Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.
Preek – Romeine 16:16
Geliefde gemeente van Jesus Christus,
Toe ons in Oktober verlede jaar in Kiev was, het dit my opgeval hoe die gelowiges daar mekaar groet. Hoewel ons hier in Suid-Afrika nie onbekend is met drukkies nie (veral nie ons jeug nie, só het ek agtergekom!), was dit opmerklik dat die meeste gelowiges daar – manne sowel as vroue – mekaar ‘n drukkie gee wanneer hulle mekaar sien én wanneer hulle weer totsiens sê. En toe ek teen die einde van ons besoek ‘n kollega se vrou met die hand wou groet, was haar reaksie: “Hier doen ons dit só…”, waarop sy my spontaan ‘n drukkie gegee het. En kort daarna, op die lughawe, het ek van haar man dieselfde behandeling ontvang. Dit is waarskynlik iets waaraan ons in die toekoms nog gewoond sal moet raak…
Maar, broers en susters, die apostel Paulus maak dit nog méér intiem. Hy roep naamlik die gelowiges in Rome op om mekaar met ‘n heilige kus te groet. En dit is nie die enigste keer dat hy dit doen nie; nee, in verskeie ander briewe doen hy dieselfde oproep (kyk maar net na die teksverwysings by vers 16 in jou bybel). En die apostel Petrus roep sy lesers aan die einde van sy eerste brief op om mekaar te groet met ‘n kus van liefde (1 Petr. 5:14). Nou, drukkies kan ek nog sien gebeur, maar dat almal van ons mekaar met ‘n kus gaan groet?!
‘n Drukkie of ‘n kus – is dit werklik waaroor dit hier gaan? Gaan dit vir Paulus oor groet-gebruike, gebruike wat verskil van kultuur tot kultuur? Nee, gemeente, ons sal dieper as dít moet delf, ons sal moet soek na die beginsel agter die gebruik. En wanneer ons dit doen, dan ontdek ons iets baie besonders. En dan kry die boodskap van Romeine 16, wat met die eerste oogopslag ‘n droë lys met name is, ‘n krag wat baie verder strek as vandag se afskeid.
Tema:
Die heilige kus brand warm op die wang én in die hart
van elkeen wat aan Jesus Christus behoort!
Gemeente, Romeine 15 eindig met ‘n pragtige seënwens: “En die God van vrede sy met julle almal! Amen.” Niemand sou iets gemis het as Paulus op hierdie punt self die pen in die hand geneem het, soos wat sy gewoonte was, en miskien ‘n paar persoonlike groete (soos in verse 21-23) en dalk ‘n herhaalde seënwens (soos in vers 24) sou neergeskryf het nie. Maar dit is nie wat hier gebeur nie. Ná die seënwens aan die einde van hoofstuk 15 volg daar nog ‘n volledige hoofstuk, waarvan die grootste deel in beslag geneem word deur ‘n lys van ten minste 25 name waarvan die meeste ons vandag feitlik niks meer sê nie. En dan eindig die gegroetery in vers 16 ook nog met ‘n gekussery. Waaroor gaan dit hier?
Wel, kom ons begin by die begin – dalk kan Fébé, die vrou van verse 1 en 2, vir ons die antwoord gee op die vraag na hierdie groot klomp name. Nou, Fébé is afkomstig uit die gemeente in Kenchreë, naby Korinthe, en ons lei af dat sy oppad is na Rome. Dit is dus baie waarskynlik dat sy die een was wat hierdie einste brief van Paulus aan die Romeine saamgeneem het om dit aan die gemeente te besorg. En sy word nou deur Paulus, vanweë haar dienswerk aan hom en aan baie ander, aanbeveel by die broeders en susters in Rome. Hulle moet haar in geloof (“in die Here”) ontvang, soos dit die heiliges betaam, en haar bystaan in die dienswerk wat sy in Rome gaan verrig. Dus, die lang lys met begroetinge, wat ons in die eerste deel van hoofstuk 16 vind, begin nie met ‘n groet nie, maar dit begin eerder met ‘n opdrag om iemand te gaan begroet: julle moet Fébé hartlik welkom heet wanneer sy kom!
Dáár, broers en susters, lê vir ons die sleutel om die volgende klomp verse tot by ons teks (vers 16) te kan verstaan. Die verskillende begroetinge, wat ons in die volgende verse vind, staan in dieselfde lyn as verse 1 en 2. Dit is nie so dat Paulus eers ‘n aanbeveling van Fébé gee, en daarna en los daarvan sommer ‘hallo’ sê vir ‘n klompie mense nie. Nee, let baie goed op hoe Paulus formuleer. Hy sê nie: “Ek groet dié en dié” nie. Inteendeel, hy dra sy lesers op om van hulle kant die genoemde persone te groet. Net soos in die geval van Febé kry die geméénte ‘n opdrag! Maar hoekom groet Paulus hulle nie sommer self nie? Hoekom groet hy hulle nie regstreeks nie? Waarom rig hy homself, oor hierdie mense se koppe heen, na die ander gemeentelede in Rome om vir húlle te sê: “Júlle moet hierdie broeders en susters groet”?
Om dit te kan verstaan, moet ons ‘n beeld probeer kry van wat dit in daardie tyd beteken het om iemand te groet. ‘Groet’ in die Bybel beteken dieselfde as om iemand te aanvaar en om kontak met daardie persoon te onderhou. Deur te groet, lê jy kontak met iemand – dink aan Mattheus 10:12 waar Jesus die twaalf dissipels uitstuur en vir hulle sê: “As julle die huis ingaan, groet dit…” Die dissipels moes dus ‘n band met daardie huis lê. Of verder: deur te groet, versterk jy ‘n band wat alreeds bestaan – dink aan Paulus se optrede in Handelinge 18:22: “En toe hy in Cesarea gekom het en opgegaan en die gemeente gegroet het, het hy afgereis na Antiochië.” Dus, voordat Paulus verder reis, bevestig en versterk hy eers ‘n reeds bestaande band. Of: deur te groet, sê jy dat ‘n verhouding / ‘n band sal bly voortbestaan, ook wanneer daar afskeid geneem word – hier kan ons dink aan wat ons lees in Handelinge 20:1: “En nadat die oproer verby was, het Paulus die dissipels na hom geroep en gegroet en het vertrek om na Macedonië te reis.” En om iemand te groet, het verder ook beteken om daardie persoon welkom te heet, te aanvaar en te eer – Jesus wys op ‘n negatiewe manier op hierdie betekenis in Markus 12:38, wanneer Hy sê: “Pas op vir die skrifgeleerdes wat graag in lang klere rondloop en van begroetinge op die markte hou…” Die skrifgeleerdes was daarop uit om deur die mense aanvaar en vereer te word.
Dus, broers en susters, waar ons vandag dikwels baie haastig by mekaar verbyloop en mekaar sommerso in die verbygaan groet (“Hallo, hoe gaan dit? Goed, en met jou?”), was groet in die Bybelse tyd ‘n bewys dat jy kontak wil hê met daardie persoon, dat jy hom aanvaar en met hom ‘n band wil onderhou; daardie persoon is welkom by jou. Nou, as ons dit in gedagte hou, dan sien ons dat, net soos wat Paulus eers Febé by die gemeente van Rome aanbeveel het, so dra hy die gemeente vervolgens ook op om goeie kontakte te bly onderhou met ‘n hele reeks persone wat in diens van die evangelie in Rome gewerk het (dat hierdie mense in diens van die evangelie gewerk het, is baie duidelik uit die kort notas wat Paulus by sommige van die name toevoeg). Die gemeente moes hierdie mense groet, hulle ontvang en na hulle luister. Die bande met hierdie persone mag nie verbreek word nie!
Broers en susters, groet was dus ‘n teken van gemeenskapsoefening. En hierdie beoefening van gemeenskap moes die gemeentelede nie net doen met diegene wat ‘n rol gespeel het in die verbreiding van die evangelie in Rome nie, maar ook almal met mekaar (“groet mekáár met ‘n heilige kus” – vers 16). Paulus se finale oproep aan die gemeente in Rome – ast’t ware die uitroepteken agter sy hele brief – is ‘n baie kragtige: wees mekaar se broers en susters! Hoekom? Want julle is saam in die Here, in Christus! Moontlik het dit jou opgeval hoeveel keer in die eerste 16 verse hierdie uitdrukkings gebruik word. Kyk maar saam met my – vers 2: “ontvang haar in die Here”; vers 3: “my medewerkers in Christus Jesus”; vers 7: “wat reeds voor my in Christus gewees het”; vers 8: “my geliefde in die Here”; vers 9: “ons medewerker in Christus”; vers 10: “die beproefde in Christus”; vers 11: “die wat in die Here is”; vers 12: “vroue wat in die Here arbei”; en vers 13: “die uitverkorene in die Here”.
Die eenheid in ons Here, Jesus Christus is die grond onder Paulus se oproep. Die feit dat gelowiges, elkeen afsonderlik – maar daarmee ook almal saam – deel het aan Jesus Christus en sy verlossingswerk; die feit dat die lote, soos Jesus ons leer in Johannes 15, saam ingeënt is in die wingerdstok; die feit dat elke gelowige deel het aan Jesus Christus se sterwe en opstanding; die feit dat Hy in my woon en ek in Hom – gemeente, daar lê die diepste grond vir die christelike groet en vir die liefdevolle kus! Jesus Christus, en ons gemeenskap met Hom!
En om dieselfde rede kan “die gemeentes van Christus”, soos wat Paulus hulle in vers 16b noem, asook die klompie broeders in verse 21-23, ook groete oordra aan die gemeente in Rome, sonder dat hulle mekaar selfs geken het. Ja, hulle het geweet van mekaar, hulle het gehoor van mekaar, maar hulle het mekaar nie van aangesig tot aangesig geken nie. Hulle het nie jarelange korrespondensie gehad nie, hulle het nie gesamentlike sinodevergaderings gehou nie, hulle het nie oor en weer mekaar se eredienste bygewoon nie, maar hulle was één… in die Here Jesus Christus! En daardie eenheid het hulle beoefen deur hulle groete aan die gemeente van Rome oor te dra. Daarmee het hulle gesê: “Ons aanvaar julle, ons het ‘n band met julle, en ons wil daardie band beoefen!”
Nou, as ons dit voor oë hou, gemeente, dan sluit Paulus se vermaning in verse 17-20 baie mooi by die voorafgaande aan. In hierdie verse sien ons as’t ware die keersy van die begroetinge in die eerste 16 verse. Hier waarsku Paulus naamlik die gemeente vir mense wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die oorgelewerde leer. Dus, dit gaan nie maar net oor mense wat in die algemeen bakleierig en liefdeloos is nie. Om die waarheid te sê, in vers 18 wys Paulus dat hierdie mense juis vriendelike en mooi woorde gebruik. Maar intussen verlei hulle daarmee die harte van die eenvoudiges, intussen bou hulle – met al hulle mooi woorde – nie op die fondament van die leer nie. Hierdie mense is dus nie, soos die voorafgaande lys met name, in die Here Jesus nie. Of in Paulus se woorde: “sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik.” Nou, die Griekse woord wat Paulus hier vir ‘buik’ gebruik, dui op die gebied van die maag en die ingewande, wat in daardie tyd as die setel van die gevoelens beskou is. Dus, hierdie dwaalleraars het hulleself laat lei deur hulle eie voorkeure en gevoelens. Hulle eie binnekant was vir hulle meer bepalend as die gesag van Jesus Christus.
En van hierdie mense sê Paulus: hou hulle in die oog, en vermy hulle! Want in hulle is uiteindelik die Satan werksaam, die duiwel wat mense van die Here wil wegtrek – daarom dat Paulus sy waarskuwing in vers 20 kan afsluit met die belofte: “En die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel…” Hierdie dwaalleraars doen duiwelswerk. Vermy hulle! Moenie met hulle gemeenskap beoefen nie, moenie met hulle bande lê nie, moet hulle nie verwelkom nie! Sien u, ons het hier presies die teenoorgestelde van die begroetinge van verse 1-16. Teenoor groet (gemeenskap beoefen), staan vermy (geen bande lê nie). Baie mooi kom dit na vore in die apostel Johannes se tweede brief, verse 9-11: “Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun. As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.” Baie duidelik: om te groet in die Bybelse sin, beteken om gemeenskap te beoefen. En met sekere mense doen jy dit wel (met diegene wat saam met jou in die Here is), maar met ander doen jy dit verseker nie omdat hulle die oorgelewerde leer verag en verdraai.
Gemeente, ons gaan mekaar vanaand groet. Daarmee sê ons nie in die eerste plek totsiens nie. Nee, daarmee sê ons dat ons band as gelowiges sal bly voortbestaan, ook nadat ons afskeid geneem het. Ons is een in ons Here Jesus Christus, ons is broers en susters in een gesin, ons is lede van een liggaam (ons het dit vanoggend nog aan die nagmaalstafel gevier). Dit is ‘n wonderlike troos en bemoediging. En mag die Here gee dat hierdie band behoue bly, oor groot afstande heen. Ons kan mekaar vanaand groet, want ons is een in Jesus Christus.
Maar daar is natuurlik meer… Daar is ook vanaand aan u die oproep om ander te groet, met hulle gemeenskap te beoefen. En dan begin ons hier in die eie gemeente. Hier het die Here u aan mekaar gegee, aan mekaar verbind. Die prediking van die evangelie, die kerklike onderrig, die leer van die Skrifte – die belydenis van die Skrif! – bind u aanmekaar. Beoefen dan ook daardie band – nie net met sommiges nie, maar met almal in die gemeente. Dit is pragtig om te sien hoe, in die gemeente van Rome, hulle nie toegelaat het dat dinge wat in die wêreld tipies skeiding sal bring, ook in die gemeente skeiding bring nie.
Ons sien immers dat daar binne die gemeente van Rome sowel gelowiges uit die Jodendom as uit die heidendom was – die middelmuur van skeiding is afgebreek deur Jesus Christus, en Jood en heiden kon saam kerk wees, ten spyte van verskillende kulture en agtergronde. Verder was ook verskillende sosiale agtergronde in Christus verenig: Hermes (v. 14) was ‘n tipiese slawe-naam uit daardie tyd, en waarskynlik dat Aristobulus en sy gesin (vers 10) ook slawe was. En sáám met hulle in die gemeente was daar iemand soos Heródion (vers 11), wat familie was van die magtige Herodes-familie. En dan is daar sommige wat reken dat Julia (vers 15) konneksies gehad het met die keiserlike familie. Buite die gemeente sou hierdie dinge skeiding en verdeeldheid veroorsaak het, maar in Christus was daar eenheid.
Gemeente, laat dit ook in hierdie gemeente die geval wees; mag die Here gee dat wêreldse verskille oorwin kan word. Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie, want julle is almal een in Christus Jesus (Gal. 3:28). Julle het nie mekaar gekies nie, júlle is vir mekaar gegéé. Elke broeder en suster in die gemeente is ‘n gawe vir die ander. Groet mekaar daarom – aanvaar mekaar, verwelkom mekaar, lê bande en beoefen daardie bande. En natuurlik is daar grense aan daardie bande – die leer van die Skrif wys vir ons die grense aan, en dan kan daar tye kom dat jy bande moet breek en iemand nie meer mag groet nie (dus, die gemeenskap nie meer mag beoefen nie). Ons het dit verlede Sondag beleef toe ons die formulier van afsnyding moes gebruik. Maar die leer van die Skrif lê die grens, nie ek met my voor- of afkeure nie. Groet elke broeder of suster – omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood (só leer die nagmaalsformulier ons). En dan vervolg die formulier: daarom moet ons almal wat deur ware geloof in Christus ingelyf is, saam een liggaam wees!
Maar daar is nog meer… Ons groet is nie beperk tot die gemeente nie. Ons beoefen die christelike groet ook binne die kerkverband. Want wat is kerkverband? Wat is ons band? Wat bind ons saam? Dit is tog die gemeenskaplike geloof in Christus! Ook dáár moet ons dus bande onderhou en gemeenskap beoefen, ook al ken ons mekaar minder goed en ook al maak kultuur en taal dit soms ‘n bietjie moeiliker. As kerkverband nie meer die eenheid in Christus, die eenheid in die waarheid is, wat ook beoefen word nie, dan het ons van kerkverband ‘n skynvertoning gemaak. Soek daarom na maniere om u broeders en susters in Mamelodi en Soshanguve, in Pretoria en Johannesburg en Bethal, in Kaapstad en Belhar, en in al die sendingspunte te groet.
Maar daar is nóg meer groetverpligtinge… Hier sit vanaand afgevaardigdes van die kerke met wie ons samesprekings voer. En ons was gister afgevaardig by die Gereformeerde Kerk die Kandelaar, waar ‘n nuwe predikant bevestig is. Ons het daar ‘n groete-boodskap oorgedra. En moontlik dat hulle vanaand hier ‘n groete-boodskap oordra. Hoekom doen ons dit? Is dit maar net ‘n hoflikheidsgebaar? Is dit maar net die gewoonte? Nee, gemeente, ons doen dit omdat ons in die proses is om bande te bou, ons het al ver gekom om die eenheid van die geloof met mekaar te ontdek. Dáárom groet ons mekaar, dáárom sê ons vir mekaar: “Ons aanvaar julle, ons het ‘n band met julle, en ons wil daardie band beoefen!” Broers en susters, groet daarom hierdie gemeentes in die Bybelse sin van die woord. Groet hulle, want hulle arbei saam met ons in diens van die Here. Groet hulle, ook al is daar sommige dinge wat ons verskillend van mekaar doen. As ons tot die konklusie moet kom dat Christus uit genade, net soos by ons, in hierdie gemeentes sy wonderlike verlossingswerk doen, groet dan met vrymoedigheid, sonder vrees, in geloof.
Gemeente, as u gedink het dat ek Romeine 16 as teks gekies het omdat dit ‘n merkwaardige groete-boodskap bevat, dan moet ek vir u sê: dit gaan oor baie meer. Gelukkig maar. Ons gaan mekaar vanaand groet (en daarvoor is Romeine 16 sekerlik relevant), maar daarna moet Romeine 16 bly voortklink in die praktyk van u kerklike lewe – die praktyk van die onderlinge gemeentelike lewe, die praktyk van kerkverband-beoefening, die praktyk van kerklike eenheid soek en ontvang in Jesus Christus. En as dit alles u bang en bekommerd maak, as u wonder oor die toekoms van die kerk, as u twyfel of u hiertoe in staat is, dan kom gee Paulus aan die einde van hoofstuk 16 nog ‘n pragtige bemoediging.
Hy vertrou die gemeente van Rome toe aan die genade van Jesus Christus: “Die genade van Jesus Christus sy met julle almal” (vers 24). En hy vertrou hulle ten slotte ook nog toe aan die krag van God: “Aan Hom dan wat magtig is om julle te versterk…” (vers 25) En hierdie mag van God is nie brutekrag nie, dit is nie spierkrag nie, dit is die krag van die evangelie! “Aan Hom dan wat magtig is om julle te versterk volgens my evangelie en die prediking van Jesus Christus… Daar is ons veilig, broers en susters! In die genade van Christus en in die krag van die evangelie. Dit is waarmee die Here ons verbintenis vir sewe jaar lank gedra het. Sou Hy dit nou laat vaar? Nee, want die Here laat nooit die werke van sy hande vaar nie. Gaan daarom voort – groet mekaar voortdurend in die eenheid van die geloof. Groete elkeen wat saam met u in die eenheid van die geloof staan. God gee dit! Aan Hom die heerlikheid deur Jesus Christus tot in ewigheid!
Amen
Liturgie (aand)
- VOORPSALM Ps. 87
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 122 (by vers 1: reël 1-2: vroue+dogters; reël 3-4: mans+seuns; res saam)
Gebed
Lees: Romeine 16
Sing Skr. 43:2 en 4
Teks: Romeine 16:16
Preek
Amenlied Ps. 133
Gebed
Belydenis van geloof (singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 100:2-4 (wysie in die boekie)
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.
(kyk in preek)