend
kom die teks uit die verslaggewing van ’n ander nuusagentskap.
By hierdie
verslag word daar nie geprobeer om objektief te wees in die wêreldse sin van
die woord nie.
Maar om die
feite so getrou as moontlik weer te gee, in die lig van die Persoon wat
verantwoordelik is vir alles wat hier gebeur het.
Dus, vanuit
die oogpunt van die Persoon wat alles in beheer het.
Daar word
gefokus op wat sy bedoeling was met alles wat daar gebeur het.
Johannes
skryf daaroor (Joh 20:31):
“hierdie is
beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat
julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.”
Is dit
objektief?
Johannes
beantwoord nie hierdie vraag nie.
Ware
objektiwiteit bestaan nie.
Dit gaan
uiteindelik oor die doel wat iemand met sy verslaggewing het.
Johannes se
doel is duidelik: naamlik sodat elkeen wat sy verslag lees, gered word!
Die tema vir
vandag se preek is die opskrif bo ons Heiland se kruis:
Tema: JESUS, DIE NASARENER, DIE KONING VAN DIE JODE
Ons het
gelees hoe Pilatus Jesus aan die Jode oorgelewer het om gekruisg te word.
Die Jode het
Jesus met graagte ter hande geneem.
Toe die
regter Pilatus die beklaagde prysgee, kon die soldate hulle gang gaan en is
Jesus weggevoer.
Meestal is
die veroordeelde gedwing om self die swaar dwarsbalk van die kruis te dra.
Die
vertikale kruispaal was reeds geplant op die plek van teregstelling.
So het Jesus
ook self sy kruis gedra.
Ons weet dat
baie Jode saamgeloop het, en dat hulle daar nog lank staan en kyk het.
Die
kruisiging het nie êrens in ’n uithoek gebeur nie, maar in die gesig van baie
het die skouspel homself voltrek.
Daarom dat
Petrus tereg op Pinksterdag in sy preek vir die Jode kon sê:
“Hom ... het
julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring”
(Hand 2:21-22).
Hulle het
dit naamlik laat doen deur die hande van die Romeinse soldate.
Dit het op
Golgota gebeur.
Dit is die
Hebreeuse naam vir ’n plek naby die stad.
Mens kan dit
vertaal met: skedelplek.
Die
agtergrond van hierdie naam is onseker.
Dit kan wees
dat die heuwel die vorm van ’n skedel gehad het, as mens dit vanaf ’n afstand
bekyk het.
Dit kan ook
wees dat die naam ontleen is aan die feit dat op hierdie koppie die doodstraf
reëlmatig voltrek is.
Golgota was
’n bekende plek vir teregstellings.
Daar is
Jesus dus saam met twee ander manne gekruisig.
Links en
regs van Hom.
Alles
galgehumor.
Want die
Jodekoning het ‘n ‘ereplek’ gekry in die middel, met twee van sy ‘onderdane’
langs Hom.
Kruisiging
was ’n barbaarse marteling en het as ’n uiters gruwelike dood gegeld.
Op die
dwarsbalk is die veroordeelde eers aan sy polse met spykers vasgekap.
Daarna is
die dwarsbalk vasgemaak aan die vertikale paal wat gereedgestaan het.
Tenslotte is
die voete van die gehangene vasgekap.
Al hangende
in die brandende son het dan die doodstryd begin wat ure kon duur.
Deur die
onnatuurlike houding van die liggaam is die asemhaling bemoeilik.
Om genoeg
lug te kon inasem moes hy sy arms ontspan, wat net moontlik was as homself opgedruk
het.
Dit het
egter hewige pyn aan sy voete veroorsaak, sodat hy homself weer laat sak het,
waardeur die benoudheid teruggekeer het.
So het die
gekruisigde homself steeds moeiliker op en neer beweeg, totdat totale
uitputting en bloedverlies al sy energie gevat het en hy nie meer kon regop kom
nie.
So’t hy dan
bly hang en uiteindelik deur gebrek aan asem versmoor.
Die
evangelis Johannes gaan nie verder in op die twee wat langs Jesus gekruisig is
nie.
Wel skenk hy
uitvoerig aandag aan die opskrif bo aan die kruis.
Vers 19:
JESUS DIE NASARENER, DIE KONING VAN DIE JODE.
Hierdie
opskrif was eintlik ’n venynige opmerking van Pilatus rigting die Jode.
Johannes
vermeld die volledige teks op die bordjie: JESUS DIE NASARENER, DIE KONING VAN
DIE JODE.
Op skilderye
sien mens dikwels dat die woorde afgekort is met die letters:
I.N.R.I.
Dis die
beginletters van die vier Latynse woorde: Iesus, Nazarenus, Rex, Ioudaiorum.
Die opskrif
was drietalig: Hebreeus, oftewel Aramees, die volkstaal van Israel.
Grieks, die
taal wat toe ’n internasionale taal was, soos Engels vandag.
En Latyn,
wat die Romeinse oorheersers as die amptelike voertaal gebruik het.
Meertalige
tekste was in daardie tyd – net soos vandag – nie ongebruiklik nie.
Om nog ’n
voorbeeld te noem.
By die
tempel in Jerusalem was daar waarskuwingsborde in sowel Grieks as Latyn
aangebring met die berig dat nie-Jode nie die binnenste voorhof mog betree nie,
dit kon lei tot die doodstraf.
Net so was
hierdie bordjie bo aan Jesus se kruis ook bestem vir ’n breër publiek.
Dit was
gebruiklik dat ’n bordjie aan die kruis van ’n misdadiger opgehang is.
Of soms moes
die misdadiger dit om sy nek hang.
Daarop het
in vet letters gestaan wat die misdaad was hoekom hy gekruisig word.
Dit was ter
afskrikking van die publiek wat verby gekom het.
En daar was
inderdaad breë belangstelling vir hierdie Man aan die middelste kruis.
Golgota was
naby die stad geleë, langs een van die toegangsweë.
Baie Jode en
nie-Jode kon dus die opskrif lees.
Te meer
omdat dit Vrydagoggend was, die Vrydagoggend net voor Paasfees.
Dus was daar
baie verkeer op die toegangsweë.
Watter
bedoeling Pilatus met hierdie opskrif gehad het, noem Johannes nie eksplisiet
nie.
Wel noem hy
dat die mense van die Sanhedrin – die owerpriesters van die Jode – hierteen
beswaar gemaak het.
Johannes
noem hulle met opset die owerpriesters,
dit in kontras met die kruisteks: Koning
van die Jode.
Hierdie
owerpriesters van die Sanhedrin het naamlik gepretendeer dat hulle die ware
verteenwoordigers van die volk was.
En hulle het
hierdie koning nooit erken nie.
En daarom
moes Pilatus volgens hulle eerder geskryf het, dat Jesus homsélf beskou het as
die koning van die Jode.
Skryf
asseblief: Ek is die Koning van die
Jode.
Hulle het
Pilatus versoek om die bewoording te verander, ’n rektifikasie.
Die opskrif
mog nie so bly soos dit was nie.
Maar in
hierdie laaste konfrontasie met die Jode gee Pontius Pilatus nie in nie.
Hulle het
hom nou al genoeg onder druk geplaas en gemanipuleer.
Hy weier om
dit te verander.
Vers 22:
“Wat ek geskryf het, het ek geskrywe.”
Geen meter
sou hy verder aan hulle leiband loop nie.
Mens kry die
indruk dat Pilatus hom hier agteraf op die Jode wou wreek.
En dus ken
hy nou vir Jesus aan die kruis – kwasi amptelik – die posisie en titel as
koning van die Jode toe.
Die Jode se
beskuldiging teen Hom was mos dat Hy homself as die gesalfde koning beskou het
(Luk 23:2).
Pilatus is
deur ’n listige plan deur die Jode gedwing om Jesus te laat kruisig (Joh
18:39).
Maar nou
slaan hy terug.
Hieruit blyk
sy diepe veragting vir die Jode, met hulle so gehate Messiasverwagting –
hulle verwagting
van ’n koning om hulle juis van die Romeine te bevry.
Die
koningstitel het bly staan.
Dit is maar
net ’n vervolg op die eerdere opmerking, waaruit sy veragting ook al geblyk
het:
“Daar is
julle Koning!” (Joh 19:14). En: “moet ek julle Koning kruisig?” (Joh 19:15), het hy kwasi ernstig en verbaas
gevra, eintlik heel spottend.
En dus nou
weer.
Des te meer
het hy die onstuitbare behoefte in hom voel opkom om hierdie gehate volk te
terg.
Die opskrif
het bly staan, nie as ’n uitspraak van Jesus nie, maar as die amptelike
proklamasie van Pilatus se kant.
Kyk nou, kyk
net hoe sterk en magtig is júlle koning vergeleke by die wêreldmag van Rome!
In hierdie
sin was die opskrif dus ook ’n vernedering vir die Messias.
’n Geweldige
vernedering.
Maar tog,
ons weet dat Jesus self hiervoor gekies het.
Hoe mens dit
ook lees, hetsy as galgehumor, of as ’n eretitel, dit staan wel daar en dit bly
daar staan.
Leesbaar vir
alle wêreldburgers.
Sy
koninklike hoogheid hang hier, gekruisig op Goeie Vrydag.
En dit bring
ons by Hom wat eintlik alles in beheer het.
Die Vader in
die hemel.
Hy is in
staat om mense keer op keer te verras.
Hy deurkruis
planne van mense en stuur hulle in die rigting wat Hy verkies.
Soveel keer
het Hy dit met sy volk reggekry in die Ou Testament.
Om maar ’n
voorbeeld te noem.
Toe Haman
die plan beraam het om die Joodse volk uit te roei, het God sy planne verydel.
Mordegai en
Ester was sy instrumente.
En die uiteinde
was dat Haman voor Mordegai moes uitloop om hom te prys.
Selfs dat
Haman aan sy eie galg opgehang is.
Dink ook aan
die verderflike plan van Daniël se kollega ministers in Babel.
Wat bedoel
was om Daniël uit te skakel, en om die aanbidding van God stop te sit, het ’n
totaal onverwagte wending geneem.
Met die
gevolg dat Daniël sonder ’n skrapie uit die leeukuil gekom het, maar sy kollega
ministers met huid en haar verslind is.
Watter
Bybelboek mens ook lees, elke keer sien ons die optrede van die Almagtige.
En so ook
hier, waar sy eie Seun aan die kruis gehang word.
Bo die
aksies en reaksies van mense – die Jode wat Pilatus onder druk plaas, en
Pilatus wat die Jode terg – daar bo uit styg God se optrede.
Ook hierdie
dag op Golgota het ’n totaal ander wending geneem.
DIE KONING
VAN DIE JODE – ’n opskrif wat bedoel was as galgehumor, hierdie opskrif was nie
’n woord te veel nie.
Hier het nie
net die Koning van daardie veragte en versmade klein Joodse volk gehang nie.
Hier het Hy
gehang oor wie die dissipels hulle afgevra het:
“Wie is Hy
tog, dat Hy selfs die winde en die water gebied en hulle Hom gehoorsaam is!”
(Luk 8:25).
Hier het die
Koning van die heelal gehang!
Het dit nie
om twaalf uur skielik donker geword nie?
Toe Hy goed
en wel aan die kruis gehang het...
Het dit nie
donker gebly tot die oomblik dat Hy die laaste asem uitgeblaas het nie – drie
uur die middag?
Het daar nie
in hierdie periode dooies uit hul grafte opgestaan nie?
Hoekom het
die tempelgorden in twee geskeur juis op daardie oomblik, van bo na onder?
Wie is Hy
tog, dat selfs die son en die man, ja lewe en dood aan Hom gehoorsaam is?
Wat moes
Pilatus en die Jode – wat so aan die stry was met met mekaar – wat moes hulle
wel nie gedink het nie, enkele oomblike later!
Hier het ’n
wending plaasgevind, wat nie in hulle draaiboeke gestaan het nie.
Hierdie
gekruisigde het deur sy lyde en sterwe ongekende kragte ontketen.
Sou Hy dan
nie tog werklik die Koning van die Jode wees nie?
Sou Hy nie
miskien nog meer as dit wees nie?
’n Romeinse
hoofman wat daar naby gestaan het, kon sy vermoedens nie langer onderdruk nie.
Inderdaad,
hierdie mens was regeverdig! en hy het God verheerlik by die sien van dit
alles.
En die mense
daaromheen, wat vir die skouspel saamgestroom het, toe hulle sien wat alles gebeur,
het hulleself op die bors geslaan (Luk 23:47-48).
Ons vier vandag Goeie Vrydag.
Op hierdie
Vrydag, amper twee duisend jaar gelede, het daar dinge gebeur, wat ’n
onuitwisbare indruk gemaak het.
En elkeen
wat dit hoor probeer dit te verwerk, te verklaar, soms te verdring.
’n Plek te
gee in hulle denke en lewe.
Elkeen
vanuit sy eie gesigspunt.
Die Jode wou
ontslae raak van hierdie vir hulle so lastige Man.
Pilatus het
sy politiek bedrywe, en sy magsposisie staande probeer hou.
Tegelykertyd
het hy geprobeer om die deur hom so gehate Jode te terg.
Maar al
hierdie motiewe van mense, al hulle geskarrel, het verbleek in die lig van wat
toe gebeur het.
In ons teks,
net soos in die ander drie evangelies, sien ons hoe die evangeliste, gelei deur
die Heilige Gees, hierdie indrukwekkende dag beskryf.
En hoe hulle
betekenis gee aan alles, tot in die details, wat gebeur het.
Die
betekenis byvoorbeeld van die opskrif bo die kruis, of die betekenis agter die
feit dat hulle Jesus se klere onder mekaar verdeel het, of die feit dat die
tempelgordyn in twee geskeur het.
Die
betekenis wat hulle gee is nie hulle eie interpretasie nie, maar gelei deur die
Gees van God.
God spreek
tot ons hier in die Evangelie.
Hy
verduidelik vir ons wat op Goeie Vrydag gebeur het en waarom dit gebeur het.
Hy wys ons
op die lang aanloop tot hierdie gebeure, soos Hy dit reeds in die Ou Testament
openbaar het.
Baie
profesieë en beloftes het in vervulling gegaan.
En so mag
ons vandag hierdie Goeie Vrydag herdenk.
Ons kyk na
hierdie dag deur God se oë.
Nie deur die
oë van die Jode, of van Pilatus, of van die soldate, of van ’n persoon wat
toevallig daar verby geloop het toe dit alles gebeur het, of die oë van ’n
joernalis wat sy eie storie daarvan maak, of van wie ook al nie.
“geen
profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die
Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” (2 Petr 1:21)
Wat bedoel
was as ’n venynige steek van Pilatus rigting die Jode, het geblyk die waarheid
te wees:
JESUS, DIE
NASARENER, DIE KONING VAN DIE JODE.
Waarlik,
hierdie Man was regverdig!
Tog het die
Jode Hom uitgelewer.
Tog het
Pilatus Hom veroordeel.
Tog het die
soldate Hom gekruisig.
O Here
Jesus, wees ons genadig!
Ja, ek en u
en jy, ons kan onsself nie verhef bo die Jode, of Pilatus, of die soldate nie.
Gemeente, ek
sluit af met ’n baie ou gedig, wat ons oproep om nie aan ander die skuld te gee
nie, maar ons hand in eie boesem te steek.
‘Dit was nie
die Jode, Here Jesus, wat u gekruisig het nie,
wat u
verraderlik voor die gereg gesleep het nie,
wat u
veragtelik in die gesig gespuug het nie,
wat u
gestamp en gestoot het nie.
Dit was nie
die soldate met hul felle vuiste,
wat die
rietstok of hamer opgelig het nie,
nog die
vervloekte hout op Golgota geplant het nie,
of oor u
klere die lot gewerp het nie,
Dis EK, o
Heer, ek het dit aan U gedoen,
EK is die
sware balk wat U moes dra,
Ek die gesel
wat slaan sonder gena,
Ek die
spyker, die toue, die spies,
Ek die
bloedbevlekte kroon,
Dit alles
het U – helaas –
oor my sondes
– moes dra.’ (Revius)
Amen.
(kyk in preek)