Verloste sondaars moet na die nagmaal kom…

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2012-11-25
Text: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 30
Reference: 
HK 30-0 (2012)
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Sondag 30 (v/a 81-82); lees Jesaja 66:1-4, Lukas 14:1-24

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Vir wie is die nagmaal van die Here bedoel? Dus, wie mag aan die nagmaalstafel kom sit om van die brood te eet en uit die beker te drink? Nie so ‘n maklike vraag om te beantwoord nie, en een wat in die loop van die kerklike geskiedenis al heelwat diskussie en verskille opgelewer het. Die meeste van ons sal hierdie vraag waarskynlik beantwoord deur te sê dat die nagmaal vir die belydende lidmate bedoel is; dus, hulle wat openbare geloofsbelydenis afgelê het, mag aansit aan die tafel. En nie ontereg nie, maar is dit so eenvoudig?

 

Ons sien naamlik in die kerkgeskiedenis ook ander sienings. Só byvoorbeeld skryf ‘n predikant in die 18de eeu as verklaring by hierdie einste Sondag van die Kategismus die volgende: “Ons het al dikwels gesien dat mense meen dat, as hulle belydenis gedoen het, hulle na die nagmaal moet gaan. Maar, hoewel almal tot belydenis moet kom, mag nie almal dan ook na die nagmaal gaan nie.” Hierdie uitspraak is tiperend van die oortuiging wat ons dikwels in bevindelike kringe teëkom. In hierdie kringe word die openbare geloofsbelydenis slegs gesien as ‘n bewys dat jy nou uiterlik lidmaat van die gemeente geword het. Maar om nagmaal te kan vier, daarvoor is ‘n volgende stap nodig. Om nagmaal te kan vier, moet jy naamlik eers deur middel van selfondersoek jou eie waardigheid bepaal; jy moet eers ondersoek of jy reg is om van die brood te kan eet en uit die beker te kan drink. Dus, in plaas van om op die volmaakte offer van Jesus Christus te fokus, word jy hier in jouself gekeer. En dit is gevolglik verstaanbaar dat baie tydens hierdie selfondersoek, wanneer hulle hul eie sondes en gebreke raaksien, hulleself uit vrees maar liewer van die nagmaal onthou.  

In hierdie kringe word die gemeente dus eerder teen die nagmaal gewaarsku – uit vrees vir die toorn van die Here oor die sonde – as wat daar ‘n oproep uitgaan om, tot versterking van die geloof, die nagmaal te kom geniet. En wie hierdie waarskuwing in die wind slaan en tog na die nagmaal gaan, word as roekeloos en hoogmoedig gebrandmerk. In hierdie kringe sien ons dan ook dat die nagmaal baie min gevier word; en wanneer dit wel gevier word, is daar baie min deelnemers.

 

Gemeente, is dít die bedoeling van die Here met die nagmaal? Is dit sy bedoeling dat slegs dié wat deur selfondersoek hul eie waardigheid vasgestel het, nagmaal toe kan gaan? Tog sekerlik nie… Maar kan ons aan die ander kant ongekwalifiseerd sê dat elkeen wat belydenis van geloof afgelê het na die nagmaalstafel van die Here moet kom? Nee, so eenvoudig is dit ook weer nie… Maar wie moet dan wel na die nagmaalstafel van die Here kom? Kom ons luister na die Woord van die Here soos ons dit bely in die Kategismus onder die tema:

Tema: Verloste sondaars moet na die nagmaal kom…

  1. Die selftug
  2. Die kerklike tug

 

1. Gemeente, ons het in die onderrig wat die Here in die afgelope weke aan ons oor die nagmaal gegee het, nou al verskeie male gesien dat die nagmaal ‘n maaltyd van gemeenskap is, ‘n maaltyd van wederkerige omgang tussen die Here en … ja, en wie? Met wie het die Here hierdie omgang? Dit is eintlik maar net ‘n ander manier om dieselfde vraag te stel as in die inleiding: wie moet na die nagmaalstafel van die Here kom? Met wie wil Hy hier aan die tafel intiem verkeer? Tog seker nie met Jan en alleman nie!? Die Here is immers ‘n groot en verhewe God! Ons lees in die eerste verse van Jesaja 66: “Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Waar is dan die huis wat julle vir My sal bou? En waar die plek wat my rusplek sal wees?” – hiermee sê Here natuurlik nie dat Hy nie ‘n tempel wil hê nie, maar Hy leer sy volk wel dat ‘n mensgemaakte tempel Hom nooit sal kan bevat nie. Soos wat Salomo in 1 Konings 8:27 sê: “Maar sou God werklik op die aarde woon? Kyk die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het.” Geen menslike woning kan God bevat nie, “want – lees ons verder in Jesaja 66:2 – my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek die HERE.”

 

So ‘n hoë God wil tog sekerlik nie met enige iemand omgang hê nie? Hy aanvaar tog sekerlik nie enige iemand aan sy etenstafel nie? Ja, waarskynlik die aansienlikes, die rykes, die hooggeplaastes van hierdie wêreld; waarskynlik dié wat uiterlik al ver gevorder het in die geloof en groot aansien in die kerk geniet; waarskynlik mense van God se statuur… Maar, gemeente, let dan op die volgende woorde in Jesaja 66. Nadat die Here sopas sy eie grootheid en majesteit en verhewenheid voorop gestel het, sê Hy vervolgens in vers 2: “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.” Die hoë God soek dus nie in die eerste plek die hoë mens nie, die Verhewene wil nie omgang hê met die mens wat op aarde verhewe is en homself verhewe ag nie. Die Here soek nie sy gelykes onder die mense nie, want daar is niemand aan Hom gelyk nie. Bewustheid van jou status en posisie in hierdie wêreld is die laaste ding wat God soek aan sy etenstafel. Kyk maar na die twee gelykenisse wat ons gelees het in Lukas 14. 

 

Jesus is op besoek by een van die owerstes van die Fariseërs. En terwyl hulle aan tafel gaan, sien Hy by die ander gaste die drang om die beste plekke te wil inneem. Na aanleiding hiervan vertel Hy ‘n gelykenis, die gelykenis van die genooides en die voorste sitplekke. Ná hierdie eerste gelykenis roep Jesus sy gasheer op om nie sy vriende en sy familie en sy ryk bure na sy ontbyt of middagete te nooi nie. Dit is natuurlik baie maklik, want dít is die mense wat jóú weer sal uitnooi. Maar die Here Jesus roep sy gasheer op om die armes, verminktes, kreupeles en blindes te nooi. En dit is nie maar net mooi woorde van Jesus nie; nee, want Hy wys vervolgens in die tweede gelykenis dat dít presies ook die styl van die koninkryk van die hemele is. Dit is presies wat God aan sy tafel doen. In die koninkryk van die hemele gee God aan ons, mense, die voorbeeld van hoe ons gastelys behoort te lyk.

Die man wat in die tweede gelykenis ‘n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi het, is God self. Wanneer die uur van sy maaltyd uiteindelik gekom het, laat Hy die genooides roep. Maar tot ons verbasing sien ons dat die genooides een vir een ‘n flouerige verskoning gee – die een het ‘n stuk grond gekoop en moet dit dringend gaan inspekteer, die ander het vyf paar osse gekoop wat hy moet gaan uitprobeer, en ‘n derde is pasgetroud en kan gevolglik ook nie kom nie.

 

Broers en susters, hierdie genooides was so besig met hulle daaglikse lewe dat die uitnodiging onbelangrik geraak het. Hulle was so bewus van hulle status, hulle plekkie in hierdie wêreld, dat hulle nie meer die dringendheid van die uitnodiging na die maaltyd besef het nie. Gevolglik is hierdie mense ook nie meer welkom by die maaltyd nie; dít is nie die mense wat God aan sy maaltyd soek nie! Nou stuur die heer sy kneg om die armes en verminktes en kreupeles en blindes te gaan haal (let op, dit is presies dieselfde mense as wat Jesus in vers 13 vir sy gasheer opgenoem het; dus, in die koninkryk van die hemele gaan dit inderdaad soos wat Jesus van sy gasheer geëis het). Die kneg doen wat sy heer hom opdra, en as daar vervolgens nóg plek is, dan word selfs dié buite die stad gehaal om in te kom.

Dít is die soort mense wat God by sy maaltyd soek – mense wat niks het om terug te gee nie en wat dit ook besef, en dan tog aan die uitnodiging gehoor gee, en kom om te eet van die maaltyd van die groot Koning.

 

En, broers en susters, dit is nou presies wat Jesaja in hoofstuk 66:2 verkondig: “… op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.” Die groot en verhewe God soek die nederiges op, Hy soek dié wat gebroke en verslae is. Soos wat ons lees in Psalm 34:19: “Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees.” Vir hierdie mense het God sy Offerlam gestuur as voedsel en drank aan sy maaltyd. Vir hierdie mense het die Lam Homsélf gegee. Nie dié wat meen dat hulle die Geneesheer nie nodig het nie, maar die siekes wat weet dat hulle genesing nodig het – húlle is welkom aan die etenstafel van die Here.

Die Kategismus het hierdie boodskap in v/a 81 soos volg saamgevat: “Wie moet na die nagmaalstafel van die Here kom?” – dus, wie is welkom by God se maaltyd? En die antwoord: “Hulle wat vanweë hulle sondes ‘n afkeer van hulleself het – dit is dus die armes en kreupeles en verminktes en blindes wat niks het om te bied nie – maar tog vertrou dat hulle sondes hulle om Christus wil vergewe is en dat die swakhede wat nog oor is, met sy lyding en sterwe bedek is; en dié wat begeer om hulle geloof hoe langer hoe meer te versterk en hulle lewe te verbeter.”  

 

Gemeente, dit is belangrik om in hierdie antwoord van die Kategimus die driedeling raak te sien wat ons so dikwels in ons belydenisgeskrifte en liturgiese formuliere teëkom: ellende, verlossing en dankbaarheid – kyk maar na Sondag 1, kyk na die doopsformulier, die formulier vir die aflegging van openbare geloofsbelydenis, die nagmaalsformulier… en nou ook weer hier in antwoord 81. Telkemale kom hierdie driedeling na vore as beskrywing van dié houding, dié ingesteldheid, wat God by sy maaltydgangers soek: ellende – weet dat jy ‘n arme en kreupele en verminkte en blinde voor God is; verlossing – weet dat jy nogtans mag nader kom om die liggaam en bloed van ons Here Jesus Christus te eet en te drink; dankbaarheid – weet dat die Here jou bring tot ‘n nuwe lewe voor Hom.

Gemeente, dit is hierdie mense wat aan die nagmaalstafel mag kom. Dít is die geestelike ingesteldheid wat God van ons soek; met só ‘n houding mag ons weet dat die tafel vir ons oopstaan.

 

En, broers en susters, dit is dan ook waartoe die selftug ons moet bring. Die selftug vra van ons om onsself te ondersoek, om – soos Jesaja sê – te bewe vir die woord van die Here en onsself in die lig van daardie woord te toets. Kyk na jou lewe in die lig van God se Woord, moenie iets wegsteek nie. En wie dit in geloof doen, leer homself sien vir wie hy werklik is. Hy kry ‘n afkeer van homself, hy sien sy eie sondes, sy selfsug, sy hoogmoed, sy ongehoorsaamheid. Maar dan dryf die selftug ons vervolgens ook na Christus toe; die regte selftug bring ons by die feite van Kersfees, Golgota, Paasfees en hemelvaart. En uiteindelik laat die selftug ons ook ‘n nuwe mensheid sien, een waarin die Gees van Pinkster woon om bekering en vernuwing te bewerk.

Broers en susters, gaan verrig hierdie selftug. Dit is ‘n persoonlike en daaglikse taak. Elke dag opnuut moet jy die ellende-verlossing-en-dankbaarheid-toets gaan doen in die lig van God se Woord – wie is ek? Wie is my Verlosser? Hoe is my lewe voor Hom? En moet dit nie slegs op Saterdagaand voor die nagmaal doen nie; ook is dit nie die taak van die predikant om in sy voorbereidingspreek dit vír u te doen nie. Nee, elkeen van ons moet ons lewens voor God op die proef stel – nie om uiteindelik die gevolgtrekking te kan maak dat ons vanuit onsself waardig is om aan die tafel te gaan nie; nee, maar om te besef dat ons slegs in Christus, slegs met sy liggaam en bloed, voor God kan bestaan. Verrig hierdie selfbeproewing sodat jy nie as huigelaar aan die tafel gaan.

 

Want, ja, daarvoor waarsku die Kategismus ons. Die laaste sin van antwoord 81 lui immers: “Maar die huigelaars en die wat hulle nie tot God bekeer nie, eet en drink ‘n veroordeling oor hulleself.” Dit is presies waarvoor Jesaja in hoofstuk 66 ook waarsku. Nadat die Here in vers 2 gesê het op wie Hy wel let, wys Hy vervolgens in verse 3 en 4 wie nie voor Hom kan bestaan nie.  

Die Here noem in vers 3 deur die mond van Jesaja vier verskillende soorte offers, offers wat in die wet deur die Here voorgeskryf is. Maar hoewel dit offers was wat deur die Here voorgeskryf is, vergelyk Hy elkeen van hierdie offers met moorddadige en afskuwelike handelinge. Want waar hierdie offers met die verkeerde gesindheid en sonder die nodige bekering gebring word, is dit afskuwelik in die Here se oë. Die onbekeerde en skeinheilige mens wat ‘n bees as offer slag om die Here tevrede te stel, word dan vir Hom soos iemand wat ‘n mens doodslaan; die huigelaar wat ‘n lam slag, word vir Hom soos iemand wat ‘n onrein hond se nek breek; die onbekeerde mense wat ‘n spysoffer bring, word vir Hom soos iemand wat varkbloed offer; en die skeinheilige wat wierook as gedenkoffer bring, word vir die Here soos iemand wat ‘n afgod prys.

 

Sien u, offers wat in sigself goed is, word afskuwelik voor die oë van die Here wanneer dit nie met opregtheid gebring word nie. En dan verander die effek van hierdie offers ook – wat genade moes gebring het, bring uiteindelik oordeel; die oordeel van die Here, soos wat ons daarvan lees aan die einde van vers 3: “Soos hulle hul eie weë verkies het en hulle siel ‘n behae het in hul verfoeisels, so sal Ek ook hulle ongeluk verkies en wat hulle met skrik vervul, oor hulle laat kom.” Uiterlik doen hierdie mense wat God behaag, maar hulle beantwoord nie die Here se oproep tot hulle harte nie. Hulle offers, wat in skeinheiligheid gebring is, tel uiteindelik teen hulle.

Presies dieselfde gebeur, broers en susters, wanneer ons as huigelaars aan die nagmaalstafel gaan, wanneer ons van die brood eet en die wyn drink sonder om berou oor ons sondes te hê en ons daarvan te bekeer, sonder om gebroke van hart en verslae van gees te wees. Dan verander die werking van Christus se offer in die brood en die wyn van vergifnis en nuwe lewe, tot oordeel en verderf. Laat die selftug ons daarom op ons knieë voor die Here bring in besef van ons onverdienstelikheid. Laat ons bewustelik bely: “Wees my, arme sondaar, genadig!” En dán is die weg na die maaltyd oop! Dán sê die Here: “Kom!” Ook al was jou sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol” (Jes. 1:18). Só bring die selftug ons by die Here, bring dit ons aan sy etenstafel waar ons vuil klere van ons weggeneem word, en aan ons nuwe en skoon klere gegee word. Wie moet na die nagmaalstafel kom? Die verloste sondaar, Hy wat weet dat daar vir hom slegs in Christus nuwe lewe moontlik is en dit met beide hande aangryp. “Almal wat só gesind is, wil God sekerlik in genade aanneem en as waardige tafelgenote van sy Seun, Jesus Christus, beskou.”

Kom ons let nou vervolgens kortliks op die kerklike tug. Terloops, in die behandeling van Sondag 31 sal ons nog breedvoeriger hierop terugkom. Maar nou net kortliks iets oor die kerklike tug in die konteks van die nagmaal van die Here.

2. Hierdie huigelaars, waarvan ons sopas gehoor het, moet hulle dan nie van die nagmaalstafel afgehou word nie? Immers, hulle eet en drink ‘n oordeel oor hulleself… Inderdaad, maar die probleem is, dat ons as mense nie die harte kan beoordeel nie. As mense is die reikwydte van ons oordeel beperk tot die bietjie wat vir ons sigbaar is. En daarom verwag die Here nie dat die kerklike tug hom oor die huigelaars hoef te bekommer nie. Die huigelaars sal altyd met die ware gelowiges vermeng wees, net soos wat die onkruid altyd met die koring vermeng is. En wanneer die knegte, in hierdie gelykenis van Jesus in Mattheus 13, vra of hulle die onkruid tussen die koring uit moet gaan verwyder, sê die huisheer: “Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie. Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur” (verse 29-30). Broers en susters, die huigelaars, diegene wat aan die nagmaalstafel kom sonder opregte berou en die voorneme tot bekering, húlle sal tydens die laaste oordeel aan die kaak gestel word. Natuurlik, intussen verkondig ons wel aan hulle dat hulle ‘n oordeel oor hulself eet en drink. Maar die Here het nie aan ons die vermoë of die opdrag gegee om die huigelaars tussen die ware gelowiges uit te haal nie.

 

Maar wat is dan die funksie van die kerklike tug? Wel, daarvoor kan ons v/a 82 lees. Daaruit blyk dat die kerklike tug bedoel is om dié mense wat met hulle belydenis en lewe wys dat hulle ongelowig en goddeloos is, van die etenstafel van die Here af te hou. Dit gaan dus oor mense van wie ons baie duidelik kan sien, hetsy deur wat hulle leer of deur wat hulle doen, dat hulle nie soos kinders van die Here lewe nie. Oor húlle het ons wel ‘n baie duidelike opdrag van die Here gekry, naamlik om hulle op geestelike wyse te verbied om die nagmaal te vier.

Maar… het hulle dan nie die nagmaal nodig nie? Ontneem ons hulle nie iets wat hulle dalk nodiger as die ware gelowiges het nie? Ja, gemeente, hulle het die nagmaal nodig, hulle het die liggaam en bloed van Christus broodnodig. Net soos ons almal. Maar as ons iemand aan die nagmaal toelaat wat openlik ‘n ongelowige leer aanhang of ‘n ongelowige lewe lei, iemand wat nie blyk daarvan gee dat hy hom tot die Here wil bekeer nie, dan kom daarmee die heiligheid van die maaltyd in die gedrang. Aan die tafel ontmoet die heilige God immers geheiligdes in Christus. En daarom kan God die sonde aan sy etenstafel nie verdra nie. So iemand is dan ook nie meer welkom by die maaltyd van die Here nie.

So asof dié wat wel aan die tafel gaan so sondeloos is…?! Nee, die gelowiges wat aan die nagmaal gaan, is allesbehalwe sondeloos. Maar hulle is wel mense wat – met die krag van die Gees – die sonde haat en daarvan wegvlug. Hulle is wel mense wat by Christus skuiling vind van die toorn van God omdat hulle weet dat hulle uit hulself die ewige dood verdien; hulle is wel mense wat in Christus strewe na ‘n nuwe en heilige lewe, ook al gaan dit met val en opstaan. En met daardie houding gaan hulle ook, want hulle weet dat hulle by ‘n heilige maaltyd aansit, waar ‘n heilige Gasheer die gawes uitdeel.

 

Wanneer mense daarom van die nagmaalstafel weerhou word, dan sê dit alles oor die heiligheid van God en sy maaltyd. Dan mág die kerk nie toelaat dat hierdie verbondsmaal ontheilig en God se toorn oor die hele gemeente opgewek word nie. Laat ons daarom konsekwent hierdie sleutel, wat God aan ons gegee het, gebruik om te verseker dat ons ‘n ware kerk bly wat in die heiligheid van God mag bly verkeer. Laat ons die ongelowige en goddelose nie toelaat om die verbondsmaaltyd wat in hierdie gemeente gevier word, te ontheilig nie.

“… totdat hulle verbetering van hulle lewe bewys” – so sluit antwoord 82 af. Dit is uiteindelik die doel, gemeente. Dat die ongelowige en goddelose terugkom van sy verkeerde weg, dat hy besef dat daar slegs in Christus lewe en vrede is. Wanneer dit die geval is, dan sluit ons met vreugde weer oop, dan verwelkom ons terug. Dan is daar blydskap in die hemel! Die sleutel van die kerklike tug is inderdaad tot behoud van die sondaar. En laat ons dit ook daarvoor gebruik.

 

Gemeente, laat ons dus daagliks besig wees met die selftug, maar laat ons die kerklike tug nie vergeet nie. Op dié manier wil die Here elke keer weer sy maaltyd hier by ons kom hou. Só wil Hy graag elke keer weer sy tafel vir ons dek, ‘n ryk belaaide tafel met die heerlikste kosse. O, almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk.

Amen

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Skr. 15:4-7

Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 24:2-4

Gebed

Lees:    Jesaja 66:1-4

            Lukas 14:1-24

Sing Ps. 34:6 en 8

Teks: HK, Sondag 30 (fokus op v/a 81 en 82)

Preek

Amenlied Ps. 119:19, 20 en 39

Gebed

Belydenis van geloof (staande en singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 118:12-14

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)