Die na-aper van Jesus Christus is hard aan die werk in die wêreld!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2012-09-23
Text: 
Openbaring 12 ─ 13
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Openbaring 12 en 13

 

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Ons is met hoofstuk 12 nog steeds in die sfeer van hoofstukke 10 en 11. Hierdie drie hoofstukke bied, ná die dramatiese aankondiging van die historiese oordeel in hoofstukke 6-9, as’t ware ‘n soort intermezzo. Vir ‘n oomblik laat die Here Johannes terugstaan van die gebeure rondom die vernietiging van Jerusalem en die tempel deur die Romeine, om vir hom te wys wat op die agtergrond van hierdie historiese gebeurtenisse aan die gang is. Die verwoesting van Jerusalem en die tempel deur die Romeine is werklike, historiese gebeurtenisse, maar daaragter is ‘n veel groter stryd aan die gang. Agter die skerms, so leer Openbaring 12 ons, is daar die stryd tussen die saad van die vrou én die slang met sy volgelinge, die stryd wat God in Genesis 3:15 alreeds aangekondig het.

En gevolglik sien ons dan ook, in Openbaring 12, die twee teenstanders van Genesis 3:15 teenoor mekaar staan. Enersyds is daar die vrou, swanger en in barensweë van die Kind, die saad van die belofte (12:1-2); andersyds is daar die vuurrooi draak (die ‘ou slang’ van vers 9, wat ons herinner aan die slang in die paradys) met ‘n derde van die engele-ryk wat hy met hom saamgesleep het, en hulle is daarop uit om die kind te verslind die oomblik wanneer  Hy gebore sou word (12:3-4). Maar gelukkig kan die draak die geboorte van die kind nie verhinder nie – immers, God se raad word nooit gekeer nie, en die geboorte van Jesus in Betlehem is verseker deel van God se raad tot redding van sy volk.

 

Opmerklik is egter dat, nadat Johannes die geboorte van die Kind – die Here Jesus – uit die vrou gesien het, hy verder niks van Jesus se lewe en optrede op aarde sien nie. Nee, die beeld spring, vanaf Jesus se geboorte, dadelik na sy hemelvaart. Hy word weggeruk na God en sy troon om van daar af die nasies met ‘n ystersepter te regeer (12:5). Die vrou, egter, bly op aarde agter. Maar moenie bekommerd wees nie, sy is nie alleen nie. Gedurende die duisend-tweehonderd-en-sestig dae, die tyd van Joodse verdrukking deur die Romeine, word die vrou – die kerk – in die woestyn onderhou. Hoekom in die woestyn? Wel, in die Ou Testamentiese profesieë speel die woestyn ‘n belangrike rol. Dink aan Hosea 2:13: “Daarom, kyk, Ek sal haar lok en haar in die woestyn lei en na haar hart spreek.” Dink ook aan Jesaja 40:3: “Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse God.” Gevolglik sien ons dan ook dat Johannes die Doper, die wegbereider vir die Messias, juis in die woestyn opgetree het. Daarenteen waarsku Jesus later sy volgelinge vir valse profete wat mense die woestyn inlok deur by hulle valse verwagtings van ‘n Messias te skep; Hy sê: “As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn – moenie uitgaan nie” (Mt. 24:26). En ons weet vanuit die geskrifte van die kerkvader Eusebius, dat die christene in Jerusalem tydens die Romeinse aanval na Pella in die woestyn gevlug het. Ons sien dus dat die woestyn die draer was van messiaanse verwagtinge wat gevoed is vanuit die profesieë van die Ou Testament, en juis dáár word die kerk bewaar; dáár is sy veilig by haar Messias.

En het sy dit nie nodig nie, gemeente! Want nadat Jesus na die hemel opgevaar het, is daar vir die draak – die ou slang, die duiwel, die Satan – geen plek in die hemel meer nie (12:8-9). Nee, hy is neergewerp op die aarde, hy het verloor. Jesus is nou Koning in die hemel, Jesus het die oorwinning oor die duiwel behaal! Maar die gevolg is wél dat die duiwel nou met groot woede sy pyle op die kérk rig; hy gaan nou die stryd voer teen die gelowiges wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou (12:17). Nou, dit is waaroor dit in hoofstuk 13 gaan – die stryd van die duiwel teen die kerk. Maar, let wel, dit is reg van die begin af belangrik om te sien dat die duiwel in hierdie stryd baie slim te werk gaan. Dit is by hom nie slegs ‘n kwessie van brute krag nie; nee, daar is ook ‘n sterk element van geraffineerde, subtiele verleiding. Die duiwel kan nie meer in die hemel kom nie, hy kan nie Jesus Christus wees nie, maar hy kan Hom wel na-aap. Hy kan hier op aarde ‘n koninkryk skep wat alle eienskappe vertoon van die koninkryk van die hemel. En dít is wat hom so gevaarlik maak, ook vandag nog!

Tema: die na-aper van Jesus Christus is hard aan die werk in die wêreld!

  1. Die mag van Christus word nageaap (13:1-10)
  2. Die aanbidding deur die kerk word nageaap (13:11-18)

 

1. Johannes sien ‘n dier uit die see opkom met sewe koppe en tien horings, en op die horings tien krone en op sy koppe ‘n naam van godslastering. Nou, gemeente, daar is alle rede om by hierdie dier te dink aan die Romeinse ryk, spesifiek die Romeinse ryk onder die bewind van keiser Nero. Hoekom sê ek so? Wel, in hoofstuk 17:9 en 10 word vir ons ‘n verklaring van hierdie dier gegee [lees dit]. Hier word dus gesê dat die sewe koppe sewe berge is, en almal in daardie tyd het geweet dat dít ‘n verwysing is na Rome, die beroemde stad wat gebou was op sewe berge / heuwels. Maar die sewe koppe het, volgens 17:10, ook nog ‘n ander verwysing – dit verwys ook na sewe konings, waarvan vyf alreeds geval het, een op daardie stadium nog regeer, en ‘n laaste een nog moet kom, hoewel hierdie laaste een net vir ‘n kort rukkie sal regeer. Nou, in die uitdeelstuk oor die datering van die boek Openbaring, wat u in u posvakkie gekry het, wys ek dat dit ‘n aanduiding is van die regering van keiser Nero.

Die feit dat ons hier te make het met Rome in die tyd van Nero word deur verskeie aspekte in hoofstuk 13 bevestig: 1) Dit word bevestig wanneer ons in hoofstuk 13:18 lees dat die getal van die dier seshonderd-ses-en-sestig is – in die antieke wêreld, voordat die Arabiese syfers uitgevind is soos wat ons hulle vandag nog ken, was dit baie algemeen om die alfabet ook as getalle-sisteem te gebruik; letters het ‘n bepaalde syferwaarde gehad. En wanneer ons nou die letters van die naam ‘keiser Nero’ in Hebreeus as getalle bymekaar optel, dan kom ons uit by presies seshonderd-ses-en-sestig. 2) Dat ons hier met Rome te make het, word verder bevestig wanneer ons in hoofstuk 13:2 lees dat hierdie dier groot mag en krag het (13:2b) – Rome was verseker die grootste en magtigste ryk in die antieke wêreld, en daarby ook die heersende ryk in die tyd waarin Johannes geskryf het. 3) Verdere bevestiging kry ons wanneer ons lees dat hierdie dier ‘n godslasterlike karakter het (13:5-6) en goddelike aanbidding gekry het (13:8) – ons weet dat die Romeinse keisers as gode beskou en vereer is, en dat Nero homself as die god Apollo beskou het. 4) Ook die feit dat hierdie dier uit die see kom, dien as bevestiging – geografies is dít presies die perspektief waarvandaan Israel die Romeine sou verwag het, vanuit die Middelandse see. 5) En ten slotte vind ons bevestiging in die feit dat aan hierdie dier 42 maande lank mag gegee word om godslasteringe uit te spreek en die heiliges te vervolg (13:5-7). Dit is ‘n duidelike verwysing na die vervolging van die christene in die tyd van keiser Nero wat presies 42 maande lank geduur het – vanaf November in die jaar 64 nC tot Junie in die jaar 68 nC. Samevattend kan ons dus sê, gemeente, dat ons by hierdie dier-uit-die-see te make het met Rome, spesifiek in die tyd van keiser Nero.

 

Nou goed, wat word vir ons van hierdie dier vertel?

Wel, vers 2 vertel vir ons dat hierdie dier soos ‘n luiperd was, dat sy pote soos dié van ‘n beer was, en dat sy bek soos die bek van ‘n leeu was. Hier kry ons beelde wat ons herinner aan Daniël 7:3-7 [lees hierdie gedeelte]. In Daniël 7 is hierdie verskillende diere beelde van vier verskillende koninkryke, maar in Openbaring 13 sien ons dat al hierdie dier-beelde saamgevoeg word. Die kenmerke van die vier onderskeie diere is nou gekonsentreer in een koninkryk – hierdie saamgebondelde mag is die toppunt van politieke heerskappy. Al die slegte ryke van die verlede word hier oortref, sowel in militêre krag as in vergoddeliking – lenig en listig soos die luiperd, sterk soos die beer, voorsien van ‘n groot bek soos die leeu. ‘n Super-koninkryk! Presies wat die magtige Romeinse ryk was.

Maar dan sien ons vervolgens dat hierdie dier-uit-die-see in een van sy koppe gewond word – dodelik gewond. En tog gaan die dier as geheel nie dood nie. Een van die koppe is gewond, maar die dier as geheel genees. En dit was presies die situasie van die Romeinse ryk tydens en ná die bewind van Nero. Op 8 Junie in die jaar 68 nC pleeg keiser Nero selfmoord omdat daar nie meer vertroue in sy heerskappy was nie. Dit was ‘n tyd waarin die Romeinse ryk deur burgeroorlog gedreig het om totaal uitmekaar geskeur te word. Vir baie mense in daardie tyd het dit gelyk asof die einde van die Romeinse ryk aangebreek het. Maar dan, na ‘n baie onrustige tyd waarin vier keisers in een jaar vermoor is, het Vespasianus aan bewind gekom, en het die ryk weer herleef! Nero het wel gesterf, maar die wond is genees en Rome het weer sy ou glore herwin. Daarvoor kry dit die aanbidding van al die bewoners van die aarde. Hier het ons dus die historiese werklikheid wat deur hierdie dier-uit-die-see uitgebeeld word.

 

Maar, gemeente, net soos ek in die inleiding daarop gewys het dat ons steeds die stryd agter die skerms moet raaksien, so moet ons ook híér sien wat agter die skerms gebeur. Want agter die skerms is die dráák aan die werk. Rome en Nero is op sigself niks nie… Nee, die draak, die duiwel, is in beheer; hy gebruik Rome en Nero as sy marionet! En ons sien dit, onder andere, in die feit dat die dier uit die see soveel ooreenkomste met die draak vertoon – beide het sewe koppe en tien horings (13:1). Ons sien dit verder in die feit dat die dier sy krag en mag nie van homself het nie, maar dat dit hom deur die draak gegéé word (13:2). En ons sien dit ook in die feit dat ‘n mond van godslastering aan die dier gegéé word (13:5). In sigself het die Romeinse ryk geen mag gehad nie, maar die draak skenk krag en mag aan hierdie dier, omdat daarmee duiwelse werk wil verrig.

En sy duiwelse werk is om ‘n imitasie, ‘n namaaksel van die koninkryk van die hemel hier op aarde te verstig! Jesus het die duiwel oorwin, Hy het sy Koninkryk vir ewig bevestig, dit sal nooit wankel tot in ewigheid nie. Die duiwel weet dit. En daarom moet hy ‘n ander plan maak – hy bou ‘n vervalste koninkryk op aarde; hy na-aap die hemelse koninkryk hier op aarde. Hy wil mense laat glo dat hulle by Rome hulle heil kan vind, dat Rome hemel op aarde is. En dit is dan ook presies waar dit met die Jode fout gegaan het – in Openbaring 17 sien ons naamlik dat daar ‘n vrou bo-op die dier sit, en in komende preke hoop ek om aan te toon dat hierdie vrou Jerusalem uitbeeld. Jerusalem wat ry op die rug van die Romeinse ryk. Jerusalem wat, toe Pilatus vir hulle vra: moet ek julle Koning kruisig?, geantwoord het: ons het geen koning nie, behalwe die keiser (Joh. 19:15). Só trek die draak mense van die hemelse Koning af weg, sodat hulle hom volg! En, broers en susters, hy doen dit so subtiel, so slim…

 

Jesus het naamlik met dodelike wonde aan die kruis gesterf, maar weer uit die dood opgestaan – en wat doen die draak? Hy sorg dat sy marionet ook ‘n dodelike wond kry, maar weer genees word. Eers dood, daarna verrassend weer lewend! Maar die imitasie gaan nog verder: Jesus kry deur sy voltooide werk die lof en die aanbidding en die verwondering wat Hy verdien (kyk maar na die lofsang in Op. 5), maar hierdie navolging van Christus kry konkurrensie in die navolging van die dier. “Wie is aan die dier gelyk?” (13:4) Is dit nie verstommend-bekend nie? Want dit is presies die retoriese vraag wat Israel regdeur haar geskiedenis teenoor Jahwe laat klink het: “O HERE, wie is soos U onder die gode?”, hoor ons in Moses se lied in Exodus 15:11. En: “HERE, wie is soos U?”, hoor ons in Psalm 35:10, 89:7, 113:5. En net hiervoor, in Openbaring 12, het ons nog die naam Migael teëgekom, en daardie naam beteken presies dít: “wie is soos God?” Nog ‘n imitasie: in hoofstuk 12:11 het ons gelees dat die gelowiges die aanklaer – die duiwel – oorwin het deur die bloed van die Lam, maar vervolgens lees ons in hoofstuk 13:7 dat die dier oorwin het deur die bloed van die heiliges, sodat die vraag ontstaan: wie is nou die regte oorwinnaar? Die Lam het met sy bloed mense gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie (5:9), maar in hoofstuk 13:7 word van die dier gesê dat hy mag het oor elke stam en taal en nasie. Die Lam ontvang hulde van elke skepsel in die hemel en op die aarde en onder die aarde en in die see, maar daarteenoor ontvang die dier hulde van al die bewoners van die aarde.

 

Sien u, gemeente, hoe die draak sy duiwelse streke uithaal? Sien u hoe hy die magtige Romeinse ryk en die vergoddelikte Nero gebruik om mense se aandag van Jesus Christus af te trek – opmerklik, nie waar nie, dat juis in die tyd toe Jesus op aarde geleef en gesterf het, dat juis in dié tyd die magtigste en mees glorieuse ryk in die geskiedenis van die mensdom sy hoogtepunt bereik het! So gebruik die duiwel politieke magte en stelsels en ideologieë, so gebruik hy regerings en staatshoofde om mense se oë en aandag af te trek van die koninkryk van die hemele en van Koning Jesus. Die amperse vergoddeliking van die hedendaagse staatsmag en die amperse vergoddeliking van staatshoofde (en van voormalige staatshoofde soos Nelson Mandela, en van voormalige apartheid-staatshoofde soos HF Verwoerd en John  Vorster e.a. deur Afrikaners vandag) is ‘n kragtige middel in die hand van die duiwel om mense hulle heil by prinse en mensekinders te laat soek! Mense, ook gelowiges, dink dat hulle by hierdie namaaksels veilig is – die swart meerderheid van ons land dink dat hulle heil lê in die nuwe Suid-Afrika van ná 1994, en die blanke minderheid smag na die tyd vóór 1994.

En dan sê die Here vir ons: oppas! Oppas vir die veridealisering van die staatsmag en die politieke ideologieë van ons tyd. Oppas vir Rome, want agter Rome is die duiwel aan die werk. Oppas om vir julle koninkryke hier op aarde te bou. Openbaring 13 leer ons om nie hieraan deel te neem nie – ons word opgeroep om die eenheidsparade van Rome te deurbreek, en nie saam met die ander bewoners van die wêreld die keiser te aanbid nie. Broers en susters, dít is die oproep aan ons wie se name geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam (13:8). Ons sal uiteindelik die lewe ontvang, die ewige lewe – daarvoor sorg die geslagte Lam. Maar wie hulle heil soek in die koninkryke van hierdie wêreld loop uiteindelik die lewe mis. En met al ons gereformeerde teologie en belydenis is ons nie daarvan gevrywaar nie. Al ons gereformeerde teologie en belydenis moet ons help om die ware koninkryk van die namaaksel te onderskei. Die duiwel is ‘n na-aper – moenie vir hom val nie, in watter gedaante hy homself ook al voordoen. Bly by Koning Jesus!

In die tweede plek: die aanbidding van die kerk word nageaap (vers 11-18).

 

2. Weer kom daar ‘n dier te voorskyn, hierdie keer uit die aarde. Hierdie dier het net een kop en twee horings. Hy het nie dieselfde kragtige uitstraling as die dier uit die see nie… maar dis doelbewus gedoen. Hierdie dier het bewustelik die nie-bedreigende vorm van ‘n lam aangeneem. Hy is daarmee die namaaksel, en tegelyk die teenvoeter, van die Lam, Jesus Christus, uit Openbaring 5. Maar moenie dat die uiterlike jou bedrieg nie; wag tot hierdie lam sy mond oopmaak, want wanneer dit gebeur, hoor ons dat hy praat soos die draak (13:11). Hy lyk dus sag en lief, maar hy is ten slotte niks anders nie as ‘n valse profeet – terloops, later in Openbaring (16:13, 19:20 en 20:10) is dit presies wat hierdie tweede dier genoem word: die valse profeet. En Jesus het tydens sy lewe op aarde alreeds gewaarsku vir valse profete wat hulleself anders voordoen as wat hulle in werklikheid is.

Nou, deur middel van die spreke van hierdie valse profeet word die wêreld gebring tot aanbidding van die dier uit die see. Hierdie valse profeet is dus die teenvoeter, nie net van die Lam nie, maar ook van die ware getuies, die ware profete van hoofstuk 11. Hy is die propaganda-minister van die dier uit die see, hy is die godsdienstige en geestelike mag wat saamwerk met die politieke mag van die dier uit die see. Hierdie valse profeet is die dominee wat preek dat die dier-uit-die-see aanbid moet word! Hy sorg vir ‘n erediens met lofsange en gebede. Die aanbidding van die draak en die dier-uit-die-see, waarvan ons in hoofstuk 13:4 en 8 gelees het, word deur hierdie valse profeet bewerkstellig. Teenoor die aanbidding van Hom wat op die troon sit en van die Lam (Op. 4 en 5), staan die aanbidding van die dier uit die see. Teenoor die gemeenskap wat God en die Lam prys, organiseer hierdie tweede dier ‘n gemeenskap wat die dier uit die see prys.

Nou, gemeente, as die dier uit die see die ontmaskering is van die Romeinse keiserryk, dan is die dier uit die aarde die ontmaskering van die kultus van die keiser-verering van daardie dae. Ons weet naamlik uit die geskiedenis dat, oral waar die Romeinse ryk nuwe gebiede verower het, daar is die inwoners toegelaat om hulle eie gode te behou. Máár hulle moes by hulle bestaande godsdiens byvoeg: die verering van die keiser as god! En vir dié doel was daar regdeur klein-Asië priesters wat hierdie keiser-kultus georganiseer het. Die duiwel – die draak – het dus die Romeinse ryk gebruik as teenvoeter vir die koninkryk van die hemel, en hy het die keiser-verering gebruik as teenvoeter vir die erediens van die christene wat Koning Jesus aanbid het. Hy na-aap die egte Koning en hy na-aap die ware erediens

 

Openbaring 13 gaan verder deur vir ons te skets watter metodes hierdie valse profeet gebruik om mense te bring tot aanbidding van die dier uit die see. Ek noem hulle kortliks. Eerstens beskik hy oor die vermoë om groot tekens te doen (13:13), veral om vuur uit die hemel te laat neerdaal. En ons weet dat die namaak van donder en bliksem (vuur uit die hemel) algemeen was in die keiserkultus, en dat mense daardeur tot verwondering gebring is, ook al was dit net namaak. Die tweede metode wat die valse profeet gebruik, is om aan die bewoners van die aarde opdrag te gee om vir die dier uit die see ‘n beeld te maak – sien is mos glo! Ons weet dat keiser Nero ‘n beeld van 120 voet hoog, waarin hyself as god uitgebeeld het, voor sy paleis opgerig het. Die propaganda-minister kry verder ook die vermoë om die beeld te laat spreek – dít waarmee die Ou Testament gespot het, naamlik dat die beelde nie kan praat nie (Ps. 115, 135), word hiermee deur die duiwel weerlê! En ons weet dat van priesters in die keiser-kultus verwag is dat hulle beelde moet kan laat spreek en beweeg.

Die laaste metode wat die valse profeet gebruik om mense tot aanbidding van die dier uit die see te bring, is die aanbring van ‘n merkteken. Daardeur is die moontlikheid geskep om ekonomiese sanksies toe te pas op diegene wat die merkteken nie ontvang het nie. Hulle word uitgesluit van transaksies, insluitend die aankoop van voedsel. Dié wat weier om die dier uit die see te aanbid, is daarmee gedoem tot verhongering en ekonomiese agteruitgang. Hierdie merkteken wys dus deelname aan die aanbidding van die dier uit die see (die keiser-verering), terwyl afwesigheid van die merkteken mense in die samelewing gestigmatiseer het. Gemeente, hierdie merkteken kan goed verklaar word teen die agtergrond van die ekonomie in die Romeinse ryk. Daar is bewyse uit die eerste eeu dat stempels op koopbriewe geplaas is met die naam en die regeringsjaar van die keiser daarop, en op die munte van Rome het altyd die kop van die keiser gepryk. Elke handelstransaksie het daarom met die keiser-kultus te make gehad.

Duidelik staan die merkteken op die regterhand en die voorhoof téénoor die verseëling op die voorhoofde van die uitverkorenes (waarvan ons in hoofstuk 7:3 gelees het). Beide gee ‘n verhouding aan: iemand behoort óf by die kamp van die lewende God, óf by die kamp van die dier. Met die gevolg dat jy beskerm word: die verseëldes word deur God beskerm, die gemerktes bly vry van ekonomiese sanksies.

 

Broers en susters, met al hierdie metodes skep die duiwel ‘n nagemaakte erediens. Die dier uit die see word gekomplementeer, aangevul met die dier uit die aarde. En hierdie laaste dier – die valse profeet – bring mense tot aanbidding van die staatsmag, tot verheerliking van die heersende ideologie, en tot die jaag na ekonomiese sekuriteit. Dit was so in die tyd van die Romeinse ryk, maar is dit vandag enigsins anders? Ons word vanaf die linkerkant gepeper met die ideologie van ‘ubuntu’ en van ‘n Afrika-renaissance; en vanaf die regterkant word die Afrikaner opgeroep om homself te laat geld. Ons word toegegooi met die vergoddeliking van mense – gaan maar na Sandton en sien daar, net soos voor Nero se paleis, die massiewe beeld van Nelson Mandela. En die ekonomiese merkteken van die Romeinse ryk is vandag nog net so werklik – wie voor die staat buig, kry die ‘job’, en vertaal dit maar gerus na tender-korrupsie en baantjies-vir-boeties. En dit is nie net ‘húlle’ wat dit doen nie; nee, die besigheidsmanne onder ons worstel ook soms daarmee.

Maar, gemeente, ons word opgeroep om die namaak-erediens te ontmasker vir wat dit is. Namaak, vervalsing, nie die ware Jakob nie. Moenie, soos die bewoners van die aarde, jouself daardeur laat mislei nie. Moenie sekuriteit soek by dit wat geen sekuriteit bied nie. Weereens, die vrou – die Joodse volk – het op die rug van die dier gery (Op. 17); sy het geprofiteer van die voordele van die dier, van die Romeinse ryk. En die Here het sy oordeel oor haar laat kom. Maar laat ons trou bly, broers en susters, ook al beteken dit stigmatisering en benadeling. Laat ons, sonder om onsself uit hierdie wêreld terug te trek, onsself tog suiwer bewaar. Dien die egte Koning met jou lewe, beoefen die ware erediens met jou hele hart. Bid intussen vir die bekering van ons owerheid wat in die mag van die duiwel is, bid dat die ideologieë van ons tyd ontmasker sal word vir wat dit is. En doen dit met die belofte van die Here dat Hy sy kerk sal versorg in die woestyn. Ja, wie is soos onse God?

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Skr. 32

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 68:12 en 13

Wetslesing (Deut 5)

Sing Ps. 40:6 en 8

Gebed

Lees: Openbaring 12 en 13 (teks spesifiek Openb. 13)

Sing Ps. 74:9, 10, 14 en 15

Preek

Amenlied Skr. 40:1-5

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 138:2-4

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)