Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.
Paassondag preek – Johannes 20:11-18
Broers en susters, gemeentes van ons Here, Jesus Christus,
Maria Magdalena – so genoem na die plek, Migdal, waar sy vandaan gekom het (‘n dorpie aan die wesoewer van die meer van Galilea), en ook so genoem om haar te onderskei van die ander Maria’s waarvan die evangelies ons vertel. Ons hoor die eerste keer van hierdie vrou in Lukas 8. Jesus is op daardie stadium besig met ‘n landswye verkondigingsreis; Hy bring aan mense die goeie nuus van die Koninkryk van God. Nêrens vra Hy enige loon vir die genesings wat Hy verrig het nie; in geeneen van die stede of dorpe waar Hy gepreek het, eis Hy onderdak nie. Tog moes daar behoorlike onkostes aan hierdie reis verbonde gewees het. Maar God die Vader voorsien in die behoeftes van hierdie hele reisgeselskap, en Hy gebruik daarvoor… ‘n aantal vroue. Hulle het Jesus en sy dissipels gedien uit wat hulle besit het. En eerste in die ry van hierdie dienende vroue, ‘voorsitster’ van die susterhulp, lees ons van Maria Magdalena. ‘n Besondere verhaal van ‘n duiwel-besete vrou wat deur Jésus in besit geneem word om van daardie oomblik af Hóm te dien. ‘n Vrou wat, veral tydens die laaste dae van Jesus se lewe, nooit ver van die gebeure is nie. En by sy opstanding word sy selfs een van die sentrale figure, die heel eerste aan wie Jesus ná sy opstanding verskyn het.
Vandag word sy, as gevolg van hierdie sentrale posisie tydens die paas-môre, as ‘n heilige beskou in die Roomse, Ortodokse, Anglikaanse en selfs Lutherse kerke. ‘n Feesdag op die 22ste Julie is aan haar gewy. Vir ons is Maria Magdalena egter geen heilige nie, maar ‘n gewone vrou, deur Jesus gebruik om ons te leer. ‘n Paasgetuie vir die opstanding van Jesus Christus. Sy is vir ons gegee, sodat ons vandag suiwer sal kyk na die Tuinman in Getsemane. Want Hy is nie ‘n Tuinman met sy vingers in hierdie aarde, besig om ‘n aardse tuin aan te lê nie; nee, Hy is die Tuinman wat vanuit die hemel ‘n geestelike tuin aanlê. Dit moes Maria leer; dit moet ons ook leer…
Tema: die goddelike Tuinman maak tuin vanuit die hemel!
- Hy rig die plante op die son
- Hy plant hulle nogtans in hierdie aarde
- Hy maak hulle tot ‘n kleurryke blombedding
1. Johannes begin in hoofstuk 20 deur vir ons te vertel dat Maria Magdalena vroeg op die eerste dag van die week, terwyl dit nog donker was, by die graf aangekom het. Uit die ander evangelies weet ons dat sy nie alleen was nie, maar dat ander vroue haar vergesel het (Mt. 28:1, Mk. 16:1, Luk. 24:10). ‘n Vrou alleen waag haarself immers nie buitekant die stad voordat die dag gebreek het nie. Dit is na aanleiding van die berig van hierdie vroue dat Petrus en Johannes graf toe hardloop om te gaan ondersoek instel of dit waar is wat die vroue vertel het. Dit wil voorkom asof Maria hulle gevolg het, moontlik op ‘n afstand.
Dus, Maria is vroeg graf toe saam met die ander vroue, hulle is saam terug stad toe om die dissipels te gaan vertel, en sy is wéér graf toe agter Petrus en Johannes aan. En dan, nadat Petrus en Johannes die leë graf ontdek het en weer terug is huistoe (Joh. 20:10), bly Maria alleen agter met haar verdriet. Die leë graf het Petrus aan die dink gesit; die leë graf het Johannes tot geloof beweeg (Joh. 20:8), maar vir Maria beteken die leë graf dat haar soektog na die liggaam van haar Meester misluk het.
Ja, gemeente, dít was Maria se fokus: sy het Jesus se liggaam gesoek, want sy wou aan Hom haar eie privaat-begrafnis gee (so wil dit voorkom as ons na haar woorde in vers 15 kyk). Sy wou Hom wegvat en neerlê, sy wou Hom skuif van hier na daar. Dit is Maria se horison. En nou kan sy nie! So verklaar sy met trane in haar oë teenoor die engele toe hulle haar vra waarom sy so huil: “Omdat hulle my Here weggeneem het, en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie” (vers 13). Nadat sy dit vir die engele gesê het, wag sy nie eens hulle reaksie af nie; nee, sy het haarself alreeds weer omgedraai. Sy soek alweer verder (vers 14). En dan sien sy die tuinman – gelukkig, hy sal haar kan help! Hy is mos die vakman hier, hy is die spesialis in hierdie soort sake. Ja, dis waar, die tuinman in daardie tyd moes inderdaad die tuin onderhou en bewaak, en dit het in die geval van die hof van Getsemane ingesluit dat, wanneer nodig, hy die dooies na ander grafte moes oorbring. Dit is daarom nie verniet dat Maria dink dat sy by hom die regte, deskundige adres bereik het nie. Hy het waarskynlik Jesus se liggaam weggedra en êrens anders neergelê. As hy net kan sê waar, dan sal sy Hom weer wegneem en op háár beplande plek gaan neerlê. Wegneem en neerlê, wegneem en neerlê – dit is hoe Maria op hierdie Paasmôre met haar Heiland omgaan. Dit is haar verwysingsraamwerk.
En, broers en susters, sy is in hierdie denkwyse nog konsekwent ook, selfs nadat Jesus Homself as die Lewende aan haar geopenbaar het. Want nadat Jesus haar by haar naam genoem en sy Hom as haar Meester herken het, het sy Hom vasgegryp. Hoekom? Want sy wil Hom hier hou, sodat alles weer kan wees soos vroeër. Maar Jesus maak baie duidelik dat sy verkeerd na Hom kyk. “Raak my nie aan nie…” – dit is nie ‘n absolute verbod om sy opstandingsliggaam aan te raak nie, want ‘n week later word Thomas juis uitgenooi om aan Jesus se littekens te kom raak. Nee, die opgestane Heiland verbied Maria om Hom aan te raak asof Hy finaal teruggekeer het, asof alles weer gaan wees soos vroeër. Hierdie aarde is nie sy eindbestemming nie; sy eindbestemming is die huis van sy Vader. Die Opgestane is tegelykertyd die Opstygende! Jesus het nie aan Maria verskyn om die aardse verlede te laat terugkeer nie, maar om die hemelse toekoms te gaan oopmaak! En dáárop moet Maria fokus, daarop moet sy haarself oriënteer, ook wanneer die fisiese kontak met Jesus binnekort tot ‘n einde sal kom.
En so lig Jesus Maria se blik omhoog, so lig die Tuinman sy kwesbare plantjie op die son! Hy laat haar geloofsoë nie hier op aarde ronddwaal nie, Hy laat haar nie toe om haar horisontale perspektief te behou nie. Die eerste mens was uit die aarde aards, so leer Paulus ons in 1 Korinthiërs 15:47, en elkeen wat daardie aardse mens volg, sal ook aards wees. Maar die tweede mens is die Here uit die hemel. En vir ons om ‘n geestelike lewe te lei en ‘n hemelse lewe tegemoet te gaan, moet die Here uit die hemel ook na die hemel terugkeer! Ons kan Hom nie hier op aarde wil hou nie, want hier op aarde is die hemelse lewe nie! Die Here uit die hemel het nie aarde toe gekom om aan ons ‘n goeie en voorspoedige aardse lewe te gee; sy doel was nie om ‘n idilliese aardse lewe na te laat, soos wat, byvoorbeeld, die teologie van die rewolusie of die teologie van die rykdom beweer nie – volgens hierdie teologieë het Christus aarde toe gekom om ons lot hier op aarde te kom verbeter, om armes ryk te maak, om verdruktes te bevry, om bedroefdes se trane af te droog, om siekes te genees. Nee, gemeente, die Here uit die hemel het aarde toe gekom om aan ons ‘n hemelse lewe te gee, die lewe “wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet” (1 Kor. 2:9).
En daarom kan Paulus in Kolossense 3 ook so ‘n dringende oproep doen: Fokus op wat daarbo is! Daar is julle lewe! Hy sê: “As julle dan saam met Christus opgewek is…” – en dit is ons, gemeente! Ons is saam met Christus opgewek, dit sê Paulus kort daarvoor in Kolossense 2:13: “En julle wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het…” Ons het dus saam met Christus gesterf (soos Paulus ook in hoofstuk 3:3 sê), en ons is saam met Hom opgewek. “Soek [daarom] die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie” (vers 1-2).
En, gemeente, ons het soveel moeite hiermee, net soos Maria. Ons soek die dinge hier op aarde, ons bedink die dinge van die aarde. Ons is dikwels nog so aards! Ons het ‘n aardse konsep van God, ons het ‘n aardse idee van geloof, ons lewenswandel is aards. Nee, nie noodwendig wêrelds nie, nie noodwendig sekulêr nie, maar aards. Ons dink dat die een en alles van die lewe met die Here hier op aarde te vinde is; ons dink dat Jesus in die grond van hierdie aarde tuinmaak. En daarom sukkel ons dikwels ook so geweldig om met die omstandighede van hierdie lewe te kan omgaan – “Daar is so baie teëslae… Is dit nou die lewe wat die Here vir my beplan het?” En daarom skop ons ook soms daarteen wanneer iemand ons troos met die boodskap van die evangelie wanneer ons swaarkry, want “wat help dit my, ek weet dit alles, ek ken die antwoorde, kom eerder terug as jy my omstandighede kan verbeter.”
En dan sê Jesus: laat my los! Hou op om My voor die karretjie van jou beperkte aardse bestaan te span. Kyk eerder op, en sien dat Ek vir jou die hemelse toekoms oopmaak waar geen verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard jou van my liefde kan skei nie (Rom. 8). In al haar liefde en verlange na haar Heiland moes Maria dit leer. En ons moet dit ook leer in ‘n wêreld wat op allerhande maniere roep en skreeu vir ons aandag. Oral om ons heen flits die advertensieborde, oral om ons heen klink die nuusklanke, oral om ons heen flits die gevaarligte van resessie, rampe en oorloë. Genoeg om ons blik dag en nag op die horisontale vlak gefikseer te hou. Maar, gemeente, deur Jesus se opstanding mag en moet ons onsself daarvan losmaak en boontoe kyk. Die hemelse Tuinman rig sy plante op die son! Want bo wat wissel of vergaan, bly ewig God se rykstroon staan!
In die tweede plek plant die hemelse Tuinman hulle nogtans in hierdie aarde.
2. Maria wou Jesus net vashou. Sy wou die status quo handhaaf; laat dit tog net weer wees soos wat dit vroeër was. Maar Maria moet Jesus loslaat. Hy wil immers nie die weg terug in die verlede inslaan nie, maar sy taak is om die weg omhoog in te slaan, om daar die toekoms vir ons oop te maak. En Maria word deelgemaak van daardie toekoms, maar op die oomblik van Jesus se eerste verskyning aan haar, is Maria se krampagtigheid haar eie grootste vyand. Want dit verhinder haar om haar taak na te kom. Maria moet Jesus se voete loslaat, sodat haar voete in beweging kan kom: “gaan na my broers en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God” (vers 17) Maria kry die taak om te gaan getuig! Immers, deur haar rondgang by die dissipels sal Jesus se opgang na die Vader aangekondig word. En dit kan sy nie doen wanneer sy soos ‘n besetene aan Jesus bly vasklou nie. Trouens, sy is nie meer ‘n besetene nie; sy is mos bevry van die besetenheid, sy is bevry van die bose geeste wat haar blik op die aarde vasgehou het. Sy mag nou op kyk en verder kyk! En binnekort sal sy, wat verlos is van die bose geeste, saam met die twaalf dissipels vervul word met die Heilige Gees. Ja, binnekort sal sy toegerus word vir haar taak! En daarom moet sy Jesus se voete loslaat, sodat háár voete in beweging kan kom vir die verkondiging van Jesus en sy koninkryk!
Dus, gemeente, om Jesus se verheerlikte liggaam los te laat en jou blik na bo te rig, beteken nie ‘n vlug uit hierdie wêreld uit nie; dit beteken ook nie dat ons een of ander mistieke verlange na die hemelse dinge sou hê en met ons kop in die wolke sou loop nie. Nee, dit beteken dat ons sal soek na die dinge wat daarbo is, en dat ons vervolgens in beweging sal kom om die hemelse dinge in hierdie wêreld en in alle menslike verhoudings in te dra, net soos wat Maria die boodskap van die opstanding na die dissipels moes dra. Dit is waar: Christus berei ons woning in die hemel, daar is ons egte huis. En daar verskyn ons ook daagliks voor die troon van God in ons gebede; ons aanbid ‘n verheerlikte Christus. Soek Hom daarbo! Maar dít waarop ons onsself daarbo rig, en dít wat ons daar in die hemel ontvang, dít wat Christus vir ons verdien het, dit vat ons saam met ons terug na die aarde. Hoewel Jesus sy kwesbare plantjies op die son rig, plant Hy hulle nogtans in hierdie aarde.
Dus, soek wat daarbo is! En watter rykdom ontvang ons nie daarbo nie: egte vrede, harmonie, heiligheid, geregtigheid, eerlikheid, vergifnis en vergewingsgesindheid ensovoort, ensovoorts. Maar, broers en susters, al daardie rykdom bring ons vervolgens in beweging om dit in hierdie wêreld in te dra; ja, dan word ons vredestigters in ons huise, in ons gesinne en in die samelewing; iets van die heiligheid daarbo probeer ons dan indra in hierdie onheilige en sondige lewe; en die vergifnis wat ons van God in Christus ontvang, beoefen ons dan self ook teenoor almal wat teenoor ons oortree het. En so word daar iets van die hemel sigbaar hier op aarde. So bereik die hemelse Tuinman sy doel, naamlik ‘n nuwe en geestelike tuin, ‘n blommetuin van gelowige en geheiligde lewens. En ons is daarin sy instrumente. Soos die aardse tuinman met sy graaf en sy skoffel in die grond van hierdie aarde sy tuin bewerk, so is ons die hemelse Tuinman se grawe en skoffels om ‘n hemelse tuin vir Hom voor te berei, ‘n volk om Hom te dien en vrees en skape van sy wei te wees.
Christus se opdrag aan Maria om Hom nie aan te raak nie, is dus nie ‘n vlug van Jesus uit die realiteit uit nie; inteendeel, Hy het gegaan om die hemel voor te berei om soos ‘n bruid op aarde neer te kan daal. En net so word ons, wanneer ons ons fokus op die hemel rig, teruggestuur na die aarde om hier vernuwend, reformatories, werksaam te wees. Christus se opstanding in ‘n verheerlike liggaam haal ons nie hier weg nie, maar dit plaas ons juis met beide voete op die aarde. En daarom vermy ons nie die wêreld nie, ons sluit ons nie af van alles wat hier gebeur nie, ons skakel nie die nuus af en ons maak ook nie die koerante toe nie, ons loop nie met ons koppe in die wolke nie, maar ons is mense vol van die Gees van Christus. En as Geesvervulde mense kom ons in beweging, en gaan werk ons hier op aarde tot eer van die Here. En dan soek ons nie wat hier op aarde is nie, maar dan soek ons wat hier nog nie is nie, naamlik die dinge van die hemel.
Gemeente, stel u self voor: as ons werklik gerig is op die hemel, en die dinge soek wat daarbo is, watter suiwerende en heiligende invloed wil die Here nie deur middel van ons hier op aarde hê nie. Hoe mooi en nuut gaan die lewe dan nie word nie; mooi en nuwe huwelike en gesinne, mooi en nuwe kerkgemeenskappe, pligsgetroue arbeiders en leerlinge. Dit sal soos ‘n suurdeeg wees wat deurwerk na alles om ons heen. Ons sal dan iets begin sien van die hemel op aarde. Om Jesus se aardse liggaam hier op aarde te wil vashou, het vir ons daarom geen voordeel nie. Maar om Hom los te laat en ons lewe te gaan soek by Hom waar Hy in die hemel is, dít het voordeel nie net vir onsself nie, maar vir almal om ons heen. Laat my los, sê Jesus, want ons het tuinwerk om te doen – Ek vanuit die hemel, jy op die aarde! En daarom die oproep in 1 Korinthiërs 15, daardie bekende hoofstuk wat gaan oor die opstanding, vers 58: “wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.”
Ten slotte: die hemelse Tuinman maak hulle tot ‘n kleurryke blombedding.
3. Jesus se uitspraak in vers 17 is nie maklik om te verstaan nie. Eers sê Jesus vir Maria: “raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar nie”, maar vervolgens sê Hy: “gaan na My broers en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God.” Dit lyk teenstrydig. Maar wat Jesus daarmee wil sê, is: “Ek moet weggaan, Maria, maar daar waar Ek gaan , kan julle nie saamkom nie. Die reis omhoog moet Ek op my eie doen, sonder broers en susters.” En tog moet Maria en die leerlinge verstaan dat Jesus se weggaan nie beteken dat hulle Hom sal verloor nie. Ook vir Maria geld die woord wat Jesus kort tevore in Johannes 14:18 tot sy dissipels gespreek het: “Ek sal julle nie as wese agterlaat nie.” Wanneer Jesus weggaan, bly Maria nie as weeskind agter nie. Want Jesus se Vader, wat Hy tot dusver nog die hele tyd ‘my Vader’ genoem het, sal nou ook haar Vader wees. Jesus se Vader sal nou ook die dissipels se Vader wees. Juis deurdat Jesus die weg na die hemel inslaan, ontstaan daar die hegte familieband wat ‘n groep dissipels tot broeders maak. Hierdie broederskap volg uit God se vaderskap, en bestaan slegs in Christus!
Let op, gemeente, dat Christus hier nie praat van ‘n gesamentlike God en Vader nie; Hy praat nie van ons God en Vader nie. Nee, vanuit die hoogte van die hemel bring Christus sy broers in ‘n verhouding met sy God en Vader: “My Vader is ook julle Vader, en my God is ook julle God.” Deur geloof in die Opgestane en Opstygende is daar kinders van God in hierdie wêreld, en hulle mag Hom volg tot in die Vaderhuis! En so word broers en susters aan mekaar verbind tot ‘n hegte familie. Die hemelse tuinman maak vanuit die hemel ‘n kleurryke blombedding op die aarde!
Gemeente, ons is daardie blombedding. Die kerk is, in al haar veelkleurigheid, die resultaat van Christus se werk vanuit die hemel. Ons sou, net soos Maria Magdalena, Hom graag hier wou vasgehou het na sy opstanding. Maar dit sou vir ons geen wins opgelewer het nie. Want as Hy hier op aarde gebly het, sou hoogstens ‘n paar mense op ‘n slag Hom kon gesien het. Nou ‘n klompie mense in Pretoria, dan weer ‘n klompie in Berlyn, en dan weer ‘n groep in Washington… Maar nou kan almal Hom sien in die glorie van sy hemelse heerlikheid. En as Hy hier op aarde gebly het, sou ons ook weinig verbondenheid met mekáár gehad het, maar nou is ons almal aan mekaar verbonde in die verheerlikte Christus.
Die wins van ‘n Christus omhoog, is baie groter as die verlies van ‘n Christus omlaag. Noudat Hy na die hemel gaan, kry Maria baie meer as wat sy ooit sou gekry het as sy Hom by haar kon gehou het. En dít mag haar hart beheers! Ja, sy gaan baie mis, maar sy kry ontelbare genade in die plek daarvan – Jesus laat haar nie as weeskind agter nie. In die plek waar eers die duiwels gewoon het, kom woon binnekort die Heilige Gees. En Hy vervul álle kinders van God, en verbind hulle tot ‘n eenheid, ‘n kleurryke blombedding!
Gemeente, Maria het ‘n man gesien waarvan sy gedink het dat hy die tuinman van Getsemane is. Min het sy geweet dat Hy die Tuinman van die wêreld is. Sy opstanding uit die dieptes van die aarde het Hom ‘n deskundige gemaak op die gebied, ‘n kenner. Vanuit die hemel is Hy besig om op aarde die mooiste tuin aan te lê. Ons mag daarvan deel wees, saam met Maria Magdalena en die twaalf dissipels. En hierdie tuin sal nooit doodgaan nie, want die Tuinman lewe tot in ewigheid!
Amen
Liturgie (oggend)
- VOORPSALM Skr. 25
Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 85:3 en 4
Wetslesing + HK, Sondag 41
Sing Ps. 24:2 en 3
Gebed
Lees: Johannes 20:1-18
Kolossense 3:1-4
Kollekte
Sing Ps. 50:5-7
Teks: Johannes 20:17
Preek
Amenlied Skr. 10:2, 4-6
Gebed
Slotsang Ps. 72:3, 4 en 9
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.
(kyk in preek)