Die Here beveel ons om die goeie nie terug te hou nie !

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2012-05-20
Text: 
Spreuke 3:27-28
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Spreuke 3:27-28

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Verlede Sondag het ons gesien dat die Here ons van die skepping af geseën het met alles wat ons nodig het, en dat Hy ons vandag in besonder seën met alle geestelike seëninge in die hemele in Jesus Christus – nie om egoïsties / vir onsself te lewe nie, maar om voluit vir Hom en ons naaste te kan lewe. God het ons lewens van die begin af in ‘n sentrifugale wentelbaan geplaas om wég van onsself te kan lewe. En daarom is ‘n selfgesentreerde kokonnetjie van gemak, waarin ek niemand pla nie en niemand my moet pla nie, ‘n verkwisting van die werklikheid van God se seën.

Nou, gemeente, vanmôre wil ons hierdie beginsel verder uitwerk vanuit ‘n ander gedeelte van die Ou Testament, naamlik vanuit die Spreuke-boek. Hier word die beginsel, wat ons verlede week vasgelê het, konkreet gemaak. As ‘n onderdeel van die wysheid! Gelukkig die mens wat wysheid gevind het, en die mens wat verstand verkry (Spreuke 3:13), want wysheid is meer werd as juwele (verse 14-15), wysheid verleen rykdom en eer (vers 16), wysheid gee lieflikheid en vrede (vers 17), wysheid laat ‘n mens eet van die lewensboom (vers 18), wysheid lê ten grondslag aan die hemel en die aarde (vers 19-20), wysheid laat lewe en bied beskerming (vers 21-23), wysheid laat jou rustig slaap (vers 24), wysheid bewaar jou terwyl die goddelose ondergaan (vers 25 en 26), en wysheid maak ‘n mens hulpvaardig en mededeelsaam (vers 27-28). Wees daarom wys met die wyse, en leer die ware mededeelsaamheid.

 

Tema: Die Here beveel ons om die goeie nie terug te hou nie!

 

Gemeente, ‘n paar scenarios waarmee almal van ons waarskynlik goed bekend is:

Iemand lui die interkom by die hek, en wanneer jy antwoord, is dit ‘n bedelaar wat vir brood vra. Jy het nie baie lus om te help nie, want jy was juis besig om op iets anders te konsentreer, maar jou gewete laat jou nie toe om sommer net ‘nee’ te sê nie. Dus, jy smeer gou vinnig ‘n paar toebroodjies met konfyt, druk dit in ‘n sakkie, en drafstap hek toe om dit vir die persoon daar te gaan gee. Jy wil immers weer terugkom by jou werk. Maar kan jy nou glo!? Hierdie persoon het sowaar die vermetelheid om te vra vir koeldrank, en daarby wil hy nog ou klere ook hê! Uit die goedheid van jou hart het jy hom gehelp, en nou maak hy misbruik daarvan. ‘n Heeltemal verstaanbare reaksie, nie waar nie?

‘n Ander voorbeeld: jy is ‘n ampsdraer, en daarvoor het die Here jou besondere gawes gegee. Maar in jou wyk is daar hierdie een lidmaat wat knaend op jou spoor is. Jy was skaars daar of jy moet, volgens die lidmaat, alweer ‘n besoek bring, oor een of ander ‘krisis’ wat in jou oë werklik nog ‘n rukkie kon gewag het. Die lidmaat bel jou te pas en te onpas – vroegoggend, etenstyd en laat-aand. En op ‘n stadium sê jy: “Nou is dit genoeg, nou moet hy maar self sien kom klaar. Ek gee vir hom die vinger, en hy vat die hele hand. Hy is nie die enigste lidmaat in my wyk nie.” Almal – behalwe dalk die betrokke lidmaat – sal waarskynlik so ‘n reaksie verstaan.

‘n Laaste voorbeeld: die Here het vir jou ‘n sekere vaardigheid gegee, kom ons sê jy is tegnies aangelê en jy is die ideale persoon vir die onderhoud van die kerkgebou en alles daar omheen. Maar jy sit skaars jou voet hier by die kerk of iemand het al weer ‘n nuwe takie – hierdie lig is stukkend, daardie draad moet aangelê word, en hierdie bord moet opgehang word. En uiteindelik sê jy: “Vergeet dit, ek is nie die kerk se nutsman nie, iemand anders moet dit maar doen.” Verstaanbaar? Verseker.

 

En tog, gemeente, hoewel verstaanbaar én hoewel dit waar is dat ons nie misbruik van iemand se gawes mag maak nie, is al hierdie reaksies in die lig van die Skrif klaarblyklik nie heeltemal soos wat God dit wil hê nie. In elk geval nie as ons mooi na Spreuke 3:27 luister nie. Daar lees ons naamlik die volgende: “Hou ‘n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom as dit in jou mag is om dit te doen nie…” Oppervlakkig bekyk, bevat hierdie sin alreeds ‘n duidelike strekking en opdrag aan elkeen van ons om te gee, om uit te deel. Maar ons moet nog ‘n bietjie dieper kyk, want dan ontdek ons die interessante van hierdie sin. Daar sit ‘n baie vreemde – maar tegelykertyd baie kragtige – aspek in hierdie sin.

Aan die een kant word elkeen van ons wat hierdie vers lees, opgeroep om ‘n weldaad (letterlik staan daar: die goeie) nie terug te hou nie. Dus: weerhou die goeie nie. Dit is duidelik. En dit impliseer: as ek of jy ‘n weldaad aan iemand verrig – wat dit ook al mag wees – dan maak dit van ons die weldoeners, dan gee ons iets goeds aan iemand anders. Maar – en nou kom die vreemde – aan die ander kant word van die ontvanger van my weldaad gesê dat dit hom toekom: “Hou ‘n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom nie…” Letterlik staan daar: “Moenie die goeie weerhou van die eienaars daarvan nie.” Die Hebreeus gebruik hier vir ‘eienaars’ die woord ‘baäls’. Nou, ons ken die woord ‘baäl’ as die naam van een van die bekendste afgode in Israel se geskiedenis, maar hierdie woord beteken eenvoudig ‘heer’ of ‘eienaar’. Dus, uiteindelik sê die Spreuke-digter vir ons: moenie ‘n weldaad / moenie die goeie weerhou van die eienaars daarvan nie.

 

Wat!? Is die bedelaar by my hek die eienaar van my brood en my koeldrank en my ou klere? Is die knaende lidmaat in my wyk die eienaar van my geestelike gawes wat ek aanwend ten dienste van my taak as ouderling? Is die kerk die eienaar van my handigheid om ligte te vervang en drade aan te lê? Vergeet daarvan! En tog, broers en susters, is dit wel wat Spreuke 3 vir ons sê. Spreuke 3:27 roep elkeen van ons op – niemand uitgesluit nie – om die goeie nie terug te hou van iemand wat in nood is nie, want daardie hulpbehoewende is op een of ander verstommende manier die eienaar van daardie goeie wat ek aan hom gee en van die gawes wat ek besit. Die hulpbehoewende kan op een of ander manier áánspraak maak op my weldaad en op die goeie wat ek besit. As ek iets goeds kan doen aan die behoefte van my naaste, wie is dan die heer en eienaar van daardie goeie? Wel, sê die wyse manne van Spreuke, die hulpbehoewende is die eienaar van die goeie, selfs nog voordat ek dit weggegee het!

 

Is dit nie ‘n merkwaardige uitspraak nie? Ons lewe dikwels onbewustelik onder die wanindruk dat as ek die weldoener is, as ek iets goeds het om uit te deel, dan plaas dit my in een of ander magsposisie. Dan gee dit my een of ander houvas op die ontvanger van die goeie, dan kan ék die eise en die voorwaardes stel (“ek gee dit, maar dan moet jy dat…”). So werk dit mos maar in die ekonomie ook – wanneer jy ‘n skaars hulpbron het, dan is jy in die posisie om te besluit aan wie jy dit verkoop en wanneer die prys die beste is om te verkoop. Dit is ‘n kwessie van vraag en aanbod.

Maar kom ons lees gou saam Spreuke 11:24-26 om te sien hoe die Here daaroor voel [lees]. Sien jy vers 26: “Hy wat koring terughou, hom vloek die mense…” Om in tye van groot voedselskaarste jou graanvoorraad meedoënloos vas te hou totdat die pryse sy hoogste vlak bereik het, is eenvoudig goddeloos. En nou sê die Here: dieselfde beginsel geld by die liefdesdiens aan die naaste. As jy jou gawes, as jy die goeie in jou besit, as ‘n hefboom of ‘n magsmiddel gebruik teenoor die hulpbehoewende naaste, is jy verkeerd besig.   

Die oomblik as ek my hulpbehoewende naaste kán help, dan is my hulp nie meer vryblywend nie. Die oomblik as ek kan gee, dan is my gawe nie meer myne nie. En dan moet ons nie net dink aan geld en kos en klere nie, gemeente. Nee, dit is van toepassing op al die goeie wat ons het – dit is van toepassing op die evangelie wat ons ontvang het om uit te deel, dit is van toepassing op die geestelike gawes wat ons ontvang het om in diens van ander te gebruik, dit is van toepassing op my kos en my klere en my geld wat ek ontvang het om ook ander daarmee te kan help. Op dit alles is Spreuke 3:27 van toepassing. Sodra ek iemand met die goeie kan help, dan moet ek help! Op daardie einste oomblik is ek nie meer die eienaar wat vanuit die hoogte – uit die goedheid van my hart – iets weggee nie. Nee, op daardie oomblik het ek die skuldenaar geword van die behoeftige, en die behoeftige het die eienaar geword van my gawes. Hy mag aanspraak maak op my weldade!

 

Gemeente, dit is die reg van die armes, waarvan Spreuke 29:7 praat: “Die regverdige ken die reg van die armes…”. En dan verwys dit terug na die reg van die armes soos die Here dit in sy wet vir sy volk uitgewerk het, waarin Hy die volk telkens bewus maak van hulle verantwoordelikheid teenoor die armes onder hulle. En hierdie reg is nie gebaseer op my gevoelens van medelye en op my groothartigheid nie; nee, dit is gebaseer op geregtigheid! God se geregtigheid, wat van my ‘n skuldenaar maak teenoor die hulpbehoewende, en wat van die hulpbehoewende die eienaar maak van die goeie wat ek besit.

Sjoe, sit jy ook met ‘n tweestryd in jouself? Bots dít wat die Skrif ons sopas geleer het, ook met jou gevoelens? Kan dit reg wees? Is ek dan nie ‘n rentmeester van wat die Here my gegee het nie? Moet ek nie eendag verantwoordelikheid doen van die Here my gegee het nie? Gemeente, kom ons behou die regte perspektief: natuurlik is ek ‘n rentmeester, en natuurlik gee “die reg van die arme” aan die arme nie die reg om maar net te vat wat myne is nie. Die agste gebod (jy mag nie steel nie) bied gesonde grense aan die “reg van die arme”. Maar, let wel, die fokus van Spreuke 3 is nie om te bepaal wat die arme wel en nie mag doen nie; daaroor praat die Here in ander Skrifgedeeltes. Spreuke 3 fokus nie op die hulpbehoewende nie, maar op die weldoener, op die gewer – en uiteindelik is dit elkeen van ons. En die boodskap is baie duidelik: die weldoener is die skuldenaar van die hulpbehoewende. Hulpvaardigheid en mededeelsaamheid is onder God se volk weldade waartoe die gewer verplig is, en waarop die ontvanger reg het. En dit vra ‘n totale kopskuif om dít te aanvaar, nie waar nie? Dit is immers so ‘n vreemde gedagte vir ons, dit is so teen die ekonomie van die dag. Maar dalk het ons dan nie ‘n kopskuif nodig nie, maar eerder bekering van die hart. Nou, om ons op die pad van bekering te plaas, moet ons nog ‘n bietjie verder in vers 27 lees…

 

 

Vers 27 is naamlik nog nie klaar nie; daar is nóg ‘n aspek: “Hou ‘n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom as dit in jou mag is om dit te doen nie.” Ek is jammer om u weereens te belas met die Hebreeus, maar dit is belangrik dat ons weet wat daar staan. Letterlik moet ons die laaste frase van vers 27 vertaal met iets soos: “Hou ‘n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom, wanneer dit deur God in jou hand gegee is om op tree nie.” Om die goeie weg te gee, is dus nie slegs in my mag omdat ek dit besit en omdat ek hard daarvoor gewerk het nie – “dis myne, en ek bepaal vir wie en hoeveel ek daarvan uitdeel.” Nee, dit is in my mag om die goeie weg te gee, omdat ek dit van God ontvang het. Gód gee my daardie mag, Gód plaas my in die posisie om te kan gee! As Gód dit in my mag gee om te kan uitdeel, dan sou dit verkeerd wees om die gawe terug te hou.

 

En nou, broers en susters, kom die druk skielik nie meer slegs van die een kant af, naamlik van die kant van die hulpbehoewende-wat-eienaar-geword-het nie. Nee, nou kom die druk nog soveel sterker van God af. God, die Gewer, van die een kant én die hulpbehoewende van die ander kant, plaas my in ‘n knyptang waaruit ek myself nie met allerhande flou verskonings kan wurm nie. Van weerskante af word ek gedring om uit te deel, om mededeelsaam te wees! Dit is soos ‘n pa wat met sy seun in die park sit en piekniek hou. Die seuntjie het heerlik geëet en is eintlik al versadig, maar hy is nog lus vir daardie laaste toebroodjie. Maar op daardie oomblik kom daar ‘n honger straatkind aan. Dus, wat doen pa? Wel, hy vat die laaste toebroodjie, gee dit vir sy seun, en sê: “Gaan gee maar vir die maatjie; hy is ook honger.” Die seun sou glad nie omgegee het om sy tande in die heerlike toebroodjie te kan slaan nie, maar hy weet dat pa dit vir hom gegee het om weg te gee. En as hy oor sy skouer loer, sien hy dat pa hom dophou. En voor hom sien hy die verlangende ogies van die honger straatkind. Van weerskante word hy gedring – hy moet die toebroodjie weggee.

En dít is wat jy moet besef wanneer jy weer in ‘n situasie kom waar daar van jou gevra word om te gee! Moenie net dink: ag, hier bel hy alweer vir hulp met sy rekenaar nie. Of: sy maak my so moeg as ek elke keer weer ‘n besoek moet gaan bring. Of: ek gaan nie vir jou nog geld gee nie, gaan soek eerder werk. Of: ek is nie lus om myself vir hierdie projek te gee nie. Nee, sien aan die een kant die God wat aan jou die gawes gee, en sien aan die ander kant die hulpbehoewende wat aanspraak maak op daardie gawes. En ken jouself as die voertuig van die goeie, vanaf God na die hulpbehoewende.

 

Maar, broers en susters, uiteraard is dit nie slegs ‘n kwessie van koue dwang nie. Ek gee nie maar net omdat ek moet gee en geen ander keuse het nie. Nee, alles wat ons tot dusver gesê het – die hele radikale gedagte van Spreuke 3:27 – moet ons verstaan in die lig van die grootste Gawe van alle tye. Om die bekering van ons denke en hart te kan beleef, moet ons onsself rig op die liefde van die groot Gewer, ons hemelse God. Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het – daar het jy God se Gawe – sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. God het Homself weggegee in Jesus Christus, sodat daar vir mense nuwe lewe kan wees. En hier het ons nou die diepste dryfveer om jouself ‘n skuldenaar vir jou naaste te maak, naamlik dat ek, die grootste van alle sondaars, deur Jesus Christus ‘n erfgenaam van die ewige lewe mag wees. God het die ewige lewe in my mag gegee, om dit nou maar met die woorde van Spreuke 3:27 te sê. En juis daarom, sê Paulus in Romeine 1:14, is ek teenoor Grieke en nie-Grieke, teenoor wyse sowel as onverstandige mense ‘n skuldenaar.

In Christus het ek die lewe en alle goeie dinge ontvang, en dit maak van my ‘n skuldenaar teenoor jou om jou met my gawes te dien; dit maak van my ‘n skuldenaar teenoor my naaste om met hom die goeie nuus van die evangelie te deel; dit maak van my ‘n skuldenaar teenoor die bedelaar om aan hom my kos en my klere te gee. In Christus sal geen gelowige homself as ‘n onbarmhartige skuldeiser kan opstel nie; nee, in Christus sal elke gelowige sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die naaste aanwend. Vir almal sal ek dan alles wil wees om in alle gevalle sommige vir Christus te wen!

 

 

Ja, maar… Ek hoor hulle al kom, die verskonings. Ek hoor hulle in my eie hart, en waarskynlik stapel die ‘ja maars’ by u ook al op. Die vorige punt het duidelik gemaak dat ons skuldenaars is, skuldenaars van elkeen wat ons gawes nodig het. Maar soos mense wat nog nie werklik hulle skuld wil erken nie, soek ons na allerhande verskonings. En ‘n mens hoor daardie verskonings in die gemeente.

 

Uiteraard, daar is wettige redes waarom lidmate sekere take nie kan nakom en aan sekere versoeke nie kan voldoen nie. Daar is tye wanneer ek dalk wíl gee, maar ongelukkig nie kán gee nie. Daar is sekere dinge wat God nie in ons mag geplaas het nie. Ek het miskien die gawes om met finansies te werk, maar as ek reeds drie kommissies se boek doen, kan ek nie nóg ‘n benoeming aanvaar nie. Ek wil dalk graag my kennis van die Skrif met ander lede van die Bybelstudie deel, maar as my gesondheid my eenvoudig nie toelaat om, ná my dagtaak, saans nog uit te gaan nie, dan lê dit nie in my mag nie. Ek wil dalk my naaste met geld help, maar ek het eenvoudig nie die soort bedrae wat hy nodig het nie. Ons almal erken wettige redes. Maar tussen al die wettige redes sit daar ook ‘n klomp flou verskonings. Flou verskonings, net sodat ek die eienaar van my tyd en my gawes en my besittings kan bly, terwyl ons sopas geleer het dat ek nie eienaar is nie, maar eerder skuldenaar!

 

En, gemeente, die wyse spreuke-digter het geweet dat hierdie verskonings gaan kom, en daarom sny hy enige uitvlug in vers 28 summier af: “Sê nie vir jou naaste nie: Gaan en kom terug, dan sal ek môre gee – terwyl jy dit het.” Net soos in die geval van die reg van die arme, is ook hierdie wysheidsbepaling gegrond in die Thora, die wet van die Here. Dink maar aan die bepaling wat ons in Deuteronomium 24:14 en 15 vind: “Jy mag ‘n arm en behoeftige dagloner … nie verdruk nie. Op die dag self moet jy sy loon gee, sodat die son oor hom nie ondergaan nie – want hy is arm en sy siel verlang daarna – dat hy nie teen jou tot die Here roep en dit sonde in jou word nie.” Of in die woorde van Levitikus 19:13: “Die dagloner se loon mag by jou nie tot die môre toe bly nie.” Dus, ons moet ons naaste liefhê soos onsself, en ons moet hom help waar God dit in ons mag gee – dit is wat vers 27 ons gewys het. Maar dan voeg die Spreuke-digter, net om seker te maak, in vers 28 nog hierdie aansporing by: moenie daarmee wag nie! Moenie verskonings uitdink nie, maar help nóú. Spoedige hulpvaardigheid is vereis!

Broers en susters, dieselfde wil die Here vanmôre in ons midde lê. Ons kan hier uitstap, onder die indruk van God se radikale eis, en ons kan dalk selfs vas van plan wees om dinge in my lewe te verander. Maar wanneer Maandag aanbreek, dan is ons weer deel van die mallemeule van elke dag. En dan sê die Here: Ek wil hierdie week alreeds verandering sien! Ek wil hierdie week alreeds sien dat daar meer broeders hulle gawes by die mannevereniging aanwend – hier sit ‘n stuk of vyf/ses broeders wat elke week daar is, maar hulle is hulpbehoewend, en jy wat nie by ‘n bybelstudie betrokke is nie, jy is hulle skuldenaar! En die Here sê: Ek wil hierdie week alreeds sien dat die jeug mekaar opvang – hier is jeuglede wat wegraak, en jy is in die skuld by daardie jeuglid om hom of haar weer betrokke te maak. En die Here sê: Ek wil net hierna sien dat julle vir mekaar sorg – gemeentelede gaan eensaam hiervandaan huistoe, en jy met jou pragtige gesin is ‘n skuldenaar om daardie eensame te nooi! En die Here sê: Ek wil hierdie week sien dat jy jouself nie langer van hierdie wêreld afsluit nie – maak jou oë oop vir die nood om jou heen, en besef: ek skuld hom my tyd, ek skuld haar my kos.

 

Gemeente, daar was op ‘n stadium ‘n film met die titel: “pass it on”. Dit het gegaan oor ‘n klas wat van hulle onderwyser die opdrag ontvang het om ‘n projek uit te dink waardeur hulle ‘n verskil in hulle omgewing kan maak. En toe het een seuntjie besluit om iets goeds aan iemand anders te doen, met die voorwaarde dat daardie persoon weer iets goeds aan die volgende persoon moes doen. Uiteraard was dit suiwer vanuit oorwegings van medemenslikheid. Maar hoeveel te meer rede het ons nie om God se gawes aan te ‘pass’ nie. Hy gee, sodat ons kan gee. Moet daarom nie toelaat dat sy gawes hier stop nie. Moenie toelaat dat hierdie gemeente die laaste stasie word nie. Moenie toelaat dat jy die laaste stasie word nie. Mag die Gees ons só vernuwe dat ons gelowige ontvangers sal wees van die grootste van alle Gawes, Jesus Christus, en skuldenaars van elke naaste. Hoe kan ek jou dien?

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

  

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 147:1-4; AAND Ps. 45:1-5

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 43:3 en 4

Wetslesing + HK Sondag 43

Sing Ps. 101:2-5

Gebed

  • Sing Ps. 111:3 en 4

Lees en teks: Spreuke 3:27-28

  • Sing Ps. 112:5, 6 en 9

Preek

Amenlied Ps. 37:13, 15 en 16

Gebed

  • Sing voor kollekte Skr. 21:3

Kollekte

Slotsang Ps. 66:6 en 7

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)