Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.
Preek – Sondag 17; lees Rom. 6, Joh. 20:24-29, Hand. 5:26-33, Hand. 7:54-8:2
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
“Die Heer het waarlik opgestaan” – ja, die kerk vier elke week op die eerste dag die fees van die opstanding. En elke jaar op Paassondag gee ons besondere aandag aan hierdie heilsfeit – Paasfees is een van die belangrike heilsfeite op die christelike kalender. In die Oosters-Ortodokse kerk, egter, is Paasfees nie maar net een van die heilsfeite nie; nee, daar is dit die heilsfeit by uitstek. In die Oosters-Ortodokse gemeenskap is Paasfees nog groter as Kersfees.
En dít is hoe hulle dit vier: in die paasnag kom al die gelowiges op die Saterdagaand voor Opstandingsondag bymekaar. Kort voor twaalf uur die nag word al die ligte in en om die kerkgebou gedoof. ‘n Diep, stil duisternis omhul die gelowiges. Totdat om twaalf uur die deure van die koorgedeelte van die kerk oopgaan en die voorganger die skip van die kerk binnekom. In sy hand dra hy ‘n brandende kers, en hy roep hardop: Christos anestin (“Christus het opgestaan!”). Sy uitroep word deur gemeentelede oorgeneem, en dit eggo deur die kerk. Vervolgens gaan die priester rond en steek die kerse van enkele gelowiges aan, en hulle steek weer diegene om hulle heen se kerse aan. En so versprei die lig vinnig van kers tot kers totdat die kerk heeltemal verlig is. Kort daarna gaan die gelowiges al singende met hulle kerse buitentoe, die wêreld in. En daar klink dit oor die pleine en deur die strate: Christus het opgestaan!
‘n Indrukwekkende gebeurtenis! Christus se opstanding beteken lig in die diepe duisternis van hierdie wêreld. Die lig oorwin die duisternis en dit bring verandering in die lewens van mense. En dít is waarop ons vandag wil let, en ons doen dit deur spesifiek te let op die lewens van die eerste gelowiges in Jerusalem.
Tema: Die Hére leef, en óns mag leef!
- Regverdigmaking
- Heiligmaking
- Vervolmaking (hierdie 3 punte is die 3 afdelings van antwoord 45)
[lees Johannes 20:24-29]
1. Gemeente, die Here Jesus se opstanding uit die dood was nie skyn nie, maar ‘n werklike feit. Ons moet dit nie vergeestelik, soos wat baie mense vandag doen, en sê dat dit nie so belangrik is of Jesus fisies / liggaamlik opgestaan het nie, solank jy maar net weet dat Hy in jou hart opgestaan het. Nee, Jesus het werklik opgestaan, jy kan dit dateer, jy kan dit op jou kalender aanteken: op die derde dag!
En tog weet ons dat die dissipels op daardie opstandingsdag nie werklik verstaan het wat gebeur het nie. Hulle onbegrip en kleingeloof – en ons sê dit sonder enige selfverheffing – het hulle sig op die werklikheid verblind. Selfs toe die engele aan hulle die opdrag gegee het om na Galilea te gaan, omdat hulle daar vir Jesus sou sien, het dit nog nie tot hulle deurgedring nie. Hulle het ook nie onthou dat Jesus, kort voor sy sterwe, dieselfde opdrag aan hulle gegee het, naamlik om Hom in Galilea te ontmoet nie (Mt. 26:32). ‘n Mens sou verwag dat hulle dit, danksy die engele, skielik weer sou onthou, en dat hulle direk ná die sabbat na Galilea sou afreis en dat daar op die oggend van die derde dag geen leerling meer in Jerusalem te vinde sou wees nie. Maar dit het nie gebeur nie. Die leerlinge het oral heengegaan (huistoe, na Emmaus toe, na die bo-vertrek toe), oral, behalwe na Galilea! Hulle het in en om Jerusalem bly rondhang.
En dan is Jesus verplig om ook in Jerusalem in te gaan en daar aan Simon Petrus, en aan Maria Magdalena, en aan die vroue, en uiteindelik aan die elf dissipels te verskyn. As húlle nie na Hom toe kom nie, dan moet Hy maar na hulle toe gaan. Dit is hartseer dat dit moes gebeur; Jesus verwyt sy dissipels ook daaroor. Want Hy wou glad nie in Jerusalem verskyn nie. As alles volgens sy plan en opdrag verloop het, sou Hy dadelik ná sy opstanding aan sy dissipels in Galilea verskyn het, en van daar af vertrek het. Want die groot Koning pas nie meer in die aardse Jerusalem nie; Hy hoort in die hemelse Jerusalem. Daarheen wil Hy gaan. Hy wou sy dissipels net vinnig op sy deurreis in Galilea ontmoet, en dan wou Hy verder reis na die hemelse paleis.
Maar Jesus moet langer vertoef as wat Hy beplan het. Veertig dae langer, om presies te wees. En dit word veertig dae van gereelde pastorale versorging, ‘n tyd om die dissipels in te lei in die betekenis van sy sterwe, opstanding en hemelvaart. Jesus stel sy oorwinningstog na die hemel uit om sy leerlinge te laat deel in sy verlossingswerk! Probeer jouself dit voorstel: die volgende koning van Engeland, prins Charles, stel die dag van sy kroning uit, omdat daar ‘n paar van sy onderdane is – nie hooggeplaastes nie, nee, mense uit die laer klas – wat nog nie verstaan waaroor sy kroning gaan nie. Alle reëling vir die groot dag is al getref, alles en almal is gereed, maar die nuwe koning sê: “Jammer, ons stel dit eers uit, want hier is mense wat nog nie verstaan waaroor dit gaan nie, en daarom kan hulle nie deel in die vreugde van my kroning nie.” Wonderlik, nie waar nie!? Nou, dit is eintlik wat Jesus hier doen.
Jesus het opgestaan uit die dood. Hy hoort nou by die lewendes daarbo. Sy plek is nie meer by die mense op aarde, vir wie die lewe niks anders as ‘n voortdurende sterwe is nie. Maar nogtans bly Hy Hom bekommer oor daardie einste mense, steeds bly Hy vir hulle sorg, bly Hy genadig na hulle omsien. En dit is presies wat die Kategismus in die eerste deel van antwoord 45 vir ons sê: “Ten eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin, sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak.”
Ja, Christus het gesterf vir ons sondes, Hy het gesterf om vir ons (skuldige mense) vryspraak te bewerk. Maar bereik daardie vryspraak ons outomaties? Is dit genoeg dat Jesus maar net alles volbring het? Sal ek nou ook outomaties deur die geloof daaraan deelkry? Sal ek dit uit myself deelagtig word? Nee! Kyk maar net na die dissipels. Ná Goeie Vrydag is hulle volledig verward en kleingelowig… en op die verkeerde plek. Vir sy dissipels om werklik deel te kry aan die vryspraak van Goeie Vrydag, moet Jesus na hulle toe teruggaan en hulle pastoraal versorg. Vir my en jou om deel te kry aan die vryspraak van Goeie Vrydag, moet Jesus aan my en jou die geloof kom géé. Hy moet, soos die goeie Herder, my by die voerbak bring, want anders loop ek verby. Hy moet my die geregtigheid deelagtig máák!
Dus, gemeente, Christus het nie net opgestaan, en toe was dit klaar nie. Nee, Hy het opgestaan om my by die hand te neem en my deel te maak van sy verlossing. Hy het opgestaan om my deur sy Gees by die voet van die kruis te bring. Hy gaan háál sy dissipels: Kom, kyk na die wonde in my hande, bring jou hand en kom steek dit in my sy (Joh. 20:27). Só leer die Here Jesus vir Thomas om te glo. En só leer Hy ook ons glo. Só maak Hy ons deel van die feit van sy opstanding, en van alles wat Hy daarmee verdien het.
Veertig dae lank – ‘n volle getal vir volle pastorale versorging. En só sorg ons opgestane Heiland ook vandag nog vir ons. Hy wérk met ons, Hy beitel aan ons harte, Hy kom lê sy geregtigheid in ons lewens vas. Sy opstanding is nie die einde van sy werk nie; nee, Hy sorg dat ons vandag ook werklik in sy opstanding kan deel. En Hy doen dit deur sy Woord en Gees. Deur die prediking, die kategese, die Bybelstudies bied die verhoogde Christus pastorale versorging sodat ons nie in die aardse Jerusalem bly vassteek nie, maar sodat ons ons harte ophef na die hemel en dáár ons geregtigheid soek!
In die tweede plek let ons op die heiligmaking.
[lees Handelinge 5:26-33]
2. Weer tref ons die dissipels aan. Weer in Jerusalem. Maar hierdie keer is dit nie ‘n bewys van hulle kleingeloof nie, maar eerder van hulle gehoorsaamheid. Jesus het hulle by sy hemelvaart te Galilea naamlik beveel om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om daar te wag vir die belofte van die Heilige Gees. En die Gees sou van hulle getuies maak in Jerusalem, Judea, Samaria en tot aan die eindes van die aarde (Hand. 1:4 en 8). En dit is inderdaad wat gebeur het. Die Gees het gekom en aan die apostels vrymoedigheid gegee om die evangelie van Jesus Christus oral te verkondig, beginnende in Jerusalem. Selfs nadat hulle in Handelinge 4 gevange geneem word, bly hulle nie stil nie. Inteendeel, ons lees in Handelinge 4:31 dat die apostels saam met die gemeente gebid het – en die plek waar hulle saam was, is geskud, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die Woord van God met vrymoedigheid gespreek. En dan in Handelinge 5 word hulle vir ‘n tweede keer gevange geneem, en weer is hulle vreesloos in die aangesig van die Joodse Raad: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.” Hoekom? “Want die God van ons vaders het Jesus opgewek… Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk.”
Wat ‘n kontras met die dae kort ná die opstanding. In die dae ná Goeie Vrydag vind ons ‘n groepie verwarde en kleingelowige dissipels. Toe was hulle ongehoorsaam, omdat hulle nie aan Jesus se woorde vasgehou het nie. Maar hier vind ons manne met oortuiging, met vrymoedigheid, met geloofskrag. Hoe is dit moontlik? Wel, dit is wat die opstanding van Jesus doen, gemeente! Hom het God opgewek en verhoog om aan Israel bekering te skenk. Christus se opstanding bring bekering, bring verandering in die lewens van mense. Wat die apostels hier verkondig, is sigbaar in hulle eie lewens. Van kleingelowige dissipels na vrymoedige apostels – dit is wat Christus se opstanding in hulle lewens uitgewerk het. En dit is presies wat die Kategismus ons leer: “Ten tweede word ons nou ook deur sy krag tot ‘n nuwe lewe opgewek.” Dieselfde krag waardeur Jesus uit die dood opgewek is – of dalk beter nog: dieselfde krag waarmee Christus sélf uit die dood opgestaan het – is nou ook werksaam in hulle wat glo. En dit verander lewens!
Paulus praat op ‘n besondere manier oor hierdie werklikheid in Romeine 6. Hy sê in vers 4: “Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.” En dan tel hy die draad weer op in vers 8: “As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe.” En uiteindelik trek hy die praktiese konklusie in verse 11-13: “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers nie… En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het.”
Gemeente, dit is net nie moontlik om Jesus Christus se opstanding te bely – om Paasfees te vier – maar in dieselfde asem verskoning te maak dat jy nou eenmaal is wat jy is nie: “Dit is nou maar my karakter, dit nou eenmaal wie ek is en dit gaan nie verander nie.” As dit ons lewensuitkyk is, dan het ons van die krag van Jesus se opstanding nog nie veel verstaan nie. As jy werklik in Jesus Christus glo, dan is dieselfde krag waardeur Hy uit die dood opgestaan het, ook tot jou beskikking. Jy sterf nie slegs saam met Hom nie, jy staan ook saam met Hom op in ‘n nuwe lewe. Dit is mos wat bekering is, volgens ons Kategismus (Sondag 33) – dit is die afsterwe van die ou mens, en die opstanding van die nuwe mens. Die lewe word nuut, die lewe word anders – jy praat anders, jy dink anders, jy reageer anders!
Natuurlik, dit gebeur nie in een slag nie; die heiligmaking is ‘n proses van val en opstaan, dikwels drie treë vooruit en twee treë terug. En daardie proses is by sommige pynliker as by ander. En tog is dit onlosmaaklik deel van die geloof in Jesus Christus. Paasfees beteken altyd óók heiligmaking. Dit wat ons by die apostels sien, moet ook by ons plaasvind. En daarvoor moet ons terug gaan na Paasfees, terug na die opstanding van Jesus Christus. Gaan terug na die ware betekenis van die Sondag, want Sondag is opstandingsdag. En so verklaar die Kategismus ook die vierde gebod: “Ten tweede moet ek elke dag van my lewe van my bose werke rus en die Here deur sy Gees in my laat werk.” Sondag is, by die ander betekenisse wat dit het, ook dag van heiligmaking, van vernuwing van die lewe. Dink daaraan wanneer jy weer Sondag opstaan – Jesus het waarlik opgestaan… en ek saam met Hom! Weerspieël my lewe dit?
Ten slotte let ons nog op die vervolmaking.
[lees Handelinge 7:54-8:2]
3. Uiteindelik bars die woede uit. Die vyande van die evangelie het gedreig (Handelinge 4), hulle was woedend, hulle wou die apostels om die lewe bring (Handelinge 5)… En nou is dit sover. Die voorneme van die hart het tot volle verwerkliking gekom, en Stefanus moet betaal met sy lewe. Arme Stefanus! Of nie? Stefanus self kyk anders daarna. Die Gees het aan hom oë van geloof geskenk, sodat hy tot binne-in die hemel kan kyk en daar die Seun van die mens aan die regterhand van God sien staan. Hy sien die opgestane Heiland, en dit laat hom verder kyk as hierdie aardse lewe. Al sterwende hoor ons hom sê: “Here Jesus, ontvang my gees.” Stefanus gee sy gees in veilige bewaring, in die veiligste bewaring wat daar bestaan, naamlik in die hande van Jesus Christus, die lewende! Hierdie sterwende gelowige weet van ‘n ander lewe, ‘n ewige lewe. En hy weet dit omdat hy die Lewende in die hemel gesien het.
En dit is die ‘ten derde’ van ons Kategismus: “ten derde is die opstanding Christus vir ons ‘n betroubare waarborg van ons salige opstanding.” Hier kry ons die toekomsperspektief van Paasfees. Paasfees sluit vir ons die hemel oop, sodat ons daar die lewe kan sien. Meer nog: sodat ons daar die Lewende Christus kan sien. En dit laat ons uitsien en verlang na die opstanding van die liggaam en die ewige lewe! Broers en susters, mag die Here uit genade vir ons hierdie perspektief skenk. Met die oog op onsself, maar ook met die oog op ons geliefdes wat in die Here gesterf. Want die dood bly pynlik – ons sien daarom ook hoe godvresende manne vir Stefanus begrawe en ‘n groot rou oor hom bedryf het (Hand. 8:2). Die seer was diep in die gemeente van Jerusalem oor die verlies van hierdie dienaar. Maar – in die woorde van Paulus in 1 Thessalonicense 4:13 en 14 – ek wil nie hê dat julle onkundig met wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie.” “Want – vervolg Paulus – as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring.”
En so ontdek gelowiges dat daar ‘n opening uit die graf is. Gelowiges vind die padkaart uit die helse doolhof. Gelowiges vind die sleutel wat die doodskis oopsluit. Jesus Christus, en sy opstanding. Hy is ons waarborg dat die dood nie die laaste sê het nie. Laat ons mekaar hiermee bemoedig, gemeente. Laat ons mekaar met hierdie evangelie ontlas van die angs vir die dood. En laat ons elke dag voluit lewe vir Jesus Christus, want ons weet nie watter dag die laaste is nie. Daarom, bekommer jou nie te veel oor môre nie. As die Here jou spaar om môre te beleef, dan het môre sy eie bekommernisse. Moet ook nie te veel in die toekoms lewe nie – as die naweek maar net kan kom, as die vakansie maar net kan kom, as ek maar net 18 kan word, as ek maar net my eie plekkie en my eie kar kan kry, as ek maar net ‘n lewensmaat kan vind. Nee, vandag is die dag wat die Here skenk. Vandag lewe ek voluit met my oë na die hemel waar ek Jesus sien staan aan die regterhand van die Vader. By Hom is ewig vreugde en volle vrede, en in sy hand is my gees veilig.
Amen
Liturgie (aand)
- VOORPSALM Ps. 73:10-12
Votum Sing Ps. 121:1
Seën: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 45:1, 2, 4 en 6
- Kort nagmaalsformulier
- Terwyl tafel in gereedheid: sing Geloofsbelydenis
- Voltooi formulier aan tafel
- Sing Skr. 10:1 en 2
Teks: HK, Sondag 17
Preek
- Skriflesing tydens die preek:
- Johannes 20:24-29
- Handelinge 5:26-33
- Handelinge 7:54-8:2
Amenlied Ps. 16:5
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 10:4-6
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.
(kyk in preek)